SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Kompaspolitiek: oor die spanning tussen lokale en globale ruimte te midde van globalisering

Johann Rossouw

Die publikasie van hierdie artikel is moontlik gemaak met die steun van MWU-Solidariteit, en ek bedank hulle graag vir hul bystand.


Ter inleiding

Globalisering. Die woord is op elke lip, veral elke Westerse lip, om nie te praat van elke suidelike lip wat om Westerse hulp smeek nie. Maar waar is die Weste? As ons geglobaliseer is, het ons nie langer rigtings nie. Wie het ’n kompas nodig as elke ruimte globaal is? Waarom reis, waarom jou oriënteer as “oral” enige plek is? (Sometime Anywhere is die evokatiewe titel van Australië se belangrikste rock-groep, The Church, se eerste CD wat ná die val van die Sowjetunie verskyn het, laasgenoemde synde ongetwyfeld van kardinale belang in die verheffing van die woord globalisering tot die status van mantra.)

En tog, net toe ons ons eie mantra wou begin glo, verskyn ’n paar Midde-Oosterse “terroriste” wat die rigting van ’n paar Amerikaanse vliegtuie verander ten einde hulself uit te wis op die Amerikaanse Ooskus, in die simboliese hart van die Verenigde State van Amerika, die land wat die sentrum van die Weste is. “Set the controls for the heart of the sun,” het Pink Floyd, die rock-groep wat Westerse selfvernietiging meer as enige ander ondersoek het, reeds in 1967 op hul album A Saucerful of Secrets gesing. En dan is daar ook nog daardie mees chirurgiese kritikus van die moderne VSA, Laurie Anderson, wat in 1981, net voordat cowboy Ronald Reagan opgesaal het om die Wilde Ooste (eerder as die historiese Wilde Weste) te verower, in “Oh Superman” gesing het: “They’re American planes” (Big Science, 1981).

Ja, dit is Amerikaanse vliegtuie gevlieg deur Midde-Oosterse boodskappers, opgelei deur Amerikaners bo die Amerikaanse Ooskus, wat die meesleurende ritme van die wêreld wat “Globalisering, globalisering” dreunsing, versteur het. En weer is die oosgerigte cowboy met ons, hierdie keer in die figuur van George W Bush, wat die ou Westerse metafoor van die kruistog oproep (’n cowboy op ’n kruistog: dít is ’n besondere ommekeer van etlike histories betekenisvolle rigtings). Dit is boos omdat dit globaal is. Dit is goed omdat dit globaal is. Daar is nie meer ’n rooi gevaar onder die bed nie. Die gevaar is nou in die lug.

Ons is volledig gedisoriënteer. Waar is ons kompas?

* * *

’n Kompas, so weet ons, word gebruik om rigting in ’n onbekende streek te bepaal. Maar die rigting waarom dit hier gaan, is nie sommer enige rigting nie. Nee, noord is ’n rigting wat kultureel betekenisvol is. Wie die wêreld wil onderwerp, kon dit vir lank nie sonder ’n kompas doen nie. Wie die wêreld wil onderwerp, moet minstens in ’n oogwink kan weet waar noord is. Die tye toe mense se lewens van die kompas afgehang het, lê vandag ver in die verskiet. Nie omdat die kompas nie meer nuttig is nie, maar omdat dit so nuttig is dat dit volledig geïntegreer is in ons alledaagse stel instrumente.

In volume drie van sy La technique et le temps omskryf Bernard Stiegler die begrippe kalendariteit en kardinaliteit soos volg:

… — die kalendariteit skandeer die maatskaplike lewe deur die kosmiese ritmes in ’n rituele simboliek in te skryf: die kalender as sodanig, maar ook die hele poel van lokale singulariteite wat deur gedragsprogramme, maatskaplike sinchronieë en hul lokale diachronieë gevorm word;
… — die kardinaliteit trek die grense van gebiede, beperk die representasies en vorm die oriëntasiesisteme en die navigasie-instrumente in ruimte sowel as in tyd (vanaf die seekaart tot die thesaurus en die indeks, tot die skoolhandboek en eiename - van strate en stede sowel as persone, wat dus eweseer kardinale as kalendêre elemente is. (Stiegler 2001, p 183)

Hierdie aanhaling verdien om eers van nader beskou te word, voor ons kan terugkeer na die kompas waarmee ons ons in hierdie besinning oor globalisering oriënteer, naamlik die kompame as beeld en sy gesitueerdheid tussen die bekende en die onbekende, die lokale en die globale, die hier en die daar.

Wat die kalendariteit betref, merk ons op dat Stiegler dit verbind aan die “hele poel van lokale singulariteite”. Kalendariteit is dus nie sommer die tydsritme in die algemeen nie, maar die spesifieke ritmes van die lokale. Die kalender waarom dit hier gaan, is self geen neutrale universele tydsinstrument nie. Ons weet dat die groot antieke beskawings (die Inkas, die Egiptenare, die Babiloniërs, ens) telkens onderskei is deur ’n eie kalender. So ’n kalender is bepaal deur die son, die maan, die seisoene, die siklusse van plant en oes, van jag en aanbid. Al is elkeen van hierdie verskynsels universeel, is hulle telkens binne verskillende beskawings in eie kalenders gerangskik. Wat ook hiermee verband hou, is die verskynsel waarvolgens die verowering van een gebied deur ’n ander dikwels met die afdwinging van ’n nuwe kalender gepaard gaan.

Wanneer Stiegler verder van gedragsprogramme praat, verwys hy na die lewenspatrone wat die lokale tydsritme telkens aan ons oplê. In Rome maak jy soos die Romeine, lui die ou spreuk. Hierdie waarheid het in die Romeinse Ryk gegeld, net soos wat dit vandag te midde van globalisering geld. Want een van die kenmerke van die globaliseringsproses is dat dit ’n nuwe globale kalendariteit wêreldwyd op alle lokale ruimtes afdruk. Ons sal later in groter besonderhede na hierdie verskynsel terugkeer. Vir die huidige doel van die argument is dit egter belangriker om daarop te let dat wat en wanneer mense eet, hoe hulle aantrek, wat en wanneer hulle aanbid, wat hulle op feesdae vier en wanneer, ens, telkens ingegee word deur wat Stiegler gedragsprogramme noem. Die gedragsprogramme is nie totalitêre prosesse waarmee individue as ‘t ware soos klone na die beeld van hul lokale ruimte geskep word nie, maar eerder tradisionele lokale maniere van wees en doen wat deur die gemeenskap aan hulle oorgelewer word in skole, kerke, universiteite, en so meer.

Dit is juis omdat Stiegler hierdie gedragsprogramme nie as totalitêr aanbied nie, dat hy praat van “maatskaplike sinchronieë en hul lokale diachronieë”. Die maatskaplike sinchronie is die tydelike buitelyn, terwyl die lokale diachronie die spesifieke manier is waarop elke individu uiteindelik hierdie buitelyn vul. Om ’n voorbeeld uit die Afrikaanse wêreld te gee: terwyl die Anglo-Boereoorlog die afgelope drie jaar deur ’n verskeidenheid Afrikaanse instellings gevier is, het elke Afrikaanse individu uiteindelik besluit of en hoe hy aan hierdie vieringe wil deelneem.

Wat die kardinaliteit betref, kan ons weer kyk na die volgende woorde: “die kardinaliteit trek die grense van gebiede, beperk die representasies en vorm die oriëntasiesisteme en die navigasie-instrumente in ruimte sowel as in tyd.” Die kardinaliteit is niks anders nie as mense se sin van rigting soos wat dit deur ’n verskeidenheid tegnieke, instellings en instrumente aan hulle binne hul lokale ruimte oorgedra word. Ons almal onthou van kindsbeen af hoe ons geleer is dat die San rigting bepaal deur ’n natgelekte vinger in die wind te hou, of hoe ons geleer is dat as ons met sonop met uitgestrekte arms in die rigting van die son kyk, noord sal wees waar ons regterhand is. Of dat noord altyd bo op ’n kaart is. Natuurlik is oos waar die son opkom en wes waar hy ondergaan, maar hoe hierdie feite telkens binne ’n bepaalde kultuur vertolk en gebruik word, is waarna Stiegler met kardinaliteit verwys.

As ons terugkyk oor die geskiedenis, is dit opmerklik hoe lokale kalendariteite en kardinaliteite geleidelik verminder is ten gunste van ’n globale kalendariteit en kardinaliteit. Natuurlik het hierdie proses veral sedert die sestiende eeu baie te doen met die opkoms van Westerse tegniek. Deur hierdie tegniek kon sendelinge die wêreld oor vervoer word, of kon landbouprosesse geüniversaliseer word, of kon finansiële instellings gestandaardiseer word. Dat die ganse planeet ’n bietjie meer as twee jaar gelede die nuwe millennium gevier het, is maar een voorbeeld van hoe die Joods-Christelike Westerse kalendariteit geglobaliseer is. Insgelyks is die wens wat onlangs uitgespreek is vir die skepping van ’n internasionale ouditstandaard, tekenend van hierdie proses.

* * *

Wat het kalendariteit en kardinaliteit met die kompas te doen? Dit: naamlik dat die kompas, ten minste binne die invloedsfeer van die Westerse tradisie, die verlenging van lokale kalendariteit en kardinaliteit in vreemde landskappe is. Lank voor satelliettelefone was die kompas die verlenging van die lokale ruimte in die onbekende. Deur die kompas saam met my die vreemde landskap in te neem, neem ek ’n stukkie van die kalendariteit en kardinaliteit van my lokale ruimte saam met my. Die kompas was vir ’n lang ruk by uitstek die virtuele band met die ruimte van herkoms, die oombliklike herinnering aan die verplaasbaarheid van my oorspronklike kardinaliteit en kalendariteit. Ja, die kompas hou nie net met kardinaliteit verband nie, maar ook met kalendariteit, want dit is wanneer my ruimte van herkoms ’n tydvak van uitbreiding of verkenning moontlik maak, dat ’n instrument soos die kompas vir lank onontbeerlik was.

“Noord is altyd bo.” Wat beteken hierdie woorde?

Ten eerste is noord altyd die nulpunt van die kompas. Ten tweede voer die ryk Noorde die botoon oor die arm Suide. En dit natuurlik veral binne die proses wat vandag as globalisering bekendstaan. Maar in ’n derde sin beteken die woorde, “Noord is altyd bo”, eintlik te midde van globalisering niks meer nie, en wel omdat ons binne die huidige proses van globalisering ’n wêreldwye homogenisering meemaak. Hierdie homogenisering betrek verskillende lewensfere waaroor al heelwat die afgelope dekade of wat in Afrikaans en elders geskryf is: die liberale demokrasie word alom as politieke model omarm; die neoliberale markekonomie en die gepaardgaande verheerliking van die mark as maatstaf vir haas elke lewensterrein, van universiteite tot kerke; die groeiende standaardisering van tegniese middele; die opkoms van ’n globale verbruikerskultuur, ens. As ons dus sê dat dit nie meer iets beteken om te sê dat noord altyd bo is nie, sinspeel ons op die ingrypende disoriëntering wat die huidige tegnowetenskaplike rewolusie veroorsaak.

Een van die blikpunte waaruit hierdie disoriëntering bedink kan word, is as ’n ongekende uitdaging aan die kalendariteite en kardinaliteite van alle lokale ruimtes. Vir die res van hierdie besinning oor globalisering sal ons probeer om ’n ontleding van globalisering te ontwikkel aan die hand van die wisselwerking tussen lokale en globale ruimte in die globaliseringsproses. In die proses sal ons probeer om aan te toon dat die globaliseringsproses ons aan die begin van die 21ste eeu voor ’n onontkombare politieke vraag stel, naamlik: Hoe moet ons dink oor gemeenskap teen die agtergrond van die skeiding tussen gemeenskap en gebied wat in die globaliseringsproses voltrek word?

Om ons weg vir die res van hierdie verkenning te vind, sal ons die volgende roete volg. Ten eerste sal ’n definisie van globalisering voorgestel word. In die definisie sal ons veral klem lê op globalisering as ’n ruimtelike proses. Ten tweede sal ons probeer om aan te toon wat ’n lokale ruimte is. Ten derde sal die ontstaan van ’n globale ruimte te midde van globalisering beskryf word. Ten vierde sal ons vra of die huidige globale ruimte wel as ’n ware, geleefde ruimte kwalifiseer. Ten vyfde sal die verskillende aspekte van die oorgang vanaf lokale na globale ruimte toegelig word. Ten sesde sal die rol van taal in die politiek van die toekoms bespreek word, en dan veral as plaasvervanger vir gebied in die skepping van gemeenskap. In die sewende en laaste plek sal enkele notas oor die Nuwe Afrikaanse Beweging as eksperiment in die nuwe politiek van globalisering gemaak word.


1. Wat is globalisering?

Oor globalisering is en word geweldig baie gesê. Dit kan met reg beweer word dat globalisering vandag die postmodernisme as modebegrip van die denke onttroon het. ’n Verskeidenheid faktore het meegewerk in die sentraalstelling van die begrip globalisering. Ons stip hier die belangrikste faktore aan:

  • die ineenstorting van die Sowjetunie in Desember 1991, wat die ou verdeling van Oos en Wes opgehef het en gelei het tot praatjies oor ’n nuwe wêreldorde, hernieude hoop op ’n wêreld wat nie langer deur ideologie verdeel word nie en die opkoms van die ekonomie eerder as die politiek as sentrale terrein van wedywering

  • die asembenemende vooruitgang wat in die twintigste eeu met vervoermiddele gemaak is en die gepaardgaande relativering van ou ruimtelike beperkinge op ons beweeglikheid

  • die opkoms van die kommunikasiebedryf, wat daartoe gelei het dat die modernste samelewings vandag kommunikasie- eerder as vervaardigingsekonomieë het

  • die vooruitgang in die wetenskap en die immergroeiende internasionale samewerking in velde soos die biologie, die fisika en die geneeskunde

  • die ontstaan van ’n globale kuns- en vermaaklikheidsbedryf wat aan popsterre ewe veel gesag as aan politici toeken.

    Uit die aard van die saak kan enigeen van hierdie faktore deur ’n vernuftige ontleding as sentrale motor van globalisering uitgelig word, net soos wat daar waarskynlik ook nog ander faktore is wat ons nie hier aangestip het nie. Soos enige universele verskynsel stel nadenke oor globalisering besondere eise aan ons analitiese vermoëns, en is die ontleding wat ons hier aanbied, ook ten beste voorlopig. Dit is op sigself nie ’n slegte ding nie, want soos ons teen hierdie tyd weet, is voorlopigheid die toestand van die verkenner, veral as dit by die universele kom.

    Van verdere belang in ons besinning oor globalisering is dat die proses nie nuut is nie. Reeds in die 17de eeu verklaar ’n onbekende Italiaanse skrywer:

    Die kommunikasie tussen mense is so uitgebrei op die aardbol dat ons kan sê dat die aarde prakties soos een stad is waar ’n permanente mark gehou word waar alle denkbare handelsware te kry is, en waar enigiemand, sonder om sy huis te verlaat, deur middel van geld sy behoeftes kan vervul en kan geniet van dit wat die aarde, diere en menslike arbeid voortbring. Wat ’n wonderbaarlike uitvinding! (George 2001, p 21)

    Op sy beurt skryf niemand minder nie as Immanuel Kant in die 18de eeu:

    Met die gemeenskap … gevorm deur die volkere van die aarde, wat globaal in so ’n mate uitgebrei is dat elke aantasting van die reg op een plek op die aarde in alle plekke gevoel word, is die idee van ’n planetêre reg geensins ’n fabelagtige, vergesogte wyse om die reg voor te stel nie, maar ’n noodsaaklike teenhanger van die ongeskrewe kode, sowel vir burgerlike as gemene reg, in die lig van menseregte in die algemeen en van ewigdurende vrede wat slegs op hierdie voorwaarde bereik kan word. (Kant (1795) 2001, pp 28-29).

    Dit is dan ook nie vreemd dat heelwat skrywers vandag wys op die oerbronne van globalisering, vanaf Michel Serres tot Pierre Lévy, nie. Laasgenoemde beweer byvoorbeeld in sy voorlaaste boek, World Philosophie, dat die huidige globaliseringsproses verstaan kan word as die derde en finale fase in ’n reuse historiese wêreldproses. Volgens Lévy was die eerste fase die ontstaan van die mensdom; die tweede fase die verspreiding van die mensdom oor die aardbol vanaf die einde van die Neolitiese tydperk; en die huidige tydperk die hereniging van die mensdom via globalisering. Lévy kwalifiseer sy voorstel deur daarop te wys dat hy nie wil sê dat alle mense gelyk is in hierdie hereniging nie. Die spanning tussen die hereniging en ongelykheid probeer hy met ’n nuwe politiek hanteer in sy jongste boek, Cyberdémocratie.

    Vir die doeleindes van ons argument volstaan ons egter deur te sê dat die huidige globaliseringsproses veral gekenmerk word deur die grondige herdefiniëring van ons ervaring van ruimte, en wel in so ’n mate dat alle lokale ruimtes vandag meegesleur word in die opkoms van ’n globale ruimte. Die skepping van ’n globale ruimte is in verskeie konkrete verskynsels te sien: deur die internet word bykans alle plekke ter wêreld in een groot netwerk geskakel; die finansiële markte van die wêreld beweeg in die rigting van ’n ononderbroke mark wat bes moontlik skofte in Hongkong, Londen en New York sal hê; met eietydse vervoermiddele kan enige punt ter wêreld binne die bestek van ’n paar uur bereik word; multinasionale maatskappye het ’n al hoe groter invloed op alle lokale ruimtes; die politieke gebeure in die globale brandpunte het gevolge ver buite die plekke waar hulle afspeel, ens.

    Die woord globalisering suggereer die omvorming van die wêreld tot ’n eenheid. Die Franse woord mondialisation sê dit eintlik beter. Monde is die woord vir “wêreld”, sodat mondialisation letterlik “die skep van ’n wêreld” beteken. Ons weet dat die begrip wêreld sedert Heidegger van besondere betekenis in die filosofie is, dat ons bestaan as ’n in-die-wêreld-wees beskryf kan word. Die Heideggeriaanse denker Jean-Luc Nancy wys dan ook in sy jongste werk, La création du monde ou la mondialisation, dat die begrip wêreld in hom ’n dubbelsinnigheid dra: enersyds is die wêreld dit wat altyd reeds aan ons gegee is, maar andersyds vra die wêreld altyd om nog geskep te word. Hierdie dubbelsinnigheid is eintlik vanselfsprekend: ons is by wyse van dit wat deur die ander, deur taal, deur tradisie aan ons oorgedra word, maar hierdie oordrag is in sy wese krities van aard - dit wat aan ons oorgedra word, moet krities ontvang en toegeëien word. Wat oorgedra word, is lewend, en maak dus in die beweging van oordrag nuwe moontlikhede oop.

    Dit is presies waarom die huidige globaliseringsproses soveel politieke energie ontketen, want wat vandag op ’n histories ongekende skaal aan alle mense wêreldwyd oorgedra word, die inhoud waarmee ons wêreld gevul word, is nie noodwendig dit waarmee ons ons wêreld wil skep nie. Ons kan dus verstaan dat wat vandag in die sentrum van die nuwe politieke verdelingslyn staan, lank nie meer die stryd om verskillende ideologieë is nie, maar presies die vraag na watter soort wêreld ons wil hê. Die globaliseringsproses is dus tegelykertyd die radikaalste moontlikheid tot die skepping én vernietiging van die wêreld, van ons leefwêreld, van die planeet, maar ook van die blote moontlikheid om in die wêreld te wees. As die wêreld self nie meer ’n moontlikheid is nie, maar ’n voldonge feit, word ons diepste menswees bedreig.

    Van hierdie fatalistiese feitepolitiek is daar vandag talle voorbeelde: die rektor van Stellenbosch wat in ’n onlangse artikel die verengelsing van daardie universiteit as ’n feit aanbied en suggereer dat beleid in die verlenging van hierdie feit moet staan; die feitelike sukses van ekonomiese deregulering in sekere sektore, wat dan as maatstaf vir alle lewensterreine aangebied word; of die feitelike aanvalle van 11 September op die VSA, waarvandaan ’n vergesogte oorlog teen terrorisme skielik as beleid aan die res van die planeet opgedwing word. In elkeen van hierdie gevalle word die gebrekkige beskrywing van ’n situasie ook sommer as voorskrif aangebied. Die groeiende alomteenwoordigheid van die onaanvaarbare is nie rede tot die bevestiging daarvan nie, maar tot die uitdaging daarvan.

    Soos ons aangevoer het, gaan die politieke verdelingslyn in die globaliseringsproses vandag om watter soort wêreld ons wil hê. Breedweg word twee wêreldbeelde vandag as alternatiewe aangebied:
    Aan die een kant is daar die neoliberale wêreldbeeld waarvolgens die wêreld na die beeld van die mark herskep moet word en die besluite wat mense se alledaagse lewens raak, aan anonieme bestuurders uitgekontrakteer moet word. ’n Hele arsenaal van legitimeringspraktyke vir hierdie model is beskikbaar, soos marknavorsing, statistiek, meningsopnames, strategiese planne en wat nog: alles tegnieke waarmee ’n positiwistiese skyn aan fundamenteel ondemokratiese praktyke verleen word.

    Aan die ander kant is daar die kollektiewe wêreldbeeld, waarvolgens die wêreld na die beeld van diversiteit ingerig moet word. Die besluite wat mense se lewens raak, moet deur mense self geneem word, vandaar dan ook die opkoms van die nuwe burgerlike bewegings wat Foucault en Habermas reeds in die jare tagtig geëien het, maar wat vandag nuwe lewe gekry het in die wêreldwye koalisie vir ’n vorm van globalisering wat mense se demokratiese aansprake op die erkenning van hul belange verreken. Ons wil ons in hierdie besinning oor globalisering met hierdie wêreldbeeld vereenselwig, en daarom wil ons ’n omskrywing van globalisering voorstel wat tegelykertyd as politieke ideaal aangebied word: Globalisering is die skepping van ’n globale ruimte waar die lokale ruimtes van die planeet in beginsel geskakel kan word in ’n universele ruimte bewoon deur ’n universele menslike gemeenskap.

    Uit die aard van die saak moet hierdie definisie onmiddellik gekwalifiseer word. Die universele menslike gemeenskap waarvan hier gepraat word, is nie die ideaaltipiese neutrale verbruiker van die neoliberale mark nie, net so min as wat dit die verlore sondaar van die Christendom of die werker van die Marxisme is. Nee, waarom dit hier gaan, is die gemeenskap wat vandag wêreldwyd teen wil en dank gevorm word deur die universele, homogene proses van neoliberale globalisering wat van ons almal modelverbruikers wil maak. Die universele menslike gemeenskap is daarom nie ’n ware universeel nie; dit is alles wat die universele verbruiker nie is nie. Die universele menslike gemeenskap is daar waar diversiteit, vryheid, andersheid en die ondefinieerbare kollektief uiting vind. Ons vind hierdie uiting konkreet in die beweging vir ’n kollektiewe vorm van globalisering wat besig is om ’n al hoe groter impak op wêreldpolitiek te maak. Die universeel waarom dit hier gaan, is die weerstand teen alle vorme van universalisering, van homogenisering. Dit is om tegelyk enkelvoud-meervoud te wees, een wêreld saamgestel uit baie wêrelde, ’n globale ruimte as lappieskombers van lokale ruimtes.

    Hiermee kan ons die begrip lokale ruimte aan die orde stel.


    2. Wat is ’n lokale ruimte?

    Ons het tot nou toe verkies om die begrip lokale ruimte as kompas te gebruik in ons besinning oor globalisering. Ons doen dit om verskillende redes.

    In die eerste plek sluit ons aan by die groeiende erkenning van die afsluiting van die era van die nasiestaat. Die nasiestaat het oor bykans twee eeue getoon dat dit weinig verdraagsaamheid teenoor verskil in sy eie geledere verdra. Dit is die immer groeiende erkenning van verskille binne nasies, soos gemanifesteer deur die opkoms van minderhede en streekstale, wat die nasiestaat toenemend uitdaag. Verder het die nasiestaat doodeenvoudig nie meer die mag om die historiese bildungs-funksie van sy burgers uit te voer nie. Nasionale kulture en onderwysstelsels word vandag wêreldwyd gerelativeer deur die opkoms van die globale kommunikasiebedryf wat eerder bepaal wat in burgers se bewussyne gestoor word. Verder is dit ook duidelik dat die nasiestaat nie meer in staat is om homself teen die magte van die mark te verweer nie, en is daar ’n dringende eis om nuwe politieke strukture te skep om die chaos wat wêreldmarkte genereer, te tem.

    In die tweede plek laat die relativering van die nasiestaat ons nogtans met ’n gegewe, naamlik ’n bonte mengelmoes van lokale identiteite. Terwyl die nasiestaat wel veral die laaste tien jaar vinnig gerelativeer is, beteken dit nie dat nasionale kulture volledig verdwyn het nie. Trouens, belangrike versetbewegings teen die skadelike aspekte van neoliberale globalisering ontstaan veral tans in Europa op grond van die besef van die gevaar wat globalisering vir nasionale tradisies kan inhou. Uit die aard van die saak is daar ook groot dele van die wêreld waar die nasiestaat selfs in sy bloeityd nie inslag kon vind nie, waarvan die grootste gedeelte van Afrika die belangrikste voorbeeld is. In hierdie wêrelddele vind ons informele ekonomiese belangegroepe, stamme, oorblyfsels van aristokrasieë en wat nog. Kortom, ons kies vir die begrip lokale ruimte om voorsiening te probeer maak vir die verskeidenheid politieke identiteite wat vandag aangetref word, maar wat nie langer hulle heil sal kan soek in die strewe na ’n nasionale staat nie, deels omdat die nasionale staat nie langer die middelpuntvlietende kragte binne en buite homself kan hanteer nie, en deels omdat die skeiding tussen gebied en gemeenskap wat globalisering kenmerk, en waarop ons hier onder in fyner besonderhede sal ingaan, een van die sentrale idees van die nasiestaat, naamlik dat gebied en gemeenskap een is, toenemend onhoudbaar maak. Hiermee wil ons nie sê dat gebied en gemeenskap volledig te skeie is nie. Inteendeel: die vraag is nie net hoe nuwe gemeenskappe sal lyk nie, maar ook die gebiede wat hulle bewoon. Die rol van die gebied vir die gemeenskap kan moeilik onderskat word. Bernard Stiegler verwoord dit soos volg:

    As ’n reël word nasionale of etniese gemeenskappe se verhouding tot tyd en ruimte bepaal deur ’n territoriale eenheid wat ’n gevoel van lidmaatskap begrond. Hier vorm die gebied self die eerste steunvlak van kollektiewe geheue (insluitende vir nomade), die ruimte waar ’n mens gebore word, waar jy leef, waar jy woon en waar jy jou spore laat: die ruimte waar ’n mens oorlewer en wat ’n mens oorlewer, wat ’n mens erf en wat jy nalaat, en waardeur ’n gemeenskaplike verlede en ’n voorouerlike afstamming wat die gevoel van lidmaatskap begrond, oorgelewer word. Hierin bestaan die voorrang van die gebied. (Stiegler 2001, p 162)

    Soos ons reeds gesê het, is die vraag in die postnasionale tydvak ook hoe ons oor gebied moet dink. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat gebied eweseer materieel as virtueel is. Die feit dat Suid-Afrika ’n grenspos by Beitbrug het, is ’n materiële beliggaming van die virtuele begrip van die Suid-Afrikaanse nasie. In ons besinning oor die oorgange vanaf lokale na globale ruimte hier onder sal ons probeer aantoon dat die gebiede van die toekoms veral virtueel sal wees, en dat die materiële vorme van hierdie virtuele gebiede ons nog verder van die nasionale staat sal wegneem, of ten minste ’n groter sin vir verskil binne die nasionale staat institusionaliseer.

    In die studie wat as basis vir hierdie lesing dien, het ons ruim gesteun op die werk van die antropoloë Claude Lévi-Strauss en Marc Augé, sowel as op die filosoof Bernard Stiegler, om vas te stel wat die kenmerke van ’n lokale ruimte is (Rossouw, 2002). Vir die doeleindes van hierdie lesing volstaan ons egter deur die volgende ses kenmerke van ’n lokale ruimte aan te dui. Met hierdie ses kenmerke probeer ons ’n werktuig ontwikkel waarmee die verhouding tussen lokale en globale ruimte beter verstaan kan word. Hierdie ses kenmerke is nie noodwendig ’n volledige lys nie, maar na ons oordeel die minimum voorwaardes vir die bestaan van ’n lokale ruimte:

    a. Die liggaam: Die liggaam is sowel skepper as skepsel van die lokale ruimte. Dit is die liggaam wat die grond bewerk; wat huise en stede, strate en paaie bou; wat plekke benoem en onderhou. Maar dit is omdat daar bewerkte landerye, huise, stede, paaie en plekke bestaan dat die liggaam in die wêreld kan aankom en bestaan. Daar is konstante interaksie tussen die liggaam en die lokale ruimte, en so word geskiedenis geskryf. Dit is omdat die liggaam daar is, dat die lokale ruimte duurte het: die liggaam moet gevoed en geklee, opgelei en afgerig word. Al hierdie aktiwiteite vereis die bestaan van ’n lokale ruimte. Wanneer liggame uit ’n lokale ruimte verdwyn, verdwyn hierdie ruimte saam met hulle. (Dit is terloops waarom die immigrasie van Afrikaners ’n krisis vir die voortbestaan van ’n lokale Afrikaanse ruimte inhou, net soos wat immigrante wat as individue of gesinne en nie as geselskappe nie migreer, geen hoop het op die voortsetting van ’n Afrikaanse gemeenskapslewe nie, tensy hulle in hul nuwe lokale ruimte kan inskakel by ’n bestaande Afrikaanse gemeenskap. Maar selfs laasgenoemde is, juis vanweë die onstabiliteit van die verhouding met die heersende gebied van so ’n gemeenskap in die vreemde, ten beste ’n voorlopige onderneming. ’n Mens kan nie help nie om die ironie te sien van Afrikaanse ouers wat hulself opoffer om vir hul kinders ’n nuwe lewe buite ’n eie gemeenskap in die vreemde te gee, net om ontwortelde volwassenes groot te maak wat hulle bes moontlik later vir die opoffering sal verkwalik.) Daar kan sekerlik simboliese ruimtes bestaan waar die liggaam nie te alle tye teenwoordig is nie - kerke of museums - maar hierdie ruimtes bestaan juis omdat hulle deur liggame besoek word. Sulke ruimtes is simboliese eggo’s van die teenwoordigheid van die liggaam. Maar - en dit is die belangrikste aspek van die liggaam en die lokale ruimte - die teenwoordigheid van die liggaam verseker die kontinuïteit van die lokale ruimte. Die liggaam is sterflik en broos, en dit is waarom hy steunvlakke benodig wat langer as hy bestaan en hom kan beskerm. Die bewaring van die liggaam hang dus saam met die bewaring van die lokale ruimte, en bewaring is die eis van die een wat tydelik is.

    b. Die gemeenskap: Vir die bestaan van ’n lokale ruimte is liggame nie voldoende nie. Wat hierdie liggame saam skep en bewaar, moet gestoor en in netwerke van waarde en tegnies-materiële steunvlakke geplaas word. Hierdie konkrete prosesse van opgaring en netwerkskepping is niks anders nie as die skepping van ’n gemeenskap. Sonder opgaring, storing en oorlewering is daar geen gemeenskap nie. Soos wat boeke een soort gemeenskap geskep het, so sal die internet dit ook doen. En tog is die gemeenskap die dubbelsinnige verskynsel wat tegelyk geskep en gegewe is - geskep in die sin dat dit die resultaat is van pogings om ’n kollektief te skep, en gegewe in die sin dat dit nie anders kan wees nie as resultaat van alles wat gebeur en oorgedra is in die lokale ruimte. Die gemeenskap is ’n netwerk van individue en liggame. Wie die kollektief en die gemeenskap noodwendig as ontkenning van die individu verstaan, verstaan eenvoudig nie die lewende netwerkaard van die gemeenskap nie, ’n netwerk waarbinne elke individu ’n knooppunt is. Fascisme ontstaan en bestaan wanneer alle knooppunte aan een knooppunt (die volk, die staat) onderwerp word, soos wat individualisme ontstaan en bestaan wanneer alle knooppunte van mekaar ontkoppel word (“ek wil geen etiket hê nie; ek is bloot ’n individu”).

    Omdat daar gemeenskap is, is daar huise, stede en paaie, en hierdeur word alle individue in ’n kollektiewe netwerk van gemeenskap geskakel. Maar omdat daar huise, stede en paaie is, is daar die gemeenskaplike, die verbinde. ’n Gemeenskap het ’n lokale ruimte en ’n gebied het ’n lokale ruimte. ’n Individu kan nooit op sy eie ’n lokale ruimte skep nie. Ten beste kan ’n individu ’n tydelike plek skep wat saam met hom sal verdwyn. Sonder duurte geen gemeenskap nie, en sonder gemeenskap geen duurte nie. Daar bestaan ’n gemeenskap omdat daar ’n groep individue is wat deur dieselfde kalendariteit en kardinaliteit verbind word. Dit is omdat dieselfde groep individue hulle rig ten opsigte van dieselfde ritmes en dieselfde gedeelde plekke dat hulle ’n gemeenskap is - vandaar die groot gewig wat nuwe plekname dra wanneer ’n nuwe ruimte (en dus ’n nuwe gemeenskap) geskep word. Die spanninge tussen die huidige regering se Suid-Afrikaanse gemeenskapsidee en die Afrikaanse gemeenskap is in hierdie sin onvermydelik, omdat die Afrikaanse gemeenskap as produk van twee tot drie eeue se plekmaak gekonfronteer word met die nasionale poging om ’n nuwe plek te maak.

    As hierdie twee begrippe van gemeenskap nie in voortdurende gesprek gehou word, en wel ’n gesprek waarin die een party nie meer historiese skuld as die ander ten laste gelê word nie, sal nóg die een nóg die ander gedy.

    Die skepping van ’n nuwe lokale ruimte staan nie noodwendig gelyk aan die fisieke toe-eiening van ’n nuwe stuk grond nie. Anders gestel: die verandering van ’n politieke orde binne die grense van dieselfde fisiese ruimte kom neer op die skepping van ’n nuwe lokale ruimte. Hierdie verskynsel kan duidelik waargeneem word in die voormalige Sowjetunie of Suid-Afrika, waar mense steeds in dieselfde fisiese ruimte woon, maar in ’n nuwe lokale ruimte.

    c. Geskiedenis: Een manier waarop ’n lokale ruimte gedefinieer kan word, is om te sê dat ’n fisiese ruimte fisiek en materieel beset word deur ’n groep wat dieselfde geskiedenis deel en gevolglik dieselfde toekoms wil deel. Die stryd om die geskiedenis is altyd die stryd om die toekoms. Net so word enige toekomspolitiek altyd onderlê deur een of ander historiografie, hoe versweë ook al. Soms moet die toekoms van ’n gemeenskap ontsluit word deur sy historiese mites te ontmasker, soos wat die geval met Afrikaner-nasionalisme aan die einde van die jare tagtig was. Soms moet die toekoms van ’n gemeenskap ontsluit word deur nuwe historiese mites te skep, soos wat tans die geval met die Afrikaanse wêreld is. Geskiedenis word vanaf geskiedenis gemaak. Alles wat nuut is, is nuut vanuit dit wat geskiedenis is, vanuit dit wat oud is. Daar kan slegs ’n ware nuwe wees waar ’n ware oue bestaan. En die ware oue bestaan slegs daar waar dit oorgelewer word, dit wil sê waar dit vernuwe. Oorlewering is nie slegs herinnering nie: dit is veral uitvinding. Nóg die oorlewering, nóg die hernuwing van geskiedenis kan buite ’n lokale ruimte geskied. Daarom is dit absurd om te droom van ’n virtuele Afrikaanse universiteit terwyl die verengelsing van bestaande Afrikaanse skole nie ook beveg word nie.

    Meer nog: ’n lokale ruimte met sy monumente, sy plekke van aanbidding en sy bewerkte landerye is die voorwaarde van geskiedenis, net soos wat geskiedenis uitdrukking en duurte vind in monumente, plekke van aanbidding en bewerkte landerye. Die geskiedenis is die verhaal van dit wat in ’n lokale ruimte gebeur, dit wil sê “plaas vind”, plek vind. ’n Gebied wat ’n gemeenskap nie meer toelaat om sy geskiedenis te skryf nie, is nie meer sy gebied nie. Die geskiedenis is geskiedenis omdat daar gebeurtenisse plaasvind in ’n gemeenskap wat in ’n lokale ruimte leef.

    Die geskiedenis is dus die voorraad van dit wat hierdie gemeenskap belangrik ag vir sy identiteit en sy toekoms. Die geskiedenis is dit wat die moeite werd is om voort te bestaan. Wie geskiedenis skryf, doen dit as ’n projeksie na ’n verbeelde toekoms op grond van die hede.

    Die geskiedenis word ook gevorm deur die verhale van ontmoeting met ander lokale ruimtes en gemeenskappe, vriendelik of nie. Die meeste van die tyd geskied sodanige ontmoetings in spanning omdat geen gemeenskap kan bestaan sonder om sig van ander gemeenskappe te onderskei nie.

    Maar as die geskiedenis die voorraad is van dit wat deur ’n gemeenskap as belangrik binne ’n lokale ruimte beskou word, bestaan die lokale ruimte op sy beurt omdat dit herinvesteer is deur historiese rituele en simbole, en deur nuwe gebeurtenisse wat binne ’n bepaalde historiese orde as belangrik vir ’n lokale ruimte beskou is.

    d. ’n Grens: Geen lokale ruimte kan sonder grense bestaan nie. As hierdie grense te rigied is, word die lokale ruimte xenofobies, ingevou op homself, na binne gedraai. In hierdie toestand verloor hy die vermoë om homself van ander lokale ruimtes te onderskei. Omdat hy homself as afgeronde geheel verstaan, kan hy homself nie meer met ander ruimtes vergelyk nie. Dit wil sê, hy ontneem homself die geleentheid om weer geïnvesteer en heruitgevind te word. Maar as hierdie grense te sag is, hou die ruimte as onafhanklike identiteit op om te bestaan. Hy word vloeibaar en vermeng met ander lokale ruimtes en verdwyn gaandeweg. Die grens is nodig omdat ’n lokale ruimte nie ’n selfbewussyn sonder ander lokale ruimtes kan hê nie.

    Hierdie feit verklaar waarom talle Afrikaner-intellektuele wat hulle onder die vorige bedeling van hul Afrikaanse identiteit gedistansieer het, hierdie selfde identiteit onder die nuwe, Afrikaans-vyandige bedeling hertoe-eien.

    Daar kan nie sprake wees van Franse of Afrikaners as hierdie identiteite nie met ander gemeenskappe en lokale ruimtes vergelyk is nie. Daar was ’n tyd toe hierdie vergelykings beperk was tot geografiese bure, naamlik die era van die nasiestaat. Maar die era van globalisering met sy groter moontlikhede van abstraksie en virtuele vergelyking bemoontlik vergelykings en invloede aan die ander kant van die beperkings van geografiese nabyheid. Daarom kan Afrikaners wat nog nooit in die VSA was nie, ten opsigte van die VSA sê: “Ons is nie so nie”, of aansluiting vind by Franse denke oor verskil en identiteit.

    Die proses van die selfdefiniëring van ’n lokale ruimte is deurlopend en van kardinale belang. Sodra ’n lokale ruimte in sy selfdefinisie stol, is dit nie meer lewenskragtig nie en is die voorwaardes vir sy vernietiging neergelê. Die gevolg is dat selfdefinisie lokale ruimtes dompel in oneindige siklusse van konfrontasie met ander lokale ruimtes, en dat hierdie konfrontasies noodsaaklik is vir die duurte en hernuwing van lokale ruimtes. Die droom van ’n homogeniserende, verenigende globalisering vergeet altyd hierdie historiese truïsme wat nie net tot die nasiestaat en sy oorloë beperk is nie. Die grens is by uitstek die streek van selfdefinisie. Elke selfdefinisie moet die vraag oor die aard en die presiese lokalisering van die grens vra: Waarmee grens ons onsself af? Met taal? Met wapens? Met grensposte? Word ons ’n nasie? Vra ons minderheidsregte? Stig ons af? Die grens beteken dat die “ons” wat hierdie lokale ruimte bewoon, nie die “hulle” is wat die ander lokale ruimte waarmee ons onsself vergelyk, bewoon nie. Dit is omdat daar ’n “hulle” is dat daar ’n “ons” is.

    Daarom is een van die vrugte van Afrikaner-nasionalisme se obsessie met die “ons” dat talle Afrikaners vandag ten alle koste deel van die “hulle” wil wees. En hierdie “hulle” is enigiets behalwe ’n “ons”. ’n Mens sien die verskynsel veral onder jong Afrikaners wat hoog opgee oor hul Suid-Afrikanerskap, maar eintlik doodgewone amorfe verbruikers is wat geen onderskeibare kenmerke benewens hul “cool” leefstyl het nie.

    Die grens is tegelyk gemeenskaplik en besonder. Dit is gemeenskaplik omdat dit gedeel word met ander lokale ruimtes, en dit is besonder omdat dit die einde van hierdie lokale ruimte en die begin van ’n ander lokale ruimte aandui.

    Die grens is ook die ruimte waar noodsaaklike interaksie met ander lokale ruimtes plaasvind, interaksie wat nie net vir die selfdefinisie van die lokale ruimte nodig is nie, maar ook vir sy vernuwing.

    e. ’n Buitekant: Die buitekant is nie bloot dit wat aan die anderkant van die grens is nie, maar ook die teenoorgestelde van die binnekant.

    Om dit so te stel, klink simplisties, totdat ons in aanmerking neem dat die buitekant dikwels meer abstrak as die reële is. Die buitekant is alles wat nie beskou kan word as bekend, as dieselfde, as hierdie kant van die grens nie. ’n Lokale ruimte word dikwels gesitueer ten opsigte van ’n fiktiewe buitekant, ’n uitvinding van die reële, die buitewêreld soos ons dink dit is. Die VSA se huidige oorlog teen terrorisme is bloot die jongste voorbeeld van fiktiewe buitekante, van “hulles” en “gelowe” wat nie “ons” s’n is nie. Meer nog, in ’n era soos ons s’n, waar die aanspraak op ’n internasionale gemeenskap, ’n gemeenskaplike wêreld, bestaan, is dit dikwels waar dat hierdie fiksies niks anders doen as om hul eie lokale ruimtes en binnekante te versterk nie.

    In die Nasionalistiese of Kommunistiese verlede is die buitekant beliggaam deur ander nasies of ekonomiese stelsels. Vandag beleef ons oral die instelling van dieselfde ekonomie en die relativering van ou nasies. Gevolglik word hierdie ou nasies weer bevestig, en poog hulle om nuwe inhoud aan hulself te gee. Dit is egter nie langer ander nasies of ekonomiese stelsels wat aan die buitekant is nie, maar die internasionale gemeenskap in die mate wat laasgenoemde die buitekant van ons lokale ruimtes word. Voorbeelde hiervan strek vanaf die huidige Israeli-regering tot die identiteitsbewegings wat deelneem aan die debat oor ’n wêreld wat tegelyk die een en die vele erken.

    f. Taal: Dit is waar dat die vyf ander kenmerke van ’n lokale ruimte ook die voorwaardes van taal is: dit is die liggaam wat praat; dit is die hele gemeenskap wat saam ’n taal skep; dit is die geskiedenis (veral van die letterkunde) wat betekenis aan ’n taal gee; dit is die grens wat aan ’n taal sy perke gee.

    Maar daar is ’n ander sin waarin ’n taal die belangrikste van al die kenmerke van ’n lokale ruimte is, naamlik dat hy al die kenmerke onderling bemiddel. ’n Mens is in jou lokale ruimte wanneer jy jou moedertaal hoor. ’n Gemeenskap is ’n groep wat dieselfde taal praat. Die geskiedenis het betekenis juis omdat die gebeurtenisse wat ’n groep beleef, in ’n gemeenskaplike taal oorvertel word. ’n Taal verbind die virtuele en materiële aspekte van ’n lokale ruimte, soos byvoorbeeld skole, waar die geskiedenis van ’n lokale ruimte in die taal van die ruimte aan sy jong inwoners oorgelewer word. Taal is die koppeling tussen tegniek en geheue. Wie intiem met homself wil wees, word stil in sy moedertaal. As hy intiem met homself in ’n ander lokale ruimte as sy eie wil wees, praat hy met homself in sy moedertaal. Wie in die openbare sfeer betrokke wil raak, doen dit in sy moedertaal, veral wanneer ander tale in sy lokale ruimte gepraat word.

    Hier vind ons een van die besonderhede van taal: selfs wanneer verskeie tale in dieselfde lokale ruimte teenwoordig is, is daar slegs een wat werklik die taal van die lokale ruimte is. As daar verskeie tale in ’n ruimte teenwoordig is, is die een waarin ek tuis voel, ook die taal van my lokale ruimte. Dit is ook waarom die amptelike erkenning van verskeie tale binne dieselfde gebied aandui dat daar verskeie lokale ruimtes binne dieselfde gebied bestaan.

    In hierdie sin dui die wêreld se federasies met hul inklusiewe taalbeleide die weg vir die era van globalisering aan, waar gebied en moedertaal minder en minder saamval. Om die waarheid te sê, soos ons sal probeer aantoon, is taal in die era van globalisering verreweg die belangrikste kenmerk van die lokale ruimte, en wel omdat die ander kenmerke van ’n lokale ruimte tans gewoon minder belangrik as voorheen is. Anders gestel, waar taal in die verlede ’n soort samestelling van al die ander kenmerke van ’n lokale ruimte was, word dit in ’n al hoe abstrakter wêreld die voorwaarde van die skepping en voortsetting van lokale ruimtes.

    Met dié ses kenmerke van ’n lokale ruimte in gedagte, kan ons nou die ontstaan van die globale ruimte aan die orde stel.


    3. Die ontstaan van die globale ruimte

    Ons het reeds vroeër verwys na die modeverskynsel om van een wêreld te praat. Ons het ook verwys na verskeie faktore wat almal meewerk om die historiese beperkinge van ruimte te oorskry, sodat ons inderwaarheid kan sê dat die wêreld al hoe kleiner word.

    ’n Interessante aspek van hierdie proses is dat hoe onbenulliger (fisiese) ruimte word, hoe meer ons ons sin van ruimte en afstand verloor, hoe meer word ruimte ’n metaforiese verwysingspunt van die alledaagse lewe. In Europa word van die stukkies natuur wat nog bestaan, gepraat as “groen ruimtes”; die internet word as ’n “virtuele ruimte” voorgestel; en mense se bewussyne word as hul “binnewêreld” beskryf. Soos ons in hierdie gedeelte sal probeer aantoon, gaan hierdie verruimteliking van ons ervaring vandag gepaard met die verlies aan lokale ruimte, aan ’n wêreld in die Heideggeriaanse sin van die woord.

    Afgesien van die verskeidenheid van faktore wat ’n globale ruimte tot stand bring en waarna reeds skrams verwys is, wil ons ons hier kortliks en hoofsaaklik bepaal by die ontleding wat Bernard Stiegler in volume 3 van La Technique et le temps ontwikkel.

    Stiegler staan in die tradisie van denkers wat die wisselwerking tussen mens en tegniek bedink. Binne hierdie tradisie word aanvaar dat alle tegnieke veruiterlikings van aspekte van die mens is, soos wat die mens telkens weer herskep word na die beeld van sy tegniek. Die rekenaar is byvoorbeeld ’n meganisering van ’n deel van die menslike brein se geheue, net soos wat ons weer vandag van die menslike brein as ’n superrekenaar praat. Wat Stiegler se werk des te belangriker maak, is dat hy daarop wys dat ons wêreld, in die Heideggeriaanse sin van die woord, altyd via tegniek bemiddel word. Alle tradisie en geheue word veruiterlik op tegniese steunvlakke - boeke, opvoedkundige instellings, monumente, ens - en sodoende aan ’n volgende generasie oorgelewer. Stiegler wys dan ook tereg daarop dat Heidegger se Weltgeschicktlichkeit deur en deur ’n tegniese begrip is, in die sin dat die wêreld via die tegniek aan my gegee word.

    Belangriker vir die doeleindes van ons argument is die ontleding wat Stiegler gee van tegniek sedert die begin van die 19de eeu en veral die Nywerheidsrewolusie. Ons som Stiegler se argument in dié verband vervolgens kortliks op, waarna ons op enkele implikasies sal wys.

    Stiegler begin sy ontleding deur ons te herinner aan Husserl se besinning oor tydelike objekte, dit wil sê objekte wat slegs tydelik en hoofsaaklik in die bewussyn bestaan, soos byvoorbeeld ’n musiekkonsert. Husserl vra homself af hoe sulke objekte kan bestaan. Hy beantwoord die vraag deur sy begrippe van primêre en sekondêre retensie. Wat bedoel hy hiermee? Wanneer ek na ’n musiekkonsert luister, volg ek die note een vir een. Elke noot maak vir my sin in terme van al die note wat dit voorafgegaan het. In my bewussyn behou ek die note binne ’n sinvolle geheel; dit noem Husserl die primêre retensie.

    As ek die volgende oggend wakker word, mag daar dele van die vorige aand se musiek in my bewussyn draai. Dit noem Husserl die sekondêre retensie. As ek vanaand weer na dieselfde musiekkonsert gaan luister, gaan ek dit anders as die vorige keer beleef, en wel omdat die note wat ek nou hoor, bemiddel word aan die hand van dit wat ek sekondêr van gisteraand se eerste luister behou het.

    Stiegler se bydrae is om daarop te wys dat daar nog ’n derde aspek is, wat hy tersiêre retensie noem. Tersiêre retensie is alle tegnieke wat dit vir my moontlik maak om dieselfde tydelike objek na willekeur te herleef. Voorbeelde hiervan is boeke, plate, CD’s, rolprente, TV-programme, ens. Stiegler wys daarop dat alle tersiêre retensies tot en met die uitvinding van die fonogram, die voorloper van die plaat, onderworpe was aan nasionale of lokale kulture. Gebeurtenisse wat behou en oorgelewer is via tersiêre retensies, is geselekteer in terme van wat vir ’n gegewe kultuur belangrik was. So het kulture oor eeue heen voorrade van tersiêre retensies opgebou, dit wat Heidegger se wêreldoordrag moontlik maak.

    Wat egter vanaf die Nywerheidsrewolusie gebeur, is dat ’n reeks tegnieke van tersiêre retensie ontwikkel word wat gaandeweg ’n wêreldwye netwerk van geheuetegnologie word. Die geheuetegnieke wat vandag aan die orde van die dag is, slaag daarin om die betekenisvolste aspek van menswees, naamlik ons bewussyn, verbeelding en vermoë om verhale te vertel, te veruiterlik. Meer nog, ons beleef vandag niks minder nie as die daarstelling van ’n mark van tersiêre retensies, alombekend as die kommunikasiemedia. In die proses sien ons hoe tersiêre retensies aan lokale kulture se beheer ontworstel word om uiteindelik opgeneem te word in ’n amorfe, globale ekonomie. Waar lokale kulture in terme van ’n lewende historiese bewussyn opgetree het as filters van wat tersiêr behou en oorgelewer moet word, het die mark van tersiêre retensies geen sodanige filter nie. Hierdie mark registreer en versprei doodeenvoudig die grootste gemene deler, dit wat soveel as moontlik waarde so gou as moontlik vir aandeelhouers kan toevoeg. Ons kan dus verstaan waarom die vyf of ses multimediakonglomerate wat vandag veg om beheer in die kommunikasiemark, ’n geveg voer om niks anders nie as die menslike bewussyn. Ons kan ook verstaan waarom ons diepste menswees hier op die spel is: ’n mens is dit wat via tersiêre retensies aan jou oorgedra word. As hierdie retensies bloot op grond van hul markwaarde gekies word, is dit byna vanselfsprekend dat die komplekse, die verfynde, die duursame en die trae agterweë sal bly.

    Die uitwerking van hierdie tersiêre mark is daar vir almal om te sien. In die Afrikaanse wêreld sien ons vandag hoe die eerste generasie kinders van TV en die internet jong volwassenes word. Hulle beskik oor byna geen historiese sin nie, erken ruiterlik dat hulle nóg hul moedertaal nóg argumente bemeester, vertoon geen duidelike kultuuridentiteit nie en is modelverbruikers. Dieselfde verskynsel herhaal hom wêreldwyd, en dieselfde formuleagtige rolprente, musiek en TV-programme word op ’n daaglikse basis deur die tersiêre mark versend.

    Dit is hierdie tersiêre mark wat die basis van die globale ruimte is. In hierdie verband wys Stiegler ook op die rol van die gebeurtenis. ’n Ware gebeurtenis kan slegs plaasvind waar ’n ware historiese bewussyn bestaan. Wat ons egter in die globale ruimte meemaak, is dat massas kwasigebeurtenisse daagliks geskep en versend word. In die globale ruimte is ’n gebeurtenis ’n gebeurtenis omdat die tersiêre mark dit uitkies, verpak en versend. Die welbekende verskynsel van ’n ooraanbod van inligting word hierdeur veroorsaak. In die proses word mense wêreldwyd gedompel in ’n ononderbroke superdrama van kwasigebeurtenisse. Sodoende word hul sin van verbeelding en drama grondig aangetas.

    Die vraag kan met reg gevra word of ons nie afstuur op ’n punt waar die menslike behoefte vir verhale en drama, met die psigiese energie wat daarmee gepaardgaan, volledig betekenisloos gemaak gaan word nie. In hierdie ononderbroke reeks gebeurtenisse bevind ons ons in die Ewige Nou, die tirannie van die onmiddellike.

    Stiegler wys ook op die rol wat die VSA as land van geheuetegnologie by uitstek in die skepping van ’n globale ruimte speel. Enige gemeenskap bestaan by grasie van aanneming. Daar is altyd ’n kern wat deur nuwe aankomelinge versterk en aangevul word. Gewoonlik is hierdie nuwe aankomelinge die nuutgeborenes, maar soms is dit ook immigrante. In die geval van die VSA het immigrante vir lank ’n groter rol as nuutgeborenes gespeel. In ’n land wat besig was om sy infrastruktuur op te rig in ’n ongelooflik groot geografiese ruimte, en wat terselfdertyd voortdurend nuwe innames van immigrante moes hanteer, het die kern van die gemeenskap voortdurend onder nuwe druk gekom. Ten einde hierdie druk te hanteer is die tegniek van die rolprent ingespan. Deur die rolprent is ’n nasionale bewussyn vir die VSA geskep. Dit is dan ook nie vreemd nie dat die eerste nasionale, kommersiële rolprent in die VSA in 1912 uitgereik is met die titel The Birth of a Nation.

    Deur die loop van die 20ste eeu het die VSA mettertyd sy hele geografiese ruimte gevul met infrastruktuur en nasionale bewussyn, tot op die punt waar sy kommunikasiebedryf te groot vir sy mark geword het. Dit is dan vanaf veral die negentigerjare dat ’n doelbewuste poging geloods is om dieselfde kinematografiese tegniek van gemeenskapskepping uit te brei na die res van die planeet. Soos Ignacio Ramonet in ’n onlangse artikel uitwys, verklaar hierdie uitbreiding waarom die VSA in die negentigerjare skielik soveel druk vir die deregulering van nasionale markte begin toepas het (Ramonet, 2002). Dit wat vandag met soveel heilige respek die “mark” genoem word, is inderwaarheid die oprigting van ’n reuse globale netwerk waarmee alle mense in beginsel deel van dieselfde gemeenskap gemaak word.

    Stiegler is ook reg as hy daarop wys dat ’n nuwe globale kalendariteit en kardinaliteit deur hierdie netwerk geskep word. Hiervolgens is gebeurtenisse soos die Sokkerwêreldbeker of 11 September 2001 se terreuraanvalle veel belangriker as wat in die lokale ruimte gebeur.

    Hiermee kan ons kortliks stilstaan by die verskillende oorgange vanaf die lokale na die globale ruimte.


    4. Die oorgange vanaf die lokale na die globale ruimte

    Tot hiertoe het ons bloot skrams verwys na die oorgange vanaf die lokale na die globale ruimte. Aangesien hierdie oorgange rewolusionêr en met reusegevolge vir die mensdom is, is dit die moeite werd om uitvoeriger daaraan aandag te gee. Soos ons weet, skep enige verandering spanning, en hoe groter die verandering is, hoe groter is die spanning. Die spanninge wat vandag tussen lokale ruimtes en die globale ruimte bestaan, is enorm. Dit is van pas om te sê dat die aard en toekoms van lokale ruimtes soos ons dit tot nou geken het, op die spel is. Lokale ruimtes word voor die taak geplaas om antwoorde te gee op die uitdagings wat die globale ruimte en globalisering stel. Ons stip die volgende agt oorgange aan:

    a. Vanaf die meervoud na die enkelvoud: Lokale ruimtes is tradisioneel ’n ware bron van veelvoud. Soos wat daar biodiversiteit is, is lokale ruimtes die bron van kulturele, wetenskaplike en politieke diversiteit. Dit word nie net verklaar deur die feit dat lokale ruimtes kollektiewe voorrade van menslike ervarings en gebeurtenisse is nie, maar ook deur die feit dat hierdie ruimtes talryk is. Gesien in die lig van die feit dat die lokale ruimte, ten einde lokale ruimte te wees, sigself moet singulariseer, dit wil sê moet onderskei van ander lokale ruimtes, is die verband tussen veelheid en lokale ruimte ooglopend. Die meeste oorloë tot nou was ongetwyfeld die gevolg van die spanninge wat deur hierdie pluraliteit geskep is.

    Dit is dan ook nie om dowe neute nie dat die meeste besinning oor die Ander, vanaf Sartre en Levinas tot by Derrida en Nancy, gepaard gegaan het met die al hoe groter bedreiging wat die globale ruimte vir veelheid inhou. Want waar die lokale ruimte veelheid genereer, probeer die globale ruimte dit ontken, veral in sy daaglikse pogings om gebeurtenisse wat die grootste globale deler is, te skep. Ons het reeds gesien dat die globale ruimte sy wortels vind in die reuse globale tegniese standaardiserings. Hierdie standaardiserings is op alle vlakke sigbaar: die verswakking en verdwyning van nasionale geldeenhede ten gunste van twee of drie sterk globale geldeenhede; die moontlike vervanging van effektebeurse wêreldwyd deur die beurse van Londen, New York en Hongkong; die katastrofale verdwyning van plaaslike tale en die groei van Engels as globale taal; die instelling wêreldwyd van liberale demokrasie as die enigste regeringsvorm; ens. Maar die belangrikste aspek van die oorgang van die veelvoudige na die enkelvoudige is die vereenvoudiging wat daarmee gepaard gaan. Kompleksiteit word bedreig, omdat dit die vyand van die skyngemeenskaplikheid van die globale ruimte is. In ’n sekere sin is hierdie oorgang onvermydelik: elke poging in die rigting van die gemeenskaplike bedreig dit wat buitegemeenskaplik is; maar soos ons in ons gevolgtrekking sal probeer aantoon, kan slegs die erkenning van die buitegemeenskaplike ware gemeenskaplikheid in die hand werk.

    b. Vanaf traagheid na spoed: Soos ons gesien het, het die lokale ruimte sy eie kalendariteit en kardinaliteit, wat oorspronklik deur die ritme van dag en nag en die seisoene bepaal is. Dit het gegaan om die menslike aanneming van ’n ritme gegee deur natuurkragte wat menslike kragte oorskry het. Met die tegniese vooruitgang van die mensdom het ons daarin geslaag om hierdie kragte te bemeester en ons eie kalendariteite en kardinaliteite in te stel. Maar die ritmes van die menslike liggaam was nog beslissend tot aan die begin van die 19de eeu, aangesien die tegnieke wat tot op daardie stadium ontwikkel is, hoofsaaklik nog aan menslike beheer onderworpe was. Die werklike verskil, die beslissende breuk, tree in met die koms van geoutomatiseerde, geprogrammeerde masjiene. Dit is vanaf hierdie oomblik dat ’n globale, tegniese sisteem ingerig word, ’n sisteem wat natuurkragte en die kragte van die liggaam meer en meer oorskry.

    Ons kan sê dat die mens se “natuurlike” tyd, breedweg gesien, tot en met die Nywerheidsrewolusie ook die tyd van die natuur was. Maar vanaf hierdie rewolusie word ’n masjinale, tegnologiese tyd op ons afgedruk. Die grense van lokale ruimtes word al hoe irrelevanter - eerstens geografiese grense, en vandag simboliese grense. Natuurlik is die oorskryding van ’n geografiese grens reeds gelyk aan die oorskryding van ’n simboliese grens, maar hierdie oorgang geskied op die virtuele, abstrakte vlak. Gevolglik word geografie aan die simboliese, die virtuele en die abstrakte onderwerp.

    Ons het reeds gesien dat die globale ruimte bestaan omdat inligting (wat nie met kennis en sy gepaardgaande traagheid verwar moet word nie) oral so gou as moontlik versend word. Die wagwoord van kennis is besinning, terwyl die wagwoord van inligting absorbering is. Soos U2 op hulle groot post-Koue Oorlog-album, Achtung Baby, sing: “You miss too much these days if you stop to think.” Tegnologiese, masjinale tyd het nie tyd nodig om te stop en te dink nie, want dit is die tyd van oneindige wesens. Die menslike wese, die eindige wese by uitstek, kan nie anders nie as om daarby aan te pas.

    c. Vanaf driedimensionele na eendimensionele tyd: Die lokale ruimte bestaan omdat dit ’n verlede, ’n hede en ’n toekoms het. In ’n sekere sin impliseer die skepping van enige lokale ruimte die soeke na ’n verlede, dit wil sê die skepping van ’n verlede. Die skepping van ’n verlede is nie noodwendig ’n empiriese proses nie: die stigtingsmites van ’n gemeenskap wys dat die verlede van ’n lokale ruimte dikwels, indien nie altyd nie, vanuit die hede geskep word. Dieselfde geld ook die toekoms: ’n lokale ruimte met ’n glorieryke verlede het ook ’n glorieryke toekoms, ’n toekoms wat die inwoners van so ’n ruimte graag toe-eien. Omgekeerd kan ons sê dat sodra die hede aaklig en skandelik word, die verlede dit ook word. Hermann Giliomee se beskrywing van jong Afrikaners wat weens die skandgevoel oor apartheid “toevallige Afrikaners” is, is hier ter sake.

    Meer nog: die onderskeid tussen verlede, hede en toekoms is, soos wat Stiegler aantoon met sy onderskeid tussen primêre, sekondêre en tersiêre retensies, onmisbaar in die skepping en oorlewering van ’n lokale ruimte. Wat in die huidige oomblik uit die verlede gekies en behou word, bepaal nie net die individu in sy gemeenskap en sy lokale ruimte nie, maar ook die hernuwing van laasgenoemde in die toekoms. Hierdie proses is die gevolg van die feit dat ons ’n verlede waar ons afwesig was, via tersiêre retensie herverwerklik en in die toekoms projekteer. Maar wanneer dit om die globale ruimte gaan, moet driedimensionele tyd ten alle koste ten gunste van eendimensionele tyd uitgewis word. Aangesien daar nie so iets soos ’n globale gemeenskap bestaan nie, is die interaksie tussen hede, verlede en toekoms in die globale ruimte onmoontlik. Daar is slegs sprake van ’n kwasiglobale gemeenskap in soverre daar ’n koorsagtige disseminasie van sogenaamde gebeurtenisse en nuutjies is, nuutjies wat nog nuwer as die nuwe is (omdat daar geen oue in die globale ruimte is nie).

    Kommunikasie in reële tyd (“real time”) is die Heilige Graal van ons tydsgewrig. Die mensdom word verdoem tot ’n ononderbroke waak in die teenswoordige oomblik. Enige poging om die globale ruimte te historiseer, druis in teen dit wat hy tans is. Met ons kragtige kommunikasie-instrumente is ons in staat om ons take vinniger, selfs onmiddellik, uit te voer. Die feit dat lokale ruimtes al hoe meer aan sogenaamde “globale gebeurtenisse” onderworpe is - soos wat 11 September 2001, dié gebeurtenis van globale gebeurtenisse, aan ons gewys het - sal ons dwing om hierdie konstante fiksie van die hede te volg soos wat dit in die ewige hede ontvou.

    d. Vanaf die politiek na die ekonomie: Vir ’n lang tyd, en veral tydens die era van die nasiestaat, was die ekonomie ondergeskik aan die politiek. Voorbeelde hiervan was die regulering van markte en internasionale handel, die nasionalisering van nywerhede, en die aanwending van belasting vir openbare instellings. Die gemeenskapskomponent van die politiek is baie sigbaarder as dié van die ekonomie. Dit gaan gepaard met die feit dat die politiek bowenal die weerspieëling van sy lokale ruimte en sy gemeenskap is. Ons weet dat tegniese uitvindings altyd politieke effekte het. Die feit dat tegnieke tot en met die Nywerheidsrewolusie nog aan die ou kalendariteite en kardinaliteite onderworpe was, het politieke beheer oor die ekonomie en die tegniek geïmpliseer.

    Maar vanaf die Nywerheidsrewolusie tree ’n verandering in: die slagting van die twee wêreldoorloë en die oorlogsekonomieë van die 20ste eeu dui die bloedige oorgang vanaf die oppermag van die politiek na dié van die ekonomie aan. Die instelling van die tegnologiese sisteem van tersiêre retensies vanaf die jare tagtig voltooi die oorgang vanaf die politiek na die ekonomie. Ons weet dat elke tegniese rewolusie die parameters van die ekonomie verander, maar wat met die huidige tegnologiese rewolusie gebeur, is dat ’n ekonomie van ruimte in sigself, ’n ware ruimtelik-planetêre ekonomie, geskep word. Stiegler is reg wanneer hy sê dat die bedryf van tersiêre retensies ’n ekonomie van ons bewussyn en verbeelding skep, maar daarby moet ons voeg dat hierdie bedryf ook ’n ekonomie skep uit ons diepliggende begeerte om ’n heem, ’n geleefde ruimte, te hê.

    Dan is daar nóg ’n rede waarom die ekonomie die politiek oorheers, naamlik dat daar ’n groeiende gaping tussen ons instellings en tegnieke bestaan. Ons instellings is ontwikkel rondom die tegnieke van lokale ruimtes: paaie, skrif en die boek, nasionale vervoerstelsels, plaaslike tale. Vandag moet die plaaslike ruimte die tegnieke van die globale ruimte bemeester. Dit is waarom ons instellings, wat nie opgewasse is vir die taak nie, verswak is, en dit is waarom burgers hul vertroue in hierdie instellings verloor. Dit is ook waarom die klem al hoe meer val op politieke en institusionele konstruksies wat lokale ruimtes in nuwe streeks- en globale netwerke kan skakel.

    e. Van die hier na die elders: In lokale ruimtes is die vertrekpunt na die elders, of dit nou regionaal, internasionaal of, vandag, globaal is. Gebeurtenisse was aanvanklik lokaal. Die lokale moes sig ook nog onderskei op die vlak van die stam of die nasie. Alles wat elders gebeur het, en alles wat van elders af opgedaag het, is in lokale terme gemeet, oftewel in terme van die sisteem van tersiêre retensies van hierdie of daardie lokale ruimte. Die bron van waarheid was die lokale, of dit was in die figuur van die held, die priester, die denker of die skrywer. Die lokale ruimte lewer oor aan toekomstige generasies, soos wat dit sy inhoud oordra aan ander lokale ruimtes.

    Maar met die globale ruimte word die klem allereers op die elders geplaas, veral omdat die globale ruimte altyd elders is. Dit word verklaar deur die feit dat die globale ruimte lokale inhoud onttrek en dit oral heen in vereenvoudigde vorm versend. Die globale ruimte is dus tegelyk oral en nêrens. Hierdie effek van versending van oral na oral het so sterk geword dat die elders die maatstaf van die hier word, oftewel dat die lokale in terme van die globale gemeet word: universiteite moet kwansuis eerder in Engels as in hul plaaslike tale funksioneer; nywerhede moet op ’n sogenaamde “globale vlak” wedywer; “cool” handelsmerke is enigiets behalwe plaaslik; en ’n boek of ’n rolprent moet eers “globale” sukses hê voor dit in sy lokale ruimte erken word. Waar die oordrag van die lokale ruimte na die buitekant die hier teen die elders verseker, verseker die kommunikasie van die globale ruimte na lokale ruimtes die elders teen die hier.

    f. Van die konkrete na die abstrakte: In die lokale ruimte is uitruilings en netwerke betreklik konkreet en sigbaar. Ekonomiese produkte was byvoorbeeld in sowel die landbou- as die nywerheidsera meesal fisiese objekte uitgeruil tussen teenwoordige mense. Die beweging na die abstrakte is natuurlik ’n baie ou verskynsel, soos Marx byvoorbeeld benadruk met sy definisie van kapitalisme, waarvolgens laasgenoemde ontstaan wanneer ruilwaarde belangriker as produksiewaarde word en die skakel tussen vervaardiger en gebruiker (of, in ons era, verbruiker) al hoe abstrakter word. In die lokale ruimte is die netwerke wat uitruilings dra, konkreet: paaie, posdienste, plekke van openbare byeenkoms, ens. ’n Mens kan in vlees en bloed daar teenwoordig wees. Maar niemand kan op die inligtingsnelweg stap nie. En wat vandag op die finansiële markte uitgeruil word, is waardes van ongelooflike abstraksie (en hoe abstrakter hulle word, hoe meer geloof vereis hulle van diegene wat hulle ruil).

    Die al hoe groter abstraksie van ons netwerke, uitruilings, goedere, politieke strukture en instellings in die algemeen veroorsaak dat die wêreld minder liggaamlik en meer geestelik word. God is terug, net soos Plato en Descartes. Oorlog word abstrak (“teen terrorisme”), die politiek word beliggaam in ’n stryd om simboliese waardes (“vir ’n ander soort globalisering” waar ’n mens bowenal nie te spesifiek moet wees in jou eise nie) en simboliese gebare (kommunikasie eerder as handeling, dit wil sê kommunikasie as handeling).

    g. Na die virtuele: Die virtuele is nie die teenoorgestelde van die reële nie; dit is slegs ’n aspek, ’n verlenging, daarvan. Die virtuele kom op die simboliese, abstrakte vlak voor. Dit is waarom die oorgang na die abstrakte ook ’n oorgang na die virtuele in die hand werk. Die virtuele is nie nuut nie: geen lokale ruimte kan sonder sy virtuele aspek bestaan nie, dit wil sê sy simbole en mites, sy tradisie en sy kollektiewe verbeelding. Maar in die lokale ruimte is die virtuele nooit meer as ’n aspek van die reële nie. Dit is wanneer daar paaie, liggame, huise, kruisings en monumente is, dat die virtuele voorkom. Om die waarheid te sê, hoe meer fisieke en konkrete beliggamings daar van die lokale ruimte is, hoe sterker is sy virtuele aspek, oftewel sy kollektiewe verbeelding. Dit is waarom die groot nasies van Wes-Europa tans die aktiefste teen die globale ruimte is: met hul erfenis en tradisies wat veel sigbaarder as dié van ontwikkelende lokale ruimtes is, is hulle beter toegerus om te verstaan wat in die globale ruimte op die spel is. Maar wat in die globale ruimte plaasvind, is die skepping van die reële vanaf die virtuele. Dit is inhoude wat vorms gee, eerder as vorms wat inhoude gee, soos wat die geval in lokale ruimtes is. Die tekens, boodskappe en gebeurtenisse wat oral in die globale ruimte sirkuleer, herskryf die lokale ruimtes.

    Die beste manier om die effekte van die virtuele te bepaal, is om te vertrek vanaf sy liggaamlike effekte. Met die fenomenologie is die gees tot sy regmatige plek herstel, dit wil sê as deel van die liggaam. Maar met kubernetika en die drome van kollektiewe intelligensie word die liggaam ’n verlenging van die gees. Natuurlik speel digitale tegnieke met hul formidabele betroubaarheid en groot vermoëns van reproduksie en representasie ’n groot rol in die virtualisering van die wêreld. Die inhoude van ons lokale ruimtes is minder en minder sigbaar en meer en meer simbolies. Hulle sirkuleer in die tegnologiese netwerke eerder as om hulle in geaarde netwerke in te skryf.

    h. Van die reële na die moontlike: In die lokale ruimte is die reële ondergeskik aan die moontlike, omdat die lokale ruimte bewus is van sy eindige bestaan. Wat moontlik is, is dit vanuit die hulpbronne en vermoëns van die lokale ruimte. Die lokale ruimte, en bowenal die nasiestaat, vind sy wortels in die tegnieke wat aan die mens ondergeskik is. Aangesien hierdie tegnieke hul grens vind in die mens wat hulle beheer, oorheers die reële die moontlike. Daar is geen sin daarin om te droom oor dit wat nie met beperkte middele gedoen kan word nie.

    Maar vanaf die Nywerheidsrewolusie is ’n tegnologiese sisteem ingestel wat die ou perke volledig agtergelaat het. Stiegler maak gewag van die vervanging van die Kantiaanse wetenskapsbegrip, waar die wetenskap die beskrywing van ’n substansiële, neutrale syn en die tegniek sy toepassing is, met die tegnowetenskap, waar die natuur gelykstaan aan tegniese skepping, en die wetenskap in ’n sin die toepassing van die tegniek is. Meer nog, die globale ruimte is ’n yslike fiksie wat slegs bestaan by grasie van koorsagtig versende “gebeurtenisse”, advertensies en futuristiese, abstrakte kommersiële uitruilings.

    In die afwesigheid van die reële staan die behoefte om uit te vind, sentraal in die globale ruimte. Dit is waarom die lokale ruimtes die getroue weergawes van ’n fiktiewe, gedroomde globale ruimte word. Alles is moontlik, maar niks is werklik nie. As die vermoë om ’n grens neer te lê ’n kenmerk van die lokale ruimte is, is die vermoë om aan die ander kant van alle grense te skep, ’n kenmerk van die globale ruimte.

    Hiermee kan ons nou die vraag aan die orde stel of die globale ruimte ’n werklike, geleefde ruimte is.


    5. Is die globale ruimte ’n werklike, geleefde ruimte?

    Nadat ons die totstandkoming van die globale ruimte en die oorgange vanaf lokale ruimtes na die globale ruimte beskryf het, kan ons nou vra of die globale ruimte ’n werklike, geleefde ruimte is of nie, veral in die lig van die ses kenmerke van ’n lokale ruimte.

    a. Die liggaam: Soos ons opgemerk het, is die globale ruimte tegelyk oral en nêrens. Dit word deels verklaar deur die feit dat ’n werklike ruimte slegs kan bestaan waar daar liggame is. Wat opval van die sogenaamde “globale gebeurtenisse”, is dat hulle altyd plaasvind waar menslike liggame geïmpliseer is. Die aard van hierdie gebeurtenisse onderstreep laasgenoemde: dit gaan gewoonlik om konflikte (Israel, Afganistan), sportbyeenkomste (die Olimpiese Spele, die Sokkerwêreldbeker), betogings (Genua, Julie 2001; Porto Alègre, Januarie 2002; Johannesburg, Augustus 2002), of internasionale byeenkomste (die G8, die Verenigde Nasies, die Europese Unie). Anders gestel: die globale ruimte bestaan vandag op een plek en môre weer op ’n ander plek. Maar die globale ruimte is nie op dieselfde wyse as die lokale ruimte gelokaliseer nie, aangesien die liggame wat in die globale ruimte geselekteer word, deur die fabrisering van gebeurtenisse oral in die wêreld gelokaliseer is. Die min duurte wat die globale ruimte dus het met betrekking tot gelokaliseerde liggame, spruit eerder voort uit die feit dat hierdie liggame tydelik geselekteer word, as uit die onbeweeglike lokaliteit van hierdie liggame.

    Daarbenewens word die globale ruimte oral via die virtuele uitgebrei, dit wil sê via die abstrakte liggaam. Dit wil nie sê dat die liggaam volledig afwesig is nie, maar dat ons ’n soort spiritualisering van die liggaam meemaak. Ons is in die gees teenwoordig in die globale ruimte, maar ons is dit nie in vlees en bloed nie. Meer fisiese effekte op die liggaam is nodig voor ons uit ’n liggaamlike oogpunt van ’n ware globale ruimte sal kan praat.

    b. Die gemeenskap: Die gebeurtenis kan plaasvind omdat daar duurte is. Die gebeurtenis is ’n onderbreking van duurte, ’n diskontinuïteit in die kontinue. Op sy beurt vereis duurte ’n kalendariteit en ’n kardinaliteit. Daarbenewens is ’n politieke investering en politieke kwessies nodig om ’n lokale ruimte te singulariseer. Dit alles is voorwaardes van ’n gemeenskap.

    In die globale ruimte is daar nie gebeurtenisse vanweë duurte nie, maar daar is ’n duurte van ononderbroke gebeurtenisse. Daar is ’n skyn van duurte, omdat daar ’n kontinue vloei van gebeurtenisse is. Die enigste gemeenskap wat in die globale ruimte bestaan, is die een wat voortdurend geselekteer, dit wil sê gebombardeer, word deur ’n vloei van ononderbroke gebeurtenisse. Hier maak ons ’n soort gebeurtelike auraskepping mee: omdat sus of so ’n voorval die een ná die ander globaal uitgesaai word, word miljarde mense gegroepeer in ’n gemeenskap van die gebeurtenis, asof ons na ’n ewige drama kyk wat ons eenvoudig betrek omdat dit konstant aangebied word. Dit gaan dus hier om ’n gemeenskap van toeskouers, ’n ware gemeenskap van skouspel.

    Hierdie effek word versterk deur die afwesigheid van ’n ware kalendariteit en kardinaliteit, behalwe dié van die ononderbroke vloei van gebeurtenisse. ’n Ware gemeenskap kan juis met betrekking tot sy kalendariteit en kardinaliteit sig betrek by of distansieer van hierdie of daardie gebeurtenis. Maar aangesien die gebeurtelike kalendariteit en kardinaliteit van die globale ruimte die lokale kalendariteite en kardinaliteite verswelg (veral daar waar hul oorlewering in lokale ruimtes swak is), het mense nie meer ’n kritiese sin ten opsigte van die gebeurtenisse van die globale ruimte nie.

    Hierby moet ook die afwesigheid van ’n werklike politieke struktuur in die globale ruimte gevoeg word. Hierdie ruimte word vir seker geïnvesteer deur politieke energieë, maar soos wat ons in die gevolgtrekking sal sien, gaan dit eerder tans om ’n stryd om kollektiewe globalisering as om politieke strukture. Ons kan ook sê dat die huidige progressiewe politieke handelinge ingeskryf is in die soeke na ware politieke strukture. Hierin sien ons dan ook die nederige begin van ’n globale politieke gemeenskap. Maar vir die oomblik beskik die globale ruimte nie oor die politieke strukture of instellings om ’n werklike globale politieke gemeenskap te skep nie. Ons sien hierdie feit baie duidelik in die gebruik van die term “die internasionale gemeenskap”. Hierdie term word keer op keer ingespan in krisissituasies wat solidariteit vereis, selfs al word die solidariteit bitter selde gedemonstreer. Daarbenewens bly die term beperk tot regerings of multilaterale instellings, in plaas daarvan dat dit ’n ware sensus communis soos die “Franse gemeenskap” of die “Afrikaanse gemeenskap” impliseer.

    In die laaste plek verhinder die vermenigvuldiging van inligting tesame met die afwesigheid van kennis in die globale ruimte ook die verskyning van ’n ware globale gemeenskap. Inligting ondermyn duurte en gesag, wat onmiskenbare bronne van ’n ware gemeenskap is. Ware gesag genereer die begeerte om tot ’n gemeenskap te behoort. Maar in plaas daarvan om so ’n gesag te hê, sien ons slegs die verleidelike aura van gebeurtenisse en verbruikersprodukte.

    In hierdie verband is dit treffend om te let op die aantal gemeenskapsverenigings wat rondom verbruikersprodukte (motors, selfone, rolprente) op die internet bestaan en wat hulself roem op die wonderlike gemeenskapsgees wat tussen hulle heers. Maar sodra ’n nuwe motor of rolprent verskyn, is dit die einde van hierdie sogenaamde “gemeenskap”.

    c. Geskiedenis: Terwyl elke lokale ruimte ’n gemeenskaplike geskiedenis en tradisie het, is dit nie die geval met die globale ruimte nie. Dit is natuurlik te vroeg vir die globale ruimte om ’n geskiedenis te hê, aangesien dit nog skaars bestaan. Maar die nuutheid van die globale ruimte verklaar nie die afwesigheid van ’n geskiedenis en tradisie ten volle nie. Om dit te verstaan moet ’n mens rekening hou met die feit dat die globale ruimte juis verskyn as effek van die tirannie van onmiddellikheid, oftewel as die teenoorgestelde van enige historiese bewussyn. Die groot gevaar is dat die tirannie van die onmiddellike en die ononderbroke vloei van die gebeure wat oral versend word, ons sal neem na ’n situasie waar perverse narratiewe soos die sogenaamde “oorlog teen terrorisme” die vertrekpunte van ’n geskiedenis van die globale ruimte word. In feite bied die huidige ontwikkelinge rondom hierdie sogenaamde “oorlog” heelwat stof tot nadenke, aangesien feitlik alle huidige konflikte in die afgelope twaalf maande herdefinieer is as “oorloë teen terrorisme” (Rusland se vuil oorlog teen die Tsjetsjene; China se onderdrukking van die Oeigoer-minderheid; die konflik in Kasjmir; en Israel se onderdrukking van die Palestyne).

    Soos met die afwesigheid van ’n gemeenskap in die globale ruimte, bemoeilik die afwesigheid van globale instellings, en bowenal instellings wat kan oorlewer, die skepping van ’n gemeenskaplike geskiedenis. Om die waarheid te sê, ons kan met reg vra of ’n gemeenskaplike geskiedenis nie gewoon ’n totalitêre utopie is nie, tensy so ’n geskiedenis kon dien as skakel tussen die globale en die lokale. Maar solank as wat daar slegs ’n geteleviseerde kalendariteit en kardinaliteit bestaan, sal ’n globale geskiedenis doodgebore bly.

    Hierdie televisuele effek op die historiese bewussyn van die globale ruimte is duidelik wanneer ’n mens terugdink oor die sogenaamde “historiese gebeurtenisse” wat plaasgevind het sedert die laaste historiese gebeurtenis wat die globale ruimte op geopolitiese vlak moontlik gemaak het, naamlik die val van die Sowjetunie in Desember 1991: die Olimpiese Spele van Barcelona, Atlanta en Sydney; die Sokkerwêreldbeker van die VSA, Frankryk en Suid-Korea-Japan; die dood van Lady Diana; en 11 September 2001. Tog was daar in dieselfde tydperk ware historiese gebeurtenisse (die einde van apartheid in Suid-Afrika; die deregulering van die markte, internet, die Israeli-Palestynse konflik, ens), maar in die globale ruimte is die toeskouers heelwat minder in hierdie gebeurtenisse geïnteresseerd as in die dood van Lady Diana …

    d. ’n Grens: Waar die singularisering en onderskeiding van die grens saamhang in die lokale ruimte, staan die skepping van ’n globale ruimte en globalisering gelyk aan die vernietiging van alle grense. Die globale ruimte is die antitese van die grens. Die vernietiging van grense is moontlik die mees opvallende kenmerk van globalisering, en daar is talle voorbeelde hiervan: die deregulering van die markte; die einde van die onderskeid tussen die openbare en die private; die kommersialisering van alle lewensterreine, vanaf gesondheid tot by religie, die omgewing en onderwys; die verdwyning van generasies en die verskyning van ’n geglobaliseerde jeugkultuur (wat besonder sigbaar is in die feit dat meer en meer vroue aantrek soos die “ideale” vrou, dit wil sê die vrou tussen 18 en 25).

    Die enigste grens wat die globale ruimte teëkom, is die grens van die lokale ruimte wat oral in die veelheid van plaaslike tale manifesteer. Maar soos ons reeds opgemerk het, manifesteer die aanval op lokale grense in die pogings wat aangewend word om lokale markte te dereguleer, sodat die hele wêreld verswelg kan word deur dieselfde verbruikersprodukte en gebeurtenisse. Die rol van multinasionale maatskappye is belangrik in hierdie proses, soos ook die rol van die media: masjiene van vereenvoudiging en ontgrensing.

    Dit is dus logies dat die afwesigheid van ’n grens, of die onwil tot ’n grens, ons voer na ’n globale ruimte wat nie gesingulariseer of onderskei kan word nie. Om die waarheid te sê, die totale afwesigheid van ’n globale ruimte is moontlik die sterkste aanduiding daarvan dat ons die skepping van ’n globale skynruimte meemaak, ’n ruimte wat geen substansiële inhoud bevat nie, maar vol kragtige vorms is, naamlik die tegnologieë van kommunikasie en die netwerke, wat dan ook verklaar waarom hierdie ruimte soveel reële effekte binne lokale grense het. “With satellite television you can go anywhere,” sing U2 op hul album wat oor globalisering handel, 1993 se Zooropa.

    e. Die buitekant: Die vernietiging van grense gaan gepaard met die verdwyning van enige buitekant, enige Ander, enige vreemdeling, tensy Afrika, die vasteland wat tot nou toe enige poging tot sistematisering ontglip, dit vir die globale ruimte sal bly. Ons sien die instelling van dieselfde ekonomiese stelsel, dieselfde menseregte en dieselfde liberale demokrasie oral oor die wêreld. Alle lokale ruimtes word herskep volgens hierdie stelsel, wat op sy beurt die verdwyning van enige buitekant veroorsaak.

    Nietemin bestaan daar ’n baie vreemde effek, ’n soort uiterlikheid aan die binnekant, naamlik die verskynsels en bewegings wat die proses van die verdwyning van die buitekant weerstaan. Hier dink ons byvoorbeeld aan nuwe identiteitsbewegings (minderhede, taalgroepe); ekonomiese krisisse (die val van die markte, krisisse van nasionale geldeenhede); beperkte natuurlike hulpbronne en die gevolge van hierdie beperkings (die kweekhuiseffek, omgewingsbewegings), ens. Maar aangesien die huidige globalisering nie die idee van pluraliteit aanvaar nie, skep hy ’n soort spookbuitekant wat hierdie verskynsels en bewegings diaboliseer of ontken.

    f. Taal: Soos ons gesien het, is taal die belangrikste kenmerk van die lokale ruimte, aangesien dit by uitstek die bemiddelaar tussen al die kenmerke van ’n lokale ruimte is. Taal word deur liggame gepraat, dit verbind ’n gemeenskap, dit dra geskiedenis en tradisie, dit merk die grens en word gedefinieer met betrekking tot tale buite sy grens. Taal is dus tegelyk die mees konkrete en die mees abstrakte, die liggaamlikste en die geestelikste kenmerk van die lokale ruimte.

    Taal is ook die beweeglikste aspek van die lokale ruimte: waar die inwoners van ’n ruimte gaan, is die taal. Met behulp van tegniese steunvlakke kan dit selfs ’n teenwoordigheid buite sy lokale ruimte van oorsprong handhaaf.

    Dit is in laasgenoemde vermoë dat die verklaring te vinde is vir die feit dat die enigste aspek van die globale ruimte wat tans daarvan ’n geleefde ruimte maak, die alomteenwoordigheid van Engels is. Engels is ongetwyfeld die mees gevarieerde taal van die planeet, gegewe die groot aantal variante wat naas “Queen’s English” bestaan. Daarbenewens is Engels verreweg die beweeglikste taal van die planeet, die eerste taal wat sig in die globale ruimte gereterritorialiseer het en waarvan die land van oorsprong, Engeland, al hoe onbelangriker op die globale vlak word. Die beweeglikheid van Engels gaan gepaard met Amerikaanse ekonomiese mag, maar hierdie mag verklaar nie alles van die globale uitgebreidheid van Engels nie. Wat bowenal in aanmerking geneem moet word, is die netwerke van rolprentteaters, televisie en die internet. Dit is tegnologieë wat Engels nie net oral in die wêreld op die vlak van inhoud dra nie, maar ook op die vlak van vorm, en wel in die sin dat al hierdie tegnologieë oorspronklik Amerikaans is. ’n Amerikaanse manier van doen word dus oral versprei. Anders gestel, die wortelskieting van hierdie taal met sy tegnologieë staan oral gelyk aan die skepping van ’n globale ruimte, ten goede en ten kwade. Gegewe die formidabele tegnologiese stelsel waarmee Engels toegerus is, kan daar geen sprake daarvan wees om dit op globale vlak uit te daag nie. Engels is en sal die taal van die globale ruimte bly, tensy ’n ongekende tegnologiese katastrofe plaasvind.

    Kan ons dus praat van ’n globale ruimte? Nee, nie in die sin van ’n werklike, geleefde ruimte nie, gegewe die afwesigheid van vyf van die ses kenmerke van ’n lokale ruimte in die globale ruimte. Die globale ruimte is ’n ewige alomteenwoordigheid (alomteenwoordig en altyd onmiddellik) wat sig aan gelokaliseerde liggame heg, wat sig oral via mense se geeste versprei, deur die gebruik van tegnologiese netwerke. Dit het nóg gemeenskap, nóg geskiedenis, grens of buitekant. Maar dit praat Engels.

    Dit is waarom dit ’n nonruimte is, ’n ruimte wat byna al die kenmerke van ’n geleefde ruimte kort, maar wat sy effekte van oomblik tot oomblik op ’n globale vlak voelbaar maak.

    Hier bo het ons die volgende definisie van globalisering gegee:

    Globalisering is die skepping van ’n globale ruimte waar die lokale ruimtes van die planeet in beginsel geskakel kan word in ’n universele ruimte bewoon deur ’n universele menslike gemeenskap.

    Dit is duidelik dat ons vir die oomblik die skepping van ’n globale nonruimte meemaak, juis omdat daar nog nie ’n werklike skakeling van lokale ruimtes in ’n globale netwerk is wat tegelykertyd die besondere en die gemeenskaplike respekteer nie. Die 21ste eeu open met die vraag of ons die wêreld op so ’n manier kan herskep dat daar nie nuwe xenofobieë sal wees nie, maar ook nie nuwe totalitarismes nie.

    Ter afsluiting sal ons kortliks aandag gee aan die moontlikhede vir die skepping van ’n ware globale ruimte en die Nuwe Afrikaanse Beweging.


    6. Onderweg na ’n globale ruimte

    Tot hier toe het ons nie net gesien dat daar nie werklik ’n globale ruimte bestaan nie, maar ook dat daar heelwat erge spanninge tussen die globale en die lokale ruimte is. Hierdie spanning kan opgesom word deur te sê dat die globale nonruimte die lokale ruimte in so ’n mate ondermyn dat daar ’n skeiding tussen gemeenskap en gebied in die lokale ruimte plaasvind. Die globale nonruimte word die gebied van alle gemeenskappe in alle lokale ruimtes.

    Ons het gewys op die besondere rol wat die ooraanbod van sogenaamde “globale gebeurtenisse” in hierdie proses speel. Dit spreek bykans vanself dat weerstand teen hierdie proses slegs vanuit die lokale kan kom. Die antropoloog Marc Augé merk tereg op:

    … die intelligensie van ruimte (word) minder ondermyn (…) deur die huidige ontwrigtings [as die intelligensie van tyd] (aangesien daar nog steeds streek en gebied bestaan, sowel in die werklike situasie op die grond as in die van individuele bewussyne en verbeeldings. (Augé 1991, p 47)

    Anders gestel, lokale ruimtes beskerm ons enersyds nog teen die verwoestende effekte van die globale nonruimte (met betrekking tot die kalendariteit en kardinaliteit van ons lokale ruimtes kan ons nog tot ’n mate die gebeurtenisse wat deur die globale ruimte versend word, gradeer), en andersyds is dit juis in die weerstand teen hierdie ooraanbod van globale gebeurtenisse dat die spanning tussen die lokale en die globale setel. Soos wat die geopolitoloog, Thierry de Montbrial, dit stel:

    Die oorgrote meerderheid mense leef nog gewortel in baie lokale tydruimtelike verwysingstelsels, selfs al is hulle inderwaarheid individueel en kollektief al hoe meer in hul alledaagse lewe onderworpe aan globale invloede. (De Montbrial 2002, p 294)

    Anders gestel, die oorgrote meerderheid mense moet van oomblik tot oomblik bemiddel tussen die effekte van twee ruimtes. Ons weet sedert die werk van Derrida, Deleuze en Lyotard dat die moderne, outonome subjek fiksie is, en dat die subjek in feite ’n “enkelvoudige meervoud” is. Maar die werklikheid van globalisering neem ons ver anderkant hierdie besinnings, aangesien die mensdom nog nooit in sy geskiedenis in so ’n mate ’n ononderbroke bemiddeling tussen twee stelsels van kalendariteit en kardinaliteit moes uitvoer nie. Ons kan sê dat die eietydse subjek op deurlopende basis moet bemiddel tussen niks minder nie as die bronne van sy bewussyn, sy liggaamlikheid, en sy sin van die individuele en die kollektiewe. Dit is dus geen wonder dat ons aan diepliggende spanninge onderworpe is nie.

    Ons het tot hier toe skrams na netwerke verwys, maar nie met die nodige diepgang nie, aangesien die ongekende verskynsel van alledaagse bemiddeling tussen twee sisteme van kalendariteit en kardinaliteit voortspruit uit die eietydse ontwikkelinge van netwerke.

    Hoe moet ons dit verstaan? Ek haal Bernard Stiegler aan:

    Die netwerk in die algemeen, wat ook al sy “stof” is, verbind oor afstand, sinchroniseer, open terselfdertyd op die verre en bring nader: die weg, die bedrading, die verbinding struktureer die gebied deur dit van homself te abstraheer en sodoende sy eenvoudige eenheid te gee …

    Daar is geen gebied sonder netwerk nie. Daar is altyd slegs netwerk of raamwerk. Die eenvoudige eenheid van die gebied is ’n mite. (Stiegler 1996, p 168)

    In ’n sekere sin sê hierdie aanhaling alles oor globalisering as effek van die nuwe netwerke, oor die spanning tussen die lokale en die globale ruimte, oor die moontlikheid om gemeenskap sonder tradisionele gebied te bedink.

    Dit is ook duidelik dat die netwerk glad nie nuut is nie. Om die waarheid te sê, die netwerk kan dien as metafoor by uitstek van die kosmos en alles daarin. Die menslike liggaam is ’n netwerk van selle wat op hul beurt ’n netwerk van spiere, been en organe vorm. ’n Huis is ’n netwerk van individue, kamers en funksies wat in ’n konkrete struktuur beliggaam word. ’n Gemeenskap is ’n netwerk van individue. Die geskiedenis is ’n netwerk van gebeurtenisse.

    Wat tans gebeur, is dat die nuwe tegnologieë nuwe netwerke skep wat ook ou netwerke inbind, dit wil sê ou lokale ruimtes in nuwe netwerke. Sodra ’n nuwe netwerk geskep is, is daar ’n verandering in die vorm en inhoud van dit wat in die netwerk geplaas word. Globalisering as reuseskepping van nuwe netwerke tussen lokale ruimtes lei tot ’n globale ruimte. Die politieke uitdaging van ons era is die bemeestering van hierdie proses sodat die nuwe gebied wat verskyn, ’n werklike gebied is.

    In ’n sekere sin het hierdie proses al verskeie kere in die geskiedenis plaasgevind. Telkens wanneer nuwe bande tussen verskillende lokaliteite gevestig is, is nuwe gebiede geskep. Die skepping van die nasiestaat is ’n goeie voorbeeld van die herskrywing van ou gebiede in ’n nuwe gebied.

    Binne die huidige proses van globale netwerkskepping is ons almal minderhede. Die begrip minderheid het twee betekenisse. Die eerste is om getalsgewys in die minderheid te wees (“hulle is baie meer as ons”); die tweede is om in terme van mag in die minderheid te wees (“hulle is baie sterker as ons”). Die huidige werklikheid van die globale nonruimte is dat hierdie ruimte as netwerk van lokale ruimtes baie sterker as individuele lokale ruimtes is. In hierdie sin is globalisering ’n ware gelykmaker van die ou lokale ruimtes. Dit is natuurlik waarom regionalisme in die mode is: verskeie lokale ruimtes kan saam beter weerstand bied teen die globale nonruimte.

    Maar daar is ’n ander rede waarom dit belangrik is om met betrekking tot globalisering oor onsself as minderhede te dink, naamlik dat minderhede altyd voorbeelde was van gemeenskappe sonder gebiede. Natuurlik bevind ’n minderheid hom altyd iewers, maar hierdie iewers is nie syne nie - vandaar die belang van die wêreldwye bewegings vir minderheidsregte. Die minderheid is ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat weet hoe om ’n netwerk te vorm op ’n netwerk wat nie syne is nie, maar die van die gebied waarbinne hy hom bevind. Dit is ook die uitdaging van globalisering: hoe moet ons ’n netwerk maak op ’n netwerk wat nie ons s’n is nie? Daar kan nie sprake daarvan wees om te beweer, soos sekere bewegings binne voormalige groot nasies, dat ons ou netwerke nog aan ons behoort nie; as dit so was, sou Nasionalisme nog in ’n goeie toestand gewees het. Insgelyks kan pogings om ou lokale ruimtes af te sluit (teen immigrante, vreemdelinge en “terroriste”) sonder twyfel die materiële voordele van hierdie gebiede nog ’n rukkie langer beskerm, maar dit kan op geen manier die politieke lewe herstel nie, oftewel die politieke gemeenskap bedink aan die ander kant van die ou plaaslike netwerke nie.

    Waar gister se netwerke, veral die van die nasiestaat, nog onder politieke beheer was, is dit tans nie meer die geval nie. Of, om meer spesifiek te wees, aangesien die sogenaamde “nuwe ekonomie” niks anders nie as ’n ekonomie van netwerke is, vind die politieke krisis van ons era sy oorsprong in die druk wat uitgeoefen word om die ou netwerke wat steeds onder politieke beheer is, ook te kommersialiseer - onderwysstelsels, gesondheidstelsels, natuurlike hulpbronne, ens. Die politieke prys van globalisering is om nuwe politieke beheer vir nuwe netwerke uit te vind, dit wil sê om ’n werklike globale ruimte te skep wat ’n werklike netwerk van lokale ruimtes sal wees en gekenmerk sal word deur ’n heen en weer beweging tussen die lokale en die globale.

    Is dit moontlik om so ’n globale ruimte te skep? Die vraag is nie nuut nie. Ons weet dat die geskiedenis besaai is met utopiese drome van ’n wêreldregering, ’n wêreldstaat en wêreldburgers. Ons weet ook dat hierdie drome uitgeloop het op totalitêre nagmerries (Nazisme, Stalinisme, imperiale ryke). En tog laat die onomkeerbare beweging na ’n globale netwerk ons geen ruimte om aan hierdie vraag te ontsnap nie: hoe sal ’n werklike, geleefde globale ruimte daar uitsien? Wie verkies om hierdie vraag te ignoreer, sal nie net aan die instelling van ’n globale nonruimte aandadig wees nie, maar ook aan die vernietiging van dit wat nog oor is van lokale ruimtes.

    Ons het reeds gesien dat die nuwe netwerke veral weens hul aanwending van digitale tegnologie ’n sterk virtuele aspek het. Dit is as gevolg van die virtuele netwerke dat die virtuele ervaringe van die globale nonruimte self moontlik word. Maar wanneer ons oor die virtuele praat, moet dit met omsigtigheid gedoen word. Ons neig dikwels om die virtuele as teenoorgestelde van die reële te beskou. In werklikheid is dit glad nie die geval nie. Ek haal Stiegler aan:

    Ons verwys hier na “virtuele ruimtes” as die retensionele gehele van gegewens wat fisies bewaar word op digitale steunvlakke wat ontoeganklik is sonder die bemiddeling van ’n sisteem van representasies van hierdie inligting, en waarvan ’n intuïtiewe beeld geskep word om hierdie state van onleesbare materie vir ’n ontoegeruste bewussyn via koppelvlakke (interfaces) representeerbaar en manipuleerbaar te maak. Dit gaan hier geensins om “immaterialiteit” nie, laasgenoemde synde ’n begrip waaroor baie gegorrel word, maar wat volledig leeg is.
    In die mate waartoe hierdie elektroniese ruimtes van gegewens ook kan dien as oppervlakke van projeksie vir die aktiwiteite wat in reële tyd deur middel van netwerke en bediensentrums uitgevoer word, en wat op rekenaarskerms uitgebeeld word deur beelde wat self in reële tyd geanimeer is, sou ons kon praat van ’n “virtuele ruimte” of “kuberruimte”, asof hierdie beelde ’n ander ruimte as die “reële” ruimte is. (Stiegler 2001, pp 205-206)

    Dit is dus duidelik dat die virtuele altyd bloot ’n besondere manier is om die werklike voor te stel, en dat die verskyning van sogenaamde “virtuele ruimtes” die resultaat is van die kragtigheid van hierdie aktuele voorstellings. Die globale nonruimte is ook ’n werklikheid weens die alomteenwoordigheid van die kommunikasie-instrumente wat gebruik word om die sogenaamde “globale gebeurtenisse” te kommunikeer.

    Verder lei die feit dat nuwe digitale skryfvorme die verwerking en onmiddellike versending van inligting bemoontlik, tot die versterking van hierdie nonruimte.

    Philippe Quéau skets die verband tussen die virtuele en die reële nog beter met sy definisie van die virtuele:

    Wat is die virtuele? Die virtuele is ’n staat van die reële en nie sy teenoorgestelde nie. Wat virtueel is in die reële, is essensies, vorme, versteekte oorsake, toekomstige uiteindes. Die virtuele is die aktiewe beginsel, die onthuller van die versteekte krag van die reële. Dit is dit wat aan die werk is in die reële.

    Die woord “virtueel” kom van die Latynse woord virtus, deug, wat sy wortel vind in vir, die mens. Vir die Romeine is die deugsame mens die ware mens. Slegs deug (virtue) kan die reële transformeer. Dit is die deugsame mens wat werklik die reële kan beïnvloed (die woord “reëel” kom van die Latyns res, die ding). Want dit is die deugsame mens wat homself kan transformeer in wat hy nog nie is nie. (Quéau 2000, p 82)



    Duideliker kan dit nie oor die verband tussen die virtuele en die reële nie, en ook nie oor die nuwe verhouding tussen teorie en praktyk wat vandag ontstaan nie. Dit is nie verniet dat die bewegings vir ’n ander soort globalisering ’n groot deel van hul sukses toeskryf aan die internet, ’n ware instrument vir die nuwe verhouding tussen teorie en praktyk nie. Quéau som die implikasies van hierdie verhouding soos volg op:
    Die virtuele daag dus op ’n kritieke tydstip op, en ’n mens kan nie anders nie as om vele magte van transformasie daaraan toe te ken as middel van representasie en simulasie, en as konseptuele, ekonomiese of krygsmiddel. (Ibid, p 82)

    Hierby voeg Quéau nog ’n belangrike kwalifikasie oor die bruikbaarheid van die virtuele in die skepping van ’n werklike, geleefde globale ruimte:

    Die waarheid van die virtuele moet in laaste instansie beoordeel word aan die hand van sy deelname aan die gemeenskaplike goeie. Die toets van die reële is die globale gemeenskaplike goeie. Die kriterium van die globale gemeenskaplike goeie impliseer dat die werklikheid van die verwysing die planetêre … gemeenskap in sy geheel is.

    Virtuele wêrelde sal slegs as “reëel” beskou word in die mate dat hulle “reëel” bydra tot die globale gemeenskaplike goed en tot die planetêre gemeenskap. (Ibid, p 100)

    Vir die doeleindes van ons argument kan ons sê dat wat met betrekking tot die virtuele op die spel is, is dat ’n werklike globale ruimte slegs daar sal bestaan waar die virtuele dien as koppeling tussen die lokale en die globale, dit wil sê waar nuwe vorme van gemeenskap reëel word. Dit is waarom ’n genadelose stryd vandag rondom digitale tegnologieë gevoer word, aangesien hulle die skepping van ’n homogene of heterogene wêreld sal bepaal. As die virtuele die “toekomstige uiteindes” of die beliggaming van wat reeds daar is, verteenwoordig, kan ons ons gereedmaak vir ’n wêreld wat meer totalitêr of vryer is as wat ons tot nou geken het.

    Maar as, soos ons gesien het, die meeste van die kenmerke van ’n werklike, geleefde ruimte afwesig is in die globale nonruimte, waarop kan ons dan steun vir die skepping van so ’n ruimte? Op niks anders nie as taal.

    Benewens die feit dat taal al die kenmerke van ’n geleefde ruimte verbind, is dit ook die mees verfynde netwerk van die lokale ruimte. Taal beskerm en beliggaam die enkelvoudige en die meervoudige. Om te praat, is om wêreld te maak. Om te praat, is om gemeenskap te maak. Taal verbind die materiële en die immateriële, die reële en die virtuele. Dit is tegelyk representasie en ding, simbool en liggaam.

    Om die belang van taal vandag beter te verstaan, moet ons sy vermoë om gemeenskap te skep, sowel as sy virtuele aspek, in gedagte hou.

    Stiegler som die wyse op waarop taal tegelyk gemeenskap (die wie) en tegniese steunvlak (die wat) is:

    Taal is ’n uitsonderlike geval van die wat, en sy performatiewe dinamiek is ’n singularisering van die algemene performatiwiteit van die wat. Dit lyk gewis skandalig om te sê dat taal ’n uitsonderlike geval van die wat is, aangesien “taal nie ’n eenvoudige weerspieëling nie, maar ’n stigtende medium is” - maar dit geld vir die wat in die algemeen. As ekstasiotydelike struktuur van die buite-die-self-wees, behoort taal reeds tot die koppeling van ’n wie en ’n wat en is dit op ’n nog dieper vlak die wat as sodanig … (Stiegler 1996, p 202)

    In feite roep taal altyd die gemeenskap wat moet kom en die gebied wat beset moet word, op. Die geskiedenis van die Afrikaners illustreer hierdie feit: ’n groep wat in ’n groot geografiese ruimte verstrooi was, het daarin geslaag om sy sin van gemeenskap te handhaaf vanaf sy taal ten einde, eerstens, die twee noordelike Boererepublieke te stig, en later die hele Suid-Afrikaanse geografiese ruimte te investeer as nasionale gebied onder Afrikaner-nasionalisme en die republiek van 1961 te stig. Laasgenoemde het sy wortels gevind in die twee taalbewegings van 1875 en 1925, bewegings wat gedien het as fondamente van ’n nasionale bewussyn wat gespruit het uit ’n dun Afrikaanse kleed uitgesprei oor die hele Suid-Afrikaanse geografiese ruimte.

    As taal ons goue draad sal wees vir die skepping van ’n werklike, geleefde globale ruimte, is tien kort opmerkings ter sake:

    a. Die instellings van taal: Die beheer oor die instellings waarin taal oorgelewer word (skole, universiteite, kerke), is onmisbaar. Hierdie instellings vorm deel van die materiële van ’n taalnetwerk. Die verskyning van nuwe tegnologieë impliseer tegelykertyd die hervorming van hierdie instellings sodat hulle beter aangepas is by die moontlikhede en eise van hierdie tegnologieë, en die skepping van nuwe instellings rondom taal, byvoorbeeld webwerwe vir die esteties-literêre uitset van ’n taalgemeenskap.

    b. Die instandhouding van die integriteit van die taalruimte: As dit eerder plaaslike tale as geografiese grense is wat die grense van ’n lokale ruimte aandui, is die instandhouding van die integriteit van die taal belangrik. Deeglike letterkundige en grammatikale skoolopleiding is nodig en die taal moet ’n openbare en handelsinstrument bly.

    c. Vertaling en tolking: Vertaling en tolking word al hoe meer brûe tussen lokale ruimtes, sowel as tussen die lokale en die globale ruimte. In hierdie sin is die oorheersing van Engels nie ’n slegte ding in sigself nie. Om die waarheid te sê, hierdie oorheersing open die moontlikheid vir plaaslike tale om hul inhoude oral makliker oor te dra, omdat hulle eerder in Engels as in verskeie tale vertaal moet word ten einde geken te word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is te vinde in die feit dat die meeste belanghebbende werke van die humanoria en die letterkunde wat vandag in Engels beskikbaar is, nie noodwendig oorspronklik in Engels geskryf is nie.

    d. Die plaaslike inligtingsekonomie: Op lang termyn is ’n globale inligtingsekonomie nie volhoubaar nie, aangesien inligting self slegs waarde het solank die verspreiding daarvan beperk bly. Maar sodra hierdie inligting globaal versprei word, soos in die geval van die globale nonruimte, verloor dit sy waarde. Dit is ook waarom daar vandag so ’n ooraanbod inligting is: daar moet altyd nog meer inligting nog vinniger geskep word om die globale inligtingsekonomie in stand te hou. Daarteenoor is ’n inligtingsekonomie in ’n beperkte ruimte soos die lokale ruimte heeltemal moontlik. Anders gestel, plaaslike mediagroepe is winsgewend in die mate waartoe hulle plaaslike inhoud skep en versprei in die plaaslike taal. Die geval van Suid-Afrika sedert 1994 is ’n goeie voorbeeld hiervan: terwyl die twee groot Engelse mediagroepe swaarkry en die Suid-Afrikaanse Engelse kultuur tot ’n groot mate verdwyn het, gaan die grootste Afrikaanse mediagroep van krag tot krag, omdat hulle nuwe kommunikasietegnologieë die land ingebring het en daarin slaag om plaaslike Afrikaanse inhoud te weerspieël.

    e. Die bemeestering van geheuetegnologieë: Ons het gesien dat die bedryf van tersiêre retensies die grondslag is van die globale ekonomie wat die instrumente van hierdie bedryf oraloor versprei. Nietemin open hierdie globale verspreiding teen relatief lae koste belangrike moontlikhede vir lokale ruimtes. Hierdie ruimtes moet hierdie tegnologieë omarm en die moontlikhede om hul inhoude daarmee oor te dra, benut. Die wyse waarop die Joodse diaspora as “Nasie van die Boek” oorleef het, is hier ’n belangrike rigtingwyser, met hul geskiedenis as metafoor van ’n globale gemeenskap wat vanaf protogeheuetegnologieë soos perkamentrolle ontstaan het.

    f. ’n Taalpolitiek: Die taalsosiologie dui reeds geruime tyd op die belang van ’n behoorlike taalpolitiek, en wel omdat ’n taal nooit “vanself” voortbestaan nie. Maar ’n taalbeleid kan ook ’n ander dimensie betrek, naamlik ’n politiek wat taal in die sentrum van sy handelinge stel, dit wil sê materieel en virtueel, enkelvoudig en meervoudig, gerig op die binne- sowel as die buitekant.

    g. Erfenis: Een van die groot voordele van die nuwe tegnologieë, veral digitale tegnologieë, is die moontlikheid om erfenis toegankliker as voorheen te maak. Ons moet ons egter nie misgis nie: die vermoëns van duursame storing van hierdie tegnologieë moet nog bewys word. Ons kan egter hoop dat hierdie probleem te bowe gekom sal word. Wat seker is, is dat die aanlynstelling van erfenis dit toegankliker maak vir diegene wat ver van biblioteke of museums is. Veral letterkundige erfenis kan hieruit voordeel trek.

    h. Taalbewegings: Bewegings wat vir taalregte vra, moet gesteun word, maar terselfdertyd moet gesoek word na nuwe politieke strukture om hierdie regte toe te pas. Die Europese Unie is met al sy gebreke ’n goeie voorbeeld van ’n nuwe politieke struktuur en wat dit vir taalregte kan doen. En as die taal die gemeenskap wat moet kom, oproep, kan hierdie bewegings moontlik die voorlopers word van die lokale ruimtes wat moet kom.

    i. Diversiteit: Daar is geen beter riglyn vir ’n werklik diverse globale ruimte as die diversiteit van tale nie. Ons weet egter dat diversiteit komplekse probleme bied. Alle tale is nie ewe groot nie en het ook nie dieselfde ekonomiese of politieke mag nie. Dit is waarom die gedagte van taalalliansies vrugbaar kan wees, waarvolgens byvoorbeeld die Franse of Duitse taalgemeenskap vier of vyf kleiner taalgemeenskappe kan bystaan. Dit gaan dus om die skepping van politieke alliansies op basis van taal, eerder as op basis van religie of ekonomie. Dit mag moontlik ’n konstruktiewe politieke instrument wees.

    j. Tyd en taal: Baie word vandag oor die oorheersing van Engels gesê, maar min word gesê oor die skade wat globalisering aan Engels self kan doen, in die sin dat Engels al hoe meer die taal van die onmiddellike, ’n nontaal, word. Ons het gesien dat taal ons in staat stel om in driedimensionele tyd te leef. Dit is waarom die beskerming van taalverskeidenheid die beste huidige vorm van weerstand teen die tirannie van die onmiddellike is.

    * * *

    Ons beweeg ’n tydvak binne waar die politiek meer en meer spookagtig word. Die politiek moet hermeties word, dit wil sê in staat wees om vinnig te draai in die rigting van boodskappe en plaaslike inhoud. So nie, sal die nihilistiese spoed van die globale nonruimte die oorhand kry.

    Dit is hier waar die eksperiment van die Nuwe Afrikaanse Beweging van belang is. Dit is tegelyk ’n taal- en republikeinse beweging, maar dit is nog te vroeg om te weet hoe dit sal afloop. Soos ons reeds genoem het, het die vorige twee taalbewegings ’n belangrike rol in die skepping van Afrikaanse gebied en gemeenskap gespeel.

    Wat van die Nuwe Afrikaanse Beweging opval, is dat dit tot dusver, anders as sy historiese voorgangers, geen aanspraak op ’n geografiese gebied maak nie. Terselfdertyd munt dit veral uit in die uitleg van nuwe virtuele gebiede, soos die media in die algemeen en die internet in die besonder. Wat fassinerend is, is dat die Afrikaanse wêreld ná die prysgawe van die apartheidstaat, wat uiteraard ’n belangrike tegnies-materiële steunvlak was, steeds beskik oor noemenswaardige steunvlakke, in die vorm van die Afrikaanse media, onderriginstellings en kerke. Dit is waarskynlik te danke aan die reikwydte van hierdie tegnies-materiële steunvlakke (waarvan die vorige twee taalbewegings maar kon droom) dat daar nie tans ’n eis om ’n eie gebied in die Nuwe Afrikaanse Beweging is nie. Aan die ander kant is dit veilig om te voorspel dat die verdere wegkalwing van hierdie tegnies-materiële steunvlakke nie net politieke ekstremisme in die hand sal werk nie, maar ook die eis vir ’n eie geografiese gebied hernieude stukrag sal gee.

    Wat verder van hierdie beweging opval, is dat dit, hoewel rewolusionêr in aansprake, geensins ’n klassieke rewolusionêre beweging met steun onder sakelui, werkers, boere en so meer is nie. Trouens, die krag van hierdie beweging lê tot dusver juis in die feit dat die intellektuele wat dit dryf, daarin geslaag het om die kommunikasietegnologie tot hul beskikking vernuftig aan te wend. In die hedendaagse politiek is boodskap veel belangriker as beleid, en hierdie beweging munt uit in die gebruik van die boodskap.

    Dit is ons voorneme om in ’n verdere studie die verband tussen tegnies-materiële steunvlakke en die republikeinse tradisie in die Afrikaanse wêreld verder te ondersoek. Vir eers, en ter afsluiting, keer ons terug na die kompas.

    Ons het die vraag gevra waarmee ons onsself in die huidige globale landskap kan oriënteer. Ons het probeer aantoon dat die tegnologiese rewolusie wat die globaliseringsproses onderlê, alle lokale ruimtes grondig herskryf.

    Ons ken vandag nie meer die grond onder ons voete nie. Ons weet nie of dit heilig of bevlek, materieel of virtueel is nie. Maar in die palm van ons hand lê die kompas van die woord - nie die woord wat mens geword het nie, maar die mens wat woord word. Noord is nie meer bo nie: die woord is bo.


    Bibliografie

    AUGE, Marc. Non-lieux: Introduction à une anthropologie de la surmodernité. Parys: Seuil, 1992.

    GEORGE, Susan en WOLF, Martin. Pour & contre la mondialisation libérale. Parys: Grasset/Les Echos, 2001.

    KANT, Immanuel. Projet de paix perpétuelle. Parys: Mille et une nuits, (1795) 2001.

    LÉVY, Pierre. World Philosophie. Parys: Odile Jacob, 2000.

    LÉVY, Pierre. Cyberdémocratie. Parys: Odile Jacob, 2002.

    MONTBRIAL, Thierry de. L’action et le système du monde. Parys: PUF, 2002.

    NANCY, Jean-Luc. La création du monde ou la mondialisation. Parys: Galilée, 2002.

    QUÉAU, Philippe. La planète des esprits: Pour une politique du cyberespace. Parys: Odile Jacob, 2000.

    RAMONET, Ignaçio. Les seigneurs des réseaux, in Le Monde Diplomatique, Mei 2002.

    ROSSOUW, Johann. Mondialisation: de l’espace global vers l’espace local?. Ongepubliseerde skripsie vir ’n Diplome des Etudes Appliqueés aan die Universiteit van Lyon-III. Lyon, 2002.

    STIEGLER, Bernard. La technique et le temps: La désorientation (tome 2) . Parys: Galilée, 1996.

    STIEGLER, Bernard. La technique et le temps: Le temps du cinéma et la question du mal-être (tome 3) . Parys: Galilée, 2001.

    Hierdie lesing is oorspronklik gedurende Julie 2002 gelewer by die Departement van Filosofie van die Universiteit van Stellenbosch, sowel as by die maandelikse filosofiekafee van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek te Café Riche, Kerkplein, Pretoria. ’n Papierweergawe verskyn eersdaags in die jongste aflewering van Fragmente.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.