SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet X

Lucas Malan

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Pieter du Plessis
Illona Edwards
Magda Janse van Rensburg
Antoinette Klein
Loammi Wolf


Pieter du Plessis

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Krismis-regime"
Die kort bestek en soberheid van hierdie teks val dadelik op. Min woorde vir min vreugde in ‘n (religieuse) feestyd is die indruk wat hier gelaat word. Die sinisme oor hoe min behae die spreker ervaar, word nie net deur deur die skraps gebruik van taal nie, maar ook semanties deur die woordkeuse ondersteun: In die titel word die gewyde Kerstyd met die volkse “Krismis” benoem, en daarby staan die bepaler “-regime” wat aan ‘n vorm van koue militêre beheer laat dink.

Die vlakheid word verder beklemtoon deur die werkwoorde “koop” en “paartie”, gevolg deur informele slengtaal soos “daai slaai / wat pa so like” en die gebruik van ‘n kleinletter vir “koning”. Dit alles dra by tot die gevoel van misnoeë by die spreker wat so min as moontlik oor die saak wil sê. Die woord “herderspastei” is geslaag omdat dit aan die Bybelse herder met sy skape herinner en in hierdie konteks ironies klink.

In die slotstrofe is die keuse van die werkwoord syfer minder geslaag. Die woord word gebruik waar water of ‘n vloeistof ter sprake is, en pas dus nie in die beeld waar droë meel implisiet bedoel word nie.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Melville nagte"
Anders as die vorige gedig wat juis vanweë ‘n soberheid en min woorde slaag, word hierdie gedig belas deur te veel onvanpaste woorde en frases wat na die sentimentele neig en die logiese element in die teks ondermyn.

In die eerste strofe: Waarom “my eie nostalgie”? Sal ‘n mens ooit in die “spore” van iemand anders se nostalgie stap? Verder is die werkwoord griffel onjuis, want dis ‘n vorm van skryf op ‘n harde blad soos leiklip, en nie papier nie.

Dan volg “jou muse” wat deur klaviermusiek nader aan die spreker (“my”) getrek is. Maar wat is ‘n muse? Dis enige een van nege mitologiese godinne wat kunstenaars glo inspireer. Iets omtrent hierdie muse se rol – ook in die slotreël – klop nie met die aard van ‘n muse wat haar aan ‘n bepaalde persoon wy nie.

Verder lees ons van die “straatjies van jou jonkwees-hand” (wat is ‘n “jonkwees-hand”?) en die sentimentele frase waarvoor ‘n digter baie lugtig moet wees: “plooitjies rondom jou mooi oë”, wat ‘n “kaleidoskoop” word, ‘n “gebeure bundel van hoop” – en die leser verstom laat wonder hoe plooitjies om die oë ooreenstem met ‘n kaleidoskoop en dan
nog ‘n “gebeurebundel” kan word? Hierna word die leser se verbeeldingsvermoë nog meer beproef met ‘n woord soos “wriemel” (wat ‘n werkwoord is, maar as naamwoord gebruik word), “afdraaipaaie” wat weer “rondom promenades” (rondom?) aansluit en die half deftige “kleurspektra” van “coffee shops”.

Alles word iets van ‘n tuimeling deur te veel ondeurdagte woorde en beelde. Opruiming en baie aandag aan die slotreël wat so min sê, sal help om by die murg van hierdie gedig uit te kom.

Illona Edwards

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Whether paraffin of lampolie"
Enige literatuur word verryk deur tekste wat nie die standaardvorm van die taal volg nie, maar van variëteite (groepstaal, streektaal, sleng, wat ook al) gebruik maak om die ervarings van ‘n bepaalde gemeenskap outentiek weer te gee. In die afgelope vyftien jaar of so het Afrikaans talle tekste ryker geword waarin bv. Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans gebruik word.

Hier het ons ook ‘n teks waarin daar min respek is vir die reëls van dit wat soms verkeerdelik “suiwer Afrikaans” genoem word. (Geen taal is ooit “suiwer” nie, maar daar sal altyd ‘n standaardvorm wees.) In hierdie geval is ‘n spreker aan die woord wat haar duidelik nie aan die standaardvorm van óf die taal, óf die gemeenskap se norme steur nie. Reeds in die eerste twee reëls verwerp sy die konvensies wat sê “paraffin” moet eintlik “lampolie” wees, want sy “is min gespin”.

Sy is ‘n sekswerker en sy stel haar saak pront en beeldend in die taal wat haar beroep kenmerk, soos in die gebruik van Engelse woorde (“pointy shoes”, “make-up”, “lipstick en gloss”) en bekende uitdrukkings uit die wêreld van onwettige praktyke soos “Survival of the fittest” en “But life goes on”. Boonop is daar humor in die teks soos die frases “Die looks en die Gap daaby” en “’n tert met styl” wat tot die geloofwaardigheid én die patos van hierdie losbekkige “portrait of a lady” bydra.

Met die ironiese teenstelling tussen “die valuables van ‘n Pawn Shop” en “die quality van Second Hand Goods” in die slot is dit ‘n sterk gedig met baie potensiaal. Die outeur moet net aandag gee aan die reël of norm dat elke versreël vandag nie meer met ‘n hoofletter begin nie. Dit verwar die leser en buitendien wyk die teks self ook plek-plek daarvan af. Net ‘n selfstandige sin (of uiting) begin met ‘n hoofletter. Hier en daar raak die Engelse woorde ook te veel, soos in die voorlaaste reëls: “But in die meantine” / Issit okay om my te compare” As die teks met aandag aan al hierdie sake hersien word, kan dit ‘n baie geslaagde gedig word.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Ek sit op iets met wiele"
Soos in die vorige gedig, maak die outeur dit hier ook vir lesers baie moeilik om met gemak te lees, omdat elke reël met hoofletters begin. Omtrent honderd jaar gelede was daar so ‘n konvensie in Europa, maar dit is lankal vergete. Die digter moet dus weer na die teks gaan kyk en besluit wat is ‘n selfstandige sin en waar begin ‘n bysin; of waar begin ‘n totaal nuwe sin. (Lees die hele teks hardop, dit sal help.) Sit dan ‘n punt ná elke sin; of ‘n komma, of ‘n kommapunt ná elke bysin. Kyk sommer ook hoe ek self kommas en kommapunte gebruik terwyl ek hier skryf en begryp tog hoeveel makliker dit gaan wees om die gedig te verstaan as daar net leestekens is.

Verder is die gedig vol vae beelde en assosiasies wat sonder verband spring van die een ding na die ander. Daar is baie problematiese stellings en voorstellings, maar ons kan net aan die opvallendste daarvan aandag gee.

Kyk na die eerste vier reëls: “Ek sit op iets met wiele” – a, dink die leser, dis ‘n rolstoel wat gestremde mense gebruik. Nee, sê die volgende reël, dié “iets met wiele” is ‘n draadkarretjie waarmee kinders speel. Maar dan het die “iets” tog ook “handlenings” (terloops: die woord is “handleunings”) om “bene en arms te stut”. Weer ‘n denkfout: handleunings stut hande en arms, dit kan nie bene ook stut nie, want dan is hulle tog beenstutte. Dan lees ons dat daar “ruglenings” is (die woord is eintlik “rugleunings”) wat ‘n “jeans kan patch”. Hoekom is daar meer as een rugleuning? Die woord jeans is ook in die meervoud, daarom klink ‘n (wat enkelvoud is) hinderlik. Ons praat seker maar van “’n paar ou jeans”?

Direk hierna lees ons “my hand raak per ongeluk aan die boekrak”. Nou waarom raak ‘n mens “per ongeluk” aan ‘n boekrak? Jy gaan mos na ‘n boekrak toe om ‘n boek te gaan haal. Maar uit die bloute is daar nou stofdeeltjies op die boekrak wat “soos parasiete” die spreker se bloed wil uitsuig. Dan kom “porn” ter sprake, gevolg deur ‘n string onverwante beelde en mededelings wat vermoedelik uit boeke en tydskrifte kom, en die verbaasde leser in die slotreëls konfronteer met ‘n verklaring wat onduidelik en ongemaklik op impotensie sinspeel.

Die hele gedig is onklaar en verward. Anders as in die vorige gedig, moet die outeur hier nog baie nadink oor die vrae wat ‘n leser aan die teks gaan stel en besluit wat die gedig eintlik wil sê. Dit sal minstens tien reëls korter as die bestaande teks moet wees.


Magda Janse van Rensburg

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Kiewiet"
Die tipografiese beeld van 'n gedig kan sinvol benut word om tot die semantiese of betekenisvlak daarvan by te dra. Hier dra sowel die sierlike lettertipe van die titel as die "gevlerkte" beeld van die teks met die skerp inkepings daartoe by om iets van dié voëlsoort se ikoniese beeld te suggereer. Ook die effektiewe groepering van klank= groepe in die teks val op: alliterasie in verwilder, venynig; swiep, skel, skerp, skril en assonansie in krombeen, seer, alleen, klein, terrein, bedreigd - alles tegnieke wat kenmerkend van die poësie is en die gedig klankmatig bind.

Enkele kritiese opmerkings: In reël 8 staan daar "krombeen".'n Kiewiet se bene, soos die meeste voëls, is nie krom of gerond nie; hulle knak wel in die vorm van 'n L of 'n winkelhaak, maar hulle is nie krom nie. Probeer ook om die geykte frase "jou hoop en drome" in reël 15 met iets nuuts te vervang. Oorweeg ten slotte of die slotreël (a) sinvol of (b) openbarend is. Soos dit nou daar staan, is dit vaag en mistifiserend, want dis nie duidelik waarom die spreker "in kleur" is nie - kledingstukke, hare? Wat gee "kleur"? En waarom is dit onderskeidend of van belang?

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Vlieër"
Ook in hierdie gedig is die tipografiese beeld funksioneel omdat dit die diamant- of gevlerkte vorm van 'n vlieër naboots of suggereer. Dié tegniese vorm in die poësie het die voordeel dat dit die outeur dwing om woorde en frases fyn te selekteer om die ikoniese vorm vol te hou en nogtans op die betekenisvlak (semanties) sin te maak.

Dit kan ook bloot 'n speletjie op die rekenaarskerm word, maar in dié geval het die outeur dit gelukkig omseil. Met die gebruik van personifikasie wat aan die vlieër menslike eien= skappe gee ( "grynslaggend", "swetsend", "moedwillig" - terloops, die woord is eintlik moedswillig), kom daar 'n bepaalde spanning tussen die spreker se vaardigheid om te "manipuleer" en die vlieër se "dans en tol", sy "protes" teen die "dubbelanker" en sy strewe om "hoër / sterker / verder" bo die "klein wesens op die strand" te beur.

Tematies herinner die gedig ons sterk aan Ernst van Heerden (1916 - 1997) se sport= gedigte, waarin die mens se fisieke krag en vernuf gestel word teenoor die kragte van die natuur waarteen die mens hom so dikwels opstel. Gaan lees of herlees bv. Van Heerden se gedigte "Die gewigopteller", "Die hardloper" en "Hangswewer". Wat ons in dié gedigte boei, is 'n metafisiese element in die slot, 'n insig wat bo die blote beskrywing van 'n aktiewe sportfiguur uitstyg en iets groters as daardie welbekende beeld by die leser aktiveer.

En dit is wat hier ontbreek: Die slot konstateer net 'n konkrete waarneming. Op die grond is die vlieër net 'n stuk "pap plastiek", maar dit verbaas of boei niemand nie, want almal weet tog hoe so iets lyk. Werk daaraan, laat die leser verras word met 'n insig, met die gevoel dat hy/sy hier iets lees wat hy nog nooit voorheen só ingesien of ervaar het nie. Dit is waaroor die poësie eintlik gaan.


Antoinette Klein

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Brekvis"
Die leser word dadelik ontmoedig deur 'n spelfout in die titel van die gedig: BREKVIS. Die woord brekfis is 'n leenvertaling uit Engels wat kom uit break+fast. In Afrikaans het dit brek+fis geword (vgl. HAT, 2000, p.116.) en dit het niks met vis te doen nie.

Omdat die poësie by uitstek daarop ingestel is om die taal te vernuwe en kreatief te gebruik, sal die leser dit wel oorweeg dat die outeur 'n ongewone vorm van brekfis wou gebruik, maar al gou is daar nog 'n skryffout: "borrie appelkose". (As "rooibostee" en "sakkoffie" as een woord geskryf is, dan geld dieselfde mos vir "borrie-appelkose", al gebruik ons by laasgenoemde 'n koppelteken om die lees te vergemaklik.) 'n Digter moet meer as drie maal dink. Kyk dus weer na "muffin borsies" en "bacon ronde buik", al is die spel- en skryfreëls deesdae buigsamer. Kyk veral ook na die gebruik van die werkwoord "stryk" in reël 13. (Wat "stryk" 'n mens en wat word "bestryk" of "gestreel"?)

Wat die inhoud en die sentrale beeld of metafoor van die gedig betref: Die sensuele aard van 'n lyflike evaring wat as 'n aantreklike, "eetbare" gereg voorgestel word, is ongewoon en oortuigend genoeg danksy beelde soos "vars brood en botter", "die room van / jou lippe (kon) lek", "muffin borsies", "totdat ek smelt" en "die geel van my hart".

Die spreker se behoefte aan liggaamlike kontak word beeldend voorgestel, al is die frase "ek wens jy was" in die eerste en agste reël naïef en spanningloos. Ook die herhaalde gebruik van modale hulpwerkwoorde (wat 'n voorneme, moontlikheid, on= sekerheid ens. aktiveer soos "wil", "sou", "kon") is hinderlik. (Dit kom deesdae in elke tweede Afrikaanse liedjie voor: "As jy my sou kon hoor", "As ek maar sou kon..." ens. Vermy dit tog, dit sê so min.)

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Genesis"
Die beeld van die lewe as 'n mallemeule vol pret wat die mens verlei om 'n paradyslike bestaan te verloor, is niks nuuts nie. Op 'n populêre vlak het selfs die popgroep ABBA 'n treffer oor dié onderwerp gehad, nl. "The Carnival is over".

In Afrikaans het ons 'n groot voorbeeld hiervan in D.J. Opperman se "Ballade van die Grysland" uit Negester oor Ninevé (1947). Ook Ina Rousseau het meer as een voortref= like gedig hieroor geskryf, en dis noodsaaklik vir die skrywer van bogenoemde vers om - indien nog nie voorheen nie - die volgende drie gedigte van Ina Rousseau in Groot Verseboek 2000 te gaan lees of te herlees: "Eden" (p. 353), "Eva" (p.362) en "Die eerste mensepaar" (p. 363). Nie om haar na te volg nie, maar om te kyk hoe daar reeds oor dié groot "verhaal" uit Genesis geskryf is. Daaraan word 'n jonger digter gemeet.

In hierdie gedig kry die leser reeds in die titel ("Genesis") 'n kode wat op die sondeval dui, en kort daarna lees ons van die "soete verlistinge" wat 'n mooi neoligisme is waarin "verlustig in" en "lis" saamgetrek word. Jammer genoeg word dié nuwe woord dan bederf deur die vergelyking met sy geykte beeld "soos ryp appels in 'n boord". Die gebruik van stereotipe beelde of frases is lynreg teen die aard van die poësie wat die leser juis wil verras met taalgebruik wat téén die bekende norm van taal en beeld inbeur. Die leser wil graag ervaar dat hy/sy 'n ding vir die eerste keer presies só hoor.

Ongelukkig is daar nog 'n cliché in strofe 3 in die frase "die verbode vrug". Dié begrip is natuurlik kompleks en baie moeilik om te omskryf, maar gaan kyk tog wat noem Antjie Krog dié "verbode vrug" in haar jeugbundel Januarie-suite (1972) - of laat ek maar help: Sy praat van "jou wit uiltjie" en "jou nat snoet in my lies". Is dit nou nie mooier as "die verbode vrug" nie?

Ten slotte is die retoriese vraag in die slotstrofe nie boeiend genoeg om die gedig te laat "sluit" nie. 'n Retoriese vraag impliseer reeds die antwoord daarop en die outeur kan liewer 'n onverwagte, paradoksale slot oorweeg as dié een wat geen verrassing inhou nie. (Kyk bv. na die slot van Ina Rousseau se gedig "Die eerste mensepaar" - net as voorbeeld van hoe gedurf die antwoord op dié groot vraag kan wees.)


Loammi Wolf

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "'n pa se liefde"
Hierdie gedig is tipies van 'n jong digter se konfrontasie met emosionele ervarings wat in hul kompleksiteit kwel en uitgesê wil word, maar waarvoor die spreker nie die nodige begrip of taalvermoë het nie. Die gevolg is verwarde beelde en onlogiese spronge van die een saak na die ander.

Om mee te begin: Die titel berei ons voor op "'n Pa se liefde", maar vir die leser lyk dit of die gedig eintlik oor die pa se emosioneel afwesige vrou handel. Of dalk oor sy dogter wat met hom simpatiseer? Dis nie duidelik nie en die leser moet dus daaroor wonder of spekuleer.

Wat wil die gedig sê? Ons lei af dat daar ná die geboorte van 'n kind 'n verwydering tussen twee eggenote gekom het en dat die spreker (vermoedelik) vir haar ma se kilheid teenoor die pa wil vergoed. Word hier dalk 'n moreel gewaagde of selfs skokkende situasie gesuggereer? Dis nie duidelik nie, want die taalgebruik is dikwels duister. Een voorbeeld is die woord "sooi" in strofe 2. (Gaan kyk in HAT; 2000, p. 1043 wat 'n "sooi" is en dink weer of dit op 'n emosionele toestand van toepassing kan wees.)

Ná die koue lakens in strofe 3, lees ons van 'n "droë, koue hart" wat "welk". Wie se hart is dit en is die "welk" 'n vorm van die werkwoord "verwelk" wat na opdroging verwys? En as dit is, hoe skakel dit met die daaropvolgende geykte frase "ontluikende vroulikheid"?

Wil die pa se "vlees van sy vlees" vergoed vir sy eggenoot se "sooi / van kilheid" in strofe 2? Ons lees immers in die laaste strofe van "jongmeisie drome" en in 'n verdere cliché van "'n hart vol skugter tienerdrome" wat eindig in 'n "hart vol saagsels" wat "nooit ophou skaaf / en liefde verbied". Indien al dié suggesties en afleidings in die teks dui op 'n versteurde vader-dogter-verhouding, is dit iets ongewoons in ons poësie, maar weens die tekorte aan oorspronklike beelding en helder formulering kom die leser nie tot 'n bevredigende slotsom of insig nie.

Gaan kyk bv. na die woord "verlaat" in die tweede versreël - is die vrou se hart deur die "na-geboorte blues" verlaat, of is haar hart weens nageboorte-blues "star" gelaat? Met ander woorde: word die woorde "verlaat" en "gelaat" dalk verwar? Vir die leser lyk dit beslis so. Kyk ook na die woord "vroomheid" - wat is dit volgens die woordeboek, en kan dit "sterf"? En as "tienerdrome" een woord geskryf word, waarom nie "jongmeisie drome" nie? Hier is nog baie dinkwerk nodig.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "koggelmander hoop"
Hier is nog 'n gedig wat dit nie vir die leser maklik maak om te verstaan waaroor dit alles gaan nie. Begin by die titel en vra jou af wat is 'n koggelmander. Die woordeboek sal jou sê dis 'n kleinerige reptiel soos 'n akkedis wat tussen klippe woon en insekte eet. As jy jou leeskennis en verbeelding gebruik, sal jy ook weet dat hierdie diertjie in party kultuurgroepe in ons land 'n sekere rol speel in verhale en mites oor die natuur.

Waarom staan "koggelmander" in die titel en waarom moet juis 'n koggelmander "hoop" gee? Die spreker vra iemand om te "toor", maar dis nie die koggelmander wat moet "toor" nie en dit word 'n raaisel waarom dié woord in die titel staan. Is dit omdat die woord so mooi klink? Dalk, maar woorde moet ook 'n funksie hê en hulle moet veral nie vir die leser raaiselagtig word nie, en dis presies wat die woord "vrees" ook in die slotreël is: Wie vrees wat? Hierdie raaisels moet die outeur gaan oplos; die meeste lesers sal nie daarvoor kans sien nie.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir IL de Villiers se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 06 Mei 2006

Wil jy reageer op SkryfNet X? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.