SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Wat kan ’n digter bydra tot die gesprek om die beeldende kuns?

Joan Hambidge

Timo Smuts-Gedenklesing
18 September 2003, US


10 September

I

Wat kan ’n digter bydra tot die gesprek rondom die beeldende kuns? ’n Uiters verwikkelde en interessante gesprek waarvan die kontoere voortdurende verander. ’n Mens kan net aan hierdie gesprek deelneem mits jy jou bona fides duidelik verklaar en weet dat jy van buite na binne kyk.

Alle literatuurkenners is per definisie “kunsliefhebbers” wat verskeie kunsgalerye in verskillende wêrelddele besoek. Die beroemde narratoloog, Mieke Bal, het Rembrandt al geanaliseer, en digters soos Johan van Wyk en Johann de Lange het die belangrikste gedeelte van hul oeuvres gebou op groot skilderye en die interpretasie daarvan.

Die “inter-art traffic” is dus deel van ons wedersydse vakgebiede. Judith Mason, een van ons land se voorste skilders, het ’n gedig van Wilma Stockenström betowerend geskets en geïnterpreteer. In die tagtigerjare het ek die voorreg gehad om die Dante-sketse te sien wat sy vir die ontslape digter Casper Schmidt gedoen het.

Wat het van hierdie lywige boeke geword? Hierdie duur kunswerke het aanvanklik soek geraak, maar is wel later opgespoor. My parodiese roman Swart koring is deur Anton Kannemeyer van Bitterkomix-faam verhelder met ’n liefdespaar so reg uit ’n comic strip. Die versugting: “Hyg al wat leef.”

Verlede jaar het ek by die jaarlikse argitektuurkongres te Bloemfontein as skrywer deelgeneem. My lesing was, heel gepas, getiteld “Die digter as argitek”.

Die digter en die argitek is nie ver van mekaar verwyder nie. Trouens, die digter konstrueer ’n stad in haar gedagtes waarskynlik op dieselfde wyse as wat ’n argitek of stadsbeplanner beplan, ontwerp. Die stad New York het op verskillende wyses in my digkuns al na vore gekom. Oor hierdie representasie van die stad as ’n hartlandskap sou ’n mens lank kon dink en teoretiseer.

Maar die digter as beeldhouer? Of skilder? Die digter/kritikus as kunswaardeerder? In ’n postmoderne tydvak sluit verskillende vakgebiede by mekaar aan. Die een vakgebied “leen” by die ander en die programmesisteem dui op hierdie interafhanklikheid. Toe ek Timo Smuts in 1992 ontmoet het, was ek besig om ’n studie oor die postmodernisme te skryf.

In sy huis op Wellington het daar ’n skildery gehang. ’n Pastiche van ’n Brueghel-skildery wat ek beslis wou koop. Die skilder was onwillig. Die skildery was deel van ’n triptiek en waarskynlik het hy nog te na aan die werk gestaan. Dit heet dan ook “Parodie sonder humor — Met toestemming van die Kontiki steakhouse”.

Maar die waarneming — dit wat ek gesien het — kon nooit van my weggeneem word nie. Die oorbekende Brueghel-skildery is ontluister: die twee manne wat dra aan die kos, bevat ’n skermdruk van werklike vleis.


II

The real voyage of discovery consists not in seeing new
landscapes but in having new eyes.
                 - Marcel Proust

Oor die “gaze” is daar die afgelope dekades baie geteoretiseer: om te kyk, om gevange te neem. Feminismes kom dan ook in opstand teen die sogenaamde manlike of patriargale “gaze” wat vroue ver-objektiveer of ver-ding. Jane Gallop se The daughter’s seduction: From feminism to psychoanalysis karteer onder meer hierdie problematiek.

Hoe kan ’n digter dan iets nuuts bydra tot die problematiek van die “gaze” in die skilderkuns? Waarop berus die gesag? Op blitsbesoeke aan groot kunsgalerye of ’n handvol gedigte oor die skilderkuns?

Vanaf my debuut skryf ek oor my familieverbintenis, oor die genealogie-van-verdriet, en onder andere skryf ek oor my Dowe Oupa Frank, my Ouma Hannah, en haar suster, die befaamde skilderes, Maggie Laubser. As jong kind het ons dikwels by hierdie vermaarde tante in die Strand gaan besoek aflê. En een van die grootste besittings in my spartaans gemeubileerde argief van ’n woonstel is ’n skildery van my ouma Hannah deur haar suster, Maggie.

My geliefde ouma, die moeder van my vader — wie se name ek dra — was nes die uwe verslaaf aan reis. Sy was ook dan ’n chaperone vir haar suster tydens ’n Europese verblyf. Ek was hewig ontsteld toe ek ná my Suid-Amerikaanse reis uitgevind het dat my ouma Hannah ook daar was — hieroor skryf ek in Interne verhuising — en my reisgedigte is dikwels ook antwoorde op die familieverbintenis. En my ontsteltenis had te make met die feit dat ek op haar voetspore wou volg — en dit doen ek dan via gedigte.

Vele van my gedigte probeer die verband tussen die skilderkuns en digkuns uitpluis en karteer.

Die volgende gedig, “By ’n portret van my Ouma” is opgeneem in my debuut Hartskrif:

By ’n portret van my Ouma
(Na die skildery van Maggie Laubser)

Pa
weet te vertel
jy het in jou roekelose jongmeisiedae
nes ek geklink geloop gelyk

gistraand het Ma
my weer beveel
om stil te bly en liefs nie uit te vra
na jul “skandalige” reis

ek kan jou net sien:
gevoelig moerig oor die familie
se alewige inmengery
(het hulle jou ook probeer keer?)
dan hoedwaaiend op die SA Castle
jy links, sy regs gekiek

jy het musiek geneem
en tant Maggie het daagliks haar kuns verfyn
(kon jy nie keer toe sy opsluit abstrak wou skilder?)

toe natuurlik: die verhouding
ek sou graag jou weergaaf
wou hoor van die “affair”
want later was jy te oud — en ek te jonk
kon ons mekaar ook nie vind
vanweë die kanker
wat selfs jou tong gekarsinoom
het in rukkende pyn

dan word onthou
immers herkenning van dáárdie einde
O, ek het geweet jy was besig om te sterf
jy’t soggens jou lou tee
in die wasbak
afgesmyt wanneer hulle reeds weg was
en selfs die droë stukke roosterbrood
was broksels dood

toe’s jy weg

en jy het wesenlik (wat my betref)
verdwyn

totdat Pa my Kersfees
goedgunstiglik presenteer met jou portret
(want sien Ma hou nie daarvan
in haar huis — Ag, ons los dit daar)

Jere Johanna
nou sien ek vanaand
- vir die eerste keer —
hoe ek op jou trek

die portret nie verniet in roesbruin
donker kleure (meen ek)
die hare, mond, selfs die ore
skreeu daardie familie-ooreenkoms uit!

net: met tyd en bril het ek geleer
om wrewel beter te maskeer.

Dit is ’n gedig oor (self-) identiteit. Die digter teken ’n portret in woorde van die ouma met wie sy ’n reisbelangstelling deel. Sy is ook implisiet bewus van die ouma se ongelukkige huwelik, die feit dat sy onvervuld is in haar huwelik en waarskynlik die reis saam met die suster as ’n proses van ontvlugting uit ’n barre lewensituasie aangryp. Die begrip “familie-ooreenkoms” dui ook op die implikasie dat die spreker in die gedig ook op ’n gender-aspek let. In ’n gedig “My Oupa Frank” — gepubliseer op LitNet — en uit die ongepubliseerde manuskrip En skielik is dit aand, word die oupa soos volg vermitologiseer:

My Oupa Frank


In die huis van my ouers
staan ’n skildery van my Oupa
van ’n ou plaashuis,
daardie huis wat hy moes afteken
sy pa se naam ontwille.
Daarna moes Oupa Frank
met sy vrou en seuns
’n nuwe heenkome soek
en iewers glo in Kuilsrivier
het my pa-hulle ’n holte vir hul voet gevind.
Oor en oor het my Oupa
daardie plaashuis bly skets
en skilder. Daardie huis wat hom toekom:
’n huis met ’n solder waarop sy seuns kon speel,
blomme in ’n blombak voor die gewelhuis
en strak bome wat die herfslig opvang.
Al moes my Oupa sy erfgeld wegteken,
behou hy ten slotte sy reg om te teken.

Regdeur my jeug het my vader met wrewel en verbittering gepraat oor hoe sy pa verneder is deur sy oupa en hoe hulle hul geboortereg moes afteken, die familienaam ontwille. Uit die verskillende mites kan ’n mens aflei dat die plaas verkoop moes word om die oergrootvader se naam te red en dat my pa as kind geraak is deur hierdie ontheemding. Dat hulle dus van die plaas moes weggaan en die geboortereg moes afteken.

Maar, die oupa was ’n skilder. En ofskoon hy geweldig swaargekry het onder hierdie daad van uitsetting, het hy sy hele lewe lank geskilder. Weliswaar was hy nie ’n groot skilder nie, maar behendig. En dikwels by Maggie Laubser-uitstallings word sy werk ook uitgestal. En in my ouers se huis hang hierdie klein portret: van daardie mitiese plaashuis. Daardie plaashuis wat vir hom en my vader simbool is van die lewe wat hulle kon gehad het. My oupa Frank het dit probeer regmaak, herstel deur te skilder. Soos wat sy kleinkind ’n gedig daaroor skryf om die pyn wat die vader deur al die jare gedra het, te probeer begryp en regmaak.

Stilportet

Die uurwerk sidder stil. Die groen brommer
zoem oor die reeds verrotte vleis, wat nooit gekou
sal word, reeds groenspaan wys, verwelk en nooit verby
hierdie verdomde uur sal kom.

(Uit: Hartskrif)

Die troebel familieverwantskap. Hieroor skryf ek al dekades lank en nou onlangs het ook ’n lesing gee oor die boek wat my lewe verander het. Dis altyd goed om aan hierdie soort gesprekke deel te neem, want dit dwing jou as skrywer/leser om so ’n keerpunt te soek. Vir die volledigheid herhaal ek die kort lesing.

Daar is so ’n boek. Dis 1972. Ek is in Standerd 8 aan die Standertonse Hoërskool. Dis pouse. Ek loop alleen rond, want ek is die “new kid on the block”. My ouers het getrek van Pretoria na hierdie klein agrariese gemeenskappie met sy snobisme: ryk, ryk boere wie se kinders spog dat hulle mielies ’n hele silo kan volmaak. Kinders wat van Graad Een af al skouers skuur en hier het ek die hele rangorde kom versteur.

My ouers is nie welgesteld nie, maar beslis ver van arm. My pa is in versekering. Ons is dus middelklasmense. “Jou pa verkoop mos derdeparty,” merk een neerhalend op. Ontsteld noem ek dit aan my moeder, wat verduidelik hoe die klassesisteem werk en dat my pa in die administrasie van Ou Mutual is. “My kind,” troos sy, “moenie jou aan hulle steur nie.”

Ek praat nie hulle taal nie. Ek is ’n stadskind en hulle is plattelanders wat ’n kortskrif met mekaar deel. Mekaar ontmoet naweke. En instinkmatig weet ek ek is “anders”. Ook wat my gender-identiteit betref.

Boonop het ek die rangorde versteur, want skielik staan ek eerste in die klas en van die slimmelinge hou nie daarvan dat ek hulle uitstof en honderd persent kry vir Wetenskap en Biologie nie. Tale interesseer my vreemd genoeg nie. Maar ek ontdek in die biblioteek die vreugde van lees. En getrou aan so ’n ryk gemeenskap word ou boeke uitgegooi. Dit was daardie dae toe wit Afrikaners snoep was en boeke eerder sou weggooi as om dit vir agterstelde gemeenskappe te gee.

Die onderwyseres sien dat ek pouse gereeld Nuwe Verse van N P van Wyk Louw lees. Toe sy dit uitgooi, vra ek of ek dit mag kry. “Natuurlik. Neem dit.” Sy gee ook Elisabeth Eybers se Balans vir my persent.

Pouses lees ek aan Louw se kragtige bundel.

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek óp in die donker skiet,
en luister, al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie ver weg in die riet
uit donker in die donker water plof.

Hierdie gedig leer ek van buite ken. Die hele bundel praat met my, hoewel ek as jong kind nie volle betekenis daarvan kan begryp nie. Maar agter die woorde lees ek aan. Veral aan dit wat so goed verwoord word. Die melancholie. Vir my word hierdie openingsgedig ’n soeke na my dorpsdam wat ek nooit gehad het as vreemde, “displaced” kind. En jare later eggo hierdie gedig terug by die skryf van my eerste bundel Hartskrif wanneer ek ook begin met ’n gedig met ’n inkantiewe aanroep: “Nog eenmaal wil ek soos ’n kind”.

Hierdie bundel het bykans volledig ontstaan aan die Ooskus van Amerika waar ek op ’n winterreis deur die VSA en ’n kort studiebesoek begin gedigte skryf het in die koudste winter in menseheugenis. En daar in die sneeulandskap keer ek terug na Louw. Na my eerste kennismaking met die poësie as ’n jong volwassene.

Nooit weer sal ek so suiwer kan lees of ervaar nie. So presies aanklank vind by ’n digter as by die digter van hierdie bundel nie. Daarom het die gedig vir my ’n primordiale betekenis. Daardie klippie wat die digter skiet, het in my donker onbewuste begin rimpel en in my digkuns tot uiting gekom.

Natuurlik bly hy die model. Die meester. Die een na wie se gedigte ek altyd bly terugkeer. In daardie moeilike tyd van my lewe toe ek op alle vlakke ’n buitekind was en boonop in my matriekjaar ’n gekuiste uitgawe van sy manjifieke Raka moes lees.

Wie het nou weer opgemerk dat ’n moeilike jeug goed is vir ’n digter?

Die digkuns is ’n soektog na ’n stem. Dit het te make ook met die soektog na jou identiteit in die familie-romanse. Jou letterlike familie en jou digterlike familie. Kinders moet gesien, nie gehoor word nie, lui die spreekwoord. Vir my is dit dan eerder: Kinders moet gehoor, nie gevoel word nie. Terugskouend is my digkuns na bykans twee dekades ’n obsessiewe verkenning van my plek binne die Afrikaanse digkuns en ’n proses van vredemaak met ’n uiters komplekse familie-opset.

Maar die digter — soos die skilder — weet gelukkig nie watter demone hom/haar aandryf nie. Dis net soms — terugskouend — dat jy ’n oomblik van helderte beleef. In my jongste manuskrip, En skielik is dit aand, keer ek opnuut terug na die ouerhuis en so reageer my Jungiaanse sielkundige op hierdie terugkeer na aanleiding van ’n vers:

Snaaks dat met die tweede huisverlating
boontjie
altyd ’n loontjie het ... dis asof ’n mens jouself by die erf se hek
uitsleep
eerder as net die huis se deur toeklap. Tog, as mens om die
grensdraad stap
is dit of jy dwarsdeur kyk, van buite binne toe, maar ook rondom,
deur die
vensters en veral tussen die blare deur van alles wat reeds gegroei
het ... dit is baie meer as omkyk.


Poësie skryf Lorca

Poësie, skryf Lorca
spruit uit bitterheid
van die siel:
daardie dwase opvanggebied
nee, eerder fabriek
se rare vermoë
om jare na die tyd
wanneer boontjie reeds ’n loontjie
kry, op te spruit. Of wat skryf ek alles?
In Granada stap ek
twee dekades weg van my ouerhuis.
Steeds hoor ek my vader se aandgebed,
sien my moeder in die kombuis bak
en my susters by die opwasbak lag.
Wou dit anders hê, so graag anders:
’n gesin heelhuids soos ertjies
in ’n peul. ’n Rooi, volmaakte granaat.
’n Vrug dragtig op die regte tyd.
Suiwer saad wat oor alles stort;
geen brak- of kleitrapgrond
Nou besig met Lorca
se onsigbare heuningkoek
waaraan ’n hommelby woedend
wroet. Vergifnis, vergeet?
Die siel is ’n paleis vol geheime.


III

Hierdie lang “aplogia pro domo” bring my dan by die verhouding tussen die skilderkuns en digkuns. Of, die digkuns en skilderkuns. Talle gedigte in my oeuvre ondersoek hierdie verband en probeer die werk van beroemde skilders dekonstrueer: Picasso, Monet, Andy Warhol, Jackson Pollock, ea. In terugskoue besef ek dat hierdie belangstelling gebou is op die obsessie met my ouma en haar skilder-suster. En die rol wat skilder ook in my grootvader se lewe gespeel het. Dat om te skilder (of om te skryf) jou red uit jou pynlike omstandighede. Ook reis neem jou weg uit dit wat gebroke of onseker is.

Psigoanalities gelees is my gedigte-oor-skilderye gelaai met my komplekse familieromanse van ontheemding, die soeke na identiteit, pyn, versaking en genderkeuses.

Die gedig (of skildery) neem dus die plek in van iets anders. Dit staan vir iets anders.

Die vers “Rembrandt” uit Bitterlemoene tree in gesprek met Louw se vers oor Rembrandt, ’n gedig wat ek as jong kind van buite leer ken. My ontheemde jeug. My onsekere jeug. Rembrandt praat hier met Constantijn Huygens oor die rol wat die self in kuns speel. (Ek onthou dat ek hierdie vers letterlik in een sitting geskryf het.)

Rembrandt

In ’n fiktiewe brief aan Constantijn Huygens

“die meeste ende die natureelste beweechgelickheyt”

Die bemoeienis
met die self
het selde
groot kunswerke
tot gevolg;

wens mens
kon die “ek”
afsweer (’n slang
vervel
die stroping
so verlossend)


en telkens opnuut
begin …
mense maak my bang om hul
onvoorspelbaarheid — soos ’n skildery
wat ánders verloop
as wat ons bedoel het
en tog en tog
moet ons (ja, ook skrywers soos jy)
inkyk
tot by die spikkel van die self.

So tussen my en jou:
ek vind die maak van portrette
vermoeiend — as oefening
vir die maskers wat mense dra
bitter nodig.

Ook hier
neem my kwas sy loop
skilder ek iets mooier
as die oorspronklike
- die Amsterdamse vroue is só ydel!

Wys jou net
jy was reg: tegniek is alles …

Het selfs vandag
in ’n oomblik van dronkenskap
my leerjonge se uitdaging aanvaar
om myself as die Verlore Seun
voor te stel.


Die arme sot!
Wat sal hý begryp
van selfbespotting?

Van die spoor van twyfel
wat altoos
bly vreet
aan die hart
van die ekstroverte, flambojante
Rembrandt Harmenszoon van Rijn?

Digters kan metonimies of metafories skryf; maw, die gedig kan verhalend wees of dit kan kompak wees en staan vir iets anders. Waarskynlik is ’n digter se lesing altyd psigoanalities relevant, maar dit kan ook vertroebelend inwerk op die leser se interpretasie(s).

Dieselfde geld skilders se menings oor hul eie werk. Dit kan ’n sleutel wees, maar ’n gebuigde of gebreekte sleutel waarmee die deur nie oopgesluit kan word nie. Die gedig, soos die skildery, loop dikwels ’n pad waaroor die maker/skepper geen beheer het nie.

Kort voor sy dood stuur Timo Smuts vir my ’n artikel, “Teorie is ’n gil” vir voorlegging aan Tydskrif vir Letterkunde, as redaksielid. Ek sien onmiddellik raak hoe hy ’n verhaal wil skryf, maar eintlik teoretiseer oor die effek van Munch se “Die skreeu” op sy psige. En hoe wys hy op die spanning tussen mimesis (nabootsing) en alethea (onthulling) in tekste. Hoe bring ’n mens die geskrewe teks in ooreenstemming met die visuele beeld? Vir ons doeleindes: hoe bring ek my gedigte uit by die skilderye/teorie van hierdie skrywer?

Nodeloos om te bely dat Smuts ook verwys na die verhouding tussen Rembrandt en Huygens — my gedig jare geskryf voor hierdie artikel van hom — maar dit is bykans asof hy sou weet van hierdie huldigingslesing. Is dit toevallig dat hy ook ’n onderskeid probeer tref tussen “canniness” en “uncanniness”? Hoe sy essay as ‘t ware onbewustelik sleutels verskaf to ons begrip van dit wat in wese buite woorde lê?

In Huygens se lesing van “Judas” het ons die Bybelteks wat die werklikheid sigbaar maak, Rembrandt maak die teks sigbaar en Huygens, op sy beurt, maak die werklikheid van die teks sigbaar.

Deur middel van die sintese tussen die stilte van visuele kunswerk en die dramatiese klanke van woorde word die betekenis van die kunswerk ontbloot, skryf hy klinkend.

So ook dan met my lesing wat die stilte, die afwesigheid van die subjek, Timo Smuts, onder woorde probeer bring en nuwe betekenis te gee aan sy bydrae tot die teorie.

Dit sal altyd moontlik wees om te onderskei tussen ’n bloedstollende en ’n eentonige gil, sluit hy af.

Die digter is soos ’n skilder. Die skilder soos die digter. Die digterlike teoretikus sluit aan by die skilderteoretikus. Om die stilte te verplaas. Dit is waarom dit ten slotte gaan.

Augustus/September 2003

Bibliografie

Gallop, Jane: The daughter’s seduction. Feminism to Psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

Hambidge, Joan: Bitterlemoene. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986. En skielik is dit aand. Ongepubliseerde manuskrip. Hartskrif. Human & Rousseau, Kaapstad. 1985. Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995. Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad. 1996. “Die boek wat my lewe verander het.” Woordfees-lesing. Augustus. 2003.

Louw, NP van Wyk: Nuwe verse. Nasionale Pers Boekhandel, Kaapstad. 1954.

Smuts, Timo: “teorie is ’n gil” in Tydskrif vir Letterkunde. XXXVI:3 Augustus 1998.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.