SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Franois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Slangbyt op ’n Dinsdag

Trisa Hugo

Die kind se voete sleep paaie deur die stof. Sy skoene is altyd vaal en vol merke as hy kortpad vat, maar dis Dinsdag vandag en hy moet vir Pietertjie langsaan kry sodat hy eers kan sien of alles veilig is. Gelukkig gee antie Bybie glad nie om dat Pietertjie party middae by haar bly nie, en dan kry hy darem koekies en melk om te eet.

Sy kop hang, maar as hy dink aan Juffrou se sagte hand op sy skouer toe sy gister so mooi met hom gepraat het, trek hy sy skouers weer regop. Hy is nou ten ene male die oudste, en hy moet help sorg. Sy pa sê ook altyd so.

“OK, Pietertjie, wag nou by die gat in die draad tot ek jou roep, en sê groete vir antie Bybie.” Die kind swaai sy boeksak van sy skouer af, en skiet dit oor die rooi stoep. Hy sál dit nog regkry om dit presies te kry waar die drie krake bymekaarkom.

Die deur is toe, en hy moet dit presies op die regte plek met sy knie oopbeur, terwyl hy die knop draai. Gewoonlik staan dit oop op ’n Dinsdag, met Bing Crosby wat jy wie weet waar kan hoor. Die meeste van die tyd is antie Girlie dan ook hier, dan sit sy en Amênda by die kombuistafel en tee drink en rook. Hulle lag hard en baie. Partymaal verf hulle hulle naels, of doen mekaar se hare. Hy pes dit as hulle die dag perm, want daai reuk kry jy net nie uit jou neusgate nie, maar dit lyk nie of dit hulle pla nie.

Die kind hou daarvan as antie Girlie hier is, want dan is Amênda vriendelik, en dan kan hy vir Pietertjie gouer deur die gat in die draad roep. Hy gee hom gewoonlik ’n rukkie kans dat hy eers sy koekies en melk klaar eet. Op sulke dae kry hulle dan ook brood met polonie, lekker. Antie Girlie dink seker dit gaan elke dag so hier.

Party Dinsdagaande gaan hulle dan ook drive-in toe, en eet dan sommer hamburgers daar, maar dit was so lank laas, en dit het alles met honde te doen. Honde! Die kind kan nie verstaan hoekom hy nie ’n hond mag kry nie, want elke keer voor hulle drive-in toe gaan, sê sy pa: “Ai, maar die hondjies was goed vir my vandag ...” As sy pa dan so lief is vir honde, vir wat mag hy dan nie ’n hond kry nie? En hoekom mag hy nie sy pa daaroor uitvra nie? Hoe kan honde grootmensgoeters wees? En hoekom mag hy nie vir Juffrou daarvan vertel nie?

Die kind loer versigtig om die kombuisdeur, met Amênda weet mens nooit. Alles is doodstil, en daar is nie pap op die stoof nie, ook nie brood in die blik nie. Niks! Die pot met gisteraand se pampoen staan oop op die wasbak, maar dis droog om die kante, en daar draai vlieë om die pot, sies. Die kind drink twee blikbekers vol water, dit help gewoonlik.

“Amênda? Amêndaa?” Die kind weet nie of hy moet huil of lag nie. Hoe hy die pap en koffie ook al haat in die middag, vandag is hy so honger dat selfs die pap lekker klink. Traag loop hy kamer toe om uit te trek, voordat hy vir Pietertjie gaan roep. Partykeer wens hy Pietertjie is al groter, dan sal alles baie makliker wees.

Die kind hoor ’n kar buite stilhou, maar dit kan tog nie al sy pa wees nie? Vandag is mos Dinsdag? Sy pa se skofte werk altyd so uit dat hy op ’n Dinsdag af is. As sy pa so vroeg terug is, is die hel al weer los vanaand in hierdie huis. Maar nee, daar klap ’n deur en die kar trek weer weg.

“Koehie! Koeehieee! Is julle al van die skool af? Kom kyk wat het ek vir julle gebring — slap tjips!” Die kind gooi sy klere neer en hol kombuis toe, Amênda was nog nooit ooit so gaaf met hulle as sy pa nie by is nie. “Waar is Pietertjie? Kyk, ek het vir julle slap tjips gebring, kom eet gou voor dit koud is.”

Die kind gryp sommer ’n paar tjips uit die pakkie, hol verby Amênda, en duik af op die gat in die draad. “Pietertjie! Pietertjie, kom gou!” Antie Bybie hoor die lawaai en kom staan breed in haar kombuisdeur, klap-klap ’n grou vadoek teen haar ruim bobeen.

“Hallo, Antie, sê vir Pietertjie hy moet huis toe kom! Baai, Antie!” Hy hol vinnig terug, hy ruik daai lekker vetterige asynreuk tot hier buite.

Amênda sit by die kombuistafel, met ’n sigaret, wat sy skoon vergeet om te rook. Sy kyk by die venster uit, maar dit lyk nie of sy iets raaksien nie, amper soos Pietertjie wanneer hy in sy slaap loop. Sy lyk vandag vir die kind mooi, met haar hare wat gewoonlik so hoog opgetease is en kliphard gespuit is, wat nou oral losgekom het en saggies teen haar ore krul. En haar rooi wange, wat glad niks te doen het met die goed wat sy altyd aansmeer nie. Tot haar nek is rooi. Sy moet nounet nie staan en siek word nie!

“Amênda? Kan ons maar al die tjips kry?” Pietertjie het in elk geval al klaar die een pakkie halfpad opgeëet.

“Ja, toe-toe, eet gou klaar en gaan doen dan julle huiswerk, moet my nie verder pla nie”. Die kind weet nou al om vir Pietertjie te vat en uit die pad te hou as Amênda so lyk of sy half in haar slaap loop, want sy kan vreeslik skrik as mens dan skielik met haar praat. Hy weet nou ook al vanaand gaan lekker wees, want dan soen sy sommer ook sy pa vir niks en kielie hom in sy nek as sy vir hom koffie bring. Vanaand is die aand wat sy pa hom weer oor sy hare gaan vryf en hom Bulletjie noem. Dalk ook vir Pietertjie op sy skoot tel. Hy wens sulke aande kan vir altyd aanhou, maar vir wat moet hulle dan so vroeg gaan slaap?

So sit die kind nog en droom toe hy die Prefect hoor indreun. Die deur klap darem nie vandag té hard toe nie. Laas keer toe hy by Gideon gaan speel het, wou hy met hom praat oor grootmense, en hoe hy elke dag kan voel wat gaan gebeur, maar Gideon het net gesê: “Huh?” Hy het niks verstaan nie, maar dan is Gideon se pa en ma ook heeltemal anders, daar is altyd baie kos en Gideon is nooit bang nie. Hy wonder hoe dit moet wees as mens net die yskas kan oopmaak en enigiets vat. Maar by Gideon-hulle is daar kos om te vat!

“Mandy? Mandy? Waar is jy?” brul sy pa by die agterdeur in. Amênda kom slaperig uit die kamer uit met haar groen wolletjiesjapon aan. Sy gaan staan styf teen sy pa. “My ou grote, kom sit hier, dan gooi ek vir jou ’n drienk.” Sy vat-vat so aan sy oor, en druk dan haar hand agter by sy kraag in.

Daardie aand eet hulle vis en tjips, wat sy pa om die hoek by Costa gaan koop, want sy pa wil nie wag dat Amênda eers kos kook nie, hy wil vroeg bed toe. Toe sy pa die groen belt van Amênda so om haar lyf knoop en met sy baard so in haar nek krap het hy geweet Juffrou gaan more weer raas as sy huiswerk nie klaar is nie. As sy pa-hulle gaan slaap moet al die ligte af en klaar.

Vir amper ’n hele week gee Amênda elke dag vir hulle brood met iets by. Jislaaik! Sy kan darem gaaf wees as sy wil.

Die kind is bly toe die skool Vrydagmiddag uitkom. Gideon het gevra hy moet by hom kom speel. As Gideon net wil verstaan dat hy vir Pietertjie móét saambring, hy kan hom mos nie alleen by Amênda los nie.

“Waar bly jy so blerrie lank? Bring vir Pietertjie en kom eet en kry klaar!” Die kind stamp sy been teen die stoel toe Amênda so skree.

Sy smyt die pap so hard in die borde, ’n stukkie spat reg tot op Pietertjie se wang, spierwit teen die bruin van sy wang. “Eina! Einá! Ouhiee!” Die klont pap smeer oor sy wang toe Amênda hom klap. Nou skree hy soos antie Bybie se foxie as oom Boela hom van oorkant af met die kettie klits. Sulke kort, skerp skreeutjies.

Die kind spring op om vir Pietertjie weg te vat, dit sal Amênda net kwater maak as hy so aanhou huil. Sy gryp hom aan sy oor en knyp-draai hom terug in sy stoel. “Vreet klaar en was julle borde, en wag net hier tot ek terugkom.” Nou gaan Gideon ook kwaad wees vir hom as hy nie kom speel nie.

Daardie naweek is niks lekker nie, sy pa en Amênda baklei die hele naweek. Die kind se oor pyn die hele tyd, dis rooi en geswel, maar sy pa kom niks agter nie.

Die kind is bly toe dit weer Maandag is, dat hy kan skool toe gaan, en die hele middag hou hy hom besig met sy huiswerk. Hierdie kwartaal gáán hy almal wys, hy gaan eerste staan.

Toe Juffrou sy opstel in die klas lees, vra sy dat hy agterbly as die klok lui vir speeltyd. “En dié?” vra sy terwyl sy oor sy oor vryf. Hy hakkel, wil niks sê nie, maar haar oë is sag en blink. “Hmmm? Sê vir Juffrou.” Skielik kan hy dit nie meer hou nie. Hy probeer so hard, maar niks kom ooit reg nie. Hy probeer nie eers die trane keer nie. Alles borrel net uit, loop oor, die pap, Pietertjie, Amênda , sy pa wat niks raaksien nie, alles deurmekaar. Hy kry nie sy sakdoek nie, en Juffrou draai om om vir hom een te kry. Sy draai stadig om, sy kyk by die venster uit. “Miskien verbeel jy jou maar net, jou pa is mos lief vir jou. Toe, gaan speel nou.”

Die naar stoot op in sy keel, maar gelukkig kan hy om die hoek kom voor die suur slym uit sy mond uit spuit. Hy gaan sit op sy hurke, alleen teen die muur. Toe die klok na speeltyd lui, vee hy sy skoene skoon en gaan was sy mond uit by die kraan.

Hy gaan haal sy tas en hardloop al die pad huis toe, hy sal na skool weer vir Pietertjie gaan wag.

Die huis is doodstil, so antie Girlie is dan nie daar nie. Hy probeer nie eers om sy tas oor die stoep te skiet nie, hy hol reguit badkamer toe om die suur smaak uit sy mond te probeer was. Die badkamerdeur is oop, maar hy hoor iets snaaks, so soos iemand wat sukkel om asem te kry, en toe skrik hy — Amênda lag saggies, dit klink amper soos wanneer hy die kussing oor sy kop druk die aande wat hulle vroeg moet gaan slaap.

“Waddefok!” Oom Boela van oorkant, wat altyd aan sy pa se kar werk, kom heeltemaal kaal uit die badkamer gestorm. Stukke skuim gly van sy skouers af. Die kind kan nie ophou kyk nie, só lyk sy pa mos nie as hy bad nie? Hoe kry hy gepie as daai ding so in die lug op staan?

Oom Boela vloek vreeslik toe sy nat voete op die sementvloer gly, en hoor glad nie vir Amênda toe sy roep “Boelie? Wat nou? Boelieee?” nie. Oom Boela is terug badkamer toe, en terwyl hy sy broek probeer opkry, haal hy sy belt af.

“Jou klein bliksem, wat soek jy so vroeg hier? Vandag donder ek vir jou!” Gelukkig is hy vinniger as oom Boela en hy kan wegkom. Hy hardloop terug skool toe en gaan sit agter die fietsloods tot die kleintjies uitkom. Daardie middag gaan bly hy saam met Pietertjie by antie Bybie, maar sy kan nie ’n woord uit hom kry nie. Sy skud net haar kop en gaan haal nog koekies.

Toe hy die Prefect hoor, besef hy eers, dis Dinsdag, en sy pa is vroeg terug. Toe hy by die kombuisdeur inkom, is Amênda al om sy pa.”Vandag moet jy daai kind goed uitlooi, hy luister net nie vir my nie, en hy was weer parmantig.” Haar vingers speel met sy pa se hare. “Ek probeer so hard om vir hulle goed te wees, maar hy het net nie ore aan sy kop nie.”

Hoe meer hy vir sy pa probeer vertel wat hy gesien het, hoe harder kom die houe, later tot op sy rug. Hy is later by huil verby, en sy pa hou eers op toe hy val.

Die kind kan nie slaap nie. Hy dink aan sy pa. Aan Juffrou. Hy druk sy ore toe om nie te hoor nie. Hy draai moeilik om op sy sy. Vanaand is hy bly hulle moes vroeg gaan slaap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.