SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Op uitnodiging van LitNet reageer Hein Willemse op Dan Roodt se planne vir taalprotes.

Die vergeefse opstand van Doman
of die moontlikhede van saambestaan in Suid-Afrika

Hein Willemse

I

Taal, verset en agterdog loop in hierdie land ’n lang pad. In ’n diep historiese sin het Afrikaans sy bestaan te danke aan die Khoi-sprekers wat met gesukkel die besetters se koloniale Hollands moes bemeester. Aan die voorpunt om ’n brug tussen die besetters en die inheemse bevolking te slaan, was die eerste tolke — Autshumao, Doman en Krotoa. In Mei 1659 het Doman die eerste volskaalse oorlog teen die Hollanders gelei. Vanaf daardie oomblik was Afrikaans (meer presies: proto-Afrikaans) op die een of ander wyse betrokke by verset in die land. Doman en sy makkers se aanslag was die begin van die eerste jaar lange Khoi-Hollandse oorlog. Tog was hy ’n lopende kontradiksie: hy het sy bestaan deur Hollands gemaak, maar terselfdertyd het hy die uitheemse kultuur met diepe agterdog bejeën; Hollands was die taal van ’n godsdiens wat hy met suspisie beskou het. Juis omdat Doman Hollands kon verstaan, kon hy begryp wat die intensies van die besetters was. Toe dit duidelik word dat Van Riebeeck sy halfwegstasie permanent wou vestig, was dit Doman met sy Khoi-Hollandse dualiteit wat die wapen opgeneem en die Hollanders probeer verdryf het.

II

Die grondwet verskans elf hooftale in die land, ook Afrikaans, maar daarmee saam die belangrikste Suid(er)-Afrikaanse tale en Engels. Die regeringsintensie is onduideliker. Dit het ’n gedeelde persepsie geword dat die regering kennelik besig is om die veeltaligheidsbeleid soos vereis onder die taalklousule van die grondwet te versaak. Vanuit die kantore van hoë amptenare, ministers en ampsinstansies is daar dikwels geluide wat aandring op Engelse eentaligheid. In die afwesigheid van duidelike beleidsmaatreëls word in daaglikse interaksie tussen die publiek en amptenary teruggeval op ou patrone en die vermeende (eentalig Engelse) taalbeleid van die regering. Wat die saak verder vererger, is dat die ministers en amptenare se persoonlike geskiedenisse en selfs negatiewe houdings ten opsigte van sekere tale met amptelike regeringsbeleid verwar word. Die wiele van die staatsmasjinerie wat die klousule behoorlik moet implementeer, draai eenvoudig net te stadig.

So byvoorbeeld is dit ondenkbaar dat al elf ampstale op dieselfde tyd, in dieselfde streke beskikbaar moet wees. Daarom is voorsiening gemaak dat provinsiale owerhede implementeringsplanne, riglyne en strategieë rondom die taalbeleid moes formuleer. Net so moes staatskorporasies doeltreffende taalplanne opstel, prakties volhoubaar in terme van die grondwet. Sover ek weet, is dit nog net die Wes-Kaap wat ’n provinsiale taalwet gepromulgeer het, waarin die regte van die drie kerntaalgemeenskappe in daardie provinsie — Afrikaans-, Engels- en Xhosa-sprekendes — beskerm word. Op departementele vlak het die sentrale onderwysdepartement reeds in 1996 ’n taalbeleid geformuleer waarin vryheid van keuse voorop staan. Behalwe hierdie praktiese voorbeelde, enkele stukkies voorbereidende wetgewing en die promulgering van nasionale wetgewing in afgeskeepte tale soos TshiVenda, het die intensie van die koalisie-regering nog nie werklik deurlopende beslag gekry nie. Met die afwesigheid van duidelike riglyne word beleidsformulering oorgelaat aan die soms idiosinkratiese oordeel van individuele ministers en amptenare.

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad wat oortredings van die taalklousule deur ampsinstansies moniteer, ondersoek en oor regstellende optrede moet adviseer, lyk op die oog af na ’n oneffektiewe gesagsliggaam. Die raad word gekenmerk deur binnegevegte, bedankings en sy aktiwiteite word in klein, terloopse persberiggies aangekondig. In die verlede het die PANSAT wel opgetree en advies gegee wat daarop neerkom dat die billikheidsbeginsel van die taalklousule nagekom moet word. Die grootste probleem met hierdie instelling bly die gebrek aan ’n doeltreffende sanksie. Die raad se advies word eenvoudig net as advies — ignoreerbare advies — deur ampsinstansies hanteer. Soos met speelgoedtelefone kan jy skreeu tot jou mangels soos vlae wapper, maar as die ander party jou nie kan hoor — of erger nog, nie wíl hoor nie — bly dit alles net speel-speel.

Die hindernisse in die ontplooiing van ’n doeltreffende taalbeleid word dikwels deur onkreatiewe ministers en amptenare gekoppel aan die beskikbaarheid van geld. Maar ek vermoed dat finansies nie die ergste probleem is nie. Politieke daadkrag en wil ontbreek. Sou die taalbeleid soos vereis deur die grondwet behoorlik uitgevoer word, moes ons nou, byna ses jaar na 1994, ’n sterk opbloeiende tolk- en vertalingsektor gehad het. Dit het nie gebeur nie: tolke en vertalers suig aan die spreekwoordelike agterste speen en ’n potensieel sterk ekonomiese sektor word met die voete sleep rondom die taalbeleid ondermyn.

Terwyl dit nie van die privaatsektor verwag kan word om ampsbeleid te implementeer nie, het vanuit hierdie oord ook maar weinig gebeur. So word minder as 5% van advertensiebesteding aan inheemse Suid-Afrikaanse tale, Afrikaans uitgesluit, gewy. Die implikasies is duidelik: die advertensiebedryf bly hoofsaaklik wit (en jonk en die advertensies pueriel) en vaardighede wat na ander tale oorgedra kon word, bly beperk tot ’n klein in-groepie. In kort: die oorgrote meerderheid van die bevolking (en hul tale) word in die advertensiewese onderverteenwoordig.

III

Vir my is die oproep tot ’n optog vir Afrikaans een van daardie aksies wat met reëlmaat op die voorgrond kom: protesterende briewe oor Afrikaans in Afrikaanse koerante, ’n ope brief wat agiteer vir minderheidsregte, konferensies ten gunste van ’n Afrikaanse universiteit. Wat my meer en meer verbaas, is dat van die prominentste deelnemers aan hierdie aksies dikwels intellektuele met teenapartheid-geskiedenisse is. Na 1994 het die land in al sy nuwigheid ons ou sekerhede omgedolwe. Noudat die volle implikasies van hul vroeëre teenapartheid-standpuntinname duidelik is, swaai hulle gat om en vind sommige met moeite plek in die nuwe land. Wat meer is, is dat met die einde van die koue oorlog die Suid-Afrikaanse Left in diepe verwarring verval het. Internasionale, kontinentale en nasionale solidariteit het, te oordeel na die uitsprake en aksies van voormalige teenapartheid-voorstaanders en -agitators, verwater tot die eerste spore van ’n pienkerige etniese nasionalisme.

Wat hierdie nuwe kruisvaarders vir Afrikaanse (Afrikaner-) belange nie in ag neem nie, is dat ten spyte van die regering se traagheid vir volle veeltaligheid, die situasie rondom Suid-Afrikaanse tale veel beter is as wat dit ooit voorheen was. Daar is nou groter beskerming en ontwikkelingsgeleenthede vir inheemse Suid-Afrikaanse tale. Trouens, ten spyte van die afskaling van Afrikaans in ampsituasies is dit steeds in ’n veel, veel beter posisie as enige ander inheemse Suid-Afrikaanse taal. (Ek het ’n vermoede dat Afrikaans en Afrikaanse instellinge — binne eie kring — nou selfs kragtiger is as voorheen.)

Afrikaanssprekendes verwag dat Afrikaans gelyk met Engels behandel moet word. In ’n vorige politieke bedeling was dit nie ’n onbillike eis nie. Maar wat van die meerderheid Suid-Afrikaners wat nooit werklik kon aanspraak maak op dieselfde soort behandeling in hierdie land nie? Nog te dikwels — in my deel van die land — sien mens die hortende, huiwerende gesprekke van mense wat hulle in een van die twee meer bevoorregte ampstale — Afrikaans en Engels — by toonbanke of handelsplekke moet uitdruk. Aanpassings is nodig en die uitdaging is om die aanpassings saam met sprekers van ander inheemse tale te beding.

Die aandrang op die priviligering van Afrikaans openbaar ’n selfbeheptheid wat gewoon nie ander mense in die land in ag neem nie. Van die kruisvaarders word geslaan met ’n blindheid wat weier om verby groep of taal te kyk. Inisiatiewe rondom Afrikaanse protes en soortgelyke aksies het in hul dieptestruktuur weinig te doen met die res van Suid-Afrika. Die aksies verval in beperkte en beperkende gesprekke oor Afrikaners tussen Afrikaners (en Afrikaanssprekendes). Die soort binnegesprekke herinner aan die storie van die motorbestuurder wat ’n pap wiel gehad het en toe ’n spênner moes gaan soek. Op pad na ’n nabygeleë huis worstel hy met homself: gaan die eienaar van die huis vir hom ’n spênner gee of nie. Dis ’n worsteling wat hy heelpad met homself voer. Toe klop hy aan, maar nog voor die eienaar sy mond kon oopmaak, skree die motorbestuurder: “Hou jou blerrie spênner!” In sy binnegesprek het die motorbestuurder al die vrae uitgewerk, en al die verkeerde antwoorde gekry.

Die verreikendste gevolg is dat al die gesprekke en denke oor die toekoms van ’n minderheid gevaar loop om Afrikaners en Afrikaanssprekendes tot die rand uit te stoot. Die vermoeiendste aspek van hierdie gesprekke (in Afrikaans vir klein groepies Afrikaanse lesers en belanghebbendes) is dat dit Afrikaners en Afrikaanssprekendes dwing om randeiers te bly, aan die buiterand van die lig te kef, in plaas daarvan om dinamies deel van die sentrum te word. Toonaangewende Afrikaner-intellektuele dwing hulself om slegs ten behoewe van hul groep op te tree. Dit verhoed hulle om ’n daadwerklike rol in die ontwikkeling van die land te speel. Nie omdat daar teen hulle gediskrimineer word nie, maar omdat hulle teen hulle ooglede vaskyk.

Alles wat hier gesê is, beteken nie dat daar nie ’n behoefte aan indringende gesprekke (en selfs optrede ten behoewe) van minderhede in Suid-Afrika nodig is nie. Daar is toenemende woelinge en bekommernisse in verskillende gemeenskappe oor hul plek in hierdie land. Met ’n geskiedenis soos ons s’n waar menseregte in die verlede onteer en vertrap is, is dit net logies dat verskillende groeperinge absolute waarborge wil hê. Die uitdaging vir die nuwe geslag Afrikaner-kruisvaarders is om oor die beperkinge van hulle eie ooglede te kom en aansluiting buite groepsverband te soek. Dit is hierdie soektog wat waarskynlik waardevoller gaan wees as enige gekef op die buiterand. Nie net gaan hulle ontdek dat daar groot begrip vir hulle vrese en aandrang op regte is nie, maar hulle gaan ook ontdek dat ander gemeenskappe inderdaad soortgelyke vrese en behoeftes het. Dit is in saambesinning dat die protesterende figure en organisasies ’n dinamiese bydrae tot die ontwikkeling van hierdie land kan maak.

Die kwaliteit van die vryheid van Afrikaans en sy voortgesette bevordering gaan tot ’n groot mate bepaal word deur die vryheid van ander inheemse Suid-Afrikaanse tale. Afrikaanssprekendes kan deur Afrikaans oopstaan vir hierdie land, maar deur aanhoudend die taal by eksklusiewe Afrikaanse protesaksies te wil betrek, maak daarvan ’n meulsteen en ’n teken van die neulende destruktiewe. Alle Afrikaanssprekendes — nie net die alewig beswaardes nie — word dan met die negatiewe kwas geverf. Dit is dan dat ons nie meer kreatief in hierdie land leef nie. Deur die regte van ander tale aktief te verdedig, gaan Afrikaans se vryheid en omvang as ampstaal laat gedy. Die betoging wat in die vooruitsig gestel word, sal slegs ’n positiewe, dinamiese aksie kon wees wanneer dit in aktiewe oorlegpleging en samewerking met sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale plaasvind; wanneer die plakkate wat gedra word gelykberegtiging vir Sepedi, Sesotho, Tswana, Swati, Venda, Tsonga, Afrikaans, Ndebele, Xhosa en Zoeloe beding. Dit kan nie anders nie. Enigiets minder is ’n kortsigtige, eng nasionalistiese aksie.

IV

’n Bykomende faktor tot die huidige debat is die posisie van Engels. Daar is ’n sterk anti-Engelse ondertoon wat herinner aan gevoelens na afloop van die Anglo-Boereoorlog of aan kontemporêre tendense in Frankryk en Duitsland. Daar is gemeenskappe in hierdie land wat sterk anti-Engelse gevoelens het, maar vir die meerderheid het Engels lankal sy tekenwaarde as instrument van verdrukking verloor. Engels is besig om ’n onaanvegbare posisie in hierdie land te verkry — ten regte of onregte. Engels is vir talle mense ’n teken van sukses en geletterdheid; dit is die taal van hulle bevryding en dra die onmiskenbare assosiasie van vooruitgang. Dit is ’n opvatting en posisie wat nie binnekort gaan verander nie. Inteendeel, Suid-Afrika staan sterk onder die ban van Amerikaanse mediaprodukte, ekonomiese globalisering wat toenemend in Engels geskied en die Internet met sy sterk Engelse basis.

Die tirade oor Engels en die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde klink na ’n ou koloniale debat. Hierdie post-koloniale tydvak dwing ons om die waarde van Engels vir die Suider-Afrikaanse omgewing te herbeding. Engels dra nog die tekenwaarde van ’n ouer imperialisme, maar die ou kolonies is besig om meer en meer hul stempel daarop af te druk. Dink maar aan Indië, Australië, Kanada en ander Afrika-lande. Chinua Achebe het jare gelede reeds gesê dat hy Engels gegee is, maar dat Afrikane ’n ander (ondermynende) inhoud daaraan moet gee. In ons post-koloniale konteks is die uitdaging om nie een sentrum na te jaag nie, maar ’n eie kompeterende sentrum te ontwikkel.

Engels het die belangrikste taal van hoë-vlak-intergroep-kommunikasie geword, maar dit is ook die taal wat die grootste beperking is. Byvoorbeeld, watter persentasie van die onlangse patetiese matriekuitslae is te wyte daaraan dat die oorgrote meerderheid leerlinge hul onderrig ontvang het in ’n taal wat hulle kwalik bemeester het? En hoeveel leerlinge moes vraestelle in ’n tweede, derde of vierde taal — dikwels Engels — beantwoord? Teen die agtergrond word Engels (en Afrikaans) instrumente van bevoorregting en die matriekeksamen ’n meting van voorreg teenoor sosiale gebrek. Die uitdaging is om ’n gelykwaardigheid tussen die inheemse tale en die twee voorkeurtale in onderwys te bereik.

Dit is waar dat Engels ’n groot bedreiging vir inheemse Suid-Afrikaanse tale inhou. Daarom is die uitdaging om kreatief ’n praktiese plek vir daardie tale te beding. In hierdie opsig kan niemand ontken dat wanneer ’n taal ekonomiese waarde het sy gebruikfrekwensie ook styg nie. Deel van die saambedinging met ander Suid-Afrikaanse tale is die aandrang op groter ekonomiese bemagtiging oor ’n breë spektrum van tale en sprekers.

V

In die protesaksies word Afrikaans (Afrikaners en Afrikaanssprekendes) dikwels voorgehou as slagoffers. So ’n opvatting is eenvoudig nie geldig nie. Daar word gereageer vanuit ’n posisie van dekades van voorkeurbehandeling. Daarom is dit die moeite werd om ’n ou storie weer ’n slag te herhaal, omdat ons in ons haas om onreg te skree te maklik vergeet: Afrikaans is die taal van ’n minderheid in hierdie land; die ampstatus van Afrikaans en sy gesofistikeerde letterkunde (en Afrikaans het die gesofistikeerdste letterkunde in die land) is die gevolg van volgehoue bevoorregting en koestering deur die apartheidstaat; Afrikaans is sedert die vyftigerjare deur ’n blatante proses van verafrikaansing in gekleurde gemeenskappe uitgebou; Afrikaans is dikwels ten koste van ander Suid(er)-Afrikaanse tale (en mense) bevorder. Net soos daar in die verlede ’n taalstryd vir Afrikaans was, was daar net so ’n intense (indien nie meer intense nie) stryd teen Afrikaans. En nadat dit alles gesê is: Afrikaans was die taal van die administrasie van apartheid.

Ja, dis geskiedenis, maar of ons wil of nie, dit agtervolg ons. Elke nuwe skuif in die hede het iewers in die verlede ’n oorsaak gehad. Om bloot ahistories te reageer, sonder om daardie geskiedenis ten diepste te begryp of daarmee rekening te hou, is om gewoon nie nugter oor die land te dink nie. Hoe hard ons ook al protesteer — daardie ou geskiedenisse is soms vergewe, maar dis nog lank nie vergete nie. Soms wonder ek of Afrikaanssprekendes besef hoe lig hulle (ons) daarvan afgekom het. Te dikwels vergeet die nuwe kruisvaarders vir Afrikaans dat daardie ou geskiedenisse vir talle mense — ook die nuwe maghebbers — bly voortbestaan.

Die meerderheid Afrikaanssprekendes — swart Afrikaanssprekers — word dikwels terloops by hierdie protesaksies betrek. In die meeste gevalle is die indruk dat hierdie mense doodgewoon gekoöpteer word vir hulle getalle. Hulle is daar om die agenda van Afrikaners te ondersteun. Dit beteken nie dat omdat die mense dieselfde taal praat hulle noodwendig dieselfde assosiasies deel nie. Terselfdertyd beteken dit nie dat die mense nie met ’n diepe passie Afrikaans as hulle taal eien nie. Dit is ’n passie wat hulle behou het, selfs toe hulle menslikheid in daardie taal ernstig aangetas is.

So dikwels word swart — gekleurde, Indiër en swart — Afrikaanssprekers se steun van Afrikaans gevra. Maar wat moet hulle verdedig? Neem byvoorbeeld die mediawêreld waarin persepsies oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes geformuleer word. Alle vorme van Afrikaanse media representeer tot ’n groot mate een deel — die wit deel — van die Afrikaanssprekende bevolking. So is daar geen swart Afrikaanssprekende redakteur by ’n Afrikaanse tydskrif, koerant, televisie-tydskrifprogram of ’n hoofstroom-radiostasie nie. Die bril waarmee gekyk word, is een soort bril. Selfs in die Afrikaanse kulturele omgewing het ons nie daarin geslaag om verby eng (wit) belange te kyk nie. Mense kan slegs belange verdedig wanneer hulle werklik belang by ’n saak het.

VI

Doman was nie suksesvol in sy opstand nie en by sy dood het niemand geween nie; nie die Khoi of die besetters nie. In ’n sin was Doman een van die eerste nuwe mense van ’n nuwe land. Dis maklik om terug te hunker na ou patrone, ou maniere van doen en ou sekerhede. Dit bly oneindig moeiliker om kreatief ’n plek te beding in die nuwe.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.