SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Kalahari.net resensie

Klapperhaar slaap nie stil nie
Koop by Kalahari.net
RAS, GEWELD EN DIE KWALITEIT VAN KLAPPERHAAR

George Weideman

Rondom ’n debuutboek duik daar gewoonlik vrae op soos “Wie is hierdie nuwe skrywer?” en “Watter streek of samelewing of mense gaan hy aan ons voorstel?” En soms is daar ’n soort dampkring aanwesig wat deur faktore buite die boek om geskep word — dit wat dan in bepaalde gevalle (en soms onregverdiglik) as die hype rondom die boek bekend staan: die voorbrandstories (soos Nuwe woorde van Pharos dit so mooi noem). Dié voorbrand verhoed nie noodwendig die vurige toorn van die kritici nie (of hul ewe vurige opvyseling van ’n boek); dit stig wel soms brande deur reeds voor ’n boek se verskyning “betekenisse” daaraan te heg.

Hierdie soort opkikkering het Kirby van der Merwe se debuutroman gelukkig nie te beurt geval nie; tog het leserreaksies sekere buite-artistieke sake na die oppervlak gedruk. Twee van hierdie sake — wat tog ook nie geheel en al los te dink is van die boek nie — betref die ras van die skrywer en die historiese konteks waarbinne hy skrywe.

Klapperhaar slaap nie stil nie sluit dus op ’n breër vlak aan by twee tydgenootlike diskoerse. Dis egter belangrik om van meet af aan by te voeg dat die roman as roman gelees en geniet behoort te word. Net so belangrik is dit om te benadruk dat die debuut sterk genoeg is om tydgenootlike kwessies te oorleef.

Tog is dit nodig om kortliks by die twee sake stil te staan, aangesien dit ook ander skrywers raak. ’n Mens sou tewens graag wou verneem hoe ander skrywers hierdie sake sien!

RAS
Daar is dan eerstens die gesprek oor die skrywer se herkoms of ras. Die saak het na vore gekom toe Lucas Malan in ’n resensie (in Rapport, 14 November 1999) na Van der Merwe verwys het as ’n skrywer uit die “grootliks versweë of swyende gemeenskap” wat nou stem gekry het. Miskien het lesers, waaronder Van der Merwe self, by implikasie “bruin skrywer” gelees, soos blyk uit ’n gesprek hierná met Daniel Hugo in die radioprogram Leeskring. Van der Merwe het tereg daarop gewys dat hy in eerste instansie kunstenaar is; dat hy nie graag gekategoriseer sou wou word nie. En inderdaad dra Van der Merwe hom nie, soos baie ander, dood aan die bagasie van die apartheids- en struggle-jare nie. Dit is egter ’n voldonge feit dat skrywers in die ou Suid-Afrika op grond van ras gemarginaliseer is; so is ’n patroon van bevestiging en ontkenning geskep waaruit ons almal sukkel om los te kom.

Die grootsheid van ’n kunswerk hang nie af van ’n etiket nie. Dat mense hulle die benaming “gay-skrywers” of “vroue-skrywers” laat welgeval, is seker hulle reg — maar wesenlik het ras, geloof en seksuele oriëntasie nie primêr met die geskrewe produk te doen nie, tensy dit tot tema gemaak word. Van der Merwe het selfs sy spyt daaroor uitgespreek dat sy foto op die agterflap verskyn. In sy radiorubriek in Die Burger het André Blom pas ná die onderhoud juis daarop gewys dat die agterflapfoto ras by die saak insleep, of jy dit nou verkies of nie.

Goed, dan kan ’n mens nóg redeneer: Gestel daar was nie ’n foto nie? Dan is die skrywer maar net nog ’n Van der Merwe, een met ’n Engelse voornaam. Ek het nog nooit aan myself as “wit” skrywer gedink nie; behalwe in soverre die mate van bevoorregting wat ek geniet het, “bruin” skrywers van dieselfde voorregte uitgesluit het.

Reaksies soos die voorgenoemde sluit aan by menings rondom die (eintlik totaal onnodige) vraag “Wie mag nou eintlik namens wie skryf?” Mag wit oor bruin/swart skryf; mag swart/bruin oor wit skryf? Heindrich Wyngaardt het byvoorbeeld al in sy spreekbeurt oor Punt Geselsradio daarop gesinspeel dat dit eintlik nie kosjer is as “bevoorregtes” of “hulle wat gebaat het by apartheid” oor “histories benadeeldes” skryf nie. Is al hierdie geredekawel oor die skrywer se identiteit werklik ter sake? Mag ’n jong skrywer byvoorbeeld nie oor “chronologies benadeeldes” skryf nie? Wat sou dan van ’n skitterende verhaal soos “ ’n Bruidsbed vir tant Nonnie” van Hennie Aucamp geword het? Hy was tog heelwat jonger met die skryf van die verhaal! En wat van John Updike se uitnemende inlewing in die geriatriese leefwêreld in The Poorhouse Fair? En Faulkner? Het hy hom soos die musikoloog John Howard Griffin laat inspuit om deur pigmentasieverandering “aan die lyf” te voel hoe Negers in die “Old South” rassemeerderwaardigheid ervaar? Tog nie.

Ek herinner my dat Catherine Belsey in haar boek Critical Practice al in die 1980’s daarop gewys het dat dit alles op die ou end eintlik nie saak maak nie. Die gehalte en egtheid van die gefiksionaliseerde voorstelling van mense — dis die deurslaggewende! Maar hoe meet jy dit? Een manier is om na die taalgebruik te kyk. Ernst Lindenberg het so vroeg as Oktober 1964 (in Kriterium 7) daarop gewys dat die “streektaal” van die spreker in Peter Blum se “Oor monnemente gepraat” nie konsekwent is nie.

Die gehalte van die skrywer se inlewing bepaal sy sukses. Neem jy die egtheidsbeginsel weg, sit jy met die standpunt wat in die tyd van die Brontës gehuldig is — naamlik dat ’n vrou nie ’n boek soos Wuthering Heights kon geskryf het nie; die broer moet die skrywer wees! Hierdie soort argument ontken een van die mees basiese beginsels van skryf, naamlik dat die skrywer hom of haar moet kan vereenselwig met of inleef in die omstandighede en die lot van ander. “Stem gee aan die stemloses”, is die uitdrukking wat gewoonlik hiervoor gebruik word. Naas navorsing (kennis) is egte meelewing uiters belangrik. Hoeveel verklap die boek self oor so ’n debat? Maar kom ons kyk eers na die ander saak: Die boek is kind van sy tyd. ’n Tyd van geweld.

GEWELD
Dis ’n gemeenplaas om te sê dat geweld die moderne samelewing oorheers. Die droom (of illusie) dat jy daarvan kan ontsnap, word in Klapperhaar slaap nie stil nie deur bepaalde ruimtelike metafore gedra. Hoedat mense van ’n uitkykpunt af waarneem — of hulle nou panoramies kyk of voyeur speel — bepaal ook byna regdeur die boek hul “verbondenheid” met dit wat voor of agter hulle lê.

Op dieselfde wyse word die varkslag-episodes as ’n byna groteske “viering” van geweld uitgebeeld, terwyl die magsinvloed van bendes die leser ook voortdurend aan ’n samelewing van gewelddadigheid herinner. In ’n mate sluit dié gegewe — en die Kinta-figuur — aan by Kanna hy kô hystoe van Adam Small: kies jy vir betrokkenheid, of verkies jy die vrede van ’n bestaan ver weg van alles wat jou aan geweld herinner? In Afrikaans word die kwessie van geweld wat jy nie afgeskud kry nie, ook nog deur Abraham Phillips in Verdwaalde land, en in verhale van Abraham H de Vries ondersoek. Dis ’n universele tema, dié van mense wat hulself probeer losmaak van ’n “eenvoudige agtergrond” en wat dan in ’n persoonlike krisis gedompel word wanneer die tradisie of die verlede (in baie gevalle ’n gewelddadige tyd) hulle inhaal: die Marokkaan Hafid Bouazza se verhale (Die voete van Abdoella) is ’n onlangse buitelandse voorbeeld, en iets soortgelyks, deel vriend Braam my mee, is aanwesig in Vaclav Havel se essays Om in die waarheid te leef. Bekender nog is Marga Minco se Het bittere kruid. En natuurlik Solzhenitsyn en Isabel Allende.

KLAPPERHAAR
Hoe hanteer ’n debuutskrywer só ’n formidabele gegewe? En wat verwag ’n mens dan wel van ’n debuutroman? Om by laasgenoemde te begin: ’n Mens verwag waarskynlik dat die skrywer jou moet bekoor met die diepte, die meervoudigheid van outentieke ervarings; met trefsekere taalgebruik; met skerp ruimtetekening; met mense wat nie gefabriseerd lyk nie; met ’n sterk storielyn. En dit is wat Van der Merwe regkry: Om die identiteiskrisis van ’n enkeling teen die agtergrond van ’n geweldkultuur só te teken dat dit jou bybly.

Kirby van der Merwe se debuutroman stel dus in dié opsig nie teleur nie. Kinta Januarie se storie — haar hartstogtelike pogings om aan haar ellendige verlede te ontsnap — word op ’n deurleefde wyse vertel. Haar ambivalente stryd — oortuigend versinnebeeld deur haar verslaafdheid aan haar bloedsuier-broer, pastoor Abe, se vulgêre stories — word ’n eg-menslike soeke na vrywording en groei. Haar respek vir die mistieke Ooste waarvandaan haar voorsate kom en haar toeëiening van veral Westerse kultuurgoedere maak van Kinta Januarie ’n mens wat volledig in die hier en die nou van die Suid-Afrikaanse politiek gesetel is. As ’n mens dan nog so gesegregeer wil bly dink, is dit egter juis opvallend dat Klapperhaar slaap nie stil nie eintlik ewe goed deur ’n “wit” as deur ’n “bruin” skrywer geskryf kon gewees het. Inhoudelik is daar ewe veel van albei “wêrelde” aanwesig.

Dit is hier waar die ander diskoers van tyd tot tyd kop uitsteek: Die vraag na waar jy “behoort” of “tuishoort”. Dis veral die oplaaiende identiteitstrewe by mense wat hulle oorspronge in die Khoi-ryke van eeue gelede vermoed, wat opval. Was die Khoisan-gemeenskappe en hul (minder bekende) voorgangers dan nie die oorspronklike bewoners van die land nie? Dit stel sowel ou stereotipes as die alte maklike toeëiening by “swart” of “wit” — ’n vorm van politieke hiperkorrektheid — aan die kaak. So vind ons by Kinta ’n duidelik geartikuleerde afkeer van Afrika: “Sy kan haar nie vereenselwig met enigiets van Afrika nie. Haar slawe-voorouers het hier op die einste plein swaargekry. Ja, hulle is verkrag in die slawelosies en in die stegies. Of gewilliglik in die hemelbeddens. Maar in háár are vloei nie ’n enkele druppel swart bloed nie.” (p131)

Ook ander karakters — bv Hans Brink, die oud-polisieman wat op sy dae die Argus se voorblad gehaal het toe hy in die riot squad was, maar wat nou sy dae in eensaamheid slyt — worstel met die verlede. Sy besoeke aan Kinta se swygende vader in die hospitaal word ’n soort biegbesoek aan ’n private Waarheids- en Versoeningskommissie. So word wyer dimensies aan Kinta se worstelstryd gegee.

Waarom swyg Adriaan Januarie? Is hy verteenwoordigend van die apatiese mens? Of van diegene wat tot emosionele stilswye gedwing is? Want teenoor hom is Hans Brink ’n slagoffer “aan die ander kant”; teenoor hom is die gladdemond Abe tekenend van die aarts-opportunis wat op sy manier aan die verlede probeer ontsnap, net om — ondanks sy finansiële sukses — verder daarin terug te val.

Afgesien van sy sterk outentieke aard, gryp Klapperhaar slaap nie stil nie hierdie leser ook aan omrede die afgerondheid van die karakters. Kinta, die moderne beroepsvrou (sy is prokureur wat in omgewingsreg spesialiseer), probeer nie net die ellende van haar jeugjare in ’n sinkhuis ontvlug nie, sy moet ook diegene wat haar geëksploiteer het (bv haar Engelse professor), finaal afsweer. Haar diepste hartewens, om die geheim wat haar sterwende vader skynbaar met hom saamdra, te peil, vorm skering en inslag van die boek. Wat dié geheim is? Dit moet die leser self probeer vasstel.

Op ’n manier wat nogal aan Faulkner se As I lay dying herinner, is dit juis die bymekaarkom van uiteenlopende mense om die sterwende se bed wat die storie laat voortstu. Dis juis húlle wat bepaalde skimme uit die verlede lyf en gesig gee — en dis nie altyd ’n mooi gesig nie. Só word die boek in eie reg ’n soort ontwikkelingsroman, omdat Kinta se konfrontasie met hierdie gestaltes aan haar ’n feitlik simboliese status verleen.

Ruimte — ofte wel die fyn uitgewerkte kontraste tussen ruimtes — speel ’n deurslaggewende rol. Teenoor die “blikkiestrein”-milieu van haar kinderjare staan haar huis met geliefde goed; dinge wat haar kokon-bestaan verseker. Vergelyk maar haar reaksie wanneer haar “smerige” pastoor-broer (Abe) hom op haar rusbank tuismaak! Teenoor haar “veilige” voorstadsbestaan is daar die verval van plakkersbuurt en township, bevolk met ongelooflike maar dikwels ook ongure karakters. Dwarsdeur vleg daar dan die draad van haar verskeurdheid: sy hunker in so ’n mate terug na haar “verlore” jeugwêreld dat sy haar doktersvriend Gustav kort-kort soheentoe sleep. Terselfdertyd vrees en minag sy diégene wat in die ban van die bendekultuur leef, maar wanneer sy in haar dagboek aantekeninge oor hulle maak, is dit nie sonder deernis nie. Self ontvlug sy dikwels na ’n soort uitkykpos, of dit nou ’n parkeerterrein langs De Waalpad is of ’n bergpiek. Het sy dié afstand nodig? Haar eerlike, oop blik staan in dié opsig skerp teenoor die voyeuristiese swendelaarsbestaan van haar broer, Abe. Bergkrans teenoor muwwe moot tussen die vleie by Macassar. Fyn Oosterse en Europese spyse teenoor die geweld en die moorddadigheid van varkslag. Die uiterste gebrek aan privaatheid (haar eie grootwordhuisie, Heidi-hulle s’n) teenoor die vryer ruimtes wat sy haarself as uitgestygde gun.

Ook ’n verskeidenheid van Kaaps word aangewend om hierdie kontraste uit te werk, en om ou stereotipes op hul kop te keer. Van der Merwe het duidelik kennis van die subtiele verskille in taalgebruik — en hy weet hoe om dit ter wille van milieuskildering aan te wend.

Klapperhaar slaap nie stil nie het álles wat ’n mens van ’n debuutroman verwag — en veel meer. Dis ’n hoogs leesbare boek, dit bevat wonderlike oomblikke van suiwer poëtiese magic (’n mens wil die beskrywing van die sinkhokke wat so bok-bok-staan-styf aanmekaargeryg is, aaneen herlees!) en dit gee op ’n vars manier uitdrukking aan die partymaal onverstaanbare smeltkroes wat Suid-Afrika op die ou end is. Dis ’n boek van die tyd van oorgang waarin ons ons (nog geruime tyd gaan) bevind; soos die simbool van die Maleise kris wat Kinta aan Gustav persent gee, is daar veel te leer van aanpassing en van die soeke na ’n nuwe soort suiwerheid. Presies dít waarmee Suid-Afrika in hierdie oorgangstyd worstel. Die boek laat ’n mens opnuut nadink oor die mens se strewe na vryheid en die vele vorme van slawerny waaraan gees en vlees (steeds) onderworpe is; dit speel visueel ongelooflik sterk met die tekens van verval en die wil tot herstel, tot oorlewing en groei (subtiel, byvoorbeeld, wanneer Kinta se sublieme bergklimervarings teenoor die patetiese hoerjaery van haar pastoor-broer Abe gestel word).

Die roman is seer sekerlik nie sonder leemtes nie. Hier en daar draal die storielyn ietwat (episodes “herhaal” mekaar, of lyk nie altyd so noodwendig nie). Maar in wese is dit klein besware.

Klapperhaar slaap nie stil nie is ’n besonder sterk debuut.

Besonderhede oor die boek:
TITEL: Klapperhaar slaap nie stil nie.
OUTEUR: Kirby van der Merwe.
UITGEWER: Kwela Boeke
PRYS: R59,95
ISBN: 0-7957-0087-3

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.