SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die eerste weergawe van dié storie
Lees die finale weergawe van dié storie

Skaapkop

Hannes Lötter

Ons is net ’n bietjie laat, maar ek weet hoe voel die Gilde oor stiptelikheid. Die Suidooster speel rond met die Kaapse verkeer wat die afgelope paar jaar vreeslik geword het. Ek sit my voet hard neer as die BMW die gaping vat voor die oorlaaide geblaas van ’n taxi-toeter. Slangvelmotorhandskoene presies tienuur twee-uur op die stuurwiel, met oë wat die truspieël akkuraat vir vinnige motors vang. Daar is darem niks wat ’n pad so ophelder soos die vinnige Gholfs en Opels nie. Beula lyk baie smaakvol met die rooi fluweelrok. Haar luilekker tennisspelery hou haar slank terwyl ek agter ’n lessenaar moet sit. Die wind pluk die BMW amper uit my hande maar ek hou die voet hard op die versneller ten spyte van haar bang kyk. Om aspris te wees, gooi ek die rathefboom brutaal terug na derde op die draai oorkant Solly Kramers en kry diep lekker as haar kneukels wit word terwyl die Michelins miaau op die pad. Haar kuif kom los en val bewend oor die vrees op haar gesig en ek moet vir die soveelste maal die suur, wat soos braak opwel, onderdruk. Die enjin skreeu soos ’n kat as die verkeerslig groen word en die bande spat triomfantlik reënwater teen ’n verslae Opel GSE wat nog wou probeer. Behendig ontduik ek die verkeer in Muizenberg se nou strate en steek ’n taxi verby wat Beula laat snak na haar asem as ek glimlag, vasgevang in die dans van rathefboom, versneller en remme. Stiptelik sewe-uur stop ek hardhandig agter Paul se nuwe Cressida. Voor hom is Jurgen se Mercedes. Kerneels steek soos gewoonlik sy rooi Jetta in die garage weg. Beula slaan die metaalblou deur te hard as sy vinnig uitklim. Weer die bekende krieweling in my maag maar hierdie keer verduur ek dit ’n bietjie langer. Sy gee Kerneels haar gebruiklike koue Franse soengroet maar haar lyf lê swaar teen hom.

“Welkom. Welkom!” Kerneels se handdruk is soos altyd glibberig en sy gesig hovaardig joviaal terwyl sy oë Beula se heupe teen die trappe volg.

“Jou tuin lyk mooi.” My regterhand beduie vaag in die rigting van die rooi roosbeddings, waar die varklelies eers gestaan het, desperaat om sy aandag weg te lok. Vyf maande terug het hy die rooi rose geplant. Ek glimlag opreg.

“Ek is bly jou hou daarvan. Rose het so ’n besondere plek in die heelal.” Gebruik sy Universiteit van Kaapstad se filosofieprofessor-stem.

“Korrek. Een van die dae sal hulle uitvind dat al die sterrestelsels om ’n rooi roos draai.” My opregte glimlag verander in ’n verspotte seuntjieglimlag tot hy ook verward glimlag. Tipiese professor. Manne tussen seuntjies en seuntjies tussen manne.

Almal is daar nes ses maande gelede. Paul se bril glinster bo-oor sy boepens en kleurlose Helena gee my haar vormlose lippe. Jurgen se naskeer ruik soos gewoonlik na wyn maar hy is darem nog op sy voete. Joan slaan haar oë neer toe sy my soen, skaam vir haar dronk man. Die deur na die kombuis en eetkamer is toe, want hulle is ook bang dat die reuk aan die meubels sal kleef. Elsa maak die deur vinnig agter haar toe waarop sy my fyntjies soen met sweterige lippe. Sy ontduik egter my betekenisvolle kyk. Kerneels maak hard keel skoon vir stilte sodat hy met sy aangeplakte formele stem kan praat.

“Welkom by die een en dertigste ontmoeting van die Skaapkop Gilde! ’n Minuut van stilte om in die regte stemming te kom.” Ek loer deur skrefies en betrap Beula terwyl sy na Kerneels kyk. Hy knipoog vir haar. Die krieweling in my maag dringender as ooit.

“Dankie.” Seremonieel buk hy af en tel die dolk voor hom van die koffietafel af op sodat die lig uittartend weerkaats vanaf die goue hef. Vyf van hulle het hom bo my as voorsitter verkies. Jurgen en Paul het vir my gestem. Dit verg al my wilskrag om weer die opregte glimlag terug te kry. Kerneels gooi triomfantlik die deur oop en in enkel gelid marsjeer ons die eetkamer binne. Streng protokol word gevolg. As gewese voorsitter sit ek op die heel onderste punt. Links die gesellin van die nuutste lid en aan my regterkant die voorsitter se vrou, Elsa. Aan die hoof van die tafel sit Kerneels met Beula natuurlik aan sy regterhand. Ons bly agter ons stoele staan om die tafel in al sy glorie te kan inneem. Een van Kerneels se belaglike voorstelle. Die tafel is in rooi fluweel gedrapeer en alles op die tafel is silwer. In die middel is daar ’n pragtige vaas met vars koningproteas en die weerkaatsing van die kandelaar waggel formeel rond op die silwerkoepels wat vir elke gas gedek is. Kerneels tik saggies met die dolk se lem teen sy silwerkoepel en ons gaan sit soos een man. Die koepels kan die reuk nie meer onderdruk nie sodat my mond vreeslik water. Op ’n knik van Kerneels se kop word die koepels aan ons linkerkante op die vloer geplaas. Met sy volgende knik, terwyl elk erkentlik in die skaap se oë staar, bid ons die Gilde-gebed.

“Deur u vlees te eet, eer ek u nagedagtenis.” Ons wag tot Kerneels die dolk met die goue hef neem om seremonieel die eerste snytjie te maak. Soos gebruiklik is my eerste sny net onder die linkeroog om gou tot by die lekker vleis in die wange te kom. My dolk is ook baie skerp maar ek mis die gerusstellende gewig van die goue hef wat ingekerkerd tussen Kerneels se vingers blink. Om aan die skaap te wys dat ons sy nagedagtenis eer, word daar voor die eerste snit nie drank aan tafel toegelaat nie. Kerneels se knikkende kop forseer my om kouend op te staan om die wyn te skink. In die verlede het ek dit blymoedig as voorsitter gedoen maar ’n meerderheid van die lede het besluit dat die nuwe voorsitter alreeds genoeg doen. Nou is dit die ondervoorsitter se plig om eers al die koepels bymekaar te maak en dan die wyn te skink. Natuurlik eerste vir Kerneels wat die wyn oneindig lank beruik en besnuif voor sy hovaardige knik van goedkeuring om die glase te vul. Beula eet, soos Kerneels ook, die oë eerste en hulle kyk kameraderlik na mekaar. Elsa se knie stamp my waarskuwend en ek konsentreer weer op die kop en die smaak. Die eerste ruk is dit stil tot die ergste aptyt gestil word. Toe praat ons sporadies oor allerlei beuselagtighede maar die skaapkop en die wyn kry voorkeur soos dit hoort. Dit is nie lank nie voor Jurgen een van sy dronkmanstories vertel. Die ander lag met los tonge saam.

“Ek wonder of dié skaap weet dat ek dit eet?” Beula hang aan Kerneels se vetterige lippe. Paul lag asof dit snaaks terwyl hy met sy glas in my rigting beduie vir nog wyn. Ek skink sommer vir Beula ook, wie se wange al bloesend is van Kerneels se bobbejaanblink aandag.

“Miskien wil dit nie weet nie!” Elsa kyk na die oorkantste muur terwyl sy praat en sien blykbaar nie Kerneels se verergde kyk nie. Jurgen proes laggend rooiwyn oor die tafeldoek maar hy sien dit nie eers nie. Joan is die ene konsentrasie terwyl sy klein repies van die oor afkerf om te maak of sy nie die skande sien nie. Net toe ek gaan sit, nadat ek al die glase gevul het, ledig Kerneels sy glas in een orgiastiese teug en beduie in my rigting. Elsa se gesig gee my egter die krag om sy glas met ’n gedwee glimlag te vul.

“Ek is klaar!” Paul glimlag trots en stoot sy bord vorentoe vir inspeksie. Kerneels staan op en bekyk die kopbeen krities. Elke gat en duik word bekyk maar dit is gou duidelik dat al die vleis deeglik afgeëet is. Sonder om te wag vir Kerneels se kop, staan ek moed in die skoene op om die glase te vul vir die heildronk. Paul kan lank praat en daar is niks erger as om vir tien minute na sy monoloë te luister nie. En dit terwyl die skaapkop staan en koud word! Paul vertel onsamehangend die storie van die padda en skerpioen en sluit triomfantlik af terwyl sy glas roekeloos in die rigting van die kopbene gewaai word: “Ons drink op julle lewens, want dit is in ons natuur.” Eers nadat hy die glas geledig het, besef ons dat die toespraak klaar is. Kerneels tree nader en raak seremonieel met die dolk se lem aan die skedel. Paul tel sy eie dolk op, steek behendig sy mes agter in die skaap se kop in en wikkel dit tot die naat oopvlek soos ’n ryp granaat. In stede van ’n poedinglepel is daar ’n langsteelteelepel gedek wat hy lustig gebruik om klein stukkies van die stomende wit-pienk welbehaaglik in sy mond te sit. Die uitdrukking van genot op sy gesig laat my dringend vleis afkrap van die been. Die gedurige opspringery en wynskinkery laat my heel laaste die kaal kopbeen uithou vir Kerneels se inspeksie, maar hy gesels met Beula. Ek vererg my nie en praat later glimlaggend hard met hom om sy aandag te kry. Hy bekyk die kopbeen krities.

“Nog nie skoon nie.” Hy beduie vaag na die oogholtes wat hom aangluur.

“Waar?” Dit is Elsa se oorredende knie wat my laat kalm klink. Hy leun vooroor en wys met die goue dolk na ’n verkleuring op die oogbank. Ek maak my mond oop om iets te sê maar Elsa se oë laat my gedwee die stukkie vlies afkrap. Beula lyk ongemaklik omdat ek nog steeds my innemende glimlag hou. Oplaas tik Kerneels die kopbeen en ek kap my dolk sekuur agter die kop in. Nie te hard nie want dan word die harsings beskadig. Ook nie te sag nie, want dan kan daar beensplinters inkom. Ná ’n bietjie wikkel, breek die been op die nate oop en my tone krul onwillekeurig. Versigtig vat ek ’n klein skeppie. Vir die eerste keer die aand ontspan ek heeltemal as die speeksel en die harsings in my mond meng. Bang om die pikante smaak van die harsings te verberg sal ek gewoonlik nooit wyn drink nie, maar vanaand is ’n besondere aand, daarom ledig ek ’n halwe glas van die Pinotage. Toe ek oplaas my bord wegstoot, sit almal al en wag terwyl Kerneels sy ongeduldige vingers op die tafel trom. Kerneels help soos gewoonlik nie vir Elsa met die koffie nie maar steek een van sy groot goedkoop sigare aan. Hy gee grootmoedig vir Beula ’n trek wat op haar beurt dit sensueel in haar mond rol.

Presies vyf voor elf staan ons soos een man op en verlaat met dankbetuigings die huis. Gelukkig moet ons eerste gaan, want die BMW is heelagter in die oprit. Kerneels vermy soos gewoonlik my oë toe ons hand skud op die stoep. Ons ry die hele pad in doodse stilte. Die outomatiese hek werk gelukkig sodat ek nie in die blaffende nag hoef uit te klim nie, maar moet die huis deurloop terwyl sy in die veilige motor sit en wag. Dan loop sy by my verby sonder om eers na my te kyk, gooi haar gebruiklike konjak en verwerdig haar nie eers om my te vra of ek iets wil hê nie. Ek skink toe maar self my whiskey.

“Het jy dit geniet?” Weer my opregte glimlag. Haar oë skrefies van agterdog.

“Ja.” Sy vat ’n lang teug.

“Die kos was heerlik. En Kerneels het hom goed van sy taak gekwyt?” Sy gaap egter net, sit die leë glas onhandig neer en strompel die gang af na die slaapkamer. Toe ek vyf minute later daar inkom, lê sy al en snork. Soos die vorige drie nagte sal sy vasslaap vir die volgende vyf ure. Vinnig trek ek die blou oorpak en tuinhandskoene aan, en maak dubbel seker dat my oudste paar hardloopskoene stewig vas is. Amper as ’n nagedagte sit ek die dolk in my sak. Vir ’n oomblik gaan staan ek sodat my gejaagde brein kan kalmeer, maar al wat ek hoor en sien, is Kerneels se beterweterige stem en die ratse behaarde handjies wat oor Beula en die voorsittersdolk streel. Alles werk perfek. Die BMW. Die outomatiese garagedeur en hek. Toe die rit. Selfs die parkering by die St James Hotel was anoniem. Net soos ons dit beplan het. Die krieweling in my maag word yskoud.

Die sydeur is ongesluit en die skarniere vars geolie. ’n Nagliggie skyn op drie kerse wat op die swarthoutvertoonkabinet uitgestal word. Lank, kort, lank. Hy is dus in die studeerkamer. Kort, lank, kort sou die slaapkamer beteken het. Hy sal haar nooit skei nie. Gebruik Beula maar net. Die lang donker gang af na die streep lig onder sy kantoordeur. Die koue in my maag neem besit van my hele liggaam terwyl ek die deur saggies oopmaak. Hy sit en tik op sy PR met sy rug na my. Sy weerloosheid maak my sag en vir ’n oomblik staan ek stil en voel hoe die koudheid my verlaat. Dan glinster die lig op die dolk se goue hef waar dit op die ereplek hang. Net daar onder, die foto waar hy die dolk triomfantlik omhoog hou met Beula in die voorgrond wat hom toejuig. Asof in ’n veraf droom, sê ek sy naam. Hy spring vervaard op maar ek slaan die dolk tot by die hef in sy kop. Ek verwyder nie dadelik die mes nie maar wag dat die hart eers behoorlik gaan staan sodat daar nie bloed moet spuit nie. Dit gee my kans om die lessenaar se laaie te plunder en die inhoud wild rond te gooi. Die mes sukkel geweldig om uit te kom en dit kos my voet op sy bors en twee hande om dit uit te trek. Toe ek my voet van sy bors afhaal, roggel hy. Maar ek skrik nie. Ligvoets gaan ek terug na die sydeur en beplak die ruit van buite met kleeflint. Die baksteen wat Elsa langs die stoep weggesteek het, breek die ruit gedemp. My hand gaan maklik deur en ek druk my arm tot by my skouer in om dit eg te laat lyk. Vies skud ek die glasstukkies van my handskoene en arm af.

Elsa wag by die slaapkamerdeur en ek knik my kop ja vir haar eerste stilswyende vraag en toe nee vir haar winkende lyf. Haar selfoon alreeds in die hand. Sy staan uitdagend as ek haar nagklere afskeur. Vir ’n oomblik huiwer ek, vasgevang in haar brose naaktheid, voordat ek haar klap sodat sy oopbeen teen die bed val. Ek gryp haar arms vas tot sy skreeu. Weer klap ek haar as sy borrels bloei oor die Persiese tapyt. Haar oë dof van die pyn, maar vasberadenheid baie duidelik in die lyne om haar mond. Sy beduie ek moet terugstaan en skud haar kop soos ’n hond om die bloed verder te sprei. Met moeite kom sy orent om haarself in die spieël te bekyk.

“Slaan my met jou vuis.” Die bloed maak borrels om haar mond en ek tree onwillekeurig terug om nie bloed op my te kry nie.

“Nee, dit is genoeg!” My stem klink hoog.

Sy is al besig om die polisie te bel toe ek die gang afhardloop na die sydeur wat ek aspris oop los. Oor die muur, drie en dertig haastige treë en dan rustig loop onder die skadu’s van die palms in die parkeerterrein. Die leersitplek verwelkom my met ope arms en die kwadrofoniese klanke van Tom Petty se “Running down a dream” bring my hart tot bedaring. Die polisie sal soek na ’n kaalkop, 1.65 m. swart man, met ’n litteken op die neus. Wye lippe, blou oorpak en wit atletiekskoene. Hy het haar gelos en vir oulaas geklap toe sy hom tussen die bene skop. Terwyl sy besig was om met die polisie te praat, het sy Kerneels se lyk in die studeerkamer gekry. Elsa vertel dat sy ure voor die spieël oefen om oortuigend te klink. Haar graad in drama sal help.

Net voordat ek op die N2 opdraai, kom die eerste blou lig verby. Hulle is vinnig vanaand. Die Kubaanse sigaar uit die paneelkissie ruik heerlik toe ek dit brand maak. Die oordrewe bande en wye chroomvellings van ’n rooi Ford Capri trek langs my in by die Bellville-afrit. ’n Bril-cream besmeerde takhaar, met arms wat die moulose T-hemp vol maak, gluur my aan. Die lugdraadlemoen wieg op en af terwyl hy ritmies die V8 laat dreun op die maat van luide Country. Ek staar strak voor my. Hy grinnik en lê terug in sy tiervelgeklede sitplek en wys uitdagend duim. My een oog hou die verkeerslig dop en die ander loer na die toere wat al gladweg by 2 500 trek en ek knik my kop liggies. Die weerkaatsing van die verkeerslig slaan oranje in Woolworths se venster oorkant die straat en ek maak vir oulaas seker dat die rathefboom in eerste is. Die BMW druk my hard terug in die sitplek terwyl die Capri te veel blou rook onder die agterwiele laat uitborrel vir ’n goeie wegtrek. Met die toere in die rooi skakel ek oor na tweede sonder om my voet van die petrol te haal, en verlustig my as die Capri se chroombuffer in die truspieëltjie verskyn. Oorhaastigheid en oorgerustheid laat my vir net ’n millisekonde soek vir derde, maar toe is die takhaar se gesig al langs myne. Koel los ek die petrolpedaal om te maak of die resies oor is, draai sommer in Verneukstraat op om die noodwendige oogkontak te vermy en ry met die ompad huis toe. Beula roer nie toe ek my koue voete aspris styf teen haar warmte vasskop nie.

Ek maak of ek slaap as die telefoon tien skreiende luie vat om Beula wakker te kry. Toe nog drie, terwyl sy rondvroetel vir die gehoorstuk. Die welkome stilte was van korte duur. Met die slaap nog swaar op haar gesig, verander haar mond in ’n pynlike wond terwyl sy die hele tyd net gil en gil. Terwyl ek haar kop in my linkerarm stut, tel ek die gehoorstuk van die grond af op. Dit is ’n baie onduidelike Jurgen met trane in sy stem. Met ’n kragwoord en oordrewe berou eindig ek gou die gesprek om aan Beula aandag te gee. Dit kos my ’n glas suikerwater en twee slaappille om haar te kalmeer. Daarna staar sy net na die muur vanuit die deurmekaar bed totdat sy swaar in my arms aan die slaap raak. Ek trippel die trappe af om die bottel gedokterde konjak op die grasperk uit te gooi waarna dit saam met die hardloopskoene en oorpak in die vullisdrom gegooi word. Geoordeel aan die honde se oproerige geblaf onder die bult, sal dit nog net vyf minute wees voordat die munisipaliteit die vuilis verwyder. Dit is hoekom ons ’n Woensdagaand gekies het.

Die Burger se druktyd is met dertig minute uitgestel om die grusame moord van ’n professor op die voorblad te plaas. Kerneels se onduidelike foto is in die middel van ’n vervelige huldeblyk maar gelukkig is daar langsaan darem ’n paar paragrawe oor hoe die moordenaar toegang tot die huis gekry het en hoe die dapper weduwee die aanvaller afgeweer het. Ek glimlag onwillekeurig toe ek die eerste sluk koffie vat en dit romerig in my mond spoel.

Die polisie kom eers Vrydagoggend vroeg net nadat ek koffie gemaak het. Beula nog steeds in haar slaappilland. ’n Apologetiese kleurlingman, speursersant Osman, en ’n lang derm van ’n konstabel met die naam van Cronjé. Oor hulle koppe sien ek ’n onooglike geel Capri. Getrou aan die tipe voertuig is daar selfs ’n drukvlerkie op die kattebak.

“Kom in!” Terwyl ek die voordeur wyd oopgooi en hulle hande hartlik skud. “Koffie?”

“Nei dankie, meneer. Net ’n paar roetinevrae. Was u Woensdagaand by professor Vermaak aan huis?” Sy ronde glimlag verleë as hy iets skryf in die boekie wat ongemerk in sy hand verskyn het.

“Ja. Ek hoop julle sal die moordenaars kry!” My stem dik en hatig soos wanneer ek met vakbonde onderhandel.

“Was u vrou saam?” Ek knik. Weer krap hy geheimsinnig in sy boekie.

“Enigiets verdag opgemerk?” Ek maak of ek dink.

“Nie eintlik nie. Ons is maar vinnig daar weg. Dit is ’n belangrike reël van die Gilde: Almal moet teen 11:00 nm uit die huis wees.” Selfs Cronjé los my mooi uitsig van Tafelberg om te kom luister.

“Sjilde? Wa’se sjilde?” Sy oë skielik wakker.

“Dit was die maandelikse saamkoms van die Skaapkop Gilde.” Argeloos. Ek offer my sigarette in hul rigting. Cronjé vat dankbaar en is vinnig met sy Bic. Oulike seun.

“Ons kom een keer ’n maand byeen dan eet ons gebakte skaapkop. Kerneels was die voorsitter. Jy ken van skaapkop?” Ek blaas die rook manierlik hoog die lug op en glimlag in my binneste.

“My pa was ’n slagter. Daa’s wurms in die niesholtes!” Hy glimlag goedig om die walging in sy stem van sy gesig te hou.

“Dit is darem nie so erg nie.” My glimlag vergewend.

“Hoe laat was u by die huis?” Weer koponderstebo saaklik.

“Dit neem my gewoonlik so twintig minute.”

“Twintig! Van Muizenberg af? Watse kar?” Cronjé se seunstem vol bewondering.

“2002 BMW 325i.” My oë sak in die verleë kyk.

“Iek self is ma’ ’n Ford-man.” Osman se ogies glinster terwyl hy in die ou Capri se rigting beduie.

“Niemand het nog ooit vir ons weggery nie, nè, Sarge?” Cronjé se hoë stem veels te trots. Ek stap die paadjie af en skop kritiserend die breë linkervoorwiel. Polisieradio netjies ingebou tussen die voorste sitplekke. Baie skoon, net ’n swart aktetas op die agterste sitplek.

“1972 Capri Perana MK 1. Hierie specific model het nog nooi op Kyalami verloor nie.” Osman se gesig ’n trotse volmaan.

“Vee ag, 324 Perdekrag!” Cronjé se hoë stem irriterend.

“Soos jy self weet bestaan ’n motor nie net uit ’n masjien nie. Dit is die laeprofielbande, die gladde ratkas, die vastrapewenaar en natuurlik ook die perdekrag wat ’n rol speel.” Ek kyk na Cronjé maar praat met Osman as ek die sigaretstompie vies vermorsel.

“Dit het selfverstellende vering, palwissel-transmissie en geventileerde sluitweerremme. Net soos u motor!” Cronjé wys triomfantlik na die ou kar.

“En wat van die drywer?” Die Kaapse aksent en Osman se goedige ogies veels te wys.

“Dit ook! Dit alles vorm ’n geheel.” Ek hoes om die driftigheid wat skielik in my opwel te onderdruk.

“Dit WAS ’n lekker motor op sy tyd. Tegnologie staan nie egter nie stil nie. Op my oom se plaas staan ’n ossewa wat met die nuutste en beste tegnologie gebou is!” Ek lag. Osman lyk seergemaak, sy mond oop om iets te sê maar Cronjé val hom ongeskik in die rede.

“Wys hom daai foto, Sarge!” Osman lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan maar onthou toe en maak die deur oop om by die swart aktetas te kom.

“Gister het my tjommie by Traffic ’n speedtrap-foto gestuur wat bewys dat ’n Capri ’n BMW wen!” Trots produseer hy ’n stuk fotostaatpapier wat hy net ’n vinnige kyk gee voor hy dit aangee. Alhoewel in wit en swart, is dit duidelik dat ek en my BMW met ’n kortkoppie teen ’n Capri verloor. Ek word fisies naar as Cronjé nader staan om die foto oor my skouer te bekyk. ’n Bewing in my hand laat die papier skud as ek Cronjé se asemhaling reg by my ore hoor.

“Kom kyk hier, Sarge!” Cronjé se stem hoog van opgewondenheid en ek gooi op oor die Capri se bonnet.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.