SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet IX

Abraham de Vries

Klik telkens op die skrywer se naam om die verslag te lees:
Johann Crafford: "Wanneer sondes jou inhaal"
Theo Kemp: "Die naweek weg"
Janet Maree: "'n Blom vir Jessie"
Carina Stander: "Bloed, Sweet, Speeksel"
Santa Topham: "As ek nou aan my knie lek"

Johann Crafford: "Wanneer sondes jou inhaal"

Basies ‘n tydskrifverhaal wat steun op ‘n onverwagte slot: dat ’n man se minnares van die vorige nag ‘n vriendin van sy vrou is. Dit word trouens al in die titel “weggegee”. Die vraag is: Hoe kan ‘n mens so ‘n gegewe bywerk, verander, sodat daar iets nuuts in is? Wat is daar in die verhaal wat uitgebrei kan word? Myns insiens sy maklike, gladde leuens.
Probeer die volgende: bou in die nagtoneel iets in oor haar, die minnares, iets soos die volgende: hy kom agter dat sy nie iemand is om mee te speel nie, daar is verby die weerbaarheid van ‘n geskeide beroepsvrou iets in haar van die weerbaarheid van vrouwees. En dan skryf u in die slot ‘n tweede onverwagsheid in.

“Het ons mekaar nie vantevore al ontmoet nie?” lieg hy weer.

Sy frons vinnig.

“Nee,” sê sy en steek haar hand uit. “Nee, dit sou ek onthou het.”


Theo Kemp: "Die naweek weg"

Hierdie verhaal is eintlik die verslag van ‘n naweek uit wat in ‘n poging tot ‘n aborsie eindig, soos vertel deur ‘n onwetende verteller – onwetend en dus onbetroubaar; hy weet inderdaad (p. 2) nie wat aan die gang is nie. Maar so ook dan die leser. My lesing is dat die gegewens eintlik almal los is van mekaar, ‘n verslag, nog nie ‘n verhaal nie, en dat die slotsinne deur die skrywer die begin is van die verhaal wat hy uit hierdie los gegewens maak.

Waarskynlik is dit egter ’n oorvriendelike lesing, want dit veronderstel ‘n verteller wat goed kan struktureer en woordvas is. En dit ontbreek hier en daar: wat beteken bv. “Die pad is baie goed aangedurf” as hy eers “skaars buitekant Malmesbury” vir elkeen ‘n bier aanbied? W ie is die “skoonsus”? (Is Dalene nie sy suster nie? En is haar naam Dalene of Dalena?) Hoe rym die bloed na die poging tot aborsie met die net maar “bespiegel” in die slot?

Dit is taamlik maklik vir ‘n beginnerskrywer om duister te wees – soveel maniere van literatuur bekyk, bevoordeel eintlik duisterheid. Ek sou aanbeveel dat die skrywer hierdie eerste variant wat ingestuur is, beskou as beginpunt en hieruit ‘n verhaal maak waarin die volgende duidelik is (ek bedoel ook duidelik gesuggereer):
Wat is die verband tussen die eienskappe of kenmerke wat hy toedig aan die eerste twee karakters in die verhaal en die aborsie?
Wat is die verhouding tussen die verteller en Anne?
Wat is die verhouding van die figure met mekaar, en is daar nie miskien te veel figure nie?
Wat is die motief vir die aborsie?
Hoe kan hy die dialoë gebruik om ten slotte die aborsie iets meer te maak as net ‘n aborsie, byvoorbeeld dit die bybetekenis te gee van afstand doen van ‘n toekoms?
Dialoë kan die hele wêreld skep van hierdie figure, iets wat ontbreek.

‘n Mens moet jouself soms uit die duisterhede in ‘n storie uitskryf om ‘n goeie verhaal te vertel. Anders gestel: jy moet die duisterhede oopskryf, nie toeskryf nie.

Lekker werk!


Janet Maree: "'n Blom vir Jessie"

Die tema van hierdie verhaal is dié van ‘n vrou met kanker wat aansluit by ‘n soort Lifeline-organisasie om ander te help en sodoende iemand ontmoet wat die winter in haar lewe weer kleur kan gee. Dus ‘n tema wat taamlik baie voorkom in veral tydskrifverhale.

Eers egter ‘n paar opmerkings oor die taalgebruik: hier en daar is die beeldspraak op die randjie van mooiskryf, dus oordrywing. Is die woorde “se aanslag” in die eerste sin noodsaaklik? Dis tog uit die verhaal duidelik. Net verder aan: “Jessie se oë beeld ’n verlore siel.” Darem ’n te ingewikkelde manier van iets heel eenvoudig sê. Dieselfde geld vir: “... in haar oë hang die kyk van baie dae se wag.”

Wat egter gemaak met ‘n taamlik bekende tema soos hierdie? Dit is die eintlike vraag. ‘n Moontlike antwoord is so ongeveer die volgende: watter aspek van so ‘n situasie is nog nie tot cliché gemaak nie? Wat sit daar in die gegewe wat uitgebytel kan word? Myns insiens is dit die idee dat, wanneer die toekoms onseker is, juis aanvaarding (deur haar man van haar toestand, deur haar van die siekte), alle aanvaarding, belangrik raak. Deur op dié idee af te skryf in plaas van net ‘n liefdesverhaal, kan die gegewe meer tot sy reg kom.

‘n Tegniese vragie: Laat ‘n organisasie soos Lifeline toe dat die raadgewers en die pasiënte mekaar ontmoet? Ek sou raai van nee, want in persoonlike kontak is daar onder dergelike omstandighede moontlike probleme waarvan die helpers met hulle kort opleiding nie noodwendig weet nie.


Carina Stander: "Bloed, Sweet, Speeksel"

Hierdie verhaal is die interessantste wat ek gekry het ter beoordeling. Die tema is die ontdekkings by ‘n jong meisie van die kwaliteite in haar vriende wat almal dien as aanvulling van iets wat “skort” in haarself, iets waarna sy hunker. (Miskien is die
hunkering net ‘n klein bietjie te ver onderspeel en die weerbare, uiterlike lawaaireaksie van ‘n jong meisie net ‘n deur se klap te veel geaksentueer!)

Die interessante van die verhaal is egter dat die hunkeringe, die kwaliteite van die vriende saamhang met soorte liggaamsvog; bloed lei haar tot die “geheime ontdekking” van ‘n onverwagte sagtigheid (“verrassend vliesig”) waar sy dit nie verwag het nie.
In sweet sit daar verset in die “skrander vriend met ‘n bril” se reaksie op die “starre skoonheid” van ‘n vervalle landelike toneel, ‘n reaksie van weerstand, van iets wat hy met geweld sou wou keer, ‘n gebrek aan skoonheidswaardering.
In speeksel – die laaste herinnering – is daar troos in die hulp van die “veldgeleerde” manlike vriend met die “welige wenkbroue” en die “oë ... soos dié van ‘n slang”.
Die verhaal eindig met die verlange na “vaagbekende vriende waarmee jy eens gereis het deur die vreemde streke van jou land. Elkeen met ‘n eie bloedgroep, sweetklier en mondwater”.

Die Russiese Formaliste het baie gemaak van wat hulle genoem het “vreemdmaking” in kuns, d.w.s. die kyk na iets gewoons vanuit ‘n onverwagte hoek wat alles in ‘n vreemde lig stel. Daarvan is hierdie verhaal ‘n uitstekende voorbeeld.

Voorstelle vir verbetering: let op die woordgebruik. Verlang vir haar vriend? Of na?
‘n Mens sou waarskynlik elkeen van die onderafdelings kon stoffeer met ietwat meer “spirit of place”, maar daar is ‘n soort verhaal waaraan ‘n mens nie te veel moet peuter nie. Miskien kan die skrywer uit my lees van haar teks iets haal waaraan sy self nie gedink het nie, ek sou “van buite af” nie verder iets wou aanbeveel nie.
Ek sou veel graagter die skrywer se volgende verhaal wou lees!


Santa Topham: "As ek nou aan my knie lek"

Tema: besoek aan Tweeling, die dorp waar die verteller opgegroei het, hunkering na ‘n verlore tyd. Die tegniek van flarde herinnering ondersteun die tema goed: die dogtertjie by die plaashek, in die Handelshuis, op kosskool, ens.

Daar is twee dinge waarna die skrywer gerus weer kan kyk: eerstens die taalgebruik. Daarmee word bedoel woordkeuse: “knap voor die rooi skaal verby” ipv gewoon “vlak voor die ...” ens. En kyk na die res van die eerste sin van par. 4: gedagtes “in daardie kardoes gestoot” het die verkleinwoordjies en stapelvorme wat in die herhaling steurend of niksseggend is (terugdinkies, tafereeltjies, kalkoen-grootmaak-hande).

Oorlaaide beelde: “Die swart lug van ingehoue reën weer eens ‘n plaashek waarop sy ongehinderd oor die gevolge sal rits”; “... onopgevolgde, onbeantwoorde groetegedagte haar tot half-mens laat gedy” (’n halfmens, met of sonder die koppelteken, is ‘n boomsoort).

Verkeerde woordgebruik: “wydgeskote moedervyeboom”, “plassig vol reënwater”, ens.
Om sake helder uit te sê, is moeiliker as hierdie soort woordgebruik, maar dit het tot gevolg dat die leser weet waaroor dit gaan en nie teen die taal self vaslees nie.

Daar is, tweedens, ook feitelike onverstaanbaarhede: wat het Oupa gedoen toe hy “professioneel begin vry” het?! En wat word gesuggereer het Oupa tuis gedoen dat die “sopnat matras, yskoue, muwwe pajamas” sy afwesigheid net beaam het? Is Ouma se aandeel nie hier weggelaat nie?

Nog verwarrender egter is die "tweeling-liefde vir 'n plek soos Tweeling en 'n Hindoeman". Hierdie man is kennelik nie deel van die Indiërgesin wat die plek oorgeneem het van "die winkeliers van haar kleintyd" nie. Hierdie man was waarskynlik in die verre verlede die oorsaak vir haar "kortstondinge ellende" wat by implikasie nie 'n "politiek-korrekte naam" gehad het nie. Maar behalwe vir die woordspel met die dorpsnaam is die tweeling-verband tussen die dorp en die geliefde duister, as ek reg lees is dit nie 'n tweeling-liefde nie maar in die tyd waarin dit afspeel juis 'n mekaar uitsluitende liefde! En kom die "Hindoeman" weer tevoorskyn as die man wat die boodskappe op die stempos laat? Dis tog waarskynlik haar geliefde van nóú, die insident met die "kortstondige ellende" was te ver in die verlede. Oor die verskillende minnaars is die verhaal onnodig verwarrend en juis die spanning: Hindoe-man/Vrystaatse dorp word glad nie benut nie.


Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Eben Venter se eerste verslag
Klik hier om die verhale te lees



LitNet: 30 Mei 2006

Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.