SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

'n Blom vir Jessie

Janet Maree

Die skril geluid van die telefoon laat haar omdraai. Uit gewoonte antwoord Jessie: “Duvenhages, kan ek help?”

“Niemand kan my help nie,” hoor sy ’n diep stem.

“Laat my ten minste probeer,” antwoord Jessie sag.

“Kan jy ’n dooie terugbring? Toe, sê my, kan jy?” kom ’n roep wat skel teen die hel.

Hierdie gesprek ontstel Jessie meer as die ander wat sy hanteer het vandat sy by Lifeline aangesluit het. Dit is waarom sy haar toevlug tot Mathilda neem – die vriendin wat sy vir haar in haar dagboek geskep het. By Mathilda kla Jessie nie oor die dinge wat haar ongelukkig maak nie. Praat liewer verby dit. Dikwels klink dit asof sy die draak steek met die donker kant van haar lewe.

Mathilda, vandag het ek jou geduldige oor nodig. Hoe dankbaar is ek nie daarvoor nie. Die dokters raai my aan om hulp vir my psige te soek. Hulle weet nie van jou nie. Jy’s my biegmoeder. Saam verneuk ons die sielkundige uit ’n hele paar rand.

Hoekom het ek die huis so bont geverf?

My liewe vriendin, verstaan jy dan nie, kleur is deel van die geur van die lewe. Weet jy wat het Roan gesê nadat die skilder klaar was met die eerste kamer? “Ai, Pop.” Dis wat hy gesê het.

Dis tog eienaardig hoe musiek mens se kop kan oorneem, vir jou wil voorskryf wat om te doen. Party dae raak dit so erg dat ek dink my gevoelens is nie meer my eie nie.

Sal dit nie wonderlik wees as ons weer in tant Blom se balletklas kan sit nie? Daar waar Roan, teen sy eie begeerte maar met sy ma se passie om hom aan te dryf, ’n bespotting van elke beweging gemaak het. Maar soos Celine Dion sing: “Those times are gone.”

O, hierdie opgeklitsheid met musiek laat jou wonder wat aangaan.

Dit help, Mathilda, dit help vir baie dinge.

As mens na Roan luister, weet jy dat hy met lighartigheid sy gebrek aan verstand probeer verbloem. Hierdie keer gaan uiterlike skyn hom nie red nie. Vir die eerste keer in sy volwasse lewe word hy dieper geraak as waartoe hy in staat is om met grappe die wêreld en homself te bluf. Daar is iets wat Jessie hom nie vertel nie en hy weet hy is reg. Dit is hierdie onsekerheid wat hom teenoor sy vriend laat bieg.

“Ek wil nie van jou ’n slaansak maak nie, Gerdus. Maar ek moet met iemand praat. En vir jou kan ek vertrou. Gerdus, ek weet nie meer waar ek staan nie. Dis of Jess die kluts kwyt is. Wit mure. Die hele huis moes eers net wit gewees het: gordyne, lakens, bedspreie, tot die skottelgoed – wit, wit, wit. En nou? Liewe hel, Gerdus, kyk om jou. Pers en oranje mure in een kamer. Ek weet, en jy weet, ek kritiseer haar nie, maar ek voel absoluut magteloos. Skielik is dit of ek my vrou nie ken nie, of ek myself nie meer ken nie. Ek wil haar net vashou en goed wees vir haar totdat sy weer die ou Jessie word. Maar dit help ook nie.”

“Ek verstaan, ek verstaan, Gerdus, dinge kan nie altyd bly soos dit was nie, maar sonder Jess sou ek niks gewees het nie, sou ek nooit die besigheid of die huis of karre of enigiets gehad het nie. Sy’t nie net guts nie, sy’t ’n kop.”

Roan is reg. Jessie is die drywende krag agter hul onderneming. Toe Roan aankondig dat hy nie kinders wil hê nie, glimlag Jessie net en skud haar kop, sodat Roan kan weet sy stuiwer in die armbeurs word nie aanvaar nie.

Maar dis Roan wat spog: “Ons gaan Duvenhages nog op die map plaas, my Pop.”

Dit was voordat sy hom die nuus vertel het.

Arme Roan, dink Jessie. Hoekom kan ek nie vir hom doen wat ek aan ander bied nie? Moet ek die gevoel om hom te beskerm, liewer uitlos?

Haar gedagtes lei haar terug na die dag toe die vreemde man haar geskakel het en sy met ’n kraak in haar stem geantwoord het: “Meneer, wat jy vra, kan ek nie doen nie. Maar ek is hier, en ek verstaan jou pyn. Ek het ook iemand verloor.”

“Ek’s jammer,” het hy sagter geantwoord.

Na ’n stilte waarin nie een iets sê nie, was dit die vreemdeling wat eerste praat. “Dis vandag ’n jaar terug dat my Betsie weg is. Ek wou my vennoot skakel in verband met probleme by die werk en moes die verkeerde nommer gedruk het. En toe antwoord u. Die uitbarsting was ongevraag. Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek is jammer.”

“Moenie jammer wees nie. Ek’s bly dit was my nommer. My naam is Jessie.”

“Dankie, Jessie. Ek is Conrad. Conrad Botha.”

Wat het gemaak dat sy haar naam vir die man sê?

Soos altyd wanneer sy voel dat sy haar gedagtes moet hokslaan, soek Jessie Mathilda se geselskap op.

Mathilda, jy weet, daar was ’n tyd toe Jennifer Rush se liedjie my gunsteling was, maar as ek nou daarna luister, weet ek dat haar “Destiny” en myne nie meer dieselfde is nie.

My lewenspatroon het aansienlik verander. My man bespied my as hy dink ek weet nie. Hy bederf my, hou my in ’n kou. Jy’s reg as jy dink ek behoort dankbaar te wees. Maar, Mathilda, ek wil lewe. Verstaan jy, LEWE!

Saam met die son wil ek oor die aarde hol en as ek by ’n waterval afduik tot diep onder waar die bruisende water stil word, wil ek opskiet en my longe vol slurp van lug wat lewe gee. Met ’n sweeftuig saam met die voëls vlieg, ’n lewertjie word en tussen die mirte koer.

Jy onthou hoe ek altyd van die “Koor van die Skotse Bannelinge” gehou het. Nie meer nie. Die stadige, treurige stemme wat vertel van die onderdrukte land, waarvan die pyn tot ver gehoor kan word as die doodsklokke lui, los my sommer op moedverloor se vlaktes.

Toe sy die oomblik van waarheid nie langer kan uitstel nie, gaan sit Jessie langs Roan op ʼn bankie. Sy vou haar hande om sy gesig, want sy weet dit gaan nie vir hom maklik wees nie.

“Jess, o, Jess, nie dit nie. Asseblief nie. Asseblief, maak dit nie waar nie.”

Die verwarde gedagtes wat die afgelope dae Roan se kop op hol gehad het, kry meteens betekenis. Aan die begin, toe die wêreld nog leeg was, het die eerste mens seker so verlate gevoel soos wat hy nou voel.

Met haar arms om haar man, asof sy ’n kleuter troos, voel Jessie of sy binne haarself moet delf om die mens wat sy is uit te trek – met haar lag en met haar pyn.

Roan met al sy entoesiasme en werkywer kon nooit die verantwoordelikheid van ’n eie besluit dra nie. Hy het ure langs sy rekenaar gesit en een na die ander potlood voos gekou. Maar nou is dit asof ’n nuwe mens by sy liggaam ingetrek het. Langs sy rekenaar stapel die bladsye op. Hy besoek alle moontlike plekke op die internet vir inligting.

Toe Jessie die boonste blad van Roan se lessenaar optel, merk sy die aantekeninge wat hy met sy groot skuins skrif geskryf het. Dit handel oor Switserse navorsing. Haar oog vang name soos Hame en Moerman, voordat Roan dit by haar wegneem. Die volgende een wat sy optel, gaan oor mense wat daarop aanspraak maak dat hulle magiese krag besit. Jessie kan nie help om te glimlag nie. “Roan, dit gaan nie help nie.”

Hy skuif die papiere weg en trek haar af op sy skoot. “Jess, êrens moet iets wees. Ek kan dit nie net gelate aanvaar nie. Jy mag nie ...”

Toe Jessie opstaan, vang Roan haar hand. “Wag ’n oomblik. Ek wil net die rekenaar afskakel, dan gaan ek saam met jou. Of liewer, jy gaan saam met my.”

Roan lei Jessie na die kombuis, waar hy haar op ’n stoel laat sit. “Wees net rustig, dan wys ek jou hoekom die wêreld se beste kokke mans is.”

Terwyl hy die eiers in die pan breek, spek in ’n ander pan probeer braai en terselfdertyd brood in die rooster sit, praat Roan aanmekaar, asof hy die onsekerheid met sy woorde wil wegvee. Hy vertel van Rooidam, waar wind se rooi stowwe verantwoordelik was vir die plaas se naam. Van sy ma wat konfyt van wortels uit die tuin gemaak het toe daar niks anders was nie. Hoe hulle ystervarke gejag het vir vleis en niemand só, met amper niks, kos op hulle borde kon toor soos sy ma nie. Hulle het nie geld gehad nie, maar dit was gelukkige dae. En toe word sy pa siek. Teen die einde was sy ma so maer soos ’n wilgerlat van nagte se waak by die siekbed. “Jy sou dink ons moes dankbaar wees toe die kanker eindelik ’n einde aan alles gemaak het, maar ons was nie.”

Jessie wil nie in sy oë kyk nie. Sy wil nie sien hoe die seer Roan verteer nie. Maar toe die roosterbrood swart gebrand op die bord lê, lag hy. “So kom die grotes tot ’n val.”

Dit voel vir Roan of al sy pogings om vir Jessie goed te wees, futiel is. Hy wat Roan is, het nie die vermoë om die situasie te verander nie. ’n Magteloosheid laat hom skarrel soos ’n mier wat na skeurtjies soek waarin hy kan verdwyn. Om dan weer uit te kruip en kos te soek vir sy koningin.

En toe Jessie van haar droom vertel, besluit Roan dis ’n teken dat hy die man wat hy op die internet opgespoor het, moet gaan soek. Dit kan nie toeval wees dat hy dieselfde naam as die een in Jessie se droom het nie. Maar sy mag nie weet nie.

Jessie het van Jona gedroom. Hoe hy ’n walvis geroep het toe sy wou verdrink. Die walvis het haar ingesluk en toe uitgespoeg op ’n eiland waar kosmos blom.

“Jess, jy weet, jy weet, ek moet net ’n slag weer Johannesburg toe. Ons verloor kontak met die leweransiers enne ...”

Jessie dink daaraan dat sy nie meer Roan se “Pop” is nie. Sy het Jess geword. En dit is goed, reken sy. Met haar lyf wat sekerlik gaan verander, sal sy tog nie meer dieselfde wees nie.

Toe Jessie weer die diep stem oor die telefoonlyn hoor, voel sy opgewonde sonder dat sy dit kan verklaar.

“Ek het die ander dag vergeet om dankie te sê dat jy geluister het. Jessie ...”

Dit klink of Conrad nog iets wou sê, maar hy praat nie verder nie.

“Conrad, ek weet dit klink dalk vreemd of selfs voorbarig, maar as jy lus het, kan jy saam gaan stap. Saterdae is my stapdag. Vandag wil ek na die botaniese tuin gaan kyk.” Jessie praat vinnig, asof sy uitasem is. Haar impulsiewe woorde verbaas haar, want dit is nie toelaatbaar dat sy iemand wat sy oor Lifeline ontmoet het, uitnooi nie. Sy wil haar woorde terugtrek, maar die dankbaarheid in Conrad se stem toe hy die uitnodiging aanneem, keer haar.

Dis nie die ewige twyfel wat Roan van die pad laat aftrek nie. Hy is al halfpad na Johannesburg toe hy die stem van sy ma hoor: Het jy vergeet hoe om met die Here te praat?

Hy sien haar voor die venster van hul plaashuisie. Dit was na sy pa se dood. Haar hande teen mekaar en oë toe. Dankie, Here, vir die ekstra jare. Toe eers het sy hulle kinders vertel van die kanker wat al tien jaar tevore gedreig het en van die dokters wat nie hoop gehad het nie.

Mense wat verbyjaag, sien ʼn man sit met sy arms om die stuurwiel en sy kop wat vooroor hang. Sy liggaam ruk. Hy bid. Die onsigbare pyn wat sy binneste skeur, breek deur sy woorde. En toe die vredige kalmte.

Hy draai die motor terug. Die Jona in die groot stad is nie meer nodig nie.

Tussen dooie gras en harde klip lewe veldblomme. Jessie buk om na ’n blom te kyk, en die son vang haar hare.

“Jou hare lyk mooi so in die helderte van die dag.”

Jessie lig haar gesig op en kyk lank na Conrad, asof sy alles wat binne hom is, probeer opsom.

Toe met een pluk hou sy die pruik in haar hand.

Sy sien nie die uitdrukking van verbasing op Conrad se gesig nie, want op daardie oomblik kom Roan met die voetpad aangehardloop. Sy gesig is oop en hy lag.

“My Pop, ek het ’n stem gehoor.”

Mathilda, vandag speel ek vir jou die “Triomfmars” uit Aïda. Die dokters sê my borste hoef nie meer afgesny te word nie. Hulle reken net ’n wonderwerk kan ’n kanker so skielik laat verdwyn.


LitNet: 30 Augustus 2006

  • Janet Maree se vorige verhaal: Lied vir my lewe
  • Janet Maree se eerste weergawe: 'n Blom vir Jessie
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.