SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Petra Müller se eerste verslag
George Weideman se eerste verslag
Petra Müller se tweede verslag
George Weideman se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Vlug

Hilde Nel

Sy buk laag tussen die takke deur, haar oë gly ondersoekend oor die watermassa onder haar. Dan sien sy hom tussen die riete aan die kant van die dam waar die berghelling ’n natuurlike wal vorm. Sy hou asem op asof hy haar oor die lang afstand sou kon hoor. Die water maak effense rimpels om hom. Verder is alles stil. Toe sy haar verkyker neersit en haar kamera met die telefotolens optel, vlieg hy onverwags op. Met die blote oog word hy net ’n spikkeltjie swart in die lug.

Sy staan teleurgesteld op, sit haar kameratoerusting terug in die sak om haar middellyf. Dan stap sy stadig terug motor toe. Sy kyk na die damwal, bewonder die magtigheid daarvan. Hierdie duisende tonne beton hou die water gevange, hou die hele streek aan die gang.

’n Beweging aan die onderkant van die wal trek haar aandag. Skaars twintig tree voor haar is ’n man met ’n swart balaklawa besig om toue by die sluise te span. Hy werk haastig, kyk kort-kort senuweeagtig om.
     Iets is nie reg nie. Hoe kan dit wees dat ek die man nie vroeër raakgesien het nie? dink sy. Haar handpalms begin sweet. Sy buk af, soek skuiling agter ’n wilde struik, maar dan kraak ’n tak onder haar voete. Die man verstyf en swaai vinnig om. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde kyk hulle mekaar stip aan. Dan hardloop sy. Haar voete gly oor die los klippe, maar sy beur voort teen die steil opdraande uit na die dambeamptes by die beheerpunt.
     Sien hulle dan niks nie?
     Sy kyk om en sien hoe die balaklawa-man haar stadig inhaal.

Sy ruk die deur van die beheerpunt oop en val binnetoe.
     Help my, wil sy skree, maar haar woorde stol tot ’n kermgeluid.
     Voor haar lê ’n dambeampte halflyf teen ’n kabinet. Bloed op sy bors, op die vloer, oral. Sy oë is halfoop, maar glaserig en leweloos. ’n Paar tree verder lê nog ’n man, sy grys balaklawa deurweek van die bloed.
     Agter haar hoor sy die voetstappe van haar agtervolger. Sy strompel deur die vertrek, glip by ’n agterdeur uit. Buite is daar ’n nou lysie met ’n staalleer wat steil na onder strek. Sy hou haar asem op, swaai haarself op die leer en klouter dan vinnig ondertoe.
     Net nie gly nie, net nie gly nie. Here, maar dis hoog. As ek nou val, is ek dood.
     Sy hoor die gestamp van harde sole teen staal. Haar asem jaag.
     Nou net spring.
     Sy land hande-viervoet op die grond, kom vinnig orent en hardloop na haar motor. Haar longe brand, maar al waarvan sy bewus is, is die geluid van stewels op gruis. Dan tref ’n harde stamp haar teen die skouer. Sy verloor haar ewewig, struikel.

Vir ’n oomblik lê sy doodstil, maar niks gebeur nie. Geen skoot of skop tref haar nie. Al waarvan sy bewus is, is twee stowwerige leerstewels gevaarlik naby haar gesig. Sy maak haar oë toe, te bang om na die lyf en gesig op te kyk.

Skielik word sy hardhandig aan haar arm regop gepluk. Sy sien die swaarkaliberpistool om die man se middellyf.
     Hy kon my geskiet het as hy wou, dink sy.
     Dit gee haar weer moed sodat sy woes na sy gesig begin slaan. Die houe vang hom half onkant, maar sy greep is sterk. Hy dwing haar arms na agter haar lyf en bind haar hande met ’n koord aan mekaar vas.
     ’n Oorverdowende slag weerklink meteens. Agter haar hoor sy die damwater raas. Sy ruik swawel en stof. Die dam. Die man het die dam se sluise opgeblaas.
     
     Sy sit-lê aan die passasierskant van die Jeep, wonder of sy moet smeek of veg. Haar brein kan nie meer logies dink nie. Sy lê stil - uitgeput, lam van vrees. Die bandradio maak ’n kraakgeluid.
     “It’s done,” sê die man langs haar. “It’s done.” Hy aarsel ’n oomblik, maar gaan dan met ’n skor stem voort.
     “But things went wrong. Jack ... Jack is dead.” Sy kan nie uitmaak wat die stem oor die radio antwoord nie.
     “I don’t know who started shooting first, but Jack and a dam official died in the cross-fire.”
     “Did you remove Jack’s body? It’s evidence,” vra die stem oor die radio.
     “There wasn’t time,” antwoord die man. Hy aarsel weer.
     “Another thing - there was a woman ... “ Sy hoor die stem driftig oor die radio skree.
     “God damn! Kill her! Kill her immediately and get the hell out of there!”
     Sweet slaan op haar lyf uit. Agter haar druis die ontsnapte water so hard, dat sy niks meer van die gesprek kan uitmaak nie. Die Jeep trek met skreeuende bande weg. Deur die ruit sien sy hoe haar gehuurde motor deur die kolkende water ingesluk word.

Sy klou met vasgebinde hande aan die veiligheidsgordel wat los langs haar hang. Die momentum van die spoed gooi haar lyf heen en weer. Haar hart bons verwilderd, haar keel trek toe van die stof wat die Jeep op die grondpad opskiet.
     “Laat my gaan!”
     Die man antwoord haar nie, maar konsentreer op die pad voor hom, sy lippe opmekaar gepers.
     “Asseblief, laat my gaan!”
     Die man bring die Jeep vinnig tot stilstand en klim uit. Hy maak haar deur oop en wikkel die knoop los wat haar hande gevange hou.
     “Ek moet by die grens kom, verstaan jy?” sê hy gejaagd. “Jy sal niks oorkom as jy maak soos ek sê nie. Buitendien, as ek jou hier in hierdie godsverlate vlaktes los, gaan jy seer sekerlik vannag dood. As dit nie van koue is nie, sal dit roofdiere wees wat jou opvreet.”
     Hulle ry in stilte verder. Sy vryf haar hande om die dooie gevoel in hulle weg te kry. Haar pols brand waar die tou haar nerfaf geskaaf het. Sy kyk na die verbyflitsende heuwels wat donkerder en donkerder word totdat alles deel word van die nag. Haar oë raak swaar. Dan raak sy weg in ’n onrustige slaap.

Daar is ’n byt in die oggendlug. Die veld ruik skoon en vars na die lang nag. Sy kyk na die karige plantegroei. Die rooi rotsformasies. Wat ’n bekoring hou hierdie land nie in nie. Die land met die skaars voëlsoorte en die eindelose maanagtige landskap. Nêrens anders het die heuwels en die koppies sulke abstrakte fatsoene en kleurskakerings nie. Hierdie land is uniek.
     Dis immers ook hoekom ek hierheen gekom het, dink sy. Nie nét ter wille van die geld vir voorbladfoto’s wat regoor die wêreld moet uitbasuin hoe huursoldate hier saam met die rebelliemagte veg nie.

Sy kyk na die man langs haar. Hy het kamoefleerdrag aan. Sy wange is donker van ’n stoppelbaard.
     “Veg jy vir die rebelliemagte? Jy’t ’n vreemde aksent.” Haar stem klink vir haarself krakerig na die lang stilte.
     “Ek is ’n huursoldaat.”
     Sy is verbaas dat hy haar geantwoord het, want sy gesigsuitdrukking is dié van iemand wat nie gesteur wil word nie.
     “Maar dit gaan vir my oor meer as net geld,” voeg hy egter by. “Ek het sewentien jaar lank hier gebly. Sewentien jaar lank het my liggaam van die vrug van dié aarde geleef. Dan word jy deel van die grond. Soos ’n plant in sy natuurlike habitat. En jy bly deel daarvan, al ruk hulle jou uit.”
      “Ja,” sê sy. “Dié land het ’n vreemde magnetisme. Iets wat jou oombliklik aangryp. Iets wat jou gevange hou.”
     Sy besef dat die gesprek tot ’n einde gekom het toe hy die radio aanskakel.

Die man leun agtertoe, bring ’n seilsak te voorskyn.
     “Haal vir ons uit. Ek het gisteroggend laas geëet.”
     Sy voel in die sak rond. Droë vrugte, soutbeskuitjies, ’n paar blikkies soutvleis.
      “Daar’s water in die sysak,” sê hy.
     Sy raak vir die eerste keer van knaende hongerpyne bewus. Haar mond proe bitter na die lang nag. Sy neem ’n sluk water en gee dan die bottel vir hom aan. Hy hou die stuurwiel met een hand vas, buig sy kop agteroor en neem ’n paar groot slukke. Dan kraak die radio weer. Dieselfde stem as gister. Sy hou op kou en luister gespanne.
     “I have the woman with me,” sê die man.
     Die stem oor die radio swets.
     “I told you to kill her,” hoor sy dofweg.
     “Don’t call me again,” antwoord die man. “It might be dangerous.”
     Hy versteek die radio onder sy sitplek.
     Die beskuitjie waaraan sy gekou het, val op die grond.
     “Jy gaan my doodmaak,” sê sy. “Ek weet dit.”
     “Ek het gesê ek sal niks aan jou doen nie,” sê hy kortaf. “Jy’s eintlik baie nuttig. Ek sal baie minder aandag trek as ek saam met ’n vrou reis. Sodra ons by die grens kom, laat ek jou gaan.”

Die lug is onuithoudbaar warm na die koue van die nag. Sy kyk na die landskap wat stelselmatig droër en droër word.
     Kan enigiets hier oorleef?
     Daar is hittegolwe op die horison wat die droë toneel ietwat versag. Sy voel mismoedig.
     Die man is reg. As sy dit ooit kan regkry om van hom weg te kom, sal sy in elk geval nooit in hierdie onherbergsaamheid kan oorleef nie. Boonop is al haar besittings behalwe haar kamera daarmee heen. Sy kyk onderlangs na hom.
     Hy gaan my doodmaak, dink sy. Ek weet dit. Ek kan hom nie vertrou nie. Haar handpalms voel klam.
     
     Haar aandag word skielik afgetrek. ’n Plaashuis was vir ’n vervlietende oomblik agter ’n rotsagtige heuwel sigbaar.
     Here, ek het dit amper nie raakgesien nie! dink sy. Dit is my enigste kans!
     Net ’n klein entjie vorentoe is daar ’n kloof met digte wilde struike - ’n ongewone verskynsel in die andersins eentonige halfwoestyn. Die man se oë is nog op die pad. Dit lyk asof hy niks opgemerk het nie.
     “Ek moet dringend ’n draai gaan stap,” sê sy.
     Die man trek van die pad af en klim self ook uit.
     “Maak net gou.”
     Sy stap stadig veld-in. Na ’n paar minute kyk sy om en sien hoe hy sy broek losmaak. Dan hardloop sy. Haar lyf voel stram van die lang sit. Die los klippe strem haar in haar vlug, maar sy beur voort.
     Sy kyk in die hardloop om.
     Hy het haar gesien!
     Die man storm op haar af. Haar longe brand, haar ore slaan toe, maar sy hou aan met hardloop.
     As ek net die begroeide kloof kan bereik, dink sy. Dan sal dit maklik wees.
     Sy struikel effens, maar bly op haar voete.
     Vinniger, vinniger, spoor sy haarself aan.
     Weer kyk sy om. Die man haal haar nou vinnig in.
     Hy gaan my doodmaak as hy my nou in die hande kry, dink sy.
     Dan is sy by die kloof. Sy buk af, kruip hande-viervoet verder. Agter haar hoor sy takke kraak.

Die doringtakke skraap haar arms en bene. Sy tel ’n klip op, gooi dit so hard as wat sy kan weg van haar af. Dit het gewerk! Aan die gekraak van takke klink dit asof die man weg van haar hardloop na waar die klip geval het. Sy kruip verlig verder, probeer so geruisloos as moontlik beweeg.
     Uiteindelik! Die plaashuis!
     Sy spring op, hardloop vorentoe en pluk die voordeur oop. Die vervalle houtvloer kraak onder haar voete.
     Hier’s niemand nie, besef sy dadelik. Die plek staan duidelik al ’n geruime tyd leeg. Gebreekte ruite. Spinnerakke.
     “Hallo! Hallo!” probeer sy tog, maar haar stem klink hol in die leë vertrek. Sy storm by die deur uit om weer in die kloof skuiling te soek.
     Ek moet probeer om eerste by die Jeep te kom, dink sy. Miskien het hy die sleutels daar gelaat.
     Sy vleg vinnig deur die bosse, tot in die oop veld en begin weer hardloop. ’n Geluid agter haar laat haar omkyk.
     Dis hy.
     Sy hardloop vinniger. Haar beenspiere pyn van inspanning. Dan voel sy hoe hy haar aan die skouers beetkry. Sy verloor haar ewewig en val grond toe met hom bo-op haar. Hulle lê vir ’n oomblik stil. Sy kyk na hom, probeer iets sê, maar bly dan eerder stil. Hulle asems jaag.
     Die man pluk haar regop en stoot haar hardhandig vorentoe. “As jy ooit weer so iets probeer, maak ek jou dood!”
     “Jou monster,” skree sy. “Moordenaar!” Sy vee die gruis van haar arms af. Haar vel brand waar die dorings haar gekrap het.

Sy rus met haar kop teen die Jeep se ruit en probeer slaap, maar die pad is ongelyk en stamperig.
     “Gebruik dit vir ’n kussing.” Die man gee haar ’n trui aan.
     “Dankie,” sê sy verbaas en druk die trui onder haar kop in. Haar liggaam pyn van moegheid. Haar ooglede word swaar. Die gedreun van die enjin sus haar aan die slaap.

Die Jeep kom skielik tot stilstand sodat sy vervaard wakkerskrik.
     “Bly net kalm,” sê die man gespanne.
     Voor langs die pad staan ’n polisievoertuig. ’n Polisieman kom nader gestap.
     “Een verkeerde beweging van jou kant af, en jy’s dood.”
     Hy haal sy pistool oor, steek dit in sy sak. Sy sien aan die ronding van die loop deur die materiaal dat die pistool op haar gerig is.
     Hy draai sy ruit af, wag. Die polisieman stap armsgevou om die Jeep en gaan dan by die man se venster staan.
     “Lisensie, asseblief,” vra hy.
     Die man haal ’n pak dokumente uit die paneelkissie. “Ek het ’n internasionale rybewys,” sê hy en gee vir die polisieman een van die dokumente aan. “Ons is nie landsburgers nie. Ek en my vriendin toer ’n bietjie rond. Sy is ’n natuurfotograaf.” Hy wys na die kamera op die agtersitplek. “Unieke omgewing vir iemand wat in fotografie belangstel,” voeg hy by. “Maar julle vrek seker hier van die hitte.”
     Die formele uitdrukking op die polisieman se gesig versag effens. Hy begin oor die skoonheid van die omgewing uitwei terwyl hy deur die dokument flits.
     “Ry maar versigtig,” sê hy dan gemoedelik en gee die lisensie vir die man terug. “Ons soek na ’n groep huursoldate wat ’n damwal opgeblaas het. Hulle gaan waarskynlik hier by ons die grens probeer oorsteek.”
     Hulle groet en trek stadig weg. Haar hart klop wild in haar keel. Die man hou die polisieman in sy truspieëltjie dop totdat hy uit die oog verdwyn.
     So naby en tog so ver. Sy byt op haar onderlip, maar vir die eerste keer kan sy haarself nie beheer nie. Die trane proe sout op haar tong.

Die son trek water. Sy luister na die sagte dreungeluid van die enjin. Hoe ver nog? wil sy vir die man vra, maar sy bly stil. Haar kop voel seer, haar liggaam stram. Sy skuif geïrriteerd rond.
     “Volgens die kaart behoort daar ’n motel hier naby te wees,” sê die man uit die bloute. “Jy sal beter voel na ’n goeie nagrus.”

Hy sluit die kamerdeur oop, stoot haar ligweg aan die elmboog binne toe. Sy kyk rond. Die bed se geblomde deken pas nie by die eenvoudige gordyne nie. Tog lyk alles vir haar mooi. ’n Veilige beskutting teen die elemente. Die man sit sy skouersak op die bagasierak neer en gaan op die bed lê.
     “Gaan stort jy gou,” sê hy. “Ek bestel vir ons iets om te eet.”
     Toe sy die krane oopdraai, hoor sy ’n sleutel in die slot draai.
      “Hulle bied nie veel van ’n keuse hier nie,” sê die man en gee haar ’n bord kos aan. “Hier eet ’n mens wat jy kry.”
     Sy gaan oorkant hom op die bed sit, begin dadelik eet. Die krag vloei stadig terug in haar liggaam. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe hy haar dophou.
     “Wat doen jy vrou-alleen in ’n land soos dié?” vra hy dan.
     “Ek is ’n vryskutfotograaf,” antwoord sy. “Die kompetisie is straf. Ek mag myself nie die luuksheid van vrees toelaat nie. Deesdae kan ’n mens nie meer jou brood en botter met iets soos natuurfotografie alleen verdien nie. Jy moet die brandpunte uitkies. Om te kan oorleef.”
     
     Dit is nog vroeg, maar die son brand reeds warm op die Jeep. Sy sien hoe die man ingedagte voor hom uitstaar.
“Sou jy my regtig gister doodgeskiet het as ek iets vir die polisieman gesê het?”
     Hy kyk haar half ongemaklik aan. Sy hande klem stywer om die stuur. “Ek is ’n huursoldaat. Nie ’n moordenaar nie.”

Die son sit nog hoog toe hulle die volgende middag weer by ’n motel stop.
     “Ons sal nie weer een kry nie,” sê die man. “Ons sal hier moet oornag.”
     Hulle klim uit, stap ingangsportaal toe. Alles lyk verlate. Die man lui ’n klokkie. Dan kom ’n ou vrou in die gang afgestap.
     “Nóg mense! Dit gaan reën, dit gaan wragtig reën,” sê sy. “Julle kan bly wees julle kry plek. Die polisie het omtrent al die kamers volgemaak - hulle soek mos na die mense wat die dam opgeblaas het.”

“Ons sal vanaand in die eetsaal moet gaan eet,” sê die man in die kamer terwyl hy afbuk om sy skoenveters los te maak. “Dit kan dalk verdag lyk as ons in die kamer bly. Maar onthou, ek het my pistool by my.”
     Sy hou hom dop toe hy kaalbolyf na die badkamer stap met ’n handdoek oor sy skouer.

Die eetsaal is flou verlig met kerslig. Die man neem haar aan die elmboog, knik vir die ander gaste. Hy trek ’n stoel vir haar uit. ’n Kelner kom met ’n bottel wyn. Vir ’n ruk lank drink hulle in stilte. Dan neem hy onverwags haar hand in syne. Sy trek haar asem vinnig in.
     “Jy sal moet saamspeel,” sê hy en glimlag onverwags. “Ons moenie hulle agterdogtig maak nie.” Sy voel die hitte van sy vel, die streling van sy vingerpunte. Haar wange gloei liggies. “Jy kon vroeër vannaand gevlug het as jy wou,” sê hy sag, byna fluisterend. “Ek het nie die kamersleutels gevat toe ek gaan stort het nie.”
     Hy vul weer haar glas.
     “Waarom het jy nie gevlug nie?” vra hy.
     “Wat van jou?” sê sy. “Jy kon my vermoor het as jy wou. Of aangerand het. Maar jy het nie. Jou kamoefleerdrag kon miskien jou lyf goed verbloem, maar jou oë - jou oë gee jou weg.”

Sy stap voor hom uit tot by die kamer, haar brein half beneweld van die wyn. Hy sluit die deur oop, stoot haar ligweg aan die elmboog na binne.
     “Ons behoort môre die grens te bereik,” sê hy.
     Sy stem klink half skor. Hy talm ’n oomblik, tel dan sonder om verder te praat ’n koerant op en gaan op die bed lê. Sy hou hom dop. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde ontmoet hulle oë. Dan staan hy ongemaklik op, gooi die ongeleesde koerant in die snippermandjie en stap vinnig badkamer toe.

Sy word wakker, wonder hoe laat dit is. Buite is dit nog donker. Die naggeluide klink helder deur die oop ruit. Hy rol onrustig rond, staan dan op. In die dowwe gloed wat die straatlig in die kamer gooi, sien sy hom ’n drankie inskink. Hy staan by die venster, teug stadig terwyl hy na buite kyk. Dan draai hy om en staar armsgevou na haar. Sy maak haar oë toe, begin doelbewus ritmies asemhaal asof sy slaap.

Die vroeë oggendson speel flou teen die muur oorkant haar. Sy vee vaak oor haar oë, haar kop voel effens dof. Hy staan reeds aangetrek met sy rug na haar gekeer.
     “Jy moet gou maak,” sê hy. “Ons moet in die pad val.”
     Sy hoor hoe hy die ritssluiter van sy skouersak vinnig toetrek.
     “Ek wil eers stort.”
     “Maak net gou.” Sy stem klink kortaf. “Ek is haastig.”
     Sy talm ’n oomblik, probeer sy geslotenheid ontsyfer. Dan staan sy op en stap traag badkamer toe.

Hy bring die Jeep tot stilstand. Sy kyk op. Voor langs die pad wieg ’n kennisgewingbord in die wind. Border control. Five kilometers.
     “Jy moet hier uitklim,” sê hy sonder om na haar te kyk.
     Sy bly sit, haar brein voel dom.
     “Doen dit asseblief.” Sy stem klink dringend.
     Sy kyk na sy hande op die stuurwiel, die growwe lyne van sy gesig, maar sy oë bly hare ontwyk.
     “Jy vlug nou vir my!” skree sy.
     Hy antwoord nie.
     Dan klim sy vinnig uit, slaan die deur hard toe. Sy buk af, tel ’n klip op en gooi dit heftig na die Jeep.
     “Lafaard!” skree sy agterna toe hy met skreeuende bande wegjaag.

Sy stap stadig, haar tree traag. Die sweet pêrel op haar voorkop. Haar liggaam voel tam van die hitte. Hoe ver nog? Sy kyk rond, maar die son verblind haar effens sodat sy haar hand oor haar oë moet hou. Dan sien sy hom in die hittegolwe ver voor haar in die pad. Haar mond voel droog. Sy sien hom stadig na haar toe stap.
     “Jy’s eintlik baie nuttig,” sê hy. “Ek sal baie minder aandag trek as ek saam met ’n vrou deur die grenskontrole gaan.”
     Toe sit hy sy arm om haar skouers en lei haar na die Jeep.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.