SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die eerste weergawe van dié storie
Lees die tweede weergawe van dié storie

Die beste present

Madelein Smit

Ek en oom Willem en Vikus en Dawie speel vingerbord op die stoep. Die swart hond lê hier styf teen my voete. Selina het vroegoggend, toe die dou nog aan die punte van ouma Bessie se potplante gehang het, die stoep se vloer ge-polish. Ek proe die Everbrite se soetigheid diep agter op my tong terwyl ek asemhaal.

Die son bak op die sinkdak. Tot die goggas is stil voor die vuur van die agtermiddag. Vikus en Dawie het hulle hemde uitgetrek en ek kan sien hoe rooi die son hulle gister geklits het toe hulle visgevang het in die spruit. Dit lyk seer. Hulle hare is klam van die sweet. My rok klou aan my rug vas en die swart hond se tong hang by die kant van sy bek uit terwyl hy na asem hyg.

Vikus skiet eerste. Sy ghoen tref die kring pitte dat hulle alkante toe spat. Dawie skree joehoe! en gooi sy arms in die lug op. Dis my beurt. Ek sit my voorvinger versigtig in die ghoen se gaatjie en ek korrel mooi. Die babapoeier wat oom Willem netnou oor die bord uitgegooi het om dit glad te maak, voel sag onder my vinger. Ek skiet, maar ek skiet niks raak nie. Die seuns gil soos hulle lag. Simpel goed. Die swart hond hou op hyg en kyk met ’n gedraaide kop na hulle. Ek maak of ek niks gehoor het nie.

Dis nou Dawie se beurt. Hy tref ’n wit pit skrams en dit land kaplaks! binne-in die donker gat reg langs hom. Sy tweede probeerslag is mis. Om te wys ek is beter as hulle sê ek niks, maar ’n klein stemmetjie lag lekker hier in my hart.

Nou is dit oom Willem se beurt. Ek en oom Willem is aan ’n kant, want nie een van die seuns wou aan sy kant wees nie. Almal sit en wag vir oom Willem om te skiet, maar hy haal eers sy pyp uit sy hemp se sak. Die seuns sug en rol hulle oë.

Ek dink oom Willem is al oud, maar sy hare is nog mooi swart. Sy gesig is vol plooie, maar miskien is die plooie omdat hy nie meer tande het nie. Sy wange is hol en nog meer hol as hy aan sy pyp trek. Die ou swart pyp is áltyd by hom en hy het áltyd ’n hoed op sy kop, behalwe as hy in die huis is. Ouma raas met hom as hy vergeet om sy hoed af te haal in die huis.

Hy krap die dooie twak uit die pyp se bol met ’n messie. Die mes se punt is al swart van die ou twak. Hy stop nuwe stukke twak in die pyp en stamp dit met sy duim vas. Skielik meng die geur van sy cherry pyptwak met die vloerpolish en ek snuif die heerlike geur diep in. Oom Willem loer vir my oor sy pyp en glimlag rondom die steel dat mens net tandvleise sien. Al sy plooie verander in diep kuiltjies en ek glimlag vir die kuiltjies.

Hy sukkel om die vuurhoutjie aan die brand te kry. Eers met die derde probeerslag raak die swart koppie met ’n sjierr aan die brand. Hy druk die vlam in die pyp en trek diep. Sy oë is toe en sy wange is heeltemal hol, sodat sy kop soos die kopbeen in ouma Bessie se ensiklopedie lyk. Hy smak sy lippe en vat nog ’n paar trekke voordat hy uiteindelik sy ghoen optel. Hy mik mooi na die middel van die klomp pitte en skiet ’n allemintige skoot. ’n Wit pit tol deur die lug en land met ’n harde slag tussen die ander pitte.

“Óns skiet die wit pitte, oom Willem,” sing die seuns mislik in ’n koor. Oom Willem kyk hulle skeef aan en gee die pyp ’n harde trek.

Oom Willem drink elke aand ’n hele hand vol pille. Ouma Bessie gee dit vir hom saam met sy aandkoffie wat hy uit die blikbeker met die tjip op die kant drink. Oom Willem wil nie uit ’n koppie en piering drink soos Ouma en die ander grootmense nie. Hy sê die blikbeker vat lekker baie koffie en die blik hou die koffie lank warm. Ek dink oom Willem is siek, maar ek weet nie mooi wat hom makeer nie. Ouma sê hy kan nie alleen bly nie, want hy is te siek om vir homself te sorg. Hy lyk nie vir my siek nie.

My naam is Rykie, maar oom Willem noem my Meisiekind. Ek noem hom Oompie. Hy trek altyd my vlegsels, maar nie hard nie en dan sê hy “Tjaa, Meisiekind”. Een dag, toe Blommetjie, die koei, vir Dawie gejaag het en sy oë vol stof geraak het, het hy vir Dawie op sy skoot getel en die stof met ’n tissue saam met die trane uit sy oë gevee. Maar Dawie het losgeruk en weggehardloop en ná die tyd vir oom Willem tong uitgesteek Ek kon sien dit maak vir oom Willem hartseer, want hy het sy lippe so op ’n streep getrek en in sy kamer ingegaan en die deur toegemaak.

My pa sê oom Willem het op sy kop geval toe hy klein was. Hy het my die plat plek agter op oom Willem se kop gewys toe oom Willem eendag nie gekyk het nie. Pa sê oom Willem het vallende siekte, maar ek het hom nog nooit sien val nie. Hy gee altyd die hoenders kos as Ouma te besig is, en partykeer, as dit koel buite is, speel hy saam met my ghiffie. Hy speel baie goed ghiffie.

Vikus skiet weer en hy skiet twee wittes ná mekaar in die gat. Dawie lag hard. Ek skiet per ongeluk my ghoen in die gat. Die seuns dans rond van die lekkerkry en gee mekaar ’n high five. Die geel vlekke bo die swart hond se oë hop op en af soos wat hy van die een seun na die ander kyk. Ek kan sommer sien hy dink ook hulle is simpel. Oom Willem glimlag vir my.

“Toemaar, Meisiekind,” sê hy, “netnou vang ons hulle weer.”

Dawie skiet skoon mis en oom Willem skiet vier pitte ná mekaar in die gat. Hy lag so lekker uit sy maag en trek weer aan sy pyp. Dawie is kwaad. Hy vou sy arms voor sy bors. “Dis sommer kroekens,” sê hy. “Oom Willem kroek al weer.”

Vikus knik. “Is so,” sê hy. “Is so.” Hy klink nukkerig.

’n Frons kom sit tussen oom Willem se oë en ek sien hoe sy hand begin bewe.

“Toe, dis jou beurt,” sê hy vir Vikus. Sy stem is sag.

Vikus korrel vinnig en skiet na die wit pit oorkant hom. Van haastigheid skiet hy mis en sy ghoen beland in die gat. Vikus pluk die ghoen woedend uit die gat uit en gee die stoel ’n skop. Die swart hond begin saggies kerm. Hy kyk na oom Willem met sy geel oë.

Ek kry dit reg om ’n swart pit raak te skiet. Dit skuif ’n klein entjie en gaan lê reg langs oom Willem se hand op die bord. Dawie plak sy ghoen op die bord neer en skiet wild. “Ag hel,” vloek hy toe die wit pit reg in die rondte tol en op dieselfde plek gaan lê.

Die swart hond se fyn tjankgeluidjies het harder geword. Hy swaai sy stomp stert terwyl hy kerm, soos wat hy altyd maak as hy stout was en hy weet Ouma gaan met hom raas. Hy haal nie sy oë van oom Willem af nie.

Oom Willem skiet sonder om te mik. Hy tref my swart pit en ’n ander een en al twee die pitte skuif in die swart bek van die gat in. Vikus en Dawie spring op en gooi hulle ghoens neer, terwyl hulle kerm dat hulle nie meer gaan speel nie. Oom Willem staan stadig op en verbaas dink ek hy gaan vir die eerste keer in sy lewe met hulle baklei, want sy oë is rooi en styf, en die are bult soos dikgevoerde slange in sy nek. Vikus en Dawie bly stil en kyk met groot oë na oom Willem wat skielik lank en donker en gevaarlik lyk.

Dan val oom Willem op die vloer neer, vinnig, soos ’n groot boom wat afgekap is. Die swart hond spring eenkant toe en begin blaf. Oom Willem se lyf trek inmekaar en dan begin hy ruk. Oop en toe gaan sy lyf, oop en toe, soos ’n konsertina wat hard gespeel word op ’n dans. Oop en toe. Sy oë is wit en bolle skuim omkring sy blou lippe. Dit lyk of die swart hond hom wil byt. Ek hoor myself skree.

“Ouuumaaa!”

Die swart hond kom kruip tjankend agter my weg. Ek gryp hom om sy lyf, en steek my gesig weg in sy hare. My gesig lig vanself weer op uit die hondelyf en ek sien hoe Ouma die grootoog-seuns wegsjoe en by oom Willem gaan kniel op haar jig-knieë. Sy koer saggies vir hom soos ’n mammaduif, terwyl sy oor sy rukkende kop streel.

Stadig bedaar die rukke. Oom Willem trek sy asem diep in en lê stil. Ouma haal ’n tissue hier voor tussen haar tieties uit en vee sy mond af. Die swart hond lek my arm aanhoudend en swaai sy stert. Ek is bly, want dis asof die hond vir my wil sê toemaar dis verby.

Oom Mike bring ’n glas water. Ouma vee die sweet van oom Willem se voorkop af. Dit lyk asof hy ’n groot baba is wat slaap daar op die stoep se vloer. Al die plooie op sy gesig is uitgevee en vir die eerste keer sien ek hoe lank sy ooghare is waar hulle op die wit van sy wange lê. Hy is nie rêrig oud nie, sien ek nou.

Vikus en Dawie loer versigtig om die stoep se pilaar. Hulle kyk na die drie grootmense op die stoep, die twee bekommerdes wat afkyk na die slapende een met die nat kakiebroek en hulle giggel uitasem. Skielik haat ek hulle.

Ek storm teen die stoeptrappe af, stamp hulle sweet-stink seunslywe weg voor my en skielik hol ek. My voete kies vanself koers na die moerbeiboom toe. Die swart hond galop soos ’n perd agter my aan. Ek klouter na my mik, my eie plek toe. My hande gly teen die bas en ek skuur my knieë oop teen die growwigheid. Die pyn voel na niks.

Ek kry my sit in die mik en vou my arms om my knieë. Die bloed dam op teen my arm en vorm ’n waterige straaltjie tussen die stof deur. Die trane druk hier in my keel en skielik kan ek die snikke nie meer keer nie. Ek laat my kop sak in die holtetjie wat my arms maak en ek skree soos ek huil. “Eina, eina, eina,” huil ek. Maar ek weet ek huil nie oor die stukkende knieë nie.

Die swart hond kerm hier onder die boom. Ná ’n ruk droog die trane op en ek loer tussen my bene deur na hom toe. Hy sit geduldig en opkyk na die stukkie van my lyf wat hy tussen die blare deur kan sien. Toe hy nie meer snikke hoor nie, gaan lê hy met sy kop op sy voorpote. Net sy oë loer so af en toe op na my toe.

Die blare begin vir mekaar fluister en ek maak my oë toe om te probeer luister wat hulle sê. ’n Koel luggie kom streel hier oor my nat gesig en die sagtheid daarvan laat my dink aan Ouma wat so mooi met arme Oompie gewerk het. Sy was nie bang of kwaad nie, net sag en geduldig. En dit het oom Willem laat beter word en hom laat slaap.

Maar ek hoor in my kop die seuns se gegiggel en skielik stroom die trane weer. Nou verstaan ek hoekom die ander kinders altyd so naar is met oom Willem. Ek verstaan Dawie se tong?uitstekery en hoekom niemand ooit aan oom Willem se kant wil wees as ons vingerbord of kaart speel nie. Ek klim uit die boom uit; suig my asem in oor die kniekoppe wat skielik seer en styf voel. Die hond staan op en wikkel sy agterlyf. Hy is bly ek voel weer beter.

Onder die boom lê die skottels wat ons op die ashoop opgetel het en waarmee ons gister huis?huis gespeel het. Ek vat die skottel met die minste gate en stap die hitte in op pad na die vrugtebome toe. Die swart hond tou agter my aan, hygend in die son.

Ek pluk perskes en appelkose en sit dit in die skottel. Die geel en goud lyk soos sonkolle teen die geroeste blik. Ek soek die laaste mooi appels en sit hulle tussenin. Die son se ergste hitte is weg toe ek uiteindelik koers kies sementdam toe. Versigtig was ek die vrugte en ek vryf die perskes se hare af. Die swart hond is ’n skaduwee wat my nuuskierig dophou.

Die son is al besig om te sak toe ek weer die stoeptrappies opklim. Die huis is baie stil. Ek sien die plek waar oom Willem se twak op die rooi vloer uitgeval het. Iemand het probeer om dit op te vee, maar stukkies bruin-en-geel kleef nog tussen die gleuwe in die teëls. My hart begin ruk en ’n groot bang kom sit in my keel. Maar ek haal diep asem, vat die skottel vaster en stap na oom Willem se kamer toe. Die plankvloer kraak ongeduldig met elke tree wat ek gee.

Die deur is toe. Ek draai die koperknop en dit tjierr droogweg onder my vingers. Die kamer is donker. Ek ruik vicks en rojal cherrie twak en oom Willem se lekkerruikgoed. Hy lê op sy rug op die bed, ’n reiskombers tot onder sy ken opgetrek. Sy oë is toe. Skielik is dit vir my baie belangrik om met hom te praat en alles aan hom te probeer verduidelik. My stem klink so droog soos die deur se skarniere toe ek praat.

“Oom Willem,” sê ek sag. En toe ’n bietjie harder; “Oompie, dis Meisiekind wat hier is. Maak ‘seblief toggie jou oë oop.”

Gehoorsaam gaan die oë oop en ek sien die dofheid daarin en die hartseer gemeng met die bang op sy gesig. Ek hou die skottel dat hy mooi kan sien.

“Kyk, oom Willem, dis vir jou. Lekker vrugte om jou beter te laat voel. Die perskes se hare is af en als.”

Oom Willem kyk na die vrugte en dan weer na my. Ek vee skaam oor my wang en toe ek my hand laat sak sien ek dit is vol van die halfdroë modder van trane gemeng met stof. Hy maak sy oë weer toe en sy onderlip begin bewe. ’n Groot traan glip onder sy ooglid uit en loop eers stadig en toe al vinniger oor sy ingeduikte wang.

“Moenie, ‘seblief, Oompie,” huil ek saam.

Hy gee ’n groot sluk en kyk weer vir my. “Dankie, Meisiekind,” sê hy met ’n toe neus. “Dis ...’n baie mooi present. Dankie.”

Ek sit die skottel op sy bene neer en vat sy hand.

“Oompie moet tog nooit sleg voel oor die ander kinders so lelik is nie. Hulle is lief vir Oom. Dis net, ek dink hulle is bang.”

Hy kyk vinnig op en vra met net sy oë wat ek bedoel.

“Hulle is bang dat hulle ook so siek kan word, Oompie. Hulle wil nie daaraan herinner word dat mens so siek kan wees nie. Dis hoekom hulle met Oom snaaks is. Én hulle is bang Oom gaan dood en die beste manier om te keer dat hulle hartseer word is om vir hulleself te sê dat hulle nie rêrig omgee oor Oom nie.”

“En jy, Meisiekind?” Sy oë pleit.

“Ek is ook bang Oom gaan dood, Oom. En ek is ook bang ek word siek, maar ek weet ek sal nie siek raak net oor ek vir Oom lief is nie. En ek is nie bang vir die hartseer nie, want hartseer is nie verkeerd nie. Ouma sê mens kan baie seer vat voor jou hart doodgaan.”

Ek klouter op die bed en vat die knipmes wat hy na my uithou. Ek skil sukkel-sukkel ’n vet perske vir hom af en voel hoe die sap koel strepies oor my hand maak. Stukkie vir stukkie gee ek die perskevleis vir hom aan en dan suig hy dit totdat hy dit insluk. Die swart hond sit en grinnik vir ons en af en toe gooi ek ’n stukkie perske vir hom wat hy uit die lug hap. Die lug is stil in die donker kamer. Iewers blaf ’n hond en die hoenders baklei skril met mekaar.

Oom Willem leun vorentoe en trek my vir ’n oomblik teen hom vas. Sy skouer druk benerig teen my wang en sy hande op my rug is so sag soos duifvlerke.

“Tjaa, Meisiekind,” sê hy sag toe hy my weer laat gaan. “Die ou lewe is snaaks. Partykeer, net so voor mens se hart doodgaan van die seer, kry mens ’n skottel vol vrugte present. Lat jy weer kan aangaan.”

Hy gee my ’n glimlag wat sy plooie in kuiltjies verander en vat die mes om vir my ’n appel te skil. En daar sit ons drie, ek, oom Willem en die swart hond en ons glimlag dom, maar gelukkig, vir mekaar.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.