SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Ek is nie ’n dier nie

Anna-Marie Radloff

Dis nogal moeilik om na die gesondheid van militêre intelligensiemanne om te sien. Dis net soos in die staatsdiens. Die ouens wat die meeste opgefok is, word op top secret missies die bosse ingestuur. Mens slaan dan sommer twee vlieë met een klap. Dit is nou om hulle uit die samelewing te verwyder en om nie te veel te worrie as hulle afgemaai word nie.
    Sy voel redelik veilig hier in die kamp. Gelukkig haat Rot, haar baas, die medics, en die feit dat beide sy en Ken nie drink of rook nie, skeld hulle outomaties van al die sosiale aktiwiteite vry. Almal hier rond haat in elk geval die medics. Hulle het die sagte job en hulle moet sober wees. Hulle moet regmaak wat stukkend is. Mens weet nooit wat môre om die draai lê en wag nie. En almal hier rond drink asof daar nie ’n môre is nie.
    Die opleidingsbasis hier naby word een van die dae toegemaak. Dis nou die hide-out van die ouens met die “ons waag”-logo. Ou Koevoeters en Reccies wat die slegste daarvan afgekom het. Die ander het helde-begrafnisse gekry. Sy weet nie waarheen hulle volgende gestuur gaan word nie. Die susters gaan gereeld daar oor die naweke kuier. Hier is daar net een definisie vir ’n vrou naamlik hoer. Rot het almal vrywilliglik verplig om die afskeidspaartie daar by te woon. Sy ook. En sy is nie ’n hoer nie. Sy is ’n medic. Hierdie tipe aktiwiteit is nie eintlik haar scene nie. Mens word so maklik deur jou aksies en non-aksies geëtiketeer. En sy het gekom om te help.
    Op pad deur die bosse moet hulle stilhou vir die leeus. Elke aand hoor jy hoe hulle die kamp sirkel. Die mannetjie is al weer besig om een van die wyfies te dek. Lyk in elk geval nie of sy ’n keuse in die saak het nie. ’n Dier is ’n dier. Dinge is eenvoudig en uitgespel. Hier is net ’n dry season en ’n rainy season. Diere en twee seisoene.
    By die opleidingsbasis wag die verwelkomingsregiment hulle in. “Manne, ons het nie gedink julle sal pitch nie,” bulder die klomp, so al reeds vol van die halfleë kroeg. Wel ja, sy moet seker gevlei voel om as deel van die “manne” geklassifiseer te word. Adam staan heel voor en oorskadu die res met sy grootte. Adam haat ook die medics want sy kop het seergekry. Sy ken die storie. Almal ken die storie. Hy sit hier omdat sy vrou haar kop weggeblaas het. Moontlik was hy net nooit ’n gesinsman nie, en daar is niks soos top secret missies om dinge reg te maak nie.
    Die plek langs hom in die kroeg is altyd gereserveer vir “Fucked-Up”. Die skelet van die grootste krokodil wat sy nog ooit gesien het, is vasgespyker op ’n stuk hout teen die muur. Net die kop is daar met die kake en massiewe slagtande wat wag. Die ding se oopgesperde vel is net langsaan vasgespyker. Hulle sê hy het die dier met sy kaal hande daar onder in die rivier by sy hut vrek gemaak. Hy lyk defnitief nie na ’n gesinsman nie. Nie nou meer nie.
    Rot het haar belowe dat hulle vroeg sal waai. Sy weet sy moenie hier wees nie. Haar instink laat haar skielik rondsoek in die kamer. Rot is skoonveld. Sy stap paniekerig na buite en sien die landrover se oop spasie. Hy het haar wragtig aspris hier gelos. Sy beweeg non-spesifiek na Ken se kant waar hy snoeker speel. “Hier is kak, my ou,” is al wat sy uitkry, en skets so non-spesifiek moontlik die situasie met bewerige handgebare.
    Gelukkig het Ken die sleutels van die oorblywende landcruiser by hom. Al probleem is dat hulle nie die pad terug so deur die bosse na die middel van nêrens ken nie. En dit is al negeuur in die aand. Die Angolese nagte is so donners donker.
    Hulle besluit om maar so stil-stil na die kar toe te beweeg sonder om enige aandag daarop te vestig. Toe hulle die deure oopmaak is hy skielik langs haar. Sy weet dis hy sonder om te kyk. “Julle twee kan mos nie alleen huis toe neuk nie. Ons kan nie laat die wilde diere julle bykom nie,” grom hy en spring agter by haar in. Voor sit Al-vredo, haar persoonlike wag met sy AK47 en Ken in die driver seat.

Al-vredo sit maar altyd êrens buite en wag. UNITA is welkom maar ook nie welkom nie.
    Hulle sê mens moenie dat ander jou vrees ruik nie. Sy dink haar vrees weg en fokus op die flou ligte wat vooruit die bosse in beur, maar die bloedsmaak huiwer in haar mond.
    Dit oorval hulle totaal en al onverwags soos ’n versteekte landmyn wat jou net gryp en gooi. Die een oomblik is alles nog dieselfde en toe het hy Ken met ’n wurggreep om die nek beet. Die cruiser foeter van die stofpad af en die ligte sny uit. Al-vredo probeer die staal hande losruk terwyl Ken na asem snak. Die eerste sekondes van verlamming vloei uit haar lyf en sy begin hom met haar vuis van agter af moer. Haar aksies kom redelik nutteloos voor. Die volgende oomblik is hy en Ken en Al-vredo buite op die grond ineengestrengel in ’n wriemelende bondel van aggressie.
    Al wat Al-vredo kan uitkry is ’n paniekerige “Doktora Ana, Doktora Ana”. Sy weet dat sy nie nou meer ’n keuse het nie. Dis moeilik om die cruiser weer op die pad te kry, maar adrenalien laat mens die onmoontlike verrig. Al wat sy hoor is haar hart wat spring in haar lyf van haar kop tot in haar bekken. Na so vyftien minute raak sy rustiger en kan weer fokus. En toe vrek die kar. Net so. Sonder waarskuwing net dood. Die Tokarev is darem in haar sak. Sy het so in die angs skoon daarvan vergeet. Sy besluit om maar liewer net daar in die veiligheid van die cruiser te bly sit tot dagbreek. Lig bring altyd verlossing.
    So deur haar insluimering word sy skielik bewus van die bloedreuk. Sy ruik hom nog voor sy die silhoeët by die motor sien. O God, dis te laat om weg te kom. Hy is te naby en te vinnig. Die doodsgreep om haar bene sleep haar uit die driver seat na buite.
    Sy klou aan alles wat kloubaar is, maar hy is te sterk. Sy word opgetrek teen die voorkant van die cruiser tot waar hulle lyf teen lyf vasgepen is. Hulle asemhaling sinchroniseer so asof sy nie op haar eie kan nie. Daar is geen emosie op sy gesig nie, maar sy oë spreek leë boekdele.
    Die sekondes verander skielik in deeltjies van sekondes toe hy haar op die motorbak neergooi met haar maag teen die ongenaakbare metaal nog warm van die jaag. Sy begin skielik aan die snaaksste goed dink. Langbroeke was nog altyd vir haar veiliger as rompe, dié dat sy dit verkies. Moeiliker om van ontslae te raak en meer beskermend. Gee jou bietjie speling vir strategie. Sy was verkeerd.
    Sy word ’n tatoeëermerk, vasgeplak tussen die kar en die harde lyf. Oopgesper soos Fucked-up se vel teen die muur.
    Hy sê nie ’n woord nie maar sy hande oor haar borste praat hard. Die kamoeflage T-hemp van UNITA help nou niks nie. Die definisies van verkragting maal analities in haar kop rond. Sy dink persoonlik dat die terminologie eerder verander moet word na ont-krag of be-dier. Baie meer toepaslik. Ja. En die woorde spyker en naai is heeltemal te verfynd en meganies beheersd. Al wat wel pas is “fok”. ’n Kragwoord. Ja.
    Sy ruik hom aan haar en in haar en oor haar nog lank na hy weg is. Sy forseer haar kop stadig op uit die stoflaag op die motorbak. Al die goggas teen die glasruit sit met hulle versplinterde lywe en saamgestelde oë na haar en kyk. Die getuies wat nie kan praat nie want hulle is stukkend verby. Sy lê só totdat die oggend breek.
    Die langbroek lê nog daar in die witsand binnestebuite omgedop. Dank die Vader. Niemand sal weet nie want haar klere is nie geskeur nie. Dis OK. Die motor start met die eerste probeerslag op.
    By die kamp is dit soos gewoonlik. Niks het gebeur nie en niks gaan gebeur nie. ’n Prooi is ’n prooi. En vrees broei verraad.

*****

Sy is reg vir hom. Sy weet hy gaan elke laatmiddag na die klip op die rivier onder die bome. En hy is altyd alleen. Die landcruiser sluip oor die sand tot agter sy hide-out. Hier pak ’n sweet haar van voor af wat afkruip tot in haar lies. Die Tokarev gly tussen haar broek en nat midrif in so asof dit deel van die anatomie is. Dit staan hard uit soos ’n phallus, kneus haar vel. Dis al plek waar dit veilig voel
    Hy sit op die oewer diep onder die bome weggekruip en naak. Hulle sê dis waar hy vir Fucked-up bygekom het. Net daar en net so kaalgat. Haar hand is op die hardheid in haar broek. Sy voel vir die eerste keer voorbereid om te veg en te wen.
    Soos ’n dier ruik hy haar uit. Eers is daar verbasing op sy gesig, maar vinnig kry hy beheer oor sy swakheid en trek homself regop. Hy knip nie ’n oog nie en sy kaal lyf beweeg ritmies met afgemete treë na haar kant toe.
    Sy staan doodstil met haar hand tussen haar lyf en die wapen, vingers klaar reggeklem, wagtend. Oomblikke en sekondes is hier van belang. Dis nou instink teen instink. Krag en dink tel nie meer nie. Haar hele lyf pols deur haar kop tot diep in haar bekken.
    Hy beweeg tot teen haar sonder om te raak. Sy kyk nie op nie; staan net so stil; roerloos. Toe sy hande na haar borste gryp is haar linkerhand tussen sy bene. Hy sak grond toe in die pyn van verlamming. Die Tokarev is nou teen sy slaap en haar wurggreep verskuif tot om sy nek. So sit hulle; hy dubbelgevou met haar lyf hard agter hom. ’n Omgekeerde seksposisie.
    Hulle haal saam asem en sy kan voel hoe hy sukkel. Albei is papnat gesweet met vel wat aanmekaar vasklou. “Jou fokker, vandag is jy vrek, jou fokken fokker,” is al wat sy oor en oor kan prewel. Sy het nie verwag dat hy so stil sal wees nie. Sy het nie verwag dat hy so bang sal wees nie. Sy weet nie wat sy verwag het nie.
    Die tyd het gekom om te doen wat sy moet doen. Die sneller is reg en die loop is reg en die sagte deel teen sy slaap pols reg vir die finale slag. So sit hy roerloos in haar skoot. ’n Kaal en weerlose kind. Hulle sê die oë is die venster van die siel. En sy kan niks sien nie.
    Dit lyk asof hy wil bly raak dat die tyd uiteindelik hier is. ’n Naarheid oorval haar skielik. Sy stoot hom hard weg en laat val die stuk metaal soos sy stadig opstaan. Voor sy verder kan beweeg gryp hy haar om die heupe. Klouend om haar bene met sy gesig vasgedruk in haar lies sit hy daar. Sy begin aan die snaaksste goed dink. Die definisies van troos maal deur haar kop. Is ’n kopskoot troos ? Is dit nou tyd om te troos? Om te troos vir wat? Waar sal mens begin troos? Wat gebeur na troos? Wat de fok is troos? Is fok troos? Sy sak noodgedwonge af met haar arms om sy kop en sy troos maar soos sy dink mens hier doen om dinge beter te maak. Toe dinge beter is, stap sy net weg sonder omkyk.
    Op pad terug gly die landcruiser kort-kort in die sand, maar sy beur vorentoe. Haar lyf klop nog steeds tot in haar bekken en haar kop gloei. Sy kan nie meer dink nie. Woorde maal deur haar sonder keer; ’n rap-song oor en oor in verskillende volgordes al soekende na die regte ene; die ene wat sal sin maak.

ek is nie ’n dier nie
ek is
ek is nie
’n dier
’n dier
ek is nie
ek is nie ’n dier nie

Die ritme wil maar net nie pas nie.
    Voor haar in die stof versper ’n liggaam die pad. Dis die leeu met sy wyfies. Hy kyk haar vol arrogansie reg in die oë met sy genitalieë oraloor wyd oop ten toon gestel. Hy beweeg nie toe sy nader kom nie. Sy ry vorentoe en agtertoe en vorentoe terwyl sy die versneller hard trap vir ekstra trefkrag. Hy knip nie ’n oog nie, maar begin net sy balle ongeërg lek. Die wyfies verdwyn in die langgras sonder ’n geritsel. Sy weet dat hulle haar elke beweging dophou. Wyfies is wyfies.
    Teen die vierde probeerslag pluk sy haar moer. “Jou fokker, ek sal jou maak voertsek,” kras haar stem onbeheersd. Sy ruk die deur oop en begin die Tokarev oral langs hom leegmaak. Dit neem ’n paar sekondes vir hom om sy gat uit die pad te ruk weg die bosse in.
    Sy skiet oor die groot spore verby terug kamp toe so vinnig sy kan. Die insekte op die voorruit word net meer en meer. Sy kan nie hulle oë identifiseer nie maar die lywe lê oraloor gespat met af vlerke hier en daar. Party is nog nie dood nie en probeer halfhartige pogings aanwend om weg te kom. Snaaks genoeg lyk hulle vandag vir haar so sonder oë en weerloos en geoffer. Geoffer vir net ’n glasvenster van ’n kar wat jaag.
    Haar lyf klop nog ritmies aaneen sonder ophou. My got, wat sou sy nou gee vir ’n bekken tussen haar bene en harde krag wat tot binne in haar lyf in beur. Sy steek die warm Tokarev terug tussen haar midrif en die broek. Sy is nat en warm en leeg. Die bekendheid troos haar.
    Sy dink weer aan die snaaksste goed. Die almanak het gesê dat dit môre Kersfees is. Sy het ’n sein oor die moontlike verrigtinge na hoofkwartier deurgestuur. Daar is mos altyd ’n trofee of twee vir ’n man met ’n ystervuis en renaissance in sy hart. Pretoria is seker besig, want daar was nog geen antwoord nie. Hiér kan wag ’n leeftyd wees. Hiér kan ’n leeftyd wag wees.
    Dis nogal moeilik om na die gesondheid van militêre intelligensiemannne om te sien. Dis net soos in die staatsdiens. Die ouens wat die meeste opgefok is, word op “top secret” missies die bosse ingestuur. Mens slaan dan sommer twee vlieë met een klap. Dit is nou om hulle te verwyder uit die samelewing en om nie te veel te worrie as hulle afgemaai word nie. Wat die oog nie sien nie, huil die hart nie oor nie. En ’n helde-begrafnis is al wat mens kan vra.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.