SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die laaste (Afrikaanse) boek?

Nicol Stassen

Hierdie lesing het deel uitgemaak van Die Burger-Lesingreeks tydens die afgelope KKNK, onder die gesprekstema “Die laaste (Afrikaanse) Boek”. Nicol Stassen is die uitgewer van Protea-Boekhuis.

Waar staan die Afrikaanse uitgewersbedryf en skrywers, ook ten opsigte van mekaar? Hoe word die eise van die inligtingsera (Eerste Węreld-lesers) en onderontwikkeldheid (Derde Węreld-lesers) in een taalgemeenskap versoen?

Teen hierdie tyd is die groot geheim uit: Die laaste Afrikaanse boek is toe nie die laaste Afrikaanse boek nie.

Karel Schoeman sę self oor die verskyning van sy tweedelige Armosyn van die Kaap:

… dit was duidelik die einde van ’n era in die geskiedenis van Afrikaans. …

Van hierdie titel het ek nou gebruik gemaak vir wat ek as “outobiografiese aantekeninge” wil beskryf: nie slegs omdat dit waarskynlik my laaste boek is nie … maar meer nog omdat dit vir my onwaarskynlik lyk dat daar in Afrikaans gou of maklik weer ’n omvangryke niefiksiewerk in tradisionele formaat en deur middel van die tradisionele kommersiële publikasieproses sal kan verskyn.

Schoeman beskou Die laaste Afrikaanse boek as “rekord van die einde van ’n era in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en kultuur” en gevolglik as die laaste boek van hierdie era.

Ons is dus duidelik by die einde van ’n era en nie by die einde van “die Afrikaanse taal en kultuur” nie.

Waar staan die Afrikaanse uitgewersbedryf en skrywers aan die einde van hierdie era en wat hou die nuwe era vir ons in?

In 1982 kon Etienne Leroux nog sę dat die stand van die Afrikaanse roman goed is. Dit was nog maklik om ’n Afrikaanse roman gepubliseer te kry, daar was nie ’n gebrek aan uitgewerye of literęre pryse nie, Afrikaanse skrywers het beter en vryer as in die verlede geskryf, die dae van die heilige koeie was verby, kritici was paraat, Afrikaanse skrywers is in verskeie tale vertaal en sommige het internasionale erkenning geniet.

Hierteenoor het Karel Schoeman in 1985 oor die GAR (Groot Afrikaanse Roman) gevoel:

(S)elf is ek geneig om te glo — dat Afrikaans betreklik min prosa besit wat selfs as létterkunde kan deurgaan; dat daar in die huidige omstandighede min kans is op enige noemenswaardige letterkundige opbloei; en dat mens veral maar ’n GAR kan vergeet.

Volgens Schoeman

wil dit voorkom dat die Afrikaanse roman in die afgelope vyftien of twintig jaar ’n laagtepunt bereik het. Bóéke is daar wel te voorskyn gebring, sommige beter, ander slegter, maar nie in groot getalle nie; sommige is jubelend ontvang, ander weer bekroon, maar hoeveel het die toets van die tyd selfs oor hierdie dekade of anderhalwe dekade deurstaan? (…)

Afrikaans verkeer in die posisie dat dit meer literatore het as skeppende kunstenaars, meer lede van skrywersgildes as skrywers, en meer literęre teorie as letterkunde — asook, so begin ek terloops vermoed, meer taalkundiges as mense wat die taal kan of wil praat.

Teen 1999 het Schoeman gevoel dat die buiteland ons ingehaal het:

Al die veranderings van die afgelope vyftig jaar wat kunsmatig op ’n afstand gehou is deur gebrekkige kommunikasie met hulle [die buiteland], deur boikotte, deur sensuur, het ons nou skielik, oornag, ingehaal.

Dit is ’n węreld wat verby is, ’n Afrikaanse węreld wat vir goed verby is. (…) Ek wil nie sę dis die einde van Afrikaans nie, ek het hoegenaamd geen rede om dit te sę nie, maar wat gaan gebeur met Afrikaans as taal, of as letterkundige taal, wat gaan gebeur met die Afrikaner, gaan baie anders wees as wat tot nou toe gebeur het. Dis ook ’n keerpunt vir die Afrikaanssprekendes, hierdie dekade, die negentigerjare. En die węreld wat ons geken het, die węreld wat ek nog self meegemaak het, wat ek probeer opteken het in my boeke, is verby.

Volgens Joan Hambidge het Yeats se woorde, “Things fall apart …” teen 2003 waar geword en die dood is in die pot. Volgens haar word die boekbedyf gekelder deur:

  • ’n gebrek aan entoesiasme
  • die afwesigheid van die jong geslag
  • die media en die internet
  • uitgewerye se konsentrasie op populistiese letterkunde
  • finansies.

    Dat daar nog lesers en boeke oor is, bly vir haar ’n wonderwerk, en dat mense nog skryf en publiseer, is bykans iets soos die vermeerdering van die brode en die vissies.

    Daniel Hugo het gesę dat dit definitief sleg gaan en dit regstreeks aan die verknorsing in die uitgewerswese toegeskryf. Willie Burger was van oordeel dat die letterkundepryse vir debuutwerke van 2001 (Eugčne Maraisprys, Ingrid Jonkerprys) definitief daarop dui dat daar ’n tekort is aan sterk debute. In daardie jaar is bv geen toekenning gemaak vir die RAU-Mardene Marais-prys vir skeppende (debuut-) werk nie. Verder is daar gebrom oor die Hertzogprys van daardie jaar (André Brink vir Donkermaan). Eweneens is daar in 2000 ook gemor toe die Hertzogprys vir drama aan Brink toegeken is (Die jogger).

    Veral die stand van die poësie het Hugo bekommer. Vir die Ingrid Jonkerprys van 2001 is ses bundels oorweeg, waarvan nie een van ’n gevestigde uitgewery was nie. Vir die Ingrid Jonkerprys van 2003 is ’n aanvanklike 20 bundels uitgedun tot vyf, waarvan weer eens nie een van die hoofstroom-uitgewershuise afkomstig is nie.

    Die huidige peil in die letterkunde word ook in verband gebring met die algemene kulturele vervlakking. Jonger digters se taalvaardigheid en belesenheid skiet dikwels ver te kort. Vervlakking is egter ’n węreldwye verskynsel.

    Volgens Andries Visagie is daar selfs sprake van ’n anti-intellektualisme in die Afrikaanse kultuurlewe.

    Hierdie anti-intellektualisme het reeds gemanifesteer in die “volkstemming” oor Breyten Breytenbach se Afrikanerskap. Vir die meeste Afrikaners is Breytenbach steeds meer bekend as die sogenaamde “wit terroris” as digter of kunstenaar. Ek sou die brief van Arnold la Cock van Malmesbury in Rapport van 23 Maart 2003 as die manifes van hierdie anti-intellektualisme wou bestempel. Volgens La Cock

    het die sogenaamde Sestigers met … hul onverdiende kultusstatus baie vinnig die Afrikaanse leser onder sy jis geskop terwyl daar onbeskaamd na hogere letterkunde gevry is. (…)

    Dit het veroorsaak dat die algemene Afrikaanse leserspubliek in ’n boekewoestyn gelaat is. Hier was dit hoofsaaklik ’n klein groepie (dapper) boekklubskrywers wat hulle met die nodige leesstof gevoed het. (…)

    As hierdie sogenaamde literęre reuse werklik ten doel gehad het om vir hulle volksgenote (verstaanbare/nie-elitistiese) skryfsels te gee, sou die Afrikaanse boek (in al sy genres) vandag baie gesonder gewees het.

    Die Afrikaanse boek kwyn bloot omdat dit nie gelees word nie. Ons moet dus nou probeer red wat te redde is met goeie, verstaanbare Afrikaanse boeke waarmee die hoofdoel is om die leser ongekompliseerd te versadig.

    Philip John se indruk van die Afrikaanse letterkunde is een van koersloosheid en verwardheid:

    Daar is wel lig- en groeipunte, veral wat die kortverhaal betref, maar ek het ’n gevoel dat geleenthede verlore gaan omdat ophef gemaak word van minderwaardige tekste en belangrike momente in ernstige letterkunde nie na behore gewaardeer word nie.

    Hettie Scholtz meen:

    Wat my soms meer pla as die min goeie Afrikaanse boeke, is die min Afrikaanse lesers. Ons het ons siel verkoop aan Isidingo en Sewende Laan en skrywers sal moet uithaal en wys om lesers terug te wen in ’n visuele era. (…) As ek vandag met bloedgeld in my hand staan in ’n boekwinkel, soek ek waarde vir my geld, ek is nie daar om Afrikaans te handhaaf nie.

    Verder meen Hettie Scholtz dat ons beste Afrikaanse skrywers aan die oud word is. Watter jong Afrikaanse skrywer kan die hare op jou lyf orent laat staan met erotiese beskrywings soos Anna M Louw in Vos?

    As daar een Afrikaanse skrywer is wat die geheim van die ewige jeug ontdek het, is dit Theunis Engelbrecht: reeds vir 21 jaar lank is hy ons jongste digter wat by ’n hoofstroom-uitgewery gepubliseer het (en hy is nou al 38).

    Vandag presies een jaar gelede het Die Burger die bespreking van een van die sessies in hierdie lesingreeks (“Waar is die nuwe stemme in ons letterkunde?”) gepubliseer. Louis Viljoen het tydens dié geleentheid hoopvol opgemerk:

    Miskien is dit ook dié nuwe stemme, met hulle minagting vir die Afrikaanse literęre tradisie en hul internetverbindinge met die wye węreld, wat die gevare van inteelt in ’n klein gemeenskap soos die Afrikaanse sal kan oorkom.

    Oor die jonger skrywers voel Hettie Scholtz ons moet hulle nie aanjaag nie. Laat hulle konsentreer op vakmanskap, stilistiese vaardigheid, die rypword van ’n tema. Hulle is stadig maar seker besig om hulle stem te vind.

    Afrikaanse uitgewerye: die stand van sake in 2003

    Węreldwyd word die boekebesigheid toenemend in die hande van groot multinasionale mediamaatskappye saamgetrek.

    In die Afrikaanse boekewęreld word die mark oorheers deur Nasionale Pers (NB-Uitgewers) wat sowat 70 persent van die Afrikaanse mark beheer. Hierdie maatskappy is die resultaat van oornames en samesmeltings van maatskappye soos Tafelberg, Human & Rousseau, JL van Schaik, Queillerie, Kwela, Nasou, Pharos, Academica en Via Afrika.

    Hiernaas is die Pearson-groep, wat die resultaat van oornames en samesmeltings is van Perskor (op sy beurt APB, Voortrekker-Pers, Transvaler Boekhandel), Orion, Vlaeberg, HAUM-De Jager en Maskew Miller Longman. Al hierdie maatskappye het in hulle tyd ’n beduidende aantal Afrikaanse letterkundige werke uitgegee en gee tans geen sodanige boeke uit nie.

    Kleiner uitgewers soos Taurus, Hond, Prog, Klipbok en Jutalit het die een na die ander die stof gebyt. Ander kleiner uitgewers, soos Bent, Suider Kollege Uitgewers, Fenomeen, Hermes en Litera gee Afrikaanse boeke met wisselende geluk uit, maar dit is maar ’n dun stroompie van ’n druppende kraan.

    Protea Boekhuis het drie jaar gelede begin om letterkundige werke uit te gee.

    Die enigste ander uitgewery wat Afrikaanse letterkundige werke uitgee, is Lapa Uitgewers, wat die resultaat is van die omskakeling van JP van der Walt Uitgewers.

    Op die front van die digkuns is een van die noodlottige uitwerkings van die moeilike tye in die uitgewershuise digters wat hulle werk self uitgee. Afrikaanse lesers word gevolglik gebombardeer met bundels wat nie op peil is nie. Die kenmerke van sulke selfpublikasies is min of geen redigering en proeflees nie, die gebrek aan ’n ferm redakteurshand (indien enige), swak uitleg, swak buitebladontwerp, swak bemarking en ’n totale gebrek aan ’n distribusiesisteem. Om hulle digbundels self uit te gee, het die laaste uitweg vir digters geword. Carel Boplaas van der Merwe kon egter met sukses sy eie bundels publiseer.

    Die Afrikaanse literęrepublikasie-sisteem 1999-2001

    Ek dink dat geen gesprek oor hierdie onderwerp gevoer kan word sonder om na die navorsing van Rudi Venter en Francis Galloway te verwys nie. Die vernaamste resultate hiervan is:

  • Populęre prosa maak die oorgrote meerderheid van boekproduksie uit (80,0%, 2 846 titels uit ’n totaal van 3 710; 1 389 nuwe boeke, 1 348 heruitgawes, 109 herdrukke) en sluit grootdrukboeke, boekklubboeke en liefdesromans in.

  • Literęre prosa (10,6%, 480 titels, waarvan 306 nuwe boeke, 56 heruitgawes en 118 herdrukke) het nog nie herstel van die instorting in die voorskryfmark (1997-1998) en die afname in biblioteekbestellings (1995-1997) nie. Dit is die standhoudende bydrae van NB-Uitgewers en nuwe inisiatiewe deur Protea Boekhuis en Lapa wat verhoed het dat nuwe literęre prosa ’n nulpunt bereik het. Daar is ’n verskuiwing van bundels deur een outeur na versamelbundels.

  • Poësie (8,0%, 303 titels, waarvan 254 nuwe boeke, 20 heruitgawes en 29 herdrukke). Dit is die standhoudende bydrae van NB-Uitgewers voor 1997 en nuwe inisiatiewe deur Protea Boekhuis vanaf 1999 wat verhoed het dat poësie ’n nulpunt bereik het. Ons beleef ’n bloeitydperk in die publikasie van bloemlesings. Poësieproduksie word verder deur digters wat hulle werk self uitgee, in stand gehou (27% vir die hele tydperk, maar dit het sedertdien verhoog na ongeveer 40%). In die laaste twee jaar is 70% van alle debuutbundels deur die digter self uitgegee. Debatte oor die stand van die Afrikaanse letterkundige węreld fokus sterk op poësieproduksie.

  • Drama (1,5%) het feitlik ’n nulpunt bereik (81 titels, waarvan 36 nuwe boeke, 14 heruitgawes en 31 herdrukke — hoofsaaklik vir die voorskryfmark). Dit word aan die afname in tersięre studentegetalle toegeskryf. Anders as poësie word publikasie van dramas nie in stand gehou deur niehoofstroom-uitgewerye of skrywers wat hulle werk self uitgee nie.

    Afrikaanse poësie

    Die bekendste en grootste uitgewer van poësie ter węreld is Faber & Faber. Dit is die uitgewer van digters soos Ted Hughes, TS Eliot, Ezra Pound, Philip Larkin en Seamus Heaney. Die meeste digbundels het in klein oplae verskyn. Tien jaar gelede het Faber & Faber ongeveer 12 nuwe of relatief bekende digters se werk per jaar gepubliseer. Die aanvanklike oplaag het sowat 800 beloop, wat in twee tot drie jaar uitverkoop het (in gunstige omstandighede). Tans publiseer Faber & Faber geen nuwe of debuutwerke nie. Al wat Faber & Faber tans publiseer, is “middelorde” Britse digters en dan enkele Nobelpryskolosse (Szymborska, Walcott, Heaney).

    Nadat Oxford University Press afstand gedoen het van hulle ryk en roemryke tradisie in die poësie, het die sentrum van die poësiewęreld na die VSA verskuif. Kleiner uitgewerye soos Carcanet, Bloodaxe, Forest Books en Anvill Press hou die vlam van die poësie nog hoog. In Suid-Afrika het ons Snailpress van Gus Ferguson, wat al meer as 100 Engelse digbundels gepubliseer het.

    In 2002 het Protea Boekhuis 14 digbundels gepubliseer. Vir 2003 is reeds 18 bundels aanvaar. Hierteenoor is in 2002 slegs ses bundels deur gevestigde Afrikaanse uitgewerye (altesaam drie uitgewerye) gepubliseer. In 2001 was dit ook ses.

    By Protea Boekhuis beloop die oplaag van digbundels sowat 800-1 000, waarvan 400-500 binne ’n jaar na verskyning verkoop. In vergelyking met Faber & Faber sou ek Protea Boekhuis dus as besonder suksesvol beskryf.

    In die Afrikaanse intellektuele węreld is die invloed van ’n digbundel wat deur sowat 400-500 mense gelees word, net so groot as ’n Sondagkoerant wat deur een en ’n half miljoen mense gelees word — dalk selfs groter. Anders gestel: die digbundels wat ek reeds uitgee het, gaan oor 10 of 20 jaar, in sommige gevalle oor 50 jaar en hier en daar selfs oor 100 jaar, nog gelees word (en waarskynlik die kanonieke status van Leipoldt, Totius of Celliers geniet), terwyl geen uitgawe van Rapport (of enige dagblad) een week ná verskyning daarvan meer gelees word nie.

    Afrikaanse drama

    Die laaste vier jaar het slegs twee dramas deur hoofstroomuitgewers opgelewer. Ook op hierdie gebied het Protea Boekhuis inisiatief geneem deur die publikasie van vier Pieter Fourie-dramas en een versdrama deur Thomas Deacon. Die publikasie van Fourie se dramas het gehelp dat die Hertzogprys vir drama vanjaar aan hom toegeken is en dat hy nie weer — soos in die afgelope 12 jaar, toe sy dramas nie gepubliseer is nie — oor die hoof gesien is met hierdie bekroning nie. In hierdie verband moet die inisiatief van die Nagtegaal-KKNK-prys vir nuutgeskrewe verhoogtekste uitgesonder word. Drie van die wendramas is tans hier op Oudtshoorn op die planke en die wenner (Koggelmanderman) is so pas deur Protea Boekhuis uitgegee.

    Die internet en Afrikaanse boeke

    Die belangrikste resente ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde, veral wat die poësie betref, is deur internet bewerkstellig. Die grootste sukses op hierdie gebied is waarskynlik LitNet. LitNet ondervang ook die probleem van die afwesigheid van poësietydskrifte. Ek glo nie dat die publikasie van boeke, en veral digbundels, op die internet ooit suksesvol gaan wees nie. Dieselfde probleme wat skrywers wat hulle werk self uitgee in die gesig staar (ek het hulle reeds genoem), is hier ook van toepassing. Daar is natuurlik fantastiese nuwe moontlikhede.

    Hoe word die eise van die inligtingsera in een taalgemeenskap versoen?

    Die boek en die oorlewering van kultuur

    Volgens Johann Rossouw is die boek ’n materiële steunvlak vir die oorlewering van kultuur. Régis Debray, eietydse Franse denker, onderskei tussen drie mediasfere, naamlik die logosfeer, die grafosfeer en die videosfeer. Elke sfeer se vernaamste kenmerk is onderskeidelik dat kulturele oorlewering hoofsaaklik deur die gesproke woord (logosfeer), die geskrewe woord (grafosfeer) en die beeld (videosfeer) plaasvind.

    In Europa bestaan die logosfeer vanaf die Grieke tot Gutenberg; die grafosfeer vanaf Gutenberg en die videosfeer sedert die koms van die rolprent en later die TV (aangehelp deur die kommunikasierewolusie). Vir praktiese doeleindes kan ons aanvaar dat die boek as materiële steunvlak van kulturele oorlewering eintlik eers vanaf Gutenberg teregkom. Die koms van die gedrukte boek ontketen kultuurpolitieke prosesse van enorme omvang, waaronder die Hervorming, die einde van die Middeleeue, die Renaissance en die opkoms van nasionalisme.

    Die drukkuns, nasionalisme en nasionale tale gaan hand aan hand. Drukkuns het die geskrewe woord in ’n massamedium verander en vorming van taalgroepe gefasiliteer. Nasionalisme en die gedrukte woord het mekaar sodanig ondersteun en versterk dat beide van die mees emotiewe en samebindende faktore in die menslike samelewing is. Die swakheid van die boek as ’n węreldwye medium in die lig van globalisering is terselfdertyd die gevolg hiervan.

    Die magsposisie van die boek is verder verstewig met die opkoms van nasionale skoolstelsels in Europa vanaf die tweede helfte van die 19de eeu.

    Vir eeue lank was die gedrukte media en boeke die kern van ons tegnologie en ons kulturele geheue. Dit het egter baie vinnig na die vierde plek afgeskuif, ná televisie, rolprente en (meer onlangs) videospeletjies. Dit beteken: as jy vandag die Westerse samelewings wil beďnvloed, doen jy dit deur TV of rolprente en nie deur boeke of koerante nie.

    Dit is so dat baie mense heeldag TV kyk en nooit ’n boek of koerant lees nie. Hulle is diegene wat soos Nancy Mitford meen: “I have only read one book in my life, and that book is White Fang. It’s so frightfully good that I’ve never bothered to read another.” Hulle voorgangers is die ongeletterde mense wat die Bybelse boodskap deur middel van katedrale se gebrandskilderde vensters of die Biblia Pauperum ingeneem het.

    ’n Geestelike, intellektuele węreld sonder boeke bestaan nie — nie vir die mensdom nie, en ook nie vir Afrikaanssprekendes nie. Boeke is die basis van alle intellektuele vooruitgang.

    Hoewel Europa en die VSA sedert die jare vyftig die oorgang na die videosfeer gemaak het, het dit nie die einde van die boek beteken nie. Inteendeel, meer boeke as ooit word vandag verkoop.

    Ons beleef tans die oorgang van die boek (papiergebaseerde geskrewe woord) tot die internet (skermgebaseerde geskrewe woord). Dit vind steeds in die grafosfeer plaas, maar die videosfeer word nou belangriker. In wese beteken dit dat die boek ’n belangrike objek bly, maar dat dit nie meer dieselfde status in die samelewing geniet as tydens die grafosfeer nie. Op grond hiervan kan aanvaar word dat die boek nie gaan verdwyn nie, maar op ander maniere sal voortbestaan.

    Aan die ander kant kan die voortbestaan van die boek nie los van die voortbestaan van die nasionale skoolstelsel bedink word nie. Bernard Stiegler het aangetoon dat kulturele oorlewering onder die jeug vandag eerder deur die kommunikasiebedryf (rolprente, musiek, radio, internet) as deur die skool plaasvind. Waar die skool aan die diktate van die nasionale kultuur ondergeskik is, is die kommunikasiebedryf aan die diktate van die globale mark ondergeskik. Nasionale kultuur en globale mark is dus in ’n titaniese stryd om kulturele oordrag gewikkel. Al hoe meer sien ons vandag: die skoolstelsel word ontwerp met visuele geletterdheid as die hoofoogmerk, en nie noodwendig geletterdheid nie

    Nasionale kulture sal oor grense heen (soos die EU) moet saamspan om nuwe kommunikasietegnologie doeltreffend aan te wend vir kulturele oorlewering. Dit is te vroeg om te sę of hierdie inisiatief kan slaag. Faal die inisiatief, sal dit nie vergesog wees nie om te sę dat die boek die gekose medium van kultuuroorlewering van ’n elitegroepie grafosferiste in die videosfeer sal word.

    Die drie mediasfere en Afrikaanssprekendes

    Afrikaanssprekendes was vanaf 1652 tot ongeveer 1900 in die logosfeer — “die haas negentiende-eeuse węreld” soos Karel Schoeman dit noem — lank nadat die logosfeer nie meer in Europa bestaan nie. Die hoofrede hiervoor is dat Afrikaanssprekendes oor die algemeen nie geletterd was nie, nie ’n geskrewe taal beoefen het nie; en as gemeenskap hoofsaaklik beslag gekry het rondom die orale instelling van die NG Kerk.

    Afrikaanssprekendes se oorgang na die grafosfeer begin geleidelik met die Eerste Taalbeweging (1875), word verder gevoer met die instelling van ’n nasionale skoolstelsel (tussen 1900 en 1910), die Tweede Taalbeweging en die amptelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal (1925), en word teen die jare veertiger voltrek met die oplossing van die armblankevraagstuk, verstedeliking en die bestendiging van geletterdheid.

    Die koms van rolprente, en veral die koms van TV in 1975, dra Afrikaanssprekendes vanaf die tagtigerjare teen ’n verbysterende spoed die videosfeer binne. Dit manifesteer onder meer in die einde van politieke eenheid onder Afrikaners, die Amerikanisering van Afrikaanssprekendes, en ’n krisis vir die boekebedryf. Terugskouend het Afrikaanssprekendes eintlik maar net vanaf die jare vyftig tot tagtig van die vorige eeu in die grafosfeer geleef (teenoor die byna vyf eeue van Europa).

    In hierdie verband sou ons Karel Schoeman as die laaste Afrikaanse skrywer van die grafosfeer — en Die laaste Afrikaanse boek as die laaste boek van die Afrikaanse grafosfeer — kon beskryf, oftewel “die haas negentiende-eeuse węreld wat tot daardie tyd deur isolasie, boikotte, wetgewing en sensuur kunsmatig in SA in stand gehou kon word”. Dat ons die einde van hierdie “era in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en kultuur” bereik het, kan die beste geďllustreer word deur na die geskiedenis- en letterkunde-afdelings van enige biblioteek te gaan: datumstempels voorin biblioteekboeke van hierdie afdelings neem drasties af na 1990.

    Daarmee saam lyk dit asof bruin mense nou eers die grafosfeer betree, soos geďllustreer deur die feit dat bruin skrywers se romans eintlik eers die afgelope tien jaar op groot skaal gepubliseer word, alhoewel daar sedert die veertigerjare bruin Afrikaanse skrywers gepubliseer word.

    In Afrika het kulturele oorlewering vir eeue heen mondeling (in die logosfeer) plaasgevind. Vandag nog is die radio die belangrikste kommunikasiemiddel in Afrika. Die spreekwoord dat elke keer wanneer ’n ou man in Afrika doodgaan, ’n hele biblioteek vernietig word, is ongelukkig alte waar. Afrika was nog nooit in die grafosfeer nie, en ek wil voorspel dat Afrika direk van die logosfeer na die videosfeer sal oorgaan en reeds besig is om dit te doen.

    Om terug te kom: Lesers van Afrikaanse boeke is hoofsaaklik kinders van die grafosfeer (dws die jare vyftig tot tagtig van die vorige eeu). Teen hierdie agtergrond het die Afrikaanse boek vir Johann Rossouw, gewoon uit ’n tegnies-kulturele hoek beskou, ’n uiters onsekere toekoms.

    Dan praat ons nog nie van die druk op Afrikaanse skole nie. Verminder Afrikaanse skole verder, ly dit geen twyfel nie dat die Afrikaanse boek deur ’n klein elitegroepie in stand gehou sal word.

    Die geestelike Alkuinus van York (732-804) het na bewering elke mens in Europa wat kon lees en skryf, persoonlik geken. Die Afrikaanse intellektuele węreld het aan die begin van die 21ste eeu ook verskraal tot ’n węreld waarin elke Afrikaanse skrywer elke ander skrywer — en elke intellektueel elke ander intellektueel — persoonlik ken. Hierdie paar honderd mense is egter die leidende denkers in ons Afrikaanssprekende samelewing, en hulle staan teenoor die “naamlose massa van boekheidene”.

    Die bevordering van geletterdheid onder bruin mense is verskriklik belangrik, en dit lyk my ook na die sterkste voedingsbron vir die toekomstige Afrikaanse boek. Dit is redelik om te verwag dat die bevordering van geletterdheid vir die regering ’n prioriteit moet wees (en nie presidensiële stralers nie). Die ekonomie van die hele land sal hierby baat vind, en nie net die Afrikaanse boekewęreld nie.

    Die Afrikaanse boek kan dus nie los bedink word van die onderwysstelsel, die openbare posisie van Afrikaans, en die kultuurpolitieke posisie van die Afrikaanse minderheidsgroep nie. As hierdie minderheidsgroep nie op nasionale politieke vlak ’n mate van beheer oor hul eie kultuurgoedere en instellings kry nie, sal die Afrikaanse boek ongetwyfeld as kulturele voorwerp verder verswak.

    Hier wil ek dit graag duidelik stel: die duister prentjie wat ek hier vir Afrikaans skets, is nog baie meer geldig vir Engels in Suid-Afrika, om van die ander inheemse tale nie eers te praat nie. Dit is vandag baie moeiliker om in Suid-Afrika ’n boek in Engels gepubliseer te kry as in Afrikaans, om van die ander inheemse tale weer eens nie te praat nie. Dit is so dat die boekewęreld in Suid-Afrika, en Afrika in die algemeen, nog steeds in die koloniale tydperk is en dat ’n koloniale mentaliteit hier heers. Drie uit elke vier boeke wat hier verkoop word, is steeds afkomstig uit Londen. Daar is nog nie sprake van dekolonialisering of ’n Afrika-Renaissance in die boekewęreld nie. Ek dink ook nie die Afrika-Renaissance gaan die mas opkom voordat dit nie in die Afrika-boekewęreld gebeur nie.

    Vir Johann Rossouw lyk dit asof weerstand teen die onregte van die nuwe bestel in Afrikaans juis gevoer word deur die kinders van die Afrikaanse grafosfeer. As Afrikaanssprekendes in hulle stryd om kultuurpolitieke erkenning slaag, kan dit tot die interessante verskynsel lei dat die boek en die grafosfeer in Afrikaans ’n nuwe simboliese status teenoor die videosfeer wen. Dit sal te midde van globalisering ’n sonderlinge prestasie wees.

    In hierdie verband is dit insiggewend dat daar ook stemme begin opgaan vir ’n “bruin” Groep van 63 en dat weerstand teen die onregte van die nuwe bestel ook op dieselfde wyse deur intellektuele van hierdie groep (ook kinders van die Afrikaanse grafosfeer) gelei word.

    Afrikaanse boeke as intellektuele en kulturele tuiste van Afrikaanssprekendes

    Meer tekste verskyn in Afrikaans as in enige van die ander 2000 Afrikatale. As sodanig bind dit Afrikaanssprekendes as lesers saam. In ’n lesersgemeenskap (die Afrikaanse grafosfeer) is daar sterker bande as binne ’n gemeenskap wat hoofsaaklik deur middel van gesproke taal (die Afrikaanse logosfeer) of TV (die Afrikaanse videosfeer) kommunikeer. Dit versterk en aksentueer groepsbelange binne die groter spreektaalgemeenskap.

    Afrikaanse uitgewerye en Afrikaanse boekwinkels is die intellektuele tuiste van Afrikaanssprekendes. Beide Afrikaanse uitgewerye en Afrikaanse boekwinkels kan in 2002 op die vingers van een of twee hande getel word.

    Boekwinkels wat oor genoeg Afrikaanse tekste beskik om in die aanvraag te voorsien, het kultuursentra vir kultuurbewuste Afrikaanssprekendes geword. Boekbekendstellings van Afrikaanse boeke in Stellenbosch, Pretoria en Johannesburg het kulturele aangeleenthede geword.

    Benewens Afrikaanse uitgewerye en boekwinkels is die belangrikste manier waarop Afrikaanse intellektuele kommunikeer, die gedrukte en elektroniese media. Die boekeblaaie van veral Beeld, Die Burger, Die Volksblad, Rapport en Insig moet hier uitgesonder word vir die feit dat hulle standhoudend, oor dekades heen, die Afrikaanse intellektuele węreld in stand gehou en uitgebrei het. Die boekeredakteurs van hierdie koerante en tydskrif het invloedryke figure geword: Elfra Erasmus, François Smith, Elretha Britz, Sonja Loots en Kirby van der Merwe. Die Afrikaanse letterkundige/intellektuele węreld word ook ondersteun deur radioprogramme van Daniel Hugo (dws in die logosfeer) en televisieprogramme van oa Hettie Scholtz (in die videosfeer).

    Om dus nou die vraag te beantwoord: Hoe word die eise van die inligtingsera in een taalgemeenskap versoen?

    In die inligtingsera vind kulturele oorlewering vir Eerste Węreld-Afrikaanssprekendes in die videosfeer plaas. Hierteenoor vind bevind ’n groot deel van die Derde Węreldse Afrikaanse taalgemeenskap hulle nog in die logosfeer (mondelinge oorlewering, radio), alhoewel die videosfeer dominant geword het. Tussen hierdie twee mediasfere is weinig kulturele oorlewering moontlik. Voeg ’n mens hierby die klein Afrikaanse grafosfeer (boeke), is die De Morgan-interseksie van hierdie drie sfere baie klein. ’n Mens twyfel of sinvolle kulturele oordrag en sinvolle kommunikasie dan hoegenaamd moontlik is. Eweneens is dit moeilik om die eise van die Derde Węreld en die Eerste Węreld te versoen. Dit is ’n goeie vraag of dit in die huidige omstandighede gedoen kan word.

    Ek sou egter graag wil glo dat kulturele oordrag tussen die Afrikaanse videosfeer en die Afrikaanse logosfeer juis in die Afrikaanse grafosfeer gaan plaasvind. En dat vandag — aan die begin van hierdie nuwe era — die Afrikaanse grafosfeer onmisbaar vir die Afrikaanse intellektuele węreld geword het.

    Toekomsperspektief: Uitgewerswese in Suid-Afrika

    Die uitgewerswese in Suid-Afrika vaar tans ongekarteerde water binne. Vorentoe wag storms, sandbanke, miskien die einde van die węreld en onmiddellike dood — of miskien nuwe kontinente.

    (Lesers word uitgenooi om die gesprek verder te voer deur briewe te stuur vir SęNet by katvis22@yahoo.com.)

    VERWYSINGS

    Anon 2001. “Afrikaanse boek beleef tans windstilte”. Boekewęreld. Bylae tot Die Burger. 27 Jun.
    Esterhuizen, Louis. 2003. Persoonlike e-pos aan Nicol Stassen. 22 Mrt. Hambidge, Joan. 2000. “Swak digbundels peul nou orals uit”. Die Burger. 20 Des.
    Hambidge, Joan. 2003. Persoonlike e-pos aan Nicol Stassen. 12 Mrt.
    Jordaan, Willem. 2002. “Nuwe stemme ‘moet letterkunde ook vernuwe’”. Die Burger. 4 April.
    La Cock, Arnold. “Lesers vervreem van Afrikaans”. Rapport. 23 Mrt.
    Lloyd, Jason & Jan-Jan Joubert. 2003. “Bruin Groep 63 gevra”. Krit. 3 Apr.
    Leroux, Etienne. 1982. “Afrikaanse skrywer is uitdagend vry”. Beeld. 1 Sept.
    Malan, Charles. 2003. “Die Afrikaanse boek loop die kreeftegang”. Rapport. 16 Mrt.
    Rossouw, Johann. 2003. Persoonlike e-pos aan Nicol Stassen. 19 Mrt. Schaffer, Alfred. 1999. “‘Lank lewe die poëet’. De stand van zaken in de Afrikaanse poëzie aan het eind van de 20ste eeuw”. Meanderkrant. 10 Nov.
    Schoeman, Karel. 2002. “Die GAR (Groot Afrikaanse Roman)” in Willie Burger en Helize van Vuuren (reds). Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis. 16-19.
    Schoeman, Karel. 2002. Die laaste Afrikaanse boek: outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.
    Scholtz, Hettie. 2003. Persoonlike e-pos aan Nicol Stassen. 27 Mrt.
    Van Zyl, Hannes. 2001. “Die boek in Afrikaans, rondom 2000” in Etienne van Heerden (red). Briewe deur die lug: LitNet/Taalsekretariaat-skrywersberaad 2000. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
    Venter, Rudi MR & Francis Galloway. 2002. Die Afrikaanse literęre publiseersisteem. “’n Voorlopige verkenning van die periode 1990-2001” (referaat by die ALV-kongres, 1 Oktober 2002, aangepas met nuwe data tot 17 September 2002).

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.