Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Laaste Kookboek

Sonia Cabano

Met variasies is dit ’n bekende tema — literati en cognoscenti wat kla, “Niemand koop en lees meer boeke nie.”

“Bog!” sê die kokke, “ons verkwansel resepte by die jaart, kan skaars voorbly, dis soos pannekoek met kerkbasaar.” (Crèpes at a fête? Val mooi op die oor, nè?)

Vuil taal blom blou in sjefskombuise, maar nimmer as te nooit op die blink blaaie van ’n kookboek nie, en geraamtes in die kas is daar ook skaars — seker maar omdat alle bene altyd in die stoofpot moet land vir aftreksel — wie weet?

So hoe kom dit dan dat kookboeke — in die geheel rein van intriges, aanloop of klimaks, nul pro- of antagoniste en bittermin seks — amper vanselwers van wêreldwye winkelrakke af in inkoopsakke spring? Dalk hoort boeke — ander boeke — verkoop te word onder tamaaigroot rooi sterplakkers: “Waarskuwing: Inhoud kan jou tot ander insig bring.”

Hemel weet, uitgewers het mos konstant ’n nuwe foefie nodig … Want, in ag genome dat kos die oorspronklike “mood-altering” middel is, en daar nou ruimskootse godinne en “working class heroes” is wat aanloklik op dik resepbundels pruil, en “leefstyl” die gonswoord van die millennium is, blyk die kookboek se seëviering as plat du jour van lange duur te wees. Coups d’état en fluweelrewolusies flikker een na die ander oor ons tv-skerms, maar die mensdom wil van koek alleen bly lees …

My eie liefde vir die kombuis en ander koslike aktiwiteite is grootliks aangevuur deur boeke. Wel, vraatsigheid het seker darem ook ’n beduidende rol gespeel, plus ’n ma wat soos ’n engel kon kook en niks daarvan gedink het om haar spruite die nuutste Afrikaanse boek (Roofvis! Heupvuur! Sewe dae by die Silbersteins …) of toentertydse musieksensasie (van Bob Dylan tot Kris Kristofferson) in die hand te stop nie, met ’n welgekose porwoord of twee of drie in die jong, ontvanklike oor.

Ek onthou baie goed die eerste kosboek wat ’n indruk op my tere kindergemoed gemaak het. In 1970 kom die eerste eksemplaar uit die befaamde Time Life-reeks Food of the World te Dukestraat 44, Brandfort aan. Uitgekuier met tradisie maak ons eensklaps as gesin die sprong van langtand-vaaljapies na smulpaap-wêreldburgers — al was dit net aan tafel — en word ons dieet van skaapboud en rasperslaai ryklik aangevul met chicken kiev, eg-Sjinese stirfries en hupse fricassees. Daarna was daar geen keer nie — ten minste aan ons kinders, want my pa sou lewenslank selfs vark en bredies as ’n volksvreemde ding beskou: skaap, skaap, nog skaap, en bees ter afwisseling, dit was sy leuse.

Die Vrystaat het sy bekoring, maar in die hande van ’n vaardige kosskrywer (daar was foto’s!) kon jy sagkens ontstrengel word uit jou eie saai omgewing en meegevoer word na ander, ver, groen en idilliese oorde, daar waar vrolike boerinne sing-sing die stof van elke prei en slaaikop sorgvuldig sou afwas, voor daar op oulike perdekarretjies met tossels uit die ronde heuwels dorp toe gery is vir kontreifeeste, boules en gypsies by dosyne. In Brandfort het ons net Klein Bart met sy donkiekar gehad, soos die bui hom vat, en Francisco se verlepte kool en wortels opgeraap uit ’n veraf groente-holocaust. Met Time Life as prentepaspoort verslind ons honger De Waaltjies, by middele van Ma, kosstories, mensmaniere, antieke geskiedenis en gewoontes: daar was gaucho’s op half-wilde perde, met vlammende asado, uit Argentinië; zakuski-tafels op die sneeuwit steppe, gelaai met kaviaar, swart brode, suurroom en pirosjki.

Eendag, in ’n haelstorm, verdrink die eetkamer, sy mat, en boekrak met Kook en Geniet, Leipoldt en mev Van Tulleken se Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika tot pappery; niemand gee eers om nie.

Ek gaan kosskool (ha! dáár’s nou ’n misnomer) toe: lees soos ’n besetene; eet minder entoesiasties. (Ons kry eendag samp met ’n dun laag rooi konfyt op vir poeding. Ek en my eetlus staak summier.)

Halfpad deur die matriekeindvakansie vra my pa my in die eetkamer se skemerte, half befoeterd, wat ek nou juis met my lewe in gedagte het.

“Ek gaan oorsee,” laat weet ek. Min weet hy dat ek ’n gaucho ook beplan, en asado’s in die maanlig …

En eendag op ’n régte reëndag in die vreemde, uit ’n stowwerige rak in ’n piepklein winkel in ’n stegie vlak by Farringdon Road in Londen, val ’n dik wig in my hande: The Art of Eating. Dat dit geskryf is deur MFK Fisher — Nigella et al se moses — en die woordratse, deurwinterde outeur van Time Life se The Cooking of Provincial France, onder andere, was sekerlik vir my bestem. Pens en pootjies, sif, pan en houtlepel, daar val ek.

Toe ek ’n paar jaar later weer ’n draai gaan gooi by die ouers en nog ’n bom laat los: “Ek gaan nou kook”, het my pa net diep gesug en weer gaan lê en rugby kyk.

Ek was self ietwat verwonderd om eendag af te kyk na my hande en instede van ’n boek nou ’n mes, uie en fyngekapte soetrissies en basielkruid te herken … van bewonderaar tot beoefenaar was so ’n seepgladde pad. Ek het loop soek in die straatmarkte van Europa vir my bestanddele, met Jeanne Strang, Marcella Hazan of Elizabeth Lambert Ortiz se koerswysers vasgeklem in ’n eelterige vuis — my verkneukel in die venters se verkoopsvernuf, met swartrok-anties tips uitgeruil vir die beste manier om parmesaan te bêre.

Kiekies na my ma gepos van ontpelsde konynkarkasse, knus soos ongebore babatjies onder taai plastiekmembrane, en vuisgrootte-varkoortjies, pienk soos vleilelies, wat nog net siswarm olie kort om te begin blom.

Ek was ’n meid, ja, en trots daarop, ’n kombuisprinses wat kon swets in vyf tale, dog kompleet met geplooide kroon of kopdoek. Kortom, ek was in my kokse noppies. Op my afdae het ek resepte uitgetoets by Books for Cooks onder die gallerige oog van ’n latere Fat Lady, Clarissa Dickson Wright. Newwermaaind, al was sy moeilik, daar was altyd kos en boeke …

Professionele kokke weet van die wêreld en sy woeling amper niks. Hulle lees niks behalwe resepte nie; soms pulp fiction. Kyk by okkasie sokker. Daar word onder ons soos ’n plaat wat vashaak slegs oor bestanddele gepraat; laatnag as die nood hoog is en die klandisie kwaai, vinnig vismootjies (“wat kort jy nog?”) oor en weer getaxi. Dis ’n in-klub, ’n genadelose maar luuksueuse lewe. Dit gaan om die droom om te deel en plesier te gee.

Jy’t net een taal, en jy praat hom met jou hande.

Na werk drink mens bier en gaan samba in rokerige klubs, sweterig, met arms en hare wat stink na knoffel en gebraaide vleis, en praat nog — kos, en boeke. En ruil uit waar jy leer eet en kook het: amper by uitstek was daar ’n ma, ’n ouma, ’n tante dalk, met ’n permanente voorskoot aan. Resepte word mondelings oorgedra, agterop fakture oorgeskryf. Almal droom — eendag skryf ek Dié Boek. Mý Boek, Mý Kosfilosofie …

(Terloops — die lekkerste disse in restaurante is nie wat die klante eet nie, maar die potte pap, of kluitjies, en vreemde sterk-gekruide stowe wat die opwassers en portiere snags, na die swoeg, buite die stoorkamers met mekaar op omgekeerde konkas deel. Gaan vra tog. Daar’s altyd genoeg vir nog een, en daar’s lekker stories, met aksente. Gaucho’s, swerwers en gypsies, wat ’n vreedsame tuiste vind in mekaar se smake. Al is dit tydelik.)

Ek het ’n koors vir kook, en boeke. Op ’n goeie dag kan jy jou disnis val hier in ons huis oor stapels boeke op stoele, langs die beddens, in die badkamer, onder banke, in die gang af. My kinders weet lankal nie meer wat kom nie: Viëtnamees vanaand? Provensaals? Op my bed lê Disgrace, op die klein tafeltjie daarlangsaan, Die dye soek die dye. Die enorme yskas kreun onder alles en nog wat te kook en te lese — daar’s die Yoga Cookbook, The Detox Cook, Murdoch se The Food of China, en Ina Paarman se tydlose treffers, elke een; alles van Nigella, Phillippa Cheifetz, vele meer. Ons lees soos besetenes, en eet meesal brood en kaas.

Die oudste kind het reeds sy eie, eerste kookboek — vele ander darem ook, moet bygesê word — en roer graag aan ’n pot wat prut. Is dit klaar, staan hy terug, betrag dit, en sê, “Nee wat, ek wil nie eet nie, al lyk dit mooi. Kom vertel my liewer nog ’n storie.” Ek sien so half nog ’n loopbaan bloei vir hom. Kok? Skrywer? Reisiger? Taal- en boekliefhebber, dis al wat tel.

Die beste kookboeke gaan nie oor kos alleen nie. Dis die storie van hoe ons lewe. Daar’s oorlog verbonde aan hoe ons kos kom kry, hongersnood en hel. Mense het mekaar vermoor om met peper te kon handel drywe, daar’s resepte selfs vir die voorkeur van jou ongebore kinders se geslag. Om heiligheid te kan bereik is daar ook maatreëls en onthoudingsdireksies. Jy kan ’n minnaar saf maak met die regte kos.

Binne die streng perke en limiete van ’n resep is daar spasie vir innovering en improvisasie. Jy kan jouself wees, uiting gee aan wat jou dryf; maar een of ander tyd keer jy weer terug na eeue-oue wysheid — DIS hoe mens floreer, oorleef, en lekker leef. Gaan wys my nou ’n ander boek wat dit kan doen. Met of sonder foto’s.

Maar die laaste kookboek wat jy ooit te koop sal kry, is die ene wat jy in jou hart nog altyd bêre. Dis handgeskrewe en verweerd, die bladsye so sag soos haar nekvel. Jou ma s’n, ouma s’n, tant Issie-in-die-straat-af s’n. Die een waaruit jy gevoer is, grootgemaak is, wat met vet en sweet besmeer is. Die kookboek van jou eerste huisgodin. En dit kan jy toe-oë lees.

21 Januarie 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.