SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

'n Blom vir Jessie

Janet Maree

My liewe Mathilda. Jy met jou geduldige oor. Hoe dankbaar is ek daarvoor. Dis wonderlik om te weet dat alles wat ek teenoor jou bieg, vir ewig geheim sal bly. Miskien nie só lank nie, maar ten minste tot die dag wat die graf my gryp. Met jou as my slaansak verneuk ons die sielkundige uit ’n paar rand.

In die jongste tyd is die klanke oor my CD-speler die vrugte en groente van my lewe. Hulle voed my, praat met my, wil my voorskryf wat om te doen. Dis erg as ’n mens se gevoelens nie meer jou eie is nie.

Watse gevoetsleep is dit? Vergeet jou kopsere, sal “Tango” vir my sê. Lig op jou bene, mevrou. En swaai daai lyf.

Ek lag maar net.

Sal dit nie wonderlik wees as vyftien van my jare kan verdwyn en ons weer in tant Blom se balletklas kan sit nie? Daar waar Ampie, wat teen sy eie begeertes, maar met sy ma se passie om hom aan te dryf, ’n bespotting van elke beweging gemaak het. In een van Donizetti se operas verkoop ’n kwaksalwerdokter wyn van Bordeaux as ’n elikser. Jy weet mos dis die soort ding wat Ampie sal aanvang. En dit alles omdat hy die hartseer oor sy gebrek wil wegsteek. Maar soos Celine Dion sing, “those times are gone”.

Hierdie opgeklitsheid met musiek laat jou seker wonder of ek ’n nuwe lover het. Wel, daar is iets nuuts, maar ...

Daar was ’n tyd toe Jennifer Rush se liedjie my gunsteling was, maar as ek nou daarna luister, weet ek dat haar soort “Destiny” en myne nie meer dieselfde is nie.

My lewenspatroon het aansienlik verander. My geliefde man bespied my, bederf my, hou my in ’n kou. Jy’s reg as jy dink ek behoort dit te waardeer. Maar, Mathilda, ek wil lewe. Verstaan jy, LEWE!

Ek wil saam met die son oor die aarde hol, en as ek by ’n waterval afduik tot diep onder waar die bruisende gedonder stil word, wil ek opskiet en my longe vol slurp van lug wat lewe gee. Met ’n sweeftuig saam met die voëls vlieg, ’n lewertjie word en tussen die mirte koer, soos dié waarvan die dorpsmeisies in Cavalleria Rusticana sing.

Kontrasterende begrippe in een asem maak seker nie sin nie, maar daar moet darem rustigheid deur die baldadigheid geweef word om balans te gee.

Gister neem my wederhelf my om blomme te gaan koop. Dit is so ’n lekker informele plek waar mens self in hul koelkamer kan stap en jou siel opgehelder word deur die kleur wat in bondels teen mekaar beur. Hulle ken my al en vra na Karen en my gesondheid, die soort goed waarna mens uit hoflikheid verneem. Op my beurt wou ek weet of musiek ook allerhande gevoelens by hulle wek. Dit klink onwaarskynlik, maar een van die bloemiste kan glad nie na enige musiek luister sonder om te huil nie. Die arme mens. Van jammerte het ek sommer my arms om haar gesit en toe begin sy wragtie huil. Nogal ’n ongemaklike situasie so in die winkel. Vir ’n mens wat nie eens na ’n liedjie kan luister nie, wil ek toe sing. “For she’s a jolly good fellow” het uitgeglip voordat ek mooi geweet het wat ek doen. Maar ek’t ’n stem soos ’n skilpad en dit is seker wat haar laat lag het, dit wil sê as die ding onder sy dop ooit ’n geluid kan maak.

Joye het vanoggend met ’n hoenderpastei opgedaag. Nie die beste dag om my te betrap nie. Nostalgie het Barbra Streisand se liedjies uitgekrap en ek was “Second-hand Rose”.

“Jy, tweedehands? Nog nooit nie. Gaan staan voor die spieël en sê vir jouself hoe dankbaar jy voel oor jou lyf wat mooi is. Dis pragtig!” Toe vryf sy met haar hande oor haar eie stewige rondings en lag. Ek lag saam.

Vir ’n kind van vyf om van opera te hou, is nogal vreemd, maar my Karen is daardie uitsondering. Vandag hoor ek sy luister na die “Koor van die Skotse Bannelinge”. Die stadige, treurige stemme vertel van die onderdrukte land, waarvan die pyn tot ver gehoor kan word as die doodsklokke lui.

Ek vra haar wat sy dink wanneer sy daarna luister en sy trek haar skouers op met oë wat lugwaarts kyk, asof sy ’n antwoord daar soek. Op haar ouderdom mag my kind nie so verlore lyk nie. “Bring die kaarte, dan speel ons Snap.” Dit werk en ons lag.

“Asseblief, my man,” antwoord ek toe hy vra of hy iets vir my moet lees. Hy hou daarvan, want as hy hardop lees, is dit die enigste tyd wanneer hy nie hakkel nie. Sy bedaarde stem laat my altyd rustig voel. Dit is ’n ou boek, The Agony and the Ecstasy, wat handel oor Michelangelo se lewe. Dat ’n man met soveel talent ook die pyn van menswees moes ervaar, bewys weer dat nie een van ons sterflinge uitgesonder word nie.

Ons is op ’n boot. Die see is rof. Branders breek oor die dek. Mense klou aan mekaar, hul oë groot en verskrik. Hulle laat my afsak met ’n tou tot in die reddingsbootjie. Toe breek die tou. Ek dryf weg in die donker van die storm. Alleen. Aan die einde van die aarde bedaar die storm, maar geen land is sigbaar nie. Die water om my is grou, net in die verte verloor die son sy kleur in die see. Ek wil die goud uit die water gaan haal en vir die son teruggee. Ek swem en swem, maar die see word al groter. My krag is min. Ek sak af tussen pienk koraalrotse wat in my voete steek. Dit voel of die lewe uit my begin vloei, en ek huil. “Ek kan nie meer nie!” Janis Joplin se liedjie “Try (just a little bit harder)” swem saam met die visse om my, maar dit is nie sy wat sing nie. Dis Jona wat voor my staan. Sy baard golf in die water soos ’n lang vis. Hy lig my op en sit my neer. Die walvis lag.

Toe ek wakker word, is Karen by my op die bed. Haar handjie vryf oor my kop.

“Het Liewe Jesus jou hare vir Hom gevat, Mamma?”

Ek knik, nog half deur die slaap.

“Hoekom?” Haar ogies groot en treurig.

“Hy het dit nodig gehad. Eintlik het Hy dit net geleen en sal dit anderdag weer teruggee.”

Sy glimlag. Haar gesiggie opgehelder.

Mathilda, my kind kan nie nou al sonder ’n ma gelaat word nie. Dis tyd dat ek ernstig met die Here praat, vir Hom vertel van Karen en dat Hy sy datums deurmekaar het.

So op my knieë kry Ampie my. Hy kniel saam en vra: “H-here, luister na ha-haar. Dit gaan ssswaar met die een wat haar teenstaan. Haar humeur is iets wat J-jjy nie op Jou kop wil laat a-afkom nie. Vra my, ek weet.”

Ek lag. “Ampie, man, speel vir my ’n tango en daarna sommer die Triomfmars uit Aïda.” (Dan sing ons. Nie van Egipte en hulle Isis nie, maar “glorie aan Jona, sy walvis en aan óns God!”)

LitNet: 29 Junie 2006

  • Janet Maree se vorige verhaal: 'n Blom vir Jessie
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.