10 September 2004
ONS NUTTIGE BATES BIED UITKOMS ...
Die grootkoppe van my taal is na tien jaar van dommiekrasie nog steeds onverteenwoordigend van hulle moedervoedergemeenskap. Hulle het nog nooit vir my gevra of ek belang stel om by hulle aan te sluit, of om in hulle pret te kom deel nie.
Gerugte loop sterk die rondte dat liggame soos die Afrikanerbond, die NG Kerk en die ATKV (ja, vra weer Wie?) nog n kakhuis vol apartheidsgeld oor het. Dit kan mos nou lekker tot voordeel van al die potensiële Afrikaanssprekers ingespan word. Progressief sosiologies en ekonomies groot ente veld wen vir ons dierbaar-eigene Afrika-taal.
Nie-sprekers loop nog grootskaals met Soweto 76 in hul agterkop. Dis hoogtyd dat die kakhuis-Boergeoisie hul -huisie in orde kry. Nie retrogressief medeburgers vervreem soos Marthinus van Schalkwyk en Dan Roodt baie goed doen nie. Hierdie onpaar paartjie se eskatologiese revolusies stink na pure selfsugtigheid.
Aan die ander kant, onse oopkop-pioniers maak ons geestelik en fisies gereed vir n nuwe Groot Trek – die keer die nuwe Woeste Weste in, waar Afrikaans op dié oomblik nog nie juis sin maak nie.
Oopkop Afrikander
terug