SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nierassige denke in die Afrikaanse leefwęreld

Zimitri Erasmus (vertaal deur Andries du Toit)

(Hierdie toespraak maak deel uit van die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks wat plaasgevind het tydens die pas afgelope Die Burger-Suidoosterfees by die Skiereiland Technikon (Pentech) te Bellville.)

Dankie vir die uitnodiging om vandag hier te praat. Ek moet sommer met die wegspring sę dat Afrikaans nie my moedertaal is nie, so ek sal miskien sukkel met die gesels. Nogtans sal ek my bes doen.

Ek begin met die vraag, “Hoe staan dit met nierassigheid in Afrikaans?” Het die einde van Apartheid ’n ruimte geskep waarin die Afrikaanse leefwęreld vry van rassedenke en -praktyke geword het?

Ek sou argumenteer dat die antwoord afhang van wat ons bedoel met “vry van rassedenke” — en of ons besluit “nierassigheid” is ’n betekenisvolle manier van vry wees. Die einde van Apartheid het ruimte geskep om vrae te vra oor identitieit, om met identiteit te speel, en om die meervoudigheid van ons identiteite te ontdek. Maar die einde van Apartheid — en die nuwe ortodoksie van nierassigheid — vra ook van ons om polities korrek te wees. Hierdie nierassigheid is nie ’n bevryding van rassedenke nie; dit vra bloot van ons om rassedenke te versluier. Ons mag die ding nie meer op sy naam noem nie, maar dis nog altyd aanwesig, nou alleen maar op bedekte en miskende wyses. In my ervaring is daar min geleenthede waar Suid-Afrikaners werklik oop en eerlik oor “ras” kan besin.

In die nuwe Suid-Afrika is daar nuwe maniere om oor ras te praat. Een van die belangrikste is die diskoers van reënboog-nasionalisme. Reënboog-nasionalisme probeer die antagonistiese en stekelrige aspekte van identiteit verdoesel — en vra van ons om onsself blind te maak vir die magsverhoudinge wat nog steeds rondom sogenaamde rasse-identiteit bestaan. Deur vir ons te vra om simplisties kleurblind te wees, maak hierdie denkraamwerk dit moeiliker om bestaande antagonismes en identiteitskonflik aan te spreek.

’n Voorbeeld is die aaklige eufemisme “previously disadvantaged” (wat ek veronderstel op Afrikaans “voorheen benadeeldes” sou wees). In die eerste plek verberg hierdie term die feit dat rasgebaseerde ongelykheid, vooroordeel, voorreg en mag nog steeds ’n realitieit is; dat die meeste van die swart en bruin mense in Suid-Afrika nog steeds benadeel is. Tweedens is dit nie ’n bevryding van rassedenke nie. Ons weet almal van wie ons praat as ons na die “previously disadvantaged” verwys. Ons weet almal van wie ons praat as ons praat van “diversiteit” of “regstellende aksie”. Dit is nie bevryding van rassedenke nie. Rasgebaseerde identiteitsformasies — en sterk persepsies, oordele en gevoelens oor identiteit — bly voortbestaan, maar ons laat onsself nie toe om hulle op hul naam te noem nie.

In my kontak met en navorsing oor swart studente van alle taalgroepe (en wanneer ek sę “swart” bedoel ek ook bruin), insluitend die wat Afrikaans praat, sien ek duidelik dat baie van die gevoelenstrukture rondom sogenaamde rasse-identiteite wat onder Apartheid ontstaan het, nog altyd bly voortbestaan vir die swart middelstand. In die konteks van instellings soos UCT — wat deur en deur gedomineer word deur die kulturele raamwerke van blanke Suid-Afrika — word hierdie studente se selfvertroue en hul gevoel van hul bestaansreg nog altyd op daaglikse basis ondermyn.

Wat kan ons hieruit leer? Dat die nasleep van rassedenke nog steeds met ons is. Of ons nou daarvan hou of nie, ons leef nog steeds in die skadu van die geskiedenis van kolonialisme en Apartheid en hul kulturele en politieke nagevolge.

Dit beteken egter nie dat ons vir altyd vasgevang sal wees in rassedenke nie. Maar dit suggereer wel dat ons nie ons verlede eenvoudig kan uitvee nie. Dit is ’n fantasie. In sy werk oor witheid skryf Dyer (1997): “… ‘race’ is never not a factor, never not in play.” En ek voeg by: “‘Race’ is always present, even if only as a detour on the way to new creations.”

Daarom skaar ek my by diegene wat argumenteer dat die uitdaging nie is om die verlede uit te wis nie, maar eerder om dit te erken — en om die patrone van die verlede nie te herhaal nie.

Prof Gerwel het in sy nota aan die sprekers opgemerk dat die Afrikaanse leefwęreld ’n verlede het wat nie juis skitter ten opsigte van nierassigheid nie, en dat Afrikaans en Apartheid amper outomaties geassosieer word. Dit is waar. Dit is waar dat daar ’n spesifieke historiese assosiasie van die wit Afrikaanse leefwęreld met rassedenke en rassegeweld is. Selfs ná die einde van Apartheid bly aspekte van wit Afrikaanse kultuur vaskleef aan outoritęre, rassistiese en eksklusiewe praktyke.

Dit is egter ook waar dat die Engelse denkwęreld net so ’n groot aandeel in rasse-ongelykheid het. Ek sę dit omdat dit belangrik is dat ons nie die noue assosiasie tussen Afrikaans en rassedenke eenvoudig moet beaam nie. Dit is belangrik om te verstaan dat die kultuurformasies van wit dominasie vele vorme kan aanneem. In Engelssprekende blanke Suid-Afrika, sowel as in plekke soos Europa, Engeland en die VSA, lę die bemagtiging van witheid nie in die ooglopende eksklusiwiteit van ver-regse rassisme nie, maar in die manier waarop wit identiteit onsigbaar gemaak word, hoe dit bloot gesien word as die norm waarteen ander kulture gemeet word en waarby hulle moet aanpas.

Een van die belangrikste gevolge hiervan is die onbewustheid van die voorregte en magsverhoudings wat rondom wit identiteit saamkoek. Die magsverhoudings wat saamhang met rasgebaseerde identiteit word in hierdie konteks eenvoudig onsigbaar gemaak. In die wit Afrikaanse leefwęreld is dit moeiliker om aan die verantwoordbaarheid vir die geskiedenis te ontsnap. Antjie Krog se boek Country of my skull is ’n voorbeeld van hoe moeilik dit is om aan hierdie aanspreeklikheid te ontsnap.

Paradoksaal genoeg mag die Afrikaanse beheptheid met identiteit en die sigbare verbintenis met rassisme en geweld juis ’n hulpbron wees. Miskien help dit dele van die wit Afrikaanse leefwęreld om nie vir die maklike antwoorde te gaan nie.

Miskien moet ons ook vra hoekom dit is dat juis Afrikaanse wittes so nou met die rassedenke geassosieer word terwyl Engelse wit kultuurformasies baie keer gesien word as onskuldig en vry van historiese verantwoordelikheid vir rassisme.

Deel van die antwoord lę miskien in die geskiedenis van wit Afrikaanse gemeenskappe. Hierdie gemeenskappe kon hul kultuur nie so maklik soos Engelssprekendes as universeel geldig sien nie. Hierdie geskiedenis het beteken dat Afrikaanses heeltyd moes worstel met die kwessie van identiteit. Waar pas ons in? Waar hoort ons? Is ons deel van die kontinent van Afrika? En wat is ons verhouding met Afrika? Apartheid en rassedenke was een poging om hierdie vrae te antwoord. Die einde van Apartheid gee ons ’n kans om ’n nuwe en beter antwoord te soek.

Lesers kan via e-pos na Deborah Steinmair by webvoet@yahoo.com op die artikel reageer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.