SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Die roostuin

Hanni van den Heever

Ek was daardie somer nege jaar oud.
    Ons het in ’n kleinerige huisie duskant die houtbruggie gebly. In die kombuis was altyd varsgebakte brood en karringmelkbeskuit en in die voorhuis het Ma elke dag geoefen op die klavier wat Oupa nog vir haar gegee het.
    Pa se winkel was halfpad tussen die skool en ons huis. As die middagson vuurwarm op my kop gebrand het en die huis nog ver was, het ek vir ’n rukkie daar by Pa gaan uitrus. Die reuk van tabakrook en kleremakerskryt was skerp en maatbande het tussen swaar skêre rondgekrul. Halfklaar pakke met lang wit rygsteke het sonder moue teen die muur gehang, reg vir die ooms om te kom aanpas.
    Onder die toonbank, tussen die stapel afvallappies van bruin, swart of donkerblou, het ek my arms diep in die bondel gesteek om vir syerige voeringstukkies rond te soek.
    Sondae het Ma die orrel in die kerk gespeel. Party aande het ek saamgegaan as sy moes gaan oefen. My broers was te besig met hulle boeke of het gestry, waaroor het ek nooit geweet nie. “Dis net om my siel te versondig”, het Pa gesê. Hy het moeg op die rusbank gaan lê en my suster het by hom gaan sit en vertel wat alles daardie dag op skool met haar gebeur het. Pa was die liefste vir my suster, maar ek het nie omgegee nie. Sy was twee jaar ouer as ek en my broers was nog ouer en toe ek kom, word ek “Ma se kind”. So het almal gesê.
    Hand aan hand het ons deur die stil strate kerk toe gestap. By dominee Basson se huis het die hond begin blaf totdat hy agtergekom het dis net ons. In die kerk het ek by Ma op die bankie voor die orrel ingeskuif. Ek het my verkyk aan haar voete wat op en af oor die groot pedale rondspring en hoe haar vingers oor die rye klawers vlieg. Die preekstoel en die leë kerkbanke was in die donker. Net ons twee was in die lig van die orrellamp en met die dreun van Sondagmusiek rondom ons was ek gelukkig daar langs my ma.

*

Aan die bokant van die dorp, tussen groen wilgebome, was die Viljees se huis.
    Die Viljees was “anders”. So is daar rondgesê. Nie vir hulle die Gertuidas of Magrietas wat dominee Basson so gereeld op doopsondae uitgelees het nie. Nee, hulle pragtige dogters se name was Michelle en Monique.
    Verder was meneer Viljee en sy vrou albei “geleerde mense”. Mevrou Viljee het ’n universiteitsgraad gehad, maar watter een kon die Rooikralers nooit onthou nie.
    Dat meneer Viljee ’n “regsgeleerde” was, sou hulle nie sommer maklik vergeet nie. ’n Prokureur “verleen mos status aan ’n dorp.”
    Die blink gepoleerde bronsplaatjie op sy kantoordeur met die inskripsie: “J M de Villiers, Prokureur/Attorney” het my pa so beïndruk dat hy op die muur bokant sy werksplek se deur in swart letters geverf het: “Coenraad Nel, Kleremaker”, met sy eie tikkie elegansie in blinkrooi letters onderaan: “Tailor”.
    Mevrou Viljee was “voorsitster” van die VLV en Ma het ook gaan help as sy die tannies uitgenooi het om in haar stoepkamer, onder haar toesig, ’n “handjie te kom bysit”. Nuwe klere is gemaak om by kerkbasaars te verkoop; oues is gebring om weg te gee; kosmandjies is gepak om onder die siekes en ou mense uit te deel en daar is gereël dat hulle om die beurt Saterdagmôres voor oom Izak se winkel sal gaan staan om vir allerhande “liefdadighede” te kollekteer.
    Met al die oor-en-weer gepratery oor mevrou Viljee het ek ongemaklik gevoel as ons haar in die straat raakgeloop het. “Is dit nou jou jongste?” het sy gereeld gevra en ek het gewonder “hoekom sê hulle sy’s so ‘slim’ as sy nie eens van een dag na die ander kan onthou dat ek Ma se jongste kind is nie?”

Een bloedige warm agtermiddag het ma gesê, “kom stap saam met my daar na mevrou Viljee se huis toe. Ek moet nou ’n koppie tee daar by haar gaan drink.” Mevrou Viljee het ’n punt daarvan gemaak om al die gewillige helpers om die beurt uit te nooi. Niemand het ooit “nee dankie” gesê nie. Ek het gedink Ma wil dalk nie graag op haar eie na die Viljees se huis toe gaan nie.
    Toe ons oor die gekraakte ou houtbruggie stap, het Ma my hand in hare geneem. Ons hande het gesweet. Dit het nie saak gemaak nie; ek was baie lief vir my ma. Sy was so jonk en so mooi in haar beste somerrok wat sy self van geblomde voile gemaak het. My rokkie was vol valletjies en kant en in my blink geborselde hare was ’n helder geel sylint.
    Mevrou Viljee was nog in die roostuin toe ons, effens vroeg, daar opdaag. Oor haar arm het sy ’n langwerpige vlak mandjie gedra. Sy was besig om blomme te pluk. Een vir een het sy die rose in die mandjie gesit, versigtig, om nie die fyn blaartjies met dorings te kneus nie. Deur die breë rand van haar strooihoed het skaduwees op haar goedopgemaakte gesig gedans. Sy het ons met ’n koel glimlaggie verwelkom:
    “Ek is so bly dat jy kon kom, Lettie, en hoe gaaf dat jy die ou kleintjie kon saambring.”
    Sy het my naam vergeet.
    Ons het so tussen die rose deur beweeg. Die geur was rondom ons. Die rose was naby my gesig, sommige bome hoër as my kop. Die tuin van geel, ligpienk, perskekleur, spierwit en bloedrooi blomme was vir my mooier as enigiets wat ek nog ooit vantevore gesien het.
    “Kyk, Ma,” ek het skielik my skaamheid verloor, “watter is vir Ma die mooiste? Die geles of die bloedrooies?”
    Omraam deur haar ligte hare was haar gesig in ’n kring van lig. Sy het geglimlag. Sy was net so mooi soos die rose en ek het met my hele hart gewens dat dit ons roostuin was.
    In die sitkamer is die tee geskink — die gordyne effens toegetrek om die son uit te hou. In die halflig het silwer teelepels en vurkies op die bordjies geglinster. In ’n plat bak op die tafel het oop rose gedryf. Deur die kristal kon ek die kort steeltjies sien en hoe die blare dieper in die water sak.
    Mevrou Viljee het Ma bedank vir haar hulp en so, asof sy glad nie vir Ma ken nie, het sy uitgevra oor my broers en my suster.
    “Dankie, dit gaan goed met die kinders. Hulle is nou almal op skool. Dié enetjie wil maar altyd saam met my kom” en Ma se stem was so sag ...
    Ek het ophou luister en my verkyk aan die wit gesigte van outydse figure in yslike rame teen die mure. Die volgeplooide gordyne, gefraiingde matte wat deurmekaar patrone van donkerrooi, blou en stippeltjies wit op die houtvloere versprei, was vreemd vir my — gewoond soos ek was aan die songebakte voorhuisies van Rooikraal.
    “Speel vir ons iets op die klavier, Lettie. Jy speel tog so pragtig.”
    Die woorde het in die lug gehang.
    Ek kon aanvoel hoe my ma huiwer; hier in die Viljees se huis was sy net so skaam soos ek. Toe begin sy speel. Die mooi dogters het stilweg binnegekom. Met hande gevou in haar voorskoot het Leentjie, die huisbediende, ook in die deur kom luister. In hul hok op die stoep het die kanaries skielik ’n eie trillende begeleiding begin.
    Ek was weer gerus.
    Die son was laag toe ons huis toe stap.
    “Het jy darem die middag geniet? Sy is eintlik ’n baie gawe vrou,” het my ma gesê, so asof sy mevrou Viljee wou verdedig.
    Ons was ’n gelukkige paar in die laatmiddag op pad huis toe.

’n Paar weke later het ek vir die eerste keer ’n eienaardige gevoel van bedreiging ondervind.
    Tant Hettie, ons posmeester se vrou, het vroegaand vir ’n rukkie by Ma kom inloer.
    “Kom ons stap so ’n entjie saam met tannie Hettie terug huis toe,” het Ma my ook saamgenooi.
    Ek het speel-speel agter hulle aangetrippel, verby die ooms wat rustig op hul stoepe sit en rook. Dit was ’n aand soos baie ander someraande op Rooikraal.
    Ons groepie het luiweg in die rigting van die Viljees se tuin beweeg. Ek kon die huis, wilgebome en die windpomp duidelik sien. Die volgende oomblik het ek verwonderd stil gaan staan, want die prentjie het skielik verander. Bokant die swart massa van dak en bome en tussen die windpompsirkels deur het die volmaan onnatuurlik groot gerys. Alles was doodstil. Daar was geen beweging of geluid nie — net die vreemde, onheilspellende verskyning.
    Ek was bang. Waar was my ma? Toe gewaar ek hulle op ’n afstand, soos hul stadig straatop loop. Ek kon nie ’n geluid uitkry om haar te roep nie. Toe draai sy om, steek haar hand uit en wag vir my. Ek het vinnig die entjie na hulle toe gehardloop. Styf teen haar vasgedruk, was die geur van rose oral om ons.

“Ek voel nie lekker nie,” het sy ’n paar dae later gesê.
    Ons was in die kombuis waar sy besig was om te stryk. Ek was altyd voor my broers en suster by die huis en Pa was by sy werk. Dit was baie warm. Ma se voorkop was natgesweet.
    “Ek wens dit wil reën”, het sy gesê.
    Sy’t vir ’n rukkie by my op die kombuisbankie kom sit. Ek wou iets vir haar doen, maar ek het nie geweet wat nie.
    “Wil jy ’n ietsie eet?” het sy gevra, maar ek was nie honger nie.
    “Nouja, dan gaan ek maar kamer toe. Jou pa-hulle moet maar vanaand self sien kom klaar.”
    Dokter Martin, die enigste dokter op Rooikraal en “lief vir die bottel”, kon maar nie uitvind wat verkeerd was met Ma nie. “Sy moet eet”, het hy gesê, en almal kon sien dat sy nie wou eet nie.
    Ek het daardie eerste dae van haar siekte by haar gaan sit en haar hare gestreel.
    “Bid vir my” het sy gesê.
    Ek was nou die een wat haar gerus moes stel en ek het nie van die omruiling van rolle gehou nie.
    Toe ander mense op die dorp ook begin siek word, is daar verskrik deur die dorp rondgefluister, “Maagkoors ... besoedelde water ...’n epidemie?... almal moet ingeënt word”.
    Pa wou nooit weer vir dr Martin by ons huis toelaat nie. ’n Verpleegster, ’n niggie van tant Hettie, het van ’n buurdorp af gekom om na Ma te kom kyk. Sy wou nie hê ek moet weer by Ma in die kamer gaan sit nie.

*

In die middel van die nag het ek die voetstappe gehoor — op en af in die gang, in en uit by deure wat oop en toe klap en die gefluister. My pa het gehuil en ek het nog nooit my pa hoor huil nie en hy huil en huil. “Hoekom huil my pa?” Niemand het my geantwoord nie. Toe hoor ek hoe roep my suster aanmekaar vir Ma. “Sjuut, sjuut” het my broers gesê en “sy sal wakker word, sjuut, sjuut” het die stemme gefluister.
    Toe word dit doodstil. Ma het voor die spieëltafel gesit. Sy was besig om haar lang hare vas te steek — met ’n spierwit roos agter elke oor. Toe sy my sien, het sy omgedraai en geglimlag. Ek was so bly. “Kom, Pa, kom kyk, Ma is weer gesond”. Ek het langs haar gaan staan en toe ek my hand uitsteek om aan haar te raak, was dit net my eie weerkaatsing wat ek in die spieël sien.

*

Die volgende oggend wou ek my droom vir iemand vertel. Daar was so baie mense in die huis. Pa het nie gehuil nie, maar hy het niks rondom hom raaksien nie, ook nie vir my nie. My broers en suster het verslae rondgestaan. Bakke kos het aangekom en het die kombuistafel vol gestaan. Koppies koffie op skinkborde is aangebied. Almal praat sag, maar niemand praat met my nie. Hulle het in die verbygaan hul hande op my kop gesit en vir mekaar gesê: “Die arme bloedjie, die ma se oogappel. Sy weet nog nie. Sy’t so vas geslaap”.

*

“Kom saam, my kind, jy kom vir ’n rukkie by ons kuier.”
    Mevrou Viljee het my kom haal.
    “Ek wil nie saamgaan nie. Ek is bang vir mevrou Viljee. Sy onthou nooit dat ek Ma se jongste kind is nie en sy ken ook nie my naam nie.” Dit wou ek alles vir Pa sê, maar ek kon nie ’n woord uitkry nie. Pa het ook niks gesê nie en agter sy bril was sy oë ver weg. Hy het ’n tassie in my hand kom sit en weggedraai. Ek het saam met mevrou Viljee by die deur uitgestap. Ek wou nie omkyk nie.
    Op die houtbruggie het mevrou Viljee my hand in hare geneem.
    Dit was speeltyd toe ons by die skool verbyloop. In die klein koeltes van peperbome het ’n paar kinders gesit en ons agternagestaar.
    By die roostuin verby het daar, soos ’n landskap wat geleidelik duideliker omlyn word deur die eerste lig van die vroeë môre, ’n beeld in my geheue vorm begin aanneem: dit was my ma met haar fyn voilerok waarop kolletjies kleur verander in verspreide bossies blomme; die ligkring om haar mooi gesig was haar blonde hare wat ligglansend op haar skouers losswaai en in die prentjie wat aldeur duideliker word, het haar oë afgekyk om gerusstellend in myne te lag. Ek kon nie ’n tree verder loop nie. Ek het my hand losgeruk.
    Rondom ons het dorpsgeluide skielik deurgedring: ek het die skoolklok hoor lui, die speeltyd was verby en hier naby my het die windpompe gekreun. Die son het warm op my arms gebrand en mevrou Viljee se rok was van skelblou sy.
    In die skroeiende Namakwalandse somerdag was daar geen teken van my ma nie. Ek het my oë toegeknyp om die trane te keer. Mevrou Viljee het haar arms om my skouers kom sit die blou sy het nat geword teen my gesig. Toe neem sy my hand in hare en sê, net soos Ma, “kom, my kind, kom saam met my dan gaan wys ek vir jou die mooiste rose in my tuin”.
    Onder deur ’n prieël van oranje-rooi rankrosies lei mevrou Viljee my toe die roostuin in. Asof sy ’n storie vertel, het sy die vreemde roosname begin opnoem. “Kyk, hier groei die fraai rooi Crimson Glory in ’n beddinkie op sy eie. American Beauty is kleurvol in karmynrooi en Charlotte Armstrong is die beste rooi roos. Die perske-pienk is Good News en die sag-pienk, New Dawn. Hulle lyk so eenders, tweeling rose. En wat het ons hier? Red Pinocchio en vermiljoen-rooi Floradora. Die een wil altyd mooier wees as die ander een of lekkerder ruik. En dis nou Goldilocks — die kleur van jou hare. Kom ons gaan haal ’n skêr en dan pluk ons die mooiste halfoop knop af, net vir jou.”

As ek terugdink aan daardie oggend in die roostuin ondervind ek weer die emosies van verdriet, verlange en vertroosting. Ek voel mevrou Viljee se arms om my en hoor haar sagte stem, maar dis my ma wat vir my glimlag en altyd is sy mooier as al die rose.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.