SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Gelykop

Marita van Aswegen

“’n Huwelik waarin daar gebrekkige emosionele en intellektuele intimiteit is, loop gewoonlik uit op liggaamlike vervreemding. Seks is tog nie vir uithaal en gryp nie, ’n vrou vra meer. Die vrou in haar totaliteit  ...” Anna vermoor die radio-omroeper se relaas deur ’n draai van die knoppie.
    Die syjapon omvou haar borste toe sy dit aanglip. Sy maak nie die band vas nie, maar trek die kamerjas net styf om haar en kruis haar arms oor haar bolyf terwyl sy na die spieël loop.
    Sy hou aan borsel totdat haar hare se punte lewe. Haar hand verstil halfpad wanneer die agterdeur toeklap, haar mond trek saam in fyn plooitjies. Arnoldus kom vinnig die kamer binne, praat met homself en krap tussen die stapel papiere op die lessenaar voordat hy omdraai.
    “Jy sal moet soek, die landdroskantoor wil die droogtehulpstate van die laaste vyf jaar hê, hulle wil kyk wie’t voer gekoop en wie’t ander goed gekoop. Wel, hier kan hulle maar kom kyk, alles is verdomp verdroog, stukkend en op.”
    Anna knoop die japon se belt twee maal, haar oë op sy rug waar hy voor sy hangkas rondstaan. Sy hande vat en los.
    “Waar’s my groen kouse al weer?” Hy smyt drie paar bruines op die vloer, gryp dan die groenes wat sy reg voor sy oë uit die kas haal en na hom uithou.
    “Ek gaan veiling toe, sal so oor drie ure terug wees,” waai die woorde oor sy skouer. Die deur klap toe agter hom
    Anna maak die knoop los en skud die glibberige kledingstuk van haar af. Ritmies vryf sy lyfroom oor haar hele lyf in, die muskus in die kamer onverwags ’n spook. Sy haal die verfbesmeerde jurk van die haak, glip dit oor haar kop toe sy Arnoldus se motor hoor wegdreun.
    “Drie volle ure  ...” praat sy met haarself. Die warmte van die erdeteepot sprei deur haar hande toe sy hulle om die ronding kelk. Sy trek haar asem diep in, skink tee, sit ’n laserskryf op en gaan staan voor die venster in die gloed van die son. Amber, roes en bruingeel blare het opgegee om aan die takke vas te klou, lê maar sommer so en ronddraai in die dwarrels.
    ’n Hadida boor soekend in die grond en die viool voer ekstatiese rukbewegings uit. Sy tel die verfkwas op en smeer die twee kleure op die palet deurmekaar, die roospienk van ’n blomskede en olyfgrys soos die voël daar buite.
    Die buitelyn van die wegdraaiende vrouefiguur teken sy met net een haal: halwe kop, nek, bors, lende. Een arm, been en voet. Anna staan terug. Maak haar oë toe. Kantel haar kop agteroor. Trek met haar vingerpunte ’n lyn van haar voorkop, oor haar neus en kuiltjie tot tussen haar borste.
    Arnoldus se onverwagte hand op haar bors is ’n lammervanger. Sy swaai om, stamp die teepot van die tafeltjie af sodat dit in stukke oor die vloer spat. Sy stik.
    “Hoeveel duisend keer het ek jou in hierdie twintig jaar al gesê ek is ’n mens, nie ’n bors nie?” Ergeniskolle vlam rooi teen haar nek. Sy smyt die verfkwas neer en struikel oor ’n los mat. Langs die esel klim die klanke van Bruch se vioolkonsert hoog die lug in.
    Haar gesig is geslote toe sy saam met Arnoldus aansit vir middagete.
    “Gelukkig het ek ’n nuwe goedkoper voermengsel gekry vir die koeie. Ek spaar ’n rand op elke sak, en dit kan die melk baie opstoot,” gesels hy toe hy sy kos nadertrek en ’n gulsige hap vat. “Mmm, nie sleg nie, ou vrou, maar waar’s die rooipeper en miesies Ball’s?”
    Sy byt haar woorde terug, skuur die stoel hard agteruit en bring die rooipeper, asyn en blatjang. Sy kyk dak toe wanneer hy mildelik sout oor die lendebiefstuk sprinkel.
    Die muurhorlosie se ghong is befonkfaai en dit slaan ses in plaas van twaalf slae. Hy druk die knoppie van die radio en knik tevrede toe dit onmiddellik aanskakel.
    “Wil jy koffie hê?” Sy vat die vuil bord voor hom weg.
    Hy maak haar stil met sy hand, leun oor na die radio. “Die Springbokspan is  ...” kondig die opgetoë omroeper aan. ’n Begogelde laksman vlieg met ’n slag teen die skoon ruit van die kombuis vas, maar Arnoldus hoor dit nie.
    Anna staan op van die lendelam stoel en stap by die voordeur uit die veld in. ’n Alleen bosluisvoël sweef wit oor haar kop verby na ’n plek iewers ver weg.
    Die melkmasjien dreun nog wanneer Arnoldus teen sononder die huis binnestorm. Anna sit die liefdesverhaal geoefend neer toe die agterdeur toeslaan, staan op en begin die lessenaar regpak. Staccato voetstappe kom die gang af.
    “Anna! Waar’s jy? Magtig, vrou!”
    Teen sy voorkop is ’n bloedkol en haar hand vlieg na haar mond toe.
    “Wat het gebeur?” Sy kom nader, die bloed ’n magneet. Die reuk van kraalmis sit aan hom vas en haar neus plooi effens.
    “’n Verduiwelse koei het my geskop. Jy sal die plek moet ontsmet. Sy kon my oog uitgeskop het.” Hy swets onderlangs. “Ek wou na iets op haar speen kyk, ek vat toe daaraan en toe  ... Vervlakste ding! Ek’s sommer lus en slag die ou pes.”
    Anna wil iets sê, bedink haar dan en loop om die antiseptikum te gaan haal, die plooitjies om haar mond glad met haar mondhoeke wat nou effe lig.
    Bottel in die hand huiwer sy in die deur, haar oë op die kromming van sy skouers, die grys hare, die groot hande wat slap in sy skoot hang. Dan loop sy doelgerig nader, skuif haar hand agter sy kop in en begin met die ander hand sag dog ferm, die wond reinig.
    Toe hy so sittend sy arms om haar middel slaan, staan sy stil met sy kop teen haar onderlyf vasgedruk. Sy pluk-pluk aan die agterkant van sy hare.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.