SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Telling Wounds: Om oor trauma in die verlede te praat

Gerrit Brand


Chris van der Merwe en Rolf Wolfswinkel (reds), Telling wounds: narrative, trauma & memory: working through the SA armed conflicts of the 20th century, Stellenbosch: Van Schaik 2003.

Om oor trauma in die verlede te praat is sowel noodsaaklik as gevaarlik.

Dit is noodsaaklik omdat trauma nooit “iets van die verlede” is nie, maar altyd steeds teenwoordig as een van die faktore wat verhoudings tussen individue en groepe beïnvloed - daarom moet dit, soos elke faktor wat ’n stempel op ons saamleef afdruk, onder die soeklig van die Oop Gesprek val, sodat oorwoë besluite geneem kan word oor hoe om daarmee om te gaan.

Dit is egter ook gevaarlik - nie net omdat ou wonde oopgekrap word en bitterhede opnuut hul verskyning maak nie; ook nie net omdat die proses van vertellend onthou ’n politieke besigheid is waarin die botsende belange van verskillende rolspelers in ’n stryd om dominasie gewikkel is nie; maar ook - en dit is dalk selfs ’n groter gevaar - omdat ons die risiko loop om die saak waaroor dit gaan, te trivialiseer. Trivialisering gebeur nie net wanneer ons die pyn van ander afmaak as sou dit ons, in Jimmy Kruger se berugte woorde, “koud laat” nie, maar ook wanneer ons in clichés en sentimentaliteit verval. Soms is saaklikheid meer getrou aan die onvatbaarheid van geweld, pyn, onreg en wreedheid as wat trane en wroeging kan wees, juis omdat dit feite oorbring, maar terselfdertyd dit wat eintlik gesê wil word, sê juis deur dit ongesê te laat.

Die bundel onder bespreking bevat voordragte wat gelewer is tydens ’n konferensie by die Universiteit van Kaapstad van 3 tot 5 Julie 2002 en ’n inleiding deur die redakteurs. Tussen die 30 tekste wat in die bundel opgeneem is, is daar heelwat wat meer as die moeite werd is en wat reg doen aan die gewigtigheid en kompleksiteit van die tema. Later meer daaroor, maar laat ek eers met kritiek begin.

Soos waarskynlik te verwagte is, val sommige van die bydraes in die slaggat van trivialisering - nie die Jimmy Kruger-tipe nie (die naaste wat onlangs in die literatuur daaraan gekom is, is Dan Roodt se Om die Waarheidskommissie te vergeet), maar daardie vorm van trivialisering wat ek hier bo met clichés en sentimentaliteit in verband gebring het. ’n Mens kan soms nie die indruk vermy dat sommige van die bydraers as ‘t ware ’n “field day” gehad het met hierdie lekker potente tema nie. Daar is soveel materiaal wat intrinsiek roerend, ontstellend en disoriënterend is dat dit miskien te maklik - gevaarlik maklik - is om dit vir goedkoop emosionele retoriek uit te buit en vir ’n gebrek aan kritiese analise en harde dinkwerk te laat kompenseer. Dat selfs vooraanstaande skrywers soos Antjie Krog en JM Coetzee soms (tereg of ten onregte) hiervan verwyt word, maak dit seker onvermydelik dat akademici, wat nie altyd oor die nodige literêre sofistikasie beskik om effektief met sulke temas om te gaan nie, hulle hieraan sal skuldig maak. Dit is natuurlik nie die redakteurs se skuld nie (redakteur beteken nie “sensor” nie), maar wel dié van enkele bydraers.

Daar is veral drie maniere waarop die “erratiese blok” (Heinz Kimmerle) wat geweld en lyding in ons diskoerse behoort te wees, nie tot sy reg kom nie.

Die eerste is die veels te prominente plek wat ’n psigoterapeutiese paradigma in baie van die bydraes inneem. Hierdie element word reeds in die titel gesuggereer met die terme trauma en working through. Die logika van hierdie paradigma is dat geweld en lyding iets is wat “uitgepraat”, “verwerk” en “geïntegreer” moet word, en die vraag wat dit oproep, is of so ’n benadering nie self die ervaring van slagoffers en daders geweld aandoen deur die onsêbaarheid, die onverwerkbaarheid en die onintegreerbaarheid daarvan oor die hoof te sien nie. In die psigoterapeutiese perspektief is daar nie plek vir ’n gesonde neurose nie. Dit is nie die waarheid in al sy verbetenheid wat voorop staan nie, maar eerder strategieë om te “cope”, die hoop op “emosionele groei” en die soeke na ’n “katarsis” wat as ‘t ware die verlede in ’n golf van emosie moet wegspoel. Volgens hierdie kultus is die groot sonde om dinge te onderdruk, om nie daaroor te praat nie. Die oproep is deurgaans: “Praat dit uit!” Bydraers wat in die terme van hierdie soort benadering dink, is nie in staat om kritiese vrae te stel wanneer dieselfde soort strategie in waarheidskommissies, geskiedskrywing en persoonlike herinnering ’n rol speel nie.

Tweedens is daar bydraes waarin die verlede van ons wye en droewe land getrivialiseer word deurdat dit in ’n simplistiese plot van goed-en-sleg, boosaards-en-helde, daders-en-slagoffers ingeforseer word. Kompleksiteit en ambiguïteit word dan uit die oog verloor en so word die gebeure en die ervaring daarvan gesaniteer en irreëel gemaak. Waar die psigoterapeutiese benadering die wesenlike ontwrigting van ons bestaan wil hanteer of neutraliseer, skrik die moralistiese benadering terug van die grense van ons morele konsepte en idees. Alhoewel daar met moeilike stof gewerk word, word dit op so manier gedoen dat die skrywer gerieflik in ’n wêreld van morele klaarheid en sekerheid kan vertoef. Die leser kan dit maklik miskyk, omdat die moralistiese bydraes dikwels oënskynlik juis die erns van die kwaad beklemtoon, byvoorbeeld deur die apartheidsverlede met Nazi-Duitsland te vergelyk. Die probleem hiermee is nie dat apartheid te erg voorgestel word nie, maar dat die vergelyking te maklik is, te glad verloop - dit gebeur sonder ’n prys, want deur dit alles bly die morele kategorieë van die skrywer onaangetas. Die resultaat is ’n gebrek aan selfkritiek, wat weer kritiek op heersende diskoerse onmoontlik maak. Behalwe dat dit pyn trivialiseer, laat dit ons in “othering”, stigmatisering en sondebokkery verval, sodat ons ongemerk dieselfde soort diskoers as “die vyand” begin oorneem.

Die derde vorm van trivialisering hang baie nou met die vorige een saam. Dit gebeur wanneer die lyding van ander ’n funksie (in die sin van “funksioneel”) van ons eie identiteitsoeke word. Dit is veral buitelandse akademici wat hierdie fout begaan (hoewel van die beste bydraes ook deur buitelanders geskryf is). Hoekom is mense uit Europa en Amerika so geïnteresseerd in Suid-Afrika se traumatiese verlede? Het dit iets daarmee te doen dat hulle met soveel oorgawe met die slagoffers simpatiseer, hulle as ‘t ware aan hulle kant staanmaak? Ek het eenkeer ’n Nederlander ontmoet wat na ’n besoek aan Suid-Afrika gevoel het dat hy iets aan die land verskuldig is. Toe hy ’n kind was, het sy ouers ’n tyd lank oorweeg om na Suid-Afrika te emigreer. Nou vra hy homself af: As hulle dit gedoen het, hoe sou ek uitgedraai het? Watter soort politieke rol sou ek gespeel het? Die antwoord, vrees hy, is nie alte selfvleiend nie - vandaar sy vreemde skuldgevoel. Helaas is dié soort houding maar skaars onder buitelanders. Die trauma van ander - veral as dit in ’n ver land afspeel waarmee jou eie materiële belange nie verstrengel is nie - is ’n gulde geleentheid om ’n mens se eie ideale identiteit as sensitiewe simpatiseerder en moreel verontwaardigde te help vestig. Die vraag na die basis, die grond, van hierdie behoefte bly uit. En daarmee - opnuut - selfkritiek.

Ook Suid-Afrikaners kan egter “ons traumatiese verlede” gebruik om ’n bepaalde identiteit vir hulself waar te maak. Dit kan wissel van die “ootmoedige blanke” tot ’n kleurlose “ons” waarvan “ek” deel is (en die bose ander nie). In ons konteks is hierdie soort self-aanbiedings ook nog verweef met ’n stryd tussen nasionalismes en ’n klassestryd. Verhulling is aan die orde van die dag.

Wat kritiek betref, ten slotte twee punte: Dit laat ’n mens tog ongemaklik voel as ’n kongres oor Suid-Afrika se traumatiese verlede meer bydraes uit ’n wit as uit ’n swart perspektief het. Daar word veral heelwat óór en námens swart slagoffers en daders gepraat, maar redelik min déúr swart stemme self. Dit hou moontlik verband met die feit dat alle bydraes (en dus vermoedelik die hele kongres vooraf) slegs in Engels is: Wat gebeur as jy jou storie in iemand anders se taal moet vertel?

Die problematiek van taal in die politiek van “narrative, trauma en memory” word ook gans te skraps aangesny in die verskillende bydraes. Belangrike kwessies wat tot interessante refleksies aanleiding sou kon gee, is byvoorbeeld die taalpraktyk van die Waarheidskommissie en die gebruik, in vertaling, van “oorspronklike” mondelinge getuienis in geskiedskrywing.

In bogaande kritiek het ek geen spesifieke bydraes uitgesonder nie. Ek laat dit aan ander lesers oor om te besluit of en in hoeverre die kritiek op bepaalde bydraes van toepassing is. By my positiewe evaluasie wil ek egter ’n ander praktyk volg deur enkele uitstekende bydraes in besonder uit te lig.

Albert Grundlingh se bydrae, “Reframing remembrance: the politics of the Centenary Commemorations of the South African War”, bied ’n soort verslag van die geknoei en gestoei oor hoe die Boere-oorlog in die Nuwe Suid-Afrika herdenk moes word. Al het dit op die oppervlak die karakter van ’n afstandelike historiese verslag, het dit die soort kritiese skerpte wat ’n mens in sommige ander bydraes mis. Sy retoriese tegniek is eenvoudig, dog uiters effektief: in plaas van om oor die lyding tydens die oorlog te praat, praat hy oor die maniere waarop verskillende faksies in Suid-Afrika daaroor praat en die stryd tussen die onderskeie maniere van praat om as dominante gesigspunt na vore te tree. Daar is genoeg deernis om die tipies menslike van so ’n stryd te laat sien, maar terselfdertyd genoeg eerlikheid om dit alles ’n ietwat frank smaak in die mond te laat nalaat. En in dit alles bly die aanvanklike pyn en geweld van die oorlog ongesê en onaangetas. Alleen so - in afwesigheid - kan dit ernstig opgeneem word en kan die surplus aan (on)sin wat die kleinlike politiekery rondom die saak te bowe gaan, steeds sigbaar bly.

Ook Mary Ntabeni slaag daarin om deur saaklikheid iets sigbaar te maak van die gewigtigheid van dit waaroor gepraat word. Haar bydrae “From adversaries to ‘comrades’: the case of Lesotho” handel oor basotho wat in die Eerste Wêreldoorlog aan hul koloniale meester se kant gaan veg het en die redes wat hulle daarvoor aangevoer het. Die vreemdheid van die wêreld wat sy laat herrys, help die leser om met ander oë na ons eie tyd te kyk. Die afwesigheid van pisgoterapeutiese of moralistiese kategorieë in haar verhaal maak ook daardie wêreld so tasbaar as wat moontlik is. Hoekom sou ’n mosotho in die vroeë 20ste eeu sy lewe waag vir ’n ander se “king and country”? Hoe het dit gevoel om een van daardie basotho te wees? Of een van die wat agtergebly het? Wat het dit alles vir die basotho en hul land beteken? Hierdie is groot en moeilike vrae, en Ntabeni beantwoord hulle met eufemisme en suggestie - dws so goed as wat sy (of enigiemand) kan.

Sizwe Satyo doen in “The living world of exile: perspectives from the poetry of Solomon Mahlangu Freedom College” belangrike literêr-historiese werk deur gedigte deur lede van die bevrydingsbewegings in ballingskap te siteer en iets te skets van die ervaring en perspektief wat agter dié gedigte sit. Wat uiteindelik opval, is die groot idealisme, selfs triomfalisme, wat hier uit ’n situasie van uiterste ontbering en marginalisering spreek. Daar is dus ook, heel polities inkorrek, ’n bravado-opsie as een manier om met lyding om te gaan. Wat sou dit in ons huidige konteks kon beteken?

Mederedakteur Chris van der Merwe se bydrae, “Developing the archetype of the sacrificial martyr: Karel Schoeman and JM Coetzee”, gaan die eggo’s van trauma in die literatuurskeppings van hierdie twee groot skrywers sorgvuldig en genuanseerd na. Parallelle tussen die uiteenlopende karakters uit die twee oeuvres word aangedui en die argetipe van die offervaardige martelaar word teen ’n breër religieuse en kulturele agtergrond geplaas. Van der Merwe dui oortuigend aan hoe tradisionele godsdienstige motiewe ten spyte van hul slytasie ’n sekere universaliteit kan behou en hoe goeie literatuur dit na vore kan bring. Vir lesers van Coetzee en Schoeman bied sy bydrae ’n waardevolle eksegese wat die leeservaring net kan verryk.

Azila Reisenberger (“Gods and dogs and women’s traumas in Disgrace by J.M. Coetzee”) voeg nog ’n paar waardevolle insigte tot die lees van Coetzee se werk toe. Dit oortuig veral die leser om twee keer te kyk as ’n stereotipe sy kop in Coetzee se werk lyk uit te steek. Coetzee doen niks per ongeluk nie en Reisenberger weet hoe om dit raak te sien.

Ook mederedakteur Rolf Wolfswinkel se “Leaving ‘Nam’ but not going home: the memory of lost wars in South East Asia in Southern Africa” is die moeite werd om te lees. Soos die titel aandui, tref hy ’n vergelyking tussen die manier waarop die Viëtnam-oorlog en ons eie grensoorlog onderskeidelik gestileer word en hoe Amerikaanse veterane hul Suid-Afrikaanse eweknieë hierin beïnvloed het. Wat veral boeiend is, is dat die resonansie tussen die twee narratiewe komplekse reeds vanaf die begin daar is en dan teenwoordig bly deur die hele verloop van die oorlog: aanvanklik word ons grensoorlog in dieselfde terme as die Viëtnam-oorlog verdedig, maar aan die einde bedien die sinisme van veterane sig ook van Viëtnam-stylfigure. En die kritiek op die oorlog spieël ook die kritiek op die Viëtnam-oorlog. Is die twee oorloë self eintlik literêre skeppings wat volgens ’n bepaalde genre ontvou?

Fiona Ross (“On having voice and being heard”) en Christopher Colvin (“Limiting memory: the roots and routes of storytelling in post-apartheid, post-TRC South Africa”) stel enkele van die belangrike kritiese vrae wat rondom die praktyk van vertellend onthou in Suid-Afrika gevra moet word. Vrae soos: Wie besit en beheer die storie? Wat gebeur wanneer stories gekommodifiseer word? Hou “om jou storie te vertel” wel die voordele in wat deur almal beloof word? Is vertel altyd beter as stilbly? ’n Groter deel van die bundel sou eintlik oor hierdie soort temas moet gaan.

Laastens noem ek graag die historiese bydrae van Neo Ramoupi, “In their rememberings are their truths: Nkosi Mnini and the amaThuli’s forced removal in Natal”. Dit handel nie net oor die amaThuli en hul verlede nie, maar ook oor die aard van historiese navorsing (veral wanneer mondelinge bronne gebruik word) as ’n vorm van herinnering, asook die wyse waarop herinnering in ’n gemeenskap gekoördineer word en soms daardie koördinasie deurbreek. Ramoupi het die vermoë om veel meer in ’n aangehaalde vertelling te sien en dit daaruit te haal as wat die gemiddelde leser met die eerste oogopslag daarin sal ontsyfer. Sy benadering kom naby aan wat soms genoem word “kritiese diskoersanalise”, ’n benadering wat eintlik die meeste van die bydraes wat ek hier uitgesonder het, kenmerk en wat van groot waarde kan wees in enige gesprek oor herinnering en vertelling, veral in kontekste waar daar om die besit van trauma-kapitaal (of ’n aandeel daarin) gewedywer word.

In die geheel gesien, dus, ’n boek wat die moeite werd is om onder oë te kry. Die goeie bydraes van Grundlingh, Ntabeni, Satyo, Van der Merwe, Reisenberger, Wolfswinkel, Ross en Ramoupi - en enkele ander - kompenseer vir die goedkoop sentimentalisme wat in sommige ander bydraes deurslaan. Miskien is die jukstaposisie van hierdie twee soort benaderings tot vertel en onthou op sigself waardevol, omdat die leser as ‘t ware heen en weer geslinger word tussen die ervaring dat pyn nou getrivialiseer, nou weer ernstig opgeneem word. So kan dit die sintuie verskerp om ook daar buite, in die nie-akademiese wêreld, die koring van die kaf te skei. En dit, neem ek aan, was deel van die bedoeling met die kongres en die bundel.


Telling Wounds kan teen R 110 (posgeld ingesluit) bestel word by Chris van der Merwe deur hom te e-pos by cnvdm@humanities.uct.ac.za. Daar is 'n beperkte aantal eksemplare beskikbaar.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.