1 September 2006
HALLO DAAR GMV! ...
Goeiemôre,
So arriveer ek toe skuins na 1h00 op ‘n Vrydagoggend tuis. Daar was ‘n bietjie gesing en selfs ‘n ligte dansie. My verstand is soos ‘n ou dieselenjin en moet eers vir so rukkie luier voor ek inkruip, anders verwar ek realiteit en droomland met mekaar. Maar, dis toe dat ek jou brief lees.
Ek sal darem maar ‘n onbesonne leuenaar wees as ek kom voorgee ek sit met al die antwoorde. Op my beste is ek donners verward.
So in die middel van jou tweede paragraaf wonder jy hoe almal so verkeerd kon wees. Ek dink ons vergeet maklik hoe bevoorreg ons is om toegang tot soveel inligting te hê. So honderd jaar terug was die enigste beskikbare boek die familiebybel wat pa aan tafel voorlees. Hoe kan jy dit nie glo nie, so allamintige mooi boek? Kom ons maak dit 150 jaar, van die bydraers hier is honderd, en ek wil nie op tone trap nie. Op daardie dag, 150 jaar gelede, staan jy op, jou agtien ander boeties en sussies is besig op die lande waar ‘n leeu gisteraand een gevang het. Skielik kom ek van oorkant af gejaag met my groen Volkswagen-kewer! Hulle hol uiteraard die wêreld vol, want hulle weet nie van beter nie. Hierdie mense het ‘n klein verwysingsraamwerk. Vat die span nou nog tweeduisend jaar terug. Klipgooiers. Ja, ons word nog steeds vir ‘n ride gevat, politici en ander magsbeheptes voer ons elke dag stront om te verseker dat die gepeupel in lyn bly.
Wat hierdie onderwerp betref, is ek klaar gelees aan Michael Tellinger se SLAVE SPECIES of god. Ek kan dit baie sterk aanbeveel, maar jy gaan moet stewig staan en wyd kyk vir uppercuts. Alles is nie noodwendig waar nie, maar dit maak sin en sit jou verseker aan die dink. Wat op aarde gebeur het, staan my ook net soveel aan, 37 jaar terug het ek nie geweet ek bestaan nie (of het ek?) en oor 70 jaar gaan dit my weer nie pla nie.
Ek het al baie gelees dat: “we are a spark of the divine.” Dit klink of jy daar in jou derde paragraaf byna so iets opper. Hoekom nie?
My eie soeke het my wel oortuig dat daar Iets is, ‘n bewussyn waarvan ons deel is. Ek het al hoeveel goed beleef wat nie rasioneel verklaar kan word nie. Lg het niks met enige geloof te doen nie, dit is net. En dit was nog nooit scary nie. Net so onder jou brief het Anoniem een geskryf. Ek stem oorwegend daarmee saam, behalwe vir die kruk onder die arm. Een van die Henne het ook ‘n goue eier gelê en aanbeveel jy gaan sit so bietjie stil op ‘n koppie, fantastiese wenk.
‘n Mens gaan nie net dood en dan is daar niks nie.
“Hoekom is ons dan hier! Wat is die doel?” Ek het al baie geskel oor daai een! Ek hou steeds nie van al die standaard antwoorde nie. Maar dan, as ek so in die wildtuin sit met ‘n koue biertjie, dan vra ek nie onnodig vrae nie.
Hulle sê ook: “No man is an island.”
Hou op worry en geniet die naweek!
Henning
terug