10 Februarie 2001
CHANEL, VOORUITGANG EN SENDING ...
Chanel Brits vra of ons vooruitgang moet terughou sodat sending kan floreer. Dit hang natuurlik alles af van wat met vooruitgang en sending bedoel word.
Die woord vooruitgang dui op n beweging van n minder na n meer wenslike toestand. Die gebruik van die begrip berus dus op n evaluasie wat geld as meer en wat as minder wenslik? Enige sodanige oordeel veronderstel n standaard vir beoordeling. Aangesien sulke beoordelingstandaarde of waardehiërargieë op hulle beurt weer met allerlei logiese voorveronderstellings en implikasies van metafisiese aard vervleg is, is dit duidelik dat vooruitgang verskillende dinge vir verskillende mense beteken.
Wat Chanel met vooruitgang bedoel blyk duidelik uit haar historiese voorbeeld: die teloorgang van tradisionele godsdienstigheid in Europa na aanleiding van die industriële rewolusie dit wil sê vooruitgang is gelyk aan industrialisasie.
En sending? Sending gebeur wanneer mense oor die drumpels van hulle eie religieuse tradisie stap om die rykdomme van daardie tradisie in woord en daad met buitestaanders te deel. Dit kan gewelddadige en vreedsame vorme aanneem. Dit kan paternalisties wees of die vorm van n gesprek tussen gelykes (dialoog) hê. Dit kan uit wees op die vernietiging van ander se kultuur en geloof, of op wedersydse begrip en verryking. Hoe dit ook al sy, solank as wat mense deelneem aan lewensbeskoulike tradisies hetsy religieus of sekulêr wat vir hulle die lewe die moeite werd maak, sal sending deel van die menslike ervaringswêreld wees.
Moet vooruitgang teruggehou word sodat sending kan floreer? Moet industrialisasie beperk word ter wille van n uitwisseling van waardes en diepte-ervaringe van die werklikheid?
As Chanel se historiese voorbeeld klop as industrialisasie tot n vernietiging van godsdienstige tradisies lei, soos inderdaad die geval skyn te wees dan moet die antwoord hierop ja wees. Dit sal jammer wees as godsdienstige tradisies, soos tale en allerlei ander kulturele goedere wat deur industrialisasie tot niet gemaak word, verdwyn. Nie net ter wille van sending nie, maar ter wille van die potensiële rykdom, volheid en diepte van menslike ervaring in die algemeen, word dit hoog tyd dat industrialisasie ingeperk word. Gesien vanuit n meer as konsumentistiese mensbeeld is industrialisasie nie noodwendig vooruitgang nie, maar agteruitgang beweging van n meer na n minder wenslike stand van sake.
Buitendien kan die derde wêreld nooit die industrialisasie van die eerste wêreld inhaal nie. Ons ekologiese sisteem kan nouliks nog enige ekonomiese groei in industrialiserende sin dra. As ons die Weste se industriële rewolusie ook moet ondergaan, sal dit die einde van alle lewe op aarde beteken ... behalwe natuurlik as die Weste ophou ontwikkel, of beter nog: terugsny op hulle oorontwikkeling.
Iewers sal industrialisasie vooruitgang in Chanel se terminologie ingeperk moet word. Nie net ter wille van sending nie, maar ter wille van alles wat die lewe die moeite werd maak. En ter wille van die lewe self.
Miskien kan selfs die Weste nog gered word?
Gerrit Brand
terug