28 Julie 2003
SAWUBONA MFOWETHU (VIR SWYS) ...
Swys,
Jy sal begryp as ek heel eerste vir jou sê dankie vir die billike en opbouende wyse waarop jy bereid is om debat te voer. Vir wat dit ook al regtig beteken, kom ons sê jy as die sogenaamde “konserwatiewe” en ek as die sogenaamde “liberalis”. Sê maar ook jingo, as dit die Rip van Winkels beter sal laat voel. Feit is ons kom van twee verskillende rigtings, ons stem nie altyd saam nie, maar ons einddoel is dieselfde: die oorlewing van Afrikaans.
Ek dink ons moenie dink die aanslag op Afrikaans het heeltemal gaan lê nie. Natuurlik is daar aan die ander kant ook soort van “HNP’s” — mense wat net eng binne hul eie beperkte behoeftes en leefwêreld dink en die ander kant as vyande sien wat vernietig moet word. En hulle sal aanhou. Soos die armes van gees wat maar altyd by ’n mens bly spook.
Ek moet toegee dat ek in my daaglikse handel en wandel ook bewus word van daardie veranderende gesindheid teenoor Afrikaans. Gelukkig is die jeug se geheue taamlik kort. Gelukkig is daar blanke Afrikaanssprekendes wat ’n opbouende gesindheid het.Ek wil wel net seker maak dat daar in jou gemoed geen twyfel bestaan oor my gesindheid teenoor Afrikaans nie. Ek is nie teen Afrikaans of blanke Afrikaanssprekendes nie, ek is teen verstokte verkrampes wat nog in gister se lewensruimtes verkeer. As dit die Afrikaner is, count me out.
Maar ek dink jy en jou einddoel is suiwer: die behoud van Afrikaans. En ons moet bly gedagtes wissel sodat die goeie uiteindelik oor die slegte sal oorheers. Ons durf nie toelaat dat ’n beeld van Afrikaans of eiegewin weer skade aan die blanke Afrikaanssprekende se saak en plek in die samelewing doen nie.
Teen die einde van jou skrywe het ons ’n soort konsensus. Ek dink ’n mens moet die detail daarvan verder bespreek en in fyner besonderhede uitwerk.
Dit moet ter hand en gereed wees as die druk dit noodsaaklik maak of as die geleentheid hom op ’n ander manier voordoen. Nou raak jy ’n heel belangrike saak aan die einde aan: die opleiding van mense om bevoeg te wees.
Daar moet iets daadwerkliks aan gedoen word. Borrel oor, asseblief. Kom ons werk terwyl die dag daar is. Dan doen ons iets konstruktiefs. En Gerrit Brand, wat sê jy? Dalk is daar ’n taak te vervul deur welmenende, opbouende blanke Afrikaanssprekendes.
Ek sien uit na die volgende stuiwer.
Skoppensboer
terug