SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Vrae moet gestel word

Jean Meiring

Enkele van my gedagtes oor die KKNK 2003

Die volgende weke, selfs maande, sal ’n tyd van nabetragting en besinning wees vir diegene betrokke by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat in 2004 haar tiende jaar beleef.

Baie mense werk baie hard aan dié jaarlikse geleentheid. Hul dikwels onbetaalde en onbedankte ywer vereis juis dat kritici hulle nie patroniseer nie, maar hul pogings baie ernstig opneem. ’n Mens dra nie handskoene as jy met ’n ander bladskud nie.

Indringende vrae behoort gestel te word om te bepaal hoe suksesvol die afgelope fees — en die agt voor dit — was; wat oor die byna tien jaar bereik is; waar veranderinge aangebring behoort te word. Trouens, van dié vrae is reeds tydens vanjaar se fees by ’n gespreksforum van kunstenaars en, breedweg bejeën, die feesbestuur geopper.

Die fees kan alleen baat vind by oop en kritiese bespreking van probleme en moontlike oplossings. Oor die weg hierheen, en die pad vorentoe.

Een van die vernaamste probleme waarmee die KKNK te kampe het, is die spanning tussen die ernstige kunste — wat sentraal in die oprigting daarvan gestaan het — en populêre vermaak, wat dreig om die fees te kaap. Baie sê die fees moet gewoon aan behoeftes voldoen: solank daar ’n vraag is na geblikte musiek en brassery, moet daardie vraag bevredig word. Dis egter so, word teruggekap, dat die KKNK in ’n land waar die teater en klassieke musiek onder lewensdruk verkeer, ’n groter en moeiliker plig het.

Baie — onder wie ook ek — glo dis die KKNK se verantwoordelikheid om gehore op te voed en om mee te werk om ’n mark vir die ernstiger kunste te skep en te bestendig: ja, ’n bepaald programmatiese rol. Dié is tog ten minste in naam ’n kunstefees, eerder as ’n kultuurfees, iets meer verwaterds.

Die vraag is dan: Wat maak ’n mens van dit wat verlede week op Oudtshoorn gebeur het? Hoeveel substansie was daar tussen al die geraas, gefuif en blinkgepoetste gesigte op lamppale?

Ekself was grootliks teleurgesteld. Die redes vir my teleurstelling volg.

Die teateraanbod, wat ek vir die feeskoerant Krit gedek het, was nie waffers nie. Daar was weinig vuurwerke, weinig oorrompelende gewaarwordings. Slegs enkele stukke was enigsins van wêreldgehalte. Waarom dan? wonder ’n mens. Seer sekerlik moet die KKNK, na byna ’n dekade se bou, sterker vertoon? Seer sekerlik moet ’n mens hier meer snydende, oopklowende teater sien?

Enersyds het die KKNK op enkele uitsonderings na nie die venue-infrastruktuur om tegnies eersteklas-produksies te akkommodeer soos wat byvoorbeeld die geval is by die bekende Shakespeare- en Shaw-feeste in Kanada, of die Edinburgh-fees nie. Die meeste sale en “teaters” op Oudtshoorn is skuuragtig; en dis tog vreemd dat daar oor die afgelope dekade nie meer belê is in die uitbou van venues en tegniese infrastruktuur nie. Teater is skouspel; sonder iets selfs so eenvoudigs soos ’n sitplekstellasie word dit al hoe moeiliker om teatermatig ten volle te slaag.

Andersyds het die KKNK nie die wil om, soos die Grahamstad-fees, by uitstek eksperimentele, gruis-en-grint-teater te bedryf nie. Afrikaners mag plesierig wees, maar as dit kom by intellektuele waagmoed, suig hulle aan ’n agterder speen.

Tussen dié twee uiterstes probeer die fees almal tevrede te stel. Dít, weet ons, is gewoonlik ’n gevaarlike paadjie om te loop.

Maar laat ek meer spesifiek op vanjaar se aanbod kommentaar lewer, om my punte te illustreer.

Aan die onderpunt was daar op die Rimpelfees, in verskeie kategorieë — maar vernaam in Drama, Nie-ernstige Musiek, Kabaret en Musiekteater, en in Woordkuns en Poësie — aanbiedings wat op geen fees hoort nie. Trouens, ek het vanjaar twee of drie produksies gesien wat so verbysterend onprofessioneel en kinderlik was dat ek gedink het hulle vergestalt ’n ironiese spel met die gehoor: “Wanneer gaan die gehoor vir ons, kledylose keisers, begin lag?”

Die betrokkenes mog gegrief gewees het deur wat hulle ervaar het as bitsig afwysende resensies, maar in eerste en laaste instansie moet gehore gewaarsku word teen “kunstenaars” wat hul geld en tyd mors. Waarom moet Afrikaanses benede-peil-”kuns” soos jellie en room opvreet as kunstefeeste elders nie sulke droesem sou duld nie?

Groot gewag is by vanjaar se fees van die eerste Nagtegaal-wedstryd vir nuwe tekste gemaak. Vier van die finalistekste is op die Hooffees opgevoer.

Man (S.nw.), die Nagtegaal-naaswenner, is die verhaal van ’n oudonderwyser wat onlangs sy vrou aan die dood afgestaan het. Eendag daag daar ’n jong man by sy voordeur op wat jare gelede in sy klas was en wat ook een van sy twee verloopte seuns se vriende is. Die stuk poog om in drie realistiese grepe die ontknoping van die verhouding tussen die twee mans weer te gee.

Ongelukkig is die storielyn uit die staanspoor onrealisties en ongeloofwaardig. Ook is die hantering van die tema van gay seksualiteit sentimenteel en geyk. Dieselfde terrein is al op soveel meer interessante wyses in Engelse en ander letterkundes bekyk.

Gesplete tong deur Schalk Schoombie is ’n veel meer geslaagde teks, al word die belofte van die eerste klompie minute nie ten volle gerealiseer nie. Hier, voel ’n mens, is ’n teks wat meer eise aan die gehoor stel, en wat ’n mens veel langer bybly. Tog vermoed ’n mens dit sou baie baat vind deur ’n werkswinkel-slypproses deur te maak. Dis stellig te lank en ontbreek ietwat aan ’n stygende dramatiese lyn.

Die wendrama, Koggelmanderman, deur die Hertzog-pryswenner Pieter Fourie, is ’n interessante en moeilike teks. Op die verhoog werk dit egter nie so goed as wat ’n mens gehoop het nie: daar is tereg opgemerk dat die teks veel beter sou werk as ’n opera-libretto. Vir die dramaverhoog is die spanning tussen die redelik banale basisnarratief en die beeldstellasie wat daarop rus, te groot. Tog is hierdie teks veel nader aan dit wat ’n mens van ’n nasionale wedstryd soos dié verwag.

Ek het self nie die kabaretwenstuk 10 gesprekke oor die man wat nie wou huil nie, gesien nie. Tog het ek by talle teatergangers en resensente verneem dat dit teleurstellend voorspelbaar en saai was.

Daar ontstaan dus ernstige vrae oor die Nagtegaal-prys. Behoort die wyse waarop dit bedryf word, nie verander te word nie? Sou dit nie, soos ek ook in Krit voorgestel het, beter werk as dit die lees gebruik van die skrywerontwikkelingsprogram van die bekende Royal Court-teater in Londen nie? Dáár word deurgaans nuwe tekste ingewag; en tekste wat gekeur word, word aan ’n werkswinkelproses onderwerp. Geselekteerdes word professionele “rehearsed readings” gegee. Vier of vyf nuwe tekste word per jaar ten volle opgevoer.

Maak dié sisteem nie juis in die Afrikaanse teater uiters baie sin nie? Ons het dan juis min geld en min nuwe jong stemme. ’n Geherkonsipieerde Nagtegaal-wedstryd sou ’n veel beter belegging in die voortbestaan van die Afrikaanse teater wees.

Waarmee die KKNK-besluitnemers ook rekening moet hou, is dat nuutheid (dikwels sonder enige beduidenis van vernuwing) allermins met kwaliteit gelykgestel kan word. Nuwe tekste is op sigself geen prestasie nie. ’n Gevolg van die wegkwyn van die streekskunsterade en die opbloei van die kunstefeeste is juis dat Afrikaanse gehore afgesluit geword het van die wêreldteater. Strindberg, Tsjechof en Brecht — om maar enkele name te noem — beteken bitter weinig vir jong Afrikaanse gehore.

Dit sou wat my betref ’n ware prestasie wees — ’n ware teken van volwassenheid as fees — as die KKNK, ter viering van haar tiende jaar, ’n opdrag aan iemand soos Antjie Krog of Henning Pieterse gee om ’n nuwe Afrikaanse vertaling van een van die groot Shakespeare-dramas te maak. Ja, dit ís ’n uitdaging: “Gee asseblief volgende jaar vir ons Koning Lear, of Macbeth, of Hamlet. Of stellig Titus Andronicus. In rinkelende Afrikaans.

Op vanjaar se fees was ’n vertaalde werk immers wéér die grootste hoogtepunt. Teaterhoogtepunte was dun gesaai: Mamma Medea was een van die min. Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se teks is versengend mooi en ontroerend. Marthinus Basson se regie en ontwerp het iets onvergeetliks daarvan gemaak.

Saartjie Botha se Tip! is ’n knap, veelvlakkige teks, veel meer volwasse as haar vorige stuk, Spanner. Regisseur Christine Truter se potensiaal, waarvan sy verlede jaar in bok-bok staan styf blyke gegee het, het vanjaar gerealiseer.

Kanna hy kô hystoe was ’n belangrike item op vanjaar se feesprogram, nie alleen omdat dié dikwels hooggeprese teks van Adam Small min opgevoer word nie, maar ook omdat die kwessie van “bruin identiteit” op vanjaar se fees onder die loep geneem is. Die produksie was nie foutloos nie, maar het tog ’n goeie geleentheid gebied vir gehore om ’n belangrike deel van die Afrikaanse kanon te leer ken.

Wat Woordkuns en Poësie betref, was vanjaar se oes saai en Eisteddfodagtig. Juanita Swanepoel se twee produksies was so te sê die enigste beduidende aanbiedinge. Wanneer sal die samestellers van sulke programme die nuwer Afrikaanse poësie ontdek en gebruik? Selfs die So is ek Gebek-span van die Universiteit van Stellenbosch, van wie ’n mens tog uitdagende keuses en interessante samevoegings van verse verwag, het dekades gelede se opgewarmde brood-en-botter-poering opgedis. Nee.

Die enigste werklik verrassende en verblydende ontwikkeling op die gebied van verhoogkuns op vanjaar se fees was die veel sterker komedie-aanbod. Vir die eerste keer was daar heelwat uitdagende, intelligente, vernuwende komedie. Vir die eerste keer was daar twee stukke wat byna-byna as volwaardige stand-up kon deurgaan: Zebulon Dread se Hotnotsgot! en Lindie Stander se Man-alleen.

Beide kunstenaars kon effe aan hul aanbiedings gesny het, en ’n mens wou heelwat meer gehoor-interaksie in albei stukke sien, maar … hier is een van die min aspekte van die fees wat werklik opwindend was. Die feesbestuur behoort na dese ’n venue spesifiek vir stand-up te skep en dit as sodanig te bemark. Daar is duidelik ’n behoefte onder Afrikaanses vir dié gesofistikeerde kunsvorm.

Gee vir ons geruite rooi-en-wit ronde tafeltjies met ’n bottel wyn of twee op elk; gedempte lig, netjiese beligting, ’n lae verhogie en ’n goeie klanksisteem. Werf dan oor die volgende jaar ’n line-up van tien of vyftien stand-up-komediante. Nooi dan ook sommer die Kaapstadse fopdossers van Mince (self vernuftig met stand-up en, buiksprakig ofte not, meer professioneel as baie van die “kunstenaars” op die KKNK) om elke aand se laatnagprogram in dié venue met hope gehoorinteraksie af te sluit.

Op dié wyse sal die KKNK ook daarin slaag om, soos die Edinburgh-fees, ’n bepaalde identiteit aan sekere venues te gee. Laat Die Prater, om ’n voorbeeld gewoon uit ’n hoed te trek, saans die stand-up-lokaal word. Kies ook ’n ruimte wat by uitstek met uitdagende nuwe skryfwerk geassosieer word.

Verbind ook ’n lokaal spesifiek met studenteteater: ja, dit ís nodig dat studente weer op die fees toegelaat word. Twee van die meer interessante en uitdagende aanbiedings vanjaar was juis ten minste deels die werk van Stellenbosse studente: Gewas en As jy blind is hoe weet jy wanneer om jou sigaret te ash?.

Gee ook asseblief vir ons meer grensverbrekende teater. Vrugteloos was my gesoek na iets wat kon volg in die kielsog van verlede jaar se poëtiese en aweregse installasiestuk, 110 Meter.

Ook meer peripatetiese hansworse. Narre — opsetlik — op straat. Eerder as — per abuiserig — op gratis en goedkoop verhoë.

Ook asseblief meer poësie. Op bekgevegverhoë en by monde van verguldes soos Wilma Stöckenstrom, Johann de Lange, Joan Hambidge.

Meer fut, asseblief. Minder vet.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.