Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Daar is geen twyfel dat die spoke loop nie

Sendbrief GM2: 02/02/2001

Beste Murray

Daar is geen twyfel dat die spoke loop nie. Maar ontsnap spoke net wanneer dinge skeefloop — wanneer die tyd uit sy voeë is? Kan spoke nie ook aan gedink word as regmatige deel van ’n meer integere werklikheid nie? Ek wonder naamlik of die Afrikaanse spookgeloof op ’n ander manier van die Westerse onderskei kan word — jy wys immers tereg daarop dat Westerlinge ook (maar anders) in spoke glo.

My indruk is dat Afrika se geloof in geeste nie net te make het met wat was of sou kon wees (“hauntology”) nie, maar ook met wat is (“ontology” — ontologie). Sal verlossing in Afrika beteken dat die geeste verdamp soos mis voor die môreson, soos Frantz Fanon (in lyn met Marx) meen? Teoloë soos Bolaji Idowu en Kwame Bediako het ander idees. Die geeste, sê hulle, is geskep as God (Olodumare, Nyame) se handlangers — iets soos die christene se engele. Die moeilikheid is net dat hulle, soos mense, nie altyd hulle plek ken nie. Hulle gaan hulle soos gode gedra, met die gevolg dat die kosmiese harmonie (ekologie?) versteur word: privatio boni — die kwaad. Verlossing in sy kosmiese betekenis hou in dat die geeste weer “op hulle plek gesit word”.

In lyn met ’n minder eensydig-lineêre tydsbegrip word aan verlossing dus nie alleen as transformasie gedink nie, maar ook as restourasie (herstel) — ’n erfstuk van Afrika se voor-christelike religie. Ook in die “nuwe skepping” sal die geeste steeds ’n rol speel — maar dan lewegewend.

Daar is aanknopingspunte in die Bybel. In Psalm 82 kry die “gode” raas omdat hulle nie hulle werk doen nie: die saak van die armes behartig. God dank hulle af. Tog bly ons lees van hemelwesens wat God se opdragte uitvoer. In Job het Hy selfs vir Satan ’n werkie. As Idowu dan praat oor die “burokratiese monoteïsme” van die Afrika-godsdiens — dat God deur ’n swetterjoel mindere geeste haar ding op aarde doen — dan vra ek my af of dit nou so ver van die Bybelse visie af lê?

Met dit in gedagte lees ek dan Ijsseling se boek, waarvan ek in my vorige brief melding gemaak het. Vir hom is die gode uit die mitologie werklik. Die vorm wat ons werklikheid aanneem, word bepaal deur ’n vlugtige kragveld: ’n magdom gode van liefde, wellus, oorlog, vrugbaarheid, jaloesie ... tussen hierdie opponerende, mekaar-beïnvloedende kragte moet ons ons weg probeer vind. Wie nie met die gode rekening hou nie, is naïef. Waar die “grens” tussen so ’n “politeïstiese” visie en die pluriforme, personalistiese kosmologie van Afrika lê, is nie maklik uit te maak nie. Dat dit ook vaagweg met die denke van iemand soos Michel Foucault (filosofie van die mag) resoneer, maak dit des te moeiliker.

In sy slothoofstuk oorweeg Ijsseling die moontlikheid van ’n monoteïsme gedink vanuit sy soort politeïsme. ’n Mens sou kon sê dat God nie die enigste nie, maar die sterkste van alle gode is. Hyself oefen uiteindelik nie hierdie opsie uit nie. Dit is egter presies wat ’n groot aantal christene in Afrika doen. Daar is blykbaar ’n aantal gemeenskappe wat in die lig van die christelike boodskap hulle tradisionele “panteon” geherorganiseer eerder as geëlimineer het: sommige “gode” word dan engele, en ander demone. Dit roep weer die vraag op of so ’n strakke dualisme nou regtig nodig is — maar laat ons dit voorlopig in die midde laat.

Vir nou wil ek graag konsentreer op die vae en verskuiwende “grens” tussen kulture (en werklikheidsdimensies) wat hier aan die lig kom. Laat ons dit so konkreet as moontlik maak. Jy praat in jou brief oor die bestaan op ’n grens — dit in reaksie op my tipering van die Afrikaner se situasie as “vreemdeling in twee kontinente”. In ’n ander deel van jou brief skets jy pynlik akkuraat die probleem van “nie van Afrikaanse mense hou nie”. Ek dink dat hierdie twee sake — sonder ’n al te wilde verbeeldingsprong — alles met mekaar te doen het.

Hoekom hou ons nie van “Afrikaanse mense” — dit wil sê van onsself — nie? My studie van die swart teologie het hierdie vraag vir my opnuut dringend gemaak. Ek moet naamlik dink aan Mphilo Desmond Tutu se opmerking oor die “geïnternaliseerde selfhaat en selfveragting” van die (swart) Afrikaan. Dit wat geïnternaliseer word, het per definisie ’n eksterne oorsprong. Die vraag kan dus geherfraseer word: Hoekom hou “die hele beskaafde wêreld” nie van Afrikaners nie?

Die rede is tweeledig en niemand verwoord dit beter as Hannah Arendt in The origins of totalitarianism nie:

Eerstens: “The Boers ... treated the natives as raw material and lived off them as one might live on the fruits of wild trees.”

Tweedens: “Lazy and unproductive, they agreed to vegetate on essentially the same level as the black tribes had vegetated for thousands of years.”

Die twee sinne volg direk op mekaar. Morele verontwaardiging oor “onregt en wreedheden, door de Boeren tegen de inboorlingen gepleegd” (Groen van Prinsterer); minagting vir die Boere omdat hulle dreig te “versmelten in eene andere natie, om als Nederlanders verloren te gaan!” (U.G. Lauts); “Behalve laf, zijn zij valsch, huichelachtig, meinedig, onredelijk, ongastvrij, lui, vuil en ondankbaar” en hulle “Afrikaans” is “het leelijkste en meest vermengde dialect dat ooit bestond” (Th.M. Tromp, sekretaris van president Burgers).

Die boek waaruit bostaande Nederlandse aanhalings kom — G.J. Schutte se Nederland en de Afrikaners: adhesie en aversie — kan gelees word as ’n hedendaagse variant op dieselfde refrein. Die skrywer probeer naamlik die Nederlanders vrypleit van die stigma van “adhesie” met die wilde boere.

Dieselfde resonansies bly maar op die agtergrond elke keer as die woord “Boer” of “Afrikaner” in die Westerse pers val: of dit nou in Der Spiegel of oor die BBC is. (Ek het ’n suspisie dat hierdie aspek ook nie heeltemal afwesig is in die nuwe swart middelklas se houding jeens Afrikaners nie.) Wat in elk geval duidelik is, is dat die twee “bronne van Afrikanerveragting” op allerhande maniere met mekaar vervleg is — ’n feit wat te make het met kontradiksies in die Westerse selfverstaan.

Wanneer hierdie gesindheid nou geïnternaliseer word, behou dit sy tweeledige dog vervlegte karakter: Die morele verontwaardiging oor die Afrikaner as rassis (paternalistiese altruïsme) word geïnternaliseer as skuld. Die “beskaafde” meewarigheid jeens die Afrikaner as baster (rassistiese minagting) word toegeëien in die vorm van skaamte. Die uitroep “Ons is nie almal so nie” (Jeanne Goosen) dui nie net op wat Afrikaners doen nie, maar ook op wat hulle is: Haat die sonde ... en ook die sondaar!

Om te verstaan hoe die internalisering werk, moet ons weer by die swart teologie gaan aanklop.

Volgens Bantu Biko gebeur dit wanneer die dominante paradigma — “white is right” — swartmense daartoe bring om iets te probeer word wat hulle nooit as te nimmer kan wees nie: wit. Of soos Alan Boesak dit stel: Witheid word die meetsnoer vir menslikheid.

Die internalisering van wit waardes is terselfdertyd die internalisering van wit minagting vir alles wat swart is — en dus ook vir die swart self. Vervang nou swart met baster, kreool, Afrikaner. Hier het die internalisering te doen met Afrikaners se “vrees vir gelykstelling”: hulle patetiese aandrang dat hulle — naam en taal ten spyt — “Europeans only” is. Vandaar apartheid (daar het jy weer die vervlegting van skaamte en skuld — en die rede hoekom Afrikaners ’n opregte mea culpa so moeilik vind).

Dit is egter hopeloos. Louis Armstrong sing: “I’m white inside, but that don’t help my case ...” Die Afrikaner se try-for-white-houding kan ook nie hulle “case” help nie. Daarvoor is daar net te veel om te vergeet — vandaar al die spoke op “grensdorpe” soos joune.

Jy sê dat jou grens niks te make het met “daai plek in die Caprivi” nie. Tog wonder ek. Jy sien, die Afrikaner se geskiedenis speel vanaf die eerste oomblik “op die grens” af: geografies, maar ook biologies en kultureel. Ons erfsonde, soos jy so raak sê, is om te dink “dat ons hoort, of moet hoort” — dit is nou aan een kant van die grens. ’n Identiteitsideaal wat nooit gerealiseer kan word nie.

Soos alles, is dit ’n teologiese probleem. Volgens die swart teologie is rassisme — hetsy van buite of geïnternaliseerd — godslasterlik — soos Adam Small sê, “an insult to the intelligence of whoever created us black” (dat hy nou dié woorde in Engels moes sê!). Die skeppingsgeloof is dus deel van die kuur — met name die leer van die imago Dei: die skepping van die mens na die beeld en gelykenis van God. Nie alleen het God swartmense geskep nie. Christus het ook vir swartmense sy lewe gegee. En swart liggame dien as tempel vir die Heilige Gees. Geïnternaliseerde selfhaat en selfveragting is nie te versoen met geloof in die drieënige God nie. Daarom bring apartheid ’n status confessionis tot stand — die hart van die christelike geloof is op die spel. Nie uit selfsug of egoïsme nie, maar uit geloof moet swartmense hulle swartheid omarm en bevestig: black is beautiful. Dit is een van die mees bemagtigende stappe wat ’n mens kan neem: om ’n bron van skaamte tot ’n bron van trots te transformeer. Hierin lê iets oer-christeliks, soos Nietzsche tereg (en snedig) opgemerk het.

Hoe vertaal black is beautiful in Afrikaans? Breyten Breytenbach se woorde kom naby: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so.” Maar kan die Afrikaner sy/haar Afrikanerskap as “goed en mooi” omarm? Dis goed en wel vir die skaamte, maar dan neuk daai skuld-ding nog. In my ervaring lei ’n hernieude Afrikanertrots byna altyd tot ’n goedpratery van apartheid. Aye, there’s the rub. Die Afrikaner se “ingrained” rassisme, waarvan jou brief vertel, is tog nie iets om trots te omarm — “goed en mooi” — nie?

’n Groot Trek van wit na swart teologie gaan dus nie die volle antwoord gee nie. Die swart teologie praat vanuit ’n slagoffersperspektief. Die Afrikaner is histories ook ’n slagoffer — vandaar die relevansie van die swart teologie.

Juis ons grenssituasie beteken egter dat dit net een kant van die storie is. Die Afrikaner is tegelykertyd slagoffer en misdadiger, onderdrukker en onderdrukte, wit en swart, baster en rassis, skaam en skuldig. Van skuld kom jy nie af deur dit goed te praat of trots uit te basuin — “in die sonde te volhard” — nie, maar deur dit te bely en af te sweer. Ons kan dus nie alles in ons dubbelbestaan omarm en bevestig nie. Miskien sit daar tog meer in die bekende uitspraak van daardie half-Khoi bosguru (“mystic boer”, sou Valiant Swart sê) met die koperoorbel: “Neem uit die verlede ...”

Die antwoord op die skaamte van basterskap is om in daardie einste basterskap te roem — wat ook beteken dat ons voortaan “wit” en “blank” in aanhalingstekens sal moet skryf: ’n soort Afrikaanse-Bewussynsbeweging.

Die skuld vra egter om berou en inkeer. Dit lyk na teenoorgesteldes: omarming en verwerping van die self. Tog wortel dit — teologies gesproke — in dieselfde oortuiging: God se onvoorwaardelike liefde. Soos Jesus dit sê: “Ook ek veroordeel jou nie. Gaan en sondig nie meer nie.” En nou begin selfs my piëtistiese hartsnare te roer ...

Ek loop gister ’n boek in die Bijenkorf raak: De swarte met de witte hart — ’n historiese novelle oor ’n Ghanees genaamd Kwame wat meer as ’n eeu gelede in Nederland beland het. Anders as sy broer, wat altyd bly terugverlang het Afrika toe, het Kwame daarna gestreef om ten volle Nederlands te word — “goed te assimileer”, soos hulle deesdae hier sê. Hy gaan werk later selfs as koloniale amptenaar in Indonesië ... totdat hy hom mettertyd teen ’n bevorderingsplafon vasloop. Terugkykend op sy lewensloop ontdek hy dan hoe sy “mede-Nederlanders” hom deurgaans probeer blokkeer het in sy loopbaan. Swart of wit? Koloniale amptenaar of slagoffer van diskriminasie? Die Afrikaner se geskiedenis in ’n neutedop.

Blykbaar is die Afrikaners se verwarrende grensbestaan tog nie so uniek nie. Dit is egter slegs vanuit die partikuliere dat die universele sigbaar word.

Wat dit alles in praktiese terme beteken vir die lewe daar in jou grensdorp, weet ek nie. Hoe kan ons die voorouergeeste te ruste lê — op hulle plek sit? Is daar ’n “plek” vir “Afrikaanse mense”? Moet ons in skaamte en skuld die brûe verbrand — transformasie — of kan daar ook sprake wees van toe-eiening en kontinuïteit — restourasie? Moet ons die spoke uitdryf, of op die een of ander manier akkommodeer? Hoe kan ons hierdie vrae op so ’n manier aanpak dat ons die werklikheid nie net interpreteer nie, maar ook verander?

Ek het eintlik nie daarmee rekening gehou dat ons gesprek hierdie wending sou neem nie (dit is maar die ding met gesprekke), maar ek moes net hierdie Afrikaner-ding uit die pad uit kry. Noudat ons nie meer rondsweef — in die sin van “freischwebende Intelligenz” — nie, kan ons miskien die gesprek in ’n minder parogiale rigting stuur. Met albei voete stewig op die grond.

In ’n ander sin kan ek nie aan die swewery ontkom nie. Om hier in Europa Afrika(anse) teologie te bestudeer is ’n bietjie soos astral travelling. Op ’n veilige afstand kyk jy terug op jou eie liggaam — amper so disoriënterend soos jou grens. In elk geval, dis waarmee ek spook hierdie kant. Laat weet maar hoe ver ek in die proses die pot mis sit.

Dit lê hier wit van die sneeu.

Mooi bly

Gerrit

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.