SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die tweede weergawe van dié storie
Lees die finale weergawe van dié storie

Skaapkop


Hannes Lotter

Ons is net ’n bietjie laat maar ek weet hoe voel die Gilde oor stiptelikheid. Die Suidooster speel rond met die Kaapse verkeer wat die afgelope paar jaar vreeslik geword het. Ek sit my voet hard neer en die BMW vat die gaping voor die oorlaaide geblaas van ’n taxi-toeter.

Slangvelmotorhandskoene presies tienuur twee-uur op die stuurwiel en oë wat die truspieël akkuraat vang vir vinnige motors. Daar is darem niks wat ’n pad so ophelder soos die vinnige Gholfs en Opels nie. Mercedesse jaag ongelukkig nooit resies nie. Weet seker hulle gaan verloor. Beula lyk baie smaakvol met die rooi fluweelrok. Haar luilekker tennisspelery hou haar slank en lenig terwyl ek agter ’n lessenaar moet sit. Die wind pluk die BMW amper uit my hande maar ek hou die voet hard op die versneller ten spyte van haar bang kyk. Om aspris te wees gooi ek die rathefboom brutaal terug na derde op die draai oorkant Solly Kramers en kry diep lekker as haar kneukels wit word as die Michelins miaau op die pad. Haar kuif kom los en val bewend oor die vrees op haar gesig en ek moet soos al vir die afgelope ses maande die suur wat soos braak opwel onderdruk. Die enjin skreeu soos ’n kat as die verkeerslig groen word en sprei triomfantlik reënwater teen ’n verslae Opel GSE wat nog wou probeer. Die leersitplekke ruik behaaglik en ek haal diep asem en laat die gryswit leer my omhels. Behendig ontduik ek die verkeer in Muizenberg se nou strate en steek ’n taxi verby wat Beula laat snak na haar asem as ek glimlag, vasgevang in die dans van rathefboom, versneller en remme. Stiptelik sewe-uur stop ek hardhandig agter Paul se nuwe Cressida. Voor hom is Jurgen se Mercedes. Kerneels steek soos gewoonlik sy rooi Jetta in die garage weg. Beula klim vinnig uit en slaan die metaalblou deur baie hard. Weer die bekende krieweling in my maag maar hierdie keer verduur ek dit ’n bietjie langer. Sy gee Kerneels haar gebruiklike koue Franse soengroet maar haar lyf lê swaar op hom.

“Welkom. Welkom!” Kerneels se handdruk is soos altyd glibberig en sy gesig hovaardig joviaal maar sy oë is besig om Beula se heupe op die trappe te volg.

“Jou tuin lyk mooi.” My regterhand beduie vaag in die rigting van die rooi roosbeddings waar die varklelies eers gestaan het, desperaat om sy aandag weg te lok. Vyf maande terug het hy die rooi rose geplant. Ek glimlag opreg.

“Ek is bly jou hou daarvan. Rose het so ’n besondere plek in die heelal.” Gebruik sy Universiteit van Kaapstad se filosofieprofessor-stem.

“Korrek. Een van die dae sal hulle uitvind dat al die sterrestelsels om ’n rooi roos draai.” Ek verander die opregte glimlag in ’n verspotte seuntjieglimlag en hou dit tot hy ook verward glimlag. Tipiese professor. Manne tussen seuntjies en seuntjies tussen manne.

Almal is daar soos ses maande gelede. Paul se bril glinster bo-oor sy boepens en kleurlose Helena gee my haar vormlose lippe. Jurgen glimlag rooi deur sy mond wyn en val oor my en die reuk van sy naskeer laat my saggies ril. Joan slaan haar oë neer toe sy my soen, skaam vir haar dronk man. Haar ferm gleuf soos altyd bekoorlik. Die deur na die kombuis en eetkamer is toe want hulle is ook bang dat die reuk aan die meubels sal kleef. Elsa maak die deur vinnig agter haar toe en soen my fyntjies met sweterige lippe terwyl sy my betekenisvolle kyk sonder moeite ontwyk. Kerneels maak hard keel skoon en wag vir volkome stilte tot hy met sy aangeplakte formele stem praat.

“Welkom by die een en dertigste ontmoeting van die Skaapkop Gilde! ’n Minuut van stilte om in die regte stemming te kom.” Ek loer deur skrefies en betrap Beula terwyl sy na Kerneels kyk. Hy knipoog vir haar. Die krieweling in my maag dringender as ooit en my handpalms begin sweet.

“Dankie.” Seremonieel buk hy af en tel die dolk voor hom van die koffietafel af op en die lig weerkaats uittartend vanaf die goue hef. Vyf van hulle het hom bo my as voorsitter verkies. Jurgen en Paul het vir my gestem. Dit verg baie moeite om weer die opregte glimlag terug te kry. Kerneels gooi triomfantlik die deur oop en in enkel gelid marsjeer ons die eetkamer binne. Streng protokol word gevolg. Die nuutste lede eerste en heel laaste ek. As gewese voorsitter sit ek op die heel onderste punt. Links die gesellin van die nuutste lid en aan my regterkant die voorsitter se vrou, Elsa. Aan die hoof van die tafel sit Kerneels en aan sy regterhand natuurlik Beula. Almal gaan staan agter hulle stoele en daar word aspris tyd gegee sodat ons die tafel in al sy glorie kan inneem. Een van Kerneels se belaglike voorstelle en vyf aan hierdie tafel het vir dit gestem. Jurgen en Paul het teen dit gestem. Ek ook. Die tafel is in rooi fluweel gedrapeer en alles op die tafel is silwer. In die middel is daar ’n pragtige vaas met vars koningproteas en die weerkaatsing van die kandelaar se kerse waggel formeel op die silwerkoepels rond wat vir elke gas gedek is. Kerneels tik saggies met die dolk se lem teen sy silwerkoepel en ons gaan sit soos een man. Die koepels kan die reuk nie meer onderdruk nie en speeksel vul my mond sodat ek hard moet sluk. Op ’n knik van Kerneels se kop verwyder ons die koepels en plaas dit aan ons linkerkante op die vloer neer. Weer ’n knik van Kerneels se kop en terwyl elk erkentlik in die skaap se oë staar, bid ons hardop die Gilde-gebed.

“Deur u vlees te eet, eer ek u nagedagtenis.” Ons wag tot Kerneels die dolk met die goue hef neem en seremonieel die eerste snytjie maak waarná ons dit ook doen. Soos gebruiklik is my eerste sny net onder die linkeroog om gou tot by die lekker vleis in die wange te kom. My dolk is ook baie skerp maar ek mis die gerusstellende gewig van die goue hef wat gedwee tussen Kerneels se hande wink. Om aan die skaap te wys dat ons sy nagedagtenis eer, word daar voor die eerste snit nie drank aan tafel toegelaat nie. Kerneels se knikkende kop forseer my om kouend op te staan om die wyn te skink wat al klaar ongekurk op die skinktafel staan. In die verlede het ek dit blymoedig as voorsitter gedoen maar ’n meerderheid van die lede het besluit dat die nuwe voorsitter alreeds genoeg doen. Nou is dit die ondervoorsitter se plig om eers al die koepels bymekaar te maak en dan die wyn te skink. Natuurlik eerste vir Kerneels wat die wyn oneindig lank beruik en besnuif voor sy hovaardige knik van goedkeuring om die glase te vul. Beula eet, soos Kerneels ook, die oë eerste en kyk kameraderlik na mekaar as die oogvog hulle kele af loop. Elsa se knie stamp my waarskuwend en ek konsentreer weer op die kop en die smaak. Die eerste ruk is dit stil tot die ergste aptyt gestil word. Toe praat ons sporadies oor allerlei beuselagtighede maar die skaapkop en die wyn kry voorkeur soos dit hoort. Dit is nie lank nie voor Jurgen een van sy dronkmanstories vertel. Die ander lag met los tonge saam. Elsa lag ook alhoewel ek weet sy het nog nie eers ’n slukkie van haar wyn gevat nie. Ek is ook maar net by my tweede glasie.

“Ek wonder of dié skaap weet dat ek dit eet?” Beula hang aan Kerneels se vetterige lippe en ek sien Elsa se gesig net ’n klein bietjie verstrak deur haar moeë glimlag. Maar ek sien ook die onderliggende staal wat ek die afgelope paar maande leer ken het. Paul lag asof dit snaaks is en beduie met sy glas in my rigting vir nog wyn. Beula se glas is ook al weer half en haar wange blosend van al die rooi alkohol en Kerneels se bobbejaanblink aandag.

“Miskien wil dit nie weet nie!” Elsa kyk na die oorkantste muur terwyl sy praat en sien blykbaar nie Kerneels se verergde kyk nie. Jurgen proes laggend rooiwyn oor die tafeldoek maar hy sien dit nie eers nie. Joan is die ene konsentrasie terwyl sy klein repies van die oor afkerf en dit byna soos biltong eet en maak of sy nie die skande sien nie. Net toe ek gaan sit, nadat ek al die glasies gevul het, ledig Kerneels sy glas in een orgiastiese teug en beduie in my rigting. Elsa se gesig gee my die krag om gedwee sy glas te vul met ’n pynigende glimlag.

“Ek is klaar!” Paul glimlag trots en stoot sy bord vorentoe vir inspeksie. Kerneels staan op en bekyk die kopbeen krities. Elke gat en duik word bekyk maar dit is gou duidelik dat al die vleis deeglik afgeëet is. Sonder om te wag vir Kerneels se kop staan ek moed in die skoene op en vul almal se glase vir die heildronk wat gaan volg. Paul kan lank praat en daar is niks erger as om vir tien minute na sy monoloë te luister nie terwyl die skaapkop staan en koud word. Paul vertel onsamehangend die storie van die padda en skerpioen en sluit triomfantlik af terwyl sy glas roekeloos in die rigting van die kopbene gewaai word: “Ons drink op julle lewens want dit is in ons natuur.” Dit is eers toe hy die glas ledig en neersit dat ons besef dat die toespraak klaar is. Kerneels tree nader en raak seremonieel met die dolk se lem aan die skedel. Paul tel sy eie dolk op, steek behendig sy mes agter in die skaap se kop in en wikkel dit tot die naat oopvlek soos ’n ryp granaat. In stede van ’n poedinglepel is daar ’n langsteelteelepel gedek wat hy lustig gebruik om klein stukkies van die stomende wit-pienk welbehaaglik in sy mond te sit. Die uitdrukking van genot op sy gesig laat my haastig sluk aan die bol speeksel en dringend vleis afkrap van die been. Die gedurige opspringery en wynskinkery laat my heel laaste die kaal kopbeen uithou en Kerneels se aandag kry vir inspeksie maar hy gesels met Beula. Ek vererg my nie en praat later glimlaggend hard met hom om sy aandag te kry. Hy bekyk die kopbeen krities.

“Nog nie skoon nie.” Hy beduie vaag na die oogholtes wat hom onheilspellend aangluur.

“Waar?” Dit is Elsa se dringende knie wat my laat kalm klink. Hy leun vooroor en wys met die goue dolk na ’n verkleuring op die oogbank. Ek maak my mond oop om iets te sê maar voel Elsa se dringende hand op my been en krap gedwee die stukkie vlies af. Beula lyk ongemaklik omdat ek nog steeds my innemende glimlag hou. Oplaas tik Kerneels die kopbeen en ek kap my dolk sekuur agter die kop in. Nie te hard nie want dan word die harsings beskadig. Ook nie te sag nie, want dan kan daar beensplinters inkom. Ná ’n bietjie wikkel breek die been op die nate en my tone krul onwillekeurig. Versigtig vat ek ’n klein skeppie met die lepel en vir die eerste keer die aand ontspan ek heeltemal as die speeksel en die harsings in my mond meng. Bang om die pikante smaak van die harsings te verberg sal ek gewoonlik nooit wyn drink nie, maar vanaand is ’n besondere aand en ek ledig ’n halwe glas van die Pinotage. Toe ek oplaas my bord wegstoot, sit almal al en wag vir my en Kerneels drom sy ongeduldige vingers op die tafel. Beula kyk daar anderkant en drink wyn met ’n aangeplakte aapstertpinkie. Kerneels help soos gewoonlik nie vir Elsa met die koffie nie. Sy maak werklik lekker koffie. ’n Bietjie sout is die geheim. Kerneels steek een van sy groot goedkoop sigare aan en gee grootmoedig Beula ’n trek wat op haar beurt dit sensueel in haar mond rol. My wange raak seer van al die glimlag maar Elsa se hand in my skoot onderskraag my.

Presies vyf voor elf staan ons soos een man op en verlaat met dankbetuigings die huis. Gelukkig moet ons eerste gaan want die BMW is heelagter in die oprit. Kerneels vermy soos gewoonlik my oë toe ons hand skud op die stoep. Ons het nie een woord gepraat huis toe nie. Die outomatiese hek werk gelukkig sodat ek nie in die blaffende nag hoef uit te klim nie maar moet soos gewoonlik die huis deurloop terwyl sy in die veilige motor sit en wag. Dan loop sy by my verby sonder om eers na my te kyk en gooi haar gebruiklike konjak en verwerdig haar nie eers om my gebruiklike drie vinger-whiskey te gooi nie. Ek skink toe maar self terwyl ek haar onderlangs dophou en wag dat sy moet vaak word van die wit slaappille wat ek daarin opgelos het. Net soos die vorige drie nagte behoort sy binne vyftien minute lustig te snork.

“Het jy dit geniet?” Weer my opregte glimlag. Haar oë skrefies van agterdog.

“Ja.” Sy vat ’n lang teug.

“Die kos was heerlik. En Kerneels het hom goed van sy taak gekwyt?” Sy gaap egter net en sit die leë glas onhandig neer en strompel die gang af na die slaapkamer. Rustig suig ek die whiskey deur die ys en presies vyf minute later stap ek na die kamer om te verklee. Sy lê al en snork al draai haar oë rond agter haar ooglede. Soos die vorige drie nagte sal sy vas slaap vir die volgende vyf ure. Meer as tyd genoeg. Sekuur trek ek die blou oorklere aan en trek die veters van my oudste hardloopskoene stewig vas. Ek bedink my en trek dadelik die ou tuinhandskoene aan en amper as ’n nagedagte sit ek die dolk in my sak. Vir ’n oomblik gaan staan ek stil en laat my gejaagde brein kalmeer maar al wat ek hoor en sien is Kerneels se beterweterige stem en die ratse behaarde handjies wat oor Beula en die voorsittersdolk streel. Alles werk perfek. Die BMW. Die outomatiese garagedeur en hek. Toe die rit. Selfs die St James Hotel se parkeerplek is nie te vol nie en die parkering was ongemerk Maar net nog ’n BMW tussen al die Mercedesse en Cressidas. Net soos ons dit beplan het. Die krieweling in my maag word yskoud.

Die sydeur is ongesluit en die skarniere vars geolie. ’n Nagliggie skyn op drie kerse wat op die swarthoutvertoonkabinet uitgestal word. Lank, kort, lank. Hy is dus in die studeerkamer. Kort, lank, kort sou die slaapkamer beteken het. Hy sal haar nooit skei nie. Gebruik Beula maar net. Die lang donker gang af na die streep lig onder sy kantoordeur. Eers was dit Elsa se naaldwerkkamer, maar hy wou dit hê. Die koue in my maag neem besit van my hele liggaam. Ek draai saggies die knop en maak die geoliede deur stadig oop totdat ek maklik kan deurskeur. Hy sit en tik op sy PR met sy rug na my. Sy weerloosheid maak my sag en vir ’n oomblik staan ek stil en voel hoe die koudheid my verlaat maar dan glinster die lig op die goue hef van die dolk waar dit op die ereplek hang reg onder die foto waar hy die dolk triomfantlik omhoog hou en Beula lustig haar hande klap. Asof in ’n veraf droom sê ek sy naam en toe hy vervaard probeer opspring slaan ek my dolk tot by die handvatsel in sy kop in en sien eers die vrees en toe die dood in sy oë. Ek verwyder nie dadelik die mes nie maar wag dat die hart eers behoorlik gaan staan sodat daar nie bloed spuit nie. Dit gee my kans om die lessenaar se laaie te plunder en die inhoud wild rond te gooi. Die mes sukkel geweldig om uit te kom en dit kos my om my voet op sy bors te sit en met al twee hande uit te trek. Toe ek my voet van sy bors afhaal roggel hy maar ek skrik nie. Ligvoet gaan ek terug na die sydeur en beplak die ruit van buite met kleeflint en slaan die ruit gedemp stukkend met ’n baksteen. My hand gaan maklik deur en ek druk my arm tot by my skouer in om dit eg te laat lyk. Vies skud ek die glasstukkies van my handskoene en arm af.

Elsa wag by die slaapkamerdeur en ek skud my kop ja vir haar eerste onbesproke vraag en toe nee op haar winkende lyf. Haar selfoon reeds in die hand. Sy staan uitdagend en ek skeur haar nagklere brutaal af en vir ’n oomblik mesmeriseer haar naaktheid my tot ek haar klap sodat sy oopbeen teen die bed val. Ek gryp haar arms en druk tot sy skreeu. Weer klap ek haar en sy bloei borrels oor die Persiese tapyt. Haar oë dof van die pyn maar die vasberadenheid baie duidelik in die lyne om haar mond. Sy beduie ek moet terugstaan en sy skud haar kop soos ’n hond om die bloed verder te sprei. Met moeite kom sy orent en bekyk haarself in die spieël.

“Slaan my met jou vuis.” Die bloed maak borrels om haar mond en ek tree onwillekeurig terug om nie bloed op my te kry nie.

“Nee, dit is genoeg!” My stem klink hoog.

Sy is al besig om die polisie te bel toe ek die gang afhardloop en by die sydeur uit wat ek aspris oop los. Oor die muur, drie en dertig haastige treë en dan rustig loop onder die skadu’s van die palms. Die leersitplek verwelkom my met ope arms en ek blaas teatraal my asem uit as ek die sleutel draai. Ek druk die knoppie van die cd-speler en die kwadrofoniese klanke van Tom Petty se “Running down a dream” vul die lug. Die polisie sal soek na ’n kaalkop, 1.65 m. swart man, met ’n litteken op die neus. Wye lippe, blou oorpak en wit atletiekskoene. Hy het haar gelos en vir oulaas geklap toe sy hom tussen die bene skop. Sy het Kerneels se liggaam ontdek omdat hy nie haar gille beantwoord het nie nog terwyl sy besig was om met die polisie op die selfoon te praat. Elsa vertel dat sy ure voor die spieël oefen om oortuigend te klink. Haar graad in drama sal help. Net voordat ek op die N2 opdraai, kom die eerste blou lig verby. Hulle is vinnig vanaand. Die Kubaanse sigaar uit die paneelkissie ruik heerlik toe ek dit brand maak.

Die oordrewe bande en wye chroomvellings van ’n rooi Ford Capri trek langs my in by die Bellville-afrit. ’n Bril-cream besmeerde takhaar, met arms wat die moulose T-hemp vol maak, gluur my aan. Die lugdraadlemoen wieg op en af terwyl hy ritmies die V8 laat dreun op die maat van luide Country. Ek staar strak voor my. Hy grinnik en lê terug in sy tiervelgeklede sitplek en wys uitdagend duim. My een oog hou die verkeerslig dop en die ander loer na die toere wat al gladweg by 2 500 trek en ek knik my kop liggies. Die weerkaatsing van die verkeerslig slaan oranje in Woolworths se venster oorkant die straat en ek maak vir oulaas seker dat die rathefboom in eerste is. Die BMW druk my hard terug in die sitplek terwyl die Capri te veel blou rook onder die agterwiele laat uitborrel vir ’n goeie wegtrek. Met die toere in die rooi skakel ek oor na tweede sonder om my voet van die petrol te haal en verlustig my as die Capri se chroombuffer in die truspieëltjie verskyn. Die triomfantlike glimlag, oorhaastigheid en oorgerustheid laat my net vir ’n millisekonde soek vir derde en die takhaar se gesig is langs myne. Koel los ek die petrolpedaal om te maak of die resies oor is en draai sommer in Verneukstraat op om die noodwendige oogkontak te vermy en ry met die ompad huis toe. Beula roer nie toe ek my koue voete aspris styf teen haar warmte vasskop nie.

Ek maak of ek nog slaap as die telefoon tien skreiende luie vat om Beula wakker te kry. Toe nog drie, terwyl sy rondvroetel vir die gehoorstuk. Die welkome stilte was van korte duur. Met die slaap nog swaar op haar gesig verander haar mond in ’n pynlike wond terwyl sy die hele tyd net gil en gil. Terwyl ek haar kop in my linkerarm stut tel ek die gehoorstuk van die grond af op. Dit is ’n baie onduidelike Jurgen met trane in sy stem. Met ’n kragwoord en oordrewe berou eindig ek gou die gesprek om aan Beula aandag te gee. Dit kos my ’n glas suikerwater en twee van die slaappille om haar te kalmeer. Daarna staar sy net na die muur vanuit die deurmekaar bed totdat sy swaar in my arms aan die slaap raak. Ek trippel die trappe af om die gedokterde whiskey op die grasperk uit te gooi waarna die bottel deeglik uitgewas word voordat dit klingelend in fyn stukkies gebreek word. Dit word saam met die hardloopskoene en oorpak in die vullisdrom gegooi wat oor vyf minute deur die munisipaliteit opgelaai sal word geoordeel aan die honde se oproerige geblaf onder die bult. Dit is hoekom ons ’n Woensdagaand gekies het. Die Burger se druktyd is met dertig minute uitgestel om die grusame moord van ’n professor op die voorblad te plaas. Kerneels se onduidelike foto is in die middel van ’n vervelige huldeblyk maar gelukkig is daar langsaan darem ’n paar paragrawe oor hoe die moordenaar toegang tot die huis gekry het asook oor die dapper aangerande weduwee. Ek glimlag onwillekeurig toe ek die eerste sluk koffie vat en dit romerig in my mond spoel. Later die middag het die dokter aan Beula dieselfde slaappille voorgeskryf as wat in die whiskey was. Die ironie laat my die BMW vrye teuels gee sonder dat Beula ’n woord sê. Haar gesig wit en vervalle en haar oë gedurig strak op haar duime gerig wat so nou en dan mekaar simpatiek bestreel.


Die polisie kom eers Vrydagoggend vroeg net nadat ek koffie gemaak het. Beula nog steeds in haar slaappilland. ’n Apologetiese kleurlingman, speursersant Osman, en ’n lang derm van ’n konstabel met die naam van Cronjé. Oor hulle koppe sien ek ’n onooglike geel Caprice. Getrou aan die tipe voertuig is daar selfs ’n drukvlerkie op die kattebak.

“Kom in!” Terwyl ek die voordeur wyd oopgooi en hulle hande hartlik skud. “Koffie?”

“Nei dankie, meneer. Net ’n paar roetinevrae. Was u Woensdagaand by professor Vermaak aan huis?” Sy ronde glimlag verleë as hy iets skryf in die boekie wat ongemerk in sy hand verskyn het.

“Ja. Ek hoop julle sal die moordenaars kry!” My stem dik en hatig soos wanneer ek met vakbonde onderhandel.

“Was u vrou saam?” Ek knik. Weer krap hy geheimsinnig in sy boekie.

“Enigiets verdag opgemerk?” Ek maak of ek dink.

“Nie eintlik nie. Ons is maar vinnig daar weg. Dit is ’n belangrike reël van die Gilde: Almal moet teen 11:00 nm uit die huis wees.” Selfs Cronje los my mooi uitsig van Tafelberg om te kom luister.

“Sjilde? Wa’se sjilde?” Sy oë skielik wakker.

“Dit was die maandelikse saamkoms van die Skaapkop Gilde.” Argeloos. Ek offer my sigarette in hul rigting. Cronjé vat dankbaar en is vinnig met sy Bic. Oulike seun.

“Ons kom een keer ’n maand byeen dan eet ons gebakte skaapkop. Kerneels was die voorsitter. Jy ken van skaapkop?” Ek blaas die rook manierlik hoog die lug op en glimlag in my binneste.

“My pa was ’n slagter. Daa’s wurms in die niesholtes!” Hy glimlag goedig om die walging in sy stem van sy gesig te hou.

“Dit is darem nie so erg nie.” My glimlag vergewend.

“Hoe laat het u by die huis gekom, meneer?” Weer koponderstebo saaklik.

“Dit neem my gewoonlik so twintig minute.”

“Twintig! Van Muizenberg af? Watse kar?” Cronje se seunstem vol bewondering.

“2002 BMW 325i.” My oë sak in die verleë kyk.

“Iek self is ma’ ’n Ford-man.” Osman se ogies glinster terwyl hy in die ou Capri se rigting beduie.

“Niemand het nog ooit vir ons weggery nie, nè, Sarge?” Cronje se hoë stem veels te trots. Ek stap die paadjie af en skop kritiserend die breë linkervoorwiel. Polisieradio netjies ingebou tussen die voorste sitplekke. Baie skoon, net ’n swart aktetas op die agterste sitplek.

“1972 Capri Perana MK 1. Hierdie spesifieke model het nog nooi op Kyalami verloor nie.” Osman se gesig ’n trotse volmaan.

“Vee ag, 324 Perdekrag!” Cronje se hoë stem irriterend.

“Soos jy self weet bestaan ’n motor nie net uit ’n masjien nie. Dit is die laeprofielbande, die gladde ratkas, die vastrapewenaar en natuurlik ook die perdekrag wat ’n rol speel.” Ek kyk na Cronje maar praat met Osman as ek die sigaretstompie vies vermorsel.

“Dit het selfverstellende vering, palwissel-transmissie en geventileerde sluitweerremme. Net soos u motor!” Cronje wys triomfantlik na die ou kar.

“En wat van die drywer?” Die Kaapse aksent en Osman se goedige ogies veels te wys.

“Dit ook! Dit alles vorm ’n geheel.” Ek hoes om die driftigheid wat skielik in my opwel te onderdruk.

“Dit WAS ’n lekker motor op sy tyd. Tegnologie staan nie egter nie stil nie. Op my oom se plaas staan ’n ossewa wat met die nuutste en beste tegnologie gebou is!” Ek lag. Osman lyk seergemaak, sy mond oop om iets te sê maar Cronje val hom ongeskik in die rede.

“Wys hom daai foto, Sarge!” Osman lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan maar onthou toe en maak die deur oop om by die swart aktetas te kom.

“Gister het ’n my tjommie by Traffic ’n speedtrap-foto gestuur wat bewys dat ’n Capri ’n BMW wen!” Trots produseer hy ’n stuk fotostaatpapier wat hy net ’n vinnige kyk gee en toe vir my aangee. Alhoewel in wit en swart, is dit duidelik dat ’n BMW met my wit registrasienommer met ’n kortkoppie teen ’n Capri verloor. Ek word fisies naar as Cronje nader staan om die foto oor my skouer te bekyk. ’n Bewing in my hand laat die papier skud en Cronje se stem naby my oor.

“Kom kyk hier, Sarge!” Cronje se stem hoog van opgewondenheid en ek gooi op oor die Capri se voorwiel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.