SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Vigs en die Afrikaanse gemeenskap

Pieter-Dirk Uys

Die Burger-lesingsreeks, KKNK, April 2002

Gaan dit oor ’n siekte, of gaan dit oor mag?

Gaan dit oor skaamte, of gaan dit oor rassisme?

Gaan dit oor geloof, of gaan dit oor politiek?

Ons in Suid-Afrika is nie bangbroeke as dit kom by virusse nie. Ons het ondervinding van vreeswekkende virusse sonder uitkoms. Geen pil, geen inspuiting, geen raad. Die virus van apartheid was met ons vir oor die 40 jaar en duisende is dood en miljoene se lewens is permanent verander.

Veertig jaar sonder verandering?

Daar was wel van ons wat imuun was. Danksy ’n velkleur het die virus nie ons derms uitgeruk nie. En ons het ook nie baie daarvan gepraat nie. Hoe minder gesê hoe beter. Hoe meer gesê hoe gevaarliker. En dié wat in die donker gesoek het vir ’n teëgif, het uiteindelik een gekry: demokrasie!
Dit was die heel tyd daar! Voor ons oë! Hoe kon dit so lank gevat het om dit te vind?

Vrees. Dis waaroor dit gaan. Nie oor ’n politieke besmetting nie. Net gewone ou vrees.

En vir wat?

Die wonderlikste realiteit van die nuwe Suid-Afrika is dat die nuwe geslag nie weet wat apartheid was nie. Nie eers die swart kinders in die township-skole nie. En hoekom moet hulle? Apartheid is al sedert 1990 offisieel terminaal en ná 1994 dood verklaar. Maar om nou te verwys na ’n “virus van apartheid” laat daardie jong mense besef hulle ouers en onderwysers was ook gekonfronteer met iets vol vrees en sonder veranderings. En dat daar uiteindelik ’n soort-van-oplossing was na 27 April 1994.

Byvoorbeeld, nou onlangs voor Kerstyd kry ek ’n familie op Cliftonstrand. Hulle was uit Johannesburg. Oorspronklik uit Soweto, maar sedert 1994 nou uit Houghton. Hulle hou piekniek op die vol strand. Die jong seun is twaa1f. Hy woel en spring en djol op die wit sand. Met sy swart lyfie kan jy hom ver sien!

Hy sê vir sy Pa:

“Hel dis ’n cool strand. Het Pa ook hier so lekker gekuier toe Pa my ouderdom was?”

Sy pa lag.

“Nee, ek was nooit op die strand nie.”

“Hoekom nie?”

“Dit was teen die wet.”

“Hoekom?”

“Wel, die strand was slegs vir blankes.”

“Hoekom?”

“Dit was die wet. Ons wat swart was, is van die strand afgehou.”

“Was daar ’n mynveld?”

“Nee, daar was ’n sign.”

’n Sign! Het “Slegs Blankes” ’n swart meerderheid weggehou? Was daar ’n troep soldate agter elke paal? Nee, daar was net vrees. Veertig jaar van Ja-baas sê, want almal was bang vir die stories. Stories van mag en kragdadigheid. Broeders aan bewind wat geweet het wat hulle in die naam van die Volk doen.

Nou kyk ons terug, soms ook hier op ’n Afrikaanssprekende kultuurfees, en weet dit was alles kak.

Al daardie dekades van Afrikaner-Nasionalisme wat gebruik is teen die einste Afrikaners wat hulle verteenwoordig het. Die liewe dronk mislike ou Broeders het nie geweet wat hulle doen nie. Hulle’t drooggemaak, hierdie Nattes. Die politieke virus teen die Volk gebruik om hulself te verryk en verheerlik. En alles verloor.

Die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners het hulle taal teruggewen en hier pronk dit in vere van vele kleure. Kultuur met ’n Hoofletter KKNK hier in ons demokrasie, met ’n grondwet wat verhewe in die wêreld staan, ’n Bill of Rights, ’n Waarheidskommissie. Ons het nog steeds ons twee ou beskermengele Nelson Mandela en Desmond Tutu. En wat het die res van die wêreld? Daai “son of a Bush” George W en klein Tony Blair? En bo-op alles, het ons die meeste gevalle van HIV/AIDS in die wêreld.

En laat ons net hier en nou die woorde opklaar. “VIGS” beteken niks. “Voel-in-Gat-Siekte”? “MIV” beteken niks. Klink soos ’n Russiese vegvliegtuig. Gee die vyand ’n internasionale naam. HIV is wat lei tot AIDS. Daar is nie tyd vir taalpuurheid nie. Mense is alreeds deurmekaar genoeg.

Dus, terwyl die Eerste Wêreld hulle lammertjies begrawe, staan ons en huil vir ons dooie babas.

Die mynveld het geskuif: van politiek tot seks.

Nou praat ons Bang! Ek kon altyd die politiek hanteer, maar Seks? Apartheid as virus kon ’n mens ten minste sien. Sy Kultuur, sy kleur, sy geur, sy SLEGS BLANKES/WHITES ONLY/NO DOGS OR NATIVES ALLOWED. En daardie draers van die virus was in een van twee plekke: Parlement of SATV.

Vir 20 jaar was hy daagliks op my skerm, die Groot Krokodil met sy waaiende vinger en sy nat Nat tong. PW Botha.

“Ons in Suid-Afrika ... weet demokrasie is te goed om met almal te deel ...”

Ek doen die ou bliksem nou sonder grimering op die verhoog! Hulle’t destyds vir my gewaarsku: hou aan met PW Botha en die klok sal slaan en jy sal soos hy lyk!

Voorwaar voorwaar!

Ons het gelag vir daardie teaterlike spotprent van die leier, maar miskien was dit oor die Bang vir daardie mag, daardie malligheid. En om te lag vir vrees help om daardie vrees minder vreeslik te maak. Dit gaan nie weg nie, maar dis nie 100 meter hoog nie. Miskien net drie meter klein.

Lewensgevaarlik maar vatbaar. En onthou, ons het toe ’n regering gehad sonder enige sin vir humor. Dit was my lekkerte om hulle so mal te maak met ’n land se gelag dat hulle hartaanvalle kry en somaar vrek! En ek het somtyds sukses behaal!

Maar nou is dit nie nodig om bang te wees vir die politiek nie. Politiek in Suid-Afrika maak nie meer dood nie; dit irriteer! Heeltemal normaal in ’n gesonde Derdewêreld-demokrasie met sy geweld, wetteloosheid en korrupsie. As ons nou nie van ons politicii hou nie, kan ons hulle mos uitstem? Maklik met ’n swart meerderheid?

Nou lê die probleem met iets baie meer persoonlik, baie meer gewild, baie meer demokraties.

Seks is Koning.

Almal stel belang in seks. Nie almal gee om vir politiek nie, maar seks gebeur met elke mens. Die enigste rede dat ons hier is, is danksy seks. (Ek bedoel nie juis hier in Oudtshoorn nie, maar daar is stories ...)

Seks is die wiel van die lewe. Soos hy draai, peul ons uit. Die beskawing versterk homself deur seks. Die nuwe generasie volg die ou generasie. Af met die broek en in met die padda!

Maar nou is seks nie net die lekkerste, maklikste, algemeenste stokperdjie nie; dis ook die gevaarlikste. Want in seks woon ’n virus sonder kuur. Sonder genesing lei dit tot ’n totale aanslag op die immuunsisteem en die einde van lewe.

Almal weet dit nou al. Dis groot gegil op posters en vasgevat in lang artikels in koerante. Lesings word versigtig gegee en doktorate word gewen. Die feit bly staan: HIV lei tot AIDS. 99% van die wereld glo dit.

Natuurlik hier in Suid-Afrika is daar daardie 1% wat weifel?

Ek wil nie tyd mors op Thabo se Mbekiveliese Politiek nie. Die man is verkeerd. Die man is belaglik. Die man sal eendag moet verduidelik hoekom hy sy regering weggelei het van sy mense in hulle oomblik van nood. Danksy Thabo Mbeki sal AIDS regkry wat apartheid nie kon doen nie. Alreeds is meer swart mense dood aan AIDS as onder apartheid! Omdat Thabo met sy “HIV does not lead to AIDS”-bla-bla-bla al die blokkies uit die kis laat val het, glo die meeste swart mans daar is g’n probleem nie. Hulle beoefen seks sonder die beskerming van kondome. Hulle gee die virus vir die vroue, wat dan geboorte gee aan kinders met HIV. En soos ons elke dag hoor, kry hulle nie mediese hulp van Thabo en Manto nie en sal binnekort sterf. Dus, voor die jaar 2017 het Suid-Afrika ’n demokraties-gekose wit meerderheidsregering aan bewind! Met Eugene Terreblanche as President? Onmoontlik? Glo my, die Terreblanche van vandag sal nie AIDS kry nie; die HIV-virus het hopelik goeie smaak!

Die regering gaan nie hier help nie. Ons was al daar. Die vorige regerings het ook nie gehelp nie. Maar ons kan nie, soos destyds, in ’n plas piepie sit en bibber van vrees nie.

Ons moet iets doen.

Hulle vertel: in ’n goeie demokrasie sal die mense leiding gee en die regering kan volg.

Ek het dit onlangs by ’n skool gesê. Die een onderwyseres was baie opgewonde.

‘Nei man, dis nou ’n smart ding vir my teeshirt: ‘The people will lead and the government can follow’!”

Haar kollega lag: “Te veel woorde! Liewers: ‘Governments don’t inspire; they must perspire’!”

So, laat ons die politieke narre met hulle eie dinge besig hou — baie nuwe 4X4’s wat wag — en hopelik word die ANC-mol in die NNP, Comrade Marthinus van Schalkwyk, die nuwe minister van kultuur? Van Kortbroek na Onderbroek na Sonderbroek na Peter Brook?

Wat is HIV? En wat is AIDS?

Weer by ’n skool, kom ’n twaalfjarige meisie na my praatjie en gee vir my ’n pak tekeninge.

“Pieter, ek het drawings gemaak terwyl jy gepraat het. Van HIV en AIDS. Kan ek wys?”

“Ja,” sê ek.

“Okay. Nou hier is ’n huis. Dis onse liggaam. Onse lywe is elkeen ’n groot huis, met vensters en deure wat van binne kan sluit. Nè?”

Ek sê: “Ja.”

“Okay. Daardie vensters en deure is ons immune system. Niks kan inkom nie. Maar dis goed, want buite op die straat is ’n swart kat wat wil inkom en piepie op die carpet, maar die deure en die vensters is gesluit, nè?”

Ek sê: “Ja.”

“Okay, maar dan kom ’n sterk wind by die chimney af, koud en skielik — dis nou HIV — en dit blaas onse deure en ons vensters uit. Nou sit ons sonder vensters en deure, en nou kan daardie swart kat lekker in die huis loop en piepie op die carpet. En daardie kat is AIDS!”

Natuurlik. AIDS kan wees: ’n verkoue, of ’n hoes, ’n klein kiem wat nooit toegang sou kry as die deure en vensters toe bly nie. Maar sonder immuniteit kan enigiets die liggaam inval en verteer. Kan dit makliker verduidelik word?

Seks is die masjiengeweer en ’n miljard koeëls skiet daaruit, elk met die stempel HIV daarop. En elkeen met ’n naam daarby. My naam. Jou naam. Sy naam. En omdat seks met almal gebeur, is daar niemand wat buite kan staan en sê: “Dit kan nie met my gebeur nie! Ons kinders doen dit nie!”

Nou kom ons by die rede vir die praatjie: “VIGS en die Afrikaanse Gemeenskap”.

Ek weet nie wat dit eintlik beteken nie.

Al wat ek kan sê, is: “Ja.”

AIDS gebeur ook met Afrikaners.

Afrikaners is plesierig dit kan julle glo, hulle hou van kunsfeeste en dan maak hulle so.

Hulle naai!

Die geslagslose woorde “seksuele omgang” beteken niks in die middel van die Kalahari nie. En as ons praat van die Afrikaanse Gemeenskap, gaan dit nie oor julle hier by die KKNK nie. Ons is die Suid-Afrikaanse Gemeenskap. Maar in Rietfontein in die Kalahari is hulle beslis ’n Afrikaanse Gemeenskap, want hulle verstaan nie so mooi Engels nie. En hulle’s terloops nie wit nie. Dit gee hulle vandag nog meer van ’n egtheid as Afrikaners.

Ek het daar aangekom soos ’n legendariese ruimteding, in ’n Rooi Kruis-vliegtuig. Daar wag 600 plaaslike mense in die saal, oud agter en jonk voor. Op die grond by my is ’n ry klein gogga-gesiggies met pienk linte in die hare en groot bruin oë.

“Hoe oud is jy?” vra ek die meisietjie.

“Theth,” lisp sy.

“Ses? Haai, maar is jy nie te klein nie?”

“Nei, ek wil óék wiet wat aangaan!”

“Maar dit gaan oor seks!”

Sy knik haar koppie en die linte dans.

“Ja, thekth! Ek wil óék wiet, want ek ith bang!”

Bang? Ons was te lank bang.

Kom nou, ’n einde aan bang!

En daar vertel ek vir hulle in die Afrikaans wat hulle verstaan, die wysie van taal-sing wat bekend is, die Jan Spies-ritme. Nie die bek-vol-belangrikheid-geluide wat uit kultuursmoele peul nie.

En toe ek weer eens kom by die woorde “seksuele omgang”, weet ek ons is nou elk op sy eie planeet.

“Weet julle wat seks is?”

Jaaaaaaaaaa, kom van die vloer gekoor.

“Seks tussen man en vrou?”

Jaaaaaaaaa, en die koppies skud verveeld.

“Nee mense, ons praat nie van iets wat in Pretoria gebeur nie. Ons praat van iets wat elke dag hier gebeur in Rietfontein. Ons praat van Naai!”

Konsternyn in die Woestyn! Die kinders val van hulle stoele af, die kleintjies rol rond van plesier, die swart onderwysers word witter, die dominee vra wat dit beteken, en die oudste tannie van 102 klap hande verlig. Die deur is uiteindelik oop!

En ook uiteindelik kom almal tot bedaring. Daar is heelwat onvriendelike reaksies. Die sies-sindroom is nog wakker en woelig.

Ek verduidelik stadig.

“Ek sê nie daardie woord om te skok, of uit disrespek nie. Dis nie ’n beleefde woord nie, maar AIDS is nie ’n beleefde siekte nie. Ek sê daardie woord, want dis daar waar die virus woon. Dis sy disguise. In Naai. Naai Maak Dood!”

Nou weet almal waar ons is. Nou kan ons verder gaan sonder om daardie woord weer te gebruik.

Tussen die skole in Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng, Limpopo, Vrystaat en KwaZulu-Natal was daar ook die korporasies en fabrieke, die ouers en die grootmense wat nie wil hoor hoe hulle in die donker moet handel nie! Dan vertel jy vir hulle wat aan hulle kinders vertel is.

Die kinders is die toekoms. Ons is al amper daarmee heen. “Been, seen, got the teeshirt, fucked and finished.”

So, hoe begin jy om vir ’n kind te sê, “Daar is iets buite wat vir jou gaan doodmaak.”?

Die kind sal jou uitlag, want buite is mos vol doodmaakgoed: motors en taxi’s en demokrate met gewere. Vliegtuie op CNN wat in geboue invlieg. Daagliks geweld by die lekkergoedwinkel.

Ja, maar daardie ding wat doodmaak is ’n liefdesgogga, ’n transparante moordenaar wat kom as jy kom. En dan sal jy gaan!

Ek was in die afgelope jaar by 200 skole en 400 000 jong Suid-Afrikaners met die boodskap: Weet wat in seks aangaan, sodat julle kan besluit. Julle’s nooit te jonk om te besef ons is elkeen in beheer van ons lewens nie. Niemand gaan ons help nie. Help jouself.

Seuns? Gaan toets julle kondome. Oefen hoe om hulle te gebruik. Daar’s nie ’n tweede kans nie. Hulle moet behoorlik pas. Nie almal dieselfde grootte nie; sommige gemaak vir die Hansie Cronjés. Meisies moet ook kondome by hulle hou net ingeval hulle aangeval word. Dan kan vrouens ten minste vra: As jy dit moet doen, gebruik ’n kondoom!

Die boodskap is nie, “Gaan doen seks nou met ’n kondoom” nie. Die boodskap is: “Die veiligste seks is geen seks!”

“Julle het die reg om nee te sê. Dis nie uncool nie. Bly aan die lewe!”

Oor die helfte van die skole was Afrikaanssprekend. Net drie was tradisionele Afrikaanse skole, maw vorige wit bastions van apartheidsonderwys. Daar was Hoërskool Voortrekker. Daar was De Villiers Graaff in Villiersdorp. Daar was Stellenbosch Hoërskool. En toe lui die Broederbond-selfone en die deure klap toe. Paul Roos kanselleer. Universiteit van Potchefstroom smyt my uit.

“U is onwetenskaplik. Dit is nie hier ter sprake nie.”

Nee? Veertig persent van die eerstejaarstudente by Potch is HIV-positief!

Die Afrikaanse Gemeenskap, soos ek dit sien, is deel van die Suid-Afrikaanse Gemeenskap en is net anders deur die taal- en kultuurgenot. Al die ander realiteite is dieselfde. Die verlammende vrees oor AIDS is soos in al die ander gemeenskappe. En almal van ons doen seks op dieselfde manier. Afrikaners doen dit soos Xhosas, en nou dikwels mét Xhosas!

Wat is die probleem? Nie seks nie!

Dis Sies!

“Sies! Pieter-Dirk Uys spoor die kinders aan om met kondome seks te pleeg.”

Asseblief, dis om te sê: Gaan swem liewers in ’n reënjas!

“Ons kinders moet puur bly tot die huwelik!” Hallo! Op watter planeet woon julle?

Hulle knor:

“Wie is jy om na die skole te kom en seks met die kinders te praat? Ek sal seks met my kinders praat as ek reg is!” Ja, Ouer, as jy reg is, is dit te laat. Ons praat nie van volgende week nie; ons praat van nou. Vandag. Want daar’s nog vanaand wat voorlê. En seks sal gebeur.

En hier is ons weer in Oudtshoorn met die KKNK. En weer, en meer, is 69% onder die ouderdom van 25 jaar. En glo my, hulle kom nie net hier vir die kultuur van Breyten en Amanda en David Kramer of Uys Krige of Langenhoven nie. Hulle kom na die KKNK om in die heerlike aand-atmosfeer van die Klein Karoo ’n wyntjie of twee of drie te drink, ’n zol of ses te rook, ’n pil te sluk. En te naai.

(En as iemand hiermee aanstoot vind, vlieg terug na die planeet van waar jy kom.)

Ons vrek van vrees in Suid-Afrika en Afrikaners sal net so vinnig vrek as Engelse, Xhosas, Zoeloes, Tswanas, Vendas, Shangaans.

So: hier is die harde realiteit met “Vigs en die Afrikaanse Gemeenskap” in Oudtshoorn op 5 April 2002: Daar is geen offisiële hulp êrens te sien nie.

Weer eens, soos verlede jaar en die jaar voor dit, het die organiseerders en borge met al hulle biljoene woorde en warmlugpraatjies nie die strate en venues van die Fees met baniere, posters, biljette, en radio-inligting-jingles laat weerklink en weerkaats nie. Ek praat nie van kondome nie; ek praat van woorde soos OPPAS! Daar is weer eens geen offisiële beleid om die jong mense te herinner aan die gevaar nie! (En ook ons ouer ballies, want hells bells, ons naai ook!)

Nie te preek nie! Nie vinger te waai nie! Net te herinner!

“Onthou voordat die lekker lus oorneem! Jy het nie ’n tweede kans nie. Een keer sonder ’n kondom en die virus is deel van jou lewe! En jy word nie ontslae van hom nie! Hy verander jou toekoms. As hy dit nie saamvat nie!”

Alles wat ons vir die jeug wys, is seks: advertensies vir jeans het die man met sy plat maag en die bepramde meisie. Advertensies vir karre het daardie platmaag-, bepramde meisie. Vir grassnyers? Plat maag en pramme! Soap operas op tv is net oor seks. Tot Big Brother was oor seks: “Wanneer pomp hulle?!”

Alles is seks. Is ons verbaas hulle begin eksperimenteer by agt jaar, nege jaar? En as daar nie genoeg oor die tegnieke van oorlewing in seks gepraat word nie, gaan hulle dit nie maak nie.

1. Die veiligste seks is geen seks.
Maar seks gaan gebeur. Dus weet:

2. Jy kan nee sê, as jy weet wat dit is!

Vind uit wat dit is. Vra. Moenie skaam wees om te sê: Ek weet nie wat dit is nie.

Seks is baie slinks en die name kan daagliks verander. Daar is vaginale seks, anale seks, orale seks. Ekskuus? Blow jobs? Ekskuus? Pielsuig! Oooooooo!

Is dit veilig? As jy nie seker is nie, sê nee!

En wat is veilig? Hoe doen jy dit om veilig te bly?

Bang Jan is Dooie Jan! Versigtige Jan word 21 jaar oud!

3. Kondome dra is gekompliseerd. Gaan oefen. Vind die regte grootte. Moenie dink gratis kondome is almal veilig nie. Onthou die staples in dr Zuma se 44 miljoen kondome van vier jaar gelede?

Een gaatjie en dis te laat!

4. Meisies, hou kondome by julle teen verkragting.

5. Seuns, respekteer meisies. Niemand het die reg om seks te eien nie. Dis verkragting.

6. Meisies kan nee sê: al gooi die seuns name uit en spot julle en sê julle’s uncool, sê nee. As hulle nie die woord “nee” verstaan nie, sê: Gaan kak!

7. ’n Man met AIDS word nie genees ná seks met ’n maagd nie!

Om God’s Naam gaan iemand begin hier help?

Comrade Undertaker Mbeki doen niks!

Madiba mag nie praat nie!

Dank Vader vir ’n Desmond Tutu, maar een lig in die donker is nie genoeg nie.

Ons moet dit doen.

Ons moet praat met mekaar, al laat dit gril!

Ons moet die goeie nuus versprei: dat in ons demokrasie elkeen die belangrikste persoon in Suid-Afrika is!

Elke person het die reg op lewe!

Elke person het die reg om te vra: wat van my?

Moenie bang wees nie. Praat!

Ons het nog nie antwoorde nie, maar elke vraag help. Praat!

Ons moet AIDS aanvaar as deel van ons lewens, nie net die dood nie.

Praat!

Dink wit Afrikaners nog steeds hulle is die uitverkore volk? Dat ons kinders nie daardie dinge doen nie? Dat Afrikaanse kinders nie soos alle kinders seksueel aktief is nie?

As ons nie vanaand daaroor gesels nie, is hulle binne drie jaar dood aan AIDS. Praat!

Ek sidder om te dink hoeveel jong en nie so jong Suid-Afrikaaners hier in Oudtshoorn tydens die KKNK-feeste van die afgelope hoeveel jaar siek geword het. Omdat ons nie praat nie.

Gee kultuur, maar gee keuses.

Gee taal, maar gee ’n toekoms.

Gee Lekker, maar gee ook Lewe.

Ons moes hierdie gesprek tien jaar gelede gehad het. Ek hoop vandag is nie te laat nie.


Pieter-Dirk Uys
evitadarling@hotmail.com



Wat dink jy van hierdie lesing? Stuur jou reaksie aan SêNet by katvis22@yahoo.com.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.