SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Jammer, suster, jou onderrok hang uit

Max du Preez

Beste Dorothea

Ek is nie juis verbaas dat jy nou skaam-kwaad is oor die Roodt-debakel en self wil klappe uitdeel en politiek wil maak nie. Die hele affêre is immers die gevolg van jou onbesonne besluit om aan 'n man wie se uitlatings diepe weersin by alle normale mense wek, 'n platform op Stellenbosch Universiteit se Woordfees te verskaf net omdat hy kwansuis entertainment value sou hê.

Ek is wel verbaas dat jy nou die waarheid buig oor hoe die kritiek op jou uitnodiging openbaar geraak het, en dat jy ook op die simplistiese vryespraak-wa spring terwyl jy mos moet weet dis nie die issue nie. Of is jy regtig arrogant genoeg om te sê jy kan enige besluit neem oor hoe die Woordfees moet verloop, en as enigiemand jou besluite bevraagteken, is hulle nie ten gunste van vrye spraak nie?

LitNet het my laasweek gevra om aan hul Pleister-debat oor die forum vir Roodt deel te neem. Dit is hoe ek daarvan kennis geneem het dat Roodt by twee geleenthede by die fees gaan optree en dat daar mense op Stellenbosch is wat beswaar maak. LitNet het Roodt se braaksel oor swart mense en kriminaliteit ("Adapt and Die") aan my gestuur as agtergrond. Soos ek dit gelees het, het die walging en verontwaardiging in my opgestoot.

Roodt is nie 'n nuwe verskynsel nie. Hy kom al 'n hele paar jaar met sy verspottighede, maar dit het die laaste tyd in aggressiwiteit en aanstootlikheid gegroei. "Adapt and Die" is 'n voorbeeld. Soos ek aanvanklik gesê het, dit is amper per definisie haatspraak: om erg negatiewe karaktertrekke aan 'n hele gemeenskap, 'n rasgroep, toe te dig bloot weens die feit dat hulle velkleur swart is. Dit is mos inderdaad wat Hitler van die Jode ook gesê het: hulle is inherent boos en kan nie daarvan ontsnap nie. As dit nie "haatspraak" is nie, wat is?

Nadat ek dit klaar gelees het, het ek dit met my vrou en twee goeie vriende bespreek en vir hulle gesê my gevoel is ek moet hier 'n standpunt inneem: wat te erg is, is te erg. Nadat ons dinge van 'n paar kante bekyk het, het hulle saamgestem dat dit korrek sou wees vir my om van die fees te onttrek as 'n persoonlike gebaar van protes. Ek het jou Dinsdagoggend per epos van my onttrekking in kennis gestel.

Intussen het LitNet vir my bydrae tot die Pleister-debat gewag. Ek het my brief aan jou later vir LitNet aangestuur en gesê hulle moet niks daarmee doen voordat jy tyd gehad het om die brief te lees nie. Ses uur of meer nadat ek dit vir jou gestuur het, is dit toe op LitNet geplaas in die plek van my bydrae tot die debat.

Was dit nou 'n "dwaalvuishou" soos jy in Rapport sê? Probeer jy suggereer my onttrekking en die beswaarmakers se kritiek sou "uit die pers" gehou gewees het as ek nie my brief vir LitNet gestuur het nie? En as jy dan so 'n kampvegter vir vrye spraak en die uitwisseling van idees is, hoekom wou jy so 'n belangrike kwessie dan uit die openbare oog, "uit die pers", soos jy aan Rapport sê, hou?

Dit is jammer dat jy nou so oorreageer en my daarvan beskuldig dat ek nie meer 'n "onafhanklike, kritiese denker" is nie en die Stellenbosse beswaarmakers "eggo". Gelukkig is ek lank genoeg in die land om dié aanklag nie regtig ernstig op te neem nie. Die President se kantoor, die ANC se apparatsjiks, die Demokratiese Alliansie, die mondstukke van die nuwe swart elite en die regse Afrikaanse establishment sê ook gereeld na aanleiding van my politieke rubrieke in vier koerante dat ek nie meer onafhanklik en krities is nie.

Wat is daar aan my aanvanklike verduideliking vir my onttrekking wat jy nie verstaan nie? Ek lewe bloot my eie reg op vrye denke en spraak uit deur te sê ek wil nie vereenselwig word met 'n geleentheid wat so 'n verwerplike haatstoker verhef tot 'n intellektuele debatvoerder en deur aan hom 'n forum te gee, sy aanstootlikhede verder vir hom versprei nie. En ek "eggo" niemand anders se standpunte nie - ek ken nie die Stellenbosse beswaarmakers nie en het geen kontak met hulle nie. Ek het ook nie hul besware of beredenerings gesien voor ek my brief aan jou gestuur het nie.

Laat ek maar herhaal: Roodt en andere op die lunatic fringe mag maar sê wat hulle wil. Ek sal self kwaai beswaar maak as iemand hulle wil verbied om hul onwelriekende menings uit te spreek. 'n Fees soos julle s'n moet ook nie wegskram van kontroversie nie en behoort ook geen waarde aan politieke korrektheid te heg nie. Dit moet gaan oor menings, ontledings en insigte van oraloor om werklik die naam Woordfees waardig te wees.

Maar Roodt is 'n ekstreme geval. Met sy woorde en dade het hy homself die laaste jaar of wat, en met "Adapt and Die" sonder enige twyfel so, self uitgeskakel om langer as 'n redelike mens en 'n rasionele debatvoerder beskou te kan word. (Kan jy jou indink dat Cambridge Universiteit die Grootmeester van die Ku Klux Klan 'n platform op 'n intellektuele fees sou bied om oor sy "lewensfilosofie" te gesels?)

Miskien moet ek die politieke bedompigheid tussen die Stellenbosse berge die skuld gee eerder as om jou te blameer dat jy ongelooflik onsensitief is oor wat kolonialisme en apartheid werklik aan Suid-Afrika se mense, swart, wit en bruin, gedoen het. Ek is bereid om te aanvaar dat jy eerder naïef as kwaadbedoelend was toe jy gedink het dit sou goed wees om 'n debat by die Woordfees te voer oor swart Suid-Afrikaners se minderwaardige genetiese samestelling wat van hulle moordenaars en verkragters maak. Miskien lees jy net Die Burger en is hul rubriekskrywer Leopold Scholtz jou hoofbron van politieke insig, so ek moet dalk nie verwag jy weet watter byna onherstelbare skade fundamentalistiese rassisme soos dié van Roodt aan Afrikaans en Afrikaners se saak - en rasseverhoudinge in die algemeen - in Suid-Afrika doen nie.

Maar ek aanvaar nié jou stelling dat Roodt se politieke sienings vir jou irrelevant is en dat jy hom net as skrywer genooi het nie. Só kondig jy Roodt se bydrae in die Woordfees-program aan: "Sedert sy debuut in 1980 met Sonneskyn en Chevrolet, tot die onlangse verskyning van Moltrein, het Dan Roodt meer as skrywer geword. Hy is ook 'n aktivis vir Afrikaner-regte, met sterk en dikwels omstrede opinies soos: ''n skrywer moet die slegte gewete van sy tyd wees'. Johann Rossouw gesels met hom oor sy boek en sy lewensfilosofie."

"Meer as skrywer"? "Lewensfilosofie"? Jammer, suster, jou onderrok hang uit.

Oor jou verwysings na Vrye Weekblad en sy nalatenskap net dit: jy het óf nie Vrye Weekblad destyds gelees nie, óf jy het dit heeltemal verkeerd verstaan. Ja, ons het hard baklei dat stilgemaakte stemme gehoor moet word - daardeur het ek as redakteur kriminele veroordelings onder die destydse Wet op Binnelandse Veiligheid, die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en ingevolge die Noodtoestandregulasies versamel. Ons het destyds ook debatte aan die gang gesit oor die aandrang op 'n volkstaat en selfbeskikking vir Afrikaners en talle ver-regses se menings daaroor ingewin, want die Afrikaanse koerante het destyds ook die regses geïgnoreer.

Maar vrye spraak was nie vir ons 'n abstrakte konsep nie. Ons het, saam met baie ander, baklei vir 'n einde aan rasse-oorheersing, rassisme en onderdrukking, vir die vryheid en menswaardigheid van alle burgers en vir 'n oop, verdraagsame en progressiewe demokrasie. Die meeste van dié drome is in 'n groot mate bereik, hoewel daar nou weer gevaarligte begin flits waarteen ek weekliks in my rubrieke waarsku (gaan lees gerus laasweek s'n in die Cape Argus of The Star oor die heersende politieke kultuur in die ANC).

Maar by Vrye Weekblad het ons nie gestry vir 'n soort gemeenskap waarin belangrike nasionale instellings soos universiteite onsensitief staan jeens die diepste gevoelens van die groter bevolking nie. Ons het juis teen denkrigtings en ideologieë soos dié van Dan Roodt gestry - dit was juis mense soos hy wat aan apartheid destyds sy sogenaamde intellektuele basis verskaf het. Ek respekteer sy konstitusionele reg om webwerwe en chat rooms te bedryf en om briewe te skryf en protesvergaderings te reël. Maar ek verwag dat jy en ander wat nou skielik so hoog opgee oor die demokrasie, my reg ook sal respekteer om met woord en daad aan te hou veg teen daardie soort rassisme en bose pseudowetenskap.

Ek en Roodt is nie vreemdelinge vir mekaar nie. Ek en hy het terloops net laas Vrydagaand oor die radio gedebatteer. Cape Talk/702 Talk Radio het my so effe met 'n slenter gevang deur my te nooi om my onttrekking te verduidelik, en toe moes ek uitvind Roodt is ook aan die lyn. Ek het vir Roodt gesê presies wat ek in my brief aan jou gesê het: dat hy 'n walglike white supremacist en 'n aanstootlike rassis is wat die saak van die Afrikaanse taal en die mense wat dit praat, oneindig skade aandoen. Soos ek verwag het, het hy natuurlik eers probeer ontken wat hy in "Adapt and Die" en daarna geskryf het. Maar later het sy belangrikste argument geword dat 'n Vrystaatse fotograaf-vriend eendag vir hom gesê het een van sy swart werkers het aan hom gesê as swart mense 'n mens of dier doodmaak, doen hulle dit met erge wreedheid om sodoende die voorvaders plesier te gee. Só moet ons ons swart landsburgers verstaan. Is dit die soort debatte wat jy dink hoort op my alma mater se hoogs gerekende Woordfees, Dorothea? Want dit is mos sy "lewensfilosofie" wat jy wou hê hy moet oor gesels, nie waar nie?

My liewe Dorothea, ek verstaan jy kon moeilik ná jou uitnodiging vir Roodt sê hy's nie meer welkom nie. Maar jy kon ten minste jou oordeelsfout erken het. En jy kon jou daarvan weerhou het om nou die valse vlag van vrye spraak oor my protes teen jou oordeelsfout te hys en my goeie trou te bevraagteken.

Ek weet jy het dit nie so bedoel nie, maar jou uitnodiging aan Roodt en jou optrede daarna het Afrikaans, Afrikaners en jou universiteit lelike skade berokken. Ek dink die eerbare weg sou wees om ná die komende fees te bedank sodat iemand anders volgende jaar met 'n skoon lei kan begin.

Groetnis

Max



LitNet: 1 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.