SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Vertrek

Karin Sennett

"Jy moet gou kom, my kind, my hande kry nie gevat nie. Die stootskraper het al gekom. Oom Thys-hulle is lankal weg, oom Servaas-hulle laas week."

Die winterreën is laat vanjaar, dink Riana terwyl sy aan haar ma se woorde tydens gister se telefoongesprek dink. Die motor se ruitveërs beur heen en weer, beur teen die stofnat voorruit. Haar oë voel moeg. Dit is tog maar net twee uur se ry vanuit Kaapstad na Wilgedraai.

Sy sug onwillekeurig toe sy dink aan haar grootworddorp wat maar net drie strate het. Dorpstraat is die mooiste, met 'n laning akkerbome wat koppe stamp oor die pad as die wind waai en aan die agterkant omsoom is met 'n groep aangrensende plase en die berg.

Die dorpenaars, insluitend haar ma, kon tot dusver daarin slaag om uit die kloue van ambisieuse stedelike ontwikkelaars te bly … tot nou toe.

Dit sal seker die laaste keer wees wat sy die bekende pad ry en weet twee uur later stop sy by Dorpstraat 3, die gepoleerde stoeptrappies op en in haar ma se arms in. Die klap van die kombuisdeur teen die sifdeur, die reuk van koolstoof en vars gebak as sy die kombuis binnegaan, die deurstap na die voorkamer met die sonlig op die blou leunstoel , 'n bos rose in die Delftpot op die ronde tafel, gang af na haar kamer toe, neerval op die sagte matras van haar grootwordjare. Raak aan die portret van haar pa en ma op hul vyftigste troudag, net voor hy die hartaanval gekry het; raak aan die lappies op die leunstoel wat Ouma nog gehekel het, maak seker dit is nog alles daar, dit het nie verander nie, iets is nog dieselfde al is jyself lankal nie meer dieselfde nie.

En nou die laaste ry om vir Ma te help pak, oppak en trek. Vyf-en-veertig jaar se goed in hopies te sorteer, kinders toe, welsyn toe, aftree-oord toe, waarnatoe.

Haar ma se stem het al hoe sagter geword na haar pa se dood en haar lyf meer broos en breekbaar. Met die laaste besoek het haar ma se eens sagte skouers nou duidelik benerig en vreemd gevoel met haar welkomsdruk.

Op Wilgedraai het Lillie se dag al vroeg begin met die stootskraper se onophoudelike dreunsang. Vorentoe, agtertoe … harder wanneer meer krag verlang word, sagter wanneer brokke sement en baksteen deurmekaar grond toe tuimel. Die sonlig wat deur die laning syfer, het verdof met brokkies verf en dwarrelende stof.

Waar sy voor haar sitkamervenster staan en uitkyk, sien sy hoe die oggendwolke opklaar oor die berg en woel 'n trui om haar skouers. Sy kan nie ophou kyk nie. Elke muur wat omtuimel 'n bladsy wat vir altyd toemaak oor haar lewe.

Die stootskraper kom al nader aan Stefaans-hulle se huis. Toe sy gedreun gister stilgeraak het, het sy haar kierie gevat en oor die straat gestap na Stefaans en Martie se huis.

Haar lyf was styf en seer van bokse pak en swaar goed uit die pad skuiwe. Sy het self al van die skilderye en fotorame van die muur afgehaal. Familieportrette loer nou soomlangs vanuit hul nuwe posisie op die vloer, kyk mekaar die eerste keer in jare weer in die oë. Riana moet maar kom help uitsorteer. Haar hande het dom geword.

Sy het lank stilgestaan by haar jare lange bure se huis. Leë oë het na haar teruggestaar.

Op die stoep het nog van Martie se malvas wat in ou konfytblikke geplant was, gestaan. Haar seun, die een wat advokaat is, het dit weer teruggedra uit sy groot bakkie nadat dit reeds opgelaai was. Blykbaar nie genoeg plek daarvoor by sy huis nie. Sy ma-hulle se tuinwoonstel is ook maar net so groot.

Martie en Stefaans het half verwilderd bly draai om die huis, nie geweet wat om te maak met al die leeg om hulle nie. Ook nie weer omgekyk toe die dubbelkajuit-bakkie sy U-draai gemaak en verby haar handwuif spoed gegee het nie. Haar geliefde bure se krom skouers in die agterruit afgeëts.

Soveel wonderlike middae het hulle omgesels op die stoep. Die son se draai oor die berg se glinsterrug op hulle gevoel terwyl Stefaans trots vir hulle vye uit sy boord afskil en een vir een aangee. Ag, Here, laat daar tog net 'n vyeboom wees in die stad vir Stefaans, die man moet grond onder sy vingers voel. Nie 'n plaveiseltuin nie, Here, 'n regte woel-in-die-grond-tuin, Here. En kwikkies vir Martie, Here, kwikkies in die oggendson op haar ontbyttafel om die kaasfrummeltjies op te pik.

Sy het een van die geurige rankrose gepluk wat welig oor Stefaans se heining getuimel het en haar gesig diep daarin gedruk, die geur oor en oor ingeadem asof sy dit kon deelmaak van haar, by haar kon hou, vir altyd, vir altyd net so sou kon bly staan. Sy het haar hand oor nog van die oop knoppe gevou en die sagte blomblare afgestroop en gevoel hoe dit van haar hand afgly tot op die klam grond.

Lillie skrik op uit haar mymering voor die venster toe die stootskraper se reuse hand sy skaduwee oor haar gooi met sy omdraaislag voor haar huis. Asof gehipnotiseer bly staar sy na die reuse kettingwiele wat bly gly en gly oor die teer, oor die sypaadjies … digby Stefaans-hulle se heining stop. Die reuse hand lyk vir 'n oomblik asof dit die rose streel, self wil pluk, maar dan sak dit af en skeur draad en paal en blaar en blom en tak honger na sy mond voordat dit die vyeboord begin takel, al kouende, knarsende met sy koue metaalvoete daaroor trap en vertrap … die soet geur van gekneusde vye kom oor die pad, die groot metaalvoete, rooi gevlek, draai reguit om na haar.

Riana sien die groot advertensiebord raak lank voor sy die flikkerlig aansit vir die afdraai na Wilgedraai. "Nuwe landelike ontwikkeling … luukse villas, plattelandse weelde".

Alles teen die agtergrond van 'n argiteksvoorstelling van Dorpstraat met Toskaanse villas, daar waar haar Ma se huis nou staan.

Sy draai haar motor se neus in die rigting van die dorp.

Lillie staan nie meer voor die venster nie. Dit is stil in die sitkamer. Orals staan oop bokse, stapeltjies boeke op die mat, 'n teestel op 'n tafel half toegedraai in koerantpapier.

Wat Riana sien toe sy in Dorpstraat afdraai, is nie die verbrokkelde erf waar eens oom Thys se huis was nie, ook nie die reuse spore wat oor sypaadjies en ontblote boomwortels loop nie, maar 'n stootskraper voor haar ma se huis, sy bakhand tollend teen die blou lug.

Sy herken oombliklik die blou truitjie waar dit tussen die breë, modderige voete van die stootskraper uitsteek. Asof gevries in tyd sien sy die drywer wat afspring, werkers wat naderstorm, die voorman wat reeds sy kop skud.

Na die begrafnis het die dorpskinders die middag gaan oorskietvye pluk in oom Servaas se tuin en bruid-bruid gespeel met die konfettiblare op die sypaadjie. En skaam-skaam dankie gesê vir al die weggeegoed wat Riana vanuit haar ma se huis uitgedeel het.



LitNet: 10 Augustus 2005

  • Klik hier en lees haar eerste weergawe
  • Klik hier en lees haar tweede weergawe
  • Klik hier en lees Herman Wasserman se verslag
  • Klik hier en lees Kirby van der Merwe se verslag

    Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.