SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

As ek nou aan my knie lek

Santa Topham

As ek nou aan my knie lek, sou die bloed na roes proe, dink die klein dogtertjie wat plat op haar bas in die stofpad langs die oop plaashek sit. Haar oupa gaan haar kom haal en terug kar toe dra, soos hy altyd maak as sy van die wilde ryery haar greep op die plaashek verloor en haar half disnis val. Hy kom haal haar altyd, en hy bly die immer jintelman deur sy nog-nie-eens-koue dreigement vir haar weer eens op te haal. "Moenie op die hek ry nie," waarsku hy altyd, en sy kan nooit die versoeking weerstaan om net nog een keer op die hek te ry nie.

Proe almal se bloed na roes? wonder sy as sy haar neus teen haar oupa se Potter & Moore-wang druk. Haar oupa is die sterkste man in die wêreld, en hy hou haar altyd hoog bo die moeilikheid met sy twee sterk arms.

As mens oor die spoorlyn Tweeling binnery, is die eerste groot winkel op mens se regterkant die Handelshuis. Die winkel het groot deure, 'n wye stoep, en die binnekant van die winkel is immer koel. Toe sy 'n klein dogtertjie was, was daardie winkel se deure, die winkel se toonbanke en die vertoonvensters vir haar meer gewyd as die kerk 'n bietjie verder die dorp in. 'n Mens moes eers die stoep opklim, en dan by die eerste deur in saam met mens se oupa en ouma om die kruidenierslysie te gaan afgee. Daar het sy, onbewus van die karige begroting wat daardie kruidenierslysie moes steun, altyd haar klein nagmaal gehou met 'n botteltjie rooi koeldrank en vier groot Wilsontoffies. Die swartes. Vandag is die toffies skielik kleiner, platter, minder geurig, en word sy nie meer snags wakker met 'n lus vir daardie spesifieke toffies nie.

Terug uit op die winkelstoep, knap voor die rooi skaal verby, of agter deur die toonbanke se vinnige lopie, het mens geneem na 'n klein afdeling vir materiaal, knope, kant, lint, garings, ag, alles waarmee haar ouma haar voortdurend besig gehou het. Haar ouma het altyd met haar growwe kalkoen-grootmaak-hande aan die blou materiaal gevoel-voel, en dan altyd met 'n kardoesie witterige hempsknope uitgestap. Die ouma in haar donkerblou rok met haar knopekardoes, en haar kleindogter met 'n groter kardoes vol bont lekkerskerfies. Daardie tyd het die lekkers nog 'n onbeskofte naam gehad. Die groot wit strik op die kleindogter se kop soos twee groot satynmuisore.

Haar oupa het hulle altyd tegemoet geloop met 'n vinnige stappie, want van Handelshuis af moes hulle verder die dorp in. Dalk na die koöperasie, waar daar altyd die taai reuk van melasse gehang het, waar die werkers langer en donkerder was as die werkers op hulle plaas. Maar sy het nooit omgegee waarheen hulle ná die besoek aan Handelshuis gery het nie. Sy was gelukkig om vir die res van die dorpsbesoek, totdat hulle gaan eet by die dorpsfamilie, te knibbel aan die Handelshuis se beelde. Soos soet fluisteringe was die terugdinkies, en so, sonder om haar hande taai te maak, het sy die klein tafereeltjies om en om gegooi - nes sy gemaak het met die kardoesie. Die leë kardoesie het meestal saggefrummel van die sitplek geval met 'n goeie eetsel lekkers steeds daarin - maar die terugblikke na die Handelshuis se siel het nooit kon wegval, afval of uitval nie. Dit was kosbare verpeuselde, verslinde, verlekte soetheid.

Vir ses-en-dertig jaar het die dogtertjie, ná haar weggaan van Tweeling, keer op keer haar gedagtes in daardie soet kardoes gestoot. Sy het ná elke waarskuwing die lewe se hek te woes gery, afgeval, en gewag dat haar oupa haar kom optel en wegdra van die kortstondige ellende. Die lekkers het 'n meer politiek-korrekte naam gekry, haar seerkry ander vorme, maar die bloed het roes bly smaak op haar tong.

Toe die vrou met haar motor oor die spoorlyn van Tweeling ry, is dit asof die dorpie kleiner, valer en hartseerder geraak het, en vir 'n stonde is sy werklik verdwaal tussen die topografie in haar hart en die straat waarmee sy aanry na die Handelshuis. Sy sien dat die wolke begin saampak - soos die vet ouderlinge van ouds gemaak het op die kerkbanke. Hoe nader die ouderlinge geskuif het, hoe meer dreigend hulle gerommelsing het, hoe donkerder die gelate, hoe nader was die uitkoms van koelheid. Dit gaan reën later.

Handelshuis se siel kyk haar geduldig aan vanuit die wye vensters. Die deure is laer en die stoep is smaller en stowwerig. Was die stoep dan nooit blink-blink-blink nie? Die rooi skaal is steeds daar vir die weeg-weeg-weeg van die boeregemeenskap, wat nou nie meer by die winkeliers van haar kleintyd koop nie, maar wel by 'n Indiërgesin. Die vrou wil eers omdraai, te bang om die herinneringe te skend, maar sy voel die roep van die donker binneste van Handelshuis, en die binnestap en vra vir 'n rooi koeldrank, die gesoek met die oog na Wilsontoffies, swart, en die eerste teug aan haar nagmaal is soet-gemaklik.

Met die inloop na die hart van Tweeling, loop die vrou aspres dieselfde paadjie as wat sy en Tinka geloop het op hulle terugtogte na die koshuis Maandae, ná 'n inkopiemalheid met 25c. Soms het hulle selfs 50c elk gehad om te spandeer, en dan het Tinka meer taai, deurskynende velle jellielekkers gekoop, terwyl sy meer pakke pienk ouderlingspilletjies gekoop het. Die swart lug van ingehoue reën weer eens 'n plaashek waarop sy ongehinderd oor die gevolge sal rits.

Sy is koshuis toe toe haar oupa professioneel begin vry het. Van optel en wegvat was daar geen sprake nie, en elke oggend se sopnat matras, yskoue, muwwe pajamas en ongeduldige juffers het haar oupa se afwesigheid net beaam. Oupa is op die plaas, hy stap onder die ry bloekombome verby op pad stal toe, en sy maak haar bed self onhandig op. Van oorhang-witbroodsnye is daar soggens geen sprake nie, en die klein blokkies waatlemoenkonfyt sit onvas op die dun, besproete bruinbroodsnye. Sy sou selfs tevrede gewees het as Oupa self haar nie kom optel uit hierdie ellende nie - hy kon maar OuLiza of ou Swartland ook stuur. Maar hulle het op die plaas gebly en die dinge gedoen wat sy geglo het niemand anders beter as sy kon doen nie. Eiers optel, room afmaak vir botter, saam met Oupa hallelujas sing. Haar oupa het toe lateraan vir hom 'n Engelse roos gevat wat nie die hallelujas geken het nie, wat nie kon eiers uithaal nie, en wat nie eens gehou het van die plaas nie.

Die koshuis is nie meer die koshuis met die wydgeskote moedervyeboom aan die regterkant neffens haar kamervenster nie. Die kweperbos is weg. Die vaal grond voor die koshuis is skielik klein, die vensters is onrustige oë waaruit vreemdes loer. Niks is troostend-bekend nie. Sou mens, as jy mooi gaan soek, die keep kry aan die eetkamerdeur van die keer toe meneer Lessing al singende daarin vasgeloop het? Hoe verander daardie histeries snaakse insident dan nou na iets byna heilig? Meneer Lessing se gesing en gesis-fluit gedurende studietyd. Sou hy rêrig so mooi gesing het? Jare nadat sy reeds van Tweeling weg was, het sy gehoor dat tant Nonna Lessing, eens die koshuismoeder, na haar gevra het, en skielik het net daardie stukkie onopgevolgde, onbeantwoorde groetegedagte haar tot half-mens laat gedy. Iemand het haar liefgekry sonder dat sy dit geweet het. Sy was daardie tyd al bewus van aalmoes-liefde as jou eie skraal voerbak leeggevreet was en die hongerte in jou binneste nog nie gestil was nie.

Die reën val reguit uit die hemel uit, en daar is geen sin om nou na die motor toe te hardloop wat steeds voor Handelshuis staan nie. Daarom stap die vrou tydsaam terug na haar motor, en neem sy die paadjie by die pastorie verby. Dominee Lessing het 'n preek gehad wat hy oor en oor gepreek het as dit Kindersondag was. Van die seuntjie wat 'n skippie besit het, die skippie verloor het, toe dit teruggekry het as geskenk, en dit teen sy bors gedruk het met die kreet: "Nou is jy dubbeld myne!"

Die diep slote langs die yl straat raak plassig vol reënwater, en die geel ligte agter die vensters lyk asof hulle met rug-na-die-vensters skyn. Die ronde klippe op sommige plekke in die straat is glynat, en sy struikel-struikel meer gereeld as wat 'n ander huilende vrou sou struikel. Die vrou stap nie vinniger om die omgewing se ontkenning van haar herbesoek te ontkom nie, sy slaan haar arms om haar eie lyf en stap stadiger. Fletsie vir fletsie rafel sy nou die emosies een vir een van haar siel af, en toe sy by die onderste hoek van die Handelshuis opstap na haar motor, vang haar oog die Indiër-winkelier se vraende blik na hierdie vreemde vrou.

Tweeling, jy is nou dubbeld myne, dink sy terwyl sy sopnat by haar motor inklim. Vir lank sit sy agter die stuurwiel, wuif die Indiër-handelaar se bekommerde klop aan die venster weg, kyk hoe die reën en die wegsink van die son deurmekaarloop soos nat verf, en ry toe na haar tante se huis om slaapplek vir die nag te soek.

As mens oorkant jou tante sit ná 'n afwesigheid van meer as dertig jaar, en jy ontvang 'n dik pannekoek met te veel suiker en te min kaneel in 'n bekende bord, weet jy dat jy nie eerlik durf wees oor die rede vir jou besoek aan Tweeling nie. Jy lag en vertel soos daardie wit-gestrikte dogtertjie van toentertyd, en jy sien dat sy gemakliker raak oor jou onverwagse besoek, want dit lyk asof dinge uitgesorteer is in jou lewe en dat jy nie vanaand die matras geel en stink sal pie nie.

Eers toe jy die volgende oggend by Benadesbanke verbyry, trek jy van die growwe pad af en luister jy na die boodskappe op jou selfoon. En jy luister na jou beminde se stem oor die foon, maak jou oë toe, weet dat jy hom liefhet vir langer as wat jy ooit Tweeling sal liefhê. Maar jy weet ook dat jy nie die guts het om jou tweeling-liefde vir 'n plek soos Tweeling en 'n Hindoeman ooit op te eis nie.

"Ons bloed proe dieselfde, Oupa," praat jy die Vrystaatse wolke in, en weet jy dat jy beide bestemmings altyd sal besoek, maar nooit bewoon nie. En moontlik altyd 'n terugreisiger sal wees. Jy het jou al te veel kere katswink geval van hekke af - en jou oupa tel jou lankal nie meer op nie, want hy het mos gewaarsku?



LitNet: 16 Mei 2006

  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.