SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Gisteraand

Susan Samuel

Toe hy uitstorm, slaan hy die deur so hard agter hom toe dat sy vir ’n oomblik verwag hy gaan terugkom en om verskoning vra daarvoor. Maar buite in die gang klap sy voetstappe en die veiligheidshek by die voorportaal word met nét so ’n lawaai toegegooi.
    Soos gewoonlik begin sy huil en sy aanvaar dit gelate. Sy kyk na die goed ingerigte woonstel rondom haar en wonder hoeveel keer sy dit nog so deur die trane gaan sien. Sy wonder dit altyd wanneer sy huil. En die gedagte aan hierdie gewoonte laat haar sommer nog harder huil.
    Uitgeput sit sy later op die rand van die bed. Dis net mooi donker buite en die lug begin nou eers afkoel. Die waaier op die lessenaar blaas elke paar sekondes koud in haar nek. Sy dink aan sy hande en hoe breed sy palms is, die fyn haartjies op sy kneukels.
    Sy verbeel haar hy kom terug en gooi die deur oop en vertel haar woedend dat hy dit nie kan vát om haar ongelukkig te sien nie. Dat hulle die storie nóú moet uitsorteer, want hy kan nie konsentreer as dinge nie lekker is by die huis nie. Sy sal opstaan van die bed af en hy sal haar hare uit haar oë lig en agter haar ore indruk en hy sal haar trane afvee met sy groot growwe duim en sê dat sy werk maar kan wag, dat hy vanaand by die huis sal bly.
    Maar die gang bly stil en sy weet hy gaan ten minste deur die nag moet werk — hy hét dit vroeër mooi aan haar verduidelik — en in elk geval, as hy eers op sy werk konsentreer, gee hy nie ’n dônner om hoe dinge rondom hom is en wíe gelukkig is of nie. Sy wens sy kon haarself ook so afsny, so selfvoldaan. Miskien sou haar punte dan beter gelyk het.
    Sy staan op. Haar badwater is al seker yskoud. Dammit! Êrens het sy lelik opgefok. Miskien was die kamerjas ’n bad move. Alhoewel dit nogals sexy en silky is en alles, lyk sy seker soos ’n nagging housewife wanneer sy met haar los hare en brillose oë met hom stry. Dis net in flieks waar mans skielik oorweldig word deur liefde wanneer hulle hul vrouens só sien. Of in boeke. Dit werk nie in hiérdie flat nie.
    God, sy’s net een-en-twintig jaar oud. ’n Mens behoort mos nie nou al agter te kom dat die res van jou lewe gaan suck nie. Hy gaan mos nooit verander nie, sy weet dit. Hy’s dan die rasionele een, die een met die geduld, met die antwoorde. Sy sien al die ontelbare aande alleen êrens aan die wag vir hom terwyl hy sy brilliant mind dryf tot nuwe hoogtes. En soos een of ander addiction is dit too hard to contemplate anything else.
    Sy klim in die koue water en gaan lê onmiddellik plat op haar rug met haar bene effens gekruis. Die koue loop by haar ore in en sy ril. Sy sit regop en maak die warmwaterkraan oop. Dis eers koud, maar word geleidelik warm. Sy voel hoe die warm water by haar voete opdam en stadig opbeweeg met haar bene, heupe, onder haar boude in, haar rug en arms, en uiteindelik haar koue nek. Haar kop dryf soos ’n haweboei op die water. Toe die eerste warm water haar ore bereik, brand haar voete so dat sy maar die kraan toemaak. Die water is sentimeters van die bokant van die badrand af.
    Sy voel asof sy in iets groters is as ’n bad in ’n flat op ’n dorp, maar kleiner as ’n baarmoeder. Miskien is dit ’Jorik se Baaierd’ hierdie. Dit was nog altyd vir haar so ’n mooi woord dat dit lekker is om dit op te eis vir ’n experience van haar eie. Háár baaierd.
    Miskien moet sy net uit hierdie flat uit kom. Sy moet nou gaan mooi aantrek en grimeer en dan sommer na ’n pub of ’n ding gaan. Verbeel nou sy kom daar aan en tel een of ander dude op en bring hom huis toe, na die flat toe en dan maak hulle liefde, sommer sulke lelike sapperige morserige liefde dat die hele flat daarna ruik. Daarna moet hy net verdwyn, en soos ’n hond die reuk van sy lyf daar los.
    Jirre, dan sal die kak darem waai! Wanneer hy huis toe kom, sy wonnerlike werkstuk waarvan sy al so baie gehoor het uiteindelik klaargetik en geprint, sal al die geordende gedagtes in sy kop sommer uitmekaar skiet wanneer hy haar so op die bed sien lê. Dan moet sy aan die slaap wees en hy moet langs haar gaan sit en vir haar kyk totdat sy wakker word. Al is hy hoe moeg, moet hy langs haar kom lê en haar vashou en as sy begin huil moet hy sê ek verstaan ek verstaan. Hy moet laat sy alles uitpraat en hy moet die hele tyd luister en saggies aan haar gesig vat, haar ore, neus, kakebeen. Dit moet lyk asof hy dit vir die eerste keer raaksien, sy blou oë moet nooit wegkyk na iets anders, interessanter en mooier nie. Uiteindelik sal hy aan die slaap raak sonder om haar een keer te los, sy mond wat soms ’n granietlyn is, sal slap wees en sy wimpers skaduwees teen sy wang.
    Sy hoor skielik sleutels in die veiligheidshek en haar maag gee so ’n ruk dat sy skoon naar is, maar die voetstappe verdwyn in ’n ander rigting en êrens in die blok begin iemand musiek speel.
    Hy’s gatvol vir haar, sy weet dit. Hoe dan nou anders? Sy’t dan netnou so ’n scene gemaak dat geen regdenkende mens nou van plan kan wees om die res van sy lewe met haar te spandeer nie. As hulle tog net soos sommige ander couples lekker kon opmaak ná fights. Maar hulle bakleiery is altyd so ernstig. Hy raak ontsteld oor die dinge wat sy hom toesnou — soms kan sy nie eers haar woorde onthou nie. Partykeer wil sy net skree en al die etter wat so in haar siel opbou, uitkry, waarna sy dit wil vergeet. Hoekom moet sy die heeltyd verantwoordelikheid neem vir álles wat sy sê?
    Sy sug vies. Die idee van die ou in die pub was sommer simpel gewees. Sy gril in elk geval vir meeste mans en dan het die helfte van die mensdom deesdae AIDS ook nog wat sulke uitstappies lewensgevaarlik maak.
    Sy vat die seep en maak ’n dik skuim op haar bene en onder haar arms. Sy wonder hoe dit moet voel om te weet jou bloed is vuil met iets. Kyk jy na die helder rooi en is jy verbaas oordat dit so rooi is, of lyk dit al klaar nie meer vir jou soos rooi nie, maar eerder vuilrooi. Miskien selfs blouerig soos in prentjies waar die ou suurstoflose bloed blou geteken word.
    Háár bloed is darem skoon, sy weet dit. Sy’t nog nooit saam met iemand anders geslaap nie. Hy’t op sy dag ook nou nie só vreeslik rondgenaai nie. Sy maak ’n klein snytjie op haar arm met die skeermes. Bloedrooi bloed sypel stilletjies uit en vermeng met die klein haartjies op haar arm.
    Verbeel nou hy kom by die huis en daar lê sy bleek in die bad met die water wat so ’n skoon dun rooi kleur is. Hy raak nog naar ook van bloed, maar hy sal haar naam skreeu en nader storm, sy tas met boeke net so in die deur los en hy sal haar uittel, haar nat hare uit haar gesig vee en agterkom dat sy nog lewend is en dan sal hy haar met komberse toedraai en soos ’n veertjie oor sy skouer lig en haar afdra kar toe en hy sal oor en oor jammer sê oor hy so van haar vergeet het en hy sal selfs huil. En by die hospitaal sal hy weier om haar hand te los en die susters sal hom moet paai en hy sal die hele nag by haar sit.
    Maar sy is maar taamlik dik in die boud — die winter was nog nooit goed vir haar nie — en hy sal tien teen een met haar die trappe afval, indien hy nie reeds uitgepass het nie. En in elk geval het hulle nie ’n kar nie.
    Sy maak nog ’n snytjie in haar arm. Die bloed loop af en gaan lê in die ander snytjie voordat dit opdam en oorloop en in die bad begin drup.
    Sy’t êrens gehoor dat ’n mens jou pols vertikaal moet sny, anders soek jy net aandag. Miskien moet sy sulke skuins strepe sny, sodat dit darem nie heeltemal lyk soos aandagsoekery nie, maar ook dat sy darem net nie doodgaan nie. Net laat hy skrik. Die jirre weet, hy verdien dit.
    Sy kyk op haar horlosie langs die bad. Halftwaalf. Sy lê al vir meer as ’n uur in die bad. Sy kyk na haar vingers. Soos kleine berge en dale. En oral is my god.
    Hy sal nie die hele nag kan deurwerk nie — hy’t dit dan nog nooit gedoen nie. Op die laatste sal hy seker so eenuur se kant terugkom so sy kan nie nou al iets doen nie. Sy besluit om te wag tot halfeen. Hoe lank vat dit vir iemand om leeg te loop? Met kleinerige snytjies sal dit seker so twee ure vat. So ’n halfuur is genoeg tyd dat hy nie eers hospitaal toe sal hoef te hardloop met haar nie.
    Sy kan nie glo sy dink aan so iets nie, maar hoe meer sy daaroor wonder, hoe interessanter word die idee. Dis ook nie só outrageous nie en in elk geval taamlik veilig. Wag tot halfeen.
    Die water raak al hoe kouer, maar sy wil wag vir die regte tyd voordat sy weer warm water intap. Sy sal eers die ander water moet uittap — die badkamermatjies het sy juis laasweek gewas en alles.
    Halfeen breek uiteindelik aan en sy is so opgewonde dat sy skaars kan stilsit. Sy vat die lem uit sy skeermes uit — sy lemmetjies is altyd aansienlik skerper as hare — en maak ’n piepklein snytjie skuins oor haar pols. Niks noemenswaardigs gebeur nie. Nie eers ’n bloeddruppel nie. Seker van die koue. Sy maak die snytjie effens groter. Steeds niks. Of course. Sy moet obviously oor die aar self sny. Die skuins streep verleng sy effens totdat dit oor die aar gaan. Nou die ander pols. Die eerste een bloei nou beter, en sy maak omtrent dieselfde grootte sny op die ander pols. Nou moet sy seker net wag.
    Sy voel skielik skuldig en skrikkerig, maar dan dink sy aan alles wat hy gesê het en en die afkeer waarmee hy gepraat het, sy fletsende oë, toe hy gesê het hy hoop nog altyd dat dit ’n fase is waaruit sy sal groei. ’n Fokken fase! Hy dink in elk geval nou bôggerol van haar, dit kan sy sien. Hy wonder seker hoe hy in die situasie van flat-en-vrou-en-moan-moan-moan beland het. Hy moet só teleurgesteld wees in haar, in homself oor sy keuse.
    Sy laat ’n bietjie van die koue water uitloop en daarmee saam ’n bietjie van die bloed, wat die bad so ’n ligte rooi kleur begin gee. Dan tap sy nuwe skoon warm water in en voel weer hoe dit soos ’n kombers oor haar spoel en vasdraai rondom die twee klein snytjies in haar arms. Sy voel vir die eerste keer ’n effense klopping daar en wonder of die snye nie te groot was nie, maar die water maak haar so rustig en dis al amper eenuur. Sy wag.
    Sy voel hoe sy vaak word en die slaap glip soos die warm water in en uit rondom haar lyf. Net haar neus en oë steek bokant die water uit en sy kyk af na haar maag, tieties en knieknoppe wat net net onder die water wegraak. Haar oë val toe. Die pienk van haar ooglede flikker-flikker en sy wonder of dit al besig is om leeg te loop. Sal haar ooglede dan wit word van binnekant? Sy luister en luister, maar die veiligheidshek bly toe. Vir veiligheid.
    Hy’s laat. Hy werk nie gewoonlik so laat nie. Wat van môre se klasse en als? Haar gedagtes begin dwaal en sy dink aan wat hulle môre in die klas gaan sê as hulle hoor sy is in die hospitaal. Sensitief soos wat hy is sal hy seker vir niemand vertel dat sy haar polse gesny het nie. Dis ook seker goed so.
    Sy wonder of hy nou ná die tyd by haar gaan bly en of hy gaan besluit dat hy nie ’n mal chick wil hê nie. Hy’s taamlik ’n ou goody-goody en sal dit miskien sy mission maak om haar te “bekeer tot die lewe.” Sy lag. Selfs hý sou daardie een geniet het.
    Maar hy sal skuldig genoeg voel om te bly en in elk geval, as hy eers weet sy voel só ernstig oor die saak en dat sy selfs bereid is om dood te gaan vir hom, sal hy mos besef dat niemand op aarde ooit so lief was of is soos sy nie en hy sal besef hoe baie liefde sy het om te gee en dat sy eintlik maar net sy bewondering en respek en liefde soek ...
    Dis mooi gestel, sy weet. Sy moet tog onthou om dit neer te skryf.
    Haar kop voel swaar en haar oë voel asof dit teruggesak het in haar kop. Sy skrik effens toe sy haar oë oopmaak en die rooi water sien. Dis al amper kwart voor twee!
    Hy sit seker en gesels met een of ander meisie wat saam met hom werk. Soos wat hy altyd met my gesels het, dink sy hartseer. Voordat hy nog enigiets geweet het van haar en net bewondering gehad het vir haar opinies en intelligensie, vir haar unieke kleredrag. Toe hy nie geweet het hoe lyk haar lyf nie, toe hy nie geweet het dat sy kielierig is nie, toe hy nog vreemd was aan haar reuk. Toe die idee van haar wat op ’n toilet sit nie by hom opgekom het nie, toe hy nog nie swartkoppies uit haar ore gedruk het nie. Toe die geluid van haar orgasmes heerlik onbekend was.
    Maar dis nou anders. Hy gesels oor ander en wonder oor ander, want hy weet tog nou alles van haar.
    Sy sukkel om haar oë oop te kry. Sy weet dat daar nou iets nie lekker is nie en sy voel so moeg en haar polse brand nou vreeslik.
    Maar sy wag vir hom om in te kom. Om langs haar neer te val met trane wat oor sy wange loop. Sy wil hoor hoe hy oor en oor sê hoe lief hy haar het en sy onderdrukkende stiltes sal vir eens heeltemal verdwyn.
    Die veiligheidshek bly toe. Die badkamer is skielik koud. Haar wange is koud. Die water is nou nie meer deurskynend nie, maar helder rooi soos purper. Al is jy skarlakenrooi van sonde, hy sal jou wit was soos sneeu. Sy wil lag. Sy lê dan klaar in water en seep. En sy’s steeds rooi. Hy sal haar maar met iets anders moet was. Miskien balsem. Soos met mummies. Of soos met Jesus.
    Dis swaar. Alles is swaar. Sy wil nou net slaap. Hy sal nou huis toe kom. Dis al halfdrie. Hy bly nooit so lank weg nie. Sy hoor die veiligheidshek. Kom die voetstappe nader? Dit klink verder. Dis laat. Hy sal nou kom. Netnou. Alles is nog okay. Hy gaan groot skrik. Hy skrik maklik. Moenie skrik nie, my lief. Moenie skrik nie, my engel. Kyk, ek was rooi soos bloed, nou’s ek wit soos sneeu. Al my sondes afgewas. Al my sondes vergewe. Jy sal ook. Vergewe. Word ... Ek dryf. Alleen. Altyd alleen ... In my baaierd. My eie baaierd. Net myne ... Jy het my nog nooit kom soek nie ... Jy wag altyd vir my, maar jy kom haal my nooit nie ... Kom soek my daar. My baaierd ... Kom haal my daar ...

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.