SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Groepverdoemenis, oftewel die geval van “Generasie Z”

Johann Rossouw

In sy Critique de la Raison Politique [Kritiek van die Politieke Rede], Parys: Gallimard, 1981, sê Régis Debray[1]:

Aangesien ’n ons sigself slegs in opposisie tot ’n hulle (die ander) kan eien, is polariteit en politieke identiteit onskeibaar. Binne die orde van die kollektief sal die aflegging van polemiese praktyke … neerkom op (kollektiewe) selfmoord. Gebore deur en uit ’n verdedigingsreaksie oorleef ’n gemeenskap homself slegs deur teenaanvalle te loods (p 183).

Een van die algemeenste punte van “kritiek” wat deur “Afrikaanse jongmense” teen die Groep van 63 in die besonder en die Nuwe Afrikaanse Beweging (NAB) in die algemeen ingebring word, is dat hulle niks met ’n “nuwe laertrekkery” of “groep” te doen wil hê nie.

Gegewe die absurde uiterstes waartoe groepvorming in die ontbindingsfase van Afrikaner-nasionalisme en apartheid gevoer is — die jare sewentig en tagtig — toe die individu feitlik sonder uitsondering aan die eise van die Groot Wit Afrikanergroep onderwerp is, is hierdie beswaar verstaanbaar.

As die beswaar met hierdie punt volstaan het, naamlik, “Wees bedag op die gevare inherent aan groepe en bewegings”, sou ’n mens dit met die nodige erns kon bejeën en sê, “Geldige punt; om die waarheid te sê, stem ek met jou saam, nie net omdat die verabsolutering van die groep die individu vernietig nie (totalitarisme, fascisme, nasionalisme), maar ook omdat die verabsolutering van die individu (egoïsme, elkeen vir homself) weer alle vorme van solidariteit (wat eie aan groepe is) bedreig.”

Die probleem is egter dat die beswaar nie hiermee volstaan nie. “Nee,” word gesê, “alle groepe is gevaarlik. Daar is geen sin in kollektiewe optrede nie; dit vernietig altyd die individu. En daarmee wil ons niks te doen hê nie. Ons sal ons individualiteit in die naam van vryheid beskerm teen enige moontlike groepsvorming.”

In watter mate is hierdie beswaar geldig? Miskien is die beste toets vir hierdie beswaar om dit van toepassing te maak op die woordvoerders van die “Afrikaanse jongmense” wat dit gereeld opper, soos onlangs weer die geval was met die toesprake van Adriaan Basson, Mandy Rossouw, Karen Zoid en Toast Coetzer by Aardklop.

Maar om die toets toe te pas, is dit eers nodig om ’n draai te loop by die begrip generasie, met ’n skramse verwysing na die begrippe kommunikasie en oorlewering in die werk van Régis Debray. In sy Introduction à la médiologie (Inleiding tot die mediologie) (Parys: PUF, 2000) onderskei Debray die begrippe kommunikasie en oorlewering soos volg:

Onder die term oorlewering sal ons alles groepeer wat met die dinamika van die kollektiewe geheue verband hou; en onder die term kommunikasie, die sirkulering van boodskappe binne ’n gegewe oomblik. Anders gestel, en om die teenstelling tussen die twee te verhard, sal ons sê dat om te kommunikeer daaruit bestaan om inligting in ruimte te vervoer binne dieselfde tydruimtelike sfeer; en oorlewering om inligting in tyd te vervoer tussen verskillende tydruimtelike sfere ... In die geval van kommunikasie word ’n konneksie (en dus ’n samelewing) bewerkstellig deur ’n hier met ’n elders te verbind. In die geval van oorlewering word ’n kontinuïteit (en dus ’n kultuur) bewerkstelling deur ’n voorheen met ’n nou te verbind (op cit p 3).

Debray gebruik die onderskeid tussen kommunikasie en oorlewering om ’n boeiende kultuurpolitieke ontleding van ons tyd te ontwikkel. Hy wys daarop dat beide kommunikasie en oorlewering gebruik maak van tegnies-materiële middele, oftewel steunvlakke (supports). Die medium waardeur ’n boodskap versend word, is bepalend as ons wil weet of ons met kommunikasie of oorlewering te doen het. ’n Boek, wat kontinuïteit tussen ’n nou en ’n voorheen bewerkstellig en “inligting in tyd vervoer”, oftewel die beperkinge van tyd te bowe wil kom, is gewoonlik ’n medium van oorlewering. Daarteenoor is die televisie, wat ’n konneksie tussen ’n hier en ’n elders bewerkstellig, oftewel die beperkinge van ruimte wil oorkom, gewoonlik ’n medium van kommunikasie.

Wat die kultuurpolitieke implikasies van die onderskeid tussen kommunikasie en oorlewering betref, voer Debray aan dat ’n gegewe samelewing óf kommunikerend óf oorlewerend is, maar nooit albei tegelyk nie. Natuurlik kan daar elemente van oorlewering in ’n kommunikasiesamelewing voorkom, net soos wat die omgekeerde ook moontlik is, maar die feit bly dat ’n samelewing hoofsaaklik óf kommunikeer óf oorlewer.

Toegepas op die Afrikaanse wêreld kan ons sê dat die apartheidsamelewing vanaf die jare veertig tot die jare tagtig een van oorlewering was, terwyl die postapartheid Afrikaanse samelewing een van kommunikasie is. Die apartheidsamelewing was daarop afgestem om ’n stel mites, geskiedenis en tradisies oor Afrikaners van generasie tot generasie oor te dra en sodoende kontinuïteit oor tyd heen te bewerkstellig en die Afrikaners as groep binne ’n bepaalde gebied, naamlik die Republiek van Suid-Afrika, te handhaaf. Die postapartheid Afrikaanse samelewing is daarop afgestem om alle mites, geskiedenis en tradisie van die vorige bedeling af te lê en aan individue die vryheid van keuse toe te laat om te wees wie hulle wil waar hulle wil. Die woordvoerders van die “Afrikaanse jongmense” sluit dan ook by laasgenoemde stroming aan.

Met die onderskeid tussen kommunikasie en oorlewering in gedagte kan ons nou vir ’n oomblik stilstaan by ’n begrip wat in die huidige Afrikaanse debat van die allergrootste belang is, maar wat nooit bewustelik ondersoek word nie, naamlik die begrip generasie. Byvoorbeeld: wanneer in die huidige Afrikaanse debat gevra word waar die “jonges” is, word aangeneem dat daar ’n jonger generasie is wat as samehangende geheel teenoor die middel- of ouer generasie afgemerk kan word.

Hierdie onkritiese hantering van die begrip generasie is problematies, aangesien dit nie rekening hou met die veranderinge waaraan die verskynsel generasie ook onderwerp is met die oorgang vanaf ’n samelewing van oorlewering (apartheid) na ’n samelewing van kommunikasie (postapartheid) nie. Want die feit van die saak is dat die begrip generasie slegs betekenis het binne ’n samelewing van oorlewering, en so te sê van nul en gener waarde binne ’n samelewing van kommunikasie is.

Ons kan laasgenoemde stelling beter verstaan as ons die rol oorweeg van wat die filosoof Bernard Stiegler “tersiêre retensies” in die vorming van generasies noem. Tersiêre retensies is ervaringe wat deur ’n kultuur geselekteer, op tegniese steunvlakke geregistreer en dan versprei word binne die kultuur, bv ’n stuk musiek wat op ’n CD versprei word, of ’n verhaal wat op film gesirkuleer word. Solank as wat ’n kultuur beheer oor sy tersiêre retensies uitoefen (soos wat die geval met die nasiestaat en ook die apartheidsamelewing was), vind oorlewering (in Debray se sin van die woord) plaas, maar wanneer die mark beheer oor tersiêre retensies uitoefen (soos wat te midde van globalisering en die vermaaklikheidsbedryf, asook in die postapartheid Afrikaanse samelewing die geval is), vind kommunikasie plaas.

In die lig hiervan kan ons generasie soos volg definieer: ’n Generasie is ’n groep mense wat oor ’n tyd heen deur dieselfde tersiêre retensies gevorm word. Hoe stadiger die tersiêre retensies gevorm en versprei word, hoe langer is die generasie (oorlewering). Maar hoe vinniger die tersiêre retensies gevorm en versprei word, hoe korter is die generasie (kommunikasie).

Die era van globalisering is een waarin tersiêre retensies al hoe vinniger gevorm en versprei word, en daarom word generasies al hoe korter. Neem die volgende voorbeelde uit die Afrikaanse wêreld. Behalwe vir een of twee uitsonderings, wissel die ouderdomme van die stigterslede van die Groep van 63 tussen 35 en 74 (tydens die stigting van die Groep in Mei 2000). Dit is met ander woorde mense wat gebore is tussen 1926 en 1965 en wat tussen 1975 en 1990 iewers tussen 11 (1975) / 25 (1990) en 49 (1975)/ 64 (1990) jaar oud was. 1975 is die jaar waarin televisie na Suid-Afrika gekom het, en waarin die oorgang vanaf ’n samelewing van oorlewering na ’n samelewing van kommunikasie begin het. (Dit bly een van die groot ironieë van die [Suid-] Afrikaanse intellektuele debat dat laasgenoemde oorgang, wat eintlik veel belangriker as en bepalend vir die politieke oorgang van 1994 was, feitlik glad nie bespreek word nie.) Kortom, die stigterslede van die Groep van 63 vorm nagenoeg deel van dieselfde generasie omdat hulle breedweg dieselfde groep tersiêre retensies, oftewel kultuurpolitieke verwysings, met mekaar deel (ten spyte of miskien juis as gevolg daarvan dat party van hulle voor 1994 anti-apartheid was, ander pro-apartheid, en nog ander apolities).

Kyk ’n mens egter na wat sedert 1990 — toe die oorgang na ’n samelewing van kommunikasie voltooi was — in die Afrikaanse wêreld gebeur het, val dit op hoe vinnig verskillende “generasies” mekaar skielik begin opvolg het: die alternatiewe Afrikaners; generasie X; en nou, volgens Koos Kombuis se (tong in die kies?) voorstel vroeër vanjaar in Rapport, generasie Z. Om erg te veralgemeen: alternatiewe Afrikaners het na die Gereformeerde Blues Band geluister en die Vrye Weekblad gelees; generasie X het die internet ontdek en na Nirvana geluister; generasie Z gaan werk in Londen en begin self ’n Afrikaanse rockgroep.

Terwyl generasie ’n natuurlike verwysingspunt in ’n samelewing van oorlewering is, is dit ’n kunsmatige skepping van die mark in ’n samelewing van kommunikasie. Laasgenoemde is nie net kunsmatig omdat die mark “generasies” etiketteer om produkte aan hulle te verkoop nie (dink maar aan al die Afrikaanse matrieks wat T-hempies gemaak het met Class of ‘90, ‘91, ‘92, ensovoorts daarop; onthou iemand nog die oorspronklike verwysing, naamlik die rolprent Class of 84?), maar ook omdat mense wat nie meer die veiligheid van ’n generasie geniet nie, desperaat is om een te skep. En dít sê ek sonder die minste sarkasme: wanneer ’n samelewing van oorlewering funksioneer soos dit moet, weet mense wie hulle is. Wanneer ’n samelewing van kommunikasie funksioneer soos dit moet, weet mense nie wie hulle is nie. Van laasgenoemde is daar oorgenoeg voorbeelde in die huidige kommunikasie-era: oorloë teen terroriste; individue wat helder oordag op straat of in ’n klaskamer ’n vuurwapen uitpluk en op die omstanders losbrand; mans wat kinders verkrag; mense wat hulself tot selfmoord toe verbruik … “This species has amused itself to death,” soos Roger Waters gesing het.

Want dít is die ironie van die “kritiek” van “Afrikaanse jongmense” teen die Groep van 63 en die NAB wanneer hulle hul vrees vir groepe uitspreek: die obsessie met groep wat die Afrikaanse wêreld in die jare sewentig en tagtig gekenmerk het, was nie omdat groepe altyd individue misken het nie (gesonde groepe laat hul individuele lede gedy), maar omdat die ideologie wat die oorlewering van daardie samelewing onderlê het, naamlik Afrikaner-nasionalisme, misluk het. En om die mislukkings van ’n samelewing van oorlewering te probeer dokter met die terapieë van ’n samelewing van kommunikasie (“dink positief”; “glo in jouself”; “wees ’n individu”; “gaan sien die wêreld”; “think global”; wees “spiritual”; versorg die “child inside” — onthou iemand nog QcumbaZoo?), is soos om met rys in die Karoo te probeer boer.

Maar of ons dit nou wil of nie: in die Afrikaanse wêreld is kommunikasie tans in en oorlewering uit. Die Ewige Nou waaraan globalisering ons uitlewer (die nuutste treffer; die nuutste modegier; die jongste nuus) heilig die Jeug vir ’n vale, want Jeug is vinnig, soepel, ontvanklik. In ’n era van kommunikasie moet mense vinnig kan reageer, soepel en ontvanklik wees: hulle moet luister na wat aan hulle versend word deur die here en meesters van die wêreld se inligtingsnetwerke. Dink mag hulle nie. Daarteenoor is die Oues skandalig en vervelig, want hulle is traag, standvastig en oordraend (eerder as ontvangend). (Natuurlik is hierdie teenoorstelling hiperbolies, maar vir die doeleindes van die argument heeltemal doeltreffend.)

Die Afrikaanse wêreld, uitgelewer aan die verwoesting van die kommunikasie-era en gestroop van die sekerhede en verwysings wat hom eens begelei het, het een van twee keuses: skep ’n nuwe stel mites, tradisie en geskiedenis (begin met die moeilike, tydsame proses van nuwe oorlewering), of gee jou oor aan die mites wat deur die kommunikasie-era aan jou opgedis word (wees ’n individu, reis, wees “caring en conscious”, oftewel sluit aan by die maklike, vinnige proses van kommunikasie).

Hierdie twee benaderings word tans onderskeidelik verteenwoordig deur die NAB en die “Afrikaanse jongmense”. In die Afrikaanse gemeenskap, wat relatief klein is en relatief magtige instrumente van sowel oorlewering (kerke, skole, universiteite — maar vir hoe lank nog?) as kommunikasie (radio- en TV-stasies, webwerwe, selfone) het, woed hierdie stryd besonder hewig. En in die proses — ten einde die onsekerheid wat die gebrek aan verwysingspunte ná apartheid meebring, teen te werk — is dit makliker om kitsgenerasies op te dis as om nuwe mites te skep. Vandaar dan die generasie van “Afrikaanse jongmense”, wat so die afgelope jaar of wat geskep is. En, les bes, Karen Zoid, Adriaan Basson, Toast Coetzer en andere is skielik — ten spyte van hulle heftige weiering om iemand te verteenwoordig — die woordvoerders van hierdie “generasie” (arbitrêre afsnypunt: jonger as 25).

Natuurlik is hierdie verdeling absurd. Byvoorbeeld: op verskillende vlakke het ek (31) net soveel gemeen met Johan Degenaar (76, oudste stigterslid van die Groep van 63) as met Toast Coetzer (duskant 25). Op die koop toe is ek met albei bevriend. Maar absurd soos dit mag lyk, is hierdie skepping van generasies binne ’n samelewing wat sy verwysingspunte verloor het, heeltemal normaal, eintlik noodsaaklik. Soos wat die openingsaanhaling van hierdie opstel dit mooi stel, kan daar net ’n “ons” (byvoorbeeld “Afrikaanse jongmense”, generasie Y, of wat ook al) wees as daar ’n “hulle” (die Groep van 63, die “ooms met grys skoene” of wat ook al) is; terwyl ek hier skryf, dra ek my Hi-tecs en my denims.

Erger nog: die jongmense wat so hard teen groepe skop, het teen wil en dank self ’n groep geword (kenmerke: mobiel; verkies beelde en musiek bo boeke en woorde; verkies individu bo groep; verkies om hulle vir die algemene [armoede, Vigs] eerder as die besondere [Afrikaans] te beywer; praat Engfrikaans, maar stel dit duidelik dat hulle niks teen “suiwer Afrikaans” het nie). In ’n sekere sin herinner hierdie nuwe groep aan die toneel uit Monty Python se Life of Brian, wanneer die onwillige Messias-figuur die skare buite sy ma se huis toespreek en pleit dat hulle nie groepdiere nie, maar individue moet wees, en hulle soos een man (mens? vrou?) uitroep, “We are individuals!”

Groepe kom voor individue, maar groepe word deur individue vernuwe. Dit was nog altyd so en dit sal nog altyd so wees. Want groepe bied sekuriteit (Vernie February verklaar in Die Burger van 7 September: “As ons huis toe verlang het, was daar die ANC”). Dit is nie goed of sleg nie. Dit is soos dit is.

Om af te sluit: die (onwillige) woordvoerders van die “Afrikaanse jongmense” is net soveel van ’n groep as die groepe wat voor hulle gekom het (en ongetwyfeld ná hulle sal kom). Dat die “Afrikaanse jongmense” en die NAB mekaar se geldigheid in twyfel trek omdat die een die ander sy “laertrekkery” verwyt, is nie kritiek nie, maar die mistifisering van die werklikheid. As ons die debat vorentoe wil neem, is dit veel interessanter (en noodsaaklik) dat die verskillende groepe mekaar se geldigheid aanvaar en met ’n werklike debat oor hul onderskeie agendas begin.


[1] Régis Debray (1940- ) was in die vroeë jare sestig ’n student van die destydse leidende Franse Marxis, Louis Althusser, aan Frankryk se voorste filosofiese opleidingsinstansie, die Ecole Normale Supérieure te rue d’Ulm, Parys. Reeds vanaf sy studiejare het hy betrokke geraak by rewolusionêre guerrilla-bedrywighede in Latyns-Amerika. In 1965 verskyn sy opspraakwekkende Revolution Within a Revolution wat Fidel Castro se aandag getrek het. Dit lei daartoe dat Debray saam met Ché Guevara in 1967 in Bolivië ontplooi word. Tydens hierdie sending sterf Guevara en word Debray tronk toe gestuur. Hy word in 1972 vrygelaat, ná diplomatieke druk deur Frankryk en ’n internasionale veldtog vir sy vrylating. Dit is tydens hierdie vyf jaar wat hy onder die indruk kom van die rol van identiteit in politiek, wat hom die Marxisme laat afsweer. Ná sy vrylating bring hy ’n tyd deur in Chili onder die sosialistiese president, Salvador Allende. Ná Allende se sluipmoord en die omverwerping van sy regering op 11 September 1973 (waarby die VSA betrokke was) keer Debray terug na Frankryk. In 1981 verskyn een van sy belangrikste werke, Critique of Political Reason, waarin hy die religieuse ondertone van die politiek ontleed. Hy onderskei hom sedertdien as een van die eerste Franse intellektuele van sy tyd wat erns maak met die religie. Intussen tree hy op as spesiale raadgewer van president François Mitterand, tot en met 1988, waarna hy tot 1991 sitting het op die Franse Conseil d’Etat (Staatsraad), en waaruit hy bedank op grond van sy beswaar dat die liggaam hom skuldig maak aan besluite wat die Franse republiek ondermyn. Hy word in 1994 professor in filosofie aan die Universiteit van Lyon en stig in 1996 die tydskrif Les cahiers de médiologie (Tydskrif vir mediologie). Kort ná die gebeure van 11 September 2001 verskyn sy opspraakwekkende Dieu, un itinéraire (God,’n reisplan) (Parys: Editions Odile Jacob, 2001), waarin hy lig werp op die tegnies-materiële prosesse wat daartoe gelei het dat die monoteïstiese god van die Jode uiteindelik die oorheersende Godsbegrip van die Westerse wêreld geword het. Hy tree tans onder meer op as raadgewer vir die Franse Ministerie van Onderwys rakende die hervorming van godsdiensonderrig in Franse skole.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.