SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

The Restless Supermarket en die taalvernuf van Ivan Vladislavic


Andries Visagie

Program vir Afrikaans en Nederlands
Universiteit van Natal
Durban

Bestel nou
by Kalahari.net!
Die selfbewuste manier waarop Ivan Vladislavic die taal in sy nuutste roman The Restless Supermarket hanteer, laat ’n mens onwillekeurig dink aan sy werk as uitgewer. As uitgewer word hy noodwendig te staan gebring voor die eise wat die taal stel en die belangrikheid van proefleeswerk in die voorbereiding van ’n manuskrip. Vladislavic se oortuigende karakterisering van die afgetrede proefleser, Aubrey Tearle, gee blyke van sy uitgebreide persoonlike ervaring as proefleser.

Die konserwatiewe Aubrey Tearle, die verteller in die grootste deel van die roman, het sy hele lewe in Hillbrow deurgebring. Hy het sy brood verdien as ’n proefleser van telefoongidse by die Departement Pos en Telekommunikasie. Tearle kyk met misnoeë toe hoe sy omgewing verander namate die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing in die vroeë jare negentig voltrek word. Die stedelike verval in Hillbrow kring ook uit na die Café Europa waar Tearle en sy enigste oorblywende gespreksgenoot, Martinus Theodosius (oftewel “Empty”) Wessels, graag kuier. In Desember 1993 moet die Café Europa egter sy deure sluit en Wessels besluit om ’n afskeidspartytjie te reël. Met die oog op hierdie geleentheid voltooi Tearle sy “lewenstaak”, ’n toets vir proeflesers genaamd “The Proofreader’s Derby”, wat hy opdra aan Merle Graaff, ’n afgetrede bibliotekaresse teenoor wie hy vroeër ’n toegeneentheid ontwikkel het in die Café Europa. “The Proofreader’s Derby” is ’n teks wat Tearle saamgestel het uit al die skryffoute wat hy oor die jare versamel het. Die uitdaging aan die proeflesers sou wees om al die foute op te spoor en te korrigeer.

Aubrey Tearle word voorgestel as ’n beterweterige suurknol wat almal rondom hom met ’n neerbuigende minagting bejeën. Hy verdedig sy kritiese ingesteldheid soos volg: “My one aim has been to raise standards of conduct and thought […]. I have always tried to set an example” (259). Hy beskou sy eie behoefte aan menslike kontak as ’n teken van swakheid en selfs wanneer Merle afskeid neem van haar vriende in die Café Europa, beweer Tearle dat hy haar geselskap “te veel” geniet het en dat hy daarna uitsien om terug te keer na sy ou weë (175). Sy “Proofreader’s Derby” is die skuiling waar hy toevlug vind wanneer die wêreld en die mense met wie hy kontak het, hom teleurstel.

Tearle se meerderwaardigheid word ondermyn sonder dat die leser alle simpatie met die hoofkarakter verloor. In sy gereelde briewe aan die Star oor allerlei beuselagtighede word Tearle byvoorbeeld ontmasker as ’n bemoeisieke persoon met ’n swak oordeelsvermoë. Selfs die ruwe Errol met sy straatwysheid beweer die “old tawpy […] doesn’t know what goes for what” (177).

Tearle baseer sy gevoel van meerderwaardigheid onder meer op sy goed-ontwikkelde woordeskat. Met ’n mate van hoon bestudeer hy die omgangstaal wat rondom hom gebesig word. Vir die leser word dit egter duidelik dat die gesoute proefleser ook gereeld foute maak, veral wanneer dit by Suid-Afrikaanse name en woorde kom wat nie in die Oxford English Dictionary verskyn nie. Sy vriende skep groot behae daarin wanneer hulle ontdek dat hy onder die indruk is dat mnr Mandela (“Comrade Mandela”) se naam Conrad Mandela is. Met ’n verwysing na blanke Suid-Afrikaners soos Tearle merk die karakter Darlene op: “(I)t was amazing how the very people who thought they knew everything about the world knew nothing about their own country” (168). Darlene en haar vriende verlustig hulle ook in die ontdekking van ’n spelfout op die trofeebeker wat Tearle aan die wenner van sy “Proofreader’s Derby” wou skenk.

Aubrey Tearle se onwrikbare oortuiging dat hy die enigste handhawer van hoë standaarde is te midde van algemene verval, kom soms pateties voor. Een van die mees verontluisterende tonele is die beskrywing van Tearle wat deur die strate loop met sy dokumente in ’n supermarktrollie. Met ’n skok besef hy dat die verbygangers hom assosieer met die boemelaars wat dikwels hulle karige besittings in trollies vervoer: “These scavengers had turned the trolley into a symbol of want rather than plenty. Had I become one of them?” (116). Met hierdie soort tonele slaag die skrywer daarin om die leser se simpatie vir Tearle te wek as basies ’n weerlose ou man.

So ook word die humor in die roman, wat meestal spruit uit Tearle se waarnemings van sy medemens, gebruik om die leser se identifikasie met Tearle as verteller te handhaaf.

Dit is egter sy toewyding aan die ideaal om ’n toets vir proeflesers op te stel wat die meeste bewondering afdwing. Al is slegs enkele van sy gespreksgenote daartoe in staat om waardering te hê vir sy “Proofreader’s Derby”, is hy tot in die slot van die roman daartoe verbind om sy projek deur te voer.

Die karakter van Aubrey Tearle vervlak nooit tot dié van ’n bloot knorrige ou wysneus nie — sy skerp waarnemings en sy welsprekendheid lok die respek uit van sy medekarakters en uiteindelik ook die leser.

Die gekorrigeerde weergawe van die “Proofreader’s Derby” word aangebied as die verrassende tweede deel van die driedelige roman. Die “Proofreader’s Derby” is geskryf as ’n verbeeldingryke kortverhaal waarin Tearle sy lewensfilosofie op ’n aanskoulike manier uiteensit. Noukeurige proefleeswerk word voorgestel as die voorwaarde en grondsteen van orde en voorspoed in die samelewing. Die kolletjie op die letter “i” word as voorbeeld voorgehou:

Dotting one i might be regarded as a mere punctilio, and failing to do so dismissed as a trifle. But all the dots left off all the i’s accumulate, they build up, they pack together like a cloud over a field of stubbly iotas. Soon there is a haze of them in every hollow, and the finer distinctions begin to evade us. In the end, the veil of uncertainty grows so thick that everything is obscured (207).

In Tearle se verhaal word die oorsprong van die geografiese chaos in die fiktiewe stad Alibia teruggevoer na die verwaarlosing van proefleesstandaarde. Knope, geboue, strate en selfs volledige woonbuurte skiet los van hulle vertroude plekke en word op ’n geheimsinnige manier verplaas na ander dele van die stad.

’n Winkel met die onvanpaste naam “The Restless Supermarket” is egter die begin van die herstel van orde. Alibia se proeflesers slaag daarin om die “rustelose” kruideniersware in die winkel tot rus te bring, waarna alles in die stad weer na die normale orde terugkeer. Die chaos in die supermark het voortgespruit uit die onbesonne naamgewing van die winkel: die taal bepaal die werklikheid en dit is slegs die meesters van taal en spelling — die proeflesers — wat herstel kan bring. Uiteindelik word die belang van noukeurige proefleeswerk in Alibia as ’n werksaamheid van uiterste belang erken.

Dit word ’n uitdagende spel om na te gaan hoe elemente van Tearle se lewe in Hillbrow in “The Proofreader’s Derby” neerslag vind. Die chaos wat Alibia tref, vertoon parallelle met die sosiale en politieke “wanorde” wat Tearle in Suid-Afrika op die vooraand van die eerste demokratiese verkiesings waarneem en wat in deel drie van die roman nogeens ten tonele gevoer word met die aanval op Tearle en Spilkin. Errol en sy vriende se diefstal van die Hillbrow-toring uit Miniland (’n miniatuurweergawe van Johannesburg) is moontlik ook die inspirasie vir die geografiese verplasings in Alibia (118).

Alibia is verder ook Tearle se naam vir die muurskildery van ’n saamgestelde Europese stad in Café Europa. Dit word vir hom die versinnebeelding van “beskaafde” Europese waardes. Sy identifikasie met Alibia blyk onder meer uit sy herkenning van sy eie kaal kroontjie in die muurskildery. Wanneer die afskeidspartytjie in die laaste deel van die roman begin skeefloop, vind Tearle ontvlugting in fantasieë oor die ordelike en idilliese Alibia, wat “elders” beteken in Latyn. Die fantasiestad word die “elders” waarvan Tearle as ’n boorling van Hillbrow slegs kon droom.

Vladislavic skep verder ’n subtiele parallel tussen Tearle en Dumbo, die pienk olifant van veselglas wat dien as advertensie vir die Jumbo Liquor Market in Hillbrow. Tearle voel, net soos Dumbo, ontuis in sy veranderende omgewing. Die Walt Disney-boek Dumbo and the Pachyderms from Alpha Centauri (29) impliseer verder ’n stryd tussen Dumbo en die dikvelliges van Alpha Centauri, net soos Tearle sy eie stryd teen die onverfynde inwoners van Hillbrow ervaar as ’n stryd teen dikvelliges terwyl sy eie vel steeds dunner word (170). Net soos Dumbo aan die begin van die roman word Tearle in die slot onteer wanneer hy met politoer swart gesmeer word. Selfs sy oë agter sy bifokale lense lyk net so groot soos dié van Dumbo wat ’n permanente verbaasde uitdrukking op sy gesig het.

The Restless Supermarket is ’n boek wat met groot elegansie geskryf is en die leser se toegespitste aandag vereis weens die fyn hantering van die taal. Soms gee Vladislavic hom egter oor aan lank-uitgerekte beskrywings van gesprekke tussen die karakters, of hy laat toe dat Aubrey Tearle se uitgebreide besinnings oor proeflees die vaart van die roman kortwiek. Verveling tree dus plek-plek in, veral in die eerste deel van die roman.

Vladislavic se roman is nietemin ’n dwingende ondersoek na die mentaliteit van blankes in Suid-Afrika. Is Aubrey Tearle se (rasse)meerwaardigheid nie tekenend van baie blankes se houding teenoor swart Suid-Afrikaners nie? En is sy naïewe bewondering van Europa ook nie tipies van blanke Suid-Afrikaners se verheerliking van die Europese leefwêreld nie? Is sy geloof in die handhawing van ongespesifiseerde waardes en standaarde nie tekenend van baie wit Suid-Afrikaners se onkritiese aanklewing van westerse norme en standaarde as universeel geldig nie?

Die slotsin van The Restless Supermarket beskryf Tearle se waarneming van die flikkerende liggies vanuit swart townships as “squirming and wriggling and writhing, like maggots battening on the foul proof of the world”.

Net soos in die geval van Disgrace van JM Coetzee ontstaan die vraag hier of Vladislavic die konsekwent kultuurpessimistiese stem van sy hoofkarakter uiteindelik laat saamval met die outeurstem in die roman. Die tergende vraag wat die leser aanspoor tot verdere besinning, is of die slotsin slegs Tearle se visie weergee, of (ten minste gedeeltelik) ook dié van die outeur. Die leeservaring van die roman kom dus nie noodwendig met die slotsin tot ’n einde nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.