SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Petra Müller se eerste verslag
George Weideman se eerste verslag
Petra Müller se tweede verslag
George Weideman se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Offerblomme

Nanette van Rooyen

Toe die hond na drie dae nog nie terug is nie, het ek geweet sy't haar kleintjies op ’n ander plek gaan kry. Soos laas keer het ek gemaak of dit maar okay is. Maar Pietie het snotterig bly huil en bly soek. Ma’t die kombuiskaste hard toegeklap en Pa het die radio blêr gedraai. Net oom Paul het bly neuk.
“Is mos maar dier,” het hy gesê. “Dier bly dier.”
Ma se moer was hoeka los vir oom Paul wat nou al drie maande lank op ons nekke lê.
Sy is vinnig die gang af. Haar slip-ons kon jy klik-klak hoor maak.

Sondae kuier Ma meesal by Miesie. Alleen, want niemand anders kom daar nie. Omdat sy so snaaks is, het Pa al vir Ma gesê. Dié dat niemand met haar wil meng nie. Oom Paul sê sommer Miesie is ’n heks. En dan lag hy gie-gie-gie dat sy pens wiegel.

Op ’n dag stuur Ma vir Adoons na Miesie se plaas toe met ’n briefie en ’n mandjie vrugte. Ma’t saam met hom gestap tot by sy fiets.
“Sê tog vir die oumies dis nog reg vir môre,” het Ma gesê en tussen haar rose gaan staan. So het sy dié dag lank in die tuin bly staan en die berge ingestaar. Later het sy omgedraai en armsvol rose gepluk. Haar skourose. Seker vir ’n okkasie, het ek gedink. Lank daarna het ek haar nog die kewers hoor skel wat van die rose verniel het.

Die volgende dag staan ek en Ma blink langs mekaar op die voorstoep. Ma se chiffon-moue trillende vlindervlerke in die oggendson. Ek met my blink Sondagskoene aan vir die kuier by Miesie. Pa het brom-brom wou weet waarom ek dan nou sodanig Verliesfontein toe gesleep moet word. Dat Ma heul met hekse is al erg genoeg, het hy gesê.
“Die ouvrou kan g’n goed wees vir kinners nie,” was sy verweer. Oom Paul het weer gie-gie-gie gelag en sy klein ogies in hul vet kaste gerol.
“Vra vir haar of sy ’n prins van ’n padda kan maak, Poppie?” koggel hy my en druk sy worsvingers in my sy. Gie-gie-gie het hy weer uit sy pens gekekkel.

Ma se nekspiere het styfgetrek en daar was rooi vlekke op haar nek. Vervies het sy my aan die arm gegryp en sommer deur een van haar blombeddings Ford toe gesleep. Op pad Verliesfontein toe moes ek ’n tissue vra om my Sondagskoene mee af te stof. Twee myl uit die dorp het Ma begin sing. ’n Halleluja. Sy het nie eintlik gepraat nie. Vol kommer was sy, dié kon ek sien. Sy’t ook nie gesê hoekom ek die dag moes saamgaan na Miesie toe nie. Na die laagwaterbrug kon ek die bloekoms rondom Miesie se huis sien. En die stilte ook.

Ma’t voortgesing aan die Halleluja. By die plaashek het sy haar hoed reggedruk. Ek het my nek skilpad getrek van vrees vir die ouvrou van Verliesfontein. Ma het gestop en ek moes die hek gaan oopmaak.

Tot by die plaashuis het ek na die mandjie rose op my skoot bly staar. Miskien like ek ook nie van Miesie nie. Die handvatsel van die rottangmandjie was aan die lostorring en ek het die strokie om en om my vinger gedraai. Toe ons langs die rooi stoeptrappies stop, was die punt van my voorvinger blou.

Die Ford het lui slierte stof oor die heining gegooi. Ek het na die huis se knobbelmure geloer. Klein vierkantige vensters waarvan die putty opgedop het soos die modderskubbe van ’n droë plaasdam. Miesie se huis het bedruk tussen die lang bloekoms gestaan. Ma het stadig haar handskoene aangetrek en na my toe gedraai.
“Hier is ons nou, Klimmeid” het sy gesê.
Haar nek was weer rooi gevlek.

Al op die stoepmuurtjie langs het vetplantjies gestaan. Ma het haar handsak styf met albei hande teen haar maag vasgedruk en uit die kar geklim. Ek is stadig met die mandjie blomme agterna. Op die rooi stoep het vaal voetspore heen en weer geloop. Skielik was die ouvrou in die deuropening. Verrimpeld klein en grys. Ma, wou ek roep, is waar, sy lyk soos ’n heks! Die heks het my nie eers aangekyk nie. Toe sy praat, het haar stem nie uit haar lyf gekom nie. Ek kon sweer.
“Middag, Mirriam,” het sy vir Ma gegroet en vooruit geloop kombuis toe. Ma is op haar tone agterna en ek met die mandjie offerblomme en my Sondagskoene.

In die kombuis het die ouvrou omgedraai en weer van veraf gesê: “Sit, solank.”
Ek het gemeen hekse kekkel aanmekaar, maar Miesie was stil. Sy’t omgeskuifel wasbak toe en die ketel vol water getap. Haar hare het lank en grys in ’n stert teen haar rug afgehang.
“So, jy is nou Phoebe,” het sy skielik gesê sonder om my aan te kyk. Ek het weer my voorvinger in die mandjie vasgeknoop en kon nie praat nie. Ma’t met haar handskoene na my gevat-vat.
“Is sy ja, my Phoebe-kind.”

*

Die ma-hond het eers na ses dae teruggekom. Pa het die gras gesny en Ma was met haar rose doenig. Die hond se bruin pels het vaal en dun om haar ribbetjies gespan. Die pens was weg.
“Pietie,” het Ma gegil en Pa het dadelik die grassnyer afgeswiets.
“Kyk wie’s hier! Sie-wie, sie-wie, ounôi. Kyk net hoe maer!”
Pietie se neus het onmiddellik begin loop en hy het gehardloop om ’n bakkie melk vir die hond te gaan haal. Oom Paul het aangewaggel gekom en sy vet vinger teen die hond se ribbes gedruk.
“Nou waa’s jou bybies dan nou, huh?”

Ons het almal om die hondjie gekniel. Ma het die tefie omgedop en oor haar plat maag met opgeswelde tepels gevryf. Ons het almal oor die kleintjies gewonder. Net Pietie het gesê: “Ek is bly sy’s terug.” En sy trane afgevee.

*

Miesie het ’n handvol blare in die teepot gegooi en dit om en om gesirkel. In ’n ry het drie dun koppies met rooi en goue prentjies daarop gestaan. Stadig het sy die tee geskink. Toe het sy omgedraai en ’n plaat gaan draai. ’n Klomp fluite het gespeel. Ek sou daarvan kon hou as die tee nie soos medisyne geproe het nie.

Skielik het Ma sommer met Miesie begin praat oor sonde. Sy’t die Loubser-seuns uitgewys en gesê dat hulle pa altyd dronk is. En dat juffrou Steenkamp eendag die hele spul Plessies kliniek toe moes stuur vir luis. Ma’t soos meerkat voor gat gesit met haar handsak netjies op die skoot en haar bene wip-wip.

Toe was dit vir ’n lang tyd stokstil.

“Phoebe,” het Ma later uit die bloute vir my gesê. “Jy moet nou saam met Miesie gaan.”
“Waantoe, Ma,” het ek met my oë gevra, maar niks gesê nie. Ek het op my Sondagskoene bly staar. My enkels het geswel gelyk.
“Een van die dae sal jy weer beter voel,” het Ma voortgegaan en haar tissue onder die horlosieband uitgevroetel so of sy wou huil. Toemaar Ma, wou ek sê, ek is mos nie siek nie. Die naargeid kom mos maar so saam met elke eksamen.

Maar ek het niks gesê nie.

Ma’s weet van beter. Buitendien is ’n mens nie obstenaat in ’n heks se huis nie en wie praat anyway teë met ’n paar Sondagskoene aan die voete? Ek is agter Miesie die lang gang af. My tong om my vrae vasgeknoop. Die Sondagskoene wat klik-klak maak. Die mandjie rose vergete teen my bors vasgeklem. Ma is op haar tone agterna. Halleluja en al.

Die kamertjie was donker met baie wit lakens. Erens in ’n hoek het ’n kers gebrand. Ek het vraend na Ma gekyk. Haar chiffon-vlerke het spikkels in die kerslig gegooi. Op ’n klein tafeltjie met ’n wit doek daaroor, het ’n skottel gestaan waarin Miesie kookwater gegooi het. Die ouvrou het haar hande in die hoekwasbak gaan skrop. Sal dit nou grootdoop wees wat Ma vir my voor sin het, het ek gewonder. Misien moet ek net nie dink dis vreemd nie en ophou bangwees vir Miesie met die kreukelhande en heksehare. Miskien moet ek dink aan doodgewone goed soos Pietie se trane, Adoons se fietswiele en oom Paul se kommen grappies.

Ma se oë was bottoe en sy het saggies geneurie, amper of sy nie eintlik mag nie. Die stilte het soos spinnekoppe aan lang drade in die klein kamertjie rondgehang. Moenie aan my vat nie, wou ek skree, toe die heks my op die wit bed laat lê. Skielik swel haar kreukelhande op en word oom Paul se worsvingers. Moenie aan my vat nie, wou ek skree. Nie soos hy nie.

Maar ek het niks gesê nie. Net my oë toegemaak en gewag.

’n Ewigheid het donker op die volgende paar dae kom lê. Leeg en rond soos die groot niks. Ook die eksamen het verbygegaan.


Drie dae na die besoek aan Miesie het die rekenmeester van oorkant die straat, met die dooie hondjies by ons huis aangekom. Pa het met die tuinslang staan en spuit en Ma was weer doenig met haar rose. Die rekenmeester het geweet ons hond gaan kleintjies kry, want hy wou een hê.
“Ek het dié drietjies in ’n afvoerpyp oorkant my huis gekry,” het hy gesê. “Die water moes hulle onverhoeds gevang het toe die ma nie by hulle was nie.”
“Ja,” het Ma gesê en van haar skourose af na die rekenmeester opgekyk. “Sy kon nie meer haar kleintjies hier kry nie, want sy’t geweet ons neem dit elke keer van haar weg.”
Ma het ’n geel en swart kewer aan sy pote in die lug gehou en hom met die snoeiskêr middeldeur geknip. Toe het sy omgedraai en die huis ingeloop. Die slip-ons klik-klak in die gang af.

Agter in die waskamer het die ma-hond in haar mandjie gelê.

Daardie aand het Ma vir my warm melk voor slaaptyd gebring. Sy het gevroetel aan die Papa Melland-rose wat in ’n pot langs my bed gestaan het. Haar favourite roos.
“Moenie worry oor die hond nie. Sy sal oraait wees.”
Toe het sy die kers uitgeblaas en sonder om dit vir mekaar te sê, het ons vir die eerste keer oor die dooie hondjies gehuil. Ma het lank by my in die donker bly sit. Later het sy opgestaan en sonder ’n woord die kamerdeur saggies agter haar toegetrek. Ek het alleen in die donker bly lê.

Ek het gewonder of hekse ook jonk kan wees. Ek het gewonder of engele oud kan word. Maar bo alles het ek gewonder of die sonde ’n mens altyd laat bloei.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.