SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die suigroman

— Joan Hambidge
’n Kalahari-resensie

I

Mosterd na die maal, kan ’n mens waarskynlik aanvoer, om nou oor die fenomeen van die eens grootse genre te skryf. Maar die verskyning van die Homeros-publikasies by Tafelberg maak hierdie terugblik op die hygroman noodsaaklik. Elize Parker se Vlam van verrukking, Louisa Erasmus se Duet van hartstog en Jacqueline Brink se Spel van betowering was die “eerstes” in die Isis-, Venus- en Cupido-reeks uitgegee deur Perskor.

Met groot fanfare is dit in 1994 bekend gestel by Welkom se Leeskring-seminaar, en Louisa Erasmus speel toe ook sommer model op die eerste twee se voorblaaie. By die bemarkingsgeleentheid was dit postmodernisme-in-aksie: Louisa Erasmus staan daar met die roman waarop sy pryk in haar hande nes die meisie op die Weetbix-boksie wat nog ’n meisie vashou ...

Daarna was daar ’n stroom hygromans. Soos Amulet van Elize Parker wat net te hard probeer het om ’n Afrikaanse Jackie Collins te wees. En Jeanette Ferreira — dapper genoeg om onder haar eie naam te skryf — publiseer Bly by my vannag en haar historiese hygromans soos Babette en Catharina.

So groot was die hype dat die uwe sommer self ingespring het en ’n postmodernistiese parodie geskryf het wat heet Swart koring, uitgegee deur Human & Rousseau (1996). Die roman, ’n “antwoord” op Tryna du Toit se Groen koring, is wel eerste vir Perskor aangebied, maar daar is subtiel gesê dat ’n parodie nie goed sou afgaan by dieselfde uitgewershuis nie. ’n Mens kan immers nie jou leseresse uitlag nie!

So gewild was hierdie pomo-send-up dat ’n tweede, Die swart sluier, in 1998 by Tafelberg verskyn het. Sonja Verbeek was dan ook ’n lesbiese prinses wat met haar geliefde Tanja Verwaveren immer op soek is na nuwe uitdagings om die Afrikaanse letterkunde teen verloedering en ondergang te beskerm. Immer met ’n spoggerige tulband (in die vorm van onder meer die taalmonument) om die taal en kultuur van ondergang te red.

II

In ’n derdejaarkursus aan die UK oor genderkonvensies in die letterkunde word hierdie hygromans bestudeer. Daar bestaan ook voorskrifte vir die skryf van die hygromans wat opgestel is deur die oorspronklike lanseerder: Cecilia Britz van die voormalige Perskor (nou deel van MacMillan Press). Die idee was om liefdesverhale-met-seks (erotiek) te publiseer.

Tog het dit gou geblyk dat net die eerste paar romans die aandag getrek het. Bitter gou het die leseresse (en dit is bepaald vroulike lesers) glo nie meer belang gestel in die (semi) gewaagde romans nie en is daar terugverlang na die ou, konvensionele liefdesverhaal. ’n Liefdesverhaal wat dan ook vir die outeur onveilig kan wees, gedagtig aan die feit dat Dricky Beukes aan lewerkanker gesterwe het. (In ’n huldeblyk het Roelf van Rensburg verwys na haar vriendelike geaardheid en dat sy altyd ’n botteltjie bier langs hulle geplaas het wanneer hulle haar besoek het.)

Hierna is daar ’n reeks met minder stuitige voorblaaie gepubliseer deur Perskor. Mooi vrouens met hoede eerder as ’n vamp met ’n borsmaat. Daar is selfs gesê dat leseresse teruggekeer het na die JP van der Walt-boeke.

As ’n mens egter kyk na die voorskrifte (sowel binnelands as buitelands) vir die skryf van hierdie liefdesverhale, verraai dit op sigself al ’n bepaalde gender-aanname en -voorskrif.

Uit Perskor se voorskrifte vir die sogenaamde hygroman is dit duidelik dat gender-stereotipes steeds bestaan. Die redes wat verskaf word waarom liefdesverhale gelees word, is ontvlugting, ontspanning en ’n behoefte aan persoonlike ruimte. (Hoekom? wonder ’n mens. Word die vrou mishandel? Is daar armoede? Lees sy te veel van geweld in die huidige Suid-Afrika?) Die vier belangrike elemente van ’n liefdesverhaal is:

  • ’n gelukkige einde;
  • ’n stadig ontwikkelende maar volgehoue liefdesverhouding tussen held enheldin;
  • ’n bietjie detail oor die hoofkarakters nadat hulle by mekaar uitgekom het; en
  • liefdestonele met ’n sekere mate van eksplisiete seksuele beskrywing.
Hieruit kan daar reeds ’n gender-aanwysing gelees word van konvensionele patrone waar die androsentriese posisie as die maatstaf geneem word. Ook word daar duidelik vir die voornemende skrywer gesê dat die volgende elemente nie mag voorkom nie:
  • verkragting;
  • ’n ongelukkige einde;
  • fisieke mishandeling;
  • promiskuïteit;
  • ’n wrede held; en
  • ’n patetiese held.
Veral onder die afdeling “Karakterisering” word daar spesifieke aanwysings gegee wat ’n gender-stereotiep bevestig, en die vraag ontstaan vanselfsprekend: perpetueer liefdesverhale hierdie stereotipes of is dit werklik die rolle wat vroue wil vertolk, naamlik om ’n slagoffer te wees?

Die volgende eise word aan die heldin gestel: “Sy is intelligent, het ’n sin vir humor en is onafhanklik. Haar vermoëns, talente en beroep weerspieël dié eienskappe. Die heldin is in staat om die held teen te gaan, hom ‘sag’ te maak en hom te wys hoe om iemand lief te hê. Sy wil begeer en liefgehê word deur ’n sterk, manlike held. Hoewel die heldin haar nie vereenselwig met tipiese ‘vroulike’ take nie, is sy buitengewoon beeldskoon. Sy is gewoonlik onbewus van haar skoonheid en straal ’n kinderlike — maar nie noodwendig naïewe — onskuld uit.

Sy is ‘maagdelik’, maar tog ervaar die leser (en die held) haar as ’n toonbeeld van ’n vrou op die punt om haar seksualiteit te ontdek. Sy kan selfs geskei wees — solank sy nie seksueel ‘ervare’ is nie. Al is sy in baie opsigte ’n man se gelyke, is sy boonop goedhartig, vriendelik en het sy deernis vir ander” (Britz, p. 2).

’n Verdere gender-stereotiep word bevestig met die beskrywing van die held: “Die held moet gekenmerk word deur beskrywings van sy ‘aanskoulike manlikheid’. Sy hele wese (liggaam, gesig en gedrag) straal dit uit. Eienskappe wat die held beskryf, soos ferm, hoekig en donker, word gewoonlik getemper deur ’n eienskap wat sagtheid of verborge weerlose manlikheid weerspieël.

Hy is intelligent, sterk, teer en het ’n sin vir humor. Hy moet nie noodwendig ’n interessante lewensmaat wees nie, maar iemand wat die heldin sal liefhê, vir haar sal sorg en wat boweal ’n intuïtiewe aanvoeling vir haar behoeftes sal hê. Sy beroep beklee hom met ’n voldoende mate van mag.

Die held se aanvanklike onverskilligheid word gewoonlik verklaar deur ’n vorige mislukte verhouding, of ’n ander pynlike ervaring. Sy seksuele ervaring en (soms) promiskuïteit word verskoon deur die feit dat hy ná ’n mislukte verhouding nie weer lief was vir iemand nie. Dit word nooit toegedig aan ’n gebrek aan respek vir vroue nie, maar aan sy viriliteit en vrees vir emosionele betrokkenheid. Wanneer die heldin sy voete onder hom uitslaan, is hy natuurlik van sy promiskuïteit genees.

Hoewel hy nie fisiek gewelddadig raak nie, is emosionele afpersing en ’n kortaf onverskilligheid teenoor die heldin in orde, maar nie ’n voorvereiste nie. Die held moet sy diepste gevoelens en liefde vir die heldin erken en die oomblik van emosionele bonding tussen die minnaars is baie belangrik.”

Hierdie uitspraak is gelaai met androsentriese bevoorregting. Dit verskoon manlike onemosionaliteit en onverskilligheid en perpetueer as ’t ware ongevoeligheid. Meer nog: die man mag seksueel aktief en selfs promisku wees; hierteenoor word daar van die vrou verwag om kuis en sagsinnig te wees.

Liefdesromans skep ’n soort stereotiepe mite van “verhulling” en onwerklikheid. Werklike of outentieke emosies bestaan nie binne hierdie formuleagtige literatuur nie. Tog is dit die basis vir alle vrouefiksies wat oor intieme ervarings skryf [sic], omdat die leuens “onthul” word. In die Perskor-aanwysings word die vereistes vir liefdestonele soos volg geformuleer: “Lesers wil eerder die emosionele reaksies van die held en heldin in liefdestonele ervaar as ’n grafiese en gedetailleerde weergawe van die seksdaad. Die seks in liefdestonele moet dus altyd gekenmerk word deur ’n onderliggende teerheid en sorgsaamheid wat vir vroue ’n baie prikkelende ervaring is” (p. 3).

Daar word dus net gesuggereer en nie werklik gewys nie, en daar word duidelik verwag van die voornemende skrywer om nie kru,  blatant of eksplisiet te wees nie. “Die tegniek van uitgestelde vervulling van die onafgebroke begeerte is baie belangrik.” ’n Eis wat in wese die hele populêre, wasige aard van die liefdesverhaal beklemtoon, ’n verhaal waar dit gaan om die onwerklike en onrealistiese ervaring wat die huisvrou of iemand wat aan hierdie stereotipes (wil) glo, sal behaag. Daarom die eis vir die romantiese inkleding wat vanselfsprekend sado-masochisme, verkragting, gang-bangs, masturbasie en gay-seks uitsluit.

“Die seksdaad is altyd ‘behoudend’”, word daar geskryf, “en vind net plaas wanneer daar ’n definitiewe emosionele verbintenis tussen die hoofkarakters is. Hulle misverstande moet verkieslik deur gesprekvoering uit die weg geruim word en nie deur seksuele kontak nie. Voorts is buite-egtelike verhoudings, bedhopping en verhoudings oor die kleurgrens nie aanvaarbaar nie” (p. 3).

Die voorskrifte of aanwysings is dus ook moralisties en die voornemende skrywer word gemaan om nie seks op elke bladsy “aan te plak” nie; seks, of die begeerte daarna, moet met omsigtigheid hanteer word. Waarskynlik het die uitstel van die seksuele te make met romantisering (hierom word dié soort tekste as romance benoem in Engels), omdat die realiteit van die fisieke aanraking dikwels met ontnugtering gepaard gaan.

Dat daar wel bewustelike eise gestel word aan die voornemende skrywer, blyk uit die volgende: “Die liefdesverhaal is verwant aan die mite of sprokie en vanweë die herhalende, stereotiperende en onrealistiese aard.” Daarom, waarskynlik, ook ’n afwysing van ’n teks wat feministies of grensoorskrydend is.

Dit is ook tersaaklik om die liefdesverhaal se voorskrifte teenoor Ian Fleming se James Bond-karakter te plaas. In die James Bond-verhale en -rolprente — soos Dr No, Goldfinger — vind daar ’n inversie van die voorskrifte van die liefdesverhaal plaas. Alles wat nie in die vroueliefdesverhaal toelaatbaar is nie, is vir die agent James Bond aanvaarbaar met sy “licence to kill”. Hierom die kode 00 vooraan sy naam. Maar dit is alreeds ’n studie op sigself.

III

Presies vyf jaar nadat die hygroman ons vermaak het met “lakenafrikaans” en die begrip “sekstigers”, verskyn die eerste populêre gay-roman van ene Brandt Vermeer. Dit heet ’n Man se man en Homeros (by Tafelberg) bemark hierdie boek. Sterk gerugte doen die ronde dat die CNA nie wou suig aan hierdie fopspeen nie vanweë die eroties-prikkelende en gay voorblad.

Die boek word beskryf as kortverhale, amper ’n roman, en op die agterblad word die volgende geskryf:

Kontroleer:

  • Vol seks? Ja
  • Watter soort? Manlike gay seks
  • Eksplisiet?  Ja
  • Pornografies? Ja?!
  • Snaaks?  Hang af.
  • Het dit nog meer om die lyf? Ja, dit sê iets oor moderne mans se verhoudings
  • Het jy ’n graad in die letterkunde nodig om dit te verstaan? Nee
  • Jou soort lewe? Ja, as die volgende situasies bekend klink
Dan word daar al die bekende gay-ervarings gegee van cruising en voorgee dat jy nie gay is nie.

Met gay-letterkunde het hierdie leser geen probleem nie. Koos Prinsloo en Johann de Lange het van die belangrikste bydraes in Afrikaans gelewer en veral De Lange se Nagsweet is vir my ’n poëtiese hoogtepunt in Afrikaans.

By die lees van ’n Man se man (’n ironiese vertaling van “a man’s man”) moet ’n mens dan nie meer verwag as ’n manlike hygroman (suigroman?) nie. Dit gaan om gay seks en die beskrywing van hierdie seks aan die agterkant(?) van die lewe. Brandt Vermeer wil skok. Hy praat van tril en sy beskrywings is lekker en die boek wemel van kwinkslae.

Uiteindelik voel ’n mens oor hierdie roman soos wat jy oor al die hygromans voel: populêre fiksie is populêre fiksie is populêre fiksie (dankie, Gertrude Stein). As jy verby die tril en boude en liefdeservarings gekyk het, is daar met ’n eerste lees nie veel oor nie. Die pluspunt is dat die held dikwels in hierdie verhale nie die wenner is nie. Hy is onvervuld. Alleen. Al “oortree” hierdie boeke dan die voorskrifte van die hygroman, is dit geen groot letterkunde nie.

Die voorskrifte van die suigroman, oftewel die Monica Lewinsky-roman, sou iets soos die volgende kon wees:

  • ’n Gay held wat baie jags is en cruise in saunas en gyms;
  • ’n Man wat weet van in-die-kas-gevalle en hoe gevaarlik hulle is;
  • ’n duidelike en eksplisiete beskrywing van die geslagsorgaan (soos ’n lui molslang of woedende pofadder);
  • ’n beeldende beskrywing van die gay se voorkoms en leefwyse;
  • ’n openbaarmaking van presies hóé gays leef en optree;
  • ’n demistifikasie van Hollywood se beheptheid met gay-wees as vigs-wees;
  • ’n vermoë om binne drie paragrawe in die bed te wees of die piel te swaai soos ’n swaard;
  • ’n oortreding van Perskor se prissy voorskrifte.
Die roman lees vinnig en vlot. Hier aan die begin wou ek saam met Henry James pleit vir meer showing en minder telling. Die boek maak ’n duidelike gender-stelling. Dit wil sterk standpunt inneem teen straights se oningeligtheid oor gay-wees en die patroniserende houding van die “normales”.

Om gay te wees, beteken dat vooroordele bestaan. En dit is goed dat hierdie boek verskyn het om iewers op die platteland ’n kloset-gay se fantasieë OOP te maak. En dis lekker om ’n boek te lees waarin ’n pietman uitgeruk word en in ’n ander man se hand geplaas word wat met groot genot toekyk hoe hy groei! Die taalgebruik is soms balhorig (sic!) en ofskoon dit geen groot letterkunde is nie, moet hierdie suigroman van Brandt Vermeer (gaan daar ’n Holman du Plooy ook wees?) DIESELFDE aandag geniet as die hygroman. (Die naam het my laat dink aan die ou wat in Bellville na ’n James Bond-film gaan kyk het en toe die meisie vir Bond sê: “Hi, I’m Pussy Galore” toe staan hy op en seg: “Ja, en ek is Piele van Zyl.”)

Die uwe is ’n literêre snob wat nie glo dat skryf net skryf is nie. Vir my bestaan daar duidelike verskille tussen populêre fiksie en ernstige literatuur, anders as wat Jeanette Ferreira meen. As populêre verhaal is ’n Man se man beslís geslaagd.

Daar is ook hope humor in hierdie boek en humor in (semi)porn is ’n voorvereiste. Dit is waarom The happy hooker en Deep throat sulke rasende suksesse was! Ons verneem dat die verteller op die sewende dag gerus het. Hierdie boek (dis ’n soort kloset-roman) het baie goeie tonele. Die beskrywings is poëties en daar is hoogs onthoubare momente. Soos ’n pa wat met sy kind in die gym staan en hunker na ’n man; ’n in-die-kas-geval wat aggressief raak as iemand weet hy kyk; ’n driemanskap wat iewers op ’n verlies gaan uitloop, ensomeer.

Grafiese beskrywings is volop (soos op bladsy 116 byvoorbeeld):

Die outjie is só stomp besny dat sy voël drie kleure het: die pienkrooi kop, die rooi waar die voorvel weggetrim is, en die pienk van die skag wat soos ’n rewolwerloop — of dan, ’n gaspistooltjie — vorentoe wys. Klein eiertjies.
of
Hy bring Bertie se hand nader, voel hoe dit om die groot stuk vlees sluit. Hy was nog altyd trots op hoeveel hy het — net-net nie twintig sentimeter nie wanneer dit styf is; ’n toestand waarop dit vinnig afstuur.
Moet dit Philidelphia wees op bladsy 2 of Philadelphia?

Nou ja, as Louisa Erasmus haar borste kon wys op ’n Perskor-publikasie, kan twee mans sekerlik ook soen. En skande, CNA, vir julle diskriminasie.

Soos ’n Man se man ’n kortverhaalbundel is wat ook as roman gelees kan (wil) word, het hierdie populêre verhaal plek-plek begeertes om iets méér te word. Die sirkelgang van die verteller, die “older and wiser”-verteller, die fyn toespelings op literêre werke, die wete dat mens bagasie bykry met elke verhouding of obsessie.

Net jammer die eerste publikasie van Homeros verskyn onder ’n skuilnaam. Wat sê dit van ons manne?

Mooi skoot, Brandt Vermeer! Ons lus vir meer!

 — Joan Hambidge is mede-professor in die Departement Linguistiek en Suidelike Afrikaanse Tale aan die UK. Sy is digter en romanskrywer en self die pleger van populêre parodieë.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.