SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet X

IL de Villiers

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Pieter du Plessis
Illona Edwards
Magda Janse van Rensburg
Antoinette Klein
Loammi Wolf


Pieter du Plessis

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Krismis-regime"
Eerste strofe in orde.

Hoekom: wat pa so “like” as gepraat word van “daai slaai”? Skryf dan eerder laaik. Halleluja is sonder ‘n end-h.
Alles werk verder… tot die heel laaste reël ”net toe jy bel”. Dis darem te maklik. Antjie Krog het dit dertig jaar gelede al geskryf. Die gedig soek ‘n slot wat die voorafgaande saamvat met ‘n greep wat ‘n mens vasvang. Die vers sal staan of val by die slotreël. Soos dit tans is, loop dit effe in die sand. En dis jammer, want die gedig beloof heelwat … tot by die laaste sin.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Melville nagte"
Die beginbeeld (voetstappe van eie nostalgie) is effe “te ver” in die sin van nostalgie. Dis ‘n gevoel en dit kos ‘n taamlike sprong om die beeld te laat werk. Ek sou nog daaraan werk. En “griffel” ‘n mens op PAPIER?

Die nostalgie word verder heel mooi verwoord, die kaleidoskoop ‘n mooi beeld. Dalk is ek outyds, maar wanneer jy waag om ‘n woord soos kleurspektra (heel korrek) te gebruik, waarom volg jy dit op in die volgende reël met “coffee shops”? Doodgewone Afrikaanse “koffiekamers” sal die ritme ook beter laat werk.

As die digter aan die aanvangsbeelde werk, en dalk die reëls verder effe stywer trek, is dit ‘n geslaagde gedig. Maar die beeld in die eerste reël hinder my. Dalk kan hy “nostalgie” met ‘n ander, konkreter woord vervang (dis buitendien ‘n erg “ondigterlike” woord) en griffel kan hy doodgewoon met “potlood” as werkwoord vervang.

Illona Edwards

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Whether paraffin of lampolie"
Enige digter wat ‘n vers in Kaaps skryf, waag baie. Ek het dit probeer en misluk. Peter Blum het probeer en eintlik nie heeltemal geslaag nie. Slegs Adam Small kon hierdie kuns 99% bemeester. Daar is net te veel slaggate. Byvoorbeeld die skryfwyse: die digter moet besluit oor hoofletters en skryfwyses:

Ek sou skryf:
‘n Sigret virrie nerves ennie cold
ommie te praat va fear ‘ie

ens.

Watter meisie van die straat sal haarself beskryf as ‘n “tert” met styl? “‘n Girl met stile” of “‘n lady met stile”. Dit is die probleem wat ek hierbo genoem het.

‘n Straatmiesie mag min of meer soos in die vers redeneer, maar in die slotreëls filosofeer sy en die gedig val heeltemal plat. Die insig is nie nuut nie “spoilt goods”, “second hand goods” is geykte, byna gebruikstaal. Die “pawn shop” ook. Die digter sal dit met ‘n beter beeld as die “pawn shop” moet vasvang vir ‘n slot wat die gedig kan red – en daar is veel wat eintlik behoort gered te word.

Ek sou voorstel dat die digter die gedig probeer oorskryf in die derdepersoon en soek om met hegter metafore te bind en te besluit oor skryfstyl – baie noukeurig te besluit. Sou die gedig werk in die derdepersoon, kan dit om dit daarvandaaan te verbeter, teruggeskryf word in die onmiddellikheid van die eerstepersoon. Dis my metode, maar ek weet nie of dit vir almal werk nie.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Ek sit op iets met wiele"
Hierdie gedig kan werklik iets besonders word, mits die digter reël vir reël deeglik die gedig beplan. Soos dit nou daar staan, is dit te los en kom dit eers op dreef vanaf: “Maar hier sit ek soms in my kak…”

Wil die digter elke reël met ‘n hoofletter begin, of is dit lui tikwerk? “Tap” kan maar “kraan” wees en hoe verblind wit uniforms ‘n pasiënt? Oë wat snapshots neem is geykte beeldspraak. En die slotreël! Gebruik die gedagte van die slotreël sonder die ellendige woord “begewe”.

Ek sal vir hierdie digter voorstel om meer van vorm gebruik te maak. Sy hét die insigte, maar hoekom probeer sy nie om dit byvoorbeeld in vier rymende kwatryne te skryf nie?

Rym is gevaarlik, ek erken dit. Metrum ook, maar daar kom vondste uit wat andersins nie ontgin word nie. Die gedagte van die gedig is daar, klaar, maar die vorm wek die indruk van te maklik en te gou klaar. In haar eie beeldspraak: dit lyk asof die gedig ook nie kan styf word nie. En dit móét juis om die totale onbekwaamheid bloot te lê.

Ek sou baie hard dink en baie oorskryf om hiervan werklik iets te maak. Die saad van die gedig is daar.


Magda Janse van Rensburg

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Kiewiet"
Nog ‘n gedig met moontlikhede, goed gevorm, maar dit kan sterker gemaak word. “Terrein afkamp” is te maklik. Die stelling soek ‘n beeld. Presies hoe voel die kiewiet bedreig? Dit soek ook ‘n metafoor. Die twee slotreëls vra nog iets. Die verklaring vir die kiewiet se bedreiging “ek trap jou hoop en drome stukkend” is fyn, maar die swart en wit teenoor die kleur van die bedreiger doen vir my geforseer aan. Is kleure werklik ‘n probleem vir ‘n kiewiet? Of wil die digter iets meer hiermee sê? Dan moet sy dit sê. Grootte, ‘n mens, ‘n vreemdeling, ‘n gestalte, ‘n indringer, ‘n dief van privaatheid of wat ook al kan dalk (?) vir die kiewiet ‘n groter bedreiging wees – maar dan moet sy dit inwerk.

Die twee slotreëls soek nog iets wat daardie uitklophou slaan in ‘n andersins gedig met mooi moontlikhede.

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Vlieër"
Dis ‘n goeie gedig hierdie. Vormlik netjies en fyn uitgewerk. Maar daar is dinge wat hinder. Alles loop mooi tot by “swetsend”, wat ek nie van hou nie. Ek vermoed die digter het in die assonans-strik getrap. ‘n Ander beskrywende woord van “uitdagend” tot by “tartend” tot by waar ook al die digter dit wil waag, moet oorweeg word. “Klein” wesens is te maklik. Soek ‘n ander beskrywende bnw.

“Manipuleer” kan gaan, maar ek dink ‘n beter woord kan gevind word as die effe “vreemde” woord in ‘n sober, fyn gedig. ‘n Woord wat iets weergee van die weiering van die vlieër om af te kom, die spartel en speel, die gesukkel om dit wat vry is in te katrol. Ek soek ‘n beter woord of beeld hier.

Verder ‘n gawe gedig, met fyn selfbeheersing gevorm.


Antoinette Klein

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "Brekvis"
Dis ‘n mooi liefdesgediggie, maar die sentiment is darem al kwaai oor eeue deurgetrap: ek wil vir jou brekvis wees - of die ou liedjie : “I want to be your apple pudding”, of “Oi Veh, I’m going to be the dessert!” van Streisand. Die beeld van die eier is goed en moet tot die slot uitgebou word. Die slotsin moet in ‘n kragtige metafoor vasgevat word, want soos dit nou staan is dit te maklik. Die herhaling: “as jy net nader was…” wel, dit werk nie. Ek hou van die muffin borsies maar wat is die “bacon ronde buik”? Is sy klaar swanger of bedoel sy met buik die ronding van haar geslag? Ek neem so aan, maar sy moet daarop verbeter.

Vergelyk Lina Spies se gedig oor die kaal dogtertjie by die see.

Die sensualiteit van die gedig is ‘n plus en die suggestie raak die kol, maar nie met ‘n voltreffer nie. Die sensualiteit kan nog uitgebou en cliché’s vermy word.


Oor Gedig 2 - weergawe 1: "Genesis"

Is liefdeslus nog so ‘n sonde soos in die Middeleeue? Ek glo nie. Soos Degenaar gesê het: Wat is verkeerd met ‘n seksprikkel? Eva en die appels kom al uit die OT en selfs van Sappho af. Ek is jammer, maar hier is niks nuuts in hierdie gedig nie, al is dit op die hoor af gangbaar. Daar is te veel verslete beeldspraak of sê-goed: die wêreld mallemeule, verlistinge soos ryp appels (neologisme en al). Ek kan ook nie die verleiding weerstaan nie, “elke dag verloor ek opnuut die paradys” (darem te ná aan Opperman) ens. ens.

Hier is poësie in die gedig, maar die sentiment is effe verslete en die versugting aan die end geen verrassing nie.

Wees ‘n keer uitdagend:
Byvoorbeeld:
om te proe wat hulle sê Eva geproe het,
en wat hulle ‘n vrug noem – appel, vy, granaat,
wat de hel ookal – dit moes gesmaak het,

laat my vrug dit smaak
verwerping en al,
en die vergifnis kan gerus maar wag,
of bogger die vergifnis
ja, bogger dit,
vir eers

Dis ook maar power (darem “ter vergifnis”, nie my gedig nie): ek wil net illustreer dat ek soek na ‘n uitdagendheid in plaas van ‘n sentimentele skuldgevoel.

Anders moet die skuldgevoel sterk oorheersend gemaak word, maar dit vra weer ‘n ander pad, iets in die trant van van Wyk Louw se Tristia-gedigte. Die digteres moet hierdie gedig heelwat aandag gee as sy dit wil publiseer.

Ek sal haar aanraai om elke reël weer na te gaan, ook en veral dit wat sy die slot wil maak. Ek voel hier egter ‘n opstand aan wat sy versmoor in skuld. Laat die opstand seëvier. Vir eers (!).


Loammi Wolf

Oor Gedig 1 - weergawe 1: "'n pa se liefde"
Sjoe, dis ‘n sterk gedig, maar ek het ‘n paar aanmerkings. Hoe word ‘n hart “welk”? Die gedig is vol geheimenis, maar dalk té vol. Sy moet haar leser effe help, veral met wat volg op die “vroomheid wat sterf vir die nag/ lendes droog vir die dag”. Is die slotreël die skok wat ek vermoed dit is? Indien so, soek ek nog ‘n metafoor om voorafgaande dit te “verduidelik”.

Hierdie digter kan die taal van die poësie praat – maar ek het ‘n vae vermoede sy maak haar werk te haastig klaar. Toemaar: Antjie Krog doen dit ook!

Oor Gedig 2 - weergawe 1: "koggelmander hoop"
Hierdie is ’n baie knap gedig. Maar ek soek nog iets wat “getoor” moet word tussen strofe drie en vier. Sy toor ’n hemel, ’n volmaan. Sy kan nog iets toor: enigiets van ’n bries, tot ou seilskepe van verbyvaar, tot ’n herinnering. Dit sal ook help om die see in strofe 3 en 4 van mekaar te skei. Die tweede strofe is ’n skitterrende beeld. Die vuis van vrees wil-wil soms vir my na die effense verslete kant voel, maar dit kan staan omdat die emosie oorheers. Ek sou tog as ek die digter was, kyk of ek nie hier iets kan doen om dit nog sterker te maak nie.

Dis die beste gedig wat ek tot hiertoe gelees het. Ek sou hierdie gedig timmer tot hy perfek is.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Lucan Malan se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 06 Junie 2006

Wil jy reageer op SkryfNet X? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.