SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Genade onbeskryflik groot

Susan Lombaard

Tok-tok teen die dun deur. “Noupoort, dame.”
    Sy antwoord nie. Hoor hoe hy huiwer voor hy ongeërg sy toonlose wysie hervat en dit fluit-fluit sagter word, gang-af. Sy het lankal reeds die bord sien verbyskuif — N UP OR deur die afgeskuifde vensterraam, swaaiend aan een skroef in die warm wind.
    Rut se blik stip deur die kompartement. Koffer by die deur; beide knippe toe. Blou spoorwegkombers vierkantig opgevou op die boonste bank. Gryswit kussing bo-op. Sy knik, gerusgestel; vou haar hande op haar skoot.
    Buite skuif die eerste rooibaksteenhuis langs die stasiegebou verby. Sy sit ’n bietjie regopper.
    Sy hang by die venster uit; rek haar nek vir die draai. “Kyk, Ma!” skree sy en waai met altwee hande. Die eerste baksteenhuis skuif nader. Tannie Rita se huis met die kleinhuisie teen die draad en die wapperige wasgoed in die stofwind. In die hoek, styf teen die draad gedruk asof sy wil déúr: die groot figuur met die baieblomme-rok, gesig vertrek van lag en wit, sagte arms wat hoog in die lug waai en waai. Al op die ry af staan hulle wittand en waai — vrouens met voorskote aan en vadoeke in die hand. Almal weet, soos ’n knus familie weet hulle, as iemand se weduwee-dogter en halfwees-kleindogter kom kuier.
    Toe die voetbrug ’n vlugtige streep skadu oor die vloer gooi, staan Rut op. Kyk krities af en stryk die somber donkerblou rok plat waar haar knieë bolle in die materiaal gedruk het. Skuif die deur oop en tel die kartonkoffer op. Dit stamp teen die trappies toe sy afklim perron toe.
    Hulle staan netjies langs mekaar, téén die kant van die perron — ouma Bet met haar Sondagrok, sykouse en nagmaalskoene; oupa Hans met pak, das en hoed; een arm beskermend om haar skouer. Twee paar oë wat soek-soek-soek deur die skuiwende vensters; hande wat angstig-afwagtend oop en toe gaan en die son teen die voorkop wegskerm.
    “Oupa! Ouma!” Haar jong oë het hulle nog altyd eerste raakgesien. Sien nou ook hoe hul gesigte jónk word van vreugde. Groot hande wat haar deur die ruit uittel. Koffers; soene en drukke en pakkies, en mense wat lag en tussenin blaas die kondukteur sy fluitjie en die trein trek weg maar niemand kom dit agter nie —

    Eenkant op die gekraakte sement staan ’n hond aan iets en vreet. ’n Bruin plastieksak rol traag oor die spoor, haak vas en pof futloos af. In die naaste stasiehuis huil ’n kind klaend; ’n vrou skree. Na links en regs is die perron stil en grys en die lug is baie blou.
    Dis gelukkig nie ver nie en sy het plat skoene aan. Sy loop die klipperige skuinste op. Die tas swaai teen haar bene. Elke twintig treë gaan sy staan, druk-druk met ’n snesie die fyn sweet op haar voorkop weg en ruil die koffer na die ander hand. En kyk onopsigtelik rond.
    Die huise se deure is toe; gordyne dig getrek. Die hoë stoepe met trappies na die sypaadjie lyk bedrieglik koel. Net hier en daar roer ’n kantgordyn as sy verbystap — dis tyd vir middagrus op breë beddens in die donker kamers.
    Die ou Britse kerkmuseum se dakplate het afgewaai, sien Rut. En die klok in die toring is geroes. Die gras is net vóór gesny; aan die kante groei dit onbeheersd teen die klipmure vas.
    Sy onthou weer die droom.

Hulle stap deur ’n geilgroen veld met pienk kosmosse. Loop sommer net in die loom middag: dis stil. Sy, mooi ma Anna, regop ouma Bet met haar kierie.
    Hy staan sommer skielik voor hulle. Sy ken hom nie en deins effens terug — die jong, aantreklike man met die netjiese pak klere en hoed op die kop. Hy glimlag afwagtend en steek sy hande na hulle uit. Sy is nie bang nie.
    “Pa!” Ma Anna trap oorstelp vorentoe; gooi haar arms om sy nek. Sy lag in die son. Die man lag hard en bly. Hy gryp haar vas en sy druk haar kop in sy nek. “Pa!”
    Rut hoor ouma Bet se kierie langs haar in die gras val. Swaai haar oë soontoe. Ouma Bet is strakwit en haar mond is halfoop. Sy snak effens. “Hans.” Dan skud sy haar kop ongelowig, draai lomperig om en begin sukkel-sukkel deur die graspolle weghardloop.
    Rut hardloop agterna, maar ouma Bet is al ver — sy trap oor die horison en haar hare blink wit in die lug. Toe Rut uitasem gaan staan waar sy ouma Bet laas gesien het, is die veld tot op die núwe horison leeg. Alkante toe.
    Sy kyk weer. Links, regs. Van links af, ver in die pienk en groen veld, kom ma Anna en die jong man ingehaak aangestap. Tydsaam; ma Anna het ’n klein glimlaggie op haar gesig. Maar al stap hulle diékant toe, word hulle kleiner en kleiner tot hulle heeltemal wegraak.
    Regs, onder teen die heuwel, staan ouma Bet se wiegstoel halflyf in die gras. Dit swaai nog liggies heen en weer. ’n Goudwit baan lig uit die hemel uit maak ’n blink plas op die leë sitplek.

Oorkant die straat staan ’n bruin bank op die sypaadjie voor Shorty’s Furniture. Iemand het met wit skoenpolitoer op die venster geskryf: Closing down sale. Die vertoonvenster is half-leeg.
    Sy vee haar hande aan haar rok af en tel weer die koffer op — linkerhand. Begin aanstap: stadiger nou. Die son is witgeel en blits verwoed van nuttelose reënwatertenks af.
    Haar kop werk sistematies deur alles wat sy moet verwag. Verby Shorty’s General Dealer en Shorty’s Butchery en Shorty’s Hotel met ’n ry stowwerige bakkies en motors slordig op die sypaadjie geparkeer. Die warm wind blaas van agter af haar natgeswete rok kóúd teen haar rug vas.
    Een, twee, drie trappies op. ’n Wit koevert steek halfpad uit by die bek van die groen posbus op die stoepmuurtjie. Die hekkie swaai piepend oop; dan toe. Die breë stoep is onlangs streperig en halfhartig gevee en die malvas in die speelse rooi blombak het gevrek.
    “Kyk, Oupa!” Haar kaal voete klap op die stoepteëls. Sy hardloop omkyk-omkyk tot op die ander punt en weer terug; sleep die koffieblik-karretjie aan die draadhandvatsel agter haar aan. Die klippies binne-in sjorrr soos die blik rol en klik-klik oor die laste tussen die teëls.
    Oupa Hans sit op die stoepmuurtjie. Sy pyp maak ’n grys wolkie bokant sy kop en hy knik; glimlag trots-goedkeurend. “Hy rol mooi gelyk.”
    Ouma Bet kom by die blou voordeur uit, ’n skinkbord met drie koppies tee in haar hande. Sy klap haar tong.
    “Dis mos nie speelgoed vir ’n meisiekind nie, Hans,” sê sy met ’n frons maar haar stem glimlag goedig. Sy sit die tee op die draadtafel neer.

    Een, twee, drie treë tot by die voordeur. Sy sit haar koffer langs haar neer, steek haar voorvinger met ’n kortgeknipte nael uit na die klokkie, trek dit weer terug. Druk dan vinnig. Dit klingel onbehoorlik helder.
    Sy hoor voetstappe oor die plankvloer in die voorportaal — die glasornamentjies in die vertoonkas ratel ritmies. Die blou voordeur swaai oop. Ouma Bet staan klein en alleen in die groot deurkosyn. Nie oupa Hans nie.
    Here.
    Die krom lyfie skuifel vorentoe, óór die kosyn. Rut steek haar arms uit. Ouma Bet se skouers is knopperig onder haar hande. Hulle praat nie. Klou mekaar net lank vas en druk hulle nat wange teen mekaar en vermy mekaar se oë.
    Later maak hulle koffie en broodjies en eet dit by die blou kombuistafel. Die draagbare radio op die sideboard in die eetkamer kraak staties; dis aandnuus-tyd. Hulle luister met skuins koppe en kou-kou-kou, sluk-sluk.
    Die plankvloer in die gang kraak. Ouma Bet kyk afwagtend op maar ruk gou weer haar kop weg en staar sommer na niks by die venster uit. Rut maak of sy nie gesien het nie. In die wasbak drup-drup die kraan in ’n geel emaljebeker. ’n Mot kring eentonig om die kaal gloeilamp en gooi fladderende klein skaduwees oral in die vertrek. Die swart koolstoof in die hoek is koud.
    Ná aandete gaan haal oupa Hans sy groot Bybel met die bruin leeromslag in die kamer terwyl ouma Bet die skottelgoed was. Hy skuif sy bril tot op die punt van sy neus en blaai vorentoe, agtertoe, vorentoe. Lees-lees hier en daar: sy lippe roer. Ouma Bet hang die vadoeke aan die hakie teen die muur, haal haar voorskoot af en kom sit langs hom. Vou haar hande op haar skoot.
    Oupa Hans kug. “Ons lees vanaand saam uit die Woord van die Here, en wel uit die boek van die Psalms. Psalm honderd een en twintig vanaf die eerste vers. ‘’n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom ...?’”
    Rut kyk verwonderd na hulle terwyl die koolstoof haar blaaie van agter warm bak. Die lamplig skiet geel vonkies uit ouma Bet se hare. Sy knik haar kop instemmend ná elke sin. Oupa Hans se stem is diep en hy rek sy a’ s lank uit, soos altyd wanneer hy uit die Bybel lees.
    Aan die einde van die hoofstuk slaan hy die boek toe en kyk op. “Kom ons bid saam,” sê hy. Hulle al drie kniel by hulle stoele. Oupa Hans en ouma Bet vou hulle hande.
    Oupa Hans bid eerste. “Onse almagtige en dierbare hemelse Vader ...” Hy bid eerste vir ouma Bet — hy bid lank vir haar; sê mooi dankie in groot woorde en vra vir haar gesondheid, wysheid, vreugde, liefde. Dan vir háár, Rut, en vir ma Anna wat alleen by die huis is.
    Ouma Bet bid tweede. Haar woorde is nie so groot nie, maar sy sê net so opreg dankie vir oupa Hans. Een keer, toe Rut geloer het, het sy gesien hoe ouma Bet oupa Hans se hand styf vashou. Sy was seker die Here gee nie om nie.

    Ouma Bet gaan vroeg kamer toe. Rut maak tee en dra dit op ’n groot houtskinkbord na die hoofslaapkamer aan die einde van die lang gang. Sy huiwer stil in die deur. Die kussings aan oupa Hans se kant is vet opgepof. Sy bruin baadjie hang aan ’n kapstok teen die muur, sy hoed langsaan.
    Ouma Bet sit versigtig op die kant van die bed. In haar hand hou sy oupa Hans se wyserhorlosie met die vergeelde glasie, en haar kop is koesterend daaroor gebuig. Sy skrik op toe Rut oor die drumpel tree en vou haar vingers besitlik om die horlosie toe.
    “Is Ouma lus vir tee?” Rut se stem is vrolik, maar die koppies ratel toe sy die skinkbord op die spieëlkas neersit. Ouma Bet glimlag dapper.
    “Gooi maar een suiker en ’n spoegie melk, Kindjie.”
    Hulle sit téén mekaar en drink. Ouma Bet drink slurp-slurp en mors ’n bietjie oor haar ken. Haar gelerige valstande is reeds in die glas water langs die bed.
    Rut vat die skinkbord terug kombuis toe en spoel die koppies uit. Sy pak dit langs mekaar in die blou kas met die glasdeurtjies, die ore netjies skuins vorentoe. Sy dwaal nog ’n bietjie deur die huis — voordeur en agterdeur gesluit. Badkamerlig af. In die sitkamer met die swaar blou fluweelgordyne gly haar hand oor die groot leunstoel in die hoek.
    Ouma Bet het reeds die lig afgesit. Net die bedlampie aan oupa Hans se kant brand nog en ’n bietjie maanlig stoei deur die gordyn binnetoe. Sy lê met toe oë. Rut skuif skugter onder die stywe laken in. Dit voel vreemd in die hoë bed met die warmte van vyf en vyftig jaar se liefde nog vars op die gehekelde deken. Sy klik die bedliggie af.
    Hulle lê lank stil. Rut loer na links. Die donker maak haar vrymoedig. Hulle práát vir die eerste keer.
    “Onthou Ouma?” vra sy en steek haar arm saam met die woorde uit. Haar hand vat ouma Bet s’n styf onder die deken vas. “Toe ek klein was, het ek by Ouma en Oupa kom inkruip, as Ma al slaap. Oupa het altyd my voete warm gevryf. Ek het beurte gemaak om aan Oupa en Ouma se kant in te kruip, want Oupa wou nooit hê dat ek tussen julle lê nie.”
    Oupa Hans skuifel met sy rug teen ouma Bet vas. “Skuif op, ou vrou, jy lê die hele bed vol,” kla hy goedig en lig die kant van die deken hoog op. “Kom, Rut-kind, jy is seker yskoud.”
    Rut klim eers met een knie op die hoë bed, dan met die ander. Oupa Hans trek haar nader en sy skuif met haar kop teen sy skouer vas. Hy ruik na pyptwak en rooibostee. Hy hou haar styf vas, en ouma Bet se arm kruip oor sy middellyf en streel-streel oor Rut se arm.

    Ouma Bet lê baie stil. Eers dink Rut sy slaap.
    “Dis die ergste in die aande,” sê sy dan. Rut loer na haar. Haar oë is styf toegeknyp. “In die nag, in die groot bed, mis ek hom die meeste.”
    Sy bly lank stil, maar Rut weet sy praat nog. ’n Beplooide hand met takkerige blou are trek die wollerige deken beskermend tot onder haar ken.
    “Eers Anna, nou Hans  ...” Sy woel ’n vinger kinderlik deur een van die gehekelde gaatjies en vleg dit deur en deur tot die wurmpie hekelwol dik oor haar vinger lê. Bly weer stil.
    “Dis die helfte van my wat weg is,” sê sy uiteindelik. Sug. Rut draai haar kop skuins om te hoor. “Dis ’n halwe mens wat dood is — die ander helfte het hier agtergebly.”
    Rut antwoord nie. Alles is gesê. Net die Die Here is uw-bewaarder-bordjie bokant die kaggel het nog woorde. Hulle slaap lank nie.

Laat in die nag hoor Rut “sjorrr” toe ouma Bet die emaljepotjie onder die bed gebruik. Rut wag tot sy weer onder die stywe laken ingeskuifel het, die deken warm om haar keel vasgetrek. Haar gevoude hande op haar bors maak bulte onder die deken.
    Rut lê stil tot die maanligplassie ophou beweeg oor die bed. Sy sit regop en kyk eers weer.
    Die kamer: boekrak onder die venster met boeke wat sy in die donker uitken — Huckleberry Finn, Pinocchio, Alice in Wonderland. Die spieëlkas met borsel, kam, naelknippertjie, blikkie zambuk-salf. Die kaggel met ritse vergeelde verjaarsdagkaartjies en bruin foto’s. Die brandglas-dubbeldeur in die hoek wat breed op die systoep uitloop.
    Sy tel die swaar verekussing op; weeg dit in een hand. Die knop wat ouma Bet se hande op haar bors onder die deken maak, beweeg vlinderlig.
    Net voor sy die kussing oor die beplooide gesig druk, gaan ouma Bet se oë oop. Blou en helder, sien Rut, met tagtig jaar se wysheid en ’n patetiese dankbaarheid.
    Die ou vrou stoei glad nie. Na ’n paar sekondes trek die spiere in haar nek vir ’n oomblik. Rut wag tot daar geen deining meer onder die deken sigbaar is nie voor sy die kussing afhaal. Sy pof dit op, draai op haar sy en raak aan die slaap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.