Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Teologie as spookstories?

Sendbrief MG1: 17/01/2001

Beste Gerrit

Jou tipering van ons konteks is raak: vreemdelinge op twee kontinente. Maar die “erfsonde”, nie net van ons Afrikaners nie, is die selfbedrog dat ons hoort, of moet hoort. Ek hou daarvan om aan my situasie as bestaan op die grens te dink. Dis nou ’n ander grens as daai plek in die Caprivi, soos Koos Kombuis dit gedoop het. Die grens as ’n sone waar kontak gemaak word tussen twee of meer groepe, en waar betekenis onderhandel word. David Chidester gebruik die begrip so in sy boek oor sending en kolonialisme (Savage Systems). Dis belangrik dat hierdie ruimte oop bly. Dit bly oop solank die magsverhoudinge onstabiel is. Die grens sluit as een politieke mag hegenomie verkry oor die ruimte.

Die grenssituasie is ongemaklik, juis omdat niks vasstaan nie. Alle vanselfsprekendhede word deurentyd ondermyn. Terloops, albei die Duitse teoloë wat my die meeste gemunt het, maak soveel van die begrip “onderbreking” dat hulle dit as boektitel gekies het, die een vir ’n bundel opstelle en dagboekinskrywings, die ander vir ’n bundel preke. Laasgenoemde het die begrip altyd so gebruik: Die geloof konfronteer dit wat vir ons vanselfsprekend is met iets wat nog meer vanselfsprekend is, en problematiseer so ons vanselfsprekendhede ten diepste. Hy het ook altyd die Christelike etiek opgesom as om te doen wat vanselfsprekend is — vir die liefde. Nou laat ek maar sê my vanselfsprekendhede is die afgelope tien jaar gekonfronteer met ander se vanselfsprekendhede en ten diepste geproblematiseer. Die grens het hier waar ek woon en werk weer oopgegaan en betekenis staan nie vas nie. Dis ’n avontuur, en soos enige avontuur wat sy sout werd is, is dit scary.

Teologie as gesprek staan my dus aan. En as storie.

Teologie as spookstories? Dit geval my ook. Die “spoke van Marx” (Derrida) waarna jy verwys behels die “ander”, die ander van die rede. Die manier van dink wat in die geskiedenis van die Weste magtig geword het, kon dit slegs doen deur te vergeet, en deur die voortgesette relevansie van die vergete te onderdruk. Derrida praat dus, met kenmerkende flair, van “hauntology” as plaasvervanger van “ontology”. Die ontologie, die leer van wat is (en nie van wat was of van wat sou kon wees nie), glo nie in spoke nie. Hauntology laat die vergete, die afwesige, die verlede en die moontlike, by die huidige stand van sake spook. “Speaking of a fabulous ghost” — mooi gesê. Wanneer loop die spoke? Derrida se teks is Shakespeare se Hamlet. Die koning is vermoor. Die onreg het die tyd uit die voeë laat skuif. Dan loop die spoke.

Die Weste glo natuurlik op ander maniere aan spoke. Soos my kinders wat sê die pragtige baai wat ons die vakansie ontdek het, omring van rotse met grotte, lyk soos the Lost City — wat hulle nog net op televisie gesien het (ek het wel wanhopig probeer wys daarop dat dit andersom is). Maar jy is reg: Afrika glo (nog) aan spoke. Is dit dalk omdat Afrika se tyd so out of joint is? Indien wel, stem ek saam dat ’n “onderbreking” deur spoke kan bydra tot die “ontspoking” van die verlossingsleer. Laasgenoemde het so te sê my passie geword die laaste paar jaar.

Laat ek jou van ons dorp se onlangse Eeufeesvierings vertel om te probeer verduidelik wat ek bedoel.

Die fees is op ’n Saterdag en ons gaan vroeg in dorp toe, want ek moet eers gou na die bank vir ’n transaksie of twee, en dis waar ek een van my werkplek se direkteure ontmoet en hartlik groet.

“He does not want to join in the festivities,” sê die vrou agter die navraetoonbank.

“He knows why”, sê die direkteur, verwysend na my, “I do not know what there is to celebrate”.

Nou verstaan ek hoekom die premier nie meer die banket vir “hoogwaardigheidsbekleërs” kan bywoon nie. Buite begin die fees woema kry. ’n Tshigombela-dansgroep kom verby op die maat van dromme. Die meesal wit omstanders wys min belangstelling. ’n Paar wit dogtertjies staan darem nader en dans saam. Ek gaan probeer die ander straat. Hier is die meerderheid weer swart. Terug by die stalletjie wat ek help beman, luister ek na die kommentaar van verbygangers. “Bly weg uit die hoofstraat,” word raadgegee, “net swart waar jy kyk.”

Dis irriterend hoe mense in sulke grensdorpe aanneem dat almal van hulle kleur ook van hulle gedagte is. Ook hier is daar darem die crossers. Veral kinders. Dis naand eenuur en ons raak honger. By die sosatiestalletjie is die tou gemeng. Daar is ’n vlaag wind wat die gazebo amper oplig.

“Ek het my houtkoppe laat haal om te kom help,” sê die man agter die verkoopstafel, blykbaar nie vreeslik bekommerd oor wat sy swart klante kan voel oor sulke mensveragtende taal nie.

Ek verlaat die fees om gou ’n makelaar te gaan sien. Sy kla oor die standaarde by haar kinders se skool so af is sedert “alles mos verander het” en “die anderskleuriges nou ook toegelaat word.” Ek behoort seker uit beginsel net daar my besigheid elders heen te neem, maar soos blykbaar vir die swart ou by die sosaties ook, sou dit net te veel moeite wees. Miskien moet ek liewer ’n sagte woord ontwikkel, soos “haai jong, maar.”. Nou is ek te gewoond aan konfronteer, en as ek nie lus is vir baklei nie, hou ek maar my bek. Terug op straat is ek net betyds om te sien hoe ’n lid van die militêre blaasorkes in volle uniform op die maat van marsmusiek (gespeel met ’n allemagtige swing) jive dat sy hemp omtrent uithang. Ek hoef seker nie te sê watter kleur hy is nie. In die woorde van ’n Breyten Breytenbach: “Dis moeilik om te jol met ’n stok in jou hol.”

Ons gaan soek lafenis by vriende se huis, want dis te ver plaas toe en die kinders wil wag vir die aand se vuurwerkvertoning. My seuntjie verkies om te bly en die dansvertonings op die sentrale verhoog by die straathoek te aanskou. Hy is eers gekies om ook te dans, en het toe weer uitgeval. Vreeslike emosionele storie. Maak hulle seker op die ou end sterk. Nou wil hy opsluit wag tot sy gewese groep dans. Toe ons hom later gaan haal, vaar hy verskriklik uit daaroor dat ons nie na ’n Afrikaanse kerk toe gaan nie, en dat sy pa-hulle nie van Afrikaanse mense hou nie, en vele klagtes meer. Hier is baie kontradiksies om uit te hou. Na ’n paar koppies koffie - en nadat ek van ’n vriend moes aanhoor, iemand wat ek eintlik beskou as een van “ons kerk se mense”, dat die Vendas “the most beggarly race on earth” is - is dit aand en ons keer terug na die aksie. Die Ierse straatkroeg met ingevoerde Ierse bier en Ierse musiek stem my vir die eerste keer feestelik. Ek verbeel my dis ’n algemene tendens, dat daar veel meer spontaanheid in die lug is. Ek voel skielik selfs ’n bietjie trots op die dorp se mense wat vir ’n hele dag so saam-apart kan feesvier sonder om aanmekaar te spring.

Die Sondag se feesvierings sluit ’n interdenominasionale erediens in die moederkerk in, met kore uit verskillende gemeenskappe. Om die een of ander rede weet my gemeente niks hiervan nie en ek is lankal genooi om nagmaal te bedien by ’n buitepos, ’n wyk in ’n skouspelagtige vallei. Dit het gereën gedurende die nag en die rooimodderpad is glad soos seep. Die kerkie staan hoog teen ’n hang, en ek het low range 4x4 nodig om daar uit te kom — die Jeep is mos buitendien die eintlike rede waarom ek “sendeling” geword het. Die ontvangs is onvoorwaardelik hartlik. Eers sing ’n agttal jongmense en toe ’n koortjie van vroue. Ek preek oor die doop van Jesus en die geopende hemel, uit Markus se beskrywing. Markus se Jesus is die menslikste, ’n man wat soek na God en God dan vind en homself in dié se hand. Drie word gedoop, en hulle plus nog twee ander aangeneem. “To be baptised means that you are forgiven — free to live without excuses.” Die hele storie raak my toe nogal diep en ek kan sien nie net vir my nie. Ons staan in ’n kring vir die brood en wyn wat, so verkondig ek, beteken “enough and more than enough bread for all, and wine, shared by all”. Ditto genade.

Aan etenstafel terug by die huis probeer ek aan my seuntjie verduidelik dat ek nie nie van Afrikaanse mense hou nie, maar dat ek nou maar ongelukkig so behep is met hierdie rassestorie. Toe ek klaar is, vra hy of dit ’n miljoen jaar sal vat om ’n gat tot aan die anderkant van die aarde te boor. Hang net af hoe skerp jou boor is, antwoord ek.

Laatmiddag kry ons onverwags besoek van ’n afvaardiging van die Matidza-clan, met chief en al. Ek huur ’n huis op ’n plaas wat binne die gebied van hulle grondeis val. Hulle is verskuif nadat hulle oorspronklike gebied verower is. Sedertdien is hulle vreemdelinge op aarde.

Volgens gebruik praat die chief nooit direk met my nie, maar ek vind deur sy raadgewers uit dat hy beoog om hom weer hier te kom vestig. “How can you pay for something that belongs to you?” hoor ek iemand vra in een van die sygesprekke. Ek dink aan die eienaar van die plaas en aan die ander boere wat deur die grondeis geraak word, en ek wonder hoe lank onse ongemaklike vrede gaan hou.

Ek vertel jou later meer oor hoe dit spook hier by ons.

Groete

Murray

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.