SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Hennie Aucamp se tweede verslag
André P Brink se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Kranskop

François Loots

Die teerpad pyl deur grysbruin vlaktes, keer op keer oor ’n plat horison. Nou en dan ’n naambord, Wagenhout en Dassiesfontein. Enkele windpompe, ’n plaasopstal omring deur groen bome naby die teerpad. Vir my stadsoog het Oubaas se wêreld ’n leemte, maar aan die besluit om weg te kom, twyfel ek nie vir ’n oomblik nie.
    By die laaste dorp voor die afdraai na die plaas toe, stop ek by ’n kafee. Ek koop ’n Coke en vandag se koerant en loop lees-lees na my Uno toe. Nog ’n plaasmoord op die voorblad. Dié keer van ’n Christiana-boer, met die moordenaar wat uit die dorp se gevangenis ontsnap het.
    Met die hoofstraatjie langs is daar skaars winkels. ’n Algemene handelaar, ’n slaghuis, net die nodigste. ’n Fel son en droë hitte hou almal binne. Soos ek dorp uit ry, wonder ek waar iemand op vlug skuil.

So verlate het ek Oubaas se wêreld, ook dié van my vroeë kinderjare, nie onthou nie. Nadat my ma met my stad toe getrek het, het ons min of meer met hom kontak verloor. Sy Oubaas-naam, so deur die plaaswerkers genoem, het wel in my geheue sement.
    Hy’t my verlede jaar uit die bloute gebel. Sy vrou (tweede) het mediese spesialiste in die stad kom sien en hy wou my oor middagete ontmoet. Natuurlik het ek ingestem. Is hy dan nie my pa nie?
    Die man oorkant my was groot gebou. Grys hare en ’n kortmou hemp, ’n vreemdeling.
    “Ek wil ’n slag sien hoe jy lyk,” het hy gesê.
    Ek het gewonder wat hy werklik van my dink: haarjel, sonbril, ’n Italiaanse hemp. Op soek na ’n kenmerk van myself het ek sy gesig bly verken.
    “Wanneer kom kuier jy? wou hy weet,” “ek het al soveel keer gevra.”
    Hy het, maar om te gaan kuier op ’n verlate plaas, by ’n ou man wat ek nie ken nie — buitendien my pa? Weens ’n onderlinge ooreenkoms met my ma het ek sy uitnodigings bly ignoreer.
    “Jy kan maar jou maat ook saambring,” het hy geglimlag.
    Ek het besef dat hy weet, maar sy openlikheid het my eerder verleë gemaak. Moes ek hom sê dat ek al weer in ’n verhouding is waar ek hom begin verneuk het?

Oubaas se oproep eergister uit Bloemfontein het my goed te pas gekom.
    “Ek weet nie wie anders om te vra nie,” het hy eers verduidelik. Hy’t met sy vrou hospitaal toe gejaag en wou weet of ek hom met sy plaaswinkel kan help.
    Met nóg ’n verhouding finaal op die rotse het ek dit skaars oorweeg. Dis elke keer dieselfde: ek bly na ander mans kyk. Kort voor lank is my kooi uit beskuldigings gemaak en vertroosting tel ek op straat of in ’n kroeg op. Vasberade om myself nie weer dieselfde skuld op die lyf te jaag nie, wil ek ’n slag alleen wees en oor die pad vorentoe besin.

Vroegmiddag is ek by die naambord: Kranskop. Na ’n halfuur se grondpad kom ek by die opstal aan.
    Oor die werf kom ’n Great Dane blaffend na my toe gehardloop. Ek staan stil sodat hy met my reuk vriende maak. Dan volg hy my as ek eers om die huis loop.
    Die bome om die huis waarin ek as kind geklouter het, voel nou skaars hoër as ek. Aan die huis se voorkant gee ek ’n onwillekeurige glimlag. Die huis is op ’n krans gebou en die voorstoep kyk oor die Gariep uit: ’n tydlose vloei wat my stadskooi opeens nietig laat voel.
    Soos afgespreek kry ek die agterdeursleutel onder ’n werfklip. Op die kombuistafel lê ’n boodskap van Oubaas: Hamlet, die Great Dane. Winkel, voorraad op die dorpswinkel, geldtrommel. Lukas. Lukas? Die gewere.
    Groete, Jou pa.
    My pa.
    Die huis is vol herinneringe. Die eetkamer, die sitkamer wat oopmaak stoep toe. Waar Oubaas se studeerkamer met ’n groot brandkluis was, is nou ’n sonkamer. Orals is ’n nalatigheid sigbaar. ’n Lagie stof oor die eetkamertafel, ’n leeslamp sonder muurprop, ’n kasdeur wat met ’n draadjie toegemaak word.
    Ek gaan by Oubaas-hulle se slaapkamer in. Die brandkluis is hiernatoe verskuif. Onder die dubbelbed kry ek die winkelsleutel en geldtrommel. Langs dit lê ’n kort spies. Ek trek dit uit en kyk oor ’n blinkgeslypte punt na die deur en wonder weer waar iemand op vlug skuil.
    Gang af maak ek die deur van my ou slaapkamer oop. ’n Enkelbed met ’n blokkieskombers: maar ... nou is hier ’n werkstafel en ’n naaldwerkmasjien. Waar ’n prent was van ’n kind wat ysskaats, is nou ’n spieël met rokspatrone teen die rand vasgedruk.
    Met Hamlet op my hakke loop ek oor die werf. Langs die waenhuis is die buitekamers in ’n plaaswinkel omskep. Die deur het ’n swaar slot.
    Binne is dit donker, die lug ’n muwwe gemmer en Surf. Hamlet ruik al om die toonbank. Kartonbokse met voorraad: sardiens, sopsakkies, Simba, Ace, Boxer. Sommige is feitlik leeg. Onder die toonbank samboksalf, Panado, gis, batterye.
    Ek wonder wat iemand op vlug eet.

Laatmiddag stap ek en Hamlet met ’n voetpaadjie krans af. By die rivier bly hy in die vlak water terwyl ek diep in swem. Die water se bolaag is lou en telkemale duik ek diep in. Elke keer as ek asem skep, hoor ek hom opgewonde blaf.
    Dan hoor ek iemand van bo op die krans skree: “Winkeeeeel!”
    Drie kinders wag my op die werf in. Een hou ’n stukkie papier na my toe uit:
    klein koffie
    1 groot syker
    klein waspoeir
    Sheensryt
    “Wat is Sheensryt?” vra ek.
    Al drie staar my aan.
    “Van waar is julle?” vra ek die kind wat my die lysie gegee het. Hy’s kaalvoet, ’n kortbroek en T-hemp.
    “Die besproeiing, Ouba ...” maar dan bars hy uit van die lag.
    “Ons het die kar gesien,” sê ’n ander wat ook ’n lysie het, “toe stuur onse Ma-goed ons.”
    “En Sheensryt?”
    “Hare-goed, kleinbaas.”

Vroegaand dra ek die radio voorstoep toe. Ek gaan sit op die stoeptrappies en Hamlet kom lê langs my. Met die son onder, klim ’n koelte vanuit die rivier teen die krans op en omsingel die huis. Stroomaf word die rivier deur ’n besproeiingsaanleg se ligte omring.
    Terwyl ek op die radionuus wag, lees ek weer deur Oubaas se boodskap.
    Kuier by Lukas.
    Sluit die deure. Gewere in brandkluis.
    Ek sal bel.
    Groete,
    Jou pa
    Ek frommel die papier op, van gewere weet ek in elk geval niks nie. Ek lê agteroor, my kop op Hamlet se rug. Groete, Jou pa. Ek onthou weer die prent in my kamer as kind; die seuntjie met ’n rooi serp wat ysskaats, en wonder waar hy dié weggegooi het.
    Verbaas kom ek regop te sit. Ek het hom en sy plaas jare lank vermy. Hoekom vir hom dan nou ’n kinderprent voorhou?
    Oor die nuus word gesê dat die moordenaar steeds op vlug is. Ek kyk oor die rivier, noordoos. Tussen drie en vier uur se ry tot waar die moord plaasgevind het, skaars twee dae te voet.

In die nag word ek wakker. Die hitte het my in sweet toegedraai. Ek staan op en in die badkamer skep ek koue water oor my. Ek loop deur die huis en wens ek kon buite slaap.

By die dorp se algemene handelaar wag ek in die winkeldeur terwyl hulle my bestelling op Oubaas se naam pak. ’n Polisieman loop vraend op my af: “Oubaas de Wet se seun?”
    “Dis reg, ja.”
    “Pieterse is die van, konstabel Pieterse.” Hy’s jonk, skaars twintig. “Ek het nie geweet Oubaas het so ’n groot seun nie.”
    “Hy’t my gevra om vir ’n paar dae op te kom. Oor sy vrou.”
    “Het jy nuus?” vra hy.
    “Nog niks gehoor nie.”
    Hy’t sy blou kep afgehaal en draai dié om en om in sy hande. “Ek wil eintlik met jou oor die winkel praat,” beduie hy na die stapel winkelgoed.
    “Oubaas de Wet se winkel?”
    “Die besproeiingsplase langs die rivier af het baie verkeer. Mense weet van die winkel, en die Oubaas is oud.” Nou hou hy die kep stil en kyk my hoopvol aan. “Ek bly hom vra om die winkel toe te maak.”
    Ek frons omdat ek skielik verantwoordelik word vir Oubaas se veiligheid. “Ek sal met hom daaroor praat,” sê ek nietemin.
    Hy self frons, asof ek nie die erns van die saak besef nie.
    “Sluit maar jou deure,” raai hy my aan soos hy sy kep weer opsit. Voor hy wegloop, voeg hy by: “Ons het nie genoeg petrol om uit plase toe te ry nie.”

Op pad terug plaas toe vervies ek my oor die lot van Oubaas se winkel wat op my skouers gelaai word. Ek wou alleen wees, maar word nou opnuut in mense se lewens betrek. Ek stop en klim uit. Die lug is droog, die son verblindend, die veld stil.
    Dis my pa se veiligheid, stry my gewete.
    ’n Pa wat ek nooit gesien het nie, stry ek terug. Dis sý lewe.

By die opstal wag ’n middeljarige man my in. Plooie laat hom oud voorkom, ouer as wat sy gespierde arms verraai. Hy staan half afsydig, sodat ek eerste moet praat.
    “Winkel?”
    “Flip help Oubaas op Vrydag saam met die winkel,” verwys hy na homself.
    Ek hou my hand na hom toe uit: “François.”
    “Middag Fransie.”
    Hy raak skaars aan my hand.

Na twee ure agter die toonbank kom die winkel tot bedaring. Die vertrek is bedompig en my natgeswete hemp klou aan my vas. Buite staan van die vyftig stuk plaaswerkers wat vir die komende week kom koop het nog en gesels.
    Sommige het my stil aangestaar; gesigsuitdrukkings waarin ek geen emosie kon uitmaak nie. Ander het my verwonderd aangekyk; Oubaas se kind by die eerste vrou. Soos Flip het hulle ook my kindernaam gebruik. Meer as een wou weet of ek vir goed terug is.
    “Nee,” het ek verduidelik, “ek help net solank sy vrou in die hospitaal is.”
    Ek sien hoe Lukas mense groet en na ’n bakkie toe loop. Ek het dié ou man, ’n tingerige lyf en dik swartraambril, nie herken nie. Hy en sy vrou Hanna het in my kinderdae in en om die huis gewerk. Ek het belowe om te gaan kuier by die nabygeleë opstal waar hulle nou bly.
    “Ons kan maar toemaak,” sê Flip. Hy’t ’n boksie goed op die toonbank neergesit en gee my sy weeklikse loon. Ek tel op en gee hom die kleingeld.
    “Konstabel Pieterse,” vertel ek hom, “het my in die dorp gevra dat Oubaas die winkel toemaak.”
    Flip het ’n pak Surf opgetel, sit dit langs sy goed neer en betaal daarvoor.
    “Wat dink jy?” vra ek.
    “Hoe sê Fransie nou?”
    “Oor konstabel Pieterse.”
    “Ek bly nie ver nie,” ontwyk hy my vraag, “bedags is ek in die veld, maar ek sal deur die week kom natlei.”

Ek het die geldtrommel (met ’n goeie duisend) onder Oubaas se bed gelos en weer met die radio op die voorstoep gaan sit, Hamlet langs my. Dis skuins na skemer, koelte klouter die krans op en die donker klim van boom tot boom.
    Ek oorweeg dit om ’n vriend in die stad te bel om iemand ten minste te laat weet waar ek is. Dan besluit ek daarteen. Is ek in ’n verhouding, jaag ek alleenlopers hulle vryheid na; is ek enkeling, wil ek elke tweede vriend ’n minnaar maak, en juis dié moeras van onbetrokke betrokkenheid wil ek vir ’n paar dae ontsnap.
    Op die nuus word gesê dat ’n plaasboer van Wolmeransstad vermoor is, reeds die dertiende dié somer. Ek vryf oor Hamlet se kop en kyk rivier op. Onder drie uur se ry.
    Die telefoon lui.
    “Het jy reggekom?” wil Oubaas weet.
    “Ja.”
    “Het jy die deure gesluit?”
    “Ja,” lieg ek met die agter- en voordeur oop.
    Ek vertel hom van die konstabel.
    “Jy vat nie aan die winkel nie,” antwoord hy kwaad.
    “En met haar?” verander ek die onderwerp.
    “Dit lyk nie goed nie.”

Ek staar teen die plafon vas, tel die laken van die vloer af op en vee die sweet van my af. Weer gaan skep ek koue water oor my in die badkamer.
    Dan sluit ek die voordeur oop. Hamlet kom onder die bome uit na my toe gedraf. Dis koeler buite. Impulsief besluit ek om ’n matras stoep toe te dra.
    Ek lê en kyk na ’n ongelooflike sterrehemel. Hamlet lê langs my op die stoep en met een hand streel ek oor sy kop.

In die nag skrik ek wakker. Ek kyk teen die donker bome vas en wonder waar hý nou is, die Christiana-boer se moordenaar. En die Wolmeransstad-boer s’n. Een of twee, of meer, maar vir my voel hulle soos een en dieselfde persoon en opeens is ek doodseker dat hy bedags skuil en snags verder vlug.
    “Hamlet,” sê ek en kyk om my rond.
    Ek wonder of hy gewapen is, en waar die hond is.
    >“Hamleeet,” roep ek en dink aan die geldtrommel. Nugter weet wat my besiel, want ek spring op en gaan haal die trommel onder Oubaas se bed uit. Ek los dit op die kombuistafel en sluit die agterdeur oop. Nou sal dit vir hom makliker wees, redeneer ek by myself, ek self hoef nie eers wakker gemaak te word nie.

Voor sonsopkoms maak die riviervoëls my wakker. Ek spring op en hardloop kombuis toe.
    Niks.
    Die geldtrommel nog steeds op die kombuistafel.

Hulle wag my op die voorstoep in. “Ek sê vir Hanna,” groet Lukas, “maar wie kom nou hier aan?”
    “Ek glo dit nie,” sê sy. Sy lyk ongemaklik en haar gesig, so raai ek, verklap dat Lukas haar na gister se winkel nie van my vertel het nie.
    “Kan ek maar sit?” gee ek haar die koeldrank en koekies wat ek saamgebring het. Die stoep kyk uit oor ’n droë rivierbed en oorkant dit ’n windpomp, dam en tuin.
    “Dis stil hier,” sê Lukas.
    “Stil ja,” beaam Hanna sy woorde.
    “Saans het ons net die draadloos.”
    “Is so ja.”
    “En warm, Fransie. Dis slang se wêreld die. Ek sit en kyk hulle so van die voorstoep af.”
    Hanna knik haar kop instemmend.
    “Maar slang se kind moet jy los. Hy’s soos ’n geheim; soek hy nie by jou moeilikheid nie, moet jy nie aan hom vat nie.”
    “Nou wat kom soek jy hier?” vra Hanna meteens.
    “Oubaas het my gevra om met die winkel uit te help.”
    “Gaan jy bly?” vra sy, haar oë peinsend op my.
    “Natuurlik nie.” Sy laat my ongemaklik voel en ek probeer die onderwerp verander. “Op die dorp het ’n konstabel my kom vra oor die winkel.”
    Hanna klik haar tong.
    “En wat sal van onse mense word?” vra Lukas, “die besproeiingsboere wil nie een winkel gee nie. Kyk hoe ver is die dorp dan.”
    “Is so ja.”
    “Pieterse sê dis nie veilig nie.”
    “Nee,” stem Lukas saam, “dié wêreld is nie meer nie. Hoor ek in die nag ’n geluid, loop ek sommer in.”
    “Wat sal julle jong mense van onse veiligheid weet?” klik Hanna se tong weer.

Ek loop geïrriteerd deur die huis. Buite skroei die son jou, binne bly Hanna se tong in my gedagtes klap. En die kep waarmee Pieterse aanhou peuter.
    Dan sleep ek Oubaas se gereedskapkas uit die waenhuis, oor die werf en by die kombuis in. Ek deurwerk die huis van een hoek na die ander. ’n Rak word reggemaak, ’n lamp se muurprop aangesit, ’n kasdeur vasgeskroef. Dis die minste wat ek kan doen, het ek besluit, hom só help om sy winkel te behou.
    In die sonkamer skroef ek ’n handvatsel aan ’n laai vas. Trek ek dié oop, kom ek op ’n pak foto’s af. Sy tweede vrou, haar kinders, ’n troue. En ek, wonder ek, noudat ek weer alleenloper is?
    Soos ek die foto’s terugsit, sien ek dit: die prent wat in my kinderkamer gehang het. Ek glimlag en trek dit uit.
    Maar dan frons ek: waar ek altyd gestaar het na ’n seun met ’n rooi serp wat oor sy skouer waai, en my verbeel hoe ek óók wegskaats, kyk ek nou na ’n naïewe europese prent met ’n hele paar kinders.
    Die seuntjie met die rooi serp lyk nou belaglik eenvoudig. Tot my verbasing val ’n tweede met ’n rooi serp my op. Hy leun teen ’n houtleuning langs die baan.
    Ek wou nie soos hy staan en toekyk nie, besef ek, ek wou wegskaats van dié wêreld. Van wat ook al tussen Oubaas en ma gebeur het.
    Ek trek die ander laaie oop. In een kry ek klere. Ek tel ’n wit T-hemp en ’n groen sportbroek op. Te klein vir Oubaas, een van sy tweede vrou se kinders s’n.

Laataand klop ’n man aan die agterdeur. Hy soek winkel. Ek kan sien hy’t vroeg begin kuier en ek voel ongemaklik. Ek help hom gou weg, maak seker dat die voertuie gesluit is, skakel die werfligte aan en sluit die agterdeur.
    Op die stoep bly ek onrustig teen die donker bome vaskyk. Ek wys die radionuus van die hand, maar dit help nie, want ek bly myself bangpraat. Het hy een keer vermoor, vermoor hy weer.
    Mooipraat sal nie help nie.
    Meteens ís ek skytbang en gaan in. Die huis is warm en ek smag na die koeler lug buite.
    Dan vererg ek myself. Oor ek blindelings verhoudings aanknoop en myself nie in toom kan hou nie, oor ek wou wegkom en ingestem het om op hierdie godverlate krans te kom sit. En met die afstand tussen vererg en verwyt skaars ’n myl, vloek ek opeens sy blerrie winkel en die donnerse geldtrommel uit.
    Het hy eers een keer vermoor ... stook jy vrees aan, raak hy geniaal, sodat ek besluit om die onkeerbare te bespoedig.
    Ek gaan vinnig te werk. Die winkelslot laat ek oophang, die voertuie word weer oopgesluit, agterdeur oop, geldtrommel en sleutel op die kombuistafel. Net die gewere in die brandkluis bly gesluit.
    My matras sleep ek ’n ent weg van die huis af onder die bome in. Ek lê en kyk deur die takke na kolle sterrehemel terwyl ek elke geluidjie fynkam.

In die nag raak ek telkemale wakker. Elke keer lyk die kolle sterrehemel anders, een keer hoor ek Hamlet naby my snork, maar nie een keer het ek die moed om op te staan en te gaan kyk of iets al weg is nie.

Hamlet blaf my vroeg wakker. Ek spring op en hardloop kombuis toe.
    Niks nie. Die trommel steeds op die kombuistafel.
    By die winkel sien ek dat die slot toegedruk is. Nou besef ek dat die kombuisdeur, gisteraand oop, vanoggend ook gesluit was.
    Ek stap deur die tuin. Die bome is nie natgelei nie, so Flip kon dit nie wees nie. Ek staar oor die droë vlakte agter die huis. G’n siel in sig nie.

Vir twee dae werskaf ek in en om die huis en gaan swem. Ek voel kriewelrig, want dis asof ek gedurig dopgehou word, deur wie weet ek nie. En ek mis die stad, en die gerusstelling wat ’n man se liggaam bied.
    Bang wys ek steeds die nuus van die hand. Saans sluit ek wel die kombuisdeur, los egter die geldtrommel op die tafel. Snags lê en wag ek onder die bome.
    Op ’n klimaks, ’n verlossing.
    Soggens spring ek op en hardloop kombuis toe.
    Niks nie, die geldtrommel nog altyd oop en bloot.

Oubaas bel. Ons gesprek is kort en saaklik. Dis nie meer lank nie, hy beplan die begrafnis uit Bloemfontein.

Ek soek geselskap en ry in die aand met Oubaas se bakkie na die dorpshotel toe. Die kroeg is redelik vol, mans en vrouens teen die toonbank. ’n Groepie mans sirkel om ’n ou snoekertafel. Een van hulle loop my tegemoet.
    Ek herken hom nie onmiddellik nie, konstabel Pieterse met ’n bier in die hand. Noudat hy nie in uniform is nie, raak ek van hom, van sy liggaam, bewus. Hy’t breë skouers, maer heupe en dra ’n helse knap kortbroek.
    Hy hou sy bottel hoog in die lug op, slaan die ander hand op die toonbank en skree vir nog twee. Een word in my hand gedruk. Hy daag my uit om dit op een slag uit te drink.
    Ek vind die kroeg se lawaai aanloklik en wil nie ’n gek van myself te maak nie — maar oor Pieterse skierlik vrek mooi is, wil ek sy game speel en maak soos hy sê. Ek lig die bottel op en gee groot slukke wat in my keel af gis.
    “Dis die Oubaas,” skree hy na die mans om die snoekertafel, “die Oubaas se oudste seun.”
    Ek verstik, hoes bier oor die toonbank uit, voel hoe sy woorde onder in my maag draai en hardloop reguit deur toe.
    Op die sypaadjie kots ek die skok van sy woorde uit. Oor ek nie rigting weet nie, spring in die bakkie en jaag die dorp uit.

Ek draai van die pad af, ry blindelings die veld in en stop langs ’n boom. Ek klim uit en onthou die prent in my kinderkamer. Dit voel my asof ek al die jare selfbehep net één seun, myself, raakgesien het, maar nooit die mense om my nie.
    Opeens het ek ’n onverklaarbare gevoel van verligting en stap ver deur die donker veld.

Douvoordag klop ek by Lukas en Hanna. Niemand antwoord nie en ek maak die voordeur oop. Ek loop deur ’n karig gemeubileerde sitkamer, verby ’n eweso leë slaapkamer. In die tweede slaapkamerdeur aarsel ek en kyk na dié kamer se muurplakkate van rugbyspelers en popgroepe.
    Buite stap ek na die groentetuin toe. Hanna is aan die spit in ’n akker. Sy moes my hoor kom het, selfs die huis sien ingaan het, maar ignoreer my steeds.
    “Hoekom het julle my nie van hom vertel nie?” vra ek prontuit.
    Sy bly afkyk na die graaf wat behendig al om mielieplante spit en ek hoor ’n voertuig die huis nader.
    “Hanna!”
    Sy steek die graaf in die grond en vee haar hande oor haar voorskoot. “Ons soek jou nie hier nie. Hy’t net soveel reg op Oubaas se grond as jy.”
    “Maar dis nie waaroor dit gaan ...”
    “Hy gee eerder vir Oubaas kleinkinders as jy,” onderbreek sy my.
    “En jy’t g’n reg om my te staan en voorskryf oor hoe ek moet lewe nie,” sê ek vies.
    Sy lig haar hand op en wys met ’n kwaai vinger na my. Die voertuig wat na die huis toe aangery kom, laat ons egter van mekaar wegkyk en in stilte wag. Hoekom weet ek nie. Oor albei besin wat ons nou te doen staan? Haar seun, my broer? Halfbroer? Ek dog ek is alleenkind. Was.
    Dis Lukas. Hy ry by die huis verby en stop langs die dam.
    “Ag nee, Fransie,” berispe hy my soos hy uitklim, “skaam jy jou nie dat jy die werf aanhoudend so staan en ooplos nie. Ons kan mos nie alewig agter jou kyk nie.”
    Hy draai na Hanna toe: “Oubaas is op pad. Môre is die begrafnis.”

By die huis pak ek my tas. Ek besluit om, eerder as om oor ’n halfbroer te sit en tob, my laaste dag in die rivier deur te bring.
    Ek loop ver teen die rivier op, dryf met die stroom af en swem later na ’n groot eiland toe. Vir ’n rukkie lê ek met my lyf in die water en my kop op die sandwal. Dan staan ek op en volg ’n nou voetpaadjie tussen die riete oor die eiland.
    Meteens gaan staan ek doodstil.
    Pieterse sit met sy rug na my toe en sy voete in die water. Ek glimlag: sy glansende swart krulhare. Opgewonde dink ek aan Carravagio. ’n Lang nek. ’n Blas vel wat oor sy gespierde skouers en bladbene teen sy rug af span. Sy ruggraat val my op, hoe dit afhobbel tot by sy stuitjie. Dié is ligter.
    Meteens kyk hy om.
    “So môre is die groot dag,” sê ek onkant gevang, “ek bedoel die begrafnis.”
    Hy duik die rivier in, sy groen sportbroek in sy hand.

Ek kry Oubaas op die voorstoep. Hy lyk moeg. Daar is bottels en glase op die tafel.
    “Ek is jammer oor die nuus,” groet ek.
    “Ons het dit verwag,” sê hy, “hier’s koeldrank.”
    Ons sit vir ’n oomblik in stilte.
    “Ek was bang alleen,” sê ek dan eerlik, “met al die plaasmoorde. Miskien het ek dom opgetree.”
    “Daar’s so baie,” sê hy, “dat ek self nie meer kan telling hou nie. Klasie was nou net hier. Hy sê hulle’t die Christiana-boer se moordenaar op vlug geskiet.”
    “Ek is bly Oubaas ... ek bedoel Pa het iemand om na Pa te kyk.”
    Hierop antwoord hy nie, en meteens voel ek kwaad oor ek al die jare in die donker gehou was. “Hoekom het julle my nooit gesê nie?”
    “Ter wille van jou ma.”
    “My ma?”
    “Sy kon my nooit vergewe nie en wou niks met Klasie te doen hê nie. Selfs sy naam mog nie eens genoem word nie.”
    “Is dit hoekom sy padgegee het?”
    Hy knik sy kop instemmend.
    “Maar hoekom is ek nooit vertel nie?”
    “Ek wou jou vertel. Nie daar waar jou ma enige noem van hom en Hanna verbied het nie, maar hier op my eie werf. Ek het jou keer op keer uitgenooi.”
    Hy het.
    “En nou?” vra ek sonder om dit as vraag te bedoel, “ek dink nie mense wil juis iets met my te doen hê nie.”
    Hy antwoord wel. “Om verstaanbare redes. Mense is kwaad. Jy moet hulle ’n tydjie gee.”
    “Ek ry môre na die begrafnis terug,” antwoord ek teësinnig en staan op.
    “Ek het gedog jy sal verstaan,” sê hy, “oor jy anders is.”
    Ek bloos en kyk hom vir ’n oomblik vraend aan. Dan glimlag ek sku en gaan sit weer. Ons sit in stilte en kyk oor die tydlose vloei.

Ek sien Klasie, konstabel Klaas Pieterse, eers weer die volgende dag, net na die laaste gebed toe mense in klein groepies van die graf af stadig na die motors toe loop. Hy staan eenkant, onder die sipresbome.
    Ek loop na hom toe. Sy bruin oë vermy opsetlik myne. Ek hou my hand na hom toe uit.
    “Ek wou net groet, voordat ek ry.”
    Hy kyk wantrouig na my hand en vermy steeds my oë.
    Ek bly hou egter my hand voor hom uit.
    Moontlik uit pligsgetrouheid teenoor Oubaas vat hy kortliks aan my hand terwyl hy opsetlik oor my skouers kyk.
    Hy sê wel iets. Maar omdat ’n stootskraper meteens te voorskyn gekom het, haastig om die graf toe te grawe en die dag se werk agter die rug te kry, kan ek nie ’n enkele woord hoor nie.
    Dan draai hy om en loop weg.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.