SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Nostalgiese reis na die onvermydelike afskeid

Marina le Roux

Koop hier!Volstruis, met wie gaan jy trou?
Nortje, P. H.
Tafelberg-Uitgewers
2000
Sagteband
196 bladsye
ISBN 0624038440
R69,95.

Die bekende skrywer P H Nortje, 80 geword in Oktober vanjaar, se boeke vat geslagte saam. Middeljariges en bejaardes wat as kinders en tieners met Pennie se vuur, Die groen ghoen en die humoristiese “Son”-boeke grootgeword het, lees nou Nortje se meer resente werke soos sy outobiografiese Korsies van growwebrood en sy “laaste” boek Ken op die kierie (1997). Gelukkig vir sy lesers was dit toe nie sy swanesang nie, want ’n jaar of twee gelede neem sy drie seuns hom op ’n nostalgiese herinneringstog na die familieplaas in die Baviaanskloof naby Willowmore. “Just a bit of cruising down Memory Lane. Wie weet, dalk sommer nog ’n storie vir Pappa om te skryf,” verduidelik sy seun Francois.

En dit is presies soos Nortje se jongste (en laaste?) boek begin het, met ’n terugreis na sy geliefde Klipfontein, met ’n laaste rustelose verlange soos ’n “kriewel” in sy hart. Die heenreis word in detail beskryf, beginnende in die Strand en verder oor Dutoitskloof, nie deur die vinnige tonnel nie, maar met die kronkels en draaie van die ou pad. Want daar moet telkens tyd ingeruim word vir terugflitse van “onthou julle nog?” of “dit was nét hier waar”, ’n keur uit die herinneringe wat oor baie jare strek toe die drie volwasse mans nog die Klein Bulletjies was.

Oor Worcester, Robertson, Ashton en Swellendam word vergete ervarings opgediep, tot by Groot Brakrivier, die Nortje-gesin se vakansieplek vir baie jare. Dan is dit George en Kloof toe en eindelik tuis op Ouma Gerty se verlate plaaswerf.

Die naweek is te kort om alle kuierplekke na te loop, om alle stuwende herinneringe te verwerk. Telkens reis Nortje verder terug in die verlede en ontruk hy sy kindertyd aan die vergetelheid. Hy oorskry tydsgrense en versit selfs die onverbiddelike bakens van die dood. Deur sy onderhoudende vertellings en met sy deurleefde wysheid, herskep hy ’n vergane era, herroep hy die beeld van ’n geïsoleerde boeregemeenskap van byna ’n eeu gelede. Mense moes oorleef ten spyte van vloede en droogtes, oorvloed en armoede. “Geld was hier nooit. Maar aan geborgenheid en liefde en gasvryheid was daar nooit ’n gebrek nie”, verduidelik Nortje aan sy seuns.

Saam met sy jeugervarings, herroep Nortje ook die kleurryke karakters wat sy unieke kinderjare help vorm het: die vabonde en die vromes, die wyses en die warkoppe. In die weerklank van ’n sangspeletjie uit sy jeug en uit die van sy seuns, hoor hy weer die vergete stemme van al die klowers uit ’n vergange tyd van sy lewe: “Volstruis jou langnek / Jou platbek / met wie gaan jy trou?” Daar is egter nooit ’n sweem van opsetlike didaktisisme en skoolvosserigheid by hierdie onderwyser-dosent-skrywer nie. Elke ervaring hetsy komies of sober, word met ongekunstelde gasvryheid en ouwêreldse sjarme oorgedra en met die leser gedeel en saam wandel ons rustig deur herinnering se wei. Selfs met die intiemste gesprekke manipuleer Nortje nooit doelbewus en valslik die leser se gevoelens nie. Nostalgies, ja dikwels, sentimenteel, baie selde.

Van die ontroerende hoofstukke gaan oor die laaste besoek aan Aroeka, die skrywer se jeugvriend en mentor, die familiebegraafplaas en die ou vervalle plaashuis. “Maar wanneer die woonhuis, die veilige hawe van geslagte in die familie, stuk-stuk verval totdat daar nog net ’n bouval oorbly, is dit amper roerender as die dood.”

Ten slotte en ter afskeid word die belewenisse van die naweek deur elkeen van die drie seuns apart saamgevat en ook deur die skrywer self: “Of ek weer in my leeftyd hier sal kom, weet ek nie. Dit is onwaarskynlik. En daarom het ek nou wat my betref, finaal kom afskeid neem. Die herinneringe sal ten minste altyd by my bly; dit kan niemand van my wegneem nie.”

Dit is dan ook die blywende indruk wat hierdie hartverwarmende boek by die leser laat: gedeelde herinneringe uit die ryk geskakeerde lewe van ’n deurwinterde skrywer en medemens wat hy onbaatsugtig met jou deel en wat niks en niemand ooit van jou kan wegneem nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.