SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch (1960-1984)

Johann Lodewyk Marais

1    Inleiding
D.J. Opperman was op meer as een vlak by opleiding in skeppende skryfwerk betrokke en het ook ’n betekenisvolle inset tot verskillende soorte opleiding gelewer. Dit het nie-formele individuele opleiding aan skrywers, uitgebreide werk as tydskrif- en uitgewerskeurder en formele opleiding in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Stellenbosch ingesluit. In hierdie artikel val die klem hoofsaaklik op die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch, wat Opperman in 1960 tot stand gebring en tot in 1980 aangebied het. Die ander soorte opleiding waarby hy betrokke was, word net vermeld.
    Vanweë Opperman se siekte is die Letterkundige Laboratorium gedurende 1976 deur Lina Spies waargeneem. Nadat Opperman aan die einde van 1980 finaal uit die diens van die Universiteit getree het, is die Laboratorium gedurende 1982 deur Spies en gedurende 1983 en 1984 deur Sheila Cussons aangebied. Daarna het dit opgehou bestaan, alhoewel daar van tyd tot tyd nie-formele opleiding in skeppende skryfwerk by die Universiteit aangebied is.
     Die doel met hierdie bespreking is nie om die geskiedenis van die Letterkundige Laboratorium te dokumenteer nie. Dit kan en behoort as ’n studie op sigself onderneem te word. Binne die verband van hierdie artikel is dit belangriker om die aard en die invloed van die Laboratorium te probeer bepaal. In die lig van die polemieke wat daar by geleentheid oor die saak gevoer is, is dit egter wel nodig om die gebeure rondom die ontstaan van die Laboratorium uitvoeriger te bespreek.
    Vir my, wat nie self die Laboratorium bygewoon of Opperman persoonlik geken het nie, is dit enigsins moeilik om ’n beeld van die “persoonlikheid” van Opperman as aanbieder van hierdie kursus te vorm. In sommige gevalle was dit dus nodig om op die getuienis van oud-studente van Opperman te steun.

2    Begin van die Letterkundige Laboratorium
Lank voordat die Letterkundige Laboratorium van die Universiteit van Stellenbosch tot stand gekom het, was Opperman reeds by nie-formele opleiding in skeppende skryfwerk betrokke. J.C. Kannemeyer wys in D.J. Opperman: ’n Biografie (1986) op heelwat voorbeelde hiervan, soos dat Opperman reeds as onderwyser in Pietermaritzburg “skoliere aangemoedig en van hulle skryfpogings nagegaan het” (ibid.: 325). In die periode voor 1960 het digters soos Sheila Cussons, G A Watermeyer, Ernst van Heerden, Ina Rousseau, Peter Blum,1 H W Truter, Lionel Sheldon en Breyten Breytenbach by hom om hulp aangeklop en in die meeste gevalle kon hy waardevolle individuele opleiding aanbied. Benewens sy werk as uitgewerskeurder vir Nasionale Boekhandel en die verreikende rol wat hy in hierdie verband gespeel het, stel Opperman by twee geleenthede saam met F J le Roux bundels saam uit die werk van digters wat tot in daardie stadium nog nie ’n eie bundel kon publiseer nie. In 1946 verskyn Stiebeuel en in 1965 Stiebeuel 2, wat albei getuig van Opperman (en Le Roux) se belangstelling “in die openbaarmaking van die jong digter se skeppende werk.”
    Kannemeyer (1983a: 92) sien tereg die instelling van die Laboratorium en die advies wat Opperman ná 1960 aan aspirant-digters via die Laboratorium gegee het as “ ’n voortsetting van die hulp wat hy op persoonlike vlak [...] en as uitgewerskeurder aan talle digters sedert die veertigerjare gegee het”. Geen bewyse kon egter gevind word dat Opperman voor 1960 op georganiseerde wyse hulp aan groepe studente of skrywers verleen het nie. Volgens Kannemeyer (ibid.) was dit aan die Universiteit van Kaapstad, waar Opperman van 1949 tot 1959 dosent in Afrikaans was, as gevolg van die oorgrote meerderheid Engelstalige studente nie prakties moontlik om so ’n kursus in te stel nie.2 Ook aan die Universiteit van Stellenbosch is individuele opleiding oor ’n lang tyd deur dosente soos W J du P Erlank (Eitemal), C G S de Villiers, F E J Malherbe en Ernst van Heerden aangebied (kyk Aucamp, 1984: 19;3 Kannemeyer, 1986: 484; Spies, 1986: 54; en Van Heerden, 1988: 13), maar ook nie deur enigeen van hulle in die vorm van ’n kursus nie. Moontlik het daar nog nie in dieselfde mate ’n behoefte aan opleiding in skeppende skryfwerk bestaan soos in later jare en veral sedert die tagtigerjare geblyk het nie, of moontlik is die bestaande behoefte nie genoegsaam herken nie.
    Aangesien uiteenlopende menings oor die gebeure rondom die ontstaan van die Letterkundige Laboratorium gehuldig word, veral oor ’n aspek soos die rol wat Ernst van Heerden as inisieerder sou gespeel het (kyk Aucamp, 1984: 14-16; Spies, 1986: 48-50; Kannemeyer, 1986: 325 en 484; en Van Heerden, 1988: 85), is dit sinvol om uiteen te sit hoe Opperman as professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel is.
    Met ingang 1960 sou ’n professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch vakant raak as gevolg van F E J Malherbe se aftrede op 31 Desember 1959. Teen die algemene verwagting in dat die vakante pos aangebied sou word aan Ernst van Heerden, wat destyds Afrikaans gedoseer het binne die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, is Opperman op 1 Julie 1959 deur die Registrateur in kennis gestel dat hy by die Universiteitsraad vir benoeming in die professoraat aanbeveel gaan word. Opperman het die benoeming aanvaar, en het gevolglik op 1 Januarie 1960 in diens van die Universiteit van Stellenbosch getree (’n diensverbintenis wat tot aan die einde van 1980 sou duur).
    Die redes waarom daar in sekere kringe verwag is dat Ernst van Heerden in Malherbe se vakante pos aangestel sou word, was sy lang en bevredigende verbintenis met die Universiteit van Stellenbosch (sedert 1943), sy voortreflike Gentse proefskrif, Die digterlike beeld, met spesifieke verwysing na die poësie van N P van Wyk Louw (1953), die bestendige reeks opstelle en digbundels wat uit sy pen verskyn het en die feit dat hy van tyd tot tyd as dosent in die Departement Afrikaans-Nederlands waargeneem het. Gedurende 1959 het Van Heerden met ’n beurs van die Carnegie-korporasie na die Verenigde State van Amerika gereis, waar hy onder meer “creative writing schools” besoek (kyk Van Heerden, 1960: 24-27) en persoonlik met verskeie Amerikaanse skrywers kennis gemaak het. Dit lyk waarskynlik dat Van Heerden van voorneme was om by sy terugkeer, en indien hy in die vakante professoraat aangestel sou word, ’n kursus vir skrywers aan te bied. In ’n brief van 16 Junie 1959, waarin hy Opperman met sy aanstelling gelukwens, maar ook van sy eie teleurstelling melding maak, skryf hy:

[H]ierdie Carnegie-reis van my en die nuwe dinge wat ek gesien en geleer het, was in hoë mate die voorbereiding vir die soort werk wat ek alleen as dosent van gevorderde letterkundige werk kan doen. Van Heerden het ongelukkig nooit in besonderhede uitgespel presies wat hy in gedagte gehad het nie, en dit is ook onseker in watter mate hy ná sy terugkeer uit die Verenigde State van Amerika met Opperman oor sy oorsese ondervinding gesels het. Hierdie toedrag van sake het heelwat later tot meningsverskil onder (Stellenbosse) literatore en skrywers aanleiding gegee. Aucamp beweer dat Van Heerden met Opperman oor “sy voorgenome kursus in ‘Creative Writing’ gesels het ”(1984: 15), en voer aan dat hierdie agtergrondkennis ter sake is “wanneer oor die Letterkundige Laboratorium gepraat word, want hierdie skip het ’n boegbeeld met twee koppe: dié van Ernst van Heerden en dié van D J Opperman” (ibid.). Hierteenoor beweer Kannemeyer (1986: 484): In ’n onderhoud kon Van Heerden dit egter teenoor my net as ’n moontlikheid noem, nie met sekerheid sê of so ’n gesprek wel plaasgevind het nie. Wat die ware feite van die saak was, kan vandag nie meer met absolute sekerheid vasgestel word nie. Vanweë die feit dat Van Heerden eers in Oktober 1960 ’n artikel oor “creative writing” publiseer en Etikette op my koffer eers in 1961 die lig sien, kan navorsers, by gebrek aan verdere feite, nie anders nie as om Van Heerden se rol in verband met die ontstaan van die Letterkundige Laboratorium met omsigtigheid te benader en dit nie te oorskat nie. Interessantheidshalwe kan genoem word dat Aucamp (1988: 6) later die vermoede rol van Van Heerden effens anders as in die aanhaling hierbo verwoord het: Ek verbeel my dis Ernst van Heerden wat die begrip (nl. “creative writing” — JLM) kom vestig het na ’n studiereis in Amerika in die sestigerjare (sic!). Lina Spies (1986: 49) meen dat ’n mens “Ter wille van historiese juistheid [...] moet nagaan, indien moontlik, of Opperman nie self van die Amerikaanse leermeesters geraadpleeg het nie.” Ek kon geen inligting opspoor wat so ’n moontlikheid ondersteun nie. Wat wel waar is, is dat Van Heerden se eie belangstelling in aspekte van opleiding in skeppende skryfwerk bly voortbestaan het, soos onder meer blyk uit ’n brief van 17 Augustus 1961 waarin hy Opperman daaraan herinner dat hy: [...] al lank met die plan loop om ’n boek saam te stel oor FABRIEKSGEHEIME — “Opstelle oor die Skeppingsproses by die Digter” waarin ’n aantal Afrikaanse digters dan — ongeveer in die trant van Housman in “The Name and Nature of Poetry” alhoewel nie noodwendig so selfspottend soos hy dit doen nie — beskrywe hoe hulle skryf. Moontlik oor variante óf oor die herkoms van ’n bepaalde reël óf beeld of iets dergeliks. Dié boek is ongelukkig nooit gepubliseer nie. En nog later (1968) het Van Heerden ’n kort artikel oor skeppende skryfwerk op skool geskryf.
    Waarskynlik van meer betekenis vir die ontstaansgeskiedenis van die Letterkundige Laboratorium was, volgens Kannemeyer (1986: 324), die gebruik van Meyer de Villiers in die jaar voor Opperman se koms na Stellenbosch om tydens [...] een van sy lesings vir die derdejaars die klas in twee te verdeel, met een groep studente werk te behandel wat nóú by die literatuur aansluit en met die ander groep — wat oorwegend ’n belangstelling in die taalkunde gehad het — gevorderde werk op ’n gespesialiseerde gebied te doen. Kempen het hiervan te hore gekom en gemeen dit is ’n baie goeie gedagte. Toe die vier professore aan die begin van 1960 byeenkom om oor die jaarprogram te praat, het De Villiers die gedagte genoem en gevra of die ander dosente nie ook met so iets wil begin nie. Opperman het hierin die geleentheid gesien om vir die groep wat in die letterkunde spesialiseer ’n werkswinkel te skep waarin hy voornemende digters en letterkundiges met hulle skryfwerk kon help en hulle die geleentheid kon gee om eie en andere se skryfwerk onder leiding van ’n kundige persoon te bespreek.
    Van besondere betekenis ten opsigte van die Letterkundige Laboratorium is die lesing wat Opperman op 26 Februarie 1960 voor die Afrikaanse Studiekring van die Universiteit van Stellenbosch gelewer het. Die Afrikaanse Studiekring het teen die einde van 1958 tot stand gekom as ’n letterkundige vereniging van die Departement Afrikaans-Nederlands, met Wilhelm Knobel as die eerste voorsitter. Die vereniging het hoofsaaklik uit letterkunde- en taalkundestudente bestaan, terwyl dosente en ander persone deurgaans groot belangstelling in die aktiwiteite van die vereniging getoon het. Tydens die eerste jaar (1959) het sprekers soos Uys Krige, Jan Rabie, W A de Klerk en Jean Welz opgetree (kyk Kannemeyer, 1983b: 40). Teen die einde van 1959 is J C Kannemeyer tot voorsitter vir 1960 verkies en een van die belangrikste optredes wat vir die volgende ampsjaar in die vooruitsig gestel is, was ’n lesing deur die pas aangestelde professor in Afrikaans, D J Opperman. In ’n brief van 9 November 1959 nooi Kannemeyer Opperman namens die bestuur uit om die vereniging tydens hulle eerste vergadering van 1960 toe te spreek: So ’n vergadering of lesing kan dan terselfdertyd as ’n intreerede beskou word, aangesien die Universiteit hier nie die gebruik van ’n intreerede by die aanvaarding van ’n leerstoel het nie. [...] Die keuse van ’n onderwerp laat ons aan u oor, al sal ons ’n lesing wat u eie werk op een of ander manier raak, baie interessant vind. Die lesing wat Opperman aangebied het, was getiteld “Kolporteur en kunstenaar” (opgeneem in Opperman, 1974). By hierdie geleentheid het hy hom die eerste keer uitgelaat oor sy voorneme om “ ’n soort letterkundige laboratorium aan te lê.” In die eerste deel van sy lesing het Opperman die verskillende teoretiese benaderings tot ’n kunswerk kortliks toegelig en sy eie voorkeur vir die eksegetiese benadering, dit wil sê “die ooplê van die strata en struktuur van ’n kunswerk”, duidelik gestel (ibid.: 69). Dit beteken dat hy die kunswerk outonoom stel. In die tweede deel van die lesing het hy die fokus verskuif na “eie skeppende werk” en beklemtoon dat die kunswerk in so ’n mate vir homself moet spreek dat dit nie vir die digter nodig moet wees om as eksegeet van sy eie gedig op te tree nie. Die “kunstenaar”-gedeelte van sy lesing is deur Opperman ingelei met enkele opmerkings oor sy voorgenome Letterkundige Laboratorium. Opperman (ibid.: 72) het daarop gewys dat hy, as persoon wat self skryf, belangstel [...] in die skeppende werk van die studente. Met die groot Afrikaanse studentemateriaal behoort die verhouding van die Afrikaanse skeppende genie hier aansienliker as op die meeste ander plekke te wees. Die bedoeling is dan om ’n groepie studente hulle eie skeppende werk krities te laat bespreek, dus ’n soort letterkundige laboratorium aan te lê. Dit kan ’n uiters omslagtige en tydrowende manier van doseer wees — daarom is dit noodsaaklik dat die deelnemers tot ’n klein groepie beperk word. Die groepie moet alreeds in die literatuur onderrig ontvang het en dus oor ’n sekere agtergrond beskik. Dit sal moontlik gevorderde studente wees wat al self gedig het. Die belang van hierdie verklaring van voorneme is dat Opperman hierin die grondbeginsels aangedui het waarvolgens die Letterkundige Laboratorium sou funksioneer. Toegang tot die kursus sou (op enkele uitsonderings na) slegs verleen word aan ’n uitgesoekte groepie derdejaarstudente van die Departement Afrikaans-Nederlands wat in die letterkunde gespesialiseer het. Dit is duidelik dat Opperman ’n werkswinkel in gedagte gehad het waar studente hulle eie en mekaar se skeppende werk krities onder sy leiding sou bespreek.
    In die tweede helfte van 1960 is daar met die Letterkundige Laboratorium ’n begin gemaak.

3    Doel van die opleiding
Opperman het ’n tweeledige doel met die kursus gehad: hy het hom in die eerste plek ten doel gestel om digters te help om hulle talente te ontwikkel en groter insig in hulle werk te kry en, in die tweede plek, om hulle kritiese vermoëns te ontwikkel. Die naam “Letterkundige Laboratorium” is betekenisvol omdat dit hierdie tweeledigheid bevestig. Om soos Leon Strydom (1983) van “D J Opperman se Poësie-Laboratorium” te praat, is enigsins misleidend en eensydig.

4    Leerplan
Opperman (s.j.) het by geleentheid oor die radioprogram “Monitor” ’n kort bydrae oor die Letterkundige Laboratorium gelewer, waarvan die aantekeninge in sy handskrif in die Dokumentesentrum van die J S Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch bewaar word. Hierin het hy onder meer die aard van die Laboratorium soos volg verduidelik:

Toe ek as professor self my kursus kon ontwerp, het ek my afgevra wat gebeur aan die universiteit met dié skeppende student en dié met werklike analitiese aanleg. So het ek op die gedagte gekom om hierdie groepie in die derde jaar te laat spesialiseer en vir besprekingsdoeleindes te beperk tot min of meer twaalf.
    Die persone wat dig, moes hulle oorspronklike werk inlewer. Ek het dit dan nagesien, punte toegeken en ’n bloemlesing saamgestel vir bespreking, maar die digters se name weggelaat sodat hulle hulle eie werk kon verdedig of aanval: dit het persoonlike warmte gebring.
    ’n Willekeurige student word aangewys om ’n gedig te ontleed, dan is die debat oop, of soos ek sê, die aandelemark, almal neem deel aan die bespreking en ek ken punte toe. Ten slotte word repliek gelewer en ’n waardeoordeel gegee.
    ’n Mens sou kon sê hoekom nie die werk van ’n groot kunstenaar ontleed nie. Maar dit is gewoonlik ’n kil bedryf. Hier weet die studente die kunstenaars is in hulle midde, dit wek ’n vrugbare spanning, ’n mededinging en die werk lewer uitstekende demonstrasiemateriaal: elementêre foute, swakhede, verleidings e.d.m.
Die werkwyse wat Opperman gevolg het, kan soos volg opgesom word: ’n keur uit die voorgelegde gedigte (met uiteraard minstens een gedig van elke student wat gedigte ingehandig het) is anoniem in die vorm van ’n bloemlesing van ongeveer twintig gedigte ingebind, waarvan elke student ’n kopie ontvang het. Elke student het ’n beurt gekry om as inleier ’n gedig wat Opperman aan hom/haar toegesê het, te bespreek, waarna ’n algemene groepbespreking gevolg het. Wanneer nodig, het Opperman tydens die groepbespreking leiding gegee en aan die einde van die bespreking ’n samevatting gemaak. Die kursusgangers het vir sowel hulle gedig(te) as vir hulle deelname aan die besprekings ’n punt gekry wat in hulle jaarpunt verreken is. Volgens Strydom (1983: 12) was die “eksamenopdrag — tipies D J Opperman — om voor- en nadele van die Laboratorium uit te spel.” Kannemeyer (1986: 327) maak melding van ’n eksamenvraag wat “ ’n vergelyking en ontleding van die gedigte in die betrokke jaar se werkboek” behels het. Dit kom dus voor asof daar nie ’n standaardvraag in die eindeksamen was nie.
    Vir Opperman (1978: 2) was die Laboratorium ’n “praktiese kursus” waar besprekings na aanleiding van bepaalde voorbeelde ontstaan het. Dit impliseer ’n aanpasbaarheid wat grootliks deur die studente en hulle gedigte noodsaaklik gemaak is. In die lig hiervan is dit vandag moeilik om ’n akkurate voorstelling van Opperman se rol as aanbieder van die Laboratorium te maak, aangesien die besprekings verskillende koerse kon inslaan en geen jaargroep waarskynlik dieselfde siening van die Laboratorium sal hê nie.4
    Op 9 Augustus 1978 het Opperman vir die eerste keer in die openbaar nabetragting oor die Laboratorium gehou. Dit het hy gedoen by wyse van ’n lesing, “Letterkundige Laboratorium — 20 jaar” (Opperman, 1978), by die aanvaarding van ere-lidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring op Stellenbosch. In die lesing het Opperman veral uitgewei oor die metodes wat hy in die Laboratorium gebruik en die sake waarop hy klem lê.
    Opperman lei sy kursus in deur aan te toon waarom een teks ’n gedig is en ’n ander een nie. Daarvoor haal hy ’n “In memoriam”-vers uit die Kaapse dagblad, Die Burger, en vergelyk dit met die bekende Middeleeuse “Egidius”-lied (kyk ook Strydom, 1983: 11 en Kannemeyer, 1986: 327).5 In die res van die lesing dui Opperman aan hoe hy die totstandkoming van die kunswerk sien en hoe die skryf van gedigte by studente aangemoedig kan word.
    Hy spreek sy bedenkinge uit oor die rol wat inspirasie in die kuns speel en dui aan hoe belangrik harde werk en deursettingsvermoë by die skryf van gedigte is. Werk alleen kan egter nie sukses verseker nie, want “die primêre is die lewe, die vonk, die insig.” Daarom beskou hy die mens as die “maatstaf vir die binnebou van ’n kunswerk.” Vir die skeppingsproses (of vormgewing) self “is die menslike waarnemingsapparaat oppermagtig.” Daarom is “ ’n kultivering van die sintuie” belangrik, en waarsku hy teen “abstraksies” en selfs teen die bestudering van die filosofie. Saam hiermee noem hy die “verkenning van die woord” en die belangrikheid van taal in die skeppingsproses (kyk ook Spies, 1979: 7).
    Een “versoeking” vir die jong kunstenaar word deur Opperman prominent uitgesonder: Die grootste versoeking van die jong kunstenaar is om te bieg, om te bely; om regstreeks van sy vreugde en sy smart te getuig. Jy ontmoedig hierdie slobberige kwyldrade van die bibberende mond. ’n Mens beveel saam met Nijhoff aan: skryf weg van jou self. Moenie jou mond gebruik om te fluit nie — sy skaal is te beperk: jy kan vir ’n nooi ’n wolfgeluid maak, ’n uilgeluid vir kinders en fluit om die skape aan te jaag. Maar as jy ’n instrument, soos bv. ’n klarinet na jou mond bring, dan kom die fyn wisselende vreugdes en verdriete van ’n Mozart. In die lesing noem Opperman twee bronne wat hy vir sy studente aanveel, naamlik H.A. Mulder se opstel “Die ontstaan van poësie” uit Opstelle oor poësie (1939) en Brewster Ghiselen se bloemlesing, The creative process, met belydenisse deur verskillende kunstenaars oor die skeppingsproses. Sy verwysings na Die Burger, waaruit hy gedigte soos “Klara Majola” en “Draaiboek” gekry het, toon ook hoe belangrik hy self alledaagse gebeure as ’n bron vir die poësie gesien het. Die belangrikheid van lees som hy soos volg op: ’n Woord, ’n teks is ook ’n literêr-historiese situasie. ’n Digter moet binne én buite sy eie woordtradisie lees, en baie lees. Al maak Opperman nie in die lesing daarvan melding nie, is daar besondere getuienis van hoe belangrik hy die tradisie en ’n historiese bewussyn vir die digter en letterkundige gesien het. Hy het naamlik gedurende die sewentigerjare ’n vyftiental opstelle en gedigte oor die poësie uit die wêreldliteratuur versamel, dit eenvormig laat oortik en onder die titel Groot besinnings aan die studente uitgedeel.6 Die inhoudsopgawe van die versameling is soos volg:
  1. Aristoteles (384-322 v.C.): Poëtika
  2. Horatius (65-8 v.C.): Ars Poetica
  3. Dante Alighieri (1265-1321): Convivio-Tractate I. ix-xiii; II. i
  4. Jan van Boendale (1280-1352): Hoe Dichters Dichten Sullen ende wat si Hantieren sullen
  5. Philip Sidney (1554-1586): An Apology for Poetry
  6. William Shakespeare (1564-1616): Theseus
  7. Joost van den Vondel (1587-1670): Aenleidinge ter Nederduitsche Dichtkunste
  8. Percy Bysshe Shelley (1792-1822): A Defence of Poetry
  9. John Keats (1795-1821): My Dear Woodhouse
  10. William Wordsworth (1770-1850): Preface to Lyrical Ballades
  11. Samuel Taylor Coleridge (1772-1834): Answer to Wordsworth
  12. Edgar Allan Poe (1809-1849): The Philosophy of Composition
  13. Walt Whitman (1819-1892): Preface to Leaves of Grass
  14. Willem Kloos (1859-1938): Poëzie is Hartstocht
  15. Paul van Ostayen (1896-1928): Gebruiksaanwijzing der Lyriek
Wat die besprekings in die Laboratorium self betref, het Opperman aan elke student geleentheid gegee om ’n gedig uit die bloemlesing te bespreek. Hierna kon die ander studente aan die bespreking deelneem. Die bewerings wat al gemaak is dat Opperman sy studente in ’n sekere rigting gedwing en die besprekings oorheers het, lyk nie geregverdig nie. Kannemeyer (1986: 327) stel dit soos volg: Dit was Opperman se gewoonte om eers heel aan die einde van ’n bespreking self toe te tree en op ontledings en waarnemings te reageer. Nooit het hy egter probeer om sy eie sienings, oordele of vooroordele aan sy studente op te dring nie. In die besonder het hy daarteen gewaak om sy eie voorkeur uit te spreek waar dit by ’n lewensbeskouing of ’n -isme kom. Oor hoe hierdie bespreking in die klas deur Opperman benader is, laat Strydom (1983: 12) hom soos volg uit: D.J. Opperman het as voorsitter opgetree, vraenderwys koers gegee aan die gesprek, stellings bevraagteken, venynigheid kortgevat, verantwoording geëis, die bespreking samevattend en evaluerend besluit. Volgens Strydom (ibid.: 10) was Opperman se Laboratorium ’n “geïntegreerde onderdeel van sy onderrigprogram.” Vir studente wat in die letterkunde gespesialiseer het, was dit ook ’n volwaardige deel van die Afrikaans-Nederlands III-kursus en daarom het Opperman (soos reeds genoem is) punte vir sowel die gedigte wat deur die studente ingehandig is as vir deelname aan die besprekings toegeken. Dit is opvallend dat hierdie punt altyd uit 10 getel en dat die toekenning van ’n punt met groot besinning en talle verstellings gepaard gegaan het, soos uit die krabbelinge op sy puntelyste blyk. Nie een keer het Opperman ’n punt van laer as 5 uit 10 toegeken nie en ook selde ’n punt van hoër as 7.5 uit 10. (Opperman het later ook in sy keurdersverslae ’n punt uit 10 aan die gedigte toegeken. Hier het die punte van 0 uit 10 tot 10 uit 10 gewissel!)
    Opname van hulle eie werk in die bloemlesing wat in die Laboratorium behandel is, is deur die studente as van besondere betekenis beskou. Strydom (1983: 11) stel dit soos volg: Alhoewel die skrywers se name nie vermeld is nie, was opname in dié “bloemlesing” — net soos keuring vir die Laboratorium — ’n groot uitdaging vir die aspirant-digter, en ’n eerste onderwerping van sy tekste aan die “literatuurkritiek”. Eintlik kan mens sê: D.J. Opperman was ons eerste redakteur, ons eerste uitgewer; opname in sy Laboratorium en die daarmee gepaardgaande “bloemlesing” was ’n eerste doelwit, en van publikasie in iets soos Standpunte of Tydskrif vir Letterkunde was daar — gesien die status, die maatstaf-assosiasie van die Laboratorium — gewoon net nie sprake alvorens jy nie dié eerste mylpaal bereik het nie. As sowel redaksielid van Standpunte as uitgewerskeurder vir Human & Rousseau en later ook Tafelberg het Opperman direkte “toegang” tot die produksie van die literatuur gehad. Talle van sy oud-studente het hierby gebaat, soos uit verskeie keurdersverslae in die Dokumentesentrum van die J.S. Gericke-biblioteek blyk. Dit lyk asof Opperman in die keuring en evaluering van sy studente se werk dieselfde maatstawe nagestreef het as in sy hoedanigheid as uitgewerskeurder, en dit blyk dat hy sy studente daarmee kennis laat maak het.
    Volgens Lina Spies (1986: 48) het Opperman gedurende 1960 die Letterkundige Laboratorium vir die hele derdejaarsklas van ongeveer 80 tot 90 studente aangebied en eers die volgende jaar toe studente kon kies om die klem in hulle studie óf op letterkunde óf op taalkunde te laat val (of om ’n gelyke deel taal- en letterkunde te loop) kon hy sy Letterkundige Laboratorium in die letterkunde spesiaal-kursus in die tweede semester van die derde jaar aanbied.

5    Kursusgroep
Derdejaarstudente (en gedurende 1980 ook tweedejaarstudente) in die Departement Afrikaans-Nederlands wat in letterkunde gespesialiseer het, kon deur voorlegging van eie digwerk (of, by geleentheid, prosa of drama) of op grond van ’n punt van ten minste 60 persent aan die einde van die tweede jaar toelating tot die Laboratorium verkry. Hieruit kan afgelei word dat Opperman ’n tweeledige doel met die kursus gehad het (kyk 3), naamlik om opleiding aan sowel digters as letterkundiges aan te bied. Die tweeledigheid van dié doel is tot dusver nog nie genoegsaam erken nie.
    Volgens Kannemeyer (1986: 326) is die klasse tot sestien of hoogstens twintig studente beperk, wat dit moontlik gemaak het om in die veertien beskikbare periodes aandag aan al die studente se gedigte te gee.
    By geleentheid is daar ook nie-derdejaarstudente tot die Laboratorium toegelaat. Lina Spies (kyk 1986: 48) het die Laboratorium gedurende 1961 as honneursstudent en gedurende 1962 as magisterstudent bygewoon, en volgens Opperman (1978: 8) was Antjie Krog “ ’n ruk lank gasstudent”.
    Die volgende digters, waarvan sommige ook ander genres beoefen en/of letterkundiges is, en almal minstens een digbundel gepubliseer het, was lede van die Laboratorium: Annelise Carstens, Rika Cilliers, Ronel de Goede, Charles Fryer, Joan Hambidge, E W S Hammond, Daniel Hugo, André le Roux, Anlen Marais, Trienke Laurie, Fanie Olivier, Annette Snyman, Lina Spies, Leon Strydom, Etienne van Heerden, Betsie van Niekerk, Marlene van Niekerk, Niel van Tonder en Wium van Zyl. In die bundel Stiebeuel 2 (1965) is ook gedigte van Pieter Fourie, Pieter Harteveld, André Potgieter en Margaretha van der Merwe opgneem, terwyl verse van Robin Hawkins in Visier (1984) verskyn het. ’n Aansienlike getal ander oud-studente van die Laboratorium het tot dusver in tydskrifte poësie gepubliseer, maar nog nie ’n bundel uitgegee nie.
    Oud-studente wat in ander genres as die poësie werksaam is, sluit Danie Botha, Kerneels Breytenbach, Pieter Fourie, Louis Krüger, Frans Marx en Gerrit Olivier in.
    Die volgende letterkundiges was lede van die Laboratorium: E C Britz, Marianne de Jong, Marion Hattingh, Dorothea van Zyl en Louise Viljoen.

6    Evaluering
Die sukses van die Laboratorium kan gemeet word aan die groot aantal studente wat sedert die ontstaan van die Laboratorium skeppende werk (veral digbundels) gepubliseer en/of prominente literatore geword het (kyk 5), of hulle stempel andersins (bv. as uitgewers) op die letterkunde afgedruk het.
    Erkenning vir die werk wat Opperman in die Laboratorium gedoen het, het egter betreklik laat eers gekom. Gedurende 1974, toe die digter se sestigste verjaardag op 29 September gevier is, is daar nie in een van die huldigingspublikasies (kyk Grové, 1974a en Scholtz, 1974) melding van sy rol as aanbieder van die Letterkundige Laboratorium gemaak nie. Voor die einde van die sewentigerjare is daar ook selde na die Laboratorium verwys.
    Opperman (1978: 8) het in sy artikel oor die Laboratorium gemeld “dat daar ’n duidelike Stellenbosse impuls in ons jongste digkuns gekom het.” Na aanleiding van hierdie uitspraak behandel Kannemeyer (1988: 416-436) in Die Afrikaanse literatuur 1652-1987 “Die Stellenbosse impuls en die Letterkundige Laboratorium” as ’n duidelik onderskeibare “faset” van die digkuns van omstreeks 1970 tot hede. Digters wat die Laboratorium bygewoon het se werk word onder hierdie opskrif behandel. Alhoewel ’n mens vrae kan stel oor die sinvolheid van hierdie indeling (word daar bv. rekening gehou met die verskille tussen die digters en die feit dat die Laboratorium benewens digters ook drama- en prosaskrywers en letterkundiges opgelewer het?) en dit voorkom asof dit vir Kannemeyer bloot daaroor gaan dat die betrokke digters lede van die Laboratorium was, is hierdie kanonisering van die Laboratorium nietemin ’n aanduiding van die waarde wat daaraan geheg word.
    Vanuit Opperman se eie digterskap en sy jarelange doseer van byna uitsluitlik poësie was sy werkswinkel veral op die opleiding van digters gerig. As gevolg hiervan is die volgende besware teen die Laboratorium ingebring (maar juis hierin het die Laboratorium se grootste sukses ook gelê):

  • dat dit produktiewer sou gewees het indien dit ook “die probeerslae van aspirant-verhaalskrywers en -dramaskrywers” betrek het (Strydom, 1983: 13);
  • dat dit produktiewer sou gewees het indien dit “binne die logiese raamwerk van literêre kommunikasie” aangebied is met inagneming van die onderskeidende maar in beginsel gelykwaardige funksies van skrywer, leser, resensent en literatuurwetenskaplike (ibid.);
  • dat “Populêre Fiksie” en “Toepaslike Skryfwerk” (soos vir radio en TV, verwerkings vir radio en TV en skoling in die skryf van alle soorte resensies) geen aandag ontvang het nie (Aucamp, 1984: 16); en
  • dat die beperkte tydsduur van een semester, waarbinne die Laboratorium aangebied is, min kans gebied het vir Laboriete om in hulle skryfvermoë te groei (ibid.).
Die positiewe uitsprake oor die Laboratorium lê klem op die waarde wat dit op persoonlike vlak vir digters gehad het en die uniekheid daarvan in die onderrig van die letterkunde.
    Geen Afrikaanse digter het ’n groter skatpligtigheid jeens Opperman en die Letterkundige Laboratorium betuig as Lina Spies nie. In ’n essay, “Waardig vir die bedryf”, in die bundel Ontmoetings (1979), skryf sy oor haar eerste kennismaking as hoërskoolleerling met Opperman, hoe sy hom as derdejaarstudent op Stellenbosch leer ken het, hoe sy deel geword het van sy Laboratorium en op hom as uitgewerskeurder kon steun. Spies (ibid.: 6) som hierdie invloed soos volg op: In my derde jaar het D.J. Opperman ons klaskamer binnegestap en my gelei tot in die kamer van sy hart. Sonder rekenskap, sonder selfbewussyn het ek voorheen sommige ervarings en waarnemings in versreëls gedink en neergeskryf, nou het Dirk Opperman wete en bewussyn gebring: in my was ’n vreemde kreatiewe impuls waaroor ek nie op eie meriete beskik het nie. Dat hierdie invloed ook deur ander digters en deur uitgewers na waarde geskat word, blyk uit die inleiding tot Charles Fryer en Petra Müller se Visier (1984), waarin die volgende vermeld word: Sommige van die digters het kundige leiding ontvang, byvoorbeeld in D.J. Opperman se letterkunde-laboratorium [...] In biografiese aantekeninge oor Robin Hawkins, Anlen Marais en Wium van Zyl word telkens pertinent daarvan melding gemaak dat die digters Opperman se Letterkundige Laboratorium bygewoon het.
    Ook op die agterblad van Anlen Marais se debuutbundel, Die wolf in die blare (1988), word na haar verbintenis met die Laboratorium verwys. Dieselfde gebeur ten opsigte van Betsie van Niekerk se debuutbundel, Ronkedoor (1988). Uitgewers (en digters) gee op hierdie manier erkenning aan die waarde wat Opperman se opleiding in skeppende skryfwerk vir die ontwikkeling van hierdie digters gehad het.
    Ten opsigte van die bydrae wat Opperman tot opleiding in skeppende skryfwerk gemaak het, het Strydom (1983: 13) die volgende uitspraak gemaak: Ek is nie bewus van ’n vroeëre literatuur-dosent in Suid-Afrika wat D.J. Opperman voorgegaan het in die daarstel van ’n Poësie-Laboratorium nie. Klaarblyklik het hy ook in dié opsig, soos in so baie ander, die inisiatief geneem. Kannemeyer (1986: 332) beklemtoon die uniekheid van die kursus en die unieke eienskappe waaroor Opperman as aanbieder beskik het: Die Letterkundige Laboratorium, soos Opperman dit op Stellenbosch aangebied het, was ’n unieke eksperiment op die gebied van die literatuuronderrig in Suid-Afrika. Met sy seldsame verbinding van skerp kritiese vermoëns en digterskap, van intellek en hartstog, was hy die ideale persoon om so ’n kursus aan te bied.

7    Samevatting

Opperman het amptelik aan die einde van 1979 uit die diens van die Universiteit van Stellenbosch getree. Op 21 Augustus 1979 is hy egter deur die Registrateur in kennis gestel dat hy as buitengewone dosent vir die behartiging van die Letterkundige Laboratorium gedurende 1980 aangestel is. Gedurende dié jaar het Opperman naas ’n kursus vir tweejaarstudente hierdie kursus vir die laaste keer aangebied.
    Die Letterkundige Laboratorium is (soos vroeër vermeld) gedurende 1982 deur Lina Spies en gedurende 1983 en 1984 deur Sheila Cussons aangebied. Spies (1986: 50) stel dit eksplisiet dat sy in die aanbieding van haar kursus sterk gesteun het op die metode wat deur Opperman in die Letterkundige Laboratorium gevolg is. Vanweë Spies se aanvaarding van ’n pos aan die Universiteit van Pretoria gedurende 1983 het Merwe Scholtz, wat ná Opperman hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands geword het, Sheila Cussons versoek om die Laboratorium aan te bied. Ook sy het die metode wat Opperman gevolg het byna onveranderd gebruik gedurende die twee jaar toe sy die Letterkundige Laboratorium aangebied het. Die keuse van gedigte vir die bloemlesing is egter deur die Departement gemaak, terwyl studente wat nie Afrikaans-Nederlands as ’n vak geneem het nie ook tot die Laboratorium toegelaat is. Toe sy as gevolg van gesondheidsredes nie meer daarmee kon voortgaan nie, het die Letterkundige Laboratorium opgehou bestaan.7 Ten spyte van Lina Spies se terugkeer na die Universiteit van Stellenbosch gedurende 1988 het die Laboratorium nie weer op dreef gekom nie.
    Eienaardig genoeg is daar ten spyte van die ooglopende sukses van die Laboratorium vir baie jare lank elders in Suid-Afrika geen poging aangewend om Opperman se voorbeeld na te volg in die opleiding van skrywers binne die opset van ’n soortgelyke werkswinkel of “laboratorium” nie. ’n Rede hiervoor mag moontlik wees dat Opperman in ’n groot mate die Laboratorium met sy persoonlikheid “oorheers” het (kyk Aucamp, 1984: 15) en/of dat die navolgbaarheid of toepassingsmoontlikhede van Opperman se werkwyse nie besef is deur individue wat oor sowel sterk ontwikkelde skeppende as kritiese vermoëns beskik nie. Daar is blykbaar nie besef dat Opperman se voorbeeld in ’n individueel aangepaste “model” of “metode” van die voorbeeld en werkwyse van die Letterkundige Laboratorium afgelei kon word nie. Dit wil nietemin voorkom asof digters wat later werkswinkels aan universiteite aangebied het wel hulle aanbiedingswyse in hoë mate geskoei het op die voorbeeld wat Opperman se Letterkundige Laboratorium gestel het (kyk Spies, 1986: 50).
    Waaraan sou die feit dat die Letterkundige Laboratorium aan die Universiteit van Stellenbosch opgehou bestaan het, toegeskryf kan word? Cussons moes die aanbied van die Laboratorium om gesondheidsredes laat vaar, maar waarom is dit nie by Spies se terugkeer deur haar of ’n ander aanbieder hervat nie? Kan dit wees dat die voorbeeld van Opperman te nougeset nagevolg is sonder om vir die aaanbieder se eie persoonlikheid ruimte te laat; of was sy voorbeeld aan die Universiteit van Stellenbosch so “oorweldigend” dat hy moeilik nagedoen kan word?
    Met die Letterkundige Laboratorium het Opperman formele opleiding in skeppende skryfwerk in Afrikaans gevestig. ’n Mens wonder in watter mate die oplewing in opleiding in skeppende skryfwerk sedert veral die tagtigerjare in Afrikaans sonder Opperman se inisiatief en voorbeeld moontlik sou gewees het.

AANTEKENINGE

  1. In Kannemeyer (1993: 53-67) word Opperman se hulp aan Blum bespreek.
  2. In 1993 het Etienne van Heerden, ’n oud-student van Opperman en medeprofessor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Rhodes-Universiteit, ’n honneursmodule in skeppende skryfwerk binne die Departement ingestel wat deur sowel Afrikaanse as Engelse studente bygewoon kan word (kyk Vorster, 1994). Tans bied Van Heerden opleiding in skeppende skryfwerk in die Departement Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad aan.
  3. Opgeneem in Gouws en Roodt (1992: 1-6).
  4. Hierdie indruk is versterk deur uitlatings van oud-studente van Opperman (oa Danie Botha, E C Britz, Charles Fryer, Daniel Hugo en Lina Spies) met wie onderhoude gevoer is.
  5. Die twee voorbeelde wat Opperman gebruik, herinner aan Grové (1974b: 3-4) se vergelyking van ’n strofe uit Ges. 7 met enkele verse uit Totius se beryming van Ps. 8. Grové kom tot die volgende gevolgtrekking: “Dit is [...] nie die sentiment wat die deurslag gee nie. Nee, dis die ordening van gegewens wat die een sitaat bo die ander verhef.”
  6. Die kopieë van die artikels in my besit is in twee lêers versamel. Aan die een kant van die lêer is ’n faksimilee van ’n bladsy uit die handgeskrewe manuskrip van N P van Wyk Louw se “Groot ode” uit Tristia (1962) en aan die ander kant ’n faksimilee van ’n bladsy uit Opperman se Joernaal van Jorik (1949). Volgens Kannemeyer (1986: 326) is hierdie lêers deur Tafelberg en Human & Rousseau verskaf en is dit gebruik om die gedigte in te plaas wat deur die studente tot die Laboratorium bygedra is. Dit kom my egter voor asof die lêer veral vir die Groot besinnings bedoel was.
  7. Inligting verstrek deur Sheila Cussons tydens ’n gesprek gedurende Julie 1985.

BIBLIOGRAFIE

  • Aucamp, Hennie. 1984. ’n Bloudruk vir ’n skryfskool. Tydskrif vir Letterkunde 22(4), November: 9-21.
  • Aucamp, Hennie. 1988. Dink deeglik en dink groot oor “skryfskole”. Die Burger, 17 Maart.
  • Fryer, Charles en Müller, Petra (samests.). 1984. Visier: Agt nuwe digters. Kaapstad: Tafelberg.
  • Gouws, Tom en Roodt, P.H. 1990. (samests.). Kort-kort: 75 ongebundelde kortkortverhale. Pretoria: J.P. van der Walt.
  • Grové. A.P. (samest.). 1974a. D J Opperman — Dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.
  • Grové, A.P. 1974b. Woord en wonder: Inleiding tot die lees van die poësie. Vierde uitgawe, tweede druk. Kaapstad: Nasou. (Eerste uitgawe in 1953.)
  • Kannemeyer, J.C. 1983a. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur: Band II. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg: Academica.
  • Kannemeyer, J.C. 1983b. Die jare toe Maties die voortou geneem het. Rapport, 6 November.
  • Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman: ’n Biografie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
  • Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1652-1987. Pretoria en Kaapstad: Academica.
  • Kannemeyer, J.C. 1993. Wat het geword van Peter Blum?: Die speurtog na die Steppewolf. Kaapstad: Tafelberg.
  • Marais, Anlen. 1988. Die wolf in die blare. Kaapstad: Tafelberg.
  • Opperman, D.J. 1974. Naaldekoker. Kaapstad en Johannesburg: Tafelberg.
  • Opperman, D.J. 1978. Letterkundige Laboratorium — 20 jaar. Tydskrif vir Letterkunde 16(3), Augustus: 1-8.
  • Opperman, D.J. s.j. Monitor. Stellenbosch: J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch. Handgeskrewe Dokument 118.Z.L.D.
  • Opperman, D.J. en Le Roux, F.J. (samests.). 1946. Stiebeuel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
  • Opperman, D.J. en Le Roux, F.J. (samests.). 1965. Stiebeuel 2. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
  • Scholtz, Merwe (samest.). 1974. Woord en wederwoord. Pretoria en Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Spies, Lina. 1979. Ontmoetings. Kaapstad: Tafelberg.
  • Spies, Lina. 1986. Lewe my vers? Tydskrif vir Letterkunde 24(1), Februarie: 39-56.
  • Strydom, Leon. 1983. D.J. Opperman se Poësie-Laboratorium. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 23(1), Maart: 10-13.
  • Van Heerden, Ernst. 1953. Die digterlike beeld, met spesifieke verwysing na die poësie van N.P. van Wyk Louw. Gent: Universiteit van Gent.
  • Van Heerden, Ernst. 1960. “Creative writing” as a university subject. Standpunte 14(1), Oktober: 24-27.
  • Van Heerden, Ernst. 1961. Etikette op my koffer. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Van Heerden, Ernst. 1968. Skeppende skryfwerk nog eens. Klasgids 3(3), Februarie: 65-67.
  • Van Heerden, Ernst. 1988. Die ligtende trein: Outobiografiese vertellings. Kaapstad: Tafelberg.
  • Van Niekerk, Betsie. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.
  • Vorster, Anton. 1994. Leermeester Van Heerden. De Kat 10(5), November: 98-100.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.