SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Slagoffers van persepsie

Carina Diedericks-Hugo

Slagoffers
Dine van Zyl

Tafelberg-Uitgewers
Kaapstad
2001
Sagteband
164 bladsye
ISBN 9 780624 040231

Dit was ’n tyd toe die townships gebrand het, die Rubicon amper oorgesteek is en vingerwuiwende politici noodtoestande aangekondig het. Dit was ’n tyd toe jong mans direk van die skoolbanke na die Angolese bos is om die “rooi gevaar” van ons grense weg te hou. Dit was ook ’n tyd toe joernaliste gewantrou is en skrywers slinks óm sensuurwetgewing moes skryf.

Die tyd was 1986. En Suid-Afrika worstel met die stuiptrekkings van Apartheid en ’n eie Viëtnam in Angola.

In Julie 1986 verskyn in De Kat ’n artikel oor die lyding van die vroue in oorlogsgeteisterde Angola. TV-joernalis Dine van Zyl voer onderhoude met vyf slagoffers en bied dit in ’n gestroopte, grafiese wyse aan die “verligte” lesers van die tydskrif aan. Die kort vertellings van Angelina Missoji, Severina Chilombo, Veronica Kahali, Ana-Christina en Madalena Ngueve dui op massamoord, verkragting, verbrandings, ontvoering en swanger vroue wie se mae oopgeruk word. Hulle blyk die slagoffers te wees van die Kubane en FAPLA-soldate van die MPLA-regering.

In 2000 wen ’n opspraakwekkende boek die tweede plek in die Groot Roman-wedstryd van Sanlam, Insig en Kwêla. Die boek is getiteld Slagoffers en word beskryf as “’n onvergeetlike roman oor die brutale uitbuiting van vroue in die oorlogstyd”. Die skrywer is oud TV-joernalis, Dine van Zyl.

Slagoffers vertel die verhaal van SAUK TV-joernalis, Nell, wat ’n geleentheid gebied word om ’n dokumentêre film te maak oor die UNITA-rebelleleier, Jonas Savimbi, en sy bosvegters — ’n geleentheid wat haar loopbaan internasionaal kan lanseer. ’n Suid-Afrikaanse weermagamptenaar, kodenaam Dolfyn, tref die nodige reëlings en stuur haar en haar kameraman, Riko, op ’n sending na Angola waar Savimbi en hoëvlak-amptenare op hulle sal wag.

In Angola is die situasie egter anders as wat Nell verwag. By Jamba, die hoofbasis van UNITA, is daar geen teken van Savimbi nie. Nell en Riko begin die lang wag tussen stof, hitte, karige rantsoene, spioene en lyding. Van tyd tot tyd beweeg hulle na ander UNITA-”bevryde” gebiede. Dit is hier waar Nell materiaal van ’n ander aard vergader: die vertellings van vroue — slagoffers van ’n oorlog. In plaas van ’n in-diepte-onderhoud met Savimbi bevind Nell haar waar sy dieper in die lyding beweeg met elke vertelling wat sy aanhoor.

Die skrywer waarsku die leser uit die staanspoor: “Hierdie boek is fiksie. Maar die gruwel van die oorlog is ’n werklikheid.” Die verhaal word egter op so ’n manier aangebied dat die leser maar nie kan wegkom van die onderbewuste idee dat dit die joernalis Van Zyl is wat dertien jaar later ’n kroniek skep van haar wedervaringe in Angola nie. Die suspisie word versterk deur die foto van die Angolese vrou op die voorblad — mortier in die hand — wat geneem is deur Van Zyl. Die verhaal van die FAPLA-vroue wat as UNITA-portiere dien, word ook weergegee op bl 106: “Die vroue, elkeen met mortier in die hand, beweeg tussen die Monet-waterlelies deur die rivierloop, anderkant uit, stil, versigtig, met strak, stowwerige gesigte.”

Die vertellings van die vyf vroue wat destyds in De Kat weergegee is, word feitlik herhaal wanneer Nell die verhale van vroue aanhoor in die dorp van die mutilado’s — die verminktes. Dit is veral die verhaal van Veronica Kahali wat die gruwelike dood van haar swanger suster aanskou, wat woordeliks in Slagoffers weergegee word as “Die vertelling van Maria Clara” (bl 135). Ook “Die vertelling van Adelena” (bl 123) is ’n spieëlbeeld van Madalena Ngueve se ontberinge.

Verder word ’n bronnelys verskaf wat die indruk skep van ’n feitelike, eerder as ’n fiktiewe relaas.

Die spel met feite en fiksie — “faction” — is nie ’n nuwe een nie. In die 1960’s skep Amerikaanse skrywers soos Truman Capote en Norman Mailer frases soos “the nonfiction novel” en “history in the form of a novel”. Die werke wat in hierdie tyd die lig gesien het, was onder meer Capote se In Cold Blood, Mailer se The Armies of the Night en Oscar Lewis se The Children of Sánchez. Daarin word wegbeweeg van die tradisionele roman met sy intrige en karakterisering na ’n direkte konfrontasie met ’n gefiksionaliseerde sosiale werklikheid en/of geskiedenis. Die ooggetuie-verslag-styl kry ’n nuwe naam: “higher journalism”, of “new journalism”, of “the literature of fact”.

En ’n geval van “new journalism” is Slagoffers beslis. Die skrywer plaas haarself in die rol van die ooggetuie wat verslag doen oor ’n ingewikkelde en kontroversiële politiese én maatskaplike kwessie. Die roman is ’n vermenging in styl van ’n outobiografiese relaas, ’n fiktiewe historiese verhaal en ’n suiwer joernalistieke verslag.

Die protagonis, Nell, se perspektief funksioneer dan ook as ‘t ware soos ’n kameralens. Met haar aankoms in Angola neem sy die ruimte om haar waar met ’n wye, panoramiese skoot:

Die grys sandgrond weerkaats op in my gesig, my sonbril help niks. Met my hande voor my oë loer ek deur skrefies om my. In die spikkelskadu van die bome staan soldate, wapens gereed, ammunisiebande om die lyf, magasynsakke aan die sy. Ons het geland op die Luiana-vliegveld in Angola (bl 1).

Later, soos sy die konteks van die Angolese oorlogsituasie begin verstaan en die sosiaal-maatskaplike effek síén, vernou die skoot en fokus dit op detail:

Die besies skree. Die vlieë raak lastig. Die vrou met die af arm se bloes is voor oopgeknoop. Haar gesonde arm hang lusteloos, haar oë is dof en moeg. Blindevlieë kom sit stil en teen haar donker bors en suig haar bloed (bl 113).

Die narratief spring rond tussen die verteller se veelvuldige rolle as joernalis, ooggetuie en fiktiewe karakter. Die amper kliniese joernalis kom na vore wanneer Nell haar tolk beveel:
Ons soek beskrywings. Ons soek atmosfeer. Die manier waarop hulle dit vertel, moet geloofwaardig wees, anders gaan mense dink ons het akteurs gebruik (bl 122).

’n Ooggetuieverslag word gegee van ’n geplunderde dorpie:

Die verkoolde lyke lê verwronge tussen die casas. Sommige van die kinders het nie dadelik gesterf nie en het gekruip na veiligheid; die sleepsels lê swaar in die sand (bl 54).

Die effek van die ontbering om haar laat Nell vir ’n skaarse oomblik die leser insae gee in die subteks van haar ervaring:

Ek wil wegdryf en opstyg en dobber teen die dak soos ’n vuurvlieg, my lig laat gloei oor loshangriete, spinnerakke, stofdele en druppels, en uitglip na die sterre aan die ander kant (bl 150).

Wat die ideologie aanbetref, vind ’n interessante skuif plaas tussen die aanvanklike artikel in De Kat en die latere Slagoffers. In die artikel beweer Van Zyl dat die wandade teen vroue die werk is van die “Kubane en FAPLA-soldate van die MPLA-regering” — ’n persepsie wat ook deur regeringspropaganda van die Apartheidsregime ondersteun is. In Slagoffers word die blaam versigtiger, meer filosofies verdeel:

Aan die oorkant, tussen die bome, lê die dorp van die vroue van die verskriklike wandade … Sommige was in ’n konvooi wat deur UNITA in ’n hinderlaag gelei is, sommige is ontset uit aanhouding in FAPLA-basisse, sommige kom uit SWAPO-tronke. Hulle praat verskillende tale, is van verskillende stamme, maar het een ding in gemeen: hulle het gely weens die oorlog (bl 109).

Met Slagoffers skep Dine van Zyl ’n werk wat die leser uitdaag om saam te loop op die gespanne draad tussen feit en fiksie. Die gestroopte, onpretensieuse taalgebruik werp des te meer ’n lig op die gruwels van die gegewe. In ’n tyd waar die leser grotendeels al gedesensiteer is deur die “wys-alles”-benadering van die media, slaag Van Zyl daarin om die krete van pyn en wanhoop van die stille massas, vasgevang in sinnelose konflik, uit te basuin.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.