SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde

Louise Viljoen

Die Burger-lesingreeks, KKNK, April 2002

1  Selfrefleksie en skadeloosstelling

Miskien moet ek my bydrae tot hierdie gesprek oor “Nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde” begin met ’n vlugtige poging tot self-definisie. Hopelik maak dit my soort perspektief op die nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde verstaanbaar, indien nie aanvaarbaar nie.

Aan die een kant is ek ’n kompulsiewe leser wat vas glo dat ’n mens Šlles wat jy van die lewe hoef te weet uit die letterkunde kan leer: soos byvoorbeeld hoe om ’n jakkals of ’n olifant te jag, hoe om ’n selfmoordpoging te kelder deur jou kop in ’n vuil gasoond te druk, hoe om ’n yskas in Triomf reg te maak, hoe om snoeker te speel in die Vrystaat, hoe appels en steenkool ruik, hoe om stamelend te sterwe, hoe om van die Taalmonument ’n spies te maak wat jy in die oog van die president kan druk Ö die lys van vaardighede en insigte wat jy kan verwerf, is eindeloos.

Aan die ander kant is ek egter ook ’n letterkunde-dosent van wie dit deur my werkgewer vereis word om navorsing te doen oor die letterkunde, wat soms gevra word om ’n boek te keur of resenseer en by geleentheid ook gebruik word om ’n besluit te neem oor die toekenning van literÍre pryse.

Enersyds deel ek dus in die wilde en vrye vreugde van lees vir die louter plesier daarvan; andersyds het ek iets soos ’n professionele plig teenoor my vak, te wete die letterkunde en meer spesifiek die Afrikaanse letterkunde.

Alhoewel letterkunde-dosente maar net ’n klein deeltjie van die groter literÍre sisteem uitmaak, is ek en my krimpende groepie kollegas dikwels in die visier van ontevrede briefskrywers op LitNet en word ons van baie dinge verwyt, soos byvoorbeeld dat Afrikaanse boeke vervelig is omdat hulle net vir dosente en hulle studente geskryf word, dat die Afrikaanse letterkunde kwyn omdat resensente so venynig is, en dat pryse dikwels aan die verkeerde skrywers toegeken word omdat die oordele so subjektief is. Om hierdie rede sou dit onverantwoordelik en vals wees om voor te gee dat ek vandag net as entoesias en nie ook as letterkundige en akademikus praat nie. Daarom moet ek myself miskien reeds in hierdie stadium bedien van daardie soort skadeloosstelling wat skrywers dikwels voor in hulle tekste gebruik. (Een van die mooistes is nog steeds die een voor in Etienne Leroux se 18-44: “In hierdie boek is al die karakters denkbeeldig, die eerste persoon is nie die skrywer nie, die Rus is nie ’n Rus nie, die park is nie die park in Oranjezicht nie, X is nie I nie, Walkures bestaan nie, ek het nie ’n teringmaer tante nie, maar die filosofie is nagepraat.”)

Soos wat akademici maar geneig is om te doen, gaan ek in hierdie oorsig van die nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde probeer om samehange te skep waar daar dalk net sprake is van vae ooreenkomste. Verder sal ek my wend tot veralgemenings en waarskynlik ook sondig in die rigting van oorsigtelikheid, selfs oorsig van sommige name en feite. Ek sal ook verplig wees om waardeoordele uit te spreek, voorspellings te maak en wense uit te spreek wat soos voorskrifte mag klink. Ek vra dus by voorbaat dat die gehoor die volgende (effens aangepaste) slotwoorde uit Breyten Breytenbach se gedig “Bedreiging van die siekes” in gedagte sal hou: “Kyk, sy is skadeloos, wees haar tog genadig.”

2  ”Nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde”: ’n bestekopname

Dit het vir my sinvol gelyk om my bydrae tot hierdie gesprek te begin met ’n bestekopname van die nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde. ’n Poging om na te gaan watter nuwe stemme daar op die oomblik in die Afrikaanse letterkunde is, roep onmiddellik verdere vrae op soos byvoorbeeld: Wat is dit wat iemand laat kwalifiseer as ’n nuwe stem? Wat is daardie kwaliteit wat ons “nuut” noem? Is “nuut” noodwendig sinoniem met “vernuwing”?

Vir die doeleindes van hierdie bestekopname het ek om bepaalde redes besluit om so ver as 1995 terug te gaan in my poging om te probeer uitvind watter nuwe stemme daar in die Afrikaanse letterkunde is.

Indien ’n mens verder aanneem dat daar met die term “nuwe stem” verwys word na ’n skrywer wat vir die eerste keer ’n teks publiseer wat deel uitmaak van die Afrikaanse letterkunde, moet ’n mens jouself noodwendig ook afvra wat onder die term “letterkunde” verstaan word. Hieroor is daar al eindeloos geredeneer en geskryf — laat ek dus maar volstaan met die mees algemene opvattings, naamlik dat die letterkunde ’n konstruksie is wat feitelike tekste uitsluit en waarvan die grense miskien ten onregte gesluit is vir populÍre literatuursoorte soos byvoorbeeld die liefdesverhaal wat volgens ’n bepaalde resep geproduseer word. Hier kan ek nie nalaat om by te voeg dat dat daar al op verskillende manier en deur baie mense (veral die postmoderniste) met beide hierdie opvattings die vloer gevee is nie.

Desnieteenstaande. As ’n mens gaan kyk na die nuwe stemme wat die afgelope vyf tot sewe jaar in Afrikaans verskyn het, blyk dit gou dat daar verskillende soorte nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde is. In die eerste plek is daar skrywers wat vir die eerste keer tekste publiseer omdat hulle die inklinasie, talent en deursettingsvermoŽ het om iets te skryf wat ’n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer — hierdie nuwe stemme kan wissel van bloedjonk tot middeljarig en selfs stokoud. Daar is egter ook ’n aantal nuwe stemme wat verdien om uitgesonder te word omdat hulle ’n groep is wat nuwe stemme is omdat die sisteem eintlik eers in die negentigerjare vir hulle werklik uitnodigend en toeganklik geword het, naamlik die bruin Afrikaanse skrywers. Onder die nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde sou ’n mens dalk ook kon reken bekende skrywers wat skielik ’n nuwe stem kry omdat hulle in ’n nuwe genre begin skryf en selfs daardie soort skrywers wat dit regkry om hulleself so grondig te vernuwe dat dit vir lesers voel asof hulle ’n totaal nuwe stem hoor (soos byvoorbeeld met Van Wyk Louw se Tristia in 1962).

Naas hierdie nogal willekeurige indeling van die nuwe stemme in verskillende kategorieŽ het dit ook verstandig gelyk om afsonderlik stil te staan by die nuwe stemme in die Afrikaanse poŽsie. ’n Verdere vraag sal wees in welke mate die koms van ’n nuwe stem ook “vernuwing” bring.

2.1  Die jong nuwe stemme

Alhoewel ek besef dat dit erg riskant is om ouderdom as ’n kriterium vir klassifikasie te gebruik, wil ek om verskillende redes ’n groep nuwe stemme uitsonder wat hulleself onderskei deurdat hulle jonk is. Alhoewel die jeugdigheid van ’n nuwe stem nie noodwendig vernuwing veronderstel nie, lyk dit tog asof jeug in die gedagtes van baie mense wel iets te doen het met die hoop op nuutheid, vernuwing en verandering. Dit blyk byvoorbeeld wanneer mense effens teleurgesteld is omdat nie al die digters wie se werk in ’n versamelbundel soos Nuwe stemme II verskyn het, onder dertig is nie. Aan die wortel van hierdie reaksie lÍ waarskynlik die vrees dat geen jongmens weldra nog lus sal wees om in Afrikaans te skryf in die lig van die verleidelikheid van die Engelstalige kultuur wat besig is om die wÍreld te oorspoel nie en dat Afrikaans verlore sal gaan indien jongmense hulle nie kreatief in die taal besig hou nie. Kyk ’n mens egter na die entoesiasme waarmee skryfkursusse bygewoon en manuskripte vir byvoorbeeld romanwedstryde ingeskryf word, lyk dit asof ’n mens versigtig optimisties kan wees oor jongmense se kreatiewe betrokkenheid by die taal.

Met hierdie voorbehoude in gedagte kan ’n mens dus kyk na die jeugdige nuwe stemme wat in die afgelope aantal jaar verskyn het.

Vanaf 1995 was daar die nuwe stemme van Sonja Loots (Spoor 1995), Jaco Fouchť (Die ryk van die rawe 1996, Paartjie by Jakes 1997), Jaco Botha (In Drie Riviere 1997, Sweisbril 1999), Tom Dreyer (Erdvarkfontein 1998, Stinkafrikaners 2000), Anoeschka von Meck (Annerkant die longdrop 1998), Herman Wasserman (Verdwaal 1997), Izak de Vries (Kom slag ’n bees 1998) en Arnold Vermaak (Buys 1999).

In dieselfde tyd was daar ook pogings om naas-literÍre vorme soos die grafiese roman te beoefen (veral na aanleiding van die sukses wat vorme soos Bitterkomix in die kultus-wÍreld van die stripverhaal ondervind het). In 1996 was daar Thinus Horn en Alastair Findley se grafiese roman Hemel op aarde en meer onlangs nog Ryk Hattingh en Conrad Botes se Die Foster-bende (2000). Tot dusver lyk dit egter asof ’n tussenvorm soos die grafiese roman of die stripverhaal verdra, maar nie eintlik met ope arms verwelkom word in die Afrikaanse letterkunde nie.

Die meeste van hierdie nuwe stemme kom klaarblyklik voort uit ’n wÍreld wat anders lyk as diť een wat hulle voorgangers gevoed het. Die informasietegnologie (wat meer as een van hulle se leeftog is waar baie van hulle voorgangers akademici was), ’n wÍreldwye populÍre kultuur (wat wemel van die films, televisie, musiek en grafika) en verskynsels soos dwelmverslawing en VIGS is deel van die wÍreld wat hulle vorm. Verder voel hulle skynbaar onbetrokke by die waardes en ideologieŽ wat ’n groot deel van die Afrikaanse letterkunde in sy nasionalistiese ůf versetsgewaad onderlÍ het en gaan hulle gemaklik om met dit wat buite die grense van Suid-Afrika lÍ, of dit nou Afrika of die wye wÍreld is. Jaco Fouchť het onlangs in ’n berig in Rapport bely dat hy en sy medeskrywers hulle vervreem voel van die Afrikaanse literÍre tradisie in diť sin dat hulle lojaliteite en belangstellings anders lÍ as vir skrywers in die verlede. Die jonger skrywers stel nie daarin belang om die Groot Afrikaanse Roman wat moet handel oor die land en die verhouding met grond te skryf nie. (Self het ek laas in 1985 van die GAR gehoor toe Karel Schoeman in Die Suid-Afrikaan geskryf het dat so iets nog nie in Afrikaans gepresteer is nie.) Fouchť erken dat die hoŽ kultuur hom grondig verveel, maar dat hy wel nog daarna strewe om ’n BGSAR (Bleddie Goeie Suid-Afrikaanse Roman) te skryf wat dan liefs nie gemeet moet word aan ouer of akademiese standaarde nie.

Alhoewel ek dit nie op alle punte eens is met Fouchť se waarnemings nie, sou die nuwe stemme miskien juis uit hierdie gevoel van vervreemding met die literÍre tradisie iets nuuts ťn vernuwends kon skep. Miskien is dit ook hierdie nuwe stemme, met hulle minagting vir die Afrikaanse literÍre tradisie en hulle internetverbindinge met die wye wÍreld, wat die gevare van inteelt in ’n klein taalgemeenskap soos die Afrikaanse sal kan oorkom. Verder sou hierdie jong skrywers (wat deur sommige die Tarantino-skrywers genoem word) vanweŽ hulle besondere aanvoeling vir populÍre kultuur sekere verskynsels in ons samelewing, soos byvoorbeeld mense se gefassineerdheid met geweld, vir ons verstaanbaar kon maak vanuit ’n ander hoek as sosioloŽ, historici, maatskaplike werkers en politici. Dit is miskien ook uit hierdie groep wat onderontwikkelde genres soos byvoorbeeld die wetenskaps- of kuberfiksie waarna Afrikaanse lesers so dikwels vra, sal kom.

Dit is myns insiens belangrik dat daar by talle van hierdie jeugdige nuwe stemme nog ’n drif is om ten alle koste te skryf en dan ook in Afrikaans te skryf. Hierdie drif teer op ’n bepaalde soort passie en energie wat net so belangrik is vir die bestaan van ’n letterkunde as die beleŽnheid van ervaring. Jaco Botha het iets hiervan verwoord toe hy gesÍ het: “Ek voel vandag fokken sexy. Ek is on a roll — daar is geen rede hoekom nie meer van ons so kan voel nie. Wie van die volk sal ons dan kan weerstaan?” (SÍNet 13/2/2002).

Dit lyk dus asof die vernuwing wat jongmense na ’n letterkunde kan bring, van ’n heel spesifieke soort kan wees. Iets hiervan is wel voelbaar by die nuwe stemme wat ek hier genoem het, maar die ingrypende vernuwing met betrekking tot tema en instelling wat hulle in die Afrikaanse letterkunde sou kon bring, het nog nie heeltemal in vervulling gegaan nie. Dit beteken egter nie dat hierdie jong skrywers nie verder sal ontwikkel en uiteindelik ’n beduidende impak op die Afrikaanse letterkunde sal maak nie.


2.2   Die nuwe stemme van bruin skrywers

Wanneer ’n mens na die prosabydraes tot die Afrikaanse letterkunde van die afgelope aantal jare kyk, is dit opvallend dat bruin skrywers ’n belangrike rol daarin speel. Die verskyning van AHM Scholtz se roman Vatmaar in 1995 (wat sedertdien heelwat sukses behaal het in Nederlandse, Duitse en Engelse vertalings, sowel as in die omsetting daarvan tot toneelstuk) kan in ’n groot mate as die begin van hierdie ontwikkeling gesien word. Scholtz se debuut op twee-en-sewentigjarige leeftyd stel ’n hele aantal aspekte van die problematiek rondom nuwe stemme aan die orde. Uit Scholtz se geval blyk dit dat daar nie ’n ouderdomsbeperking op nuwe stemme gestel kan word nie. Verder laat blyk dit dat die kwessie van die nuwe stem tot in die onlangse verlede nie los te dink was van Suid-Afrika se politieke geskiedenis nie. Scholtz was een van die eerste bruin romanskrywers in Afrikaans (daar was wel vroeŽr die voorbeeld van Arthur Fula in die vyftigs). Een van die redes waarom hy tot in sy sewentigerjare gewag het om ’n boek te skryf en daarby nog sy eerste poging in Engels met Afrikaanse dialoog geskryf het, het te doen gehad met die feit dat ’n bruinman soos Scholtz sy eie moedertaal Afrikaans nie vanselfsprekend gesien het as die taal waarin hy skeppend sou kon wees en waarin hy sou kon publiseer nie. Scholtz se sukses (wat ongelukkig nie herhaal is met sy volgende publikasies Langsaan die vuur 1996 en Afdraai 1998 nie) is onder andere moontlik gemaak deur die bemoeienis van die uitgewery Kwela Boeke, en meer spesifiek die uitgewer Annari van der Merwe. Na sy debuut het ander bruin skrywers gevolg met prosatekste gepubliseer by verskillende uitgewers. Onder hulle tel skrywers soos Karel Benjamin (Moenie in die water mors nie 1996, Pastoor Scholls trek sy toga uit 1999), EKM Dido (Die storie van Monica Peters 1996, Rugdraai en stilbly 1998, ’n Stringetjie blou krale 2000), SP Benjamin (Die reuk van steenkool 1997, Die lewe is ’n halwe roman 1999), Clive Smith (Bly te kenne, Braam 1997), Kirby van der Merwe (Klapperhaar slaap nie stil nie 1999), Elias P Nel (Iets goeds uit Verneukpan 1998, Mafoiing 2001), Joseph Marble (Ek, Joseph Marble 1999) en die digters Clinton du Plessis en Peter Snyders wat verhale gebundel het in Brunch met twee (2001). Die versamelbundel Die stukke wat ons sny van 1999 stel nog nuwe prosastemme van bruin skrywers aan die woord.

Wanneer ’n mens hierdie skrywers se werk vergelyk met diť van die jeugdige nuwe stemme wat ek hierbo geÔdentifiseer het, is dit duidelik dat daar in hulle werk ’n sterk gemeenskapsbetrokkenheid en bemoeienis met identiteitskwessies teenwoordig is.

Alhoewel die klassifikasie van skrywers op grond van hulle ras hopelik spoedig uitgedien sal wees, voel ek tog dat hierdie nuwe stemme eintlik ’n dubbele nuutheid in die Afrikaanse letterkunde verteenwoordig en iets heel spesifieks te sÍ het. Dit mag wees dat ek veralgemeen, maar dit is my gevoel dat die meeste van hierdie skrywers — anders as die vorige groep vir wie Fouchť in ’n mate as segsman opgetree het — wel in voeling is met die tradisie waaruit hulle voortgekom het, naamlik die werk van bruin digters soos SV Petersen, PJ Philander en Adam Small, sowel as die bruin struggle-digters van die sewentiger- en tagtigerjare. Myns insiens is die sterkste stemme in hierdie groep diť van SP Benjamin en Kirby van der Merwe, terwyl Dido se vasberadenheid om ongemaklike temas in haar werk te ondersoek ook sterk resultate kan oplewer.


2.3   Ander nuwe stemme

Indien ’n mens kyk na die nuwe stemme van die afgelope aantal jare wat buite bogenoemde twee kategorieŽ val, is dit die volgende name wat die sterkste opval: Christoffel Coetzee, Johann Botha, Dan Sleigh en Dine van Zyl. Dit is opvallend dat daar by al hierdie skrywers sprake is van ’n bemoeienis met die geskiedenis sowel as die literÍre tradisie waardeur eietydse vraagstukke dan aangespreek word. Christoffel Coetzee se uitdagende roman Op soek na Generaal Mannetjies Mentz van 1998 het baie lesers verontrus met die ongemaklike beeld wat dit van die Anglo-Boereoorlog geteken het en die wyse waarop dit ingespeel het op die werk van die Waarheid- en Versoeningskommissie. Die werk van Coetzee (wat helaas dood is voordat hy verder kon publiseer) is in ’n sekere sin vergelykbaar met diť van Dan Sleigh (ook historikus en jeugverhaalskrywer) wie se roman Eilande van 2002 ons terugneem na die beginjare van die VOC se nedersetting aan die Kaap. Alhoewel hierdie skrywers beduidende bydraes tot die Afrikaanse letterkunde lewer met hulle romans, is dit sekerlik in Coetzee se geval en waarskynlik in Sleigh se geval nie die begin van ’n uitgebreide oeuvre wat homself (soos byvoorbeeld diť van Karel Schoeman) sal voltrek oor die loop van dertig, veertig jaar nie.

Ander nuwe stemme wat ’n mens kan uitsonder in die afgelope aantal jare was diť van Johann Botha en Dine van Zyl. Botha het in 1997 gedebuteer met Groot vyf, ’n teks bestaande uit vyf lang verhale waarin hy temas soos die geskiedenis, die politieke oorgang en die ekologie aanspreek. Die oudjoernalis Dine van Zyl se roman Slagoffers tree ook in gesprek met die geskiedenis en die Afrikaanse literÍre tradisie. Deur die roman se fokus op vroue se ervaring van die Angola-oorlog word dit ’n antwoord op die grensliteratuur wat veral in die jare tagtig en negentig geskryf is deur jong mans.

Effens buite hierdie groep nuwe stemme wat hulle bemoei met die geskiedenis en tradisie, staan die bydrae van Reinet Nagtegaal, wie se roman Voorvaders kan vlieg, sÍ Delores eerder staan in ’n lyn wat begin by Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie. (Daar is ook ’n tweedegeslag Nagtegaal, Reinet se dogter Jackie, wat so pas as sewentienjarige ’n jeugroman getitel Daar’s vis in die punch gepubliseer het.)

Ander prosadebutante wat in die afgelope aantal jaar as nuwe stemme op die toneel gekom het, was Christiaan Bakkes (Die lang pad van Stoffel Matthysen 1998, Stoffel in die wildernis 2000), Emile Joubert (Die aptyt van Anna Blow 2000), Zenobia de Kock (Die mense wat so rou is 2000), Johan C Bakkes (Moer toe die vreemde in 2001) en Nanette van Rooyen (Om te vlerk 2001).

Naas bogenoemde skrywers wat nuwe stemme is omdat hulle vir die eerste keer gepubliseer het, is daar ook ’n hele aantal stemme wat nuut klink in die Afrikaanse letterkunde omdat hulle vantevore gewerk het in genres soos die kinder- en jeugliteratuur sowel as die populÍre literatuur wat dikwels uitgesluit word by gesprekke oor die letterkunde. In die afgelope paar jaar het skrywers soos Eleanor Baker (Groot duiwels dood 1998), Engela van Rooyen (Vuur op die horsion 2000), Annelie Botes (Klawervier 1997, Raaiselkind 2001), Erika Murray-Theron (SÍ Maria 2001) en Maretha Maartens (Jacoba Afrikaner 2001) nuwe stemme geword binne die Afrikaanse letterkunde deurdat hulle met bepaalde werke die grens na die literÍre roman oorgesteek het. Aan die lesergerigtheid en die ontwikkelde vakmanskap van hulle tekste kan ’n mens sien dat ons hier te doen het met skrywers wat jarelange ondervinding het.

Miskien sou ’n mens ook kon verwys na bekende skrywers wat skielik in ’n nuwe genre begin skryf sodat dit byna die allure van ’n nuwe stem kry (die digter Henning Pieterse wat in 1998 die sterk kortverhaalbundel Omdat ons alles is publiseer en die kortverhaalskrywer Riana Scheepers wat in 2001 die digbundel Met die taal van karmosyn publiseer).

Indien ek aan die einde van hierdie rubriek tot ’n konklusie moet kom, sou dit wees dat die sterkste nuwe stemme in hierdie groep diť van Christoffel Coetzee, Dan Sleigh en Johann Botha is, maar dat die tydsduur van hulle bydrae deur verskillende faktore beperk mag wees (en in die geval van Coetzee reeds afgesny is). Ek vermoed egter dat die wyse waarop hierdie skrywers in hulle werk die geskiedenis opsoek en ondervra, nog vir geruime tyd vir die Afrikaanse letterkunde belangrik gaan wees. Verder is dit ’n groep skrywers wat Afrikaanse lesers aanspreek met hulle vakmanskap en vaardigheid as vertellers.


2.4  Nuwe stemme in die poŽsie

Die Afrikaanse letterkunde is al dikwels geloof vir die goeie digters wat dit opgelewer het. Ten spyte van die feit dat daar gesÍ word dat daar meer groot Afrikaanse digters is as groot Afrikaanse prosaskrywers, is dit opvallend dat daar veel meer prosaskrywers as digters onder die nuwe stemme is. Om enigsins ’n batige lysie poŽsiedebute uitgegee deur die gevestigde uitgewers bymekaar te maak, moet ’n mens nog verder in die negentigs teruggaan: Melanie Grobler (Tye en swye van Hester H 1991), Ronel de Goede (Skoop in 1993), Carol Clark (Tjienkertjee se oog is swart 1994), Charl-Pierre Naudť (Die nomadiese oomblik 1995), Matthews Phosa (Deur die oog van ’n naald 1996), Heilna du Plooy (Die donker is nooit leeg nie 1997), Trienke Laurie (Skietspoel 1997, Ek sien ’n rooi bul storm 1999, Uitroep 2001), Steve Hofmeyr (Valkuns 1997), Loit Sols (My straat en anne praat-poems 1998), Alan Boesak (tot sterwens toe 2001) en Riana Scheepers (Met die taal van karmosyn 2001). Verder bevat die bundel Nuwe stemme II van 2001 (geredigeer deur Petra Muller en Nelleke de Jager) gedigte van sestien nuwe digters wat veel goeds beloof.

Die Afrikaanse poŽsie is in die dieselfde tyd ook bestendig gevoed deur gevestigde digters soos Eybers, Breytenbach, Krog, StockenstrŲm, TT Cloete, Petra Muller, Lina Spies, George Weideman, MM Walters en Barend J Toerien, sowel as digters van ’n jonger geslag soos Johann de Lange, Joan Hambidge, Johan Lodewyk Marais, Henning Pieterse, Daniel Hugo, Louis Esterhuizen en Marlise Joubert. ’n Mens kan dus nie werklik praat van ’n poŽsiedroogte in Afrikaans nie.

Die oes aan beduidende nuwe stemme in die poŽsie is egter wel skraal en dit is onduidelik presies wie dit is wat daarvoor die blaam moet kry. Verskillende redes word genoem: die populariteit en die groter toeganklikheid van veral die roman wat die poŽsie in die skadu stel; die uitgewers wat nie meer geld wil waag op die uitgee van digbundels waarvan daar nie soveel eksemplare verkoop nie; die nuwe internet- en televisiegenerasie wat nie die geduld het vir die stil gesprek wat die poŽsie met jou voer nie.

Dit is egter veral die uitgewers wat verwyt word. Daar word gevra hoe ’n letterkunde en ’n taal lewendig gehou kan word indien daar geen bereidwilligheid is om finansiŽle verliese te ly op die poŽsie wat weliswaar deur die digter Wilma StockenstrŲm die “ontbeerlikste der kommoditeite” genoem is, maar terselfdertyd so essensieel is nie. Heelwat digters gee dus hulle werk self of by private uitgewers uit — die name wat hier by ’n mens opkom, is diť van Marius Titus, Zandra Bezuidenhout, Cas Vos, Renť Bohnen, Christine Barkhuizen le Roux, Chris Basson, Elsa Lorenz en Wilna Meyer. Sedertdien het Protea Boekhuis begin om naas die werk van reeds-gepubliseerde digters ook sommige van hierdie digters se werk uit te gee. Reaksie op die werk van hierdie skrywers het gewissel van positief tot vernietigend.


3   Ter konklusie: enkele waarnemings, vermoedens en wense

Indien ’n mens nŠ hierdie bestekopname tot ’n konklusie kan kom, is dit dat daar wel ’n substansiŽle lys van nuwe stemme genoem kan word. Tog twyfel ek of daar op die oomblik rede is vir selftevredenheid. Na die euforie van die vroeŽ negentigerjare toe die Afrikaanse letterkunde uit sy nate wou bars van al die uitgelate energie, het daar nou ’n soort besadigdheid en stemmigheid ingetree. Dit is byvoorbeeld opmerklik dat talle van die belowende debute nog nie opgevolg is nie en dat daar in die laaste twee of drie jaar nie ’n radikale vernuwer na vore getree het nie.

Ek wil dus afsluit met ’n aantal waarnemings, vermoedens en wense:

  1. Die Afrikaanse letterkunde bestaan — soos enige ander letterkunde — uit ’n verskeidenheid elemente: skrywers, uitgewers, literÍre agente, vertalers, bemarkers, lesers, resensente, kritici, onderwysers, dosente, navorsers, ensomeer. Die verskillende elemente in die literÍre sisteem funksioneer in samehang met mekaar en tree ook in interaksie met ’n verskeidenheid ander sisteme in die samelewing. Slegs ’n robuuste literÍre sisteem waarin die verskillende elemente mekaar deur kritiese bevraagtekening en gesprek in ewewig hou, sal die energie genereer waardeur die Afrikaanse letterkunde vernuwe kan word. Die huidige gesprek tussen skrywers en uitgewers en die debatte tussen verskillende soorte lesers, hoe heftig ook al, is myns insiens ’n teken dat hierdie sisteem lewend is. Verder moet die Afrikaanse letterkunde nie in afsondering van die ander letterkundes in Suid-Afrika bestaan nie, maar eerder die verwantskappe met daardie letterkundes ondersoek en opsoek. Die Afrikaanse letterkunde sal myns insiens ook aan homself te gronde gaan indien daar geen sinvolle interaksie is met die ander wÍrelde (soos byvoorbeeld die maatskaplike of die politieke) waarin sy lesers leef nie.

  2. Dat die Afrikaanse letterkunde nie verhewe is bo ekonomiese realiteite nie en dat Afrikaaanse boeke soos elke ander kultuurproduk moet veg om ’n markaandeel, is ’n oorbekende feit. Daarom moet uitgewers, skrywers en alle ander agente van die literÍre sisteem dus steeds meer vernuftige planne maak om Afrikaanse boeke te skryf, te publiseer en te bemark. Die boekbedryf moet wÍreldwyd allerlei strategieŽ aanwend om te oorleef. Ek hoor onlangs hoe ’n Soedannese skrywer wat in Engels skryf, vertel dat uitgewers in Brittanje deesdae heel koelbloedig soek na ’n skrywersfiguur wat ’n bepaalde behoefte vervul, en eers dŠŠrna kyk na die manuskripte wat hulle het om te bied. Op die oomblik soek hulle byvoorbeeld na skrywers wat vroulik en fotogenies is en in die ouderdomsgroep 26 tot 35 val in ’n poging om die nuwe Arundhati Roy of Zadie Smith te vind. Hier ter plaatse lyk dit asof die groot romanwedstryde met hulle substansiŽle somme prysgeld wat elke paar jaar gehou word, wel mense aanspoor om te skryf en wonder ’n mens of daar nie ook ’n keer ’n groot poŽsiewedstryd gehou kan word nie. Ten spyte van die effektiwiteit wat sommige van hierdie strategieŽ mag hÍ, is dit tog my gevoel dat die werklik groot literatuur nie gaan kom van nuwe stemme wat hulle sinies rig op die beoordelaars van ’n roman- of poŽsiewedstryd ůf op ’n mark nie, maar uit diť wat skryf uit ’n innerlike gedrewenheid.

  3. Myns insiens moet daar wegbeweeg word van die neiging om eendimensioneel te dink oor die Afrikaanse letterkunde in die sin dat moeilike en ontoeganklike letterkunde voortdurend afgespeel word teen meer toeganklike letterkunde asof daar nie plek vir beide sou wees nie. Alhoewel daar gehoor gegee moet word aan Afrikaanse lesers se versoeke om leesbare en genotvolle leeservarings in Afrikaans, sal dit ’n kwade dag wees indien die nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde afsien van die ideaal van gehalte in die strewe om slegs die mark te bevredig. Ek sien geen rede waarom Afrikaanse skrywers — ook die jonges soos Jaco Fouchť — hulleself nie moet meet aan die beste wat in die wÍreld geproduseer word nie. Indien die Afrikaanse letterkunde nie vir homself daardie ideaal stel nie, kan die klein omvang van die Afrikaanse letterkunde maklike ’n knus holte en wegkruipplek word.

  4. Vernuwing in die Afrikaanse letterkunde kan ook plaasvind indien Afrikaanse skrywers hulleself oopstel vir al die stemme van die Suid-Afrikaanse samelewing en die uitdaging aanvaar om selfs die mees ontwykende en afwykende stemme in hulle werk op te neem. Die nuwe stem hoef dus nie noodwendig diť van ’n skrywer self te wees nie; dit kan ook die voorheen ongehoorde stemme wees wat in ’n teks opgeneem word soos in die geval van Karel Schoeman se Stemme-trilogie, Marlene van Niekerk se Triomf en Antjie Krog se digbundel Kleur kom nooit alleen nie.

  5. Ten slotte: Die Afrikaanse letterkunde kan verskillende funksies vervul en verskillende dinge vir verskillende mense wees. Myns insiens kan dit as klein letterkunde ’n belangrike rol speel as vertolker van die Suid-Afrikaanse samelewing en ondersoeker van die waardes waarop dit berus. Dit kan slegs gebeur indien die Afrikaanse letterkunde waak teen die gevare van insulariteit, selftevredenheid en vervlakking. Mag die nuwe stemme wat hulleself reeds aangekondig het en diť wat nog gaan verskyn, aan hulleself slegs die hoogste standaarde stel en ons verruk en verstom met die krag van hulle verbeelding.


Wat dink jy van hierdie lesing? Stuur jou reaksie aan SÍNet by katvis22@yahoo.com

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.