SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Oor bloed

Santa Topham

As ek nou aan my knie lek, sou die bloed na roes proe, dink die dogtertjie wat in die stofpad langs die oop plaashek sit. Haar oupa sal haar kom haal en terug kar toe dra soos hy altyd maak as sy van die wilde ryery haar greep op die plaashek verloor en haar half disnis val. Hy kom haal haar altyd.

“Moenie op die hek ry nie,” waarsku hy altyd, en sy kan nooit die versoeking weerstaan van nog net een keer nie …

So ’n balhorige klein wetterpen!” raas haar ouma oor die afgedraaide ruit van die geel Zephyr terwyl sy toekyk hoe die oupa die kleindogter terugdra kar toe.

Selfs as kind kon sy aanvoel dat haar ouma reg is. Wat die woord “wetterpen” ook al beteken. Sy het toe geweet, en weet dit nóú – dat wetterpenne ander mense se waarskuwings argeloos oor hulle skouers gooi en balhorig voortgalop wie-weet-waarheen.

Proe almal se bloed na roes? wonder sy toe sy haar neus teen haar oupa se Potter & Moore-wang druk. Haar oupa is die sterkste man in die wêreld en hy hou haar altyd hoog bo die moeilikheid.

As mens oor die spoorlyn Tweeling binnery, is die eerste groot winkel op mens se regterkant die Handelshuis. Die winkel het groot deure, ’n wye stoep, en die binnekant is immer koel. Toe sy ’n klein dogtertjie was, was daardie winkel se deure, toonbanke en die vertoonvensters vir haar meer gewyd as die kerk. Hulle dorpsbesoek het ‘n stip ritueel gevolg: eers die stoep opklim, en dan by die eerste deur in saam met Oupa en Ouma om die kruidenierslysie te gaan afgee. Klokslag is daar vir haar ’n klein nagmaal gekoop van rooi koeldrank en Wilsontoffies. Dit was die tyd toe Sunrisetoffies ook nog volop was, en aan die voorkant van die toonbank was daar ’n groot Sunrise-advertensie vasgeskroef. Nie ’n kartonbord nie, maar verf op blik. Terwyl die familie agter die toonbank gegroet is en skinderstories uitgeruil is, het sy gewoonlik met haar duimnael die skroef aan die een kant van die bord probeer loswoel. Maar Ouma se klap op die onnutsige hand was so geniepsig soos ’n voorslag se byt, en so moes sy gewoonlik onverrigter sake die groot taak opgee. Balhorige wetterpen.

Met die eerste inkope agter die rug, stap die driemanskap weer uit op die winkelstoep. Oupa vooraan, dan ’n dikbek kleindogter, en dan haar ouma wat haar reeds vergeef het en haar strikke vinnig oorstrik. Ouma voel meer vergewensgesind, want hulle is nou op pad na Handelshuis se klein afdeling vir materiaal, knope, kant, lint, garings, ag, alles waarmee haar ouma haar voortdurend tuis besig gehou het as haar kalkoenboerdery se take afgehandel was. Soos klokslag bevoel Ouma omtrent elke rol lap en besluit dan oplaas, soos die vorige keer, op net ’n kardoes wit hempsknope. Winkeltannies se glimlagte is blomme. Sy sien hoe die tannie se glimlag verlep as Ouma net knope koop. Oupa se lag verderaan in die straat is water vir dahlias.

En dan weer uit na Oupa. Die ouma met haar knopekardoes in die hand, en haar kleindogter met ’n groter kardoes, maar vol bont lekkerskerfies.

Die wit strik op die kleindogter se kop is soos twee satynmuisore – kompleet asof Ouma uit die satynlint vir haar groter luistergoed wou bind. Dit het nie veel gehelp nie, want die kleindogter het ’n gewoonte daarvan gemaak om hallelujas te loop en sing op die breë winkelstoep waar Ouma ordentlikheidshalwe nie venynig kon raak nie. Ouma was moordend kwaad oor haar ewige gesing, maar Oupa het dit afgelag met: “Ag, Lief, laat die kind maar God prys.” Maak mos nie saak waar en hoe jy aanbid nie, solank jy net aanbid. Oupa se ore was so groot en pienk soos koejawelskywe, en was net vir die allerbasiese hoordinge aan hom gegee, dink sy. Oupa was doof vir musiek. Arme Oupa. Die Christelike gekrys van Oupa en kleindogter het Ouma se fyn musikale ore liederlik geskaaf. Arme Ouma. Arme Here.

Net duskant die garage het Oupa hulle altyd ingewag. Die garage het ’n toilet met papier gehad, wat vir grootouers en behoeftige kinders ’n noodsaaklikheid was. Dan verder die dorp in. Dalk na die koöperasie, ‘n reukkardoes vol molasses- en goiingsakreuke. Of dalk na die rokwinkel om vinnig ’n patroon van ’n onbekostigbare rok af te kyk, of na die kafee vir tee en dun toebroodjies, of die apteek vir ’n klein botteltjie rooipoeier en ’n groot blik perdesalf.

Elke mens wat hulle teëgekom het in Tweeling se strate was bekend, en is gesoengroet. Haar oupa het die vrouens ge-“double clutch”… Volgens haar ma die term vir drie-vier-vyf maal agtermekaar piksoen. Die dogtertjie se eerste kennismaking met dwangarbeid was die ewige gesoen. Die Gesoendes se bolippe het haar intens gegril. Die een tante met die moesie-soenplek veral het haar telkens tot sulke klem-in-die-kaak-soene gedryf. Later jare het daardie einste tante glo die rykste getrou. Nig Moes se man was egter so lelik soos papbrandsel. “Lelik maar lieflik” het die mooi tantes agter hulle wit handskoene gegiggel en teen hulle arm, mooi mans geleun.

Die dogtertjie was gelukkig om vir die res van die dorpsbesoek te knibbel aan die Handelshuis se beelde. Soos soet fluisteringe was die terugdink, en so, sonder om haar hande taai te maak, het sy die taferele herkou. Die leë kardoes het meestal saggefrommel van die sitplek geval, maar die terugblikke na die Handelshuis se siel het nooit kon wegval nie. Gewaarborgde soetheid.

In die ses-en-dertig jaar weg van Tweeling het sy keer op keer met haar gedagtes in daardie soet kardoes gesnuffel. Die dogtertjie het vrou geword, en oor meer as nerfaf knieë by haar oupa gaan huil. Alhoewel die soet vergrype ander name gekry het en haar seerkry ander vorme, het die bloed roes bly smaak op haar tong. Die balhorige klein wetterpen het net dít gebly, en haar wit hart verkwansel aan ‘n Indiërman. Sonder onderhandeling. Een balhorige ou bloedpompende hart geruil vir ‘n ander. Voetstoots, baie gebruik, gebreek en gelap, maar een darem wit. Dit nou ‘n vrou wie se familie verseg om selfs net ‘n anderskleurige met die hand te groet.

Toe die vrou oor die spoorlyn van Tweeling ry, is dit asof die dorp kleiner, vaal en niksseggend geraak het. Vir ’n stonde is sy verdwaald tussen die topografie in haar hart en die straat waarmee sy aanry na die Handelshuis. Sy sien hoe die wolke soos vet ouderlinge op kerkbanke saampak. Hoe nader hulle skuif, hoe dreigender hulle grommelsang. Dit gaan reën later.

Handelshuis se wye vensters het broeiplek geraak vir rolle helderkleurige lap. Die deure is laer en die stoep is nou smal en stowwerig. Die trappies se hoeke is rondgestamp, en in die stoephoeke is neste dooie blare. Sy wil omdraai, te bang om die herinneringe van haar kinderjare te skend, maar gepor deur die mooi herinneringe stap sy na binne. ‘n Swerm SALE-notisietjies in alle kleure en vorms fladder en maak nes oor en in die deurmekaar uitgestalde ware. Dis asof Handelshuis verval het tot ‘n moeë non met lipstiffie en oorbelle. In oom Smalberger se plek agter die toonbank staan ’n dun Indiërman.

Een of ander wetterpen het toe wraggies die Sunrisetoffiesbord van die toonbank afgekry, dink sy.

Sy koop ’n louwarm rooi koeldrank by die Indiër agter die bordlose toonbank en loop uit. Sy weerstaan die Wilsontoffies. Die koeldrank proe anders. Sy merk dat die rooi skaal wat altyd op die stoep gestaan het weg is. Waarmee weeg die boeregemeenskap nou? wonder sy. Daar staan nou ’n lendelam tafel waarop dun handdoeke en goedkoop horlosies uitgestal is. Die Indiërvrou wat oor die droewe kolleksie waghou, kyk verwytend na die vrou se laerige hals, en vee haar hande oor haar knieë toe haar man hande-in-die-rug op die stoep uitstap.

Haar ouma is jonk dood, en vir ’n ruk het sy en Oupa salig alleen op die plaas gebly. Haar oupa se “double clutchery” het meer gefokus geraak op die naburige weduwees. Sy is koshuis toe gestuur toe haar oupa professioneel begin vry het. Dis toe dat sy begin bednatmaak het. Oupa se prinses se slaapklere stink toe na pie. Oupa het haar nie uit dié skaamte opgetel en weggevat nie. Hy het haar gelos met die nat matras, stink pajamas en moerige juffrouens. Sy kon Oupa van kwaatgeid sommer ophou liefhê! Oupa en die nuwe ouma stap nou lekker van een weglê-nes na die ander, terwyl die pisserige bedremmeling haar eie nat bed moet opmaak. Van ‘n warm ontbytbord met oorhang-witbroodsnye is daar in die koshuiseetsaal geen sprake nie, en die klein blokkies waatlemoenkonfyt sit tog so onvas op die dun, besproete bruinbroodsnye!

Handelshuis was nog ten minste Handelshuis. Die winkeltannie se glimlag was uit die staanspoor swartryp as haar nuwe ouma myle kant en roksmateriaal gekoop het.

Op pad na die koshuis het die vrou heimlik gehoop om geborgenheid te vind in die bekende dinge soos die vyeboom, kweperbos en pers vygies. Maar al bekendheid was die vaag bekende boustyl van die koshuisgebou. Die gebou lyk kleiner, en bot. Beslis nie ‘n Sir Herbert Baker-meesterstuk nie.

Sou mens, as jy mooi gaan soek, in die eetsaal die keep kry aan die deur van die keer toe meneer Lessing al singende daarin vasgeloop het? Hoe verander daardie histeriese insident nou in iets byna heilig? Dis asof haar perspektiewe kantel. Iets soos emosionele beroerte trek ook haar en verlam en verwring alle ervarings. Sy onthou dan nou met téérheid meneer Lessing se geluidlose fluitery wat toentertyd die koshuisbrakke teen die mure wou laat uitklim van irritasie …

Jare nadat sy reeds van Tweeling weg was, het sy gehoor dat tant Nonna Lessing, eens die koshuismoeder, na haar gevra het, en toe het daardie klein groetegebaar haar tot byna-mens laat gedy. Iemand het haar liefgekry sonder dat sy dit geweet het. Sy was daardie tyd al bewus van aalmoesliefde as jou eie skraal voerbak leeggevreet was en jy nog honger had.

Die reën val reguit uit die hemel uit. Daar is geen sin om nou na die motor te hardloop wat nog voor Handelshuis staan nie. Daarom stap die vrou tydsaam met die paadjie by die pastorie verby na haar motor. Dominee Van Niekerk het ’n preek gehad wat hy elke Kindersondag gepreek het. Die preek het gegaan oor ’n seuntjie wat ’n skippie gehad het, die skip verloor, dit toe terugkry as ’n geskenk, en dit teen sy bors gedruk het met die kreet: “Nou is jy dubbeld myne!”

Het sy dalk nou hier kom soek na haar skippie? wonder die vrou en trek die nat rok van haar vet bobene af weg. Sy voel weerloos sonder haar bril. Sy is nat en koud en hartlik gatvol vir dié teleurstellende, bedremmelde dorpie.

Plek-plek is die straat snotglad, en kort voor lank huil sy snuiwend oor haar loop-en-vallery. Sy slaan haar arms om haar lyf en stap stadiger. Soos mens garebiltong eet, pluis sy haar eie onwaardige droefheid uit, en omdat niemand in die straat haar sal herken nie, huil sy met al die inhibisielose, hormoonversteurde passie waarmee net ’n 46-jarige vrou kan tjank. Toe sy by die onderste hoek van die Handelshuis opstap na haar motor, vang haar oog die Indiërwinkelier se blik. Hy kyk na haar nat rok en haar lyf. Sy vrou roer agter die toonbank in Handelshuis.

Sy sit lank agter die stuurwiel en tuur met haar hart eerder as haar oë die straat in.

Later sluit die Indiërs hulle winkel en stap straataf. Die man voor, die vrou agterna. Later kom lê die maanlose nag soos ‘n huishond teen haar kar, maar sy bly sit. Turende.

Die dogtertjie sit en teken by die kombuistafel. Toe haar oupa die stoofplaat oopmaak om stronke in te gooi, frommel sy haar laaste tekenwerk op en gooi dit in die vuur. Sy klim op haar oupa se skoot en vra: “Wat beteken bloed is dikker as water, Oupa?”

Die vrou kyk na die hande op die stuurwiel. Dit lyk soos haar ouma se hande. Ouma se hande en Oupa se nukke! Langsaam skakel sy die motor aan en maak ‘n wye U-draai voor Handelshuis. Toe ry sy oor die spoorlyn, weg van Tweeling af.



LitNet: 30 Augustus 2006

  • Gaan na die eerste weergawe van hierdie verhaal
  • Gaan na die tweede weergawe van hierdie verhaal
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.