SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Om uit die klooster te kom: Intellektuele vervlakking onder Afrikaners

Johan Pienaar

Die oorsaak van vervlakking van intellektuele gesprek kan waarskynlik gevind word by die intellektueles self.

Die intellektuele vervlakking onder Afrikaners is nie nuut nie. Johann Rossouw wys in sy artikel, Die krisis onder denkende Afrikaners, daarop dat daar in die tagtigs ’n opbloei van Afrikaner-intellektualiteit was. Sonder om te diep te delf wil ek tog daarop wys dat die meeste van die intellektuele wat hy aan die tagtigs toeskryf, inderwaarheid hulle denke gevorm en begin uitleef het in die sestigs en sewentig.

Miskien onthou Johann die tagtigs ’n bietjie soos ’n jong vryer die mooi meisie onthou wat hy ses maande vantevore afgesê het. Vergete is al die moeite wat sy hom besorg het, en al wat onthou word is die wonderlike tye.

Die tagtigs was so gekenmerk deur die swye van intellektuele dat dit nou maklik is om die rol van ’n paar te probeer uitbou tot die totaliteit van Afrikanerdenke. Die tyd was gekenmerk deur rektore wat met die hand aangestel is deur die Broederbond ten spyte van twyfelagtige akademiese rekords.

Maar ja, daar was ligpunte en dis die wat Johann onthou. Mens sou seker die ligpunte in een word kon opsom: Dakar. ’n Groep individue wat vertrek het om met die ANC te praat na die asemrowende politieke skuif waarin Van Zyl Slabbert uit die parlement geloop het. Dakar-dinkers was egter die minderheid, hoewel hulle seer sekerlik die weg gebaan het vir wat gevolg het.

Vir een was Vrye Weekblad ’n direkte uitvloeisel van die sending en dis Vrye Weekblad wat teen die einde van die dekade ’n legitimiteit aan die Voëlvry-beweging gegee het wat hulle nie andersins sou kon bereik het nie. Nie een van die lede van die Voëlvry-beweging was politieke denkers verby die punt van “Ons hou nie van PW nie.” Dit was in die kantore van Vrye Weekblad wat hulle beweging die politieke assegaai geword het.

Op sy beurt is ek redelik oortuig daarvan dat die omhelsing van Voëlvry, weliswaar deur ’n klein minderheid Afrikaners, FW de Klerk die moed gegee het om die eerste stappe te doen wat gelei het tot die totstandkoming van ware demokrasie in Suid-Afrika. Ek moet egter nog oortuig word dat FW de Klerk geweet het waarheen en hoe vinnig dié stappe van hom gaan lei.

My interpretasie van die geskiedenis vs dié van Johann beteken nie dat ek van hom verskil dat daar ’n krisis vir dekende Afrikaners bestaan nie. Wat die interpretasie wel beteken, is dat ek dink dat die krisis alreeds ’n geruime tyd bestaan. Ek dink dat die laaste belangrike intellektuele beweging in Suid-Afrika die Sestigers was en dat Afrikaanse Universiteite daarna onder die bewinde van John Vorster en PW Botha grootliks verander het in magsinstrumente van die staat. Weer eens was daar natuurlik uitsonderings, maar van ’n geweld van vrye intellektuele denke was daar nie sprake nie.

Die moontlikhede wat die einde van die Afrikaner se era van isolasie gebied het, het die Afrikaner verbygegaan. Nie omdat hy, soos Johann impliseer, bedreig is deur ’n nuwe regering nie, maar omdat die oorgrote meerderheid Afrikaners verleer het om vir hulself te dink in die veertig jaar van apartheid. Hoe om met sy medeburgers van ander etniese groepe om te gaan was totaal en al verleer in byna 50 jaar van selfopgelegde interne ballingskap. Die Afrikaner se reaksie was om, soos altyd, laer te trek.

Pleks van die moontlikhede van nuwe openheid te omhels het die Afrikaner na binne gekeer en begin om vyande te soek. Veel eerder as die gerieflike vergelyking van die Duitse volk se reaksie na die Tweede Wereldoorlog is die reaksie van die Afrikaner meer tipies van die Duitsers na die Vrede van Versailles.

Die terugkeer na ’n oordrewe nasionalisme word gekenmerk deur saamtrekke waar Afrikaners gryp na die simbole, vlae en liedere uit die verlede. Hier dink mens aan mense soos Dan Roodt en Maryna Blomerus, wat bereid is om op grond van bittermin feite en baie sentiment vir die Afrikaner ’n nuwe vyand te identifiseer. Die vyand teen wie ons dan nou moet saamstaan. Alles in diens van ’n nuwe politieke demagogie.

Johann maak hom ook skuldig hieraan. Sy insinuasies dat die regering wegkalwe aan die basiese winste van Afrikaans stop wel kort van die bewerings van mense soos Dan Roodt, maar mis tog die basiese punt, dat baie van die winste wat Afrikaans gemaak het teen te ’n hoë prys gekom het en ons diep in die skuld gelaat het by ons medeburgers. Om te deel in die winste sonder die geringste skuldgevoel is ondenkbaar. Geen persoon kan dink dat die winste wat onregmatiglik bekom is, nie herverdeel behoort te word nie.

Hy maak homself skuldig deur die Waarheids-en Versoeningskommissie verdag te maak as hy sê: “Die Waarheids- en Versoeningskommissie sou Afrikaners ten regte of ten onregte met van die donkerste oomblikke in hul geskiedenis konfronteer.” En bewys my punt dat die post-1994-Afrikaner eerder vergelyk kan word met die Duitsers van die 1920’s as met die post-Tweede Wêreldoorlog-Duitser.

Miskien was die tekortkoming van die Kommissie juis dat hy die Afrikaner nie genóég met sy verlede gekonfronteer het nie. Anders as by Nuremberg is die leiers nooit vir hulle dade tot verantwoording geroep nie. Die versoeningsaard van die Kommissie het op die ou end die waarheidsgedeelte grotendeels gekelder en toegelaat dat belangrike figure soos Adriaan Vlok, Lothar Neethling, PW Botha en selfs FW de Klerk nooit eers hulle dade verduidelik het nie, laat staan nog daarvoor verantwoordelik gehou is.

Die Afrikaner se klakkelose minagting van die Kodesa-ooreenkomste deur sy halfhartige deelname aan die WVK gaan in tyd nog erken word as een van die grootste tragedies in die Afrikaner se geskiedenis. Sy leiers se bereidwilligheid om die voetsoldate uit te verkoop in ruil vir individuele erkenning was verraad soos die Afrikaner dit nog nooit geken het nie. Die halwe waarheid wat die resultaat was van die WVK het aanleiding gegee tot ’n revisionistiese denkpatroon binne die nuwe Afrikanerlaer, waar ’n apartheid-apologetiese denke skielik hoogty vier.

Die skaamtelose konsumerisme van die Afrikaner is niks meer as ’n uitvloeisel van die gedagte dat ons eintlik niks verkeerd gedoen het nie. Die Afrikaner het, soos Johann tereg opmerk, nie die weg van skeppende weerstand gevolg nie. Anders as Johann dink ek egter nie dat die Afrikaner kritiekloos gekapituleer het nie. Veel eerder het die Afrikaner die monster geword wat sy eie propaganda begin glo en verteer het.

Hiervan is die Afrikaanse media waarlik die beste voorbeeld. ’n Vervlakking is nie net te bespeur in die intellektuele peil van die bladsye wat uit ons drukperse gespuug word nie, maar ook in die vervlakking van die beelde wat oor ons skerms flikker.

Dit is simplisties om die opkoms van beeldekultuur, die gebrek aan belangstellling by lesers, ’n beweerde ineenstorting van kulturele selfvertroue, en die skuldgevoel van ’n bitterklein minderheid van Afrikaners te probeer blameer vir die verswakking.

Veel akkurater is die realiteit dat markkragte in 2004 die redaksionele koers van publikasies en mediaprogramme uitstippel. Die vraag is egter hoe die mark, wat in die middel tagtigs ’n veel ryker, hoewel volgens geen standaard ’n skatryk intellektuele publikasiemedium nie, kon onderhou, byna nie meer bestaan in 2004 nie. Dit gegee dat ek met Johann saamstem dat Afrikanerkonsumerisme toegeneem het. Afrikaners gee meer geld op meer luukse items uit as ooit in hulle geskiedenis. Enigeen wat hieroor twyfel kan gerus Menlyn Park op Sondag besoek.

Waar is die verswakking te bespeur? Byna sonder uitsondering sou ek sê dat die Afrikaanse dagkoerante van 2004 van baie hoër standaard as hulle naamgenote in 1988 is. Die verswakking wat te bespeur is, is te bespeur in die tydskrifmark. Tydskrifte soos INSIG het redaksionele rigtings inbeweeg en hulself geposisioneer as ’n tipe van Huisgenoot vir die ryk mense. Huisgenoot se standaarde is sedert die sestigs in ’n afwaartse spiraal wat byna verstommend lyk asof dit nie ’n bodem het nie. Ja, beide INSIG en Huisgenoot sal waarskynlik oorlewing in die mark as die motivering vir die vervlakking aanbied, maar is daar nie ’n ander rede hiervoor nie?

Die vervlakking word natuurlik veel duideliker onderstreep as mens kyk na watter tydskrifte nié meer daar is nie. Weg is Vrye Weekblad, finaal vermoor deur die staat, maar eintlik maar dodelik gewond deur die ekonomie, weg is Die Suid-Afrikaan, Standpunte en al die kleiner tydskrifte. Ons skerms ly ook: weg is byna alle Afrikaanse besprekingsprogramme, met net die uiters swak Fokus met Freek wat oorbly. Max du Preez se KykNet-program is ingeruil vir In die Kryt met Joost en Amor, wat sekerlik die swakste Afrikaanse TV-program in die geskiedenis is, en ek sluit hierby Les Franklin se swak wedstrydprogramme in.

Ja, beide senior joernaliste is sekerlik reg dat die ekonomiese realiteit is dat die tydskrifte van vandag kommersieel meer suksesvol is as wat hulle voorgangers sou gewees het. Die mantra blyk te wees, “Vlak verkoop”, of dan nou meer platvloers, “Die Afrikaner is kommin.”

Ek dink egter dat ons die fout vir die vervlakking nie moet gaan soek by die leser of die kyker nie, maar by die uitgewers en regisseurs van die tagtigs en vroeë negentigs. Die periode van byna vyftien jaar is gekenmerk deur ’n byna globale verswakking in die dis wat lesers aangebied is. Onder die druk van regeringsensuur is publikasies tot ’n tipe middelmatigheid gedwing. Baie soos “Jy is wat jy eet, dink jy wat jy lees.” Die swak standaard van die massamedia, die paar uitsonderings ten spyt, het die Afrikaner teen 1994 grotendeels intellektueel impotent gelaat. In die tyd toe die Afrikaner ’n sterk intellektuele media die nodigste gehad het, was daar net stilte.

Die Suid-Afrikaan, Vrye Weekblad, INSIG en Standpunte kon nooit die skade wat Huisgenoot en die Naspers-beheerde dagblaaie besig was om aan te rig, stuit nie, laat staan nog omkeer. Die dood van die diepte-leser is nie veroorsaak deur die faktore soos deur Johann uitgelig nie, maar eerder deur ’n hartaanval veroorsaak deur ’n hoë-kolesterol-dieet van leesstof van lae standaard.

Die dood van die diepte-leser versterk die samehorigheidsgevoel in die nuwe apartheidslaer en is die vet in die vuur van diegene wat die onkundigheid uitbuit om nuwe mites te skep wat die oues vervang. Die mite van republikanisme is vervang deur die mite van die wêreldburgery; die mite van unieke posisie in Afrika en Godgegewe superioriteit is vervang deur die mite van skuldlose superioriteit; en die mite van Europeesheid is nie eers vervang nie, dis bloot afgestof en word bykans daagliks deur Dan Roodt vir die heilige, alomvattende waarheid aangebied.

Dit is sekerlik waar dat die openbare Afrikaanse ruimte vandag nie bevorderlik vir denke is nie. Dit moet verander word. Om dit te verander moet daar erkenning wees van een van die ernstigste probleme wat die Afrikaanse media in die gesig staar: die feit dat Naspers op ’n paar uitsonderings na byna die totale Afrikaanse openbare ruimte beheer. Met die uitsondering van Rooi Rose, Vrouekeur, Wiel en Vonk bestaan daar geen Afrikaanse tydskrifte buite die Naspersstal nie. Nie een van die tydksrifte hier bo genoem spits hulle egter toe op ’n ruimte vir denke uitruil nie. Naspers beheer KykNet en die enigste opposisie is die skraal aanbiedings van SABC2 wat, soos RSG, indirek deur die staat beheer word en dus nie veel hoop op ’n denkruimte bied nie.

Dit sou seker nie so ’n ernstige probleem gewees het as die interne politiek van Naspers nie steeds bedryf was volgens die Broederbondreëls van ouds nie. Die hele Naspers-opset is nie bevorderlik vir die vrye uitruil van denke en die skepping van ’n dinkskrum nie. In die Naspersstal is LitNet die een ligpunt. Hoewel steeds gedeeltelik deur Naspers besit, wil dit lyk asof LitNet ’n eie vernuwende denkrigting handhaaf en waarskynlik die laaste onafhanklike openbare ruimte in die Afrikaner se besit is. Ek is oortuig dat die rol wat LitNet in die toekoms sal moet speel, van kritieke belang sal wees, omdat die Internetjoernaal die laaste ruimte is wat daarin sal kan slaag om die verliese gely deur die heengaan van die intellektuele tydskrifte in te haal. Ek twyfel egter of die Afrikaner na die jare van intellektuele vervlakking gereed is, nie net vir die vryheid wat so ’n onafhanklike medium bied nie, maar veral om hom die baadjie van verantwoordelikhede aan te trek wat met dergelike vryheid kom.

Johann praat van ’n geografiese en linguistiese afgesonderdheid waarin Afrikaners verkeer. Afrikaners is nie geografies of linguisties geïsoleer nie. In elk geval nie weens faktore buite sy beheer nie. Die koms van die Internet maak gesprekvoering met iemand in Amerika of iemand in Irak so maklik as om ’n gesprek te voer met my buurman. Die ryke verskeidenheid van tale in Suid-Afrika behoort ons meer ontvanklik te maak vir die insette van ander tale en ons is slegs geografies geïsoleer van Europa en Amerika. Ons is nie geografies van Afrika geïsoleer nie. Dis duidelik dat Johann nog nie ontslae geraak het van die een mite wat so ’n sentrale dryfveer tot die Westerse beskawing is nie, naamlik dat die volle lig en waarheid uit Europa kom en dat die vlam net brand in Amerika, Suid-Afrika, Australie en Nieu-Seeland.

Die byna neerhalende uit die weg vee van die hele Afrika met die idee dat Afrika noodwendig Pan-Afrikanisties gaan word, ignoreer die realiteite van ’n wêreldwye teenstand teen die huidige Amerikaans-Britse vorm van globalisering, en dit negeer die vorderings wat gemaak word in stede soos Dar-es-Salaam en Maputo, waar ware oop samelewings besig is om vorm aan te neem. Dit ignoreer die hele Afrika ter wille van die mite van ons Europeesheid, ’n mite wat Johann beweer die stof gebyt het, maar hy self aan die lewe hou.

As individuele Afrikaners hulleself geïsoleerd voel van die res van die wêreld, is dit suiwer uit eie keuse en nie uit enige redelike mag van buite nie. Die idee van isolasie strook doodeenvoudig nie met die realiteit van ’n toenemende beskikbaarheid van inligting nie. Die wêreld waarin ek bly, is nie geïsoleerd nie; ek kan net so maklik inligting van Oxford kry as wat ek inligting by Unisa kan kry.

Johann se totale oorreaksie en verkeerde parafrasering-aanhaling van my brief aan SêNet dui net daarop dat hy ook nog nie die mite van “Afrikaners is een” verwerp het nie. Nooit het ek beweer dat alle groepe sleg is nie; inteendeel, ek kontrasteer juis die idee van goeie en slegte groepe en dit wat goeie groepe maak en dit wat slegte groepe maak. Ek poog juis om aan te dui watter groepe konstruktief kan bydra tot vernuwende denke en watter groepe (en instellings) die daarstel van sulke denke sal verhinder. My punt was dat om ’n Afrikaner te wees geen groter gemene deler het as moedertaal en velkleur en ’n gedeelde geskiedenis nie.

Dit is waar dat daar onder Afrikaners ’n vervlakking is en dis waar dat kunstenaars, musikante, joernaliste en skrywers kla oor die gebrek aan denke onder Afrikaners. Wat ongelukkig ook waar is, en wat Johann ignoreer, is dat dit nog altyd die kunstenaars, musikante, joernaliste en skrywers is wat die denke moet aanwakker, vertroetel en uitbou. As daar ’n tekort aan sulke denke is, is dit omdat die klaers nie hulle werk doen nie.

Die oplossing vir die krisis moet vanuit dié kringe kom. Diegene wat kla, het nog altyd die oplossing ter hande gehad.

So wat staan ons te doen? Hier wil ek eers by die punte bly wat Johann genoem het.

1. Veeltaligheid
Ek stem saam met Johann dat veeltaligheid ons denkruimte sal verbreed, maar net as dit die nuwe laer waarin die meeste Afrikaners hulself bevind, na buite opbreek. Daarom is die kritieke tale wat ons moet aanleer, nie Frans en Portugees nie, maar eerder die tale van die kulture om ons. Die belangrikste toets wat die Afrikaner moet slaag, is of hy met sy medeburgers oor die weg kan kom. Lank voor intellektuele debat met Swede van belang gaan wees, gaan die diskoers wat ons met die mense om ons het en ons omgang met hulle die kritieke faktore vir ons voortbestaan wees. Engels bly as wêreldtaal van kritieke belang. Nie net is dit die taal van die planeet nie, maar dit is ook die taal van wêreldwye intellektuele diskoers. Daar is haas geen debat wat nie in Engels gevoer kan word nie. Of ons daarvan hou of nie, Engels het soos Latyn in die Middeleeue geword.

2. Instellings
Ek het geen probleem met die skep van instellings om ’n debatsruimte te skep nie. Ek hou van die idee van ’n dinkskrum, maar dan moet dit ’n dinkskrum wees, nie ’n organisasie wat namens mense praat nie. Idees behoort aangebied te word deur enigeen wat aan die debat wil deelneem en mits dit op ’n sekere peil is, behoort dit deur die dinkskrum as ’n opinie weergegee te word. Hier verwys ek nie na sensuur nie, maar eerder na redaksionele standaarde.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die LitNet-boek Die Omstrede God, wat binnekort verskyn. Die model wat daardeur gebied is van vrye diskoers saamgevang in ’n publikasie wat net opinies weergee op ’n neutrale manier sonder dat die redakteurs op enige manier die opinie stuur of ’n oordeel vel, is die tipe dinkskrum wat kan werk. Sodra die dinkskrum egter namens ’n etniese groep praat of briewe skryf aan ’n regering, verval alle legitimiteit en word dit niks meer as nog ’n politieke party of sosiaal-kulturele instelling nie, en van dié is daar oorgenoeg.

3. LitNet
Ek het eenkeer aan ’n kollega opgemerk dat Etienne van Heerden behalwe vir sy romans waarskynlik veral onthou gaan word vir die feit dat hy LitNet gestig het. Soos ek reeds gesê het, en ek wil dit benadruk, daar is geen belangriker openbare ruimte vir die Afrikaner as LitNet nie. Ek stem saam dat dit tyd is dat daar gekyk moet word na die onafhanklikheid van LitNet, maar veel belangriker sal die ekonomiese haalbaarheid van LitNet verseker moet word. Hoe dit bereik kan word, is egter ’n debat op sy eie.

4. Nou meer as ooit stemme laat hoor
Ek kan nie méér van Johann en Danie verskil oor die idee van kloosters nie. Dis juis nou die tyd dat kunstenaars, skrywers, denkers en joernaliste van hulle moet laat hoor. Die denkpeil kan omgekeer word as mense skryf en daaroor praat. Geen klooster kan vandag staande bly teen die realiteite van globalisering nie. Daar wag ’n geweldige opvoedingstaak op dié wat dit kan doen. Joernaliste moet begin weier om artikels te lewer suiwer op markaandrang. Die taak van die joernalis deesdae is nie net om in te lig nie, maar ook om op te voed. Dit kan gedoen word sonder om jou mark te verloor. Hannelie Booyens se artikel oor haar broer se siekte in Huisgenoot is ’n uitstekende voorbeeld van wat joernaliste kan doen om mense op te voed. Sy het daarin geslaag om ’n menslike gesig op ’n debat te plaas en sodoende ons almal iets te leer.

Dis tyd dat ons ons stemme krities laat hoor. Reeds in die eerste helfte van verlede jaar het ek idees aangebied oor die gebrek van kritiek in die Afrikaanse kunste. Ek het dit toe nie duidelik gestel nie, maar die gebrek is teenswoordig nie net in die kunste nie, maar op byna alle vlakke van die Afrikanersamelewing. Kloosters gaan nie die kritiek kan gee wat nodig is nie.

Om die waarheid te sê, dis juis nou die tyd dat denkers úit hulle kloosters moet kom en moet wegbeweeg van die rare lug van die akademie om op grondvlak met die massas idees uit te ruil in taal wat toeganklik is vir almal. Iewers in die laaste dertig jaar het akademici vergeet hoe Afrikaners werklik leef. Hulle het vergeet hoe om met die massa te praat. Miskien is dit ook hoekom die denkers se stem so stil geraak het in die Afrikanerruimte van die dag. Iewers het daar ’n kloof gekom en het Huisgenoot opgehou om KrisKras te publiseer. Dalk was die vervlakking in joernalistieke peil ook die resultaat van ontoeganklike akademiese gesprek.

As ons ’n debat voer wat net ’n paar mense kan verstaan, moet ons nie kla as net ’n paar mense wil deelneem nie.

Die Afrikaner het nie vandag ’n Immanuel Kant nodig nie, maar ’n Bertrand Russell.



LitNet: 26 Februarie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@yahoo.com om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.