SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

To sign or not to sign ... dis die vraag

Chris Heymans

Die groot politieke wroeging vir blanke Suid-Afrikaners hierdie jaarverandering is: moet ek teken of nie? Die petisie van Carl Niehaus en kie het omtrent ’n gedoente veroorsaak.

Vir Carl en sy genote is dit ’n voorvereiste vir versoening dat ons almal bieg dat ons skuldig is, dat ons by apartheid gebaat het en dat ons ’n nuwe nierassige rigting wil inslaan. Daarenteen wil Breyten naar word, Douglas Gibson reken hy het niks om voor om verskoning te vra nie, en Tony Leon voel daar is veel beter dinge om te doen as om nou met belydenisse te staan lol.

Kom ons kyk ’n bietjie sistematies na die kwessies wat hier op die spel is.

Die eerste punt gaan oor styl. Belydenispolitiek is dikwels irriterend. Die religieuse en pedantiese toon, die sielewroeging en dies meer van belydenisse laat dikwels die formuleerders beter voel, maar voel maklik maar alte ongemaklik vir andere. Toe ek die eerste keer van die petisie gehoor het, was ek erg bekommerd hieroor. Ek het vermoed dat ek heel moontlik saam met Breyten siekerig sou kon voel oor die belydende styl van die dokument.

Die petisie spring egter grootliks hierdie probleem vry. Die teks daarvan is sober, en dit is merkwaardig vry van die skuldsindroom wat so maklik so ’n stelling kon gekenmerk het. As sodanig maak dit ’n belangrike stelling oor die verkeerdheid van rassisme, oor die kostes wat dit vir Suid-Afrika ingehou het, en oor die voornemens van die ondertekenaars om dinge reg te stel. Dit lyk na ’n gepaste standpunt vir wit Suid Afrikaners om te stel, sonder vreeslike wroegingsretoriek. Die dokument is eerlik, vasbeslote en besinnend.

Tweedens, kan jy vra wat dit alles bydra tot verbetering. Help dit veel dat ons ons skuld bely, en dan maar onverpoosd voortbeur op die ou patroon?

Tony Leon skryf nou die dag heel interessant hieroor in die Sunday Times. Hy reken dat daar beter dinge is om te doen as om nou groot belydenisse uit te bring. Vir hom is die uitdaging eerder om spesifieke gevalle van rassisme te identifiseer, spesifieke stappe daarteen te neem en die aandadiges te straf.

Hy is natuurlik reg dat ’n blote petisie nie die probleem gaan oplos nie. Rassisme is ’n diepe sweer, en dit verg veel meer as sleg voel en belydenis doen om daarvan ontslae te raak.

Maar dit is geen rede om nie die petisie te onderteken nie. Trouens, dit lyk eerder na ’n heel gepaste eerste stap in ’n strategie wat op versoening afgestem is. Dit maak ’n simboliese bydrae, en niemand kan die belangrikheid daarvan ontken nie. Dink nou maar net aan die voormalige Wes-Duitse kanselier Willie Brandt se ruiker by Auschwitz en wat dit gedoen het om Jode en Pole se aanvaarding van die moderne Duitsland te verhoog. Hier by onsself het die eertydse versoeningsoptredes van menere Mandela en De Klerk ook ’n groot bydrae gemaak om mense hul tradisionele klowinge te help oorkom.

Maar daar is opnuut wantroue, en daar het oor die afgelope paar jare weer ’n ongemaklike rassetoon in ons politiek begin kom. Dit is natuurlik nie slegs die blankes wat hieraan skuldig is of hieraan iets moet doen nie. Maar dit doen geen skade om te erken dat rassisme onder apartheid blankes bevoordeel het nie, dat dit rou wonde in ons samelewing gebrand het nie, en dat daar ’n behoefte is om met hernieude entoesiasme iets daaraan te doen nie. So ’n bekentenis bevestig goeie trou, en maak ’n morele verbintenis waarop blankes saam met andere kan bou terwyl ons almal saam die nuwe samelewing laat ontvou.

Bes moontlik is dit maar ’n eerste stap, en in eie reg nie genoeg nie. Dit beteken egter nie dat dit nutteloos is nie. As deel van ’n groter poging om standpunt in te neem oor die verkeerdhede van die verlede en die noodsaak vir vernuwing, mag so ’n petisie groot waarde inhou.

Die derde kwessie is of so ’n “slegs blankes”-petisie nie intrinsiek rassisties is nie. Kritici vra: is ons dan nie veronderstel om weg te doen met rasse-ekslusiwiteit nie? Dit is nogal ’n delikate vraag hierdie, maar aan die einde van die dag moet ’n mens darem na die inhoud self kyk. Daardie inhoud is oorweldigend bekommerd oor voortgesette rassisme, en eerlik oor die wyses waarop blankes in die verlede gebaat het. Dit rus op ’n erkenning dat blankes ’n bepaalde ervaring van daardie rassisme gehad het, en dat ’n petisie soos hierdie ’n belangrike stap van hul kant af is om dinge reg te stel. Hopelik sal die dag kom dat ons nie sodanige inisiatiewe nodig het nie, en wanneer die rassekarakter van die inisiatief nie nodig sal wees nie. Maar waar ons nou is, lyk dit heeltemal gepas.

Daar is ook geen aanname dat slegs blankes rassisties is nie. Die bewoording maak dit bloot duidelik dat blankes meestal gebaat het by die rassisme van die verlede en dat daar vandag nog gevolge daarvan te sien is. Uiteraard moet ons wyer kyk as ons die probleem ten volle wil aanspreek, en ons kan onsself nie tot ’n beskouing beperk wat blankes alleen as die rassiste brandmerk nie. Maar moet ons dan nou daarom geensins so ’n stelling inneem nie? Die feit dat dit so ooglopend teen rassisme gekant is, behoort genoeg gemoedsrus te gee dat dit nie in eksklusiewe denke geanker is nie. Diegene wat wil beweer dat hierdie inisiatief deur blankes nie met nierassigheid strook nie, is opsetlik.

Vierdens, sommige kritici beweer dat hulle niks het om vir om verskoning te vra nie. Daar is basies twee motiverings vir so ’n sienswyse. Die eerste is om te ontken dat ’n mens hoegenaamd baat gevind het by apartheid. Vir enige blanke om dit te beweer, is darem ’n bietjie dik vir ’n daalder. Selfs ingeperkte “strugglers” met wit velle het dikwels relatief minder gely as hul swart medestryders.

En in die alledaagse lewe het niemand die bevoorregting heeltemal ontduik nie. Enigiemand wat blanke onderwys gehad het, het dit beter daaraan toe gehad as swart Suid-Afrikaners wat die tweederangse standaarde en geriewe van “Bantu education” moes ontbeer. Kan diegene wat nou beweer dat hulle nie voordeel getrek het nie, onthou hoe hulle veiliger en beter strande kon gebruik, en in korter blanke toue by die poskantoor gestaan het? Selfs toe John Vorster verlig begin raak het, kon swart mense net in sogenaamde “internasionale hotelle” tuisgaan. Verbeel jou hoe moeilik dit moes wees om die lang pad deur die Karoo te vat, en dan by ’n hotel in ’n klein dorpie te wil oornag, net om uit te vind dat dit nie “internasionaal” was nie.

Die tweede rede waarom sommiges reken dat hulle nie om verskoning hoef te vra nie, is dat hulle wel in opposisie teen apartheid was. Wanneer ’n Helen Suzman daarop aanspraak maak, kan jy haar nou nie eintlik afskiet nie. Maar die petisie gaan nie daaroor om te beweer dat ons almal nie probeer het nie. Dit gaan oor sosiale struktuur, en oor die feit dat daar so min gedoen is. Dit is nie ’n persoonlike dokument nie, dit gaan oor wyer strukturele patrone, waaraan erkenning gegee word. Daar is geen rede waarom iemand wat wel weerstand teen apartheid gebied het, vandag moet voel dat die petisie hul posisie misken of verkleineer nie.

Vyfdens is daar die filosofiese punt oor groepskuld. Kan ’n mens groepsaandadigheid pleit? Maak sodanige kosmiese belydenisse sin? Dit is rondom hierdie kwessie dat soveel van die verwarring gaan. Maar miskien is die argumente oor die feit dat elke blanke wel bevoordeel is ook van toepassing hier. Die konflikte rondom ras is van ’n groepsaard; dus is ’n groepsaanslag om die probleem te erken en ’n verbintenis tot verandering te maak, dalk nie heeltemal onvanpas nie.

Dit is ook geen geheim dat die vars spanninge oor rasseverskille duidelike pogings van die vernaamste rolspelers verg nie. Blankes loop die gevaar om hulself te isoleer terwyl hulle angsvol oor die nuwe Suid-Afrika met een siniese aanslag na die ander kom. Om dus as ’n groep duidelik te maak dat hulle wel glo in die waardes van hierdie nuwe samelewing, dat hulle hul lesse oor die foute van die verlede geleer het en dat hulle vasbeslote is om ’n beter toekoms saam met hul landsgenote te bou, lyk dalk glad nie so onvanpas nie.

Laastens is daar ook ’n strategiese oorweging. Die argument is dat so ’n petisie nie veel waarde het nie omdat dit nie deur invloedryke blanke leiers, wat veral meer konserwatiewe strominge verteenwoordig, onderteken is nie. Uiteraard is dit jammer dat die De Klerks, Viljoens, Leons en Smutse nie kans sien om te teken nie. En hulle kan straks met groter gesag namens blankes praat as Carl Niehaus. Maar ons kan tog nie ’n goeie idee verwerp omdat sommiges nie daarmee saamstem nie. Dit is belangrik om na die meriete van hierdie hele ding te kyk, en nie na wie nie geteken het nie.

Hopelik sal ons almal, ook die kritici, oopkop genoeg wees om aan die opsies te herkou. Dalk kan die hele inisiatief nog groter momentum ontwikkel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.