SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Reaksie op Luc Renders se NP van Wyk Louw-gedenklesing

Peter Louw

Vergun my om te reageer op Luc Renders se onlangse Van Wyk Louw-gedenklesing, wat as ’n artikel oor “Die dramatiese werk van NP van Wyk Louw: met volk-wees as inspirasie” op LitNet se SeminaarKamer verskyn het.

In die artikel bespreek Renders die verskillende dramas en hoorspele, vind hy weinig goeds daarin en kom hy tot die gevolgtrekking dat “die literêre verdienstes van Van Wyk Louw definitief nie in sy dramatiese oeuvre lê nie”, onder meer omdat die dramatiese werk vanuit ’n nasionalistiese perspektief geskryf is oor temas wat net vir die Afrikanergemeenskap relevant is.

Dat van Louw se dramas nie onproblematies is nie, is lankal bekend en dus ou nuus. In Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Deel I (1978), skryf John Kannemeyer, ná ’n gedetailleerde en dikwels kritiese bespreking, ter samevatting dat Louw se dramatiese werk van ongelyke gehalte is en veral strukturele gebreke toon, hoewel hy met sy hoorspele in nuwe rigtings geëksperimenteer het en met Germanicus ons belangrikste versdrama tot op hede lewer.

Louw self het hom in die eerste plek as ’n digter beskou, en nie sonder rede nie staan daar ooreenkomstig sy instruksies op die koperplaat in die Braamfontein Krematorium se gedenktuin, waar sy as uitgestrooi is, die woorde “N.P. van Wyk Louw, digter 1906 — 1970”. Hy was bewus van sy beperkinge as dramaturg en het laat in sy lewe in baie opsigte ongelukkig gevoel met wat hy op hierdie gebied bereik het.

Met verloop van tyd het die strukturele gebreke waaroor Kannemeyer in 1978 geskryf het, miskien duideliker na vore getree. So byvoorbeeld is Louw se karakters inderdaad dikwels personifikasies van idees eerder as persoonlikhede, en veral die vrouekarakters neig tot stereotipering. Sekerlik is dit ’n geldige vraag in welke mate die dramatiese werke vandag nog opvoerbaar is (of weer opvoerbaar gemaak kan word deur onder meer verkorting en verwerking).

’n Mens kry egter die indruk dat Renders hom foutvinderig daarop instel om Louw as dramaturg te debunk, uiters veralgemenend te werk gaan en daardeur nie reg laat geskied aan veral die belangrikste werke soos Germanicus, Dias en Die pluimsaad waai ver nie.

’n Beswaar teen Renders se lesing is dat hy klaarblyklik in streng kompartemente van drama en poësie dink en dus glad nie die poësie in Louw se dramatiese werk raaksien nie of anders stilswyend afkeur. So byvoorbeeld is die fragment “O wye en droewe land” uit Die dieper reg vandag ’n bekende aanhaling in die Afrikaanse wêreld, maar nêrens gee Renders blyke dat hy waardering vir hierdie of die poësie in byvoorbeeld Germanicus het nie. Ons lees en waardeer die Shakespeare-dramas immers tog ook vir hul gelaaide poësie, sonder om die opvoerings altyd te wil sien; net so behoort Germanicus ook geléés te word.

’n Ander probleem is Renders se politieke bevooroordeeldheid, wat sy bespreking van onder meer die opdragstuk Die pluimsaad waai ver, wat ter geleentheid van die Republiekfeesviering in 1966 geskryf is, taamlik verwring. Renders het wel ’n punt beet as hy beweer dat van die historiese werke soos Die dieper reg en Pluimsaad die tekens toon van die tyd waarin hulle geskryf is. Opperman het reeds in Digters van Dertig (1953) gewys op die fatale gebreke van Die dieper reg; en net so sal ’n moderne leser of toeskouer, ná die jongste historiese studies oor die rol en posisie van swartmense tydens die Anglo-Boereoorlog, dit moontlik hinderlik vind dat hierdie aspek nie genoeg aandag in Pluimsaad kry nie.

Renders gaan egter veel verder en beskou Pluimsaad as ’n pleidooi tot die Afrikaner om saam te staan, en as “miopies gerig op die belange van die Afrikanervolk ... ’n Omvattender Suid-Afrikaanse en historiese invalshoek sou onvermydelik ’n ander kyk op volkswording genoodsaak het ... dit ontbreek aan ’n breër historiese perspektief.” Renders se “breër historiese perspektief” is in werklikheid ’n geglobaliseerde, liberale perspektief wat die individu vooropstel eerder as die volk of gemeenskap.

Louw, aan die ander kant, was die volksbetrokke, liberaal-nasionalistiese skrywer in ’n klein en bedreigde volk en taal, ’n skrywer wat, soos president Steyn in Pluimsaad, pynlik bewus was van die swakhede in daardie volk én in homself, wat sy rol as skrywer in die eerste plek gesien het as ’n verpligting teenoor sy onmiddellike taalgemeenskap — die Afrikaners, nierassig gedefinieer — maar sonder om medemenslikheid en vreedsame naasbestaan met die ander volke in Suid-Afrika op te offer. Vergelyk byvoorbeeld sy idee van “voortbestaan in geregtigheid”, wat so ’n kernaspek van sy politieke filosofie was. Renders se onvermoë om tot Pluimsaad deur te dring hou verband met sy onvermoë om breër te kyk as sy eie liberale individualisme.

Renders se maatstawwe is in ander opsigte verwronge. Hy vereis naamlik dat ’n drama “antwoorde” moet bied en “duidelik” moet wees. So kla hy dat die slotsom van Louw se Die held “onduidelik en problematies” is. En by sy bespreking van Die val van ’n regvaardige man betreur hy dit dat die hoorspel meer vrae as antwoorde oproep, en pleeg hy die volgende veralgemening: “Die hoorspel illustreer boondien (sic) wat die fundamentele probleme met die dramatiese werk van NP van Wyk Louw is, nl die gebrek aan ’n prinsipiële standpuntinname en die vaagheid van die standpunte wat ingeneem word.” So asof die lewe altyd duidelik is en alle vrae altyd beantwoord kan word. Die doel van Die held is tog klaarblyklik onder meer dat die skrywer die luisteraar of leser aan die dink wil kry oor die problematiese begrip heldedom. Was die hoofkarakter werklik ’n held? Hy het wel sy lewe opgeoffer, maar was die dryfveer vir hierdie “heldedaad” nie dalk lafhartigheid nie? Dit sou dalk heldhaftiger gewees het om die werklike feit van sy kriminaliteit te aanvaar en daarmee te leer saamleef.

Ook moet ’n skrywer, volgens Renders, klaarblyklik ’n “eenheid van visie” hê wat Louw dan nie sou hê nie: die dramatiese tekste word nie “saamgesnoer” nie en fungeer as afsonderlike tekste — “Dis eers uit die vergelyking tussen die dramas dat die onduidelikhede, inkonsekwenthede en teensprake duidelik na vore kom.” Is dit ’n vereiste om so ’n eenheid van visie te hê? Hier toon Renders sy onbegrip van Louw se gedagtewêreld. Louw het dikwels na die werklikheid verwys as ’n veelvlakkige diamant wat telkens ’n ander skynsel bied, afhangende van die hoek waaruit jy dit bekyk.

Louw het volgens Renders nie ’n “vaste eties-morele kode” nie en “wisselende standpuntinnames” wat Renders dan uiteindelik kunsmatig verbind aan Louw se nasionalistiese oortuiging: “Volkswording is dan die finale toetssteen, nie die eis van ’n eties-morele optrede nie.” Hoe rym dit met Louw se bekende stelling dat dit vir ’n volk beter is om onder te gaan as om in ongeregtigheid te bly voortbestaan? Die wisselende standpuntinnames hou eerder verband met Louw se vraende, soekende, onseker aard en antwoorde wat altyd voorlopig eerder as finaal is.

Daarbenewens is die wisselende standpuntinnames ook deels die gevolg van Louw se ontwikkeling as denker; so is die verwikkelde argumente in Germanicus vér verwyderd van die simplistiese wêreld van Die dieper reg. Renders toon weinig begrip vir Louw se ontwikkeling en gebruik die wisselende standpunte bloot om die skrywer af te skiet.

Renders beweer dat die dramatiese temas nie buite die Afrikanerwêreld relevant is nie. Waar kry ’n mens ’n internasionaal relevanter tema as in Dagboek van ’n soldaat, waar dit gaan oor die reg om teen ’n tirannie in opstand te kom? Dink maar aan Zimbabwe vandag. Net so moes die beskuldigings van die slaaf Clemens in Germanicus teen die keiser en teen Germanicus self talle ondersteuners van die vorige Suid-Afrikaanse bewind ongemaklik in hul stoele laat rondskuif het — die algemeen geldende argumente in die stuk slaan egter op die verhouding heerser-onderdrukte oral ter wêreld. Wat van die universele tema van Asterion, wat handel oor die gevare van die drang tot volmaaktheid? En so kan ’n mens aangaan.

Renders vereis klaarblyklik van Louw dat lg se dramas ’n openlike aanval op die apartheidsonregte moes gewees het. Hy bied egter self ’n antwoord: “Of was hierdie problematiek net te delikaat om in alle openheid binne die Afrikanergemeenskap behandel te word?” Renders skryf hier vanuit die maklike en gerieflike wysheid van terugskouing op ’n geheel ander era, ’n tyd toe die Afrikanergemeenskap inderdaad in groot mate geslote was, ’n onverdraagsame en hegemoniese tyd toe andersdenkendes vinnig as volksvyande geëtiketteer is en hul invloed verloor het.

So ’n etikettering sou vir Louw, met sy intense liefde vir en verbondenheid aan sy volk met ál sy swakhede, ondraaglik gewees het, veral waar hy sy nek reeds baie ver uitgesteek het en deur die destydse regses verdag gemaak is — iets wat hom bitter seergemaak het. Die reaksie op onder meer sy pleidooi vir gelyke regte vir die bruinmense, sy deelname aan die betoging teen aparte universiteite in 1959 saam met ander Wits-dosente en -studente, en die groot botsing met Verwoerd na aanleiding van Pluimsaad, dui op die klimaat in daardie tyd. (As Pluimsaad reeds so ’n herrie veroorsaak het, hoe groot sou die reaksie nie op ’n skerper aktualiteitstuk gewees het nie!) Dit het hom in elk geval die argwaan van die regering op die hals gehaal. In daardie omstandighede, en met sy gesondheid ná sy hartaanval in 1961, sou dit vir hom moeilik gewees het om hom skerper oor die politiek uit te spreek. Met sy kunstenaarsintuig het hy klaarblyklik in elk geval onregstreekse politieke kommentaar (in kleurryke historiese dramas soos Germanicus) verkies eerder as die harde aktualiteitsdrama wat weens die onmiddellikheid van tyd en plek so maklik in politieke skrilheid verval eerder as om kuns te word.

Soos Jaap Steyn in sy biografie van Louw aantoon, was daar ook tot in die laat jare sestig by talle Afrikaanse intellektuele die hoop dat “groot apartheid” — billike partisie — nog behaal sou kon word en het hulle verkies om die pad van hervorming van binne af eerder as openlike uitdaging te loop.

Dit behoort egter nie nodig te wees om Louw hier te verdedig nie. In die literêre tradisie waarin ek opgelei is, was dit ’n aartssonde om voorskriftelik te wees, om ’n skrywer te verkwalik oor wat hy nié geskryf het nie. Renders steur hom nie aan hierdie konvensie nie en matig hom die soort kritiek aan wat ’n mens eerder in Stalin se Rusland sou verwag het.

Ten slotte: Renders se beskouing hou moontlik verband met sy beperkte bronnelys. Hy het wel die oorspronklike dramas gelees en noem ook Steyn se biografie, maar daarmee het hy volstaan. Hy het dit nie nodig geag om die talle studies wat spesifiek oor Louw se dramas handel, of selfs maar net Kannemeyer se literatuurgeskiedenis, te bekyk nie. ’n Wyer studie oor wat ánder mense oor die dramas gesê het, sou moontlik voorkom het dat Renders hom skuldig maak aan die talle misvattings en veralgemenings in sy artikel.

Peter Louw is ’n seun van N P van Wyk Louw.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.