29 Augustus 2006
EK GEE NIE OM NIE ...
Gisteraand my pille geneem (bui-stabiliseerder en slaappil) en in elk geval
wakker gelê en wag. Later kom lê sy en ontwikkel `n maagpyn. Ek maak `n
warmwaterbottel. Magie beter.
Ons slaap nog in dieselfde bed totdat sy werk en ek `n nuwe plek vir myself
kan bekostig.
"Wil jy nie cuddle nie?" Vra sy. "Ja," sê ek, en skuif agter haar in om
haar rug te probeer warm hou.
"Nie ek nie, die warmwaterbottel!" Lag sy. "O," sê ek. "Skakel die lig af?"
Ek is moeg.
Maar sy lê en kyk na die plafon. Nuwe ligte. Oplaas skakel sy die lig af.
Haar selfoon, lyk my op silent, moes iets gerapporteer het, want sy vat hom
en lees `n sms asof ek nie kan sien nie. "I`m still in Sydney," sê dit.
"E-mail you tomorrow." Dis haar boyfriend. Ek gee nie meer om nie, maak my
oë toe en probeer slaap.
"Wat was dit?" sê sy. "Watse geraas was dit?” Maar ek hoor niks nie. Sy
staan op en neem die foon saam. Ek gee nie om nie.
Kwartier later roep ek - "is jy klaar?" Sy maak klaar en kom terug. "Die
vuur was nog so lekker," sê sy, "ek kon dit nie waste nie."
"M-hm," sê ek. "Kom slaap." Dit help nie ons praat meer nie.
Vanoggend staan ek op en ruil doeke om en gee die kinders ontbyt. Met my
vertrek vra sy: "Sal jy na die kontrak kyk vandag?" Die kontrak deel ons
eiendom en toegang en maak voorsiening vir onderhoud.
"Ja," sê ek. "OK."
"En jy wil nie die egskeiding sommer ook afgehandel sien nie?" Sê-vra sy.
"Ons kan dit doen," antwoord ek. "Dis iets wat ons kan doen. Sien jou."
Sy kom agter my aan. "Ek hou nie daarvan om van hierdie goed te praat nie,"
sê sy. "M-hm," Sê ek. "Sjoe."
"OK," sê ek. "Sien jou later, woelwater." Sy hou my vas, om haarself beter
te laat voel, of dalk vir my. Maar ek gee nie meer om nie.
Later vind ek die teenoorgestelde: Ek gee om. Fok my armsalige hart.
Die man
NS: Willa, jy neem alles verkeerd op. Om `n botteltjie in Richmond op `n
koppie uit te grawe, is nie om dit op `n ashoop te kry nie. En dis nie ek wat
dit daar vergeet het of ooit daar sal laat lê nie. Dis `n kleinood. Ek weet
nie waarvan jy praat met mans te wil besit nie. My vrou wil my nie besit
nie. Sy het my verkoop. Ek ken nie ander vroue wat my wil hê nie. Ek is nie
seker waarvan jy praat oor die minsaamheid nie. Miskien is jy reg met
(onbedoeld) hovaardig. Jou hovaardig is my nederig. En ek het geen idee
waaroor die ouderdomgroef gaan of hoe dit my bedreig nie. Met wie het jy
gepraat?
MaanKind se foto’s is mooi.
terug