SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Franois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Mart kies

Susan Lombaard

Tok-tok teen die dun deur. “Noupoort, dame.”

Sy antwoord nie. Netnou al het die bord verbygeskuif — N UP OR deur die oop venster, swaaiend aan een skroef in die warm wind. Buite kom die eerste rooibaksteenhuis langs die stasiegebou in sig.

Mart se blik dwaal deur die kompartement. Koffer by die deur; beide knippe toe. Blou spoorwegkombers opgevou op die boonste bank. Gryswit kussing bo-op. Sy knik, vou haar hande op haar skoot en laat haar gedagtes toe om kleintyd se kuiers te onthou.

Ma Anna het padkos ingepak: frikadelle en hardgekookte eiers en konfyttoebroodjies in driehoekies gesny. Hulle het dit geëet by die afslaantafeltjie voor die venster as dit begin skemer word, en as die man met die beddegoed in die gang verbykom, het ma Anna die boonste bank platgeslaan en hulle beddens opgemaak. Dan het ma Anna vir Mart stories gelees, tot sy nie meer haar oë kon oophou nie. En as sy weer wakker word, was dit al amper lig en ma Anna het vir hulle vuurwarm koffie in plastiekkoppies gekoop by die koffietrollie wat in die gang verbygeratel het.

Sy moes vinnig gesig was en ’n draai gaan loop by die toilet aan die punt van die wa, want nie lank na sonop nie het die bord buite die dorpie al verbygeskuif: NOUPOORT. Al was dit nog te ver, het sy by die venster uitgehang en óm die draai probeer sien, verby die treinbrug, na waar hulle langs mekaar staan op die kant van die perron. Ouma Bet met haar katoenrok, sandale en lang vlegsel wat onder die strooihoed uit teen haar rug afhang; oupa Hans met pak, das en hoed, sy een arm om haar skouer. Hulle oë wat soek deur die skuiwende vensters; hul hande wat oop en toe gaan en die son van hul voorkoppe wegskerm.

Toe die voetbrug ’n vlugtige streep skaduwee oor die vloer gooi, staan Mart op. Sy stryk die blou rok plat waar haar knieë bolle in die materiaal gedruk het.

Die kartonkoffer stamp teen die trappie toe sy afklim perron toe. Die trein trek weg. Eenkant staan ’n hond aan iets en vreet. ’n Bruin plastieksak rol oor die spoor, haak vas en pof futloos af. In die naaste stasiehuis huil ’n kind. Iemand skree.

Die perron is stil en grys en die lug baie blou.

Dis nie ver nie. Sy loop die klipperige skuinste op. Die koffer swaai teen haar bene. Elke twintig treë gaan sy staan, druk-druk met ’n papiersakdoek die sweet van haar voorkop weg en verskuif die koffer na die ander hand.

Die huise se deure is toe; gordyne dig getrek. Die hoë stoepe met trappies na die sypaadjie lyk bedrieglik koel. Net hier en daar roer ’n kantgordyn as sy verbystap — dis tyd vir middagrus op breë beddens in donker kamers.

Dieter het haar gistermiddag gaan afsien — liewe Dieter, dink sy en glimlag. Hy het onthou wat sy vertel het van kleintyd, toe sy vakansies saam met ma Anna by oupa en ouma gaan kuier het. Hy het souserige frikkadelle gekoop by die kafee op die hoek en dik snye brood met konfyt gesmeer. Die fles koffie het sy self gemaak.

Sy het op haar lip gebyt. “Wat gaan ek sê?”

“Ag, sê net niks,” het hy hom geërg. “Dis te gou om te sien.” Toe, sagter: “Jy hoef nie te gaan nie.”

Sy het ’n rukkie stilgebly. “Ek móét. Ter wille van oupa Hans.”

Deur die venster het hy haar hand ’n drukkie gegee. “As jy terug is, gaan soek ons ’n ring.”

“Sy sál sien,” het Mart aangehou. Die trein het gefluit en hy het gemaak of hy haar nie hoor nie. Sy blou oë was nat.

“Sterkte vir die begrafnis,” het hy agterna geroep en sy het lank gewaai, tot sy hom nie meer kon sien nie.

Sy het met die roomysbak vol padkos in die middel van die kompartement bly staan. Daar was ’n knop in haar keel.

Alles is nou ánders, het sy gedink, as die vorige keer dat ek hier gestaan het. En tog dieselfde.

Die ou Britse kerkmuseum se dakplate is afgewaai, sien Mart. En die klok in die toring is geroes. Die gras is net voor gesny; aan die kante groei dit onbeheersd teen die klipmure vas.

Oorkant die straat het iemand met wit skoenpolitoer op die venster van Shorty’s Furniture geskryf: Closing down sale. Die vertoonvenster is leeg.

Sy vee haar hande aan haar rok af en tel weer die koffer op — linkerhand. Stadiger, nou, begin sy weer aanstap. Verby Shorty’s General Dealer en Shorty’s Butchery en Shorty’s Hotel met ’n ry stowwerige bakkies en motors op die sypaadjie. Die warm wind blaas van agter af haar natgeswete rok koud teen haar rug vas.

Mart klim een, twee, drie trappies op. ’n Wit koevert steek halfpad uit by die bek van die groen posbus op die stoepmuurtjie. Die hekkie swaai piepend oop, dan toe. Die breë stoep is onlangs streperig gevee. In die rooi blombak het die kruisement en laventel gevrek.

Sy gaan sit op die stoepmuurtjie om tyd te wen, asem te skep en haar skoene uit te trek. Die teëls is koud onder haar voete.

“Kyk, Oupa!” Haar kaal voete klap op die stoepteëls. Sy hardloop omkyk-omkyk tot op die ander punt en weer terug. Die jêmblik aan die draadhandvatsel rol agterna. Dit klik oor die laste tussen die teëls en die klippies binne-in girrr.

Oupa Hans sit op die stoepmuurtjie. Sy pyp maak ’n grys wolkie bokant sy kop en hy knik.

“Hy rol mooi gelyk.”

Een, twee, drie treë tot by die voordeur. Sy sit die koffer langs haar neer, en steek haar voorvinger met ’n kortgeknipte nael uit na die klokkie. Sy trek dit terug; druk dan vinnig. Dit klingel onbehoorlik helder.

Voetstappe klink op oor die plankvloer in die voorportaal — die skulpe in die vertoonkas ratel ritmies. Die blou voordeur swaai oop. Ouma Bet staan klein in die deurkosyn. Nie oupa Hans nie.

Here.

“Mart?”

Vir ’n oomblik voel Mart jammer vir haar. Sy steek haar hand uit.

“Ouma.”

Hulle hou mekaar ’n rukkie vas, maar hulle praat nie.

Later maak ouma Bet jasmyntee en sy smeer broodjies, en hulle eet dit by die blou kombuistafel. Die man van die bank bel — innige simpatie, sê hy, en ná die begrafnis sal hy oorkom met die testament.

Mart gaan sit die draagbare radio op die sideboard in die eetkamer aan. Dis aandnuus-tyd. Hulle luister met skuins koppe en kou, sluk, vermy mekaar se oë.

Die plankvloer in die gang kraak. Ouma Bet kyk afwagtend op maar ruk gou haar kop weg.

“Iemand gaan kom klop,” probeer sy dit regpraat. “Die Smit-vrou moet kraam, vannag of môre. Dis haar eerste kind. Ek sal moet help. Jy kan gerus ’n handjie kom bysit.”

In die wasbak drup die kraan in ’n geel emaljebeker. ’n Mot kring om die kaal gloeilamp en gooi fladderende klein skaduwees oral in die vertrek. Die koolstoof in die hoek is koud.

Help, dink Mart. Soos die keer toe jy my moes help.

Ma Anna het geweet soos ouma Bet kon weet, sonder dat iemand sê. Sy het al Mart se goed in bokse gepak en vooruit met die trein gestuur, en vir Mart agterna met ’n enkelkaartjie. Om sommer daar te bly en matriek te skryf op ’n gevrekte dorpie sonder aantreklike buurseuns wat tienermeisies in die lang gras langs die spruit verlei, terwyl die son wit skyn en hulle klasmaats voorberei vir die standerd nege-eindeksamen.

Ná aandete gaan haal oupa Hans sy groot Bybel met die bruin leeromslag in die kamer terwyl Mart en ma Anna die skottelgoed was. Ouma Bet pak weg. Sy loop op kaal voete heen en weer tussen die wasbak en die kas in haar lang blommerok, haar grys hare uitgekam tot by haar stuitjie, swaaiend teen haar rug. Oupa Hans skuif sy bril tot op die punt van sy neus en blaai vorentoe, agtertoe, lees hier en daar: sy lippe roer.

As almal hulle sit gekry het, kug oupa Hans. “Ons lees vanaand uit die Woord van die Here, en wel uit die boek van die Psalms. Psalm honderd een en twintig vanaf die eerste vers. ’’n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom&nsp; ...?’”

Die koolstoof bak Mart se blaaie warm van agter. Die lamplig skiet silwer vonkies uit ouma Bet se hare. Oupa Hans se stem is diep en hy rek sy o’s en a’s lank uit. By “my hulp kom van die Here” lees oupa Hans stadiger.

Mart onthou die een keer wat sy geloer het terwyl hy bid. Dit was toe sy al by hulle gebly het. Ouma Bet se swart oë was oop en sy het by die venster uitgestaar.

Dié aand moes sy vir die eerste keer help vashou.

Ouma Bet gaan die aand vroeg kamer toe. Mart maak tee en dra dit op ’n houtskinkbord na die kamer aan die einde van die lang gang. Sy bly staan in die deur.

Die kussings aan oupa Hans se kant is vet opgepof. Sy bruin baadjie hang aan ’n kapstok teen die muur.

Ouma Bet sit op die kant van die bed. In haar hand hou sy oupa Hans se wyserhorlosie met die vergeelde glasie. Sy sit daaroor gebuig.

Toe Mart kug, vou sy haar hande toe oor die horlosie.

Hulle sit langs mekaar en drink. Ouma Bet slurp en mors ’n bietjie oor haar ken. Haar valstande is reeds in die glas water langs die bed.

“Ek kan nie, Mart,” sê sy. Haar stem is helder. “God weet ek kan nie sonder hom nie.”

Mart sê niks. Die staanhorlosie tik hard in die gang.

Sy dink aan die swaar foto-album op die rak in die sitkamer. Binne-in is dowwe foto’s van ’n jong paartjie: die aantreklike jongman en die fyn meisie aan sy sy. Hy het dadelik op haar verlief geraak, het ma Anna altyd vertel. Hy het in die Kaap by familie gaan kuier, en sy was ánders as die vaal meisies van sy tuisdorp. Sy het haar hare kort gesny en lang, bont rokke gedra, en Saterdae het sy kruie gepluk in haar wilde kruietuin en dit in bossies in die huis opgehang om te droog.

En hy het haar voete onder haar uitgeslaan: stasiemeester op dertig, Godvresend en vas soos sy pa was.

Agterin die album is die lagplooitjies om haar mond bitter en hard. Omdat haar kruieplantjies nooit in die harde Karoogrond wou aard nie, het ma Anna gesê.

En tóg was sy lief vir hom.

Mart weet skielik wat sy moet doen.

Ouma Bet trek haarself ’n bietjie regopper. Sy weet ook.

“Ja, jy moet my help, Kind,” sê sy. “Maar eers moet ek jou help. As die begrafnis oor is.”

Mart skrik. “Ouma?”

“Natuurlik weet ek. Ek het dan laas ook geweet.” Sy is weer saaklik. “Hoe lank al?”

“Ek het al vier keer gemis, Ouma,” sê Mart en kyk vir haar hande.

Ouma Bet knik. “Dis nog goed so. Nie te gou nie en ook nie te laat nie. As die begrafnis oor is.”

Mart dink aan Dieter. Sy blou oë en sy harde hande wat vir haar die broodjies gesmeer het. Hulle praat nie weer nie.

Mart vat die skinkbord terug kombuis toe; spoel die koppies uit en pak dit langs mekaar in die blou kas met die glasdeurtjies, ore skuins vorentoe. Toe dwaal sy nog ’n bietjie deur die huis. Badkamerlig af. In die sitkamer met die swaar blou fluweelgordyne gly haar hand oor die groot leunstoel in die hoek.

Die voordeur is nie gesluit nie. Sy stoot dit oop en stap uit op die breë stoep. Daar brand lig om die hoek.

Sy is weer sewentien; staan in die deur van die stoepkamer. In haar kamer staan die koffers nog onoopgemaak, nadat sy vanmiddag met die trein hier aangekom het. Ma Anna het gesê ouma Bet sou verduidelik as sy hier aankom.

Maar op pad hierheen het sy dit vir haarself uitgewerk: ma Anna wéét. Die kind moes sy hier kom kry en ouma Bet sou sorg vir die grootkom.

Toe sy netnou in die bed klim, kon sy nie slaap nie. Sy het ouma Bet in hulle slaapkamer gaan soek, maar haar plek langs oupa Hans was leeg en die lakens was al koud. Toe sien sy die oop voordeur en die lig wat brand.

“Ouma?”

Ouma Bet hoor nie. Sy staan met haar rug na die deur toe. Haar hare is in ’n bondel op haar kop vasgemaak en sy het ’n los wit rok aan. Langs haar staan ’n pot stomende water. Haar stem is saaklik. Sy praat met iemand wat op die bed lê. Mart sien ’n kaal voet uitsteek. Die voet is smal en wit.

“Jy slaap vannag hier,” sê sy. “Môreoggend sal ek jou vroeg wakker maak om huis toe te gaan. Jy gaan nie skool toe nie.”

Sy steek haar hande in die pot water en praat skuins oor haar skouer. “Jou water het gebreek. Die kind sal teen oormôre afkom. Moenie skrik as jy môre swart klonte sien nie. As jy begin pyne kry, laat jou ma my kom roep, dan is dit tyd.”

Sy vryf haar hande driftig in ’n handdoek. “Dis eintlik nog te gou. Julle wil mos nooit wag nie — weet mos van beter. As jy ná die tyd aanhou bloei en koors kry, moet jy terugkom dat ons die plasenta kan afkry.” Sy gooi die handdoek oor die voetenent van die bed en steek haar hand uit na die ligskakelaar. “Jou ma kan die geld in die posbus sit. Slaap nou.”

Mart bly staan in die donker. Ouma Bet loop verby haar voordeur toe. Eers dink Mart sy sien haar nie. Toe praat ouma Bet sonder om vir haar te kyk.

“Dis goed jy’t gesien. Môre-aand is dit jou beurt. En as jy beter is, kan jy gerus hier begin help. Ek kan doen met ’n ekstra paar hande wat kan vashou.”


Ouma Bet het reeds die kamerlig afgesit. Net die bedlampie aan oupa Hans se kant brand nog en ’n bietjie maanlig val deur ’n skreef in die gordyne. Sy lê met toe oë. Mart skuif onder die stywe laken in en klik die bedliggie af. In die maanlig kan sy bokant hulle koppe die woorde van die “Die Here is uw bewaarder”-bordjie uitmaak.

Oupa Hans se rug is warm teen haar koue lyf. “Gee jou voete hier, Mart-kind,” raas hy goedig en knyp Mart se voete tussen sy knieë vas. “Jy sal verkluim.” Hy ruik na pyptwak en rooibostee.

Laat in die nag hoor Mart “sjorrr” toe ouma Bet die emaljepotjie onder die bed gebruik. Mart wag tot sy weer onder die laken ingeskuifel het, die deken warm onder haar keel vasgetrek. Haar gevoude hande op haar bors maak ’n bult onder die deken. Mart sit regop en tel die verekussing op; weeg dit in een hand. Die knop onder die deken beweeg vlinderlig.

Net voor sy die kussing oor die ou vrou se gesig druk, gaan ouma Bet se oë oop. Sy stoei nie. Na ’n paar sekondes trek die spiere in haar nek vir ’n oomblik. Mart houvas tot daar geen deining meer onder die deken sigbaar is nie voor sy die kussing afhaal. Sy pof dit op en draai op haar sy.

In die donker dink sy aan Dieter en aan sy warm lyf. Sy sit haar hand op haar maag. Die kind roer onder haar vingers.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.