SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1:

Hennie Aucamp se eerste verslag
André P Brink se eerste verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Die roostuin

Hanni van den Heever

In die hitte van daardie lang somer het die peperbome stom langs hul skaduwees gestaan. Die fel kleure van stinkafrikaners en jakob-regops het hier en daar in kiertsregop rytjies die stowwerige tuintjies verhelder. Onder die gekraakte en verskilferde houtbruggie het die rooigrond fyn verpoeier. Net aan die bokant van die dorp was daar ’n sweem van groenigheid. By die Viljees se huis het die slap takke van ’n paar wilgebome ’n sagter koelte rondom die sinkplaatdam versprei. Soms kon ons bo die gekreun van die windpompe hoor hoe die Viljee-dogters in die koel waters baljaar.
    In die droë Namakwalandse dorpie was die wilgebome iets besonders, maar dis die Viljees se roostuin wat ek nooit sal vergeet nie. Die kleurryke massa roosbome het ’n geurvolle skeidslyn tussen die Viljee-woning en die vaal huisies op ons dorp gevorm.
    Die Viljees was “anders”, of so het die inwoners van Rooikraal graag gesê. Dink nou maar aan hulle dogters se name. Nie vir hulle die Gertruidas en Magrietas, die Johannas, Jacobas en Wilhelminas wat dominee Basson so gereeld op doopsondae uitgelees het nie. Nee, hierdie pragtige kinders se name was Michelle, Jeanelle en Monique.
    Verder was meneer Viljee en sy vrou albei “geleerde” mense. Mevrou Viljee het ’n universiteitsgraad gehad, maar watter een kon die Rooikralers nooit onthou nie. Dat meneer Viljee ’n “regsgeleerde” was, sou hulle nie sommer maklik vergeet nie. ’n Prokureur verleen mos status aan ’n dorp.
    Die blink gepoleerde bronsplaatjie op sy kantoordeur met die inskripsie: “J M de Villiers, Prokureur/Attorney” het my pa so beïndruk dat hy op die muur bokant sy werksplek se deur in swart letters geverf het: “Coenraad Nel, Kleremaker”, met sy eie tikkie elegansie in blinkrooi letters onderaan: “Tailor”.
    Die mense van Rooikraal was oor die algemeen ‘minder gegoed’ en sommige was werklik arm, maar die dorp het tog sy rykes gehad. Daar was oom Rooi Willie wat omtrent al die erwe op die dorp opgekoop het en by wie selfs die munisipaliteit nou en dan om ’n leninkie kom aanklop het; die prinsipaal het ryk getrou; die dokter was redelik welaf al moes hy soms maar lank wag vir sy geld en dan was daar natuurlik die paar wolboere van die distrik wat Sondae hulle blink motors spoggerig op die kerkplein kom inryg het. Nee, geld was dit nie wat die stempel van aansien so duidelik op die familie Viljee afgedruk het nie.
    Heel waarskynlik, so het ek jare later daaroor gedink, was hulle taalgebruik, uitspraak en houding die nadraai van ’n bepaalde agtergrond en opvoeding wat ver in die verlede sy oorsprong in ’n sagter, groener wêreld as die barre veld van ’n Rooikraal gehad het.
    Soms het ma gaan help as mevrou Viljee die dames van Rooikraal uitgenooi het om in haar stoepkamer, onder haar toesig, liefdadigheid te kom beoefen: nuwe klere is gemaak om te verkoop; oues is gebring om weg te gee; kosmandjies is gepak om onder die siekes en oues van dae uit te deel en daar is gereël dat die jonger vroutjies Saterdagmôres vroeg-vroeg voor oom Izak se winkel sal gaan staan om die boere met skommelende geldbussies in te wag.
    Ek was daardie somer nege jaar oud.
    Ons het in ’n kleinerige huisie duskant die houtbruggie gebly. Sondae het ek en my suster vrolike tuisgemaakte rokkies kerk toe gedra. Ons helderkleurige gebreide truitjies was vir die winter met borduurwerk versier. In die kombuis was altyd varsgebakte brood en karringmelkbeskuit en in die voorhuis het ma elke dag geoefen op die klavier wat oupa nog vir haar gegee het.
    My broers het stories opgemaak vir toneelstukkies. Saam met die buurkinders het ons voor ouers en kuiermense ou lakens om ons skraal lyfies gedrapeer om giggelend en skamerig konsert te hou.
    Op soel someraande, as die honde aanhoudend geblaf het vir gedaantes en dinge wat nooit met die blote oog gesien kon word nie, is spookstories vertel. Styf teenaan my ma het ek gesit en luister na die grootmense se “ware” ondervindings van verskynings. Die bang gevoel was nie onaardig nie, want die warmte van my ma se ligaam was gerusstellend en die grillerige staaltjies ver verwyderd van my eie veilige werklikheid.
    Op vaal, stofverwaaide dae was my pa se winkel ’n halfwegstasie tussen skool en huis. Onder die toonbank, tussen die stapel afvallappies van oorwegend somberbruin, swart of donkerblou, het ek my arms diep in die bondel gesteek om rond te soek vir die besondere oorskietstukkies van geruite wolstof of die enkele repies sagte grys.
    Die reuk van tabakrook en kleremakerskryt was skerp en maatbande het tussen swaar skêre rondgekrul. Halfklaar pakke met lang wit rygsteke het sonder moue langs die muur gehang, gereed vir gesette ooms om te kom aanpas. Buitekant het klein dwarrelwindjies ou papiere teen die draadheining vasgewaai.
    Ek het nooit kon dink dat die wêreld soos ek dit toe geken het, nie vir ewig sou bestaan nie.
    Een bloedige warm agtermiddag het ek en my ma, op mevrou Viljee se uitnodiging, by haar gaan tee drink. Sy het ’n punt daarvan gemaak om al die vrouens wat haar so ywerig help, om die beurt uit te nooi. Niemand het ooit die uitnodiging durf van die hand wys nie.
    Toe ons oor die houtbruggie stap, het Ma my hand in hare geneem. In die hitte van die son het ons hande gesweet. Dit het nie saak gemaak nie; ek was baie lief vir my ma. Sy was so jonk en so mooi in haar beste somerrok van ragfyn geblomde voile. My rokkie was vol valletjies en kant en in my lang, blink geborselde hare was ’n helder geel sylint.
    Mevrou Viljee was nog in die roostuin toe ons, effens vroeg, daar opdaag. Oor haar arm het sy ’n langwerpige vlak mandjie gedra. Sy was besig om blomme te pluk. Een vir een het sy die pragtige rose in die mandjie gesit, versigtig, om nie die fyn blaartjies met dorings te kneus nie. Deur die breë rand van haar strooihoed het skaduwees op haar goedopgemaakte gesig gedans. Sy het ons met ’n koel glimlaggie verwelkom:
    “Ek is so bly dat jy kon kom, Lettie, en hoe gaaf dat jy die ou kleintjie kon saambring.”
    Sy het my naam vergeet.
    Ons het so tussen die rose deurbeweeg. Die geur was rondom ons. Die rose was naby my gesig, sommige bome hoër as my kop en die perfekte skoonheid van die geel, ligpienk, perskekleur, spierwit en bloedrooi knoppe was vir my mooier as enigiets wat ek nog ooit vantevore gesien het.
    “Kyk, Ma” het ek skielik my skaamheid verloor, “watter is vir Ma die mooiste? Die geles of die bloedrooies?”
    Ek het opgekyk om haar gesig te sien. Omraam deur haar ligte hare was haar gesig in ’n kring van lig. Sy het geglimlag. Sy was net so mooi soos die rose en ek het met my hele hart gewens dat dit ons roostuin was.
    In die koelte van die sitkamer is die tee bedien — die gordyne effens toegetrek om die hittige son uit te hou. In die halflig het mevrou Viljee die goue vloeistof in fyn porseleinkoppies geskink. Die silwer teegerei het op die bordjies geglinster.
    Op Rooikraal was dit die gewoonte om melktert of sjokoladekoek of koeksusters, of al drie, op teepartytjies te bedien. Die ritueel het van gasvrou tot gasvrou net gevarieer wat betref aanbieding en sukses, of nie, van die tekstuur van deeg of skilferkors, of stroperigheid van die koeksusters. As die geld maar skaars was, is daar nog altyd ’n plan gemaak vir ’n “lekkergytjie”. Daardie agtermiddag het ek vir die eerste keer die sagte, groen mousse van avokadopeer en komkommerskyfies op deursigtige snytjies witbrood geproe en donsige skons met room, heelvyekonfyt en botter het smaaklik in my mond gesmelt.
    Die gesprek het sagweg oor my kop voortgegaan.
    Die wit gesigte van outydse figure in versierde rame teen die mure; die vol-geplooide goudkleur gordyne; die sysagte, gefraiingde matte wat deurmekaar patrone van donkerrooi, fluweelblou en stippeltjies wit op die glimmende houtvloere versprei, was vreemd vir my — gewoond soos ek was aan die songebakte voorhuisies van Rooikraal.
    “Speel vir ons iets op die klavier, Lettie. Jy speel tog so pragtig.”
    Die woorde het in die lug gehang.
    Ek kon aanvoel hoe my ma huiwer; hier in die Viljees se huis was sy net so skaam soos ek. My hande was natgesweet van angs. Toe begin sy speel. Een vir een het die mooi dogters stilweg binnegekom; met hande gevou in haar voorskoot het Leentjie, die huisbediende, ook in die deur kom luister. In hul hok op die stoep het die kanaries skielik ’n eie trillende begeleiding begin.
    Ek was weer gerus.
    Die son was laag toe ons huis toe stap.
    “Het jy darem die middag geniet, ou Kleintjie? Sy is eintlik ’n baie gawe vrou,” het my ma gesê, so asof sy mevrou Viljee wou verdedig.
    Ons was ’n gelukkige paar in die laatmiddag op pad huis toe.
    ’n Paar weke later het ek vir die eerste keer ’n eienaardige gevoel van bedreiging ondervind.
    Tant Hettie, ons posmeester se vrou, het vroegaand vir ’n rukkie by Ma kom inloer.
    “Kom ons stap so ’n entjie saam met tannie Hettie terug huis toe,” het Ma my ook saamgenooi.
    Ek het speel-speel agter hulle aangetrippel, verby die ooms wat rustig op hul stoepe sit en rook. Dit was ’n aand soos baie ander someraande op Rooikraal.
    Ons groepie het luiweg in die rigting van die Viljees se tuin beweeg. Ek kon die huis, wilgebome en die windpompe duidelik teen die donkerwordende aandhemel afgeteken sien. Die volgende oomblik het ek verwonderd stil gaan staan, want die prentjie het skielik verander. Bokant die swart massa van dak en bome en tussen die windpompsirkels deur het die volmaan onnatuurlik groot en helder gloeiend gerys. Alles was doodstil. Daar was geen beweging of geluid nie — net die vreemde, onheilspellende verskyning.
    Ek was bang. Waar was my ma? Toe gewaar ek hulle op ’n afstand, soos hul stadig straatop loop. Ek kon nie ’n geluid uitkry om haar te roep nie. Toe draai sy om, steek haar hand uit en wag vir my. Ek het vinnig die entjie na hulle toe gehardloop. Styf teen haar vasgedruk, was die reuk van rose oral om ons.
    “Ek voel glad nie lekker nie,” sê sy ’n paar dae later.
    Ons was in die kombuis waar sy besig was met die aandete.
    “Ek gaan maar jou kossies vir jou gee en dan gaan klim ek in die bed. Die ander moet maar self sien kom klaar.”
    Sy’t vir ’n rukkie by my op die kombuisbankie gesit. Ek wou nie eet nie en, “toemaar, dit maak nie saak nie,” het sy gesê.
    Sy het bed toe gegaan. Die dae het weke geword. Dokter Martin het met ’n vreemde erns gekom en gegaan.
    “Bid vir my,” het sy gesê terwyl ek haar hare streel.
    Ek was nou die een wat haar gerus moes stel en ek het nie van die omruiling van rolle gehou nie.
    Sop, vleis, jellies, boboties en allerlei tuisgebak het voortdurend by ons huis aangekom. Die draers van die eetgoed het bekende gesigte geword. Onder die bekwame leiding van mevrou Viljee is daar goed gesorg vir die gesin wat so swaar getref is. Sy het haar werk geken, maar daar was ’n leemte binne-in my wat nie deur die kosvoorraad gevul kon word nie. Ek was nog te jonk om net deur goedhartigheid getroos te word en die geskenke van die mense van Rooikraal en hulle gebede kon nie die behoefte aan my ma se arms stil, of my ma se liefde vervang nie.
    Die tyd het verbygegaan. Ek het baie agtermiddae verlore en verlate op die stoepbankie gesit en wag vir my ma om gesond te word. In die glimmende hitte het gedaantes van weldoeners verby my gesweef. Ek het my oë styf toegeknyp om nie die neerdrukkende meegevoel op hul gesigte raak te sien nie.
    My pa se gehuil het my wakker gemaak — aaklige, hortende snikke van ’n man lank gekondisioneer om nooit te huil nie.
    Die geweeklaag van my broers en suster het uit die donker opgeklink.
    Rondom my was ’n ontstellende orkestrasie van smart vinnig besig om vorm aan te neem in die pikswart nag.
    In my bed het ek myself so klein en onopsigtelik as moontlik probeer maak en met my bene opgetrek tot onder my ken het ek toe-oë geveg teen die wakkerword.
    Net my ma sou my kon help om die finale onderskeid tussen skrikwekkende droom en nog skrikwekkender werklikheid te maak. Net sy sou my gerus kon stel. En in die donker wou ek wag tot my ma my kom wakker maak.
    Sagter stemme het dofweg deurgedring:
    “Hoe gaan dit met die ou kleintjie?”
    “Kyk, sy’s nog vas aan die slaap. Laat haar tog maar slaap, die arme ou bloedjie, die ma se oogappel.”
    ’n Deur is toegetrek en die donker van die vreeslike nag, wat nog lank sou duur, het om my toegesak.

*
“Kom saam, my kind, jy kom vir ’n rukkie by ons kuier.”
    Mevrou Viljee het my kom haal.
    Nog steeds vasgevang in my eie skemerwêreld waar werklikheid net op die rand van bewussyn huiwer, kon sy my lei waar sy wou.
    Op die houtbruggie het sy my hand in hare geneem.
    Op die skoolterrein het grys gedaantes lusteloos in die hitte van die speeltyd in stowwerige groepies rondgedraal. Hier en daar het gesiglose figure in die klein koeltekolle van die peperbome neergehurk.
    By die roostuin verby het daar, soos ’n landskap wat geleidelik duideliker omlyn word deur die eerste lig van die vroeë môre, ’n beeld in my geheue vorm begin aanneem: dit was my ma met haar fyn voilerok waarop kolletjies kleur verander in verspreide bossies blomme; die ligkring om haar mooi gesig was haar blonde hare wat ligglansend op haar skouers losswaai en in die prentjie wat aldeur duideliker word, het haar oë afgekyk om gerusstellend in myne te lag. Ek kon nie ’n tree verder loop nie. Ek het my hand losgeruk uit mevrou Viljee se hand.
    Rondom ons het dorpsgeluide skielik deurgedring: in die verte het die gelui van die skoolklok die speeltyd beëindig en die gekreun van die windpompe was digby my ore. Die son het warm op my arms gebrand en mevrou Viljee se rok was van skelblou sy.
    In die skroeiende Namakwalandse somerdag was daar geen teken van my ma nie.
    Ek het die verskriklike implikasie uiteindelik begryp. Met toegeknypte oë het ek desperaat probeer om weer die gevoelloosheid van my vorige gryswêreld te skep, maar die vreeslike verdriet het reeds oorgeneem en pyn het later sy eie verdowing geword.
    Toe ek weer van mevrou Viljee bewus word, was haar arms om my en die blou sy was nat teen my gesig. Mevrou Viljee lei my toe meewarig, maar met ’n ferm hand die roostuin in.
    Soos iemand wat lank siek was en huiwerig vir die eerste tree, het ek haar wankelrig van roosboom tot roosboom gevolg. In haar welluidende stem het sy die vreemde roosname soos trooswoorde geïntoneer. Rondom ons was die geur van rose ’n soet lafenis.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.